’n Oop brief aan gereformeerde kerke

broken heart

Wat bedoel ek met gereformeerde kerke? Ek praat nie hier van ‘n denominasie nie (die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika), alhoewel baie van hulle onder my definisie ingesluit word.  Ek praat van gemeentes wat die basiese teologie van die reformasie aanhang:

 

God is soewerein in verlossing, die Skrif is die enigste gesag vir geloof en lewe, ons word gered uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen, ons moet lewe vir die eer van God alleen. Ek praat van kerke wat die Skrif uitlê of eksposeer, kerke wat Bybelse kerkdissipline toepas, kerke wat die evangelie suiwer verkondig.  Sonder om arrogant te wees:  ek praat van kerke soos ons s’n.

 

Die gevaar bestaan egter daarin dat ons dink die Here is tevrede met ons, omdat ons ‘n suiwer teologie het. En as dít die geval is het Jesus in Op.2:1-7 ‘n appeltjie met ons te skil.

 

Die aanhef (v.1)

Die stigters van die Afrikaanse Baptistekerke het ‘n groter evangelisasie ywer gehad as ons. Hulle was egter onwys om gemeentes in klein dorpies te plant en nie in die stede nie.  As hulle in die stede begin het sou dit outomaties na die omliggende dorpe toe uitgebrei het.

 

Efese was ‘n groot handelsentrum, omtrent 5 km van die Turkse weskus af. Die stad was veral bekend vir die tempel van Diana, wat ook een van die sewe wonders van die antieke wêreld was.  Vir Paulus om dus ‘n kerk daar te plant was ‘n baie slim skuif (Hd.18:19-20).  Hy het vir drie jaar lank daar gepreek (Hd.20:17, 31).  Ander groot predikers in Efese was Apollos en Timoteus (Hd.18:24-25, 1 Tm.1:3).  Volgens oorlewering het ook Johannes in Efese gepreek en sy laaste jare daar deurgebring.

 

Die brief word aan die engel van die gemeente in Efese gerig (v.1). Omdat die Bybel nêrens sê dat elke gemeente sy eie engel het nie, verwys aggelos (Gk. vir ‘boodskapper’) meer waarskynlik na die leraar van die gemeente.  Die feit dat daar een boodskapper per gemeente is beteken nie dat hy die enigste leier was nie (Hd.20:17, 28), maar eerder dat hy ‘n leier onder leiers was (soos Petrus onder die apostels).

 

Jesus word beskryf as Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou en tussen die sewe goue kandelare loop (v.1, 1:12-13, 16). Die sewe sterre is die sewe leraars, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes (1:20).  Die leraars en gemeentes moes soos sterre en ligte in ‘n donker wêreld skyn (Dn.12:3, Fil.2:15, Mt.5:14-16).  Die leraars was veilig in Christus se regterhand (v.1, Jh.10:28).

 

Die komplement (v.2-3, 6)

Oor die afgelope twee dekades is daar artikels en boeke geskryf, konferensies en seminare gereël om toe te sien dat die kerk na die Bybel toe moet terugkeer. Die oogmerk was om te sorg dat suiwer leerstelling, eksposerende prediking, ‘n Bybelse verstaan van wat die kerk is, en die toepassing van kerkdissipline weer sy regmatige plek moet inneem.  Die mense wat hierby betrokke was het tot ‘n groot mate hulle doel bereik.

 

Ons begeerte is dat baie gemeentes hierdeur beïnvloed sal word, en dat hulle in hierdie opsig soos die Efesiërs sal wees (v.2-3, 6). Lees gerus weer die Efesiër-brief om te sien watse soliede Bybelse lering hulle ontvang het.

 

In sy perfekte kennis (Jh.2:24-25) het Jesus alles van die Efesiërs se goeie werke, harde arbeid en geduldige volharding in die vervolging geweet (v.2-3, 1:9, Hd.20:35, 19:23). Hy het geweet dat hulle nie sonde verdra het nie, maar getrou was om kerkdissipline toe te pas (v.2).  Verder het hulle Paulus se waarskuwing ter harte geneem om die vals leraars uit te ken (v.2, Hd.20:29-30, 1 Tm.1:3, 1 Jh.4:1-6, 2 Kor.11:13, 1 Ts.5:20-21).

 

Ware liefde vir Christus haat sonde (v.4, 6, Rm.12:9, 2 Kron.19:2). Daarom het die Efesiërs, soos Jesus, die werke van die Nikolaïete gehaat (v.6).  Die Nikolaïete was dissipels van ‘n sekere Nikolaus.  Sommige kerkvaders soos Ireneus en Hippolitus het gesê dat Nikolaus een van Hd.6:5 se sewe diakens was wat in dwaling verval het.[1] Ons kan dit egter nie vir ‘n feit aanvaar nie.  Uit v.14-15 lyk dit of die Nikolaïete Bileam se voorbeeld nagevolg het, en die gelowiges aangemoedig het om in seksuele losbandigheid en afgodery betrokke te raak (kontr. Hd.15:29).

 

Die vermaning (v.4-5)

Toe ek in Nelspruit jeugleraar was, het ‘n ander gemeente my genader om hulle leraar te wees. In die onderhoud het hulle gevra:  ‘Is dit vir jou belangriker om die gemeente te onderrig of om sendingwerk te doen; om na binne of na buite te fokus?’  Uit wat ek kon aflei het hulle gehoop dat ek op die gemeente sal fokus en nie op die ongelowiges wat buite die gemeente is nie.  Efese het dieselfde fout gemaak.  Dit was nie verkeerd dat hulle op gesonde lering gefokus het nie (v.2-3, 6), maar hulle het dit gedoen ten koste van hulle liefde vir Jesus Christus en hulle getuienis in die wêreld.

 

Ten spyte dan van die goeie dinge in Efese, het hulle hulle eerste liefde vir Jesus verlaat soos ‘n slegte vrou wat haar man los (v.4, Gk. aphiēmi, 1 Kor.7:11-12, Jer.2:2).  Hulle goeie werke, harde arbeid, geduldige volharding, haat vir sonde en ongeduld met vals lering was nie gedryf deur ‘n brandende liefde vir Jesus en hulle naaste nie, en dit kon ook nie daarvoor opmaak nie (v.4, 2-3, 6, kontr. Ef.1:15, 3:17-19).

 

Om hulle eerste liefde te herwin, moes hulle drie dinge gedoen het:

 

[1] Hulle moes teruggedink het aan hulle bekering en aan die liefde wat hulle tóé gehad het (v.5).

 

[2] Hulle moes hulle bekeer het en nie ‘n tree verder op die verkeerde pad geloop het nie (v.5).

 

[3] Hulle moes nie net hard vir die Here gewerk het nie (v.2), maar moes dit soos voorheen met ‘n suiwer motief van liefde vir Jesus gedoen het (v.5).

 

Indien hulle dit nie gedoen het nie, sou Jesus na hulle toe gekom het om die kerslig van hulle evangelie-getuienis dood te blaas (v.5). Om die kandelaar te verwyder beteken nie ‘n Christen kan sy redding verloor nie.  Dit beteken eerder dat Jesus ‘n gemeente se deure toemaak, omdat hulle so op soliede lering fokus dat hulle nie meer die evangelie-lig in die wêreld skyn nie.  Soos met ontroue Israel, het Jesus Efese se lig uitgedoof.  Vandag oorheers Islam die gebied.

 

Die opdrag (v.7a)

Die Jesus van die meeste kunswerke is ‘n sag en verfynde Jesus met ‘n traan in sy oog. Hy is die Jesus van sommige mense se teologie:  ‘n Jesus wat deur sondaars gemanupileer word en niks kan doen sonder hulle toestemming nie.  Die Jesus van die Bybel is liefdevol en ferm; Hy vereis dat mense onderdanig moet wees en die knie voor Hom moet buig.  Dit is presies wat Hy in v.7a met die Efesiërs gedoen het.

 

Elkeen met ‘n oor moes gehoor het wat die Gees vir die gemeentes sê (v.7a). Hulle moes dus nie net hulle eie brief nie, maar ook die ander ses gemeentes s’n gelees het.  Hulle moes dit nie bloot as Johannes se woorde beskou het nie, maar as God se woorde wat deur die Gees geïnspireer is (2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).  Wie is dié wat ‘n oor het?  Dit is dié wie se geestelike ore oopgemaak is, m.a.w. gelowiges (Mt.13:9-18, Hd.28:26-27).

 

Die belofte (v.7b)

Almal van ons is bekend met Nike sportdrag. Nike kom van ‘n Griekse woord van oorwinnaar beteken.  Dit is op dié woord wat Johannes in v.6-7 sinspeel.  Die woord ‘Nikolaïete’ in v.6 kom van dié stam af (name soos Nico en Nicole ook).  In v.7b sê Jesus dat daar ‘n beloning wag vir almal wat ‘n koue hart en die wêreld se sonde teëstaan en oorwin (1 Jh.5:4-5, Rm.8:37).  Húlle, en nie die Nikolaïete nie, is die ware oorwinnaars.  Die een wat enduit volhard en oorwin kan in die hemelse stad ingaan en van die boom van die lewe eet wat in die paradys van God of die nuwe Jerusalem is (v.7b, 22:2, 14, Gn.3:22-24).  Anders gestel:  hy of sy sal die ewige lewe hê.

 

Die toepassing

Leer uit Jesus se brief aan die Efesiërs. Moenie soos sommige Christene wees wat daarin roem dat hulle nie Christelike boeke lees nie.  Dit is niks anders as geestelike hoogmoed nie.  As jy nie uit ander se sterkpunte en foute uit leer nie, sal jy en jou gemeente slegter af wees en sal Jesus dalk besluit om julle deure toe te maak.

 

Soos die Efesiërs moet ons seker maak dat ons nie geestelik lui is nie, maar hard werk (v.2). Ons moenie sonde onder die mat invee nie, maar moet Bybelse tug toepas (v.2).  Ons moenie bang wees om op mense se tone te trap nie, maar moet vals leraars uitwys (v.2).  Ons moet ons Bybels beter ken, sodat ons nie val vir hulle dwaling nie (v.2, 6).  Ons moenie oppervlakkige Christene wees wat uitsak as ons teenstand kry nie, maar moet weet wat dit beteken om vas te byt (v.2-3).

 

Ons moet egter nie so hierop fokus dat ons liefdeloos word nie. In ons poging om vals lering uit te ken moet ons nie ‘heresy hunters’ wees wat alewig splinters in ander mense se oë soek nie.  Die gevaar bestaan dat ons iemand as ‘n vals leraar bestempel, omdat hy nie 100% met ons saamstem nie.  Ons kan later begin dink dat ons meer geestelik is as dié wat nie gereformeerd is nie.  Dit is baie moontlik vir ‘n gemeente om teologies ortodoks (Bybels suiwer) te wees met ‘n koue hart.

 

Hoe lyk dit met jou? Het jy gegroei in jou kennis van die Bybel, maar jou liefde vir die Here het verflou?  Het jy Hom nog so lief soos voorheen?  Daar was ‘n tyd toe dit vir jou lekker was om kerk toe te kom, die Here te prys, sy Woord te hoor, gehoorsaam te wees, vir mense van Jesus te vertel, tyd deur te bring in gebed, jou broers en susters te bedien.

 

Dit is nie dat jy van die samekomste af wegbly nie (of miskien is dit?), maar jou hart is koud. Jou lewe draai om jou werk en gesin, sodat jy nie meer tyd het vir die Here en vir ander mense nie.  Dalk het jy soos Marta so besig geraak om die Here te dien, dat jy nagelaat het om saam met Maria vir Hom lief te wees en aan sy voete te sit (Lk.10:38-42).  Het die suiwer teologie van preke en boeke vir jou belangriker geword as om die Here lief te hê en te gehoorsaam?  Onthou hoe Paulus gesê dat hierdie dinge sonder liefde niks is nie (1 Kor.13:2-3).

 

Spurgeon het gewaarsku teen prediking wat daarop fokus om Bybels suiwer te wees, maar nie omgee dat mense verlore gaan nie.[2]  Ek weet dat ek persoonlik in hierdie strik getrap het, en dat ons gemeente ook hieraan skuldig is.  Oor die afgelope jare het suiwer lering sending en evangelisasie eenkant toe geskuif.  Ek wil nie hê jy moet my verkeerd verstaan nie – suiwer lering is belangrik (v.2-3, 6).  Die punt is eerder dat suiwer lering sonder liefde koud is (v.4).  Jesus beskou dit in ‘n baie ernstige lig.  Hy is teen sulke kerke en sal hulle deure toemaak (v.4-5).

 

Neem asseblief die volgende dinge in ag:

 

  • Efese was lief vir Jesus. Die probleem was dat Hy nie meer haar eerste liefde was nie (v.4). Sy was so vermetel soos ‘n vrou wat haar man vir iemand anders los en dan vir hom sê: ‘Ek sal altyd vir jou lief bly.’
  • Om jou eerste liefde te verlaat gebeur nie oornag nie. Jy dwaal treetjie vir treetjie weg, en as jy weer kyk het jy ver geval (v.5). Dit is soos iemand wat nie eers agterkom dat hy nie meer tussen die vlaggies swem nie, en voordat hy besef het die stroom hom ingetrek.

 

Hoe moet ons dit dan regstel? Dink aan die tye toe jy geestelik op jou sterkste was.  Dink aan die seisoene toe die gemeente vurig was in haar liefde vir Jesus; toe die lidmate na mekaar en na die verlore wêreld toe uitgereik het.  Ons kan egter nie net dagdroom, planne maak en hoop dat die warm gevoel terugkeer nie.  Ons moet doen wat ons voorheen gedoen het (v.5).

 

Jy hoef nie vir ‘n paar weke of maande te wag nie. Jy kan jou onmiddellik bekeer en vergewe word.  As gemeente moet ons weer die eerste werke doen (v.5).  Soos in die verlede moet ons betrokke raak in sending en evangelisasie, ‘n opregte toewyding aan die Here hê, en in liefde na mekaar toe uitreik.

 

‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê: ‘Ek haat gereformeerde teologie.  Dit is negatief en depressief.’  Ek stem nie met hom saam nie.  Na my mening is geen teologie so suiwer soos die teologie van Jesus, Paulus, die hervormers, die Westminster en Heidelbergse kategismus, die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis, die Puriteine, Charles Spurgeon, Martyn Lloyd-Jones, John MacArthur, en vele ander nie.  Ons moet egter nie deur ons koue en liefdelose harte vir mense rede gee om te sê dat ons teologie negatief en depressief is, of dat ons die ‘frozen chosen’ is nie.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder ‘Nicolaitans’

[2] Iain H. Murray, Spurgeon v. Hyper-Calvinism, p.99