Nóg bewyse dat Jesus die Seun van God is

Jesus walking on water

My haarkapper is ‘n Moslem. Ek het eenkeer vir hom gesê dat Jesus die Seun van God is.  Hy het vir my gesê:  ‘Die feit dat God sy lewensasem in Adam se neus ingeblaas het beteken nie dat hy die Seun van God is nie.  Daarom is dit ook nie nodig om te sê dat Jesus die Seun van God is, net omdat Hy uit ‘n maagd gebore is nie.’  Natuurlik wys die maagdelike geboorte dat Hy die Seun van God is.  Maar daar is ook baie ander bewyse dat Hy die Seun van God is.  In Jh.6:1-21 het ons twee voorbeelde hiervan.

 

Hy het die brood en die vis vermeerder (v.1-15)

Ek het eenkeer gesien hoe ‘n kulkunstenaar die mense met sy toertjies verstom. Sy handlanger het ‘per ongeluk’ die toertjies weggegee.  Die toertjies wat die mense verbaas het was niks meer as oë-verblindery nie.  Dit was egter nie so met Jesus se wonderwerke nie.  Om brood en vis te vermeerder, sodat ‘n paar duisend mense kos het is nie maar net ‘n oulike toertjie nie – dis ‘n wonderwerk wat vir ons wys dat Jesus die Seun van God is.

 

In 5:1 was Jesus by die Fees in Jerusalem. Nou – ‘n paar maande of ‘n jaar later (v.4) – is Hy in Galilea (v.1).  Hy het sopas gehoor dat Herodes vir Johannes die Doper onthoof het (Mt.14:13).  Omdat Hy alleen wou wees, het Hy na Betsaida aan noord-oos kus van die See van Galilea of Tiberias toe gevaar (v.1, Lk.9:10).  Volgens Mk.6:31-32 wou Hy ook wegkom sodat sy dissipels kon rus.

 

Die skare het gesien hoe Jesus in die boot klim, en het solank aan die ander kant vir Hom gaan wag (Mt.14:13, Mk.6:33). Hulle het vantevore gesien hoe Hy die siekes genees het (v.2), en wou gehad het dat Hy dit weer moes doen (Mt.16:14).  Hulle het nie vir Jesus gesoek nie, maar net sy tekens (v.26, 2:23-25).

 

Om te rus het Jesus saam met sy dissipels op die berg gaan sit (v.3). Toe Hy opkyk het Hy die skare na hulle toe sien aankom (v.5).  Die son het al laag in die lug gehang.  Die mense het kos nodig gehad, en die dissipels was ook honger (Mt.14:15, Mk.6:31).  Jesus het geweet wat Hy wou doen, maar het vir Filippus getoets om te sien of hy in die Seun van God glo (v.6, 14:8-9).  Het hy geglo dat Jesus vir baie mense kos kan gee, en dat Hý die God is wat vir Israel manna in die woestyn gegee het (Nm.11:21-23)?

 

Omdat Filippus van Betsaida af was (12:21), het Jesus vir hóm gevra waar die beste plek is om brood te koop (v.5). Volgens hom was 200 pennings (200 dae se betaling vir ‘n dagloner) nie genoeg om eers ‘n stukkie brood vir almal te voorsien nie (v.7, Mk.6:37).  Jesus het vir die dissipels gevra om te kyk hoeveel brood daar onder die skare is (Mk.6:38).  Andreas, Petrus se broer, het gesê dat daar ‘n seuntjie met vyf gars brode (‘n arm mans se kos) en twee vissies is (v.8-9).  Hy het gesê dat dit nie ‘n druppel in die emmer is vir so baie mense nie (v.9).

 

Jesus het vir die dissipels gesê om die mense in groepe van 50 en 100 op die groen gras te laat sit (v.10, Mk.6:39-40, Lk.9:14, Ps.23:2). Die getal van die mans alleen was omtrent 5000 (v.10, Mt.14:21).  Met die vroue en kinders saam kon daar maklik 15 000 tot 20 000 mense gewees het.  Uit net vyf broodjies en twee vissies het Jesus vir hulle almal kos gegee!

 

Jesus het opgekyk, vir sy Vader dankie gesê en die kos geseën (v.11, Mt.14:19, Jk.1:17, 1 Tm.4:5). Hy het sy dissipels beveel om die brood en vis onder die mense te versprei (v.11, Mt.14:19).  Almal het geëet totdat hulle versadig was, sodat die twaalf dissipels elkeen ‘n mandjie vol van brood en vis opgetel het (v.12-13, Mk.6:43, Eks.16:18, Ef.3:20).  Ons weet nie of Jesus dit vir die seuntjie, die armes, of die dissipels gegee het nie.  Wat ons wel weet is dat Hy nie met kos wou mors nie.

 

Die skare het besef dat Jesus die Profeet is van wie Moses gepraat het (v.14, Dt.18:15, 18). Soos Elisa het Hy die brood vermeerder (2 Kon.4:42-44).  Maar alhoewel hulle geglo het dat Hy ‘n profeet is, het hulle nié geglo dat dit Hý is wat manna in die woestyn gegee het nie.  In hulle gedagtes het die Messias nie gekom om hulle van hulle sonde te red nie, maar om hulle van die Romeine se onderdrukking te red en gratis kos vir hulle te gee.  In hulle nasionale ywer het hulle besluit om met geweld vir Jesus koning te maak (v.15).  Hy het hulle egter huistoe gestuur en vir die dissipels gesê om oor die meer te vaar (Mt.14:22).  Toe Hy die mense verdaag het, het Hy in die berg ingegaan om te bid (v.15, Mt.14:23).

 

Hy het op die water geloop (v.16-21)

In Suid- en Sentraal-Amerika is daar ‘n akkedis wat die gewone basilisk of Jesus Christ Lizard genoem word. Volgens National Geograhic kan ‘n volwasse akkedis vir 5 meter op die water se oppervlak hardloop voordat dit sink en verder moet swem.  Omdat jonger akkedisse ligter is, kan hulle vir langer afstande hardloop.  Soos wat jy regop bly wanneer jy ‘n fiets se pedale trap, bly die akkedis regop wanneer hy met die swemvliese tussen sy tone op die water trap.[1]

 

Dit klink nogal oulik om hierdie akkedis met die Jesus te vergelyk, maar volgens die Bybel is daar opmerklike verskille. Jesus het nie maar net vir 5 of 10 meter op die water geloop en toe gesink nie, maar vir omtrent 5 km sonder om te sink (v.19).  Hy het nie op ‘n spieëlgladde wateroppervlak geloop nie, maar op ‘n onstuimige see (v.18-19, Mt.14:24-25).  Hy het nie swemvliese, momentum of spoed nodig gehad om Hom bo die water te hou nie.  Weereens was hierdie ‘n wonderwerk wat vir ons wys dat Jesus die Seun van God is.

 

Dit was aand toe die dissipels van die berg af geklim het om na die strand toe te gaan (v.16, Mt.14:15). Hulle het in die boot geklim en begin om die 3 km na Kapermaüm toe af te lê (v.16, aan die noorde kant van die meer).  Jesus het vir hulle gesê om van Betsaida Julias af te vaar na ‘n ander Betsaida toe wat naby Kapernaüm en Gennesaret was (v.17, Lk.9:10, Mk.6:45, 53).  Die naam Betsaida beteken ‘huis van vis’.  Langs die meer moes daar sekerlik meer as een ‘huis van vis’ gewees het.

 

Jesus het vir ‘n paar ure gebid (Mt.14:23, 25), sodat Hy teen donker nog nie by die dissipels was nie (v.17). Die see het onstuimig geraak, omdat daar ‘n sterk wind gewaai het (v.18).  Die golwe het teen die boot geslaan (Mt.14:24) en die wind het teen hulle gewaai, sodat hulle nie vordering gemaak het nie (Mk.6:48).  Hulle was tussen 4.5 en 5.5 km in die meer in toe Jesus op die water na hulle geloop het (v.19, Mt.14:24).  Liberale kommentators sê dat Hy op die strand of op ‘n sandbank geloop het, maar volgens v.18-19 het Jesus op onstuimige golwe geloop.

 

Jesus het tussen 03:00 en 06:00 in die oggend na hulle toe gekom (Mt.14:25). Die dissipels kon nie in die donker sien nie en het gedink dat Hy ‘n gees is (v.19, Mt.14:26, Lk.24:37).  Moenie te gou dink dat hulle bygelowig of irrasioneel was nie.  Hulle was heeltemal rasioneel.  Om te dink dat dit ‘n mens was wat op die water geloop het, sou irrasioneel gewees het.

 

Jesus wou verby hulle geloop het (Mk.6:48), maar omdat Hy hulle vrees gesien het, het Hy hulle gerus gestel en gesê dat dit Hý is (v.19-20). Die dissipels moes verstaan het dat Hy nie maar net ‘n gewone mens is nie.  Hy is die Here wat die see onder sy voete vertrap; die God wat die see beheer (Job 9:8, Ps.77:20, 93:4, Mk.4:39).

 

Toe Jesus in die boot ingeklim het, het die wind dadelik gaan lê (Mt.14:32). Sy dissipels het Hom as die Seun van God aanbid (Mt.14:33, Mk.6:51).  Toe Hy die brood en die vis vermeerder het, het hulle dit nie besef nie, en daarom moes Hy ook hiérdie teken doen (Mk.6:52).  Terwyl hulle Hom aanbid het, was hulle skielik by die kus (v.21).  Deur hulle wonderbaarlik en veilig by hulle bestemming uit te bring, het Jesus gewys dat Hy die God van Ps.107:29-30 is.

 

Dié wat glo dat Jesus die Seun van God is sal die ewige lewe hê (20:31), terwyl dié wat nie glo nie in die hel sal beland (3:18). Glo daarom dat Jesus die Seun van God is.  Moet dit nie net in teorie doen nie.  Baie Suid-Afrikaners glo hierdie waarheid in hulle koppe, maar dit affekteer nie hulle lewens nie.  Hulle het in die kerk groot geword en weet dat Jesus die Here, Verlosser, en Seun van God is, maar soos die Jode in v.14-15 weet hulle nie wat dit beteken nie.  Hulle het nie ‘n idee wat dit beteken dat Jesus die Messias of Christus is nie, en dink dat dit sy van is.

 

Vir talle Christene in charismatiese en prosperity kerke, bestaan Jesus om hulle te genees, of om vir hulle geld, besittings en ‘n lekker gevoel te gee (v.26).  In hulle gedagtes is Jesus die genie wat bestaan om hulle wense te vervul, en nie die Seun van God voor wie hulle in aanbidding moet buig nie (Mt.14:33).

 

Ons moet egter nie haastig wees om die vinger na ander mense toe te wys nie. Ons self is soms maar traag om in die praktyk te glo dat Hy die Seun van God is.  Wanneer ons in ‘n moeilike situasie beland tree ons op asof Hy ons nie kan help nie.  Met ons lippe sê ons dat Hy die Seun van God is, maar ons biddeloosheid wys dat ons vir alle praktiese doeleindes ateïste is.  Soos Filippus tel ons hoeveel geld daar in die beursie is (v.7), en sit ons met ons hande in ons hare.  Soos Andreas dink ons dat nie eers Jésus met vyf broodjies en twee vissies iets kan doen nie.  Ons probeer om onsself uit te help en raak dan moedeloos omdat daar nie ‘n oplossing is nie, maar nogsteeds draai ons nie in gebed na Hom toe nie.  Ons het nie omdat ons nie bid nie (Jk.4:2).

 

Wanneer die Here ons dan uithelp is ons bly en prys ons Hom (v.14). Maar ons vergeet gou, en kort voor lank verhard ons ons harte (Mk.6:52).  Ons geniet die Here se gawes en dink glad nie daaraan dat Hy eintlik vir ons wil wys wie Hy is nie:  ‘n liefdevolle Verlosser en Vriend wat in al ons behoeftes voorsien en sy kinders nooit sal vergeet nie (Heb.13:5).  Ons onthou nie dat Hy die vorige keer soveel vir ons voorsien het, dat dit eintlik te veel was nie (v.13).  Sodra die nood druk, dan twyfel ons weer.  Ons glo nie dat Hy die wonderwerk kan herhaal nie (Mt.15:33).

 

In sy liefde help Hy ons weer (Mt.14:13-21, 15:32-39).  Weer ‘n keer prys ons Hom, maar sodra die volgende beproewing tref raak ons paniekerig.  Ons glo nogsteeds nie dat Hy die Seun van God is, en dat Hy enigiets kan doen nie (Mk.8:14-21).  Het ons vergeet dat Jesus uit ‘n seuntjie se kosblik vir 15 000 tot 20 000 mense aandete kan gee?  Het ons vergeet dat Hy op water kan loop, ‘n storm kan stilmaak, dooies kan opwek, siekes genees, blindes laat sien, en self uit die dood uit opgestaan het?  En as Hy dít gedoen het, kan Hy ons nie in óns beproewing help nie?  Kan Hy nie ons gebede beantwoord nie?

 

Ons moet besef dat ongeloof ‘n ernstige sonde is (16:9). Spurgeon het dit genoem ‘the monarch sin, the quitessence of guilt, the mixture of the venom of all crimes, the dregs of the wine of Gomorrah; it is the A1 sin, the masterpiece of Satan, the chief work of the devil… Unbelief is a Beelzebub sin; like Beelzebub, it is the leader of all evil spirits… it is the egg of all crime, the seed of every offence; in fact, everything that is evil and vile lies couched in that one word – unbelief.’[2]

 

Alhoewel ongeloof ‘n ernstige sonde is, kan dit vergewe word (1 Tm.1:13). As jy nog nooit geglo het dat Jesus die Seun van God is nie, moet jy die volgende doen:  lees stadig en noukeurig deur Johannes-Evangelie.  Bid dat die Here vir jou sal wys dat Jesus die Seun van God is.  Erken dat jy teen God gelaster het omdat jy nie sy getuienis aangaande sy Seun geglo het nie (1 Jh.5:10b).  Dank dat die Here dat Jesus die skuld vir al ons sondes (ook ongeloof) op Homself geneem het aan die kruis, en dat Hy daarvoor gestraf is.  Erken dat sy opstanding die finale spyker in die doodskis van ongeloof is, omdat dit eens en vir altyd bewys het dat Hy die Seun van God is (Rm.1:4).  Glo en vertrou dat Hy jou sonde kan vergewe.  Glo sy belofte dat dié wat hulle bekeer en na Hom toe uitroep, gered sal word (Rm.10:13).

 

Is jy alreeds ‘n gelowige? Jesus wil hê jy moet in sy liefde, krag, wysheid en goedheid glo.  Hy wil hê dat jy in die teorie en in die praktyk moet glo dat Hy die Seun van God is.  Wees dankbaar dat Hy geduldig en genadig is wanneer ons twyfel, maar weet ook dat dit Hom bedroef.  Bely die sonde van ongeloof as jy dit in jou hart sien, en lewe vreesloos, heilig, gehoorsaam, toegewyd en opreg soos iemand wat regtig glo dat Hy die Seun van God is.

 

‘n Paar jaar gelede was my broer verbaas om te hoor dat die Jehova’s Getuies glo dat Jesus die Seun van God is. Hy het gou agtergekom dat hulle nie dieselfde daarmee bedoel as ons nie.  In hulle gedagtes is Jesus net ‘n skepsel, en is Hy nie gelyk met die Vader nie.  Maar dit is nie wat die Bybel bedoel wanneer dit sê dat Jesus die Seun van God is nie.  Die wonderwerke in Jh.6:1-21 wil vir ons wys dat Jesus die Seun van God is, en dat Hy gelyk is met die Vader self (sien 5:18, 10:33, 36).

 

[1] http://news.nationalgeographic.com/news/2004/11/1116_041116_jesus_lizard.html en https://en.wikipedia.org/wiki/Common_basilisk

[2] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, pp.227-228