’n Partytjie in die hemel

Balloons in sky

Wat maak partytjies lekker? Die mense vir wie jy lief is, is saam met jou.  Almal is gesellig en kuier saam.  Jy eet jou gunsteling kos en lekkernye.  Die persoon wat verjaar kry geskenke, en die ander geniet dit om te gee.

 

Volgens die Bybel is daar ‘n partytjie in die hemel wanneer iemand tot bekering kom (v.7, 10, 24). Het jy al daaraan gedink dat die partytjie nooit ophou nie, omdat daar elke dag êrens in die wêreld iemand tot bekering kom?  Lk.15:11-32 beskryf vir ons hoekom daar soveel blydskap is.

 

Die verlore seun (v.11-20a)

John Welch het in die 16de en 17de eeu in Skotland gelewe. Toe hy ‘n tiener was het hy van die huis af weggeloop en deel geword van ‘n bende.  In die aande het hulle oor die Skotse grens geglip om in Engeland te steel.  So het hy aangehou totdat sy klere vlenters was.

 

Toe hy niks meer oorgehad het nie, het hy besluit om na sy pa toe terug te gaan. Met trane in sy oë het hy voor sy pa gekniel en hom gesmeek om hom te vergewe.  Hy het belowe om ‘n nuwe blaadjie om te slaan, en het gevra of hy sy studies kan voltooi.  ‘As ek droogmaak kan pa my vir ewig onterf,’ het hy gesê.  Sy pa het hom vergewe en daartoe ingestem.  In latere jare het Welch die skoonseun van John Knox geword, en was hy een van die heiligste manne in Skotland.[1]

 

Sulke stories is nie ongewoon nie. Dit gebeur soms dat God ‘n man op die grond moet neerslaan voordat hy tot sy sinne kom (1 Kon.8:47, 2 Kron.33:10-13, Mt.5:3-6).  Dit is wat in v.11-19 met die verlore seun gebeur het.

 

Jesus het vertel van ‘n man wat twee seuns gehad het (v.11). Die jongste seun wou gou ryk geword het sonder om hard te werk.  Gevolglik het hy vir sý derde van die erfporsie gevra (v.12, Dt.21:17).  Sy versoek was disrespekvol, omdat hy daardeur vir sy pa gesê het:  ‘Ek wens pa was al dood.  As ek tussen geld en ‘n verhouding met pa moes kies, dan sou ek geld kies.’  As hy wou, kon sy pa hom onterf het.  Hy het egter vir elke seun sy erfdeel gegee (v.12).

 

‘n Kort tydjie daarna het die jongste seun al sy besittings gevat en van die huis af weggeloop – hy was nie van plan om terug te kom nie (v.13).  Hy het na ‘n ver land toe gegaan (v.13).  Terwyl hy daar was het hy sy besittings verpand en die geld gemors op ‘n lewe van seksuele losbandigheid en dronkenskap (v.13, 30, Gk., Ef.5:18, Tit.1:6, 1 Pt.4:4, 3).  Toe sy geld klaar was het daar ‘n swaar hongersnood oor die land gekom (v.14).  Volgens Jesus het hy begin om gebrek te ly (v.14).  Die implikasie is dat sy nood erger geword het.

 

In sy desperaatheid het die seun by ‘n plaashuis gaan aanklop en gevra vir werk (v.15). Die boer het hom gestuur om sy varke op te pas (v.15).  Vir ‘n Jood is ‘n vark die hoogtepunt van onreinheid (Lv.11:7-8).  Die Rabbi’s het gesê:  ‘Cursed is the man who rears swine.’[2]  Die seun sou egter enigiets gedoen het om te oorleef.  Die carobbeboom peule in die varke se voerbak was semisoet.  Mense het dit net in ekstreme omstandighede geëet, maar in hierdie geval was die seun nie eers toegelaat om dít te eet nie (v.16, vgl. 16:21).

 

Die seun het besef dat hy in ‘n gemors is, en het tot sy sinne gekom (v.17). Omdat sy geld op was kon hy homself nie uithelp nie.  Daar was egter nog een uitweg:  hy kon teruggaan na sy pa toe.  ‘By my pa se huis het selfs die huurslawe genoeg om te eet, en daarom is dit onnodig dat ek van die honger moet omkom,’ het hy gesê (v.17).  ‘As my pa so gaaf is met die huurslawe, wys dit mos dat hy ‘n goeie man is.  Sy behoefte aan ekstra werkers op die plaas wys ook dat hy voorspoedig is, en dat hy genoeg het om vir my te sorg.’

 

Die seun wou nie net kos en ‘n dak oor sy kop gehad het nie, maar het besluit om na sy pa toe terug te keer – die verhouding moes herstel word (v.18).  Hy het ware berou gehad en was gewillig om sy sonde te erken:  ‘Ek het teen die hemel (vgl. Dn.4:26) en teen pa gesondig, en is bereid om my status as ‘n seun te verloor en soos ‘n slaaf behandel te word.’ (v.18-19).  Hy het opgestaan en na sy pa toe teruggekeer (v.20a).

 

Moenie soos die ouer broer dink jy is beter as slegte sondaars nie, maar sien jouself in die verlore seun. Totdat jy dít nie doen nie, kan jy nie gered word nie.  Soos die verlore seun was jy ver van die Vader af (v.13), “sonder hoop en sonder God in die wêreld.” (Ef.2:12).  Miskien is jy nogsteeds in die ver land.  Jy hoop dat rykdom en plesier jou gelukkig sal maak, maar as jy eerlik is moet jy erken dat dit nie die leemte in jou siel gevul het nie (v.13-14, Pd.5:9).  Inteendeel, soos die swaar hongersnood in v.16-17, trek die wêreld en haar sonde jou kaal uit en los dit jou met niks.  Die groener weivelde was toe nie so groen soos wat jy gedink nie.  As jy by die Here gebly het sou Hy jou siel versadig het (v.17).

 

Hoekom wil jy langer vir jou sonde lewe? Dit belowe plesier (v.12), maar diep in jou hart is jy sielsongelukkig (v.13-16).  Dit hoef nie so te wees nie.  In Jesus is daar meer as genoeg om jou siel te versadig (v.17, Jh.6:35).  Pasop egter dat jy nie met ‘n verkeerde motief na Jesus toe kom nie.  Moenie kom net omdat jy wil hê Hy moet jou omstandighede verander nie, maar kom omdat jy ‘n persoonlike verhouding met Hom wil hê (v.18).

 

Hoe kom ‘n mens na Hom toe?  Jy moet erken dat Hy jou niks skuld nie, en dat jy nie waardig is om sy vergifnis te ontvang nie (v.19).  Wees ook bereid om te erken dat jy nie bloot teen mense nie, maar teen Gód gesondig het (v.18).  “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë” (Ps.51:6).  Jy het die asem, tyd, geld, liggaam, en talente wat Hy vir jou gegee het teen Hom gebruik (v.12-13, Dn.5:23).  Moet jouself nie regverdig of die skuld op ander mense en jou omstandighede laai nie.  Iemand wat sy sonde verskoon kan nie gered word nie.

 

Moenie net planne in jou kop te hê nie, maar wees soos die verlore seun wat oorgegaan het tot aksie (v.20a). Baie mense weet dat Jesus die sondelose Seun van God is, dat Hy ons straf op Homself geneem het aan die kruis, dat Hy uit die dood uit opgestaan het, dat ons Hom moet liefhê en ons sonde moet los, en dat dié wat in Hom glo nie hel toe sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.  Hulle dagdroom oor Jesus en die hemel (v.17), maar omdat hulle nie in geloof en bekering reageer nie, bly hulle in die varkhok van hulle sonde (v.16).

 

Die liefdevolle pa (v.20b-24)

‘n Rebelse seun in Wallis het van sy ouerhuis af weggeloop. Sy ouers het nie geweet waar hy is nie.  Op ‘n dag toe kry sy pa ‘n brief in die pos:  ‘Pa, ek het teen pa en ma gesondig.  Ek het tot my sinne gekom en wil graag huistoe kom.  Sal pa my asseblief vergewe? As pa my vergewe, sal pa asseblief ‘n wit sakdoek aan een van die peerbome naby die stasie vasbind?’

 

Toe die trein by die stasie inkom was die seun te bang om te kyk. Hy het nie geweet of sy pa hom sou vergewe nie.  Toe hy uiteindelik opgekyk het, was daar ‘n wit sakdoek aan elke tak in die peerboord.  Sy pa het hom volkome vergewe.  Die pa in Jesus se gelykenis het die verlore seun só vergewe.

 

Uit v.20b lyk dit of die pa gedurig gaan kyk het of sy seun nie dalk huistoe kom nie: “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.”  Onthou dat ou mans in daardie tyd en kultuur nie sommer vir enige rede hulle rokke opgetel en gehardloop het nie.  Die feit dat hy gehardloop het wys iets van sy gewilligheid om die seun te vergewe.  Sy soene het ook gewys dat hy sy seun hartlik en vrylik vergewe het, en dat hy hom weer as sy kind aangeneem het (2 Sm.14:33).

 

‘Pa, ek het teen die hemel en voor pa gesondig, en is nie werd om pa se seun genoem te word nie,’ het hy gesê (v.21). Hy wóú nog gesê het dat sy pa hom soos ‘n huurslaaf moet behandel, maar sy pa het hom dadelik vergewe en vir die slawe gesê om sy seun as hulle meester te dien (v.22).  Hulle moes dit gou doen en nie wag nie (v.22).  Hulle het vir hom ‘n edelman se kleed aangetrek [Gk. stolē], ‘n ring aan sy vinger gesit om te wys dat hy met sy pa se gesag kon optree (Gn.41:42, Est.3:10), en vir hom skoene aangetrek sodat hy nie kaalvoet in die huis sou rondloop soos ‘n slaaf nie (v.22).  Hulle het ook die vetgemaakte kalf geslag om dit vir die ‘eregas’ voor te sit (v.23).

 

Daar was meer as genoeg rede om fees te vier. Vir alle praktiese doeleindes was die seun dood, maar nou het sy pa hom lewendig teruggekry (v.24).  Sy pa het hom verloor, maar noudat hy terug was het sy pa hom gevind (v.24, 5, 9).  Sy pa het hom nie as ‘n huurslaaf beskou nie (v.19), maar as ‘n seun (v.22), en het hom in ere herstel.

 

Dink reg oor God. As jy ‘n verdraaide beeld van God het, sal jy bang wees en nie na Hom toe wil kom nie.  Hoe moet jy dan oor die Here dink?  Daar is baie mense wat dink:  ‘Ek het te erg gesondig – die Here sal my nie vergewe nie.’  As jy so dink moet jy na die pa in Jesus se gelykenis kyk om ‘n akkurate beeld van God te kry.

 

[1] As jy berou het en vergifnis vra, sal God jou nie aan jou sonde herinner nie (v.21-22). “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jer.31:34).

 

[2] God is lief vir sondaars en voel jammer vir hulle (v.20, Mt.9:36, Jh.3:16).

 

[3] Daar is ‘n partytjie in die hemel as ‘n sondaar tot bekering kom (v.7, 10, 24-25).

 

[4] God omhels en soen jou nog voordat jy gebad het; terwyl jy in jou sonde is (v.20). Hy “bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rm.5:8).

 

[5] God laat ons nie vir maande in die stof kruip voordat Hy ons red nie, maar hardloop na ons toe en help gou as ons tot Hom uitroep (v.20, 22, Jk.4:8).  ‘Slow are the feet of repentance, swift are the feet of forgiveness.’ (Spurgeon).

 

[6] God se vergifnis is ryk (v.20, 22-24). Dit is groter as ons sonde:  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rm.5:20).  “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het” (Ef.1:7-8).

 

[7] God trek die vuil klere van ons sonde uit, en beklee ons met die skoon klere van Jesus se volmaakte geregtigheid (v.22, Sg.3:3-5).

 

[8] Ons was geestelik dood, maar God het ons lewend gemaak in Christus (v.24, Kol.2:13). Ons was verlore sondaars, maar God het ons gevind (v.24, 19:10, 1 Pt.2:25).

 

Ons hoef dan nie op ‘n afstand bly nie, maar kan in geloof na ‘n liefdevolle Vader toe kom.

 

Die selfregverdige broer (v.25-32)

In die laat 1700’s was daar ‘n groep liberale predikante in Skotland wat alles in hulle vermoeë gedoen het om sendingwerk in hulle denominasie te stuit. Alexander Carlyle van Inveresk was een van hulle.  Toe hulle by die denominasie se Algemene Vergadering hieroor moes stem, het een van Carlyle se vriende (‘n sekere dr. Jardine) inmekaar gesak.  Hulle het hom uitgedra.  As gevolg hiervan sou die stemming op ‘n latere stadium moes plaasvind.  Carlyle wou egter die saak deurgestem het.  Hy het buitentoe gehardloop, gesien dat Jardine dood is, teruggekom en vir die vergadering gelieg:  ‘Jardine sal binnekort beter wees,’ het hy gesê.  Die vergadering het voortgegaan en gestem.[3]

 

Vir selfregverdige mense is tradisie en hulle eie agendas belangriker as liefde vir God en hulle naaste. Die oudste broer in Jesus se storie is ‘n lewende voorbeeld hiervan.

 

Die oudste seun het ook sy erfdeel ontvang (v.12), en was seker in die veld besig om dit op te pas (v.25). Toe hy by die huis aankom het hy gehoor hoe mense sing en dans (v.25).  ‘Wat gaan hier aan?’ het hy vir een van die slawe gevra (v.26).  Die slaaf het gesê:  ‘Ons hou partytjie, omdat jou verlore broer veilig huistoe gekom het.  Jou pa loop oor van blydskap en het die vetgemaakte kalf geslag’ (v.27).

 

Die oudste seun was woedend en het geweier om in die huis in te gaan (v.28, 2). Sy pa het buitentoe gegaan en mooi met hom gepraat, maar hy wou nie inkom nie (v.28).  Hy het vir sy pa gesê:  ‘Ek dien pa nog al die jare.  Ek was nog nooit ongehoorsaam nie, en het al pa se bevele uitgevoer.  Tog het pa nie eers vir my ‘n jong bokkie gegee om saam met my vriende te braai nie’ (v.29).  Die seun het duidelik nie ‘n verhouding met sy pa gehad nie, maar het hom gesien as ‘n baas vir wie hy moes werk (v.29).  Verder het hy sy pa gedien vir wat hy daaruit kon kry, en nie omdat hy hom liefgehad het nie (v.29).  Hy was selfregverdig en het gedink dat hy nog nooit ongehoorsaam was nie (v.29, kontr. v.21).  Hy het ‘n wrok teen sy pa gehou (v.29).  Hy wou saam met sy vriende gewees het, en nie saam met sy pa nie (v.29).

 

Die oudste broer het nie die verlore seun as sy broer erken nie, maar het van hom gepraat as ‘hierdie seun van pa’ (v.30). ‘Hy het pa se geld op prostitute geblaas.  Pa moet hom straf; nie die vetgemaakte kalf slag nie!’ het hy in effek gesê (v.30).  In sy oë was dit nie net die verlore seun wat skuldig was nie, maar die liefdevolle pa.

 

Die pa was lief vir beide sy seuns en het vir die oudste een gesê: ‘Seun, jy is altyd by my.  Wat myne is is joune.  Moenie jaloers wees en my besittings vir jouself wil hou nie.  Is dit nie gepas om fees te vier as jou broer wat by die dood omgedraai het weer lewe nie; as jou vermiste broer gevind is nie?’ (v.31-32, 2).  Wil jy weet hoe die storie geeïndig het?  Die oudste broer het sy pa vermoor; hy het hom gekruisig.

 

Maak seker dat jy nie soos die oudste broer is nie. ‘n Vuil sondaar wat besef hy is verlore, is beter af as ‘n morele kerkmens wat dink hy het nie genade nodig nie (v.29-30, 18:9-14).  Toets jouself:

 

[1] Voel jy ongemaklik as swart mense, boemelaars, prostitute, en dwelmslawe kerk toe kom, of is jy bly omdat jy wil hulle moet tot bekering kom (v.2, 28-30)?  Het jy al gesê:  ‘As daar swartes in hemel gaan wees, wil ek nie daar wees nie’?

 

[2] Dink jy hoofsaaklik aan God as ‘n meester vir wie jy moet dien, of ‘n Vader met wie jy ‘n verhouding kan hê (v.29)? Hoe sal dié wat jou geken het jou lewe opsom wanneer jy dood is:  ‘Hy het so baie vir die kerk gedoen’ (v.29) of, ‘Sy het naby aan die Here gelewe’?

 

[3] Het jy al ooit besef dat jy ‘n verlore sondaar is wat vergewe moet word? Of dink jy die Here sal jou aanvaar omdat jy sy wet nagekom het (v.29)?  Is Christenskap vir jou iets wat jy vir die Here doen, of iets wat Hy vir jou gedoen het?

 

[4] Kom jy kerk toe omdat jy die Here beter wil ken, of omdat jy by jou vriende wil wees (v.29)? Dien jy Hom omdat jy Hom liefhet, of omdat jy die voordele wat Hy vir jou kan gee soek (v.29)?

 

[5] Dink jy jy is moreel omdat jy nie so sleg is soos ander nie? Of meet jy jouself aan God se standaard, sodat jy besef jy het sy genade en vergifnis nodig (v.29-30, 2)?

 

Ten spyte daarvan dat die oudste broer by die huis was, was hy ook ‘n verlore seun. Besef dan dat dit moontlik is om elke Sondag in die kerk te sit, en nogsteeds ongered te wees.  Jy is nie ‘n Christen omdat jy gedoop is, voorgestel en aangeneem is, in ‘n Christelike huis groot geword het, ‘n ouderling is, of teologie studeer het nie.  Ek gee nie om wie jy is nie:  “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Jh.3:3).

 

Kom dan in geloof en gebed na die Here toe. Moenie langer op jou morele lewe staatmaak nie.  Dalk is jy uiterlik moreel, maar diep in jou hart weet jy en die Here wat in jou gedagtes aangaan.  Vra dat die Here jou sal vergewe.  Glo die Here se belofte dat net Jesus jou van jou sonde kan red.

 

My vrou en kinders was Donderdag by ‘n Zimbabweër vrou se partytjie. Sy het nog nooit in haar lewe ‘n partytjie gehad nie, en was baie emosioneel oor die vriende, geskenke, eetgoed en kaartjies.  Sommige van my hoorders en lesers het nog nooit tot bekering gekom nie, en het dus nog nooit ‘n geestelike partytjie gehad nie.  Ek hoop dat jy vandag tot bekering sal kom, sodat jóú partytjie in die hemel gevier kan word.

 

[1] John Howie, The Scots Worthies, pp.119-120)

[2] Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.343

[3] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.160-161

Advertisements