’n Visioen van vertroosting

John writing Revelation

Toe ek op Seminarium was het ons in een klas deur die boek Openbaring gewerk. Die dosent het die visioene aan ons verduidelik.  My vriend was opgewonde en het dit met sy meisie gedeel.  Sy was skepties en het gewonder hoekom hy so seker was dat die visioene dít beteken het.  Vir haar was Openbaring ‘n boek van vreesagtige visioene.  Min mense besef egter dat die boek eintlik ‘n visioen van vertroosting is.  Op.1:9-20 is die eerste een van hierdie visioene.

 

Die verdrukking (v.9)

Charles Spurgeon het vir meer as 20 jaar met gout en arthritis gesukkel. En tog het hy geglo dat dit God se geskenk aan hom was, omdat hy daardeur geleer het om medelye te hê met ander.  As gevolg van sy siekte het hy ook met depressie gesukkel.  Een aand het hy gepreek oor die woorde:  ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’  Hy het die waarheid daarvan tot in die diepte van sy siel gevoel.  Ná die diens het ‘n depressiewe man na hom toe gekom.  Die man was vertroos omdat iemand geweet het wat hy deurmaak.  Die man het uit sy depressie uit gekom.[1]

 

Spurgeon skryf: ‘I would go into the deeps a hundred times to cheer a downcast spirit:  it is good for me to have been afflicted that I might know how to speak a word in season to one that is weary.’[2]  Paulus praat in 2 Kor.1:4 van God “wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”  Dit is presies wat in Op.1:9 met Johannes gebeur het.

 

Hy was die gelowiges se broer in die Here en ‘n deelgenoot in hulle verdrukking (v.9). Soos Jesus moes ook hulle verdruk word voordat hulle in die Koninkryk kon deel (v.9, Mt.5:10, Hd.14:22).  Daar is ‘n sekere sin waarin hulle reeds in die Koninkryk gedeel het, en nie eers moes wag vir die wederkoms nie (v.9, Mk.1:15, Lk.11:20, 17:21, Kol.1:13, Heb.12:28).  Johannes het ook geduldig saam met hulle in die swaarkry volhard (v.9).  Die verdrukking het juis volharding gekweek (v.9, Jk.1:2-3, Rm.5:3).  Net dié wat volhard sal die Koninkryk ingaan en saam met Christus regeer (v.9, 3:10, Mt.10:22, 2 Tm.2:12).  Hierdie verdrukking, Koninkryk en volharding is in Jesus (v.9), sodat dié wat deur geloof met Hom verenig is dieselfde as Hy ontvang en ervaar (Jh.15:20, Rm.8:17, 1 Pt.2:21).

 

Johannes is na die eiland Patmos toe verban (v.9). Die eiland is 16 km x 9.6 km en is 38.4 km van die weskus van Turkye af.  Patmos was die Romeine se Robben-eiland.  Hulle het dié wat vir hulle probleme veroorsaak het na hierdie rotsagtige eiland toe verban.  Johannes se ‘misdaad’ was dat Hy die Woord van God verkondig het, en dat hy getuig het dat Jesus die Koning, Here, Verlosser, Messias, en Seun van God is (v.2).  Dit was tydens dié verbanning wat hy Christus se heerlikheid gesien het.

 

Moenie moed verloor as jy alleen moet staan vir die Here nie. Wanneer almal jou verlaat het sal die Here by jou staan (2 Tm.4:10, 16-17).  Word jy uitgeskuif omdat jy in Jesus glo (v.9)?  Voel jy alleen omdat jy die enigste Christen in jou gesin, familie, skool, werkplek, of woonbuurt is?  Dalk is daar van my lesers wat in ‘n heidense land werk, of in ‘n dorp bly waar daar nie ‘n kerk is wat die evangelie preek nie.  Miskien verhoed siekte jou om by die gelowiges te wees.  Of dalk is jy oud en het jy nie vervoer nie.  Dalk is jy te jonk om te bestuur, en wil jou ongelowige ouers jou nie kerk toe vat nie.  Of dalk het jy ‘n ongelowige man wat jou verbied om kerk toe te gaan.  In hierdie gevalle sal die Here ‘n spesiale poging maak om met jou te ontmoet (v.10-20).

 

Die visioen (v.10-16)

Een van die beste preke wat ek in my lewe gehoor het gaan oor Jesus in Getsemane. Die prediker (C.J. Mahaney) sê dat hy vir ure probeer dink het hoe hy Jesus se belewenis sou illustreer.  Op die einde het hy besef dat ‘n mens dit nie kán illustreer nie, ‘because only He has been there and done that.’  En so is dit ook met Op.1:10-16:  buiten vir die vergelykings in die visioen, kan ons nie regtig die verheerlikte Seun van God illustreer nie.

 

Johannes het sy visioen van Jesus en die res van Openbaring gesien toe Hy op die Dag van die Here in die Gees was (v.10).  Die Dag van die Here is die dag van sy opstanding, die eerste dag van die week waarop Christene bymekaar gekom het (Ps.118:22-24, Hd.4:10-11, Mt.28:1, Hd.20:7, 1 Kor.16:2).  As hy in die Gees was het hy nie geslaap nie, maar al hierdie dinge met sy eie oë gesien (v.10, 4:2, 17:3, 21:10, Esg.37:1).

 

Johannes het ‘n stem soos harde trompet agter hom gehoor (v.10, Eks.19:16, 19). Dit het gewys dat Christus die koning is (1 Kon.1:39) en dat Hy sy vyande gaan oordeel (Jes.58:1, Esg.33:3-6).  Hy moes Christus se woorde van oordeel in ‘n boek neerskryf (v.11, Jes.30:8, Hab.2:2), en dit vir die sewe kerke in Asië stuur:  Efese, Smirna, Pergamus, Tiatire, Sardis, Filadelfia, Laodisea (v.11, 22:16).

 

Johannes het omgedraai om te sien wie dit is wat met hom praat (v.12). Hy het die Goddelike Seun van die Mens tussen die sewe goue kandelare of sewe kerke gesien staan (v.12-13, 20, 2:1, Dn.7:13-14, Mt.18:20).  Hy was teenwoordig om te tug en te troos (hfst.2-3).  Johannes het sy heerlike voorkoms in koninklike en Goddelike terme beskryf.

 

[1] Sy lang kleed en die goue band om sy bors was soos die hoëpriester en soos ‘n koning s’n (v.13, Dn.10:5, Lv.8:7).

 

[2] Sy gloeiende wit hare was soos die Oue van Dae s’n (v.14, Dn.7:9). Die feit dat dit soos wit wol en sneeu was wys vir ons dat Hy heilig, rein en wys is (Jes.1:18).

 

[3] Sy vlammende oë wys dat Hy alles sien en die boosheid uitsif (v.14, 19:12, 2:18, Dn.10:6, Sp.20:8, Jh.2:24-25, Rm.2:16, Heb.4:13).

 

[4] Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ‘n vuuroond gesuiwer is (v.15, Dn.10:6). Hy sal sy vyande onder sy voete vertrap (2:18, 14:19, Ps.110:1).

 

[5] Soos God in Esg.43:2, was sy stem soos die gedreun van massas water, soos die golwe wat teen Patmos se rotse slaan, soos die Victoria valle in volle vloed, soos die gedreun van donderweer (v.15, 14:2, Dn.10:6).

 

[6] In sy regterhand was daar sewe sterre (v.16, 2:1, 3:1). Ons sal meer hiervan verstaan as ons by v.20 kom.

 

[7] In sy mond was sy woorde van oordeel soos ‘n skerp tweesnydende swaard (v.16, 2:12, 16, 19:15, Jes.49:2, Ef.6:17, Heb.4:12).

 

[8] Die glans van sy gesig was soos die son wat op sy helderste skyn (v.16, Mt.17:2, Jh.1:14, Hd.26:13-15).

 

Bid om op die Here se Dag (Sondae) Jesus se heerlikheid in die Woord te sien (v.10, 2 Kor.3:18). Niks kan jou vertroos soos dít nie.  Om hierdie heerlikheid te sien moet jy ‘n heilige ontevredenheid hê.  In Christus is daar ‘n heerlikheid en vreugde wat geen aardse plesier vir jou kan bied nie.  Paulus praat hiervan as hy bid dat God die Efesiërs se oë sal oopmaak om dit te sien (Ef.1:17-19).  Hy bid dat hulle krag sal hê om saam met al die gelowiges te begryp hoe breed, lank, hoog en diep Christus se liefde is, en dat hulle met die volheid van God vervul sal word (Ef.3:16-19).

 

Daar is sommige Christene wat nog nooit hierdie oorweldigende vreugde in die Woord ervaar het, of Christus se heerlikheid so helder gesien het nie.  Ek is daarvan oortuig dat dít die rede is hoekom mense ‘dieper’ ervarings buite die Bybel soek, en hoekom hulle in kerke sit waar hulle emosioneel opgesweep kan word.  Ek glo ook dat dít die rede is hoekom mense na sonde toe draai om ‘n emosionele ‘high’ te kry.  Ander mense verkies die buitelug bo die kerk, omdat hulle voel dat Jesus se heerlikheid duideliker sigbaar is in die berge as in die Bybel.  Ons sing dit selfs:  ‘As die branders op die rotse breek, of ‘n blom verkwik ons met sy reuk, is U ‘n baie meer as net ‘n preek – U’s wonderlik, voorwaar!’

 

Ons is soos kinders wat suigstokkies eet, omdat ons nog nooit roomerige Swiss sjokolade geproe het nie. ‘n Begeerte na Christus se diep liefde en glansryke heerlikheid in die Woord is ‘n kategorie wat in ons harte nie bestaan nie, omdat ons dit nog nooit ervaar het nie.  Moenie langer tevrede wees met preke en Bybelstudies wat jou hart nie beweeg nie.  Soos wat ‘n bok in die woestyn na water smag, moet jy met alles in jou na die Here smag (Ps.42:2).  As jy dit eers geproe het sal jy niks anders wil hê nie.

 

Hoe kan jy dit kry? Bekeer jou en glo die evangelie, omdat net ware gelowiges Jesus se heerlikheid kan sien (2 Kor.4:4, 6).  Bid daarvoor (Ps.119:18, Eks.33:18).  Bely en laat staan jou sonde, omdat dit sonde is wat keer dat jy God se heerlikheid sien (Rm.3:23).  Moenie haastig wees om uit die kerk uit te kom, klaar te bid, of jou Bybel toe te maak nie, maar wag geduldig op die Here (Eks.24:16, Ps.130:5-6).  Onthou dat jy nie die Here se arm kan draai om Homself aan jou te openbaar nie.  Tog moet jy met verwagting daarna uitsien dat Hy jou smeekgebed sal beantwoord en Homself aan jou sal openbaar.

 

Die verstroosting (v.17-18)

Spurgeon het vertel van ‘n gelowige vrou wat bang was om dood te gaan. ‘Sal jy eerder soos Elia met ‘n strydwa van vuur wil opgaan?’ het Spurgeon gevra.  ‘Ja,’ het die vrou gesê.  ‘Sou jy nóú opgeklim het as daar een om die hoek gestaan het?’ het hy gevra.  ‘Nee, ek sou te bang gewees het,’ het sy gesê.

 

Hy het toe vir die vrou gesê: ‘Jy sal waarskynlik een aand aan die slaap raak en in die hemel wakker word.’  En dit het presies so gebeur.  Volgens haar man was sy ná haar gesprek met Spurgeon nie meer bang vir die dood nie.  Sy het vas geglo dat die Here haar veilig deur die dal van die dood sou neem, en Hy het.[3]  Volgens v.17-18 is Jesus self begrawe om ons van die onsekerheid en vrees van die dood te red.

 

Toe Johannes soos ‘n dooie voor Jesus se voete neergeval het, het Hy sy regterhand op hom gelê en vir hom gesê om nie bang te wees nie (v.17, Mt.17:6-7, Dn.10:9-12, 16-17, 8:17-18). Jesus is die Eerste en die Laaste; voor en na Hom sal daar geen ander god wees nie (v.17, 2:8, 22:13, 1:8, Jes.44:6, 41:4, 48:12).  Hy was dood, maar het uit die graf uit opgestaan en lewe vir ewig (v.18, Rm.6:9, Dn.12:7).  Die sleutels van die dood en die doderyk is in sy sak.  Volgens die Joodse rabbi’s het God die sleutels van die dood en doderyk gehad.[4]  Weereens wys dit vir ons dat Jesus God is.

 

Die Romeine se doodstraf en vervoling kon nie die kerk beskadig het nie, maar was soos ‘n ou leeu wat niks tande in sy bek het nie (v.18, 2:8, 10, 1 Kor.15:55, Heb.2:14-15). Jesus het die volmag om mense en engele in die tronk van die dood en die graf toe te sluit, en om hulle weer uit te laat (v.18, 9:1, 20:1, Jud.6-7, Jh.5:28-29).  By die laaste oordeel sal Jesus die dood en graf finaal vernietig, sodat dit ons nie kan beskadig nie (20:14, 21:4, 1 Kor.15:26).

 

Moenie bang wees vir wat in Suid-Afrika gaan gebeur nie; vir wat in die toekoms van jou kinders, kleinkinders en die kerk gaan word nie. As God aan jou kant is sal Hy ook dié wat teen jou is tot jou voordeel gebruik (Rm.8:31, Gn.50:20).

 

Die ergste ding wat mense aan jou kan doen is om jou dood te maak. Hulle kan nie jou siel beskadig, jou uit God se hand uit ruk, of jou van sy liefde skei nie (Mt.10:28, Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  As hulle jou doodgemaak het is jy veilig by die Here en kan hulle niks verder aan jou doen nie.  Deur jou dood te maak sorg hulle dat jy gouer by die Here is.  Jy  hoef nie bang te wees om dood te gaan nie.  Jesus is soewerein oor die dood (v.18) en sal sorg dat dit vir jou so skadeloos is soos slaap.

 

Moenie aan die dood dink as ‘n man met ‘n lang swart mantel en ‘n maaier in sy hand nie; ‘n man sonder ‘n gesig wat jou kom haal nie. Die dood is nie soewerein nie.  Eers as Jesus die opdrag gee sal jy jou oë toemaak en onmiddellik in sy lieflike teenwoordigheid wees.

 

Die verduideliking (v.19-20)

Meer as 300 jaar gelede het John Bunyan Die Pelgrim se Reis geskryf.  Die boek is ‘n allegorie waarin elke karakter, plek en gebeurtenis ‘n dieper betekenis het.  Die hoofkarakter se naam is Christen.  Die las op sy rug is ‘n voorstelling van sy sonde oortuiging.  Die klein hekkie wys dat iemand wat na die Here toe kom homself moet verneder.  Karakters en plekke soos Getrou, Hoopvol, die Reus Wanhoop, Hulp, die Herders, die Kasteel van Vertwyfeling, die Betowerende Grond en Moedverloormoeras is kleurvolle beskrywings van hoe dit in die Christelike lewe gaan.  Op dieselfde manier is Openbaring vol van simbole wat spesifieke betekenisse het.  In v.20 gee Jesus vir ons twee voorbeelde hiervan.

 

Jesus het vir Johannes gesê om die visioen van v.12-16 neer te skryf, om te skryf oor wat tans aan die gebeur was (hfst.2-3), asook oor die dinge wat in die nabye en verre toekoms sou plaasvind (v.1, 3, hfst.4-22). Jesus het die geheimenis van die sewe sterre en die sewe kandelare aan Johannes bekend gemaak.  Die sewe sterre is die sewe engele of boodskappers wat die boek aan die gemeentes moes voorhou (2:1, 8, 12, 18, 3:1, 7, 14).  Hulle moes soos sterre in die wêreld geskyn het (v.20, Fil.2:15, Dn.12:3).  Terwyl hulle hierdie taak uitgevoer het, was hulle veilig in die Christus se hande (v.20, Jh.10:28).  Net so moes die sewe gemeentes in Asië ook die lig van die evangelie in ‘n donker wêreld geskyn het (v.20, Mt.5:16, Hd.13:47).

 

Lees Openbaring met die vertroue dat dit moontlik is om die boek te verstaan. As jy dit vermy sal jy uitmis op die belofte van seën wat Jesus in v.3 gee.  Onthou asb. dat die boek ‘n openbaring is, en nie ‘n verborgenheid nie; dat dit gegee is om dinge bekend te maak en nie om dinge weg te steek nie (v.1).  Die feit dat dit ‘n geheimenis is (v.20), beteken nie dat dit geheimsinnig is nie, maar eerder dat dit wat onbekend was nou aan ons geopenbaar is (vgl. Rm.16:25-26, 1 Kor.15:51, Ef.3:3-6).  Ander verse in die boek, asook in die res van die Bybel verduidelik die simbole vir ons.  Ek het bv. probeer om die simbole in v.9-20 aan die hand van die Ou Testament te verduidelik.  As jy dit met hfst.3-22 doen sal jy die visioene en simbole vir jou sin maak.

 

Tim LaHaye is bekend vir sy topverkoper Left Behind reeks.  Die boeke is verfilm en is propvol van aksie.  Die boodskap wat baie duidelik oorgedra word is dat dinge in die laaste dae baie erg gaan wees.  Kontrasteer dit met die titel van William Hendriksen se kommentaar op Openbaring (alhoewel ek nie met sy siening oor die eindtyd saamstem nie): More than Conquerors.  Hendriksen se titel impliseer dat die kerk haar vyande gaan oorwin.  Hy sê basies dat Openbaring nie maar net bestaan uit visioene van vrees en verskrikking nie, maar dat dit een groot visioen van vertroosting is.

 

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.2, pp.414-416

[2] Ibid, p.416

[3] Ibid, pp.379-380

[4] Alan M. Stibbs, Search the Scriptures, 2003, p.498 n.2