Die oplossing vir moeë Suid-Afrikaners

Evangelism

Ek en my vriend het Vrydag ‘n vriendelike debat gehad oor die rol van Christene in die politiek. Na my mening is dit nie die kerk se verantwoordelikheid om aborsie, gay huwelike, en ander sondes deur die politiek te probeer verander nie.  Dit is ons plig om die evangelie te preek en om radikaal heilig te wees.  Ek is daarvan oortuig dat ons op hierdie manier ‘n verskil in ons land kan maak.  Die voorbeeld van die vroeë kerk oortuig my daarvan.  Persoonlik glo ek dat die kerk vandag dieselfde resultate sal sien as ons Mt.9:35-10:4 ernstig opneem.

 

Die evangelie (9:35-36)

Omtrent tien jaar gelede was ek by ‘n interkerklike predikante byeenkoms. Die bespreking het gegaan oor hoe ons die middestad kan verbeter.  ‘Ons moet vir die mense sop en komberse gee,’ het hulle gesê.  Drie jaar gelede het ek ‘n vergadering by die munisipaliteit bygewoon.  ‘n Raadslid van die DA, die polisie, sosiale werkers, en predikante was daar.  Weereens het hulle oplossing die evangelie soos ‘n stopstraat geïgnoreer.

 

Jesus het nie. Sy bediening kan in twee woorde opgesom word:  prediking en wonderwerke (9:35, 4:23).  Hy het oral in die sinagoges van Israel gepreek (9:35).  Sy boodskap was die Goeie Nuus dat dié wat hulle bekeer het, God se Koninkryk as erfdeel sou ontvang.  Sy wonderwerke het gewys dat Hy en sy prediking van God af kom (9:35, 11:3-5, Jh.3:2, Hd.2:22, 10:38).

 

Jesus het die skare innig jammer gekry (9:36). Selfs nadat Hy hulle genees het, was hulle grootste probleem nie opgelos nie.  As gevolg van hulle sonde was hulle moeg en uitgeput soos skape wat van die Herder af weggedwaal het (9:36, Nm.27:17, Esg.34:5, Jes.53:6, 1 Pt.2:25).  Hulle het die evangelie nodig gehad.  Daar was mense by wie Jesus nie uitgekom het nie, en daarom het Hy helpers nodig gehad (9:37-10:15, 23, 11:28-30).

 

Verkondig die evangelie waar jy met mense te doen kry. Nooi hulle kerk toe.  Ons het lanklaas so ‘n goeie geleentheid gehad soos nou.  Mense is rigtingloos en uitgeput.  Hulle is moeg vir die land se probleme.  Dis nie eers meer veilig om vir die polisie hulp te vra nie.  Die grondwet maak dit onmoontlik vir onderwysers om skoliere te dissiplineer.  Kinders brand skole af en studente universiteite.  Ouers wonder of daar vir hulle kinders ‘n toekoms is.

 

In die verlede was daar vir mense ‘n toevlug in die tradisionele kerk. Maar deesdae is mense ontnugter, omdat die kerk soos die wêreld geword het en omdat die kerk self nie meer weet wat sy glo nie.  Mense word ook nie versadig in kerke wat vir hulle ‘n lekker gevoel gee wat teen Maandagmiddag verby is nie.

 

Die mens se grootste probleem is nie polities, ekonomies, sosiaal, sielkundig, opvoedkundig, fisies, of emosioneel nie. Die oplossing lê dan nie in ‘n beter regerende party, ‘n sterker rand, BEE, RDP behuising en ander staatsubsidies, gratis mediese hulp, sielkunde, voedingskemas, opvoedkunde, of genesings-veldtogte nie.  Sonde is die mens se grootste probleem, en daarom is die evangelie van genade en vergifnis die enigste oplossing.  Die kerk en haar lede is verantwoordelik om hierdie evangelie met mense te deel.

 

Gebed (9:37-38)

In rugby tackle jy die man wat die bal het.  In Amerikaanse voetbal tackle jy die spelers wat nié die bal het nie, sodat die een wat die bal het vrylik kan hardloop.  So werk dit ook in die kerk.  Deur ons gebede moet ons die vyand afweer, sodat hulle wat die bal van die evangelie het, vrylik daarmee kan hardloop.  Dit is basies wat Paulus in 2 Ts.3:1-2 sê:

 

“Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle; en dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof is nie die deel van almal nie.”

 

In Mt.9:37-38 praat Jesus min of meer in dieselfde lyn.

 

‘n Groot oes beteken nie dat daar baie mense is wat die evangelie moet hoor nie, maar dat daar baie mense is wat tot bekering moet kom (9:37, Op.7:9). Daar was egter nie genoeg arbeiders om die oes in te samel nie, en daarom moes die dissipels vir helpers bid (9:38).  Die oes behoort aan die Here en die arbeiders ook (9:38).  God se plaaswerkers moet sy uitverkorenes in die skure van die hemel inbring (Jh.4:35-38).  Almal wat die evangelie verwerp het en nie deel is van die oes van verlossing nie, sal met die sekel van sy oordeel afgemaai word (Op.14:19).

 

Bid vir getroue sendelinge, evangeliste, en predikante in ons land. As jy dit nie doen nie sal God ander mense opwek om te bid, en wanneer die herlewing kom sal jý uitmis op die seën.

 

Die ABK is ‘n klein assosiasie van omtrent 33 kerke. In ons geledere alleen is daar talle teologiese studente en predikante wat uitgeval het en skande gemaak het.  Die prentjie in ander denominasies lyk nie veel beter nie.  Dit lyk vir my of baie van hulle in die eerste plek nie daar moes gewees het nie, omdat die Here hulle nooit geroep het nie (Jer.23:21).

 

Maar sal die gesig van ons land nie verander as God in elke taal vurige, Skrifgesentreerde, heilige, getroue, Geesvervulde, Christo-sentriese manne opwek? Ek glo dit sal.  Paulus en die twaalf apostels het die wêreld omgekeer.  Luther en Calvyn het Europa omgekeer.  Whitefield en Wesley het dit in Engeland gedoen.  Net so kan die Here vandag ‘n handvol arbeiders gebruik om ‘n groot oes in te samel.  As twaalf dissipels elkeen ‘n dissipel maak, is daar binnekort 24, 48, 96, 192, 348… Bid daarvoor en wees self gereed om die evangelie met ander te deel (9:38-10:1).

 

Predikers (10:1-4)

By verlede jaar se REZ konferensie het ‘n sendeling vir Phil Johnson gevra: ‘Wat maak jy van Moslems wat sê dat Jesus in drome aan hulle verskyn het, en dat hulle so tot bekering gekom het?’  Hy het basies gesê dat God ‘n droom kan gebruik om hulle te laat vrae vra, maar dat hulle nogsteeds die evangelie moet hoor om gered te word.  ‘As Jesus in ‘n droom die evangelie met hulle deel, hoef ons nie sendelinge na hulle toe te stuur nie, en is Rm.10:14-15 ‘n leuen.’  Ek stem met hom saam:  Jesus gebruik mense om die evangelie te deel, sodat ongelowiges gered kan word.  Dit is wat 10:1-4 vir ons leer.

 

Jesus het die dissipels se gebede verhoor en húlle geroep om die oes in te bring (9:38-10:1). Net soos wat Hy in die Ou Testament twaalf stamme gekies het, het Hy in die Nuwe Testament twaalf apostels gekies (10:1).  Hy het vir hulle mag gegee oor siekte en oor onrein geeste wat ons versoek om vuil dinge te dink, te sê en te doen (10:1, 8).  Deur die evangelie en gebed genees die Here nogsteeds bonatuurlik, en dryf Hy nogsteeds demone uit.  Maar let op dat die apostels en hulle helpers ‘n unieke gesag ontvang het om hierdie dinge te doen; ‘n gesag wat nie aan elke gelowige gegee is nie (10:1, 8, vgl. Hd.2:43, 4:33, 5:12, 6:8, 14:3-4).

 

Wie was die twaalf apostels?

 

[1] Petrus (10:2).  Die feit dat sy naam altyd eerste staan, wys dat hy die leier van die twaalf was (Mk.3:16, Lk.6:14, Hd.1:13, 15, 2:14, 37, 3:12, 4:8, 5:3, 29).  Petrus beteken rots.  Saam met die res van die Nuwe Testament, is sy briewe die rots waarop Jesus sy kerk bou (Mt.16:16).  Soos Andreas, Jakobus en Johannes, was hy ‘n visserman.  Hy was optimisties (miskien ‘n bietjie te veel).  Hy het vir Jesus verloën, en het hom bekeer (Jh.21:18-19).  Die geskiedenis sê hy is onderstebo gekruisig.[1]

 

[2] Andreas het in Petrus se se skaduwee geleef (10:2).  Hy was Jesus se eerste dissipel (Jh.1:37, 41).  Hy het nie soos Petrus 3000 bekerings op een dag gesien nie (Hd.2:41), maar het gedurig individue na Jesus toe gebring (Jh.1:42-43, 6:8, 12:21-22).  Volgens oorlewering is hy vir die evangelie aan ‘n x-vormige kruis vasgespyker (die Andreas-kruis soos op Skotland se vlag).

 

[3] Jakobus en Johannes was broers, die seuns van Sebedeus (10:2).  Hierdie is nie die Jakobus wat die brief in die Bybel geskryf het nie – dit was Jesus se halfbroer wat aanvanklik nie in Hom geglo het nie (Mt.13:55, Jh.7:5, Gal.1:19).  Petrus, Jakobus en Johannes was die drie musketiers van die apostels, die binnekring (Mt.17:1, Mk.5:37, 13:3, 14:33).  Die seuns van Sebedeus was so vreesloos soos donderweer (Mk.3:17, Lk.9:49, 54, Mk.10:35).  Jakobus was baie ywerig, en is voor enige van die ander apostels gemartel (Hd.12:2).  Naas Petrus was Johannes die sleutel leier (Hd.3:1, 4:13, 8:14, Gal.2:9).  Van al die apostels het hy die oudste geword en die langste geleef.  Hy is ook die enigste een van die apostels wat nie gemartel is nie.

 

[4] Filippus het vir Nataniël en die Grieke na Jesus toe gebring (10:3, Jh.12:20-21, 1:44-46).  Hy was lief vir die Woord (Jh.1:45), maar was ook kleingelowig (Jh.6:5-7, 14:8-10).  Volgens die geskiedenis is hy vir die evangelie gekruisig en gestenig.

 

[5] Bartolomeus se ander naam was Nataniël (10:3, Jh.1:46).  Hy was opreg (Jh.1:48), maar ook bevooroordeeld (Jh.1:47).  Hy het blykbaar in Indië gepreek en die Matteus-Evangelie in hulle taal vertaal.  Hy is in Armenië met stokke geslaan, gekruisig, en toe onthoof.

 

[6] Tomas was een van ‘n tweeling (10:3, Jh.11:16).  Hy was pessimisties, geneig tot depressie (Jh.11:16, 14:5, 20:24), en tog ook lojaal sodat hy bereid was om saam met Jesus te sterf.  Volgens die geskiedenis het hy in Calamina, Indië vir die evangelie gesterf.

 

[7] Matteus was ‘n tollenaar (10:3, 9:9).  Voor sy redding was hy ‘n geldgierige skelm.  Hy het vir die Romeine gewerk.  As hulle twee shekels vereis het, het hy drie gevra en een in sy sak gesteek.  Die geskiedenis sê dat hy in Etiopië en Egipte gepreek het, en dat hy met ‘n spies deurboor is.

 

[8] Jakobus die seun van Alfeus was jonk en kort (10:3, Mk.15:40).

 

[9] Thaddeüs se naam beteken ‘groot hart’.  In Jh.14:22 sien ons hoe hy ‘n hart vir die wêreld het, en hoe hy wil hê die wêreld moet vir Jesus ken.  In Lk.6:16 en Hd.1:13 is sy naam Judas die seun van Jakobus.

 

[10] Voor sy bekering was Simon die Yweraar polities ver regs (10:4, vgl. Lk.6:15, Gk. zēlotēs).  Hy wou geweld gebruik het om die Romeine se juk af te gooi.  So ywerig soos wat hy vir sy volk was, so ywerig het hy vir die Here geword.  Volgens oorlewering het hy in Mauritanië en Brittanje gepreek, en is hy vir die evangelie gekruisig.

 

[11] Judas Iskariot word altyd laaste genoem (10:4).  Sy naam beteken, ‘Judas, die man van Keriot’, ‘n dorpie in Judea (Jos.15:25).  Volgens Jesus was hy van die begin af ‘n ongelowige duiwel (Jh.6:64, 70-71).  Hy was ‘n geldgierige dief wat homself uit die dissipels se gesamentlike beursie gehelp het (Jh.12:5-6, Lk.22:5).  Toe hy vir Jesus verraai het, het Satan in hom ingevaar (Lk.22:3, Jh.13:27).  Daarna het hy selfmoord gepleeg en is hy hel toe (Mt.27:5, 26:24, Jh.17:12, Hd.1:18, 1:25).

 

Niemand van ons is apostels nie, en tog wil die Here hê dat elke Christen die evangelie met sy naaste moet deel. Ons moet onsself voortdurend daaraan herinner dat mense wat nié in Jesus glo nie, hel toe gaan.  Ek weet dat God se heerlikheid die primêre motief moet wees vir hoekom ons die evangelie deel, maar om mense van God se ewige oordeel te wil red is ‘n waardige motief.

 

John Bunyan het tot bekering gekom toe ‘n paar gewone vroue met mekaar gepraat het oor die wonderlike waarhede van die Bybel.[2]  Charles Spurgeon sê dat hy meer by ‘n sekere kok geleer het as by die populêre teoloë van sy dag.[3]  God het ‘n leek gebruik om hom tot bekering te bring.[4]  Ek ken ‘n man wat elke moontlike kans gebruik om die evangelie met mense te deel:  in die hysbak en wanneer die verkeersbeampte hom aftrek.  Wat sal in ons land gebeur as almal so was?

 

Dalk sê jy: ‘Maar ek het nie die persoonlikheid om dit te doen nie?’  Wat het persoonlikheid daarmee te doen?  Die Here kan ‘n reguit hou slaan met ‘n krom stok.  Die feit dat jy nie soos Petrus voor ‘n skare kan staan nie, beteken nie jy kan nie soos Andreas individue na Jesus toe bring nie.  Staan met ‘n mikrofoon en ‘n luidspreker op die straat se hoek as dit jou persoonlikheid is.  Of bou ‘n vriendskap, nooi die persoon vir ete, en deel die evangelie met hom as dít jou persoonlikheid is.  Maar wat jy ookal doen, deel die evangelie.  Doen dit op elke moontlike manier, sodat mense die Here kan ken (1 Kor.9:19-23).

 

Jy hoef nie bang te wees om dit te doen nie – die Here is met jou (Mt.28:20). Hoe meer jy die evangelie deel, hoe makliker word dit.  Dalk weet jy nie wat om te sê nie.  Dit maak nie saak nie; begin êrens.  Gee ‘n traktaatjie vir die petroljoggie, of nooi jou kollega kruisie-veldtog toe.  Vra vir die Here om mense oor jou pad te stuur, en gebruik dan die geleenthede wat Hy vir jou gee.

 

Natuurlik help dit nie jy deel die evangelie as jy, soos Judas, self ongered is nie (vgl. Mt.7:22). Hoe kan jy met opgewondenheid die evangelie deel as jy nog nie self by hierdie fontein kom drink het nie?  Hoor dan die evangelie as jy nog nie ‘n skoon gewete het nie (luister ook asseblief as jy reeds gered is, sodat jy kan weet hoe om die evangelie met ander te deel):

 

God het die mens gemaak, en het vir hom ‘n goeie en volmaakte wêreld gegee om in te leef. God het met hom en sy vrou gepraat en ‘n wonderlike verhouding met hulle gehad.  Hy het net een reël gehad:  hulle moes Hom gehoorsaam.  Hulle wou egter gelyk met Hom gewees het, en het in rebellie teen Hom opgestaan.  Die geslagte daarna het hulle eerste ouers se voorbeeld gevolg.  God het hulle sonde gehaat, maar het in liefde besluit om ‘n mens te word, sodat Hy namens hulle die wet volmaak kon gehoorsaam, en sodat Hy die straf wat hulle verdien het op Homself kon neem aan die kruis.  Hy het weer uit die dood uit opgestaan.  Vir dié wat hulle bekeer en in Hom glo, vir dié wat berou het oor hulle sonde en Hom liefhet, belowe Hy vergifnis, verlossing, en die ewige lewe.  Dít is die evangelie.  Glo jy dit?  Het jy al daarop gereageer, of leef jy nog in jou sonde en in vyandskap met God?

 

Dit lyk of een van my vrou se beste vriendinne binnekort die land gaan verlaat. Baie Suid-Afrikaners is moeg vir die omstandighede, sodat hulle groener weivelde soek.  Is daar hoop dat ons Suid-Afrika van die asemhalingsmasjiene kan afkom?  Ek glo daar is.  Maar dan gaan die kerk uit haar diep slaap uit moet wakker word.  Evangelisasie, gebed, en predikers wat deur God geroep is kan nie meer opsionele kantlyn sake wees nie.  Dit moet sy regmatige plek inneem en sentraal staan.

 

[1] Die stories van die apostels se dood kom uit die eerste hoofstuk van John Foxe se boek, Foxe’s Book of Martyrs.

[2] Mark Dever, The Gospel and Personal Evangelism, pp.51-52

[3] Charles Spurgeon, Autobiography: vol.1, pp.38-39

[4] Ibid, pp.87-88

Advertisements