Hoe moet ons Openbaring verstaan?

Four horsemen

Na my mening is Openbaring die moeilikste boek in die Bybel. Godvresende manne verskil oor hoe die boek geïnterpreteer moet word.  John MacArthur glo dat dit oor die kort tydperk voor Jesus se wederkoms handel.  William Hendriksen glo dat die dinge waarvan ons in die boek lees, aanhoudend in die geskiedenis vervul word.  R.C. Sproul glo dat die oorgrote meerderheid van die boek in Johannes se tyd vervul is.  As groot manne op hierdie punt van mekaar verskil, dan moet ons Openbaring met ‘n nederige gesindheid aanpak.  Ek glo dat die eerste agt verse vir ons ‘n goeie idee sal gee van hoe ons die res van die boek moet interpreteer.

 

Die Here se openbaring (v.1-2)

In die begin van die jaar het ek met ‘n vriend oor die eindtyd gepraat. ‘Ek verstaan dit nie regtig nie, en dit pla my ook nie baie nie,’ het ek gesê.  My vriend het my oor die vingers getik:  ‘God het dit in die Bybel gesit, sodat ons dit kan verstaan en gehoorsaam.’  In die praktyk het baie van ons net 65 boeke in ons Bybels.  Ons lees nie graag Openbaring nie, maar vermy dit as ons kan.  En tog het God dit in die Bybel gesit, sodat ons daaruit kan leer en dit kan doen (v.3).

 

Openbaring is in simbole geskryf om die kerk se vervolgers te verwar (bv. 13:18, 17:9, Mt.13:13). Vir óns hoef dit egter nie verwarrend te wees nie, omdat dit ‘n openbaring of bekendmaking van God se oordeel oor sy vyande is (v.1, Gk. apokalupsis).  Die boek is soos volg gegee:  God die Vader ” Jesus Christus ” die engel ” Johannes ” die sewe gemeentes in die Wes-Turkse provinsie van Asië (v.1, 4, 11).

 

Jesus het die boek gegee om vir sy diensknegte (v.1, 7:3, 1:18, 19:5) te wys wat binnekort sou plaasvind. Die Griekse woord vir ‘binnekort’ of ‘gou’ (Gk. tachos) beteken presies dít, en word ook in die res van die Nuwe Testament so gebruik (vgl. Hd.25:4, 12:7, 22:18).  Toe Daniël sý visioene gesien het, moes hy dit vir die verre toekoms verseël het (Dn.12:4, 9).  Johannes se visioene daarenteen moes geopenbaar word, omdat die tyd naby was (v.1, 3, 22:10).

 

Omdat dit só is kan ek nie saam met dié gaan wat sê dat Op.4-19 net vir die toekoms bedoel is nie (‘n futuristiese benadering).  Die grootste deel van die boek handel oor die dinge wat binnekort moes plaasvind (v.1), en nie oor helikopters en drake in die eindtyd nie.

 

As die boek o.a. die val van Jerusalem in 70 n.C. voorspel, moet ons kan bewys dat dit voor daardie datum geskryf is. Ek glo dat daar genoegsame bewyse is hiervoor.

 

[1] Volgens 11:1-2 staan die Jersualemse tempel nog. Johannes sê dat Jerusalem vir 42 maande deur die heidene vertrap sou word (vgl. Lk.21:20, 24).  Volgens die geskiedenis het dit inderdaad so gebeur.

 

[2] In 17:9 praat Johannes van ‘n stad wat op sewe berge gebou is. Die eerste lesers sou verstaan het dat hy van Rome praat.  In 17:10 sê hy dat vyf van die stad se konings geval het, dat een huidiglik regeer, en dat een nog kom.  Wanneer hierdie sewende een kom, sal hy net vir ‘n kort tydjie regeer.  Julius, Augustus, Tiberius, Caligula, en Cladius is die vyf keisers wat geval het.  Nero was aan bewind toe Johannes Openbaring geskryf het.  Ná Nero het Galba vir ‘n kort tydjie van ses maande regeer.[1]

 

[3] In 13:18 praat Johannes van die 666 of die merk van die dier. In Johannes se tyd het hulle nie getalle gehad soos ons nie, maar het hulle die letters van die alfabet gebruik om mee te tel.  In die Romeinse alfabet is I = 1, V = 5, X = tien, L = 50, C = 100, ens.  In Hebreeus werk dit ook so.  As ‘n mens die getal-waarde van die letters in ‘keiser Nero’ se naam bymekaar tel (in Heb. is dit Nrwn Qsr) kom dit uit op 666.[2]  As ‘n mens dit in Latyn skryf is die waarde van die letters in sy naam 616.  In die English Standard Version het 13:18 ‘n voetnota wat sê:  ‘Some manuscripts 616.’  Volgens 13:18 kon die eerste lesers uitgewerk het wie die dier met die 666 is.  Dit moes dan iemand in hulle eie tyd gewees het.

 

[4] Die sterkste argument vir dié wat sê dat Openbaring tussen 90 en 95 n.C. geskryf is (tydens die heerskappy van keiser Domitianus), is ‘n stelling van die kerkvader Ireneus wat in die tweede eeu geleef het. Ireneus het by Polikarpus geleer, wat op sy beurt vir Johannes geken het.[3]  Ireneus het gesê dat ‘[hy of dit] nie lank gelede gesien is nie, maar byna in ons eie dag, teen die einde van Domitianus se heerskappy.’[4]

 

M.a.w. volgens hierdie mense het Johannes die visioene van Openbaring aan die einde van Domitianus se heerskappy gesien. Maar dit is nie duidelik of Ireneus sê dat ‘dit’ (die visioene van Openbaring) of ‘hy’ (Johannes) aan die einde van Domitianus se tyd gesien is nie.  As hy bedoel het dat Johannes in Domitianus se tyd gesien is, dan kan ons nie met sekerheid sê dat Openbaring tussen 90 en 95 n.C. geskryf is nie.

 

Daar is nog argumente vir beide kante van die saak. As jy meer wil weet kan jy vir ‘n latere datering, More than Conquerors van William Hendriksen lees.  Vir ‘n vroeë datering (voor 70 n.C.) kan jy Kenneth Gentry se boek, Before Jerusalem Fell lees.  Daar is ook ‘n boek beskikbaar met die titel, Four Views on the Book of Revelation (saamgestel deur C. Marvin Pate).

 

Jesus het ‘n engel gestuur om die inhoud van die boek aan Johannes bekend te maak (v.1, vgl. 17:1, 21:9, 22:1). Wie is die Johannes van wie ons hier lees?  Kerkvaders soos Justin Martyr, Melito van Sardis, Papias, Ireneus, Clement van Aleksandrië, Tertullianus, Origenes van Aleksandrië, en Hippolitus (almal uit die tweede en derde eeu n.C.) het gesê dat dit Johannes die apostel is.[5]

 

Sekerlik is daar nie ‘n ander Johannes wat net sy naam kon skryf, sodat almal geweet het wie hy is nie?[6]  Verder is daar ooreenkomste tussen Openbaring en die Johannes-Evangelie (bv. Jesus as die Lam van God en die Woord van God.).  Die Grieks in die Johannes-Evangelie is soos ‘n nuut-geteerde pad, terwyl die Grieks in Openbaring soos ‘n grondpad is.  Die rede is waarskynlik omdat Johannes ‘n sekretaris gehad het toe hy sy Evangelie geskryf het (soos Paulus in Rm.16:22).  Toe hy Openbaring geskryf het, was hy alleen op die eiland Patmos (v.9), en het hy nie ‘n sekretaris gehad nie.

 

Johannes het hierdie visioene met sy eie oë gesien (v.2). En dit was as gevolg van hierdie getuienis van Jesus en die Woord van God, wat hy na die eiland Patmos toe verban is (v.2, 9).  Die gelowiges vir wie hy geskryf het, is op grond van dieselfde getuienis vervolg (6:9, 12:17, 19:10).

 

Moenie bang wees om Openbaring te lees nie. Moenie dink dat gewone mense dit nie kan verstaan nie.  Ek sê nie jy moet sommer net inklim nie.  Selfs Petrus het gesê dat sommige verse oor die wederkoms moeilik is om te verstaan (2 Pt.3:15-16).  Maar die feit dat dit moeilik is, beteken nie dit is onmoontlik nie.  Om Openbaring te verstaan moet jy dit reg interpreteer.  En hoe is dit?

 

Die algemene reël wanneer dit by Bybel-interpretasie kom, is dat jy dit letterlik moet interpreteer, dat jy woorde en sinne moet bestudeer, dat jy die konteks in ag moet neem, en dat jy die historiese agtergrond moet onthou. Om iets letterlik te interpreteer beteken nie jy ignoreer die literatuursoort nie.  Om Ps.23 reg uit te lê, moet jy onthou dat dit poësie is.  Ons kan nie die Psalm lees en tot die slotsom kom dat Jesus ‘n skaapwagter van beroep is, of dat Christene wol, kort sterte en hoewe het nie.  Jesus is soos ‘n skaapwagter wat vir ons omgee, en ons is soos skape wat rigtingloos is sonder Hom.

 

Wanneer jy Openbaring interpreteer, moet jy onthou dat dit ‘n profetiese boek vol van beelde en simbole is (v.3). Jy kan nie self besluit wat die simbole beteken nie, maar moet die oorspronklike simbole in die Ou Testament opsoek.  As jy bv. in Op.13:1 van ‘n dier met tien horings en sewe koppe lees, moet jy Dn.7:17 naslaan.  Daar sal jy sien dat hierdie diere simbolies is van magtige konings.

 

As jy na deeglike studie nogsteeds oortuig is dat Openbaring meestal van die toekoms (of die hede) praat, goed so. Onthou asseblief dat jy iets kan leer by dié wat anders dink as jy.  Kry gerus Steve Gregg se kommentaar waarin hy die vier sienings verduidelik.[7]  Moenie met ander gelowiges hieroor stry en baklei nie.  Stem eerder saam oor die basiese waarheid van Jesus se wederkoms en die finale oordeel.

 

Die Here se seënwense (v.3-5a)

‘n Paar weke gelede het ek vir ‘n kollega gesê dat ek ‘n reeks in Openbaring wil begin. Ek het vir hom gesê dat ek na ‘n sekere interpretasie toe neig, en dat groot dele van die boek reeds in Johannes se tyd vervul is (natuurlik nie die dele oor die wederkoms en die finale oordeel nie).  Hy het vir my gevra:  ‘As groot dele van die boek vervul is, wat beteken dit vir ons?’  My reaksie was:  ‘As Jes.53 en tekste oor Israel se ballingskap vervul is, wat beteken dit vir ons?’  Die feit dat gedeeltes in Openbaring en die res van die Bybel vervul is, beteken nie dat daar geen toepassing is vir ons nie.  Alles in Openbaring is ook op ons van toepassing (2 Tm.3:16-17).

 

Daar is ‘n belofte van seën vir die leraar wat die profesie van hierdie boek hardop lees, maar ook vir die gemeente wat dit hoor en doen wat daarin geskryf staan (v.3, 2:1, 12, 18, 3:1, 7, 14, vgl. 22:7, Lk.11:28). Omdat die boek ‘n profesie genoem word, gaan dit oor spesifieke gebeure.  Ek kan daarom nie saam met die idealiste (soos William Hendriksen) stem wat sê dat die boek oor en oor in die geskiedenis vervul word, en dat dit nie met spesifieke gebeure te doen het nie.[8]

 

Johannes het sy brief aan die sewe gemeentes in Asië gerig (v.4). Die gemeentes is nie voorstellings van verskillende tydperke in die kerk se geskiedenis nie, maar is sewe historiese gemeentes in die eerste eeu:  Efese, Smirna, Pergamus, Tiatire, Sardis, Filadelfia, en Laodisea (v.11).  Die dorpe waarin die kerke geleë was, het in ‘n hoefyster vorm aan die weste kant van moderne Turkye gelê.  Dit is nie net hfst.1-3 wat vir hierdie kerke bedoel was nie.  Volgens 22:16 is die hele boek is vir hulle geskryf.

 

Deur hierdie brief het die Here genade en vrede vir sy vervolgde kinders belowe (v.4). Hierdie genade en vrede het van die Drie-Enige God af gekom (v.4-5a):

 

[1] Die Vader wat was, wat is, en wat kom (v.4, Ps.90:2, Eks.3:14).

 

[2] Die sewe Geeste wat voor die troon van God is (v.4). Die getal sewe kom 54 keer in Openbaring voor en spreek van volmaaktheid.  In 1:4 praat hy dan van die sewevoudige of volmaakte Gees van God (3:1, 4:5, 5:6, Sg.4:2, 6, Jes.11:2).

 

[3] Jesus Christus. Hy is die getroue getuie van God wat nie kan lieg nie (v.5a, 3:14, 19:11, Jh.18:37, 1 Tm.6:13).  Hy is die eerste Een wat opgestaan het om nooit weer te sterf nie (v.5a, Kol.1:18, Hd.26:23).  Hy is die Koning van die konings (v.5a, 19:15-16, 17:14, Ps.2).

 

Hou die belofte van seën in gedagte as jy hierdie reeks in Openbaring bywoon, op die blog volg, en probeer om dit toe te pas (v.3). Dalk stem jy nie saam met my benadering nie.  Ek wil jou vra om in elk geval saam met my deur die boek te werk.  Dalk sal my uitleg sin maak soos wat ons aanbeweeg.  Maar al stem jy nie daarmee saam nie, wil ek vra dat jy die vis sal eet en die grate uitspoeg.  Moenie so in die detail vasgevang raak dat jy die sentrale rol wat Christus daarin speel mis nie.  Kyk uit vir sy heerlikheid, Koningskap, oorwinning en die evangelie wanneer jy die boek lees en na die prediking daarvan luister.  Vra hoe jy Hóm beter kan ken wanneer jy die boek oopmaak.

 

Dalk verstaan jy nie alles oor die 666 of die vier perde nie, maar jy verstaan wel dat die Here jou eerste liefde moet wees (2:4-5), en dat jy nie geestelik lou moet wees nie (3:15-16). Ons moenie verwag dat die Here nuwe waarhede vir ons gaan leer, as ons ongehoorsaam is aan dié dinge wat vir ons duidelik is nie.

 

Vir baie gelowiges is Openbaring ‘n boek van ‘doom and gloom’, maar volgens v.3 is dit ‘n boek wat seën belowe.  Kyk dan verby die sprinkane en die bloed, en sien die seën wat God belowe vir dié wat deur moeilike tye aan Hom getrou bly (2:7, 11, 17, 26, 3:5, 12, 21).

 

Die Here se heerlikheid (v.5b-6)

Ek was eenkeer bang vir ‘n humeurige persoon wat op my geskreeu het. Die Here het my die volgende dag uit Jes.41:10-14 bemoedig.  Soos wat die Here mý bemoedig het, het Hy die gemeentes in v.3-5a bemoedig, omdat hulle binnekort vir die evangelie vervolg sou word.

 

Alle heerskappy en eer behoort aan Jesus (v.6). Die keisers van Rome se einde was voor die deur, maar aan Christus se heerskappy is daar geen einde nie (v.6, Dn.2:44).  Amen:  laat dit so wees (v.6)!

 

  • Hy het ons liefgehad en van ons sondes bevry deur sy bloed (v.5b, 1 Pt.1:19).
  • Hy het ons bevry van die straf wat oor ongelowige Israel en oor die res van die wêreld gaan kom (hfst.6-20).
  • Hy laat die wêreld se koninkryke val om van ons konings en priesters te maak (v.6, 11:15, Dn.7:14, 22, 27, 1 Pt.2:9, kontr. Eks.19:6). As konings sal ons saam met Hom op die aarde regeer (5:10). As priesters het ons direkte toegang tot die troonkamer van God (1 Tm.2:5, Hb.4:16, 10:19-22), en kan ons geestelike offers bring (1 Pt.2:5).

 

Hou Jesus se heerlikheid vooroë in die chaos wat ons land en die wêreld tans beleef. Ons hoef nie angstig te raak as studente kampusse afbrand, die president korrup is, die V.S.A. op die afdraende pad is, en ISIS Christene doodmaak nie.  Jesus Christus sal sy vyande se neuse in die grond vryf – Koninkryk sal seëvier (v.5-6).

 

Of ons nou sê dat groot dele van die boek alreeds vervul is of nie, maak nie ‘n verskil nie. Die punt is dat Openbaring dinge oor die nasies van die aarde en hulle konings voorspel.  Die feit dat God dinge oor hulle voorspel het, impliseer dat die leiers van die aarde nie kan doen wat hulle wil nie.  Hulle kan net doen wat die Here bepaal het (Ef.1:11, Dn.2:21, 4:35).

 

Die Here se koms (v.7-8)

Ek ken ‘n paar mense wat dieselfde siening oor Openbaring handhaaf as ek. Toe een van hulle ‘n reeks oor Openbaring in sy kerk begin het, het daar stories rondgeloop dat hy nie in die wederkoms glo nie.  As gevolg daarvan het mense die kerk verlaat.  Maar die waarheid is dat hierdie predikant in die wederkoms glo.

 

‘n Ander man het sy siening oor Openbaring bekend gemaak. Sy kollega was nogsteeds lief vir hom, maar was onder die indruk dat hy nie in die wederkoms glo nie.  Ek het die man gebel en gevra of hy in die wederkoms glo.  Ek het gou agterkom dat ek en hy dieselfde oor Openbaring glo en dat hy met sy hele hart in die wederkoms glo.  Moet my asseblief dan nie misverstaan nie:  ek glo in die wederkoms!

 

Wanneer Johannes sê dat Jesus op die wolke kom, praat hy nie net van die wederkoms nie (v.7). Hoe weet ons dit?  Hd.1:9 praat van Jesus wat met die wolke na die hemel toe opvaar.  Hy het in hierdie wolke voor sy Vader gekom om ‘n Koninkryk te ontvang (Dn.7:13-14).  Die lg. verse gaan nie oor die Seun van die Mens wat op die wolke na die aarde toe kom nie – dit beskryf hoe Hy na die hemel toe opgevaar het.

 

Ons weet dat Hy weer op die wolke na die aarde toe sal terugkeer (Hd.1:11). Maar volgens die Skrif sal Hy ook vóór sy finale koms op die wolke ry om sy vyande te oordeel.  Let gerus op die volgende verse:

 

  • “En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie… En in die môrewaak het die HERE, in die vuur— en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring.” (Eks.14:19-20, 24).
  • “Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid.” (Dt.33:26).
  • “En Hy het op ‘n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het gesweef op die vleuels van die wind. Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke. Deur die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek, hael en gloeiende kole.” (Ps.18:11-13).
  • “Godspraak oor Egipte. Kyk, die HERE ry op ‘n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste.” (Jes.19:1).
  • “Kyk, soos wolke kom hy op, en soos ‘n stormwind is sy strydwaens; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes! Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef?” (Jer.4:13-14).
  • “Want naby is ‘n dag, ja, naby is ‘n dag van die HERE, ‘n dag van wolke; die tyd van die nasies sal dit wees. Dan sal ‘n swaard in Egipte kom, en daar sal angs in Kus wees as die wat verslaan is, val in Egipte, en as hulle sy rykdom wegneem en sy fondamente afgebreek word.” (Esg.30:3-4).
  • “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby—‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” (Joël 2:1-2).
  • “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag”(Sef.1:14-15).

 

Natuurlik geld die koms in v.7 ook vir die wederkoms, maar hiér hou dit direk verband met God se oordeel oor Israel, omdat hulle die Messias gekruisig het. Jesus het mos gesê dat sommige van sy dissipels (o.a. Johannes) nog by hierdie koms sou gelewe het:

 

  • “En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.” (Mt.10:23).
  • “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” (Mt.16:27).
  • “En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid… Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.” (Lk.21:27, 32).
  • Jesus antwoord hom [Petrus]: As Ek wil hê dat hy [Johannes] bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My. Hierdie woord het toe onder die broeders uitgegaan dat daardie dissipel nie sou sterwe nie; en Jesus het nie vir hom gesê dat hy nie sou sterwe nie, maar: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?” (Jh.21:22-23).

 

Die eindste mense wat Hom gekruisig het, sou oor Hom getreur het (v.7). Die Romeinse soldate het Hom met ‘n spies deurboor en Hom met spykers aan die kruis vasgeslaan (Jh.19:34, 37, Ps.22:17).  Tog is dit die Jode wat direk vir sy dood verantwoordelik was (Hd.2:22-23, 36, 3:14-15).  Toe Jesus gekruisig is het hulle uitgeroep:  “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Mt.27:25).  God het die Jode op hulle woord geneem en in 70 n.C. sy oordeel soos ‘n stortreën op hulle laat neerkom, sodat al die stamme van die land (v.7, Gk. ), asook die Jode wat oor die aarde versprei was, met vrees en bewing oor die Messias se oordeel getreur het (v.7, 6:16-17, Lk.23:27-31, Sg.12:10).  Die woorde ‘ja, amen’ wys dat dit sou gewees het soos wat Sagaria en Johannes geprofeteer het (v.7).

 

Alfa en Omega is die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet.  God is die Begin en die Einde van alles, die Een wat was en wat is en wat kom (v.8, vgl. 21:6, 22:13).  As Hy met sy vyande afgereken het, sou Hy vir ewig regeer het en nie ‘n opvolger tot sy troon gehad het nie (v.8, Jes.43:10).  Hy is die Almagtige wat nie net dreig nie, maar uitvoer wat Hy belowe het (v.8).

 

Die vroeë Christene het verwag dat die Here in húlle tyd sou kom om hulle vervolgers, die ongelowige Jode, te oordeel (1 Ts.2:14-16). Net so moet ons sy finale koms op die wolke verwag (2 Ts.1:7-8).  Maak seker dat jy aan die Here se kant is wanneer Hy weer kom.  As jy die Here ken sal dit ‘n dag van blydskap en verlossing wees (Hb.9:28, Jud.24).  Maar as jy Hom nie ken nie en in jou sonde volhard, sal dit ‘n verskriklike dag wees.  Jy sal wens dat jy nooit gebore is nie.  Sorg dan dat jy gereed is om voor die Here te staan.

 

Hoe kan jy jouself voorberei? Moenie een tree verder op die pad van jou sonde gee nie, maar bekeer jou na die Here toe.  Besef dat jy niks kan doen om God se vurige toorn af te weer nie.  Kry berou oor jou sonde en nie maar net oor die straf nie.  Dank en prys die Here, omdat Hý die verdiende straf van sondaars op Homself geneem het aan die kruis.  Vertrou dat Hy jou sal red as jy in Hom glo, en erken dat sy verlossingswerk jou enigste hoop is om gered te word.  God sal jou nie in sy heilige hemel duld nie, maar as jy deur geloof agter Jesus se perfekte lewe en kruisdood skuil, sal Hy jou met ope arms verwelkom.  Vir jóú sal Christus se wederkoms nie ‘n dag van verskrikking wees nie, maar ‘n dag van vrede en hoop.

 

Toe ek studeer het, het een van my dosente gesê dat hy in Amerika gepreek het. Toe sy gasheer en gasvrou gehoor het dat hy anders oor Openbaring geglo het as hulle, het hulle hom sku behandel.  Dit hoort nie so nie.  Die laaste twee sinne in ons kerk se geloofsbelydenis sê:  ‘Daar is verskeie goeddeurdagte sienings oor die eindtyd.  Dit is onnodig om skeuring hieroor in die kerk te veroorsaak.’  Dit geld ook wanneer dit by ons interpretasie van die boek Openbaring kom.

 

[1] David S. Clarke, The Message of Patmos, p.19 en Kenneth Gentry, Perilous Times, pp.121-122

[2] Gentry, Ibid, pp.127-128

[3] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.98

[4] Against Heresies V.xxx.iii aangehaal in William Hendriksen, More Than Conquerors, p.20

[5] Hendriksen, Ibid, p.19 en Carson & Moo, An Introduction to the New Testament, pp.700-701

[6] Hendriksen, Ibid, p.17

[7] Revelation: Four Views – A Parallel Commentary

[8] Alhoewel ek nie op hierdie punt met Hendriksen saamstem nie, is hy oor die algemeen ‘n uitstekende kommentator.