Jesus is soewerein oor evangelisasie

Fishers of men

Hiper-Calviniste glo dat jy nie die evangelie met iemand moet deel, tensy hy ‘n opregte belang daarin toon nie. In sulke kerke loop sending en evangelisasie dood, en uiteindelik loop die kerk ook dood, omdat daar nie ‘n invloei van nuwe bekeerlinge is nie.

 

Arminiane glo dat die mens se vrye wil die bepalende faktor is in sy redding. Omdat God se soewereiniteit nie regtig vir hulle belangrik is nie, is hulle baie dikwels mens-gesentreerd in hulle benadering.  En tog kan ons iets by hierdie twee groepe leer.

 

Die klem op God se soewereiniteit help ons om nie na onsself te kyk wanneer dit by bekerings kom nie, maar om in gebed na die Here toe te draai. Sonder Jesus kan daar nie ‘n vangs wees nie (v.4-7).

 

Die Arminiane se klem op evangelisasie help ons om nie te wag dat die bekeerlinge in ons skote val nie. As Jesus gesê het ons moet die nette uitgooi, dan moet ons sy Woord gehoorsaam en dit doen (v.5).  Ons moet die regte aas op ons hoeke sit.  Ons moet alles in ons vermoeë doen om mense na die Here toe te bring (1 Kor.9:19-23).  Wanneer die bekerings dan kom moet ons besef dat dit Hý was en nie ons nie (v.8).  Lk.5:1-11 gee vir ons die balans tussen hierdie twee uiterstes.

 

Die preek (v.1-3)

Toe Charles Spurgeon 22 jaar oud was, het hy een aand vir 6000 mense gepreek by die Surrey Gardens Music Hall. Tydens die diens het ‘n klomp moeilikheidmakers uitgeroep:  ‘Vuur!  Die gallerye is besig om inmekaar te sak!’  Die massas het paniekbevange geraak en het probeer om by die deur uit te kom.  In die gemaal is sewe mense doodgetrap, en ‘n klomp mense beseer.[1]

 

Om te verhoed dat so iets onder sy prediking sou gebeur, het Jesus in v.1-3 ‘n plan gemaak. Dit was egter nie net ‘n praktiese reëling nie.  In die verse wat volg sal dit duidelik word dat Hy ook iets anders in gedagte gehad het.

 

Jesus het gekom om die Goeie Nuus van die Koninkryk te verkondig (4:43). In 4:44 het Hy in die sinagoges van Judea gepreek, maar in 5:1 was Hy weer langs die See van Galilea, wat ook bekend gestaan het as die meer van Gennesaret of die See van Tibereas (Jh.6:1).  Gennesaret was ‘n kusdorpie aan die noord-weste kant van die meer.  Op ‘n dag het Jesus hier gepreek.  Daar was iets aan sy prediking, sodat die massas teen mekaar gedruk het om naby Hom te kom (v.1, Mt.7:28-29, Mk.12:37).

 

Jesus was bang dat die mense mekaar sou vertrap. Hy het twee leë vissersbootjies in die vlakwater gesien staan (v.2).  Die vissermanne was besig om hulle nette te was.  Hulle moes die stukkende plekke regmaak, sodat daar nie visse kon deurglip nie (v.2).  ‘n Vergelyking tussen óns teks en Mt.4:18-22, wys dat die bote aan Petrus en sy broer Andreas, en Johannes, Jakobus en hulle pa Sebedeus behoort het.

 

Jesus het in Petrus se bootjie geklim, en gevra dat hy ‘n kort entjie van die kant af moes weg roei (v.3). Sodoende sou sy stem beter oor die water gehoor word, en sou meer mense Hom kon sien.  Volgens die gebruik van daardie tyd het Jesus gaan sit om die mense te leer (v.3, 4:20, Mt.5:1).  Natuurlik het Hy ook gaan sit, sodat die boot nie moes kantel nie.  Jesus het vir hulle die Woord van God geleer (v.1, Jh.1:1, 14).

 

Gebruik die geleenthede wat jy het om die evangelie te deel. Moenie stilbly omdat jy bang is nie.  Wat is die belangrikste:  jou reputasie of ander mense se siele?  Hoekom het Jesus aarde toe gekom?  Om aan die kruis te sterf en om die evangelie van die Koninkryk te verkondig (4:43, 1 Tm.1:15).  Voordat Hy hemel toe is het Hy vir ons gesê om die evangelie te verkondig, en om dissipels te maak van alle nasies (Mt.28:19-20).  Deel die Goeie Nuus met jou familie en vriende, by die skool en by die werk, en in jou woonbuurt.  Bou ‘n verhouding met mense, sodat hulle jou lewe kan sien.  Die spreekwoord sê:  ‘Jy kan die perd tot by water bring, maar jy kan hom nie maak drink nie.’  Maar as jou woorde soos Jesus s’n met sout gesprinkel is, kan jy hom dors maak sodat hy vrae vra (Mt.5:13, Kol.4:5-6).  Wees gereed om ‘n sagmoedige en eerbiedige antwoord te gee (1 Pt.3:15).

 

Is jy nog onseker oor hoe jy die evangelie met mense moet deel? Gee dan ten minste vir hulle ‘n traktaatjie of ‘n goeie Christelike boek, en nooi hulle kerk toe.  Jy hoef egter nie onseker te wees nie.  Jesus het die Woord gepreek (v.1).  As jy die draad van Rm.1-3 volg is jy veilig.  Hier is dit:  God het die mens gemaak om Hom lief te hê, en om sodoende ook gelukkig te wees.  Die mens het egter sy rug op die Here gedraai.  Die Jode het God se wet oortree.  Die heidene het teen die stem van hulle eie gewete ingegaan.  Nie Jood of heiden het ‘n geldige verskoning nie, maar almal verdien om gestraf te word.  Omdat Hy ons liefhet, het Jesus ons straf op Homself geneem aan die kruis en weer uit die dood uit opgestaan.  As ons van ons sonde af na Jesus toe draai en op Hom vertrou, sal Hy ons van die oordeel red.  Dít is die evangelie wat jy met mense moet deel.

 

Die vangs (v.4-10a)

Adoniram Judson was die eerste Amerikaanse sendeling wat in die buiteland gaan preek het. Hy het in 1813 in Burma (Myanmar) aangekom.  Ses jaar later in 1819, het hy Maung Nau, sy eerste bekeerling gedoop.  Daarna het die werk stadig gevorder.  Eers in 1831 (18 jaar nadat hy daar aangekom het) was daar ‘n deurbraak.

 

Dwarsoor die land het mense oor Jesus en die evangelie begin vra. Die 10 000 traktaatjies wat Judson uitgegee het, was net vir dié wat gevra het.  Omtrent 6000 mense het na sy huis toe gekom en oor die evangelie gevra.  Sommige mense het vir twee maande van China af na sy huis toe geloop.  ‘Mnr., ons hoor daar is ‘n ewige hel en ons vrees dit.  Gee vir ons iets om te lees, sodat ons kan weet hoe om daarvan te ontsnap,’ het hulle gesê.

 

Ander het gesê: ‘Ons het ‘n traktaatjie gelees oor die ewige God.  Is jy die man wat hierdie pamflette weggee?  Gee asseblief vir ons een, want ons wil die waarheid hoor voordat ons sterf.’  Nog ander het gesê:  ‘Is jy Jesus Christus se man?  Kan jy asseblief vir ons iets gee wat vir ons van Jesus Christus sal vertel?’[2]

 

Jesus gebruik middele, maar uiteindelik is dit Hý wat besluit of daar geen visse is nie en of daar ‘n net vol van visse is, of daar een bekering is en of daar ‘n herlewing is. Jesus is soewerein oor evangelisasie.

 

Toe Jesus klaar gepreek het, het Hy vir Petrus gesê om nog verder op die meer uit te vaar (v.4). ‘Laat julle nette in die diep water sak,’ het Hy gesê (v.4).  Petrus het al in Jh.1 vir Jesus ontmoet, en het geweet dat Hy in elke opsig die Meester is (v.5, die kaptein van die boot?).  Tog was Petrus ‘n gesoute visserman en het hy geweet dat ‘n mens in die nag diep water toe gaan.  Hulle het die vorige nag op die diep water gesit, maar niks gevang nie (v.5).  Hoekom sou hulle in die hitte van die dag iets gevang het?  Jesus se woorde het nie sin gemaak nie.  En tog het Petrus vir Hom gesê:  ‘Op u woord sal ek die nette laat sak.’ (v.5).  Hulle het dit net laat sak toe al die visse in die See van Galilea in sy net in geswem het (v.6).  Daar was so baie dat die nette geskeur het (v.6).

 

Johannes en Jakobus was nog op die kant, besig om hulle nette te was (v.2). Hulle was so ver weg, dat Petrus hulle nie kon roep nie, maar vir hulle gewaai het om te kom help (v.7).  Die twee broers kon nie alleen die nette intrek nie, en het hulle kollegas se hulp nodig gehad (v.7).  Die visse het twee bote vol gelê, sodat hulle byna gesink het (v.7).  Miskien het hulle van die visse teruggegooi, sodat die bote die gewig kon dra.

 

Petrus kon sy oë nie glo nie: hulle het die hele nag gewerk en niks gevang nie, en hier gebruik Jesus ‘n paar woorde, sodat twee bote nie genoeg was om die vis in te hou nie.  Petrus kon oornag ryk geword het.  Jesus moes net een of twee keer per maand vir hom gesê het waar om die nette te gooi.  Maar instede daarvan het Petrus voor Jesus neergeval en Hom aanbid (v.8, Jh.20:28).  Hy het geweet dat hy in die teenwoordigheid van die heilige en almagtige Here is, en het daarom vir Jesus gesê:  “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!” (v.8, vgl. Jes.6:5).  Hy en sy kollegas was verbaas oor die groot vangs (v.9-10a).

 

Vind die balans tussen jou plig en Jesus se soewereiniteit in evangelisasie.  Gooi die nette uit, maar onthou dat jou harde werk nie ‘n vangs kan waarborg nie.  Aan die ander kant moet jy nie ‘n vangs verwag as jy nie die nette uitgegooi het nie.  Net soos wat God soewerein was oor die visse (v.4-7, vgl. Mt.17:27, Jon.1:17, 2:10), is Hy soewerein oor sondaars wat tot bekering kom.

 

Die Vader is soewerein: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Jh.6:44).  Die Seun is soewerein:  “Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet… wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lk.10:22).  Die Heilige Gees is soewerein:  “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.  So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Jh.3:8).

 

Diep in sy hart weet elke Christen dat God soewerein is oor evangelisasie, en daarom bid ons dat Hý mense tot bekering sal bring. Deel dan die evangelie getrou, en wag dat die Here vir die visse sê om in die net in te spring.

 

Petrus se reaksie op die vangs moet ons reaksie wees wanneer die Here mense red. Ons prys nie onsself of ons slim evangelisasie metodes nie.  Ons deel nie die winste tussen ons en die Here nie, maar ons prys Hom alleen: Soli Deo Gloria (Jes.48:11).  “Maar wie roem, moet in die Here roem.” (2 Kor.10:17).  Jou lewe, die gawe om te preek, die evangelie, die mense wat jou pad kruis, redding deur Jesus se kruisdood, mense se bekering, die ewige lewe, alles kom van God af, en daarom het jy geen rede om in jouself te roem nie (1 Kor.4:7).  Ons moet eenvoudig saam met Petrus voor die Here neerbuig en Hom aanbid (v.8).  Die Here het ons nie nodig nie (Hd.17:25).  Die feit dat Hy ons gebruik is ‘n voorreg.

 

Die roeping (v.10b-11)

Wyle dr. Martin Holdt het vertel hoe sy seun vir hom gesê het: ‘Pa, ek dink die Here roep my vir die bediening.’  ‘Moenie vir jou laf hou nie,’ het hy vir sy seun gesê.  ‘Jy het self gesien hoe baie moeilikheid en lyding ek in die bediening gehad het.’  ‘n Paar maande later het sy seun weer gesê dat die Here hom roep om ‘n predikant te wees.  ‘Moet dit nie doen nie,’ het hy vir sy seun gesê.  ‘n Derde keer het sy seun gekom en gesê:  ‘Ek kan nie die Here se roeping weerstaan nie pa.’  Hierdie keer het hy vir sy seun gesê:  ‘Ek het jou getoets my seun, en nou weet ek jou roeping kom regtig van die Here af.’

 

Die ou lied sê: ‘As Hy ons roep tot sy diens hoe sal ons dit mag weier?’  In Am.3:8 staan daar:  “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie?  Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?”  Petrus en die ander dissipels het die waarheid van Amos se woorde besef toe Jesus hulle geroep het.  Hulle kon eenvoudig nie nee sê nie, maar wou alles los om Hom te volg.

 

Na die groot vangs verwag ons dat Petrus bly sou wees, maar Jesus het egter vir hom gesê: ‘Moenie bang wees nie.’ (v.10b).  Let op dat Jesus nie vir hom gesê het:  ‘Moenie voor My val nie… Moet My nie aanbid nie… Moenie sê dat jy ‘n verlore sondaar is nie… Moenie sê ek is die Here nie.’  Petrus was reg om Hom te vrees.  En tog het Jesus ‘n trooswoord vir hom gehad, omdat Hy juis gekom om onwaardige sondaars te red.

 

Net soos wat Jesus vir Petrus ‘gevang’ het, sou Petrus mense gevang het. Soos wat Petrus ‘n groot vangs in die See van Galilea gekry het, sou hy op Pinksterdag 3000 mense vir die Here gevang het (Hd.2:41).  Volgens die Griekse teks het Jesus letterlik gesê dat hy mense ‘lewendig moet vang’ (zōgreō).  As leier en verteenwoordiger van die twaalf, moes Petrus sondaars deur sy prediking uit die graf van hulle sonde uit opgewek het.

 

Saam met die ander dissipels sou dit vir hom groter vreugde en beloning gebring het om mense te vang as om visse te vang. Daarom het hy en sy kollegas die swaar gelaaide bote na die strand toe geroei en alles net so gelos om vir Jesus te volg (v.11, 28, Mt.4:18-22, 19:27).  Hulle wou nie net gehad het wat Hy vir hulle kon gee nie, maar wou Hom gehad het, omdat hulle in Hom alles gehad het.

 

As die Here jou wil roep om Hom te volg kan jy nie nee sê nie. Wees daarom soos Petrus en sy vriende wat alles gelos het om vir Jesus te volg.  As jy dit oorweeg om nee te sê, onthou asseblief wat met Jona gebeur het toe hý nee gesê het.  Die Jesus van moderne Christenskap is ‘n hulpelose Verlosser en Here wat nie die mag het om mense te roep, tensy hulle vir Hom die toestemming gee nie.  Die Jesus van die Bybel is die soewereine Koning wat in mense se harte werk, sodat hulle gewillig is om Hom te dien en te volg (vra maar vir Paulus).  Die Here nooi jou nie uit om jou te bekeer en in Hom te glo nie – Hy beveel jou (Hd.17:30, 1 Jh.3:23).  As jy jou nog nie bekeer het nie, moet jy asseblief nie langer jou ore toedruk nie.  Hoe lank sal jy nog teen die prikkels van die Gees in jou gewete skop?  Gee oor; jy kan nie wen nie.

 

Is jy klaar gered? Moet asseblief nie God se soewereiniteit as ‘n hindernis tot evangelisasie sien nie; sien dit as ‘n hulp.  As God iemand wil red kan niemand Hom keer nie.  As Hy besluit het om jou kleinkind of broer of vriend te red, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat hulle die knie buig voor Koning Jesus.  Moet dan nie moed verloor nie, maar hou aan om vir hulle redding te bid en om die evangelie met hulle te deel.

 

Ek het ‘n goeie Arminiaanse vriend. Meer as tien jaar gelede het hy vir my gevra:  ‘Hoekom doen jy evangelisasie as jy glo dat God soewerein is?’  In Rm.9 sê Paulus dat God mense uitverkies het.  In Rm.10 sê hy dat ons die evangelie moet preek, sodat hulle gered kan word.  In 2 Tm.2:10 sê hy dat hy enige swaarkry sal deurmaak, sodat die uitverkorenes die evangelie kan hoor en gered kan word.  In Hd.18:9-10 het God gesê dat Paulus nie moet ophou om te preek nie, omdat daar baie van sy uitverkorenes in Korinte was.  Paulus, George Whitefield, Charles Spurgeon, William Carey, en baie ander sielewenners in die geskiedenis het geglo dat Jesus soewerein is in evangelisasie.  In die Bybel is evangelisasie en Jesus se soewereiniteit vriende en nie vyande nie.

 

[1] Charles Spurgeon, Autobiography: vol.1, pp.427-451

[2] http://www.desiringgod.org/messages/how-few-there-are-who-die-so-hard