Wat moet ons doen met lidmate wat van die gemeente afgesny is?

Sin in the church

Teen die einde van die vierde eeu was daar ‘n Romeinse keiser genaamd Theodosius. Hy was ‘n ware Christen:  wys en vrygewig; ‘n man van karakter en integriteit.  Maar hy het een swakheid gehad:  woede uitbarstings.  Dit was so erg dat sy vrou en kinders weggekruip het.  In die jaar 390 n.C. was daar ‘n bende in Tessalonika wat onluste veroorsaak het.  Hulle het die goewerneur van die provinsie Illirië en ‘n klomp van sy amptenare vermoor.  Theodosius het daarvan gehoor en sy humeur verloor.  Hy het sy soldate Tessalonika toe gestuur met ‘n opdrag om die stad uit te moor.  Byna onmiddellik het hy tot sy sinne gekom en ‘n boodskapper gestuur om te sê dat hy die bevel terugtrek.

 

Maar dit was te laat. Die troepe het alreeds 7000 mense vermoor.  Toe die leraar van Milan (Ambrosius) daarvan te hore gekom het, het hy vir Theodosius van die gemeente afgesny.  Hy het ‘n brief geskryf waarin hy gesê het dat die keiser hom moet bekeer.  Theodosius het die volgende Sondag by die kerk opgedaag.  Ambrosius het in sy pad gestaan en geweier dat hy inkom.  Keiser Theodosius het gesê dat hy hom bekeer het, maar Ambrosius het gesê dat woorde nie genoeg is nie.  ‘Jy het in die openbaar gesondig, en daarom moet jy jou in die openbaar bekeer,’ het hy gesê.  Die keiser is vir agt maande lank verbied om kerk toe te kom.  Toe hy uiteindelik kerk toe gekom het, het hy voor die hele gemeente vergifnis gevra.  Hy het dit met diepe berou gedoen, terwyl die trane teen sy wange afgestroom het.[1]

 

Ambrosius se vreeslose dapperheid het my beïndruk. En tog het ek gedink:  ‘Sy kerrie is te sterk vir my maag.’  Ek het gedink sy optrede was te hard.  Die Here het my egter hierdie week uit die Skrif uit oortuig dat ek verkeerd was, en dat ek die gemeente op ‘n verkeerde pad gelei het.  Soos met die sewe gemeentes in Openbaring, het die Here die leraar aangespreek sodat hy vir die gemeente kan sê wat reg is (Op.2:1, 8, 12, 18, 3:1, 7, 14).  Ek kyk met veragting na iemand wat die bestaan van die hel ontken, ‘omdat dit nie by God se karakter pas nie.’  Maar doen ons nie dieselfde as ons op hierdie punt probeer om gawer te wees as God nie?

 

God beskou sonde in ‘n ernstige lig, en ons moet ook. Ek het my ongehoorsaamheid aan die Here bely, en wil dinge regstel.  Ek wil nie ‘n paar weke of maande wag voordat ek dit doen nie.  Jesus het in Op.3:19b gesê ons moet ywerig wees en ons bekeer.  In Ps.119:59-60 lees ons:  “Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.  Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.”

 

Die opdrag

Het jy al ooit ‘n nuwe toestel gekoop en probeer om dit sonder ‘n handleiding aanmekaar te sit? As jy vir ‘n uur of meer gewerk het, maak jy die handleiding oop net om agter te kom dat jy al by stap 3 verkeerd gegaan het, en dat dít die rede is waarom die toestel nie wil werk nie.  Ons kan dieselfde met die Bybel doen.  Ons probeer om dinge sonder God se handleiding te doen, en loop ons dan in probleme vas.  Wat sê God se handleiding dan oor hierdie saak?

 

Volgens Jesus moet ons die persoon afsny en hom soos ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel (Mt.18:17). Die Jode in Jesus se dag het heidene en tollenaars as onrein beskou.  Jesus self het hulle as ongered beskou en die evangelie met hulle gedeel.  Jesus se opdrag in hierdie vers is duidelik:  beskou die persoon as ‘n ongelowige.  Die kontak wat ons dan met sulke mense het, moet slegs wees om die evangelie met hulle te deel en om hulle op te roep tot bekering.

 

Paulus se woorde aan die Korintiërs was: “maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.” (1 Kor.5:11).  Ons moenie saam met die persoon eet, tee drink, geselsies aanknoop, braai, of kuier nie.  Skandelike en volhardende sonde moenie teenwoordig wees wanneer ons Jesus se dood herdenk nie, en daarom mag die persoon ook nie saam met ons by die nagmaaltafel aansit nie (1 Kor.5:7-8, 11).  Paulus gaan verder en sê dat die persoon uit ons midde verwyder moet word (1 Kor.5:2, 13).  Ons moenie met die persoon gemeenskap hou nie.  Ons moet hom nie met ope arms by die kerk verwelkom nie.

 

Buiten vir die opdragte in Mt.18:17 en 1 Kor.5:1-13, is daar verskeie ander verse wat vir ons sê om die persoon te vermy:

 

  • “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.” (Rm.16:17).
  • hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.” (Ef.5:11).
  • “Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie… En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word.“ (2 Ts.3:6, 14).
  • “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.” (2 Tm.3:5).
  • “Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning” (Tit.3:10).

 

Dit is nie dat ons die persoon verstoot nie. Inteendeel, ons het probeer om hom van sy dwaalweg af terug te bring, maar hy wou nie.  Hierdie persone wil hulle brood aan albei kante gebotter hê:  hulle soek die voordele wat die kerk bied, maar nie die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan nie.  John MacArthur sê:  “Such people are to be given the choice of repenting and staying with God’s people or of holding on to their sin and being given over to the world and the devil.’[2]  Ons doel is nie om die persoon te straf nie, maar om koue water in sy gesig te gooi, sodat hy kan wakker word uit die koma van sy sonde.

 

‘Maar hy moet onder die Woord kom sodat hy hom kan bekeer,’ sê iemand.  Ek het ook so gedink, en in party gevalle is dit so.  Maar as iemand skandelik opgetree het of openlik met sy sonde aanhou, is dit ‘n ander saak.  Dié persoon was onder die Woord toe hy in sonde geval het, en het hom nie bekeer nie.  Hoekom sal dit nóú anders wees?  As ons hom behandel soos nog altyd en maak asof niks gebeur het nie, sal die Woord nie sy hart sag maak nie, maar hom verhard (Hd.28:26-27).  Dieselfde son wat die ys smelt verhard die klei.  Dit is byna soos iemand wat ‘n vals bekering gehad het:  sy ore is nie meer oop vir die evangelie nie, omdat hy homself oortuig het dat hy gered is.

 

Volgens Paulus moet die persoon nie onder die Woord kom nie – hy moet onder die duiwel kom. Die opdrag is “om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.” (1 Kor.5:5).  Paulus self het vir Himeneus en Alexander aan die Satan oorgelewer sodat hulle kon leer om nie te laster nie (1 Tm.1:20).  Wat beteken dit?  God gee vir die duiwel toestemming om die persoon te teister, sodat hy tot sy sinne kan kom en kan sien dat sy sonde ‘n ongenaakbare meester is.  Hy moet besef dat die weg van die oortreder hard is (Sp.13:15), en dat dit beter is om na die Here toe terug te draai.

 

Die gevolge

‘n Amerikaanse predikant het by ‘n konferensie vertel hoe twee vroue eenkeer by die ouderlinge oor iets gekla het. Die ouderlinge wou nie op hulle tone trap nie, en het besluit om hulle versoek toe te staan.  Kort daarna het 35 vroue kom kla oor die verandering wat hulle gemaak het.  Jy kan nie almal tevrede stel nie.  As jy moet kies om op iemand se tone te trap, moet dit nie Jesus s’n wees nie.  Ek sal eerder dat ménse vir my kwaad wees, as wat God vir my kwaad is.

 

God het gesê dat ons die persoon moet vermy en nie met hom gemeenskap moet hou nie. As ons dit nié doen nie, sal daar nadelige gevolge wees:

 

[1] Hy leer nie sy les nie (1 Kor.5:5). Ons sê indirek vir hom dat sy sonde nie so erg is nie, en dat hy daarmee kan aanhou.

 

[2] Die wêreld sien dit en praat sleg van Jesus en die kerk (1 Kor.5:1, Rm.2:24). Dit is tragies as die wêreld die president se sonde uitwys, maar die kerk haar lidmate se sonde onder die mat invee.

 

[3] Die persoon se sonde sal soos suurdeeg versprei, sodat dit die res van die gemeente beïnvloed (1 Kor.5:6). In die Ou Testament moes melaatses buite die kamp gesit word, sodat hulle nie die res sou aansteek nie.  Net so moet ons in die Nuwe Testament lidmate isoleer, sodat die virus van hulle sonde nie die res van ons siek maak nie.  Iemand het gesê:  ‘Souls to souls are like apples, one being rotten rots another.’[3]  Dit is eenvoudig nie waar vir ‘n Christen om te sê:  ‘Wat ek in my private lewe doen, het niks met die kerk te doen nie.’

 

[4] Omdat die sonde nie ernstig aangespreek word nie, word die res mak en is hulle nie meer bang om te sondig nie. Volgens die Bybel behoort ons bang te wees vir sonde:  “En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.” (Handelinge 5:11).  Paulus het vir Timoteus gesê:  “Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.” (1 Tm.5:20).

 

[5] God sal die hele gemeente tugtig. Jesus se woorde aan Tiatire was:  “Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.” (Op.2:20).  ‘n Jong man het van die huis af weggeloop.  Toe die polisie hom by sy meisie se ouers gaan soek, het hulle gesê:  ‘Hy is nie hier nie.’  Maar hulle het gelieg; hulle het hom weggesteek.  Ons moenie soos hierdie mense wees en die oortreder in die kerk wegsteek nie.

 

Die besware

Die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het hierdie week in ‘n toespraak gesê dat niemand dit gaan regkry om vir president Zuma te verwyder nie. Maar die feite is dat die minister in die verlede geld verkwis het, en dat hy die president wil verdedig om sy eie bas te red.  Op dieselfde manier is daar mense wat die radikale maatreëls van kerklike tug wil wegpraat, omdat hulle hulle eie of ander mense se sonde wil verskoon.  ‘Jy mag nie oordeel nie!’ is dikwels ‘n rookskerm vir sonde.

 

Beswaar #1: ‘Jy mag nie oordeel nie!’

Paul Washer het in ‘n preek gesê: ‘You say, “Judge not lest you be judged!”  And I say, “Twist not Scripture lest you be like Satan!”’  Wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het:  “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” (Mt.7:1)?  Jesus het bedoel dat jy nie hiper-krities moet wees nie; dat jy nie die splinter in iemand anders en oog moet raaksien, terwyl jy die balk wat in jou eie oog is ignoreer nie (Mt.7:3-5).  Maar as jy die balk uit jou oog uitgehaal het, moet jy nie die splinter in jou broer se oog los nie – help hom om dit uit te haal.

 

Beswaar #2: ‘Ons wil eerder liefde bewys as om die oortreder heeltemal af te sny.’

Iemand wat liefde en tug teen mekaar afspeel, is soos ‘n kind wat dink medisyne is tot sy nadeel omdat dit sleg proe. Tug is liefde, “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.” (Hb.12:6).  Jesus het gesê:  “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek.” (Op.3:19a).  Om met jou kind te raas as hy by ‘n swart mamba se nes speel is liefdevol.  Om ‘n lidmaat af te sny omdat hy skandelik optree en in sy sonde volhard, is liefdevol.  Om anderkant toe te kyk asof niks verkeerd is nie, is om te sê dat ons beter as God weet en is arrogant (1 Kor.5:2).

 

Beswaar #3: ‘Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi!’

Volgens Dt.17:7 moes die ooggetuies die eerste klip opgetel het. Maar as hulle dit gedoen het sou hulle hulleself verdoem het, omdat hulle net so skuldig was soos sy (Jh.8:7).  Net so kan ons nie iemand anders van die gemeente afsny, as ons self skandelike dinge doen of in sonde volhard nie (Rm.2:21-22).  Ons kan egter nie maak asof Jh.8:7 (‘Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi’) kerklike tug uitskakel nie.  Alhoewel Jesus die vrou nie veroordeel het nie, het Hy gesê dat sy nie verder moet sondig nie (Jh.8:11).  En is dit nie presies wat ons vir mense sê wanneer ons dissipline toepas nie?

 

Beswaar #4: ‘Ons sal ongelowiges van die kerk af wegdryf.’

Dit is goed as dié wat met hulle sonde wil aanhou nie by die kerk wil aansluit nie (Hd.5:13). Die Here sal hierdie radikale stap gebruik om vir die wêreld te wys dat Hy heilig is.  Dié wat regtig ernstig is oor bekering, sal by die gemeente aansluit.  As ons die Here eer sal die kerk nie krimp nie, maar groei (Hd.5:14), “want die wat My eer, sal Ek eer” (1 Sm.2:30).

 

Die reaksie

Martyn Lloyd-Jones het vertel van ‘n dronkaard in die suide van Wallis wat een Sondagaand onder diep oortuiging gekom het. Terwyl Lloyd-Jones besig was om te preek, het hy sy oë rooi gehuil.  Toe Lloyd-Jones die volgende aand na die biduur toe gestap het, het hy die man in die straat raakgeloop.  ‘As jy my gisteraand gevra het om agter te bly, dan sou ek,’ het hy gesê.  ‘Kom dan nou saam met my,’ het Lloyd-Jones gesê.  ‘Ek wil nie, maar as jy my gisteraand gevra het sou ek,’ het hy gesê.  Lloyd-Jones het vir hom gesê:  ‘My vriend, as dit wat gisteraand met jou gebeur het nie eers vir 24 uur hou nie, dan stel ek nie daarin belang nie.  As jy nie nou saam met my wil kom soos wat jy gisteraand wou nie, het jy nie die ware Jakob nie.  Watookal jy gisteraand gehad het was net tydelik.  Jy sien nogsteeds nie jou ware behoefte vir Christus nie.’[4]

 

Moenie toelaat dat die toepassing wat ek nou gaan gee jou affekteer, en dit dan daar los nie. In reaksie op wat jy hier gehoor wil ek vir jou vra:  lewe jy in sonde?  Is jy besig met skandelike dinge?  Jy kan nie jou sonde wegsteek nie.  Die Here sal sorg dat dit op die lappe kom:  “En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.  Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word.” (Lk.12:2-3).

 

Ken jy iemand anders wat besig is met sonde? Moenie vrees nie, maar help die persoon volgens Mt.18:15-17 om op die regte pad te kom.  Doen dit met die regte gesindheid (Gal.6:1-2).  Moenie uitstel of wag totdat sy sonde hom verblind en verhard het nie (Hb.3:13).  As jy van iemand se sonde bewus is en stilbly, het jy ‘n aandeel daarin (Ef.5:11, 1 Tm.5:22).

 

In die 1500’s het die Anabaptiste gesê dat ‘n lid wat van die gemeente afgesny word, nie net van die nagmaaltafel nie, maar ook van die eredienste af verbied moet word.[5]  Toe ek dit gelees het, het ek gedink dat hulle die Bybel verkeerd verstaan.  Ek hoop jy kan insien dat ek verkeerd was, en dat hulle die Bybel reg verstaan het.

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.172-173

[2] John MacArthur, The MacArthur New Testament Commentary: Matthew 16-23, p.135

[3] Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: 1 Corinthians, p.87

[4] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.275-276

[5] Leonard Verduin, The Reformers and their Stepchildren, p.158