Wanneer God se volk Hom verwerp

Talk to the hand

As die Here wil begin ek volgende week ‘n reeks in Openbaring. ‘n Algemene fout wat mense maak wanneer hulle die boek interpreteer, is om te maak asof dit niks te doen het met die Christene wat in Johannes se tyd geleef het nie.  Hulle dink dit het te doen met Rusland, masjien gewere en die Verenigde Nasies.  Maar eintlik is daar baie verse in die boek wat te doen het met God se oordeel oor Israel, omdat hulle hulle Messias verwerp het en Hom gekruisig het.

 

Jh.5:1-18 is maar net die buitelyne van ‘n prentjie wat later met hulle bebloede hande ingekleur sou word. Laat ons dan hierdie waarskuwing ter harte neem en nie dink dat ons staan nie, want anders sal ons net soos hulle val.

 

Die man se genesing (v.1-9a)

In 2007 het ek ‘n sendeling in Taiwan besoek. Op ‘n dag het een van die sendelinge my na ‘n natuurlike warmwater bron toe gevat.  Die baddens ontspring uit ‘n vulkaniese berg.  By die fonteine is die water 100°C.  Dit vloei dan vir ‘n kilometer of twee, totdat dit groot baddens vorm waarin ‘n mens kan sit.  Volgens die land se mense is die water goed vir arthritis en baie ander kwale.  Volgens argeoloë is dit moontlik dat die bad van Bethesda in Jerusalem só ‘n waterbron met genesende eienskappe was.  En dit is hiér wat die genesing van die lam man afspeel.

 

Nadat Jesus die amptenaar se seun in Galilea genees het, het Hy teruggegaan Jerusalem toe. Hy was daar vir een van die Joodse Feeste (v.1, Dt.16:16).  Hy was by die Skaapspoort waarvan ons in Neh.3:1, 32 lees (v.2).  Geleerdes meen dat hierdie poort direk met die tempel verbind was, en dat die skape wat vir die offers bedoel was deur hierdie poort gekom het.

 

Die bad van Betesda of ‘huis van genade’ was hier en het gestaan onder ‘n dak wat deur vyf pilaargange ondersteun is (v.2). Tussen die rye pilare was daar talle verlamdes, gebreklikes en blindes (v.3).  Sommige manuskripte sê dat die mense “op die roering van die water gewag het.  Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer.  Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.” (v.4, OAV).  Hierdie vers kom egter nie in die beste manuskripte voor nie.

 

Maar dit mag wees dat die minerale in hierdie bad genesende eienskappe gehad het, en dat die roering in v.7 deur die opborreling van ‘n fontein veroorsaak is.[1]  Dit mag wees dat die Jode in hierdie verse regtig geglo het dat ‘n engel die water roer, sodat die persoon wat eerste in die bad geklim het genees is (vgl. 2 Kon.5:10, 14).

 

Een van die mense wat langs die bad gelê het was al vir 38 jaar bedlêend (v.5, 8). Menslik was daar nie hoop dat hy genees kon word nie.  Tog het Jesus nie soos die res verby hom geloop nie – Hy het hom daar sien lê; Hy was sensitief vir mense se lyding (v.6).  Omdat Hy God is het Hy geweet dat die man al vir ‘n lang tyd siek was, dat hy gereeld by die bad was, en dat hy graag genees wou word (v.6).  “Wil jy gesond word?” het Hy vir hom gevra.

 

Die siek man het iemand nodig gehad om hom in die bad te sit (v.7). Hy het eintlik by Jesus geskimp om hom in die bad te sit wanneer die water opborrel.  Hy het nie geweet dat Jesus hom wou of kon genees het nie (v.7, 13).  Jesus het vir hom gesê om op te staan, sy bedmatjie op te tel, en te loop (v.8, vgl. Mt.9:6-7).  Die man het nie gesê:  ‘Ek kan nie loop nie,’ maar het gedoen wat Jesus beveel het (v.9a).  Na 38 jaar is hy sonder rehabilitasie of terapie onmiddellik genees.  Hierdie wonderwerk het weereens bewys dat Jesus die Messias en die Seun van God is (20:30-31), dat Hy almagtig en soewerein is om te genees.

 

Die Jode se teenkanting (v.9b-18)

Die Mishna is Joodse oorlewerings, tradies en wette wat later by die eerste vyf boeke van die Bybel bygevoeg is. In teorie het hulle dit nie as Skrif aanvaar nie, maar in die praktyk het hulle dit tot op die vlak van die Skrif verhef.  Dit is presies wat Jesus in Mt.15:6 vir hulle gesê het:  “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.”  Hulle het dit o.a. gedoen wanneer dit by die Sabbat kom.  Hulle het 39 wette gehad waarin hulle duidelik uitgespel het watse aktiwiteite ‘n mens op die Sabbat mag doen en wat nie.

 

Hulle het byvoorbeeld gesê dat ‘n mens nie op die Sabbat asyn op jou tande mag sit om ‘n tandpyn weg te vat nie. Jy mag egter die asyn op jou kos sit.  As die asyn dán jou tandpyn wegvat is dit toelaatbaar, omdat dit toevallig was (Shab.14:4).  Op die Sabbat mag jy wyn en olie vate by jou naaste leen.  Jy mag net nie vra om dit te leen nie, omdat dit ‘n transaksie is.  ‘n Transaksie vereis dat jy moet skryf, en om te skryf is werk (Shab.23:1).[2]

 

Vir die Jode was gehoorsaamheid aan hierdie wette belangriker as ander mense se voordeel. Hulle wettiesisme het hulle liefdeloos, koud en hart gemaak – nie net teenoor hulle naaste nie, maar ook teenoor hulle Messias en hulle God.

 

Die dag waarop Jesus die man gesond gemaak het was ‘n Sabbat (v.9b, vgl. 7:23, 9:14, Lk.13:14). God het nie die Sabbat gegee om mense met swaar reëls en wette te belas nie, maar sodat die mens sy batterye kon herlaai:  geestelik, fisies, sosiaal, intellektueel, en emosioneel.  “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” (Mk.2:27).  Jesus het dit nie as werk beskou om mense te help nie, maar as ‘n daad van liefde.

 

Maar volgens die Jode was dit onwettig vir die man om sy bedmatjie op die Sabbatdag rond te dra (v.10). Hulle kon nie gesê het dat hulle dit uit Jer.17:21-22 gekry het nie, omdat die man nie ‘n swaar las gedra het nie:  “So spreek die HERE:  Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie.  Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het.”

 

Die man het vir die Jode gesê: ‘Die man wat my gesond gemaak het, het gesê ek moet my bed optel en loop’ (v.11).  ‘Wie is die man wat vir jou gesê het om met jou bedmatjie rond te loop?’ het hulle gevra (v.12).  Die genesing het hulle glad nie beïndruk nie.  Al waarin hulle vasgekyk het was dat hy die tradisies van hulle voorvaders oortree het.  Hulle het nie daarin belanggestel om vir Jesus te aanbid nie, maar om Hom te vervolg (v.18).

 

Die man het nie geweet waar of wie Jesus was nie (v.13). ‘n Tydjie later het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê:  “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (v.14).  Was die man siek was a.g.v. van een of ander sonde wat hy gedoen het (kontr. 9:1-3)?  Of het Jesus bedoel dat die man besig was met sonde, omdat hy Hom aan die Jode wou oorlewer?  En wat is die ‘erger’ ding wat sou gebeur het as hy met sy sonde aangehou het?  Dit mag wees dat hy sieker sou geword het as voorheen.  Maar meer waarskynlik bedoel Jesus dat hy in die hel sou beland het.  Dit is hartseer dat die man wat genees is nie in Jesus geglo het nie.  Dalk was hy ‘n prentjie van Israel wat die Seun van God se wonderwerke gesien het, maar nie in Hom geglo het nie (2:23-25).

 

Die man het nie vir Jesus geluister nie, maar het dadelik vir die Jode gaan sê dat dit Jesus was wat hom genees het (v.15).  Hy het homself oortuig dat daar nie iets erger met hom sou gebeur het nie.  Toe die Jode gehoor het dat dit Jesus was wat hom genees het, het hulle Hom aanhoudend vervolg (v.16, Gk.).  Die feit dat hulle Hom vir ‘n goeie daad vervolg het, wys iets van die hardheid van hulle harte (10:32).

 

‘Ek en my Vader het ons skeppingswerk op die sewende dag voltooi, maar dit beteken nie dat Ons nie nogsteeds besig is om te werk nie. Ons onderhou elke hartklop, gee kos vir die kraaie, en sorg dat die aarde om sy eie as draai.’  Dit is basies wat Jesus met v.17 bedoel het (Heb.1:3, Kol.1:17).  Daarom was dit nie verkeerd vir Jesus – die Here van die Sabbat (Mk.2:28) – om hierdie man op die Sabbat te genees nie.  Hy was net besig om die skepping onderhou.

 

Toe die Jode dit gehoor het was hulle woedend, en wou hulle Hom doodmaak (v.18, 7:1, 10:33, 36). In hulle oë het Hy die Sabbat ‘gebreek’ en Homself op ‘n gelyke vlak met God gestel, omdat Hy Hom sy eie Vader genoem het (v.18).  Volgens 19:7 is dít hoekom hulle Hom gekruisig het:  “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”  Die ironie is dat hulle reg was:  Hy was in elke opsig met die Vader gelyk (v.19-29, 20:28, Fil.2:6, Kol.2:9, Heb.1:3).

 

Moenie die voorregte van die evangelie gering ag nie. Moenie soos Israel wees en die Here verwerp nie.  Lees jy jou Bybel?  Gebruik jy die vryheid wat die Here vir jou gegee het om met mense die evangelie te deel?  Speel die kerk ‘n sentrale rol in jou lewe, of is dit vir jou ‘n bysaak?  Vertel jy daagliks vir jou kinders van die groot dinge wat die Here gedoen het?  Is gebed en die samekoms van die gelowiges iets waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

 

As ons nie die voorregte gebruik wat die Here vir ons gee nie, sal Hy dit van ons af wegvat sodat ons soos Israel word. Hulle lees elke Saterdag die Ou Testament, maar verstaan dit nie (2 Kor.3:14-15).  Omdat hulle hulle oë en ore vir die waarheid toegesluit het en die Messias verwerp het, het God hulle verblind en hulle ore doof gemaak sodat hulle dit nie kán glo nie (12:39-40).

 

Sal dit nie aaklig wees as die Woord en gebed in skole verbied word nie? Wat as die regering besluit om kerke toe te maak, Bybels te brand, Christelike boekwinkels te sluit, en prediking te verban; as daar ‘n hongersnood kom om die woorde van die Here te hoor (Am.8:11)?  Of wat as ons nog die kerk en die Bybel het, maar ons nie meer die Here se teenwoordigheid ervaar nie, omdat ons ons eerste liefde verlaat het, of omdat ons geestelik lou geword het (Op.2:4-5, 3:15-16)?  Hoe moet dit wees as jy vas en bid, maar die Here jou nie antwoord nie, omdat jy jou ore toegestop het toe Hy met jou gepraat het (Sg.7:13, Jes.58:3, Sp.1:28)?

 

Dalk sê jy: ‘Ons leef nie meer in die Ou Testament nie, maar is deel van die Nuwe Testamentiese kerk.  Ons kan nie die Here verwerp soos wat Israel gedoen het nie, en Hy sal ons ook nooit verwerp nie.’  Jy is reg om te sê dat die Here nooit sy uitverkorenes sal verwerp nie.  Hy sal selfs uiteindelik die Jode herstel en tot geloof in sy Seun bring (Rm.11:1-2, 23, 25-26, 28-29).  Dit beteken egter nie dat almal wat op die kerk se lederol is, gered is nie.  ‘n Tak wat nie vrugte dra nie word afgesny en in die vuur gegooi (vgl. 15:6).  Paulus waarsku in Rm.11:20-22:

 

“Deur ongeloof is hulle [Israel soos ‘n olyfboom se takke] afgebreek, maar jy [‘n heiden wat met die gemeente assosieer] staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.  Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.  Let dan op die goedertierenheid en die strengheid van God:  strengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.”

 

Jesus sal nie sy skape weggooi nie, maar dit is baie moontlik dat Hy ‘n plaaslike gemeente se deure kan sluit, omdat hulle ontrou geword het (Op.2-3). Laat ons dan nie ons voorregte vanselfsprekend neem, sodat ons begin om dit af te skeep nie, maar laat ons luister na wat die Here vir ons wil sê:  “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie… hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam…?’ (Heb.2:1, 3).

 

Dalk dink jy nogsteeds dat jy nie soos die Jode die Here sal verwerp nie, en dat hierdie preek nie regtig op jou van toepassing is nie. Onthou dat afvalligheid nie in ‘n dag gebeur nie.  Jou gewete pla jou, maar jy sê vir jouself dat dit net ‘n klein dingetjie is.  Die kompromie wat jy met sonde aangaan is nie groot nie.  En so beweeg jy treetjie vir treetjie van die Here af weg.  Voordat jy jouself kry lê jy saam met iemand anders se huweliksmaat in ‘n bed, of doen jy dinge wat niemand van jou verwag het nie.  En dan kyk jy vir jouself in die spieël en jy sê:  ‘Ek glo in elk geval nie meer in God en die Bybel nie.’

 

Ek wil jou vra om nie slap te lê of op te gee in hierdie wedloop nie. Byt vas en volhard enduit.  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Heb.10:24-25).

 

[1] Leon Morris, The Gospel According to John, p.302

[2] Aangehaal in Ibid, p.305 n.25