Oor uitverkiesing en ongeloof

Red tulip in yellow field

Ek bely onbeskaamd dat ek in God se onvoorwaardelike uitverkiesing glo. Mense het my al hieroor aangevat, geweier om my te groet, gesê ek moet dit nie preek nie, en besluit om nie meer my vriend te wees nie.  Ek sal dit nie opsetlik preek om mense kwaad te maak nie, maar wanneer ek deur ‘n boek preek en dit in die teks is, gaan ek dit nie oorslaan nie.  Die Here het my geroep om die volle raad van God te verkondig, en omdat die uitverkiesing deel van daardie raad is, gaan ek dit preek.  Vandag is dit ‘toevallig’ deel van my teks (nie dat ek glo toeval bestaan nie).  Maak asseblief jou Bybel oop by Jh.6:41-71.

 

Jesus en die Jode (v.41-59)

Oor die afgelope paar maande was daar meer as een geval van onluste in ons land. ‘n Tydjie gelede het skoliere hulle eie skole, en studente hulle eie universiteite afgebrand.  In Pretoria is mense besig om busse aan die brand te steek.  Die burgers van ons land is besig om tantrums te gooi, omdat dinge nie gebeur soos wat húlle dit wil hê nie.

 

Net so gooi mense geestelike tantrums en kom hulle in opstand as die Here en sy lering nie is soos wat húlle dit wil hê nie.  ‘n Man het by my gekla omdat daar soveel lyding in die wêreld is.  ‘Wie dink die Here is Hy?  As Hy wil hê ek moet Hom dien, moet Hy Homself aan my bewys,’ het hy gesê.  Ons murmurering en klagtes teen die Here (v.41) is maar net ‘n ander manier om te sê:  ‘Ons wil nie hê Hý moet oor ons regeer nie.’ (19:15, Lk.19:14, 1 Sm.8:7).  In v.41-59 het ons ‘n voorbeeld hiervan.

 

Vóór en ná God in die Ou Testament manna vir die volk gegee het, het hulle gemurmureer (Eks.16:7-9, Nm.11:6).  En toe Jesus gesê het dat Hý die ware brood uit die hemel is, het hulle gemurmureer (v.41).  ‘Hoe kan Hy sê dat Hy uit die hemel neergedaal het as ons sy ouers ken?  Hy is maar net ‘n mens,’ het hulle gesê (v.42).  Hulle het aangeneem dat Josef sy biologiese pa is, en het nie geweet dat Hy uit ‘n maagd gebore is, en dus ook die Seun van God is nie (v.42, Lk.1:35).  Jesus het geweet dat hulle onderlangs brom en het vir hulle gesê hulle moet ophou (v.43).

 

Hoekom kon hulle dit nie insien dat Jesus uit die hemel uit neergedaal het nie? Tensy God dit nie aan iemand openbaar en hom met koorde van liefde na Jesus toe trek nie, kán hy dit nie insien nie (v.44, Mt.16:16-17, Lk.10:22, Ps.65:5, Hos.11:4).  Maar as God dit aan hom openbaar en sy verstand oopmaak, sal hy dit ontvang en na Jesus toe kom (v.45).  Omdat die Jode nie sy kinders was nie (Jh.8:44), kon hulle sy stem nie hoor nie en het hulle sy lering nie aanvaar nie (v.45, 5:37, 10:27, Jes.54:13).  As die Vader iemand na Jesus toe trek kan hy nie sy redding verloor nie (v.44, 39).  Op die laaste dag sal Jesus hom uit die dood uit opwek (v.44, 5:28-29).

 

Die feit dat gelowiges hulle Vader se stem hoor (v.45) beteken nie dat hulle Hom gesien het nie (v.46, Dt.4:12). Jesus het Hom gesien en Hom aan ons geopenbaar (v.46, 1:18, 14:9).  Om dus die ewige lewe te hê hoef jy nie die Vader te sien nie; jy moet in die Seun glo (v.47).  Hý is die geestelike brood wat lewe gee (v.48).  Hy is nie maar net ‘n tipe manna wat die mens tydelik versadig, sodat hy in elk geval sterf nie (v.49).  Hy is die geestelike en hemelse brood; dié wat hierdie brood eet sal vir ewig lewe (v.50-51).  In v.51 leer ons dat sy eie liggaam aan die kruis die geestelike brood was wat die wêreld (nie net die Jode nie) deur geloof moes eet om te lewe (v.51, 47).

 

Omdat sommige van die Jode Jesus se woorde geglo het en ander nie, het hulle onder mekaar begin stry (v.52, 9:16, 10:19). ‘Hoe kan ons sy liggaam eet?’ het hulle vir mekaar gesê (v.52).  Soos alle ongelowiges het hulle nie geestelike dinge verstaan nie; hulle het gedink dat Jesus ‘n voorstaander van kannibalisme is (v.34, 4:15, 1 Kor.2:14).  Hy het gesê dat dié wat nie sy vlees eet en bloed drink nie (dié wat nie sy kruisdood aanvaar nie), nie die ewige lewe het nie (v.53).

 

In die Eks.12 het hulle die paaslam geëet. Soos wat kos jou liggaam versterk en laat lewe, moet ons Christus (die ware Paaslam) se kruisoffer deur geloof eet om te lewe.  In die nagmaal vier en bely ons dat dit sy liggaam en bloed is wat lewe gee.  Dít moet die stapel dieet wees wat ons siele, en eendag ook ons nuwe liggame, laat lewe (v.54).  Sy liggaam en bloed is ware kos en drank (v.55).  Enigiets anders sal ons net tydelik versadig (v.35).  As jy sy liggaam eet en bloed drink, sal Hy in jou bly en jy in Hom; deur die geloof sal julle een wees (v.56, 15:4-5, 7, 1 Jh.3:24, 4:13, 15-16, 1 Kor.6:17).  Die feit dat Hy egter deur sy Gees in ons woon beteken nie dat ons God word nie, maar eerder dat sy lewe in ons is (2 Pt.1:4).

 

Waar kry Jesus hierdie lewe? Die Vader het dit in Homself (v.57).  Omdat Jesus en sy Vader een is (10:30), het die Vader dit aan Hom gegee om hierdie lewe in Homself te hê (v.57, 5:26).  Soos die Vader, kan Jesus ook hierdie lewe gee (v.57, 5:21).  Dié wat deur geloof na Jesus toe kom en van Hom eet, sal nie soos die Israeliete in die woestyn sterf nie, maar vir ewig lewe (v.57-58, 11:25-26).  Al hierdie dinge het Hy in Kapernaüm se sinagoge gesê (v.59).

 

Moenie, soos die Jode, ongelowig wees en teen die Here murmureer nie. Om te murmureer is sonde (Nm.11:1, Fil.2:14).  As jy oor God se karakter of ‘n moeilike lering murmureer en weier om dit te aanvaar, dan bevraagteken jy sy wysheid.  Jy dink dat jy beter as Hy weet en is.  ‘As ek Hy was, sou ek dit nie so gedoen het nie,’ is wat jy vir jouself sê.  Dalk word jy selfs versoek om te sê dat God nie is of doen soos wat Hy in die Bybel sê nie, en skep jy in jou verbeelding ‘n god waarmee jy gemaklik is.  Moet dit nie doen nie, maar aanvaar Hom soos wat Hy Homself in die Bybel openbaar.

 

Wie is die Jesus van die Bybel wat jy moet aanvaar? Hy is die brood wat uit die hemel neergedaal het.  Om dan gered te word moet jy erken dat Hy van God af kom, en dat Hy self ook God is.  Hy is die brood van die lewe deur wie jy vir ewige kan lewe.

 

Om hierdie lewe te kry kan jy nie net ‘n happie van die brood eet nie; dit moet jou stapel dieet wees. Jy moet in sy kruisdood vir sondaars glo en so sy liggaam eet en sy bloed drink.  As sy liggaam en bloed (sy kruisdood) nie vir jou alles is en jou lewe definieer nie, moet jy wonder of jy ‘n Christen is.  Jesus en sy kruisdood is nie deel van ‘n ware gelowige se lewe nie; dit ís sy lewe.  Hoe lyk dit met jou:  is Christenskap vir jou ‘n Sondag ding, of is dit soos suiker in jou tee wat jou hele lewe deurtrek?  Is dit ‘n deel van jou lewe soos wat tennis, vakansie of werk deel van jou lewe is, of is dit soos ‘n gekleurde bril wat jou uitkyk op die lewe kleur?

 

As jy ongeloof wil verhoed, moet jy gedurig van Jesus se liggaam eet en sy bloed drink. Doen dit deur gereeld gemeenskap met Hom te hê in die Woord, gebed en die samekomste van die gelowiges.  Bely dit deur gereeld die nagmaal te gebruik.  Drink ook sy bloed deur daagliks jou sonde te bely, sodat Hy jou kan vergewe.

 

Is jy ‘n Christen wat van die Here af weggedwaal het; ‘n Christen wat twyfel of Jesus die ware God is, en of sy woorde waar is? Dit help nie dat jy na die brood kyk nie.  Eet daarvan.  Hou aan eet totdat jou twyfel soos die oggendmis verdwyn en jy met sekerheid weet Hy ís die brood van die lewe.  Smaak en sien vir jouself dat die Here goed is (Ps.34:9).

 

Jesus en die dissipels (v.60-71)

Marnus Misdadiger en Karel Krimineel is in die tronk, omdat hulle meer as 15 winkels beroof het. Jy is die regter wat hulle laat toesluit het.  Wie se skuld is dit dat hulle in die tronk is – joune of hulle s’n?  Dit is hulle eie skuld.  Maar dit is ook jý wat hulle laat toesluit het.

 

Gestel jy en ‘n paar ander regters hou eendag ‘n groot partytjie by jou huis. Hoekom kan die twee rowers nie by die partytjie wees nie:  is dit omdat hulle nie wíl nie, of omdat hulle nie kán nie?  Beide.  Hulle wíl nie by ‘n partytjie wees waar jy is nie.  Maar hulle kán ook nie daar wees nie, omdat hulle in die tronk is.  Daar is net een manier hoe hulle by die partytjie kán wees, en dit is as jy hulle uitnooi, hulle gewillig maak, en hulle vrylaat (natuurlik sal jy die straf vir hulle misdade moet betaal om dit op ‘n wettige manier te doen).

 

En so is dit met die Here. Ons is misdadigers wat sy wet oortree het.  Dit is nie sý skuld dat ons in die tronk van ons sonde is nie, en tog is dit ook Hý wat ons aan die slawerny van ons sondige begeertes oorgelaat het.  Die rede hoekom ons nie na God toe kom nie, is omdat ons Hom haat en nie wíl kom nie (5:40).  Tog is dit ook waar dat ons nie op ons eie na Hom toe kán kom nie; ons kan nie self die traliehek van ons sonde oopsluit nie (Rm.8:7-8).  God het die sleutel om ons vry te laat.  Dit is eers as Hý ons uitnooi en ons harte gewillig maak, wat ons na Hom toe wíl en sál kom (v.44, 65).

 

As jy dus verlore gaan is dit jou eie skuld. Dit is nie die regter se skuld dat Marnus Misdadiger en Karel Krimineel in die tronk is nie.  Ons kan ook nie sê dat hy verkeerd of onregverdig was om hulle toe te sluit en in die tronk te los nie.  Die persoon wat in sy sonde vergaan kies om nie by God te wees nie.  Hy haat die Here en wíl nie by sy partytjie wees nie.  As hy tussen die Here en die tronk van sy eie sonde moet kies, sal hy sy sonde kies.  God doen nie verkeerd om hom in sy sonde te los nie.  Dit is sy verdiende loon.  As die Here hom dan red is dit pure genade.  Sonder die Here is daar nie hoop vir hom om gered te word nie (v.65).  Hierdie boodskap kom duidelik deur in v.60-71.

 

Dit was nie net die Jode wat oor hierdie dinge gekla het nie (v.41, 52). Sommige van Jesus se dissipels het gesê dat sy lering te moeilik is om te aanvaar (v.60).  William Hendriksen sê:  ‘Dit was hulle harde harte en nie die harde preek nie, wat gemaak het dat hulle so reageer.’[1]  Onthou dat die Grieks vir dissipel [mathetes] leerling beteken.  Dit verwys dus nie altyd na ‘n ware gelowige nie; ongelowiges het ook by tye na Jesus se lering geluister (v.66, Mt.8:21).

 

Omdat Jesus die mens se gedagtes ken, het Hy geweet dat hulle hieroor murmureer (v.61, 2:24-25). Hulle het aanstoot geneem, want hoe kan ‘n mens die dinge sê wat Hy in v.41-59 gesê het?  Hoe sou hulle dan gereageer het as hulle gesien het hoe ‘n mens na die hemel toe opvaar (v.61)?  Buitendien het hulle sy woorde misverstaan.  Hy het nie bedoel dat hulle letterlik sy liggaam moet eet, of dat hulle Lv.17:10-14 moet oortree en sy bloed moet drink nie.  Hy het dit geestelik bedoel (v.63).  Niemand kan mos vir ewig lewe omdat hy vleis geëet het nie (v.63).  Dit is net die Gees wat hierdie geestelike lewe vir iemand kan gee (v.63, 3:5-6).

 

Baie van die dissipels het nie geglo nie (v.64), en kon daarom nie hierdie lewe kry nie (v.63). Vir Jesus was hulle ongeloof nie ‘n verrassing nie.  Nog voordat Hy die wêreld gemaak het, het Jesus geweet wie die mense is wat deur sy Vader uitgekies is en aan Hom gegee is (v.64, 37, 10:26, 17:2, 6, 9, Hd.13:48, Rm.8:29-30, 9:11-13, Ef.1:4-5, 11, 2 Ts.2:13, 2 Tm.2:19, 1 Pt.1:2).  Hy het ook geweet wie Hom sou verraai (v.64, 70-71).  Hulle ongeloof was hulle eie skuld; hulle wóú nie glo nie (v.36).  Dié wat wel geglo het, het dit gedoen omdat Gód dit aan hulle geskenk het; nie omdat hulle ‘n sterker wilskrag as ander gehad het nie (v.65, 44, 3:27, Ef.2:8-9, Fil.1:29).

 

Omdat hierdie vals dissipels nie van Jesus se uitverkore skape was nie, het hulle omgedraai en weggeloop (v.65-66). Jesus het hulle nie gesmeek om terug te kom, of gesê dat Hy ‘n fout gemaak het nie.  Hy het vir die twaalf gevra of hulle nie óók wil gaan nie (v.67).  As leier van die twaalf het Petrus bely dat Jesus die Here is, dat net sý woorde die ewige lewe kan gee, en dat Hy die Heilige Messias en die God van die Ou Testament is (v.68-69, 14:6, Hd.4:12, Ps.16:10, 78:41, 89:19, Mk.1:24).

 

Dit is duidelik dat Petrus en tien van die ander dissipels deel was van dié wat die Vader aan sy Seun gegee het (v.37, 39, 44, 65). Hulle het in Jesus geglo omdat Hy hulle eerste gekies het (v.70).  In 15:16 het Hy gesê:  “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies”.  Dit is so dat Jesus vir Judas gekies het om een van die twaalf apostels te wees (v.70).  Jesus het geweet dat Judas Hom gaan verraai, dat hy ‘n kind van die duiwel en die seun van die verderf was (v.64, 71, 12:4-6, 13:2, 27, 17:12).  Judas het die pad van die verderf gekies.  En volgens 13:18 het Jesus Hom ook nie uitverkies om gered te word nie.

 

Erken dat daar in die Bybel iets is soos uitverkiesing. Jy kan nie verby dit kom nie.  Dit is belangrik om God se karakter te onthou as jy oor hierdie dinge dink.  God is goed en wys, en daarom moet dit ook goed en wys wees as Hy kies om sommige te red en ander nie (Mt.11:25-27).

 

Die rede hoekom ons sukkel om dit te aanvaar, is nie omdat dit moeilik is om te verstaan nie. God se ewigheid en die Drie-Eenheid is moeilik om te verstaan, maar tog aanvaar ons dit.  Die rede hoekom die uitverkiesing ‘n bitter pil is om te sluk, is omdat ons ‘n aandeel wil hê in ons redding.  Ons wil nie erken dat ons niks tot ons redding kon bydra nie.

 

‘n Ander rede hoekom ons dit nie wil aanvaar nie, is omdat ons geliefdes het wat nie die Here dien nie. Ons wil hê hulle moet gered word, en is oortuig dat God se uitverkiesing in die pad staan.  Die waarheid is egter dat daar nie hoop is as dit van húlle afhang nie, omdat hulle hulle sonde liefhet en nie in die Here belangstel nie.  Maar as dit van die Here afhang is daar hoop.

 

Die feit dat ons vir hulle redding bid wys dat ons diep in ons harte glo dat net Gód hulle kan red, en dat dit nie van hulle eie vrye wil afhang nie (Rm.9:16). Ook wanneer hulle tot bekering kom prys ons hulle nie vir die goeie keuse wat hulle gemaak het nie – ons prys die Here omdat Hý hulle gered het.

 

Ek kan nóg bewyse gee dat jy diep in jou hart glo dat God soewerein is, en dat Hy kan kies wie Hy wil. Glo jy dat Israel in die Ou Testament God se uitverkore volk was, en dat Hy nie die ander nasies gekies het nie (Dt.7:7-8)?  Glo jy dat Jesus die reg gehad het om te kies watter van sy volgelinge apostels moes wees (Mk.3:13, Lk.6:13, Jh.15:16)?  Glo jy Hy kan kies dat jy gebore moes word, en dat jy ‘n Cronjé is en nie ‘n Fouché nie (Ps.139:16)?  Hoekom erken jy dan nie ook dat Hy vir Jakob kon kies, en nie vir Esau nie (Rm.9:11-13)?

 

As die finale keuse by die sondaar lê, gaan dit my verstand te bowe dat alle mense nie die hemel kies nie. Die waarheid is dat die sondaar homself nie kan nie bevry nie; die Here moet dit doen (v.65).  Jy is ‘n Christen en kan nie eers so maklik van jou sonde ontslae raak nie.  Hoekom dink ons dan dat iemand wat geestelik dood is dit deur sy vrye wil kan doen?

 

Omdat niemand sonder God soewereine keuse tot bekering kan kom nie, help dit my (wanneer ek nugter dink) om nie moedeloos te word as sommige mense my prediking verwerp nie (v.44, 65-66). Dit help my ook, omdat ek weet dat dié wat Hy gekies het na Hom toe sál kom (v.37).

 

Om uitverkiesing te ontken, daaroor te kla, of te sê dat dit onregverdig is, gaan nie maak dat dit uit die uit Bybel verdwyn nie. Hoe gouer ons dit aanvaar hoe beter.  Om in die uitverkiesing te glo beteken nie dat jy dit verstaan nie.  Die Bybel sê nie vir ons hoe God mense kan kies en dié wat Hom verwerp vir hulle sonde aanspreeklik hou nie.  As jy probeer om dit uit te vind steel jy dinge wat nie aan jou behoort nie (Dt.29:29).  Ons moet eenvoudig die knie buig en erken dat God God is.  “Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?  Die maaksel kan tog nie vir die maker sê:  Waarom het u my so gemaak nie?  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Rm.9:20-21).

 

Ek het ‘n student ontmoet wat hom sterk teen God se soewereine keuse uitgespreek het. Na meer as ‘n jaar het ek eendag gesien dat hy iets oor die uitverkiesing op sy rekenaar het.  Ek was verbaas.  ‘Ek glo dit nou,’ het hy gesê.  ‘Ek weet nie hoe ek dit voorheen gemis het nie.’  Ek hoop dat die Here hierdie preek sal gebruik om dieselfde vir jou te doen, en dat jy nie soos die Jode van Jesus en sy waarheid af sal wegloop nie.

 

[1] Vry vertaal uit New Testament Commentary: John, p.246

Advertisements

‘n Oop brief aan wêreldse kerke

Fish swimming upstream

My suster en swaer was vir hulle wittebrood in Amerika. Gedurende die twee weke het hulle ‘n Baptistekerk in Seatle besoek.  Dit was die kerk se 100-jarige viering.  Voor hulle het daar twee vroue gesit.  Na ‘n rukkie het hulle gesien dat die een ‘n man is.  Hy het lang hare gehad en ‘n rok gedra.  Die vroue-predikant het in haar toespraak gesê dat dit die mense is wat gemaak het dat die kerk so suksesvol is.  In haar hele ‘preek’ het sy nie ‘n enkele woord oor die Here gesê nie.  Hierdie gemeente, soos die een in Op.2:12-17, is ‘n goeie voorbeeld van ‘n wêreldsgesinde kerk.

 

Die aanhef (v.12)

Pergamus was 80 km noord van Smirna en 25 km van die weskus van Turkye af. Vir meer as 250 jaar was dit die hoofstad van die Turkse provinsie Asië.  Dit was ook dié godsdienstige sentrum in die Ryk.  Daar was afgodstempels vir Zeus, Atena, Apollo, Asklepios, Dionisus en Aphrodite, asook vir die keisers van Rome.  Die moderne dorp Bergama is gebou oor dele van die antieke stad.

 

Jesus het hierdie brief aan die boodskapper [Gk. aggelos] of leraar van die gemeente in Pergamus gerig (v.12).  Jesus beskryf Homself as die Een wat die skerp swaard met twee snykante het (v.12).  Dit is so dat die Romeine oortreders met die swaard doodgemaak het (v.13, Rm.13:4).  Jesus sê egter dat Hy meer mag het as enige aardse owerheid, en dat Hý die ware swaard in sy skede het (v.12, 1:16).

 

Uit die res van die Skrif leer ons dat hierdie swaard die Woord is waarmee Hy die nasies sal oordeel (19:15, Jes.49:2, Ef.6:17, Heb.4:12). Sy swaard is nie maar net ‘n ornament wat mooi lyk teen iemand se sitkamer muur nie, maar een wat Hy gaan gebruik (v.16).  Wanneer Jesus sy woorde van oordeel uitspreek is dit nie leë dreigemente nie – Hy het die mag om dit uit te voer.

 

Die komplement (v.13)

Van al die gode in Pergamus was Asklepios die een wat uitgestaan het. Volgens hulle was hy die god van genesing.[1]  Sy teken was ‘n slang – die teken wat vandag nog op ambulanse gesien kan word.  Oral uit Asië het mense na hierdie tempel toe gekom om genees te word.  Hulle het gesê dat die god d.m.v. drome vir die priesters en dokters gewys het watse mense genees moet word.[2]

 

Saam met die medisyne het hulle besweringe en tower spreekwoorde gebruik.[3]  Een voorskrif het vereis dat die siek persoon op die tempel se vloer moes slaap, sodat slange oor sy liggaam kon seil en hulle genesende krag in hom kon vrylaat.[4]  Dit mag wees dat Jesus dít in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Pergamus die troon van Satan is (v.13), omdat Satan self in 12:9 ‘die ou slang’ genoem word.

 

In Pergamus was daar ook ‘n altaar wat soos ‘n troon gelyk het. Die 13 meter hoë altaar was opgerig vir Zeus, en was een van die wonders van die antieke wêreld.  Dit mag ook wees dat Jesus hieraan gedink het toe Hy Pergamus die troon van Satan genoem het (v.13).

 

Onthou ook dat die mense van Pergamus die keiser aanbid het.[5]  Volgens Jesus is dit Satan wat deur die keiser regeer het.  Daarom het Hy die stad ‘n troon van Satan genoem (v.13).  Om v.13 te verstaan, sal dit help as ons hierdie agtergrond in ons gedagtes het.

 

Jesus het geweet dat sy kinders in ‘n stad woon waar die duiwel oor mense se harte regeer, en hulle soos zombies agter hom aanloop (v.13, Joh.12:31, 14:30, 2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19). Tog het die gelowiges nie toegegee aan die druk om ander gode te aanbid nie (v.13).  Selfs toe die getroue Antipas daar doodgemaak is, het hulle aan hulle geloof in die Here vasgehou, en Hom nie verloën nie (v.13).  Antipas het rotsvas gestaan en geweier om die keiser en die afgode te aanbid.  Volgens oorlewering is Antipas in ‘n smeltende koper bul gegooi.[6]  As gevolg van sy manmoedige voorbeeld, het die res van die gelowiges vasgestaan (v.13).

 

Die vermaning (v.14-17a)

‘n Sportman wat altyd dieselfde taktiek volg, word in sy eie net gevang. As ‘n tennisspeler bv. altyd ‘n sekere hou speel, gaan sy of haar opponent dit agterkom.  In v.13 het die duiwel gesien dat sy vervolgingstaktiek om die gemeente van balans af te bring, nie gewerk het nie.  Hy het toe ‘n ander kaart gespeel.  In v.14-15 sien ons hoe hy dinge van binne af probeer versuur.

 

Alhoewel die gelowiges getrou gebly het in vervolging (v.13), was daar dinge wat nie reg was in die gemeente nie (v.14). Soos party van hulle aan die Naam van Jesus vasgehou het, het ander aan verkeerde lering vasgehou (v.14-15).  Soos die vals leraars in 2 Pt.2:15 het hulle Bileam se lering aangehang (v.14).

 

Koning Balak van Moab het vir Bileam gehuur om die Israeliete te vervloek. Die Here het nie vir Bileam toegelaat om dit te doen nie, en het die vloek in ‘n seën verander (Nm.22-24).  Sy lus vir koning Balak se omkoopgeld het gemaak dat hy ‘n ander plan uitgedink het om die Israeliete te laat val (v.14, Jud.11).  Hy het vir die Midianitiese vroue gesê om die Israelitiese mans seksueel te verlei.  Hulle het ‘n fees gehou vir Baäl van Peor en dit dáár gedoen (v.14, Nm.25, 31:8, 15-16).  Die Here het ‘n plaag gestuur waarin Hy 24 000 Israeliete doodgemaak het.

 

Soos die Israeliete in die woestyn, het sommige van die gelowiges in Pergamus afgodspraktyke beoefen: hulle het vleis geëet wat aan die afgode geoffer is, en met die tempel prostitute geslaap (v.14).  Hulle redenasie het seker so iets geklink:  ‘Dit is nie asof ons die keiser of enige van die ander gode aanbid nie.  Ons woon nou wel die afgodsfeeste by, maar as ons mense vir die Here wil wen, moet ons wees waar húlle is.  Ons weet mos dat ‘n afgod niks is nie, en dus is dit nie verkeerd as ons vleis eet wat aan hulle geoffer is nie.’

 

Op dié manier het hulle die Here se Naam deur die modder gesleep, en vir die ongelowiges gemengde boodskappe deurgestuur: ‘Dit is nie reg om ander gode te aanbid nie (v.13), maar dit is ook nie verkeerd om dinge te doen wat daarmee geassosieer word nie (v.14).’

 

Paulus het in 1 Kor.8, 10 gesê dat hulle hierdie vleis in die slaghuis kan koop en by hulle huise kan eet.  Hulle moes egter nie die feeste bygewoon het en daardeur die nuwe bekeerlinge se gewetens beskadig het nie.  Hulle moes ook nie ‘n slegte getuienis vir die wêreld gewees het nie, en dus moes hulle seksuele losbandigheid soos die pes vermy het (Hd.15:29).

 

Die gelowiges in Efese het die lering van die Nikolaïete gehaat (v.6), terwyl dié in Pergamus daarmee gespeel het (v.15). Dit lyk of die leer van Bileam en die leer van die Nikolaïete min of meer dieselfde was (v.14-15).  Die soortgelyke betekenis van Bileam en Nikolaus se name laat dit so lyk.

 

Jesus het vir die skuldiges gesê om hulle te bekeer (v.16). Hulle moes opgehou het om die feeste by te woon.  As hulle dit nie gedoen het nie, sou Jesus gou na hulle toe gekom het om hulle te oordeel (v.16, 1:1, 3, 22:7, 12).  Hulle het nie baie tyd gehad om hulle te bekeer nie, en moes dit gou doen (v.16).  Indien nie, sou Jesus gekom het om met die swaard van sy mond oorlog te maak teen hulle (v.16).  Voordat Hy teen die nasies oorlog voer (19:15), sou Hy dit teen sy kerk gevoer het (v.16)!  Die oordeel moet begin by die huis van God (1 Pt.4:17).

 

Soos wat Hy vir Bileam met die swaard getref het (Jos.13:22, Nm.31:8, 22:23, 31-33), sou Hy die gelowiges in Pergamus met die swaard getref het (v.16). Hy sou nie net woorde van oordeel teen hulle gepraat het nie, maar sy oordeel uitgevoer het om hulle dood te maak.  Dié wie se geestelike ore oop was, moes die Gees se waarskuwing ter harte geneem het (v.17).

 

Die belofte (v.17b)

Die idee van ‘n Olimpiese Spele kom van die Grieke af. Die Romeine het in hulle voetspore gevolg.  Pergamum het ook ‘n spele gehad.  Die oorwinnaar in elke item het ‘n wit klippie gekry.  Die klippie was ‘n ‘toegangskaartjie’ om die oorwinnaarsfees by te woon.

 

In die Romeinse hofsisteem het dié wat skuldig bevind is ‘n swart klippie gekry, terwyl dié wat onskuldig was ‘n wit klippie gekry het. Dit is nie onmoontlik dat dít in Jesus se gedagtes was toe Hy in v.17 ‘n wit klippie aan die oorwinnaars belowe het nie.

 

Dié wat nie oorwin het nie sou geoordeel word (v.16), terwyl dié wat oorwin het beloon sou word (v.17). Hulle moes oorwin het oor die vals lering van Bileam en die Nikolaïete, asook oor die wêreld se druk om afgode te aanbid (v.17).  Die oorwinnaars sou nie net ‘n wit klippie nie, maar ook die verborge manna gekry het (v.17).

 

Toe Israel deur die woestyn getrek het, moes hulle 2.2 liter manna in ‘n goue kruik in die ark gebêre het (Eks.16:32-36, Heb.9:4). Volgens die Jode sou die Messias by sy koms vir hulle van hierdie manna gegee het.[7]  In v.17 belowe die Here hierdie manna aan sy getroue volgelinge (v.17, 13).  Hy self is die verborge manna wat uit die hemel uit neergedaal het om ons siele te versadig (Jh.6:32-35).

 

Deur ‘n wit klippie te belowe sê Jesus dat Hy vir die oorwinnaars ‘n ‘toegangskaartjie’ sal gee om die ware oorwinnaarsfees in die hemel by te woon. Hy sê ook dat die Romeinse howe hulle skuldig bevind het omdat hulle geweier het om die keiser te aanbid, maar dat Hy hulle onskuldig bevind.  Daarom gee Hy aan hulle ‘n wit klippie.

 

Op elke gelowige se klippie sou daar ‘n geheime en nuwe naam gewees het (v.17). Dit blyk dat hierdie naam Jesus se nuwe naam was (3:12, 19:12-13, 16).  Soos wat ‘n vrou haar man se naam aanneem, sal ons ons Bruidegom se nuwe Naam aanneem (Jes.62:2, 4-5).  ‘n Nuwe naam wys ook dat ons nuwe mense met ‘n nuwe karakter is (Abram word Abraham, Jakob word Israel, Simon word Petrus).

 

Moenie die Pergamus-gemeente se slegte voorbeeld volg om soos die wêreld te wees nie. Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God (v.16, Jk.4:4).  Iemand wat die wêreld liefhet, kan nie intieme gemeenskap met Jesus geniet nie (2 Kor.6:14-18).  Moet dan nie jou aandag en liefde tussen God en die wêreld verdeel nie.  Sal jy ‘n wêreld liefhê wat jou Here haat (Jh.7:7)?  Sal jy ewige dinge prysgee vir iets wat eendag vernietig gaan word (1 Jh.2:17)?

 

Om wêreldsgesindheid teë te staan, moet ons eers weet wat dit beteken. In ‘n wêreldsgesinde kerk kan almal leef soos hulle wil – daar sal nie tug toegepas word nie (v.16, 1 Kor.5:1-13).  Volgens hulle is dit liefdeloos om mense te dissiplineer (ek wonder of hulle dink dat dit vir die oortreder liefdeloos was om sy vrou te slaan, of om iemand anders se vrou by hom af te vat?).

 

In ‘n wêreldsgesinde kerk baklei mense met mekaar en is hulle verdeeld. Hulle praat nie hulle verskille uit nie, maar daag mekaar voor die hof (1 Kor.3:3-4, 6:1-8).  In sulke kerke is daar gedurig probleme met lidmate wat immoreel is (v.14, 1 Kor.6:12-20).  Soos die wêreld sê hulle:  ‘Dit is my liggaam, en ek kan daarmee doen wat ek wil.’  Hulle dink nie daaraan dat Jesus ons liggame geskep en verlos het nie, en dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Hom (Rm.12:1, 1 Kor.6:19-20).  Mense wat dít vergeet gee nie om dat hulle te veel drink, of dat hulle ongetroud is en in ‘n seksuele verhouding saam met iemand bly nie.  Selfs die leiers sien dit oor, want ‘hulle is mos nie meer kinders nie.’

 

Wêreldsgesinde kerke se lidmate leef om geld te maak. Hulle is materialisties.  Die lidmate ry duur karre en bly in luukse huise, maar die kerk sukkel om kop bo water te hou.  Die probleem is nie dat hierdie mense baie geld het nie, maar dat hulle niks of bittermin daarvan vir die Here gee.  Hulle gebruik dit om hulle lewens lekkerder te maak.  Hulle dink glad nie aan die hemel nie, en leef asof hulle vir altyd hier gaan wees.

 

Soos die wêreld, dink wêreldsgesinde kerke dat hulle wyser is as die Bybel. Die kultuur en nie die Bybel nie, bepaal hoe hulle lewe (v.14-15, Kol.2:8).  ‘Die wetenskap en sielkunde het vir ons dinge kom leer wat mense in die Bybelse tyd nie geweet het nie.  Ons kan nie meer sê dat die man die hoof is van sy huis nie.  Dit was ‘n chauvinistiese onderdrukking wat in Paulus se tyd gegeld het.  Ons kan ook nie saam met 1 Tm.2:12 sê dat vroue nie predikante mag wees nie – tye het verander.  Ons weet ook dat gay mense so gebore is, en dat Moses en Paulus verkeerd was om te sê dit is sonde.  Ons kan ook nie meer Gn.1-3 as geskiedenis aanvaar nie, omdat evolusie vir ons gewys het dat dinge anders gebeur het.  Sielkunde het vir ons geleer dat ‘n pakslae kinders se selfbeeld krenk.  Daar is beter maniere om kinders op te voed.’

 

Wêreldsgesinde kerke roem oor hulleself (1 Jh.2:16). ‘n Man het eenkeer by ons huis vir my vriend gevra:  ‘Hoeveel studente het julle teologiese kollege?’  My vriend het gesê:  ‘Vyf.’  Die man het gelag en gesê:  ‘Ons het 400!’  ‘n Predikant het vir wyle dr. Martin Holdt gevra:  ‘Hoeveel lidmate het julle?’  Volgens dr. Martin was hulle 300 lidmate.  ‘Net 300?  Ons is 2000,’ het die predikant met trots gesê.  ‘n Predikant het my kom sien met die doel om ons kerkgebou te huur.  Hy het my oor ons weeklikse ‘aktiwiteite’ gevra.  Ek het gesê dat ons twee eredienste, twee Bybelstudies en twee bidure het.  Hy het begin roem oor hoeveel ‘aktiwiteite’ húlle in die week het.

 

Hoe kan jy hierdie wêreldsgesindheid oorkom?

 

[1] Wees soos salms wat teen die stroom op swem. Moenie toelaat dat die wêreld jou soos deeg of loot in hulle gietvorm druk nie, maar vul jou gedagtes met die Bybel sodat jy anders as hulle dink (v.13, Rm.12:2).  Lees die koerant en luister na die nuus deur die filter van die Bybel.  Pasop dat hulle nie jou Bybelse wêreldbeskouing met hulle filosofieë inkleur nie.

 

[2] As die kruis van Jesus ‘n sentrale plek in jou lewe en gedagtes inneem, sal jy vir die wêreld sterf en hulle vir jou (Gal.6:14). In jou eie krag kan jy nie vir die wêreld ‘nee’ kan sê nie.  As jy egter in geloof na die Here kyk om jou te help, sal jy die wêreld oorwin.  Johannes het mos gesê:  “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Jh.5:4-5).

 

[3] Ons moet ons dadelik van verkeerde lering en praktyke bekeer (v.16, 14-15). Moenie uitstel nie, maar doen dit gou (v.16, Ps.119:60, 2 Kor.6:2, Heb.3:13, 15).  Wie weet of dit nie miskien jou laaste kans is nie?  Dalk gaan die Here ná vandag vir jou die streep trek en gou kom om jou te oordeel (v.16)?  Moet asseblief nie dink die Here speel nie:  ‘I will come’ (v.16, ESV).

 

[4] Die feit dat jy sekere dinge reg doen (v.13) verskoon nie die dinge wat verkeerd is nie (v.14-15).  Bekeer jou van die dinge wat verkeerd is.  Kry weer ‘n liefde vir Jesus, die evangelie van sy kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood, en ‘n heilige lewe van toewyding en gehoorsaamheid.

 

[5] Is jy in ‘n wêreldsgesinde kerk of omgewing waar jy nie kan uit nie? Bly getrou aan die Here – Hy weet dat jy in so ‘n situasie is (v.14).  Hy sal jou help en beloon; byt net vas (v.17).

 

[6] Dink aan die beloning (v.17). Op die laaste Dag sal jy nie spyt wees dat jy getrou gebly het, en nie toegelaat het dat die wêreld jou besmet nie (Jk.1:27).

 

Verlede jaar se se besluit oor gay huwelike in die NG-Kerk was maar net die kersie op die koek, die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Voor hierdie besluit het die NG-Kerk stelselmatig haar deure vir die wêreld begin oopmaak.  Omdat die wêreld jare gelede ‘n voet in die deur gekry het, was dit maklik om die deur oop te forseer en dit uiteindelik van sy skaniere af te haal.

 

Om te verhoed dat dieselfde met ons gebeur, moet ons seker maak dat ons die deur nie eers ‘n skrefie oopmaak nie. Dit beteken nie dat ons die wêreld moet ignoreer nie.  Volgens die Bybel moet ons soos ligte in die wêreld skyn, sodat ons mense vir die Here kan wen.  Maar ons gaan dit nie regkry as ons soos die wêreld is nie.

 

[1] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Pergamos

[2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Pergamos

[3] Fausset, Ibid

[4] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, verduidelikende nota op Op.2:13

[5] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.420

[6] MacArthur, Ibid, Op.2:13 en Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.67

[7] G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.446

Versadig jou siel

Breaking bread

Toe ek 14 was het ons by ‘n oom en tannie gaan kuier op ‘n plaas in die Vrystaat. Aan tafel was daar skaapvleis, slaaie, pap, groente, en allerhande lekker kosse.  ‘n Tannie wat saam met ons op die plaas gekuier het, het vir my sousbone opgeskep.  Dit het nie vreeslik lekker gelyk nie, en daarom het ek gou opgeëet.  Sy het gesien dat my sousbone klaar is, en het aangeneem dat ek daarvan hou.  Sy het vir my nóg ‘n lepel of twee opgeskep.  Ek het vir die res van my lewe genoeg gehad van sousbone.  Volgens Jh.6:22-40 werk dit nie met die siel soos met die liggaam nie.  As jy eenkeer die Brood van die Lewe geproe het, sal jy nog wil hê.  Jou siel sal vir ewig versadig wees.

 

Die Jode se soektog (v.22-27)

Jare gelede het ‘n tannie vir my vertel hoe sy en haar susters ontevrede was toe haar pa met ‘n vrou wou trou wat jonger was as hulle. ‘Ons het gedink sy is net agter my pa se geld aan,’ het sy gesê.  ‘Maar ‘n paar jaar later het ons tot die besef gekom dat sy regtig vir hom lief is, en dat sy geld nie vir haar belangrik is nie.’  Maar met die Jode in Jh.6 was dit anders:  hulle het nie in Jesus belanggestel nie, maar in wat Hy vir hulle kon doen.

 

Jesus het die brood en die vis vermeerder (v.1-15). Baie van dié wat die teken gesien het, het die volgende dag teruggekom om vir Jesus te soek (v.22).  Hulle het gesien dat daar die vorige dag net een bootjie was, en dat Jesus nie saam met sy dissipels na die oorkant toe gevaar het nie (v.22).  Hulle het aangeneem dat Hy nog in die omgewing was.

 

Daar was ook ‘n klomp mense wat van Tiberias af gevaar het om vir Jesus te soek (v.23). Hulle het seker gehoor dat Hy ná sy gebed die brood en die vis vermeerder het (v.23, 11).  Die mense het gou agtergekom dat Jesus nie daar is nie, en het toe 3 km weg na Kapernaüm toe gevaar om Hom te soek (v.24, 17).  Hulle het vir Jesus gekry waar Hy besig was om in die sinagoge te leer (v.25, 59).  Hulle was verbaas om Hom daar te sien, omdat Hy nie saam met sy dissipels in die boot was nie (v.25, 22).  Hulle het nie geweet dat Hy oor die see geloop het nie (v.16-21).

 

‘Wanneer het U hier gekom Rabbi?’ het hulle vir Hom gevra (v.25). Jesus het geweet dat hulle nie eintlik in Hóm belanggestel nie.  Hulle het ‘n Messias gesoek wat deur middel van wonderwerke gratis kos vir hulle kan gee (v.26).  Een kommentator sê:  ‘They were moved not by full hearts, but by full bellies.’[1]  ‘As Jesus by ons is kan ons aftree en hoef ons nie weer te werk nie!’  Ek sal nie verbaas wees as dit in hulle gedagtes was nie.

 

Die kos wat Jesus die vorige dag gegee het, gaan deur ‘n mens se spysverteringstelsel en word uitgeskei (v.27). Daarom het Jesus gesê dat hulle nie hulle tyd en energie op dinge moet mors wat nie versadig nie, maar op geestelike kos wat vir ewig duur en tot die ewige lewe lei (v.27).  “want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.” (Heb.13:9).  Hierdie geestelike kos kon hulle gratis by Jesus gekry het (v.27, Jes.55:1-2).  Die Vader het Hom juis met die Gees verseël en instaat gestel om wonderwerke te doen, om só te wys dat Hý die Seun van God en die Messias is wat geestelike lewe kan gee (v.27, 1:32-34, 20:30-31).

 

Soek Jesus vir wie Hy is en nie net vir wat Hy vir jou kan doen nie. Sal dit jou nie hartseer maak as mense by jou kuier omdat jy geld het, en nie omdat hulle van jou hou nie?  Om Jesus so te behandel is niks anders as geestelike prostitusie nie.

 

Jare gelede het ek prente van ‘n huis en ‘n kar op my vriend se yskas gesien. ‘Wat is dit?’ het ek gevra.  Hy het gesê:  ‘Ek was die afgelope naweek by ‘n konferensie.  Die spreker het gesê jy moet jou drome sien en aanhoudend daaroor praat, want dan sal jy dit kry.’  Nie lank daarna nie het ek uitgevind dat die konferensie spreker een van TBN se prosperity predikers was.

 

Soos wat jy goed weet is Jesus vir hulle iemand wat gekom het om ons ryk en voorspoedig te maak. Hulle aanbid Hom nie as die Seun van God nie, maar as ‘n wonderwerkende Messias wat vir ons brood of selfs sjokoladekoek kan gee (v.26).  Dit is dan bloot nie die waarheid om te sê dat mense honger is vir die waarheid nie.  Volgens Rm.3:11 is daar niemand wat God soek nie.  Dit is so dat hulle versadig wil word, maar dit is nie waar dat hulle ‘n honger vir die evangelie het nie (v.26).  As hulle die voordele kan kry wat die evangelie bied, sonder dat hulle Jesus hoef te omhels, sal hulle heeltemal tevrede wees.

 

Die rede hoekom mense met sulke verkeerde motiewe na Jesus toe kom, is omdat hulle nie ‘n idee het van wat hulle ware behoefte is nie, en ook omdat hulle nie eintlik weet wie Hy is nie. Iemand wat dink dat sy grootste probleem armoede of siekte is, sal met dié ingesteldheid na Jesus toe kom.  Alhoewel die Here maklik vir iemand geld en gesondheid kan gee, is dit nie primêr wat Hy vir hulle wil gee nie.  Die mens se grootste probleem is sonde, en daarom is die evangelie van bekering en vergifnis die enigste en ware oplossing.  Jesus is ‘n dokter vir die siel en ‘n makelaar van hemelse rykdom (Lk.5:31-32, 2 Kor.8:9, Op.3:17-18).  Die feit dat Hy mense kan genees en genoeg brood vir hulle kan gee is sekondêr.

 

Sorg daarom dat jou prioriteite reg is. Moenie geld najaag, omdat jy gemaklik wil aftree of omdat jy die lewe saam met jou geliefdes wil geniet nie.  Sorg eerder dat die welstand van jou siel voorkeur geniet bo materiële welvaart en wêreldse sukses (v.27).

 

Die Jode se ongeloof (v.28-34)

Die Jode het geglo dat die Messias by sy koms vir die volk manna sou gee. ‘n Joodse geskrif uit die tweede eeu v.C. sê:  ‘Dié wat die ware en ewige God eer sal die lewe as erfdeel kry… hulle sal soet brood uit die sterrehemel geniet.’  (Frag.3:46-49).  ‘n Ander geskrif sê:  ‘In daardie tyd sal dit gebeur dat die skatkis van manna weer uit die hoogte sal neerdaal…’ (2 Barug 29:8).

 

‘n Sekere Rabbi Beregja het gesê: ‘Soos wat die eerste verlosser was, so sal die laaste een wees… Soos wat die eerste verlosser (Moses) manna laat neerdaal het, sal die laaste Verlosser manna laat neerdaal’ (Eccles. Rab.1:9).  Rabbi Eliëser Hisma het gesê:  ‘Jy sal nie die manna in hierdie wêreld vind nie, maar in die volgende’ (Mek. Eks.16:25).[2]

 

Hierdie agtergrond help ons om in v.28-34 iets van die Jode se denkwyse te verstaan (sien ook Op.2:17).

 

Die Jode het gehoor dat Jesus gesê het hulle moet werk vir die brood wat tot die ewige lewe lei.  Hulle het gedink hulle moet iets doen om die ewige lewe te verdien.  ‘Wat moet ons doen om die werke van God te doen, sodat ons die ewige brood kan verdien?’ (v.28).  Dit is min of meer wat hulle gevra het.

 

Die ‘werk’ wat God van hulle vereis het was om te glo in die Een wat Hy gestuur het, om te glo dat Jesus die Messias en die Seun van God is, en om te glo dat Hy hulle sondes kon vergewe en die ewige lewe vir hulle kon gee (v.29, 20:30-31).[3]  Die Jode het egter nie geglo dat God Hom gestuur het nie, en wou ‘n teken sien voordat hulle bereid was om te glo (v.30).  In hulle gedagtes was sien gelyk aan glo.  Hulle het nie die aard van ware geloof verstaan nie.

 

Ten spyte daarvan dat Jesus die vorige dag siek mense genees het en brood vermeerder het, kon hulle nie insien dat Hy die Seun van God is nie (v.1-15, Mt.14:14). ‘Om brood te vermeerder sodat ‘n paar duisend mense kan eet, is net nie dieselfde as om brood uit die hemel te gee vir ‘n hele volk nie.  As Jesus nie dít kan doen nie, kan ons nie glo dat Hy die Messias is nie.’  Hulle het Ps.78:24 aangehaal asof dit Moses was wat manna uit die hemel gegee het.  Maar volgens Jesus was die ‘Hy’ wat manna gegee het God en nie Moses nie (v.32).  Beide die manna en die vermeerdering die brood was veronderstel om ‘n geestelike les te leer (v.32).

 

Die les was dat die Vader sy Seun as die ware en lewende brood gestuur het om ons siele te versadig (v.32-32). Jesus het neergedaal om sy lewe vir die wêreld te gee (v.33, 3:16-17).  Deur Jesus is dit letterlik so dat een Man se dood ‘n ander een se brood is.  Die Jode het nogsteeds nie verstaan dat Hy van geestelike dinge praat nie, en het gevra dat Hy altyd hierdie brood vir hulle moes gee (v.34, 4:15).

 

Moenie soos die Jode ongelowig wees en tekens wil sien voordat jy glo nie. In Mt.16:1, 4 leer ons dat dit slegte en losbandige mense is wat ‘n teken soek.  Om net die Bybel te glo is nie vir hulle genoeg nie.  Dit is asof hulle net nie kan glo dat God die waarheid praat nie.  Hulle moet eers ‘n genesingsdiens bywoon of ‘n wonderwerk sien, en selfs dán is die Bybel nie vir hulle voldoende nie.

 

Jy dink dalk dat jou ongelowige geliefdes makliker sal glo as die Here net ‘n wonderwerk sal doen. Miskien dink jy dat jý makliker sal glo as die Here vir jou ‘n teken gee.  Maar dit is nie so nie.  ‘n Wonderwerk of teken mag dalk vrees of verbasing veroorsaak, maar dit kan nie geloof kweek nie.  Buiten vir Jh.6, is daar meer as genoeg tekste in die Bybel wat dit wys.

 

Ten spyte van die tien plae en die wonders wat God in die woestyn gedoen het, het Israel aanhoudend gewonder of God vir hulle kan sorg. In Ps.78:32 lees ons:  “Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie.”

 

Die Fariseërs het gesien hoe Jesus siekes gesond maak, en tog het hulle nie in Hom geglo nie, maar Hom doodgemaak (Mk.3:1-5). Selfs toe Hy vir Lasarus uit die dood uit opgewek het, het hulle nie geglo nie, maar planne gemaak om vir Lasarus dood te maak (12:9-11).  Toe die soldate vir hulle vertel het dat Jesus uit die dood uit opgestaan het, het hulle geld vir hulle gegee en gesê hulle moet die storie verdraai (Mt.28:11-15).  Jesus het mos in Lk.16:31 vir hulle gesê:  “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

 

Onthou dat sien en glo teenoorgesteldes is (2 Kor.5:7). “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb.11:1).  Vir jou wat dan die Here op sy Woord neem en glo sonder dat jy Hom gesien het, sê Jesus:  “salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Jh.20:29).

 

Jesus se verduideliking (v.35-40)

In gereformeerde kringe is daar ‘n dwaallering wat Hiper-Calvinisme genoem geword. Mense wat dít glo, oorklemtoon die soewereiniteit van God.  Op hierdie manier maak hulle die bad se water so vuil, dat hulle in die proses die baba van menslike verantwoordelikheid ook uitgooi.  Die gevolg is dat hulle ‘n onbybelse en aaklige beeld van God vir hulle mense voorhou.  Een so ‘n prediker het gesê:

 

‘I believe that God does hate some of you and that He always will! Do what you will He will hate you, whether you believe or not – whether you pray or not – whether you repent or not – God hates you and will hate you!’[4]

 

In v.35-40 gee Jesus vir ons ‘n gebalanseerde lering tussen uitverkiesing en die sondaar se verantwoordelikheid.

 

Die Jode het nogsteeds nie verstaan dat Jesus van geestelike brood praat nie (v.34). Hy het toe reguit vir hulle gesê dat Hy die brood van die lewe is (v.35).  ‘EK IS die brood van die lewe’ (v.35) moes hulle aan God se Naam in Eks.3:14 herinner het.  Jesus is die brood wat lewe gee; die brood waarsonder niemand kan lewe nie (v.35).  Soos wat brood ‘n honger mens se leë maag versadig, sal Jesus dié wat in geloof na Hom toe kom se geestelike dors les en hulle siele versadig (v.35, 4:13-14, 7:37, Mt.5:6).  Jesus was meer as bereid om vir Israel hierdie brood te gee, maar hulle wóú nie in Hom geglo het nie – ten spyte daarvan dat sy wonderwerke bewys het Hy is die Seun van God (v.36, 5:36, 40).

 

Die rede hoekom hulle nie geglo het nie, is omdat hulle nie deur die Vader aan Hom gegee is nie, omdat hulle nie van sy uitverkore skape was nie (v.37, 44, 65, 10:26, 2 Tm.2:19). Almal wat die Vader aan Jesus gegee het sal deur geloof na Hom toe kom (v.37).  Om dit anders te stel:  nie een van dié wat die Vader aan Christus gegee het, sal nié kom nie (v.37).  Jesus het na die aarde toe gekom om die wil van sy Vader te doen (v.38, 5:30).

 

En wat was die Vader se wil?

 

[1] Jesus moes daarvoor gesorg het dat nie een van die uitverkorenes verlore gaan nie, maar dat Hy hulle tot by die finale opstanding bewaar het (v.39, 10:28-29, 17:12, 18:9). As Hy werklik die brood van die lewe was, kon Hy die uitverkorenes uit die dood uit opgewek het en ook hulle liggame vir ewig laat lewe het (5:28-29).  As selfs net een van die uitverkorenes nie volkome gered word nie, of as een van hulle sy of haar redding verloor, dan het Jesus nie die Vader se wil gedoen nie (v.38-39).  Daarom sal Hy seker maak dat almal wat uitverkies is die evangelie glo (v.37), en finaal verheerlik word (v.39, Rm.8:29-30).

 

[2] Die Vader se wil is dat elkeen wat in geloof na die Seun toe kyk, die ewige lewe moet hê (v.40, 3:14-17).  So ‘n persoon moet in die Seun glo wat ons sonde op Homself geneem het aan die kruis.  Hy moet glo dat Jesus die sondaar se enigste hoop is om gered te word.  Hy moet glo en aanvaar dat elkeen wat in die Seun glo die ewige lewe sal hê:  nou, by die opstanding, en vir ewig in die hemel (v.40).

 

Jy hoef nie in die uitverkiesing te glo om jou geestelike honger te stil nie. En tog sal jy uitmis as jy nie die hele waarheid van die Bybel glo nie.  God het nie die uitverkiesing aan ons geopenbaar, sodat ons dit kan ignoreer nie.  Hy wil hê jy moet dit glo.

 

Vind asseblief die balans tussen die mens se verantwoordelikheid en God se soewereine uitverkiesing. Volgens Jesus gaan mense verlore omdat hulle nie die evangelie wil glo nie (v.36).  Dié wat wel glo, doen dit omdat God hulle rebelse wil oorkom het, sodat hulle instaat is om te kan glo (Ef.2:8-9, Fil.1:29).  Hy haal hulle dooie harte van klip uit en gee vir hulle sagte harte van vlees (Esg.36:26).  Hy is nie verplig om dit vir almal te doen nie (net soos wat Hy nie verplig was om die gevalle engele te red nie), maar gee hierdie geloof aan dié wat Hy in Jesus uitverkies het voordat Hy die wêreld gemaak het, aan dié wat die Vader vir Hom gegee het (v.37, 17:2, Rm.8:29, 9:11-18, Ef.1:4-5, 1 Ts.1:4, 2 Ts.2:13, 1 Pt.1:2).

 

Wat moet jou reaksie hierop wees? Moenie sê dat dit onregverdig is nie.  Is dit onregverdig as jy vir een boemelaar R50 gee en vir ‘n ander een niks?  Of kan jy daarmee doen wat jy wil, omdat dit jóú geld is?  Jy sal nie daarvan hou as die boemelaar wat op die straathoek staan vir jou voorskryf hoe jy jou geld moet gebruik nie.  Moet dan ook nie vir God kwalik neem as Hy met sý eiendom doen wat Hy wil nie.  Het die pottebakker dan nie die reg om met sy klei te doen soos wat Hy goed dink nie (Rm.9:19-23)?  As jy wil hê die Here moet regverdig wees, dan moet Hy ons almal hel toe stuur.

 

Moet ook nie sê: ‘Ek is nie uitverkies nie, en daarom help dit nie ek glo nie.’  God het nie vir jou gesê om te wonder of jy uitverkies is of nie, maar om in Jesus te glo.  As jy in die Here glo sal jy weet dat jy uitverkies is, omdat almal wat die Vader aan Hom gegee het na Hom toe kom (v.37).  Volgens v.39 sal Jesus die uitverkorenes opwek, en volgens v.40 sal Hy dié opwek wat in Hom glo.  Dit is dan duidelik dat dié wat in Hom glo ook uitverkies is.  In Hd.13:48 lees ons dat dié wat vir die ewige lewe bestem was geglo het.  Geloof is dan die bewys dat iemand uitverkies is.  As jy in Jesus glo sal Hy jou nie uitwerp nie, maar jou red (v.37, 40).  Moet asseblief nie die idee kry dat God jou nie wíl red nie.  Volgens v.40 is dit sy wil dat mense in sy Seun moet glo en gered word.

 

Ek het eenkeer op Facebook met ‘n ateïs gepraat. Hy het probeer om te wys dat daar niks na hierdie lewe is nie.  Ek het op ‘n mooi manier vir hom gesê dat hy seker baie ongelukkig is.  In sy reaksie het hy gesê:  ‘Well spotted.  My life is miserable.’  Ek kan verstaan dat dit so is, omdat net Jesus vir ‘n mens vervulling kan gee.  Net Hý kan jou siel versadig.

 

[1] Leon Morris, The Gospel According to John, p.358

[2] G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.446

[3] Geloof is nie ‘n ‘werk’ wat kan bydra tot ons redding nie, maar is ‘n ‘werk’ in dieselfde opsig as wat dit vir die Israeliete werk was om manna van die woestynvloer af op te tel. Die feit dat hulle dit opgetel het beteken nie dat hulle daarvoor gewerk het om dit te verdien nie – dit was nogsteeds ‘n gratis geskenk van God af.

[4] Iain Murray, Spurgeon v. Hyper-Calvinism, p.63

‘n Oop brief aan die vervolgde kerk

Bible in chain

Dalk is dit vir jou ‘n versoeking om hierdie preek oor te slaan, en om jou ore daarvoor toe te druk. Vervolging is nie regtig iets wat jou belangstelling prikkel nie, omdat dit net in Noord-Korea, Saudi-Arabië en Sirië gebeur.  Ek wil by jou pleit om nie hierdie preek oor te slaan nie, en om nie gemaklik te voel omdat ons nie regtig vervolging beleef nie.  Weet asseblief dat die vryheid wat jy nou ervaar gebou is op die bloed van mense wat vervolg is vir die evangelie.  Hou ook in gedagte dat Suid-Afrika by die dag besig is om onder te gaan.  Dit mag dalk in die toekoms vervolging beteken vir Christene.  Spits daarom jou ore vir Jesus se brief in Op.2:8-11.

 

Jesus se troos in vervolging (v.8-9)

Smirna was aan die weskus van Turkye, 56 km noord-wes van Efese. Dit was een van die grootste stede in Asië.  Omdat dit die provinsie se mooiste stad was, het dit die bynaam ‘die Pragtige’ gekry.  Dit het breë geplaveide strate gehad, pragtige geboue, en was bekend vir sy mediese en wetenskap sentrum.  Toe Johannes sy brief geskryf het, het die stad al vir meer as 1000 jaar bestaan.[1]  Smirna is in 580 v.C. verwoes, en eers 300 jaar later (290 v.C.) deur Alexander die Grote herbou.[2]

 

Die mense van Smirna het geglo dat hulle wyngod, Dionisus of Bacchus, doodgemaak is en weer lewendig geword het. Volgens hulle was Dionisus ‘n god-mens wat gedurende die winter maande gesterf het wanneer die wynvate in die wynkelders gebêre is.  Wanneer die vate dan in die lente oopgemaak is, het hy uit die dood uit opgestaan.[3]

 

Smirna bestaan vandag nog as Izmir, en is naas Istanbul en Ankara die grootste stad in Turkye. Van die sewe stede in Op.2-3, is dit net Smirna wat nog bestaan.  Sover my kennis strek is daar vandag nog evangeliese Christene in die stad.

 

Hierdie brief word aan die boodskapper [Gk. aggelos] of leraar van die gemeente in Smirna gerig (v.8).  Jesus het niks negatief vir hierdie gemeente te sê gehad nie (vgl. 3:7-13).  Hy het Homself voorgestel as die Eerste en die Laaste, die Een wat dood was en weer opgewek is (v.8, 1:17-18, Jes.44:6).  Jesus, nie Dionisus nie, is die ware God-mens wat dood was en weer lewend geword het.  Net soos die stad, het Hy uit die stof uit opgestaan.  Die gelowiges self sou weer gelewe het nadat hulle doodgemaak is (v.10).

 

Jesus het geweet dat hulle verdruk word (v.9, 1:9). Omdat Hý verdruk was sou sy volgelinge verdruk word (v.8-9, 1 Pt.2:21, Jh.16:33).  God se kinders moet deur baie verdrukkinge die Koninkryk ingaan (Hd.14:22).  En tog kan geen verdrukking ons van God se liefde skei nie (Rm.8:35).

 

Jesus het ook geweet dat hulle arm is (v.9). Die Griekse woord [ptōcheia] dui aan dat hulle brandarm was.[4]  Die feit dat hulle in so ‘n ryk stad arm was, wys waarskynlik dat hulle ekonomies benadeel is omdat hulle Christene was.[5]  Maar volgens v.9 het hulle ‘n geestelike rykdom besit (v.9, Jk.2:5, Lk.6:20, 12:32-33, 1 Kor.3:21-23, 2 Kor.6:10, Ef.1:3, 1 Tm.6:18, Heb.10:34, 11:26).  Sonder Jesus is selfs die rykste mense op aarde arm (3:17-18).

 

Jesus het verder geweet dat die Jode teen hulle laster (v.9). Geen stad in Turkye het so ‘n groot Joodse bevolking gehad soos Smirna nie.[6]  Hulle was baie vyandig teenoor die Christene.  Buiten vir v.9, sê Ignatius van Antiochië dit ook in sy brief aan die gemeente in Smirna.[7]

 

Die Jode se haat het sterk deurgekom toe een van die gemeente se leiers in 155 n.C. verbrand is. Toe Polikarpus op die brandstapel gelê is, het die Jode hulle eie Sabbatswette oortree om hout aan te dra.[8]  As gevolg van hierdie haat het Jesus gesê dat hulle nie Jode is nie, maar ‘n sinagoge van Satan (v.9, 3:9).  Hulle was nie God se volk of die nageslag van Abraham nie, maar kinders van die duiwel (Jh.8:44, Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 29, 4:26, 28, 6:16, Tit.2:14, 1 Pt.2:9).

 

Jesus se beheer in vervolging (v.10a-b)

Ek onthou hoe ‘n tannie in ons kerk altyd gesê het: ‘God het goed geweet om ons nie in die toekoms te laat sien nie, want anders sou ons onsself dood geworry het.’  Natuurlik steek daar ‘n groot mate van waarheid daarin.  Maar in ‘n ander mate is dit ook soms ‘n vertroosting om te weet wat in die toekoms gaan gebeur.  Dit is erg om te weet dat jy binnekort in die tronk gegooi gaan word, maar dit is ook ‘n troos om te weet dat dit net vir tien dae sal aanhou (v.10).

 

Toe ons verledejaar in die Kaap was, het ons oppad terug in Philippolis se ou tronk geslaap. Teen die mure is daar strepies wat vir jou ‘n idee gee hoe die gevangenes die dae voor hulle vrylating afgetel het.  Net so sou dit die gelowiges in Smirna gehelp het om die lyding te verduur as hulle geweet het:  ‘Daar is nog net ses dae oor… vyf dae… vier dae… ens.’  Hulle sou vertroos gewees het om te weet dat Jesus in beheer was van hulle lyding.

 

Die verdrukking van v.9 sou erger geword het (v.10). Die duiwel het waarskynlik deur die sinagoge van Satan (die Jode) die Christene in die tronk laat beland (v.9-10).  Dit was die Jode wat hulle voor die hof gesleep het om hulle by die Romeinse owerhede aan te kla.[9]

 

Paulus skryf hoe die Christene in Judea deur die Jode vervolg is, “wat ook die Here Jesus en hulle eie profete gedood en ons vervolg het en God nie behaag nie en teen alle mense gekant is, deurdat hulle ons verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word, sodat hulle die maat van hulle sondes gedurig vol kan maak. Maar die toorn het oor hulle gekom tot die einde toe.” (1 Ts.2:15-16).

 

Die feit dat Jesus die vervolging voorspel het, wys dat Hy, en nie die Jode, die Romeine of die duiwel nie, in beheer was (v.10). Die feit dat Hy gesê het dit sal vir tien dae aanhou, wys dat Hý in beheer was (v.10).  Die feit dat Hy dit as ‘n toets vir hulle geloof gestuur het, wys dat Hý in beheer was (v.10).  Die duiwel het toestemming nodig gehad om hulle te vervolg.  Sonder Jesus kon hy nie ‘n vinger verroer het nie (v.10, Job 1:12, 2:6, Lk.22:31, 1 Jh.5:18).

 

Omdat Jesus dan in beheer was, was dit onnodig om bang te wees (v.10). Jesus sou die verdrukking kortgeknip het, sodat dit nie vir ‘n minuut langer as tien dae aangehou het nie (v.10, Mt.24:21-22, vgl. Dn.1:12, 14).  Die verdrukking sou kort maar intens gewees het.  Hulle moes vasgebyt het, en nie aan die druk toegegee het om Jesus se Naam te verloën nie.

 

Jesus se belofte in vervolging (v.10c-11)

Sal jy bereid wees dat iemand jou tone met ‘n skerp mes afsny? Ek twyfel.  Sal jy bereid wees dat hulle dit onder verdowing doen?  Ook nie.  Wat as die dokter vir jou sê dat jy aggressiewe gangrene in jou tone het?  Wat as hy vir jou sê:  ‘As ons dit nie afsit nie, sal dit verprei.  Later sal ons jou voete moet afsit, en daarna jou bene.  As jy dit nogsteeds los kan jy jou lewe verloor’?  Omdat jy jou lewe wil spaar, sal jy bereid wees om jou tone te verloor.

 

En so is dit met jou siel. Sal jy bereid wees om in die tronk te sit en om jou lewe te verloor?  Natuurlik nie.  Maar wat as Jesus vir jou sê:  ‘As jy aan My getrou bly en My nie verloën nie, sal jy die ewige lewe hê.  As jy My verloën sal jy vir ewig hel toe gaan’?  Ek is seker dat die ewige lewe en die ewige dood swaarder weeg as die lewe en dood wat jy op die aarde het.  Dit is presies die punt wat Jesus in v.10c-11 wil maak.

 

Die gelowiges moes getrou gebly het tot die dood toe (v.10). Ja, sommige van hulle sou na tien dae in die tronk tereggestel word.  In sy inskrywing onder Smirna sê A.R. Fausset:  ‘many Christians perished by wild beasts or at the stake because they refused to throw incense into the fire to sacrifice to the genius of the emperor.’[10] Die gelowiges moes nie vir die nabye toekoms gelewe het nie, maar vir hulle ewige beloning in die hemel (v.10).

 

Smirna was lojaal aan Rome (die hoofstad van die Ryk). Reeds in 195 v.C. het hulle ‘n tempel vir die godin Roma gebou.[11]  In 23 n.C. het hulle ‘n tempel ter ere van keiser Tiberius gebou.  Die getrouheid van die mense van Smirna het ‘n welbekende spreekwoord geword.[12]  Jesus sê in v.10 dat die gelowiges net so aan Hom getrou moes wees.  As hulle getrou gebly het, sou Hy aan hulle die kroon van die lewe gegee het (Jk.1:12).

 

Ek dink nie dat Jesus hier na ‘n letterlike kroon verwys nie, maar na ‘n figuurlike een soos in Ps.103:4. Soos wat atlete in die spele, en die aanbidders van Cybele in hulle godsdienstige rituele ‘n blarekrans gedra het, sou die gelowiges ‘n kroon van die lewe ontvang het (v.10).[13]  Jesus wou natuurlik gewys het dat húlle die ware oorwinnaars is, en dat húlle die ware God aanbid.

 

Die Griekse teks praat letterlik van ‘die kroon wat die lewe is’. Jesus sou die ewige lewe gegee het aan dié wat tot die einde toe volhard het en nie hulle lewens liewer gehad het as vir Hom nie (v.10, 12:11, Mt.10:22).

 

Dié wie se geestelike ore oopgemaak is (die gelowiges), moes luister wat die Gees deur Johannes vir die gemeentes gesê het (v.11). Sy boodskap was dít:  “Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.” (v.11).  Ten spyte van hulle armoede en vervolging moes die gelowiges aan die Here vasgehou het en die wêreld oorwin het (1 Jh.5:4-5).  Dié wat dit gedoen het sou nie skade gely het deur die tweede dood – die hel – nie (v.11, 20:14, 21:8).

 

Moenie Jesus se brief aan die vervolgde kerk in Smirna ignoreer, net omdat jy in gemak lewe en dit vir jou lyk of die vervolging ver weg is nie. Dalk is die vervolging nader as wat jy dink.  Jacob Zuma het twee jaar gelede gesê dat die probleme in ons land die Christene se skuld is.  As jy jou nie nóú voorneem om gereed te kry nie, sal jy die Here verloën wanneer die vervolging jou soos ‘n rower oorval.  Onthou dat Jesus gesê het:  “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.  Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Mt.10:32-33).

 

Sorg dat jy regtig die Here ken, want anders sal jy Hom in die hitte van die stryd verloën. Maak ook seker dat jy nie bang is om op te staan vir sy Naam nie.  As jy Hom in kleiner situasies verloën, sal jy dit in groter situasies ook doen.  Bid dan vir ‘n vreeslose dapperheid om jou mond oop te maak, en om nie bang te wees om die evangelie met mense te deel nie.  Moenie skaam wees wanneer jy langs ‘n Christen staan wat openlik van Jesus getuig nie.  Moenie wens hy wil stilbly of probeer om die onderwerp te verander, omdat jy nie in die moeilikheid wil kom of gespot wil word nie.

 

Begin deur ‘n traktaatjie te gee as jy bang is. Bid dat mense eerste met jóú sal praat en vrae sal vra.  Wees gereed om ‘n antwoord te gee (1 Pt.3:15), of sê vir hulle dat jy sal uitvind as jy nie weet nie.  As jy die ys eers gebreek het, sal dit in die vervolg makliker wees.

 

Indien jy versoek word om nie vir sy Naam op te staan nie, moet jy die belofte in v.10c-11 onthou. Is dit die moeite werd om mense se fronse vry te spring en jouself vas te loop in God s’n?  Is dit die moeite werd om hel toe te gaan, omdat jy mense se glimlag verkies bo God s’n (v.11, Op.21:8)?  Na alle waarskynlikheid sal nie een van ons doodgemaak word vir die evangelie nie.  Maar vra vir jouself die vraag:  is dit beter om vir die evangelie te sterf en vir ewig te lewe, of om ‘n bietjie langer te lewe en hel toe te gaan? Jesus het gesê:  “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Mt.10:28).

 

Dink ook aan die geestelike rykdom wat jy in die hemel sal hê (v.9). As jy dít onthou kan die wêreld, die onlangse droogte, ons swak geld-eenheid, en die dood maar jou aardse rykdom van jou af wegvat.  Dit sal nie maklik wees as jy jou werk verloor omdat jy ‘n Christen is nie, maar omdat jy skatte in die hemel het sal dit vir jou moontlik wees om dit te kan dra.  Niemand kan hierdie rykdom van jou af wegvat nie (v.9).

 

Hoe kan jy dit kry? Jy moet bereid wees om alles prys te gee, want anders kan jy nie sy dissipel wees nie.  As die Here dit van jou vereis, moet jy bereid wees om jou werk, geld, huis, familie, en selfs jou lewe prys te gee om Hom te volg (Lk.14:26, 33).  Jy kan nie met enige van jou pogings of werke kom nie, maar jy moet dit as gemors beskou (Fil.3:7-8).  Jy moet jou vertroue in jou doop- en lidmaatskap sertifikaat prysgee, en op Jesus en sy kruisdood alleen vertrou.  Jy moet besef dat dit nie altyd maklik gaan wees om die Here te volg nie.  Is jy bereid om alleen te wees?  Om jou vriende te verloor?  Om jou gunsteling sonde te los?  Om dalk jou geld te verloor?  Om gespot, gehaat, en miskien selfs doodgemaak te word?

 

Ek sou as ek jy was, want eintlik is dit glad nie ‘n verlies nie maar ‘n wins. Jy is soos ‘n man wat sy vier slaapkamer huis verkoop om ‘n stuk sandgrond in die Noord-Kaap te koop.  Hy doen dit met opset, omdat hy eenkeer daar geloop het en gesien het dat die grond van diamante deurtrek is.

 

Volgens Jesus “is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.” (Mt.13:44-46).

 

Moet dan nie bekommerd wees wanneer mense jou snaaks aankyk, uitskuif, of anders behandel omdat jy ‘n Christen is nie. Moet ook nie verwag dat die Here jou gaan wegraap voordat die verdrukking kom nie.  Soos Jesus sal elke mens wat Godvresend wil lewe, vervolg en verdruk word (2 Tim.3:12).  Die Here weet egter daarvan en sal jou beloon (Mt.5:10-12).  Soms dink ons in sulke tye dat die Here van ons vergeet het, maar Hy het nie (v.9).  Onthou dat Hy self ‘n mens was, en dat Hy weet hoe jy voel (v.8-9, Heb.4:15).

 

Leer ook asseblief uit v.9-10 dat dit onnodig is om bang te wees dat jy of jou kinders in die ‘eindtyd’ deur een of ander groot verdrukking sal moet gaan. In v.9-10, 22, 3:10 sê Jesus dat die groot en wêreldwye verdrukking van 7:14 in Johannes se tyd sou plaasvind.  In Mt.24:9, 21 verwys Jesus na die groot verdrukking wat sou plaasvind terwyl daardie geslag nog gelewe het (Mt.24:34).  Verwag dat jy sal ly, maar moenie in vrees vir die toekoms lewe nie.

 

Het jy al gehoor wat kerke in die ooste en die weste van mekaar sê? Die kerke in die weste sê:  ‘Ons moet bid vir die kerke in die ooste – hulle kry swaar onder vervolging.’  Die kerke in die ooste sê:  ‘Ons moet bid vir die kerke in die weste – hulle leef gemaksugtig en weet niks van die rykdom en seën wat die Here in vervolging gee nie.’

 

As ek die Bybel reg verstaan moet ons nie uitsien na vervolging nie. Maar aan die ander kant moet ons nie in vrees lewe nie, omdat die beloning oneindig keer groter is as die lyding.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Smyrna

[2] Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.63

[3] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Smyrna en James Orr, Ibid, inskrywing onder Dionysus (Bacchus)

[4] Morris, Ibid, p.64

[5] William Hendriksen, More Than Conquerors, p.80

[6] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, 1997 & 2013, p.97

[7] Donald Guthrie & J.A. Motyer, New Bible Commentary: Third Edition, p.1283

[8] James Orr, Ibid, Smyrna

[9] Hendriksen, Ibid, p.81

[10] Fausset, Ibid

[11] Morris, Ibid, p.63

[12] Hendriksen, Ibid, p.79

[13] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.418 en James Orr, Ibid, Dionysus

Nóg bewyse dat Jesus die Seun van God is

Jesus walking on water

My haarkapper is ‘n Moslem. Ek het eenkeer vir hom gesê dat Jesus die Seun van God is.  Hy het vir my gesê:  ‘Die feit dat God sy lewensasem in Adam se neus ingeblaas het beteken nie dat hy die Seun van God is nie.  Daarom is dit ook nie nodig om te sê dat Jesus die Seun van God is, net omdat Hy uit ‘n maagd gebore is nie.’  Natuurlik wys die maagdelike geboorte dat Hy die Seun van God is.  Maar daar is ook baie ander bewyse dat Hy die Seun van God is.  In Jh.6:1-21 het ons twee voorbeelde hiervan.

 

Hy het die brood en die vis vermeerder (v.1-15)

Ek het eenkeer gesien hoe ‘n kulkunstenaar die mense met sy toertjies verstom. Sy handlanger het ‘per ongeluk’ die toertjies weggegee.  Die toertjies wat die mense verbaas het was niks meer as oë-verblindery nie.  Dit was egter nie so met Jesus se wonderwerke nie.  Om brood en vis te vermeerder, sodat ‘n paar duisend mense kos het is nie maar net ‘n oulike toertjie nie – dis ‘n wonderwerk wat vir ons wys dat Jesus die Seun van God is.

 

In 5:1 was Jesus by die Fees in Jerusalem. Nou – ‘n paar maande of ‘n jaar later (v.4) – is Hy in Galilea (v.1).  Hy het sopas gehoor dat Herodes vir Johannes die Doper onthoof het (Mt.14:13).  Omdat Hy alleen wou wees, het Hy na Betsaida aan noord-oos kus van die See van Galilea of Tiberias toe gevaar (v.1, Lk.9:10).  Volgens Mk.6:31-32 wou Hy ook wegkom sodat sy dissipels kon rus.

 

Die skare het gesien hoe Jesus in die boot klim, en het solank aan die ander kant vir Hom gaan wag (Mt.14:13, Mk.6:33). Hulle het vantevore gesien hoe Hy die siekes genees het (v.2), en wou gehad het dat Hy dit weer moes doen (Mt.16:14).  Hulle het nie vir Jesus gesoek nie, maar net sy tekens (v.26, 2:23-25).

 

Om te rus het Jesus saam met sy dissipels op die berg gaan sit (v.3). Toe Hy opkyk het Hy die skare na hulle toe sien aankom (v.5).  Die son het al laag in die lug gehang.  Die mense het kos nodig gehad, en die dissipels was ook honger (Mt.14:15, Mk.6:31).  Jesus het geweet wat Hy wou doen, maar het vir Filippus getoets om te sien of hy in die Seun van God glo (v.6, 14:8-9).  Het hy geglo dat Jesus vir baie mense kos kan gee, en dat Hý die God is wat vir Israel manna in die woestyn gegee het (Nm.11:21-23)?

 

Omdat Filippus van Betsaida af was (12:21), het Jesus vir hóm gevra waar die beste plek is om brood te koop (v.5). Volgens hom was 200 pennings (200 dae se betaling vir ‘n dagloner) nie genoeg om eers ‘n stukkie brood vir almal te voorsien nie (v.7, Mk.6:37).  Jesus het vir die dissipels gevra om te kyk hoeveel brood daar onder die skare is (Mk.6:38).  Andreas, Petrus se broer, het gesê dat daar ‘n seuntjie met vyf gars brode (‘n arm mans se kos) en twee vissies is (v.8-9).  Hy het gesê dat dit nie ‘n druppel in die emmer is vir so baie mense nie (v.9).

 

Jesus het vir die dissipels gesê om die mense in groepe van 50 en 100 op die groen gras te laat sit (v.10, Mk.6:39-40, Lk.9:14, Ps.23:2). Die getal van die mans alleen was omtrent 5000 (v.10, Mt.14:21).  Met die vroue en kinders saam kon daar maklik 15 000 tot 20 000 mense gewees het.  Uit net vyf broodjies en twee vissies het Jesus vir hulle almal kos gegee!

 

Jesus het opgekyk, vir sy Vader dankie gesê en die kos geseën (v.11, Mt.14:19, Jk.1:17, 1 Tm.4:5). Hy het sy dissipels beveel om die brood en vis onder die mense te versprei (v.11, Mt.14:19).  Almal het geëet totdat hulle versadig was, sodat die twaalf dissipels elkeen ‘n mandjie vol van brood en vis opgetel het (v.12-13, Mk.6:43, Eks.16:18, Ef.3:20).  Ons weet nie of Jesus dit vir die seuntjie, die armes, of die dissipels gegee het nie.  Wat ons wel weet is dat Hy nie met kos wou mors nie.

 

Die skare het besef dat Jesus die Profeet is van wie Moses gepraat het (v.14, Dt.18:15, 18). Soos Elisa het Hy die brood vermeerder (2 Kon.4:42-44).  Maar alhoewel hulle geglo het dat Hy ‘n profeet is, het hulle nié geglo dat dit Hý is wat manna in die woestyn gegee het nie.  In hulle gedagtes het die Messias nie gekom om hulle van hulle sonde te red nie, maar om hulle van die Romeine se onderdrukking te red en gratis kos vir hulle te gee.  In hulle nasionale ywer het hulle besluit om met geweld vir Jesus koning te maak (v.15).  Hy het hulle egter huistoe gestuur en vir die dissipels gesê om oor die meer te vaar (Mt.14:22).  Toe Hy die mense verdaag het, het Hy in die berg ingegaan om te bid (v.15, Mt.14:23).

 

Hy het op die water geloop (v.16-21)

In Suid- en Sentraal-Amerika is daar ‘n akkedis wat die gewone basilisk of Jesus Christ Lizard genoem word. Volgens National Geograhic kan ‘n volwasse akkedis vir 5 meter op die water se oppervlak hardloop voordat dit sink en verder moet swem.  Omdat jonger akkedisse ligter is, kan hulle vir langer afstande hardloop.  Soos wat jy regop bly wanneer jy ‘n fiets se pedale trap, bly die akkedis regop wanneer hy met die swemvliese tussen sy tone op die water trap.[1]

 

Dit klink nogal oulik om hierdie akkedis met die Jesus te vergelyk, maar volgens die Bybel is daar opmerklike verskille. Jesus het nie maar net vir 5 of 10 meter op die water geloop en toe gesink nie, maar vir omtrent 5 km sonder om te sink (v.19).  Hy het nie op ‘n spieëlgladde wateroppervlak geloop nie, maar op ‘n onstuimige see (v.18-19, Mt.14:24-25).  Hy het nie swemvliese, momentum of spoed nodig gehad om Hom bo die water te hou nie.  Weereens was hierdie ‘n wonderwerk wat vir ons wys dat Jesus die Seun van God is.

 

Dit was aand toe die dissipels van die berg af geklim het om na die strand toe te gaan (v.16, Mt.14:15). Hulle het in die boot geklim en begin om die 3 km na Kapermaüm toe af te lê (v.16, aan die noorde kant van die meer).  Jesus het vir hulle gesê om van Betsaida Julias af te vaar na ‘n ander Betsaida toe wat naby Kapernaüm en Gennesaret was (v.17, Lk.9:10, Mk.6:45, 53).  Die naam Betsaida beteken ‘huis van vis’.  Langs die meer moes daar sekerlik meer as een ‘huis van vis’ gewees het.

 

Jesus het vir ‘n paar ure gebid (Mt.14:23, 25), sodat Hy teen donker nog nie by die dissipels was nie (v.17). Die see het onstuimig geraak, omdat daar ‘n sterk wind gewaai het (v.18).  Die golwe het teen die boot geslaan (Mt.14:24) en die wind het teen hulle gewaai, sodat hulle nie vordering gemaak het nie (Mk.6:48).  Hulle was tussen 4.5 en 5.5 km in die meer in toe Jesus op die water na hulle geloop het (v.19, Mt.14:24).  Liberale kommentators sê dat Hy op die strand of op ‘n sandbank geloop het, maar volgens v.18-19 het Jesus op onstuimige golwe geloop.

 

Jesus het tussen 03:00 en 06:00 in die oggend na hulle toe gekom (Mt.14:25). Die dissipels kon nie in die donker sien nie en het gedink dat Hy ‘n gees is (v.19, Mt.14:26, Lk.24:37).  Moenie te gou dink dat hulle bygelowig of irrasioneel was nie.  Hulle was heeltemal rasioneel.  Om te dink dat dit ‘n mens was wat op die water geloop het, sou irrasioneel gewees het.

 

Jesus wou verby hulle geloop het (Mk.6:48), maar omdat Hy hulle vrees gesien het, het Hy hulle gerus gestel en gesê dat dit Hý is (v.19-20). Die dissipels moes verstaan het dat Hy nie maar net ‘n gewone mens is nie.  Hy is die Here wat die see onder sy voete vertrap; die God wat die see beheer (Job 9:8, Ps.77:20, 93:4, Mk.4:39).

 

Toe Jesus in die boot ingeklim het, het die wind dadelik gaan lê (Mt.14:32). Sy dissipels het Hom as die Seun van God aanbid (Mt.14:33, Mk.6:51).  Toe Hy die brood en die vis vermeerder het, het hulle dit nie besef nie, en daarom moes Hy ook hiérdie teken doen (Mk.6:52).  Terwyl hulle Hom aanbid het, was hulle skielik by die kus (v.21).  Deur hulle wonderbaarlik en veilig by hulle bestemming uit te bring, het Jesus gewys dat Hy die God van Ps.107:29-30 is.

 

Dié wat glo dat Jesus die Seun van God is sal die ewige lewe hê (20:31), terwyl dié wat nie glo nie in die hel sal beland (3:18). Glo daarom dat Jesus die Seun van God is.  Moet dit nie net in teorie doen nie.  Baie Suid-Afrikaners glo hierdie waarheid in hulle koppe, maar dit affekteer nie hulle lewens nie.  Hulle het in die kerk groot geword en weet dat Jesus die Here, Verlosser, en Seun van God is, maar soos die Jode in v.14-15 weet hulle nie wat dit beteken nie.  Hulle het nie ‘n idee wat dit beteken dat Jesus die Messias of Christus is nie, en dink dat dit sy van is.

 

Vir talle Christene in charismatiese en prosperity kerke, bestaan Jesus om hulle te genees, of om vir hulle geld, besittings en ‘n lekker gevoel te gee (v.26).  In hulle gedagtes is Jesus die genie wat bestaan om hulle wense te vervul, en nie die Seun van God voor wie hulle in aanbidding moet buig nie (Mt.14:33).

 

Ons moet egter nie haastig wees om die vinger na ander mense toe te wys nie. Ons self is soms maar traag om in die praktyk te glo dat Hy die Seun van God is.  Wanneer ons in ‘n moeilike situasie beland tree ons op asof Hy ons nie kan help nie.  Met ons lippe sê ons dat Hy die Seun van God is, maar ons biddeloosheid wys dat ons vir alle praktiese doeleindes ateïste is.  Soos Filippus tel ons hoeveel geld daar in die beursie is (v.7), en sit ons met ons hande in ons hare.  Soos Andreas dink ons dat nie eers Jésus met vyf broodjies en twee vissies iets kan doen nie.  Ons probeer om onsself uit te help en raak dan moedeloos omdat daar nie ‘n oplossing is nie, maar nogsteeds draai ons nie in gebed na Hom toe nie.  Ons het nie omdat ons nie bid nie (Jk.4:2).

 

Wanneer die Here ons dan uithelp is ons bly en prys ons Hom (v.14). Maar ons vergeet gou, en kort voor lank verhard ons ons harte (Mk.6:52).  Ons geniet die Here se gawes en dink glad nie daaraan dat Hy eintlik vir ons wil wys wie Hy is nie:  ‘n liefdevolle Verlosser en Vriend wat in al ons behoeftes voorsien en sy kinders nooit sal vergeet nie (Heb.13:5).  Ons onthou nie dat Hy die vorige keer soveel vir ons voorsien het, dat dit eintlik te veel was nie (v.13).  Sodra die nood druk, dan twyfel ons weer.  Ons glo nie dat Hy die wonderwerk kan herhaal nie (Mt.15:33).

 

In sy liefde help Hy ons weer (Mt.14:13-21, 15:32-39).  Weer ‘n keer prys ons Hom, maar sodra die volgende beproewing tref raak ons paniekerig.  Ons glo nogsteeds nie dat Hy die Seun van God is, en dat Hy enigiets kan doen nie (Mk.8:14-21).  Het ons vergeet dat Jesus uit ‘n seuntjie se kosblik vir 15 000 tot 20 000 mense aandete kan gee?  Het ons vergeet dat Hy op water kan loop, ‘n storm kan stilmaak, dooies kan opwek, siekes genees, blindes laat sien, en self uit die dood uit opgestaan het?  En as Hy dít gedoen het, kan Hy ons nie in óns beproewing help nie?  Kan Hy nie ons gebede beantwoord nie?

 

Ons moet besef dat ongeloof ‘n ernstige sonde is (16:9). Spurgeon het dit genoem ‘the monarch sin, the quitessence of guilt, the mixture of the venom of all crimes, the dregs of the wine of Gomorrah; it is the A1 sin, the masterpiece of Satan, the chief work of the devil… Unbelief is a Beelzebub sin; like Beelzebub, it is the leader of all evil spirits… it is the egg of all crime, the seed of every offence; in fact, everything that is evil and vile lies couched in that one word – unbelief.’[2]

 

Alhoewel ongeloof ‘n ernstige sonde is, kan dit vergewe word (1 Tm.1:13). As jy nog nooit geglo het dat Jesus die Seun van God is nie, moet jy die volgende doen:  lees stadig en noukeurig deur Johannes-Evangelie.  Bid dat die Here vir jou sal wys dat Jesus die Seun van God is.  Erken dat jy teen God gelaster het omdat jy nie sy getuienis aangaande sy Seun geglo het nie (1 Jh.5:10b).  Dank dat die Here dat Jesus die skuld vir al ons sondes (ook ongeloof) op Homself geneem het aan die kruis, en dat Hy daarvoor gestraf is.  Erken dat sy opstanding die finale spyker in die doodskis van ongeloof is, omdat dit eens en vir altyd bewys het dat Hy die Seun van God is (Rm.1:4).  Glo en vertrou dat Hy jou sonde kan vergewe.  Glo sy belofte dat dié wat hulle bekeer en na Hom toe uitroep, gered sal word (Rm.10:13).

 

Is jy alreeds ‘n gelowige? Jesus wil hê jy moet in sy liefde, krag, wysheid en goedheid glo.  Hy wil hê dat jy in die teorie en in die praktyk moet glo dat Hy die Seun van God is.  Wees dankbaar dat Hy geduldig en genadig is wanneer ons twyfel, maar weet ook dat dit Hom bedroef.  Bely die sonde van ongeloof as jy dit in jou hart sien, en lewe vreesloos, heilig, gehoorsaam, toegewyd en opreg soos iemand wat regtig glo dat Hy die Seun van God is.

 

‘n Paar jaar gelede was my broer verbaas om te hoor dat die Jehova’s Getuies glo dat Jesus die Seun van God is. Hy het gou agtergekom dat hulle nie dieselfde daarmee bedoel as ons nie.  In hulle gedagtes is Jesus net ‘n skepsel, en is Hy nie gelyk met die Vader nie.  Maar dit is nie wat die Bybel bedoel wanneer dit sê dat Jesus die Seun van God is nie.  Die wonderwerke in Jh.6:1-21 wil vir ons wys dat Jesus die Seun van God is, en dat Hy gelyk is met die Vader self (sien 5:18, 10:33, 36).

 

[1] http://news.nationalgeographic.com/news/2004/11/1116_041116_jesus_lizard.html en https://en.wikipedia.org/wiki/Common_basilisk

[2] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, pp.227-228

’n Oop brief aan gereformeerde kerke

broken heart

Wat bedoel ek met gereformeerde kerke? Ek praat nie hier van ‘n denominasie nie (die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika), alhoewel baie van hulle onder my definisie ingesluit word.  Ek praat van gemeentes wat die basiese teologie van die reformasie aanhang:

 

God is soewerein in verlossing, die Skrif is die enigste gesag vir geloof en lewe, ons word gered uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen, ons moet lewe vir die eer van God alleen. Ek praat van kerke wat die Skrif uitlê of eksposeer, kerke wat Bybelse kerkdissipline toepas, kerke wat die evangelie suiwer verkondig.  Sonder om arrogant te wees:  ek praat van kerke soos ons s’n.

 

Die gevaar bestaan egter daarin dat ons dink die Here is tevrede met ons, omdat ons ‘n suiwer teologie het. En as dít die geval is het Jesus in Op.2:1-7 ‘n appeltjie met ons te skil.

 

Die aanhef (v.1)

Die stigters van die Afrikaanse Baptistekerke het ‘n groter evangelisasie ywer gehad as ons. Hulle was egter onwys om gemeentes in klein dorpies te plant en nie in die stede nie.  As hulle in die stede begin het sou dit outomaties na die omliggende dorpe toe uitgebrei het.

 

Efese was ‘n groot handelsentrum, omtrent 5 km van die Turkse weskus af. Die stad was veral bekend vir die tempel van Diana, wat ook een van die sewe wonders van die antieke wêreld was.  Vir Paulus om dus ‘n kerk daar te plant was ‘n baie slim skuif (Hd.18:19-20).  Hy het vir drie jaar lank daar gepreek (Hd.20:17, 31).  Ander groot predikers in Efese was Apollos en Timoteus (Hd.18:24-25, 1 Tm.1:3).  Volgens oorlewering het ook Johannes in Efese gepreek en sy laaste jare daar deurgebring.

 

Die brief word aan die engel van die gemeente in Efese gerig (v.1). Omdat die Bybel nêrens sê dat elke gemeente sy eie engel het nie, verwys aggelos (Gk. vir ‘boodskapper’) meer waarskynlik na die leraar van die gemeente.  Die feit dat daar een boodskapper per gemeente is beteken nie dat hy die enigste leier was nie (Hd.20:17, 28), maar eerder dat hy ‘n leier onder leiers was (soos Petrus onder die apostels).

 

Jesus word beskryf as Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou en tussen die sewe goue kandelare loop (v.1, 1:12-13, 16). Die sewe sterre is die sewe leraars, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes (1:20).  Die leraars en gemeentes moes soos sterre en ligte in ‘n donker wêreld skyn (Dn.12:3, Fil.2:15, Mt.5:14-16).  Die leraars was veilig in Christus se regterhand (v.1, Jh.10:28).

 

Die komplement (v.2-3, 6)

Oor die afgelope twee dekades is daar artikels en boeke geskryf, konferensies en seminare gereël om toe te sien dat die kerk na die Bybel toe moet terugkeer. Die oogmerk was om te sorg dat suiwer leerstelling, eksposerende prediking, ‘n Bybelse verstaan van wat die kerk is, en die toepassing van kerkdissipline weer sy regmatige plek moet inneem.  Die mense wat hierby betrokke was het tot ‘n groot mate hulle doel bereik.

 

Ons begeerte is dat baie gemeentes hierdeur beïnvloed sal word, en dat hulle in hierdie opsig soos die Efesiërs sal wees (v.2-3, 6). Lees gerus weer die Efesiër-brief om te sien watse soliede Bybelse lering hulle ontvang het.

 

In sy perfekte kennis (Jh.2:24-25) het Jesus alles van die Efesiërs se goeie werke, harde arbeid en geduldige volharding in die vervolging geweet (v.2-3, 1:9, Hd.20:35, 19:23). Hy het geweet dat hulle nie sonde verdra het nie, maar getrou was om kerkdissipline toe te pas (v.2).  Verder het hulle Paulus se waarskuwing ter harte geneem om die vals leraars uit te ken (v.2, Hd.20:29-30, 1 Tm.1:3, 1 Jh.4:1-6, 2 Kor.11:13, 1 Ts.5:20-21).

 

Ware liefde vir Christus haat sonde (v.4, 6, Rm.12:9, 2 Kron.19:2). Daarom het die Efesiërs, soos Jesus, die werke van die Nikolaïete gehaat (v.6).  Die Nikolaïete was dissipels van ‘n sekere Nikolaus.  Sommige kerkvaders soos Ireneus en Hippolitus het gesê dat Nikolaus een van Hd.6:5 se sewe diakens was wat in dwaling verval het.[1] Ons kan dit egter nie vir ‘n feit aanvaar nie.  Uit v.14-15 lyk dit of die Nikolaïete Bileam se voorbeeld nagevolg het, en die gelowiges aangemoedig het om in seksuele losbandigheid en afgodery betrokke te raak (kontr. Hd.15:29).

 

Die vermaning (v.4-5)

Toe ek in Nelspruit jeugleraar was, het ‘n ander gemeente my genader om hulle leraar te wees. In die onderhoud het hulle gevra:  ‘Is dit vir jou belangriker om die gemeente te onderrig of om sendingwerk te doen; om na binne of na buite te fokus?’  Uit wat ek kon aflei het hulle gehoop dat ek op die gemeente sal fokus en nie op die ongelowiges wat buite die gemeente is nie.  Efese het dieselfde fout gemaak.  Dit was nie verkeerd dat hulle op gesonde lering gefokus het nie (v.2-3, 6), maar hulle het dit gedoen ten koste van hulle liefde vir Jesus Christus en hulle getuienis in die wêreld.

 

Ten spyte dan van die goeie dinge in Efese, het hulle hulle eerste liefde vir Jesus verlaat soos ‘n slegte vrou wat haar man los (v.4, Gk. aphiēmi, 1 Kor.7:11-12, Jer.2:2).  Hulle goeie werke, harde arbeid, geduldige volharding, haat vir sonde en ongeduld met vals lering was nie gedryf deur ‘n brandende liefde vir Jesus en hulle naaste nie, en dit kon ook nie daarvoor opmaak nie (v.4, 2-3, 6, kontr. Ef.1:15, 3:17-19).

 

Om hulle eerste liefde te herwin, moes hulle drie dinge gedoen het:

 

[1] Hulle moes teruggedink het aan hulle bekering en aan die liefde wat hulle tóé gehad het (v.5).

 

[2] Hulle moes hulle bekeer het en nie ‘n tree verder op die verkeerde pad geloop het nie (v.5).

 

[3] Hulle moes nie net hard vir die Here gewerk het nie (v.2), maar moes dit soos voorheen met ‘n suiwer motief van liefde vir Jesus gedoen het (v.5).

 

Indien hulle dit nie gedoen het nie, sou Jesus na hulle toe gekom het om die kerslig van hulle evangelie-getuienis dood te blaas (v.5). Om die kandelaar te verwyder beteken nie ‘n Christen kan sy redding verloor nie.  Dit beteken eerder dat Jesus ‘n gemeente se deure toemaak, omdat hulle so op soliede lering fokus dat hulle nie meer die evangelie-lig in die wêreld skyn nie.  Soos met ontroue Israel, het Jesus Efese se lig uitgedoof.  Vandag oorheers Islam die gebied.

 

Die opdrag (v.7a)

Die Jesus van die meeste kunswerke is ‘n sag en verfynde Jesus met ‘n traan in sy oog. Hy is die Jesus van sommige mense se teologie:  ‘n Jesus wat deur sondaars gemanupileer word en niks kan doen sonder hulle toestemming nie.  Die Jesus van die Bybel is liefdevol en ferm; Hy vereis dat mense onderdanig moet wees en die knie voor Hom moet buig.  Dit is presies wat Hy in v.7a met die Efesiërs gedoen het.

 

Elkeen met ‘n oor moes gehoor het wat die Gees vir die gemeentes sê (v.7a). Hulle moes dus nie net hulle eie brief nie, maar ook die ander ses gemeentes s’n gelees het.  Hulle moes dit nie bloot as Johannes se woorde beskou het nie, maar as God se woorde wat deur die Gees geïnspireer is (2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).  Wie is dié wat ‘n oor het?  Dit is dié wie se geestelike ore oopgemaak is, m.a.w. gelowiges (Mt.13:9-18, Hd.28:26-27).

 

Die belofte (v.7b)

Almal van ons is bekend met Nike sportdrag. Nike kom van ‘n Griekse woord van oorwinnaar beteken.  Dit is op dié woord wat Johannes in v.6-7 sinspeel.  Die woord ‘Nikolaïete’ in v.6 kom van dié stam af (name soos Nico en Nicole ook).  In v.7b sê Jesus dat daar ‘n beloning wag vir almal wat ‘n koue hart en die wêreld se sonde teëstaan en oorwin (1 Jh.5:4-5, Rm.8:37).  Húlle, en nie die Nikolaïete nie, is die ware oorwinnaars.  Die een wat enduit volhard en oorwin kan in die hemelse stad ingaan en van die boom van die lewe eet wat in die paradys van God of die nuwe Jerusalem is (v.7b, 22:2, 14, Gn.3:22-24).  Anders gestel:  hy of sy sal die ewige lewe hê.

 

Die toepassing

Leer uit Jesus se brief aan die Efesiërs. Moenie soos sommige Christene wees wat daarin roem dat hulle nie Christelike boeke lees nie.  Dit is niks anders as geestelike hoogmoed nie.  As jy nie uit ander se sterkpunte en foute uit leer nie, sal jy en jou gemeente slegter af wees en sal Jesus dalk besluit om julle deure toe te maak.

 

Soos die Efesiërs moet ons seker maak dat ons nie geestelik lui is nie, maar hard werk (v.2). Ons moenie sonde onder die mat invee nie, maar moet Bybelse tug toepas (v.2).  Ons moenie bang wees om op mense se tone te trap nie, maar moet vals leraars uitwys (v.2).  Ons moet ons Bybels beter ken, sodat ons nie val vir hulle dwaling nie (v.2, 6).  Ons moenie oppervlakkige Christene wees wat uitsak as ons teenstand kry nie, maar moet weet wat dit beteken om vas te byt (v.2-3).

 

Ons moet egter nie so hierop fokus dat ons liefdeloos word nie. In ons poging om vals lering uit te ken moet ons nie ‘heresy hunters’ wees wat alewig splinters in ander mense se oë soek nie.  Die gevaar bestaan dat ons iemand as ‘n vals leraar bestempel, omdat hy nie 100% met ons saamstem nie.  Ons kan later begin dink dat ons meer geestelik is as dié wat nie gereformeerd is nie.  Dit is baie moontlik vir ‘n gemeente om teologies ortodoks (Bybels suiwer) te wees met ‘n koue hart.

 

Hoe lyk dit met jou? Het jy gegroei in jou kennis van die Bybel, maar jou liefde vir die Here het verflou?  Het jy Hom nog so lief soos voorheen?  Daar was ‘n tyd toe dit vir jou lekker was om kerk toe te kom, die Here te prys, sy Woord te hoor, gehoorsaam te wees, vir mense van Jesus te vertel, tyd deur te bring in gebed, jou broers en susters te bedien.

 

Dit is nie dat jy van die samekomste af wegbly nie (of miskien is dit?), maar jou hart is koud. Jou lewe draai om jou werk en gesin, sodat jy nie meer tyd het vir die Here en vir ander mense nie.  Dalk het jy soos Marta so besig geraak om die Here te dien, dat jy nagelaat het om saam met Maria vir Hom lief te wees en aan sy voete te sit (Lk.10:38-42).  Het die suiwer teologie van preke en boeke vir jou belangriker geword as om die Here lief te hê en te gehoorsaam?  Onthou hoe Paulus gesê dat hierdie dinge sonder liefde niks is nie (1 Kor.13:2-3).

 

Spurgeon het gewaarsku teen prediking wat daarop fokus om Bybels suiwer te wees, maar nie omgee dat mense verlore gaan nie.[2]  Ek weet dat ek persoonlik in hierdie strik getrap het, en dat ons gemeente ook hieraan skuldig is.  Oor die afgelope jare het suiwer lering sending en evangelisasie eenkant toe geskuif.  Ek wil nie hê jy moet my verkeerd verstaan nie – suiwer lering is belangrik (v.2-3, 6).  Die punt is eerder dat suiwer lering sonder liefde koud is (v.4).  Jesus beskou dit in ‘n baie ernstige lig.  Hy is teen sulke kerke en sal hulle deure toemaak (v.4-5).

 

Neem asseblief die volgende dinge in ag:

 

  • Efese was lief vir Jesus. Die probleem was dat Hy nie meer haar eerste liefde was nie (v.4). Sy was so vermetel soos ‘n vrou wat haar man vir iemand anders los en dan vir hom sê: ‘Ek sal altyd vir jou lief bly.’
  • Om jou eerste liefde te verlaat gebeur nie oornag nie. Jy dwaal treetjie vir treetjie weg, en as jy weer kyk het jy ver geval (v.5). Dit is soos iemand wat nie eers agterkom dat hy nie meer tussen die vlaggies swem nie, en voordat hy besef het die stroom hom ingetrek.

 

Hoe moet ons dit dan regstel? Dink aan die tye toe jy geestelik op jou sterkste was.  Dink aan die seisoene toe die gemeente vurig was in haar liefde vir Jesus; toe die lidmate na mekaar en na die verlore wêreld toe uitgereik het.  Ons kan egter nie net dagdroom, planne maak en hoop dat die warm gevoel terugkeer nie.  Ons moet doen wat ons voorheen gedoen het (v.5).

 

Jy hoef nie vir ‘n paar weke of maande te wag nie. Jy kan jou onmiddellik bekeer en vergewe word.  As gemeente moet ons weer die eerste werke doen (v.5).  Soos in die verlede moet ons betrokke raak in sending en evangelisasie, ‘n opregte toewyding aan die Here hê, en in liefde na mekaar toe uitreik.

 

‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê: ‘Ek haat gereformeerde teologie.  Dit is negatief en depressief.’  Ek stem nie met hom saam nie.  Na my mening is geen teologie so suiwer soos die teologie van Jesus, Paulus, die hervormers, die Westminster en Heidelbergse kategismus, die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis, die Puriteine, Charles Spurgeon, Martyn Lloyd-Jones, John MacArthur, en vele ander nie.  Ons moet egter nie deur ons koue en liefdelose harte vir mense rede gee om te sê dat ons teologie negatief en depressief is, of dat ons die ‘frozen chosen’ is nie.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder ‘Nicolaitans’

[2] Iain H. Murray, Spurgeon v. Hyper-Calvinism, p.99