Versadig jou siel

Breaking bread

Toe ek 14 was het ons by ‘n oom en tannie gaan kuier op ‘n plaas in die Vrystaat. Aan tafel was daar skaapvleis, slaaie, pap, groente, en allerhande lekker kosse.  ‘n Tannie wat saam met ons op die plaas gekuier het, het vir my sousbone opgeskep.  Dit het nie vreeslik lekker gelyk nie, en daarom het ek gou opgeëet.  Sy het gesien dat my sousbone klaar is, en het aangeneem dat ek daarvan hou.  Sy het vir my nóg ‘n lepel of twee opgeskep.  Ek het vir die res van my lewe genoeg gehad van sousbone.  Volgens Jh.6:22-40 werk dit nie met die siel soos met die liggaam nie.  As jy eenkeer die Brood van die Lewe geproe het, sal jy nog wil hê.  Jou siel sal vir ewig versadig wees.

 

Die Jode se soektog (v.22-27)

Jare gelede het ‘n tannie vir my vertel hoe sy en haar susters ontevrede was toe haar pa met ‘n vrou wou trou wat jonger was as hulle. ‘Ons het gedink sy is net agter my pa se geld aan,’ het sy gesê.  ‘Maar ‘n paar jaar later het ons tot die besef gekom dat sy regtig vir hom lief is, en dat sy geld nie vir haar belangrik is nie.’  Maar met die Jode in Jh.6 was dit anders:  hulle het nie in Jesus belanggestel nie, maar in wat Hy vir hulle kon doen.

 

Jesus het die brood en die vis vermeerder (v.1-15). Baie van dié wat die teken gesien het, het die volgende dag teruggekom om vir Jesus te soek (v.22).  Hulle het gesien dat daar die vorige dag net een bootjie was, en dat Jesus nie saam met sy dissipels na die oorkant toe gevaar het nie (v.22).  Hulle het aangeneem dat Hy nog in die omgewing was.

 

Daar was ook ‘n klomp mense wat van Tiberias af gevaar het om vir Jesus te soek (v.23). Hulle het seker gehoor dat Hy ná sy gebed die brood en die vis vermeerder het (v.23, 11).  Die mense het gou agtergekom dat Jesus nie daar is nie, en het toe 3 km weg na Kapernaüm toe gevaar om Hom te soek (v.24, 17).  Hulle het vir Jesus gekry waar Hy besig was om in die sinagoge te leer (v.25, 59).  Hulle was verbaas om Hom daar te sien, omdat Hy nie saam met sy dissipels in die boot was nie (v.25, 22).  Hulle het nie geweet dat Hy oor die see geloop het nie (v.16-21).

 

‘Wanneer het U hier gekom Rabbi?’ het hulle vir Hom gevra (v.25). Jesus het geweet dat hulle nie eintlik in Hóm belanggestel nie.  Hulle het ‘n Messias gesoek wat deur middel van wonderwerke gratis kos vir hulle kan gee (v.26).  Een kommentator sê:  ‘They were moved not by full hearts, but by full bellies.’[1]  ‘As Jesus by ons is kan ons aftree en hoef ons nie weer te werk nie!’  Ek sal nie verbaas wees as dit in hulle gedagtes was nie.

 

Die kos wat Jesus die vorige dag gegee het, gaan deur ‘n mens se spysverteringstelsel en word uitgeskei (v.27). Daarom het Jesus gesê dat hulle nie hulle tyd en energie op dinge moet mors wat nie versadig nie, maar op geestelike kos wat vir ewig duur en tot die ewige lewe lei (v.27).  “want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.” (Heb.13:9).  Hierdie geestelike kos kon hulle gratis by Jesus gekry het (v.27, Jes.55:1-2).  Die Vader het Hom juis met die Gees verseël en instaat gestel om wonderwerke te doen, om só te wys dat Hý die Seun van God en die Messias is wat geestelike lewe kan gee (v.27, 1:32-34, 20:30-31).

 

Soek Jesus vir wie Hy is en nie net vir wat Hy vir jou kan doen nie. Sal dit jou nie hartseer maak as mense by jou kuier omdat jy geld het, en nie omdat hulle van jou hou nie?  Om Jesus so te behandel is niks anders as geestelike prostitusie nie.

 

Jare gelede het ek prente van ‘n huis en ‘n kar op my vriend se yskas gesien. ‘Wat is dit?’ het ek gevra.  Hy het gesê:  ‘Ek was die afgelope naweek by ‘n konferensie.  Die spreker het gesê jy moet jou drome sien en aanhoudend daaroor praat, want dan sal jy dit kry.’  Nie lank daarna nie het ek uitgevind dat die konferensie spreker een van TBN se prosperity predikers was.

 

Soos wat jy goed weet is Jesus vir hulle iemand wat gekom het om ons ryk en voorspoedig te maak. Hulle aanbid Hom nie as die Seun van God nie, maar as ‘n wonderwerkende Messias wat vir ons brood of selfs sjokoladekoek kan gee (v.26).  Dit is dan bloot nie die waarheid om te sê dat mense honger is vir die waarheid nie.  Volgens Rm.3:11 is daar niemand wat God soek nie.  Dit is so dat hulle versadig wil word, maar dit is nie waar dat hulle ‘n honger vir die evangelie het nie (v.26).  As hulle die voordele kan kry wat die evangelie bied, sonder dat hulle Jesus hoef te omhels, sal hulle heeltemal tevrede wees.

 

Die rede hoekom mense met sulke verkeerde motiewe na Jesus toe kom, is omdat hulle nie ‘n idee het van wat hulle ware behoefte is nie, en ook omdat hulle nie eintlik weet wie Hy is nie. Iemand wat dink dat sy grootste probleem armoede of siekte is, sal met dié ingesteldheid na Jesus toe kom.  Alhoewel die Here maklik vir iemand geld en gesondheid kan gee, is dit nie primêr wat Hy vir hulle wil gee nie.  Die mens se grootste probleem is sonde, en daarom is die evangelie van bekering en vergifnis die enigste en ware oplossing.  Jesus is ‘n dokter vir die siel en ‘n makelaar van hemelse rykdom (Lk.5:31-32, 2 Kor.8:9, Op.3:17-18).  Die feit dat Hy mense kan genees en genoeg brood vir hulle kan gee is sekondêr.

 

Sorg daarom dat jou prioriteite reg is. Moenie geld najaag, omdat jy gemaklik wil aftree of omdat jy die lewe saam met jou geliefdes wil geniet nie.  Sorg eerder dat die welstand van jou siel voorkeur geniet bo materiële welvaart en wêreldse sukses (v.27).

 

Die Jode se ongeloof (v.28-34)

Die Jode het geglo dat die Messias by sy koms vir die volk manna sou gee. ‘n Joodse geskrif uit die tweede eeu v.C. sê:  ‘Dié wat die ware en ewige God eer sal die lewe as erfdeel kry… hulle sal soet brood uit die sterrehemel geniet.’  (Frag.3:46-49).  ‘n Ander geskrif sê:  ‘In daardie tyd sal dit gebeur dat die skatkis van manna weer uit die hoogte sal neerdaal…’ (2 Barug 29:8).

 

‘n Sekere Rabbi Beregja het gesê: ‘Soos wat die eerste verlosser was, so sal die laaste een wees… Soos wat die eerste verlosser (Moses) manna laat neerdaal het, sal die laaste Verlosser manna laat neerdaal’ (Eccles. Rab.1:9).  Rabbi Eliëser Hisma het gesê:  ‘Jy sal nie die manna in hierdie wêreld vind nie, maar in die volgende’ (Mek. Eks.16:25).[2]

 

Hierdie agtergrond help ons om in v.28-34 iets van die Jode se denkwyse te verstaan (sien ook Op.2:17).

 

Die Jode het gehoor dat Jesus gesê het hulle moet werk vir die brood wat tot die ewige lewe lei.  Hulle het gedink hulle moet iets doen om die ewige lewe te verdien.  ‘Wat moet ons doen om die werke van God te doen, sodat ons die ewige brood kan verdien?’ (v.28).  Dit is min of meer wat hulle gevra het.

 

Die ‘werk’ wat God van hulle vereis het was om te glo in die Een wat Hy gestuur het, om te glo dat Jesus die Messias en die Seun van God is, en om te glo dat Hy hulle sondes kon vergewe en die ewige lewe vir hulle kon gee (v.29, 20:30-31).[3]  Die Jode het egter nie geglo dat God Hom gestuur het nie, en wou ‘n teken sien voordat hulle bereid was om te glo (v.30).  In hulle gedagtes was sien gelyk aan glo.  Hulle het nie die aard van ware geloof verstaan nie.

 

Ten spyte daarvan dat Jesus die vorige dag siek mense genees het en brood vermeerder het, kon hulle nie insien dat Hy die Seun van God is nie (v.1-15, Mt.14:14). ‘Om brood te vermeerder sodat ‘n paar duisend mense kan eet, is net nie dieselfde as om brood uit die hemel te gee vir ‘n hele volk nie.  As Jesus nie dít kan doen nie, kan ons nie glo dat Hy die Messias is nie.’  Hulle het Ps.78:24 aangehaal asof dit Moses was wat manna uit die hemel gegee het.  Maar volgens Jesus was die ‘Hy’ wat manna gegee het God en nie Moses nie (v.32).  Beide die manna en die vermeerdering die brood was veronderstel om ‘n geestelike les te leer (v.32).

 

Die les was dat die Vader sy Seun as die ware en lewende brood gestuur het om ons siele te versadig (v.32-32). Jesus het neergedaal om sy lewe vir die wêreld te gee (v.33, 3:16-17).  Deur Jesus is dit letterlik so dat een Man se dood ‘n ander een se brood is.  Die Jode het nogsteeds nie verstaan dat Hy van geestelike dinge praat nie, en het gevra dat Hy altyd hierdie brood vir hulle moes gee (v.34, 4:15).

 

Moenie soos die Jode ongelowig wees en tekens wil sien voordat jy glo nie. In Mt.16:1, 4 leer ons dat dit slegte en losbandige mense is wat ‘n teken soek.  Om net die Bybel te glo is nie vir hulle genoeg nie.  Dit is asof hulle net nie kan glo dat God die waarheid praat nie.  Hulle moet eers ‘n genesingsdiens bywoon of ‘n wonderwerk sien, en selfs dán is die Bybel nie vir hulle voldoende nie.

 

Jy dink dalk dat jou ongelowige geliefdes makliker sal glo as die Here net ‘n wonderwerk sal doen. Miskien dink jy dat jý makliker sal glo as die Here vir jou ‘n teken gee.  Maar dit is nie so nie.  ‘n Wonderwerk of teken mag dalk vrees of verbasing veroorsaak, maar dit kan nie geloof kweek nie.  Buiten vir Jh.6, is daar meer as genoeg tekste in die Bybel wat dit wys.

 

Ten spyte van die tien plae en die wonders wat God in die woestyn gedoen het, het Israel aanhoudend gewonder of God vir hulle kan sorg. In Ps.78:32 lees ons:  “Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie.”

 

Die Fariseërs het gesien hoe Jesus siekes gesond maak, en tog het hulle nie in Hom geglo nie, maar Hom doodgemaak (Mk.3:1-5). Selfs toe Hy vir Lasarus uit die dood uit opgewek het, het hulle nie geglo nie, maar planne gemaak om vir Lasarus dood te maak (12:9-11).  Toe die soldate vir hulle vertel het dat Jesus uit die dood uit opgestaan het, het hulle geld vir hulle gegee en gesê hulle moet die storie verdraai (Mt.28:11-15).  Jesus het mos in Lk.16:31 vir hulle gesê:  “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

 

Onthou dat sien en glo teenoorgesteldes is (2 Kor.5:7). “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb.11:1).  Vir jou wat dan die Here op sy Woord neem en glo sonder dat jy Hom gesien het, sê Jesus:  “salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Jh.20:29).

 

Jesus se verduideliking (v.35-40)

In gereformeerde kringe is daar ‘n dwaallering wat Hiper-Calvinisme genoem geword. Mense wat dít glo, oorklemtoon die soewereiniteit van God.  Op hierdie manier maak hulle die bad se water so vuil, dat hulle in die proses die baba van menslike verantwoordelikheid ook uitgooi.  Die gevolg is dat hulle ‘n onbybelse en aaklige beeld van God vir hulle mense voorhou.  Een so ‘n prediker het gesê:

 

‘I believe that God does hate some of you and that He always will! Do what you will He will hate you, whether you believe or not – whether you pray or not – whether you repent or not – God hates you and will hate you!’[4]

 

In v.35-40 gee Jesus vir ons ‘n gebalanseerde lering tussen uitverkiesing en die sondaar se verantwoordelikheid.

 

Die Jode het nogsteeds nie verstaan dat Jesus van geestelike brood praat nie (v.34). Hy het toe reguit vir hulle gesê dat Hy die brood van die lewe is (v.35).  ‘EK IS die brood van die lewe’ (v.35) moes hulle aan God se Naam in Eks.3:14 herinner het.  Jesus is die brood wat lewe gee; die brood waarsonder niemand kan lewe nie (v.35).  Soos wat brood ‘n honger mens se leë maag versadig, sal Jesus dié wat in geloof na Hom toe kom se geestelike dors les en hulle siele versadig (v.35, 4:13-14, 7:37, Mt.5:6).  Jesus was meer as bereid om vir Israel hierdie brood te gee, maar hulle wóú nie in Hom geglo het nie – ten spyte daarvan dat sy wonderwerke bewys het Hy is die Seun van God (v.36, 5:36, 40).

 

Die rede hoekom hulle nie geglo het nie, is omdat hulle nie deur die Vader aan Hom gegee is nie, omdat hulle nie van sy uitverkore skape was nie (v.37, 44, 65, 10:26, 2 Tm.2:19). Almal wat die Vader aan Jesus gegee het sal deur geloof na Hom toe kom (v.37).  Om dit anders te stel:  nie een van dié wat die Vader aan Christus gegee het, sal nié kom nie (v.37).  Jesus het na die aarde toe gekom om die wil van sy Vader te doen (v.38, 5:30).

 

En wat was die Vader se wil?

 

[1] Jesus moes daarvoor gesorg het dat nie een van die uitverkorenes verlore gaan nie, maar dat Hy hulle tot by die finale opstanding bewaar het (v.39, 10:28-29, 17:12, 18:9). As Hy werklik die brood van die lewe was, kon Hy die uitverkorenes uit die dood uit opgewek het en ook hulle liggame vir ewig laat lewe het (5:28-29).  As selfs net een van die uitverkorenes nie volkome gered word nie, of as een van hulle sy of haar redding verloor, dan het Jesus nie die Vader se wil gedoen nie (v.38-39).  Daarom sal Hy seker maak dat almal wat uitverkies is die evangelie glo (v.37), en finaal verheerlik word (v.39, Rm.8:29-30).

 

[2] Die Vader se wil is dat elkeen wat in geloof na die Seun toe kyk, die ewige lewe moet hê (v.40, 3:14-17).  So ‘n persoon moet in die Seun glo wat ons sonde op Homself geneem het aan die kruis.  Hy moet glo dat Jesus die sondaar se enigste hoop is om gered te word.  Hy moet glo en aanvaar dat elkeen wat in die Seun glo die ewige lewe sal hê:  nou, by die opstanding, en vir ewig in die hemel (v.40).

 

Jy hoef nie in die uitverkiesing te glo om jou geestelike honger te stil nie. En tog sal jy uitmis as jy nie die hele waarheid van die Bybel glo nie.  God het nie die uitverkiesing aan ons geopenbaar, sodat ons dit kan ignoreer nie.  Hy wil hê jy moet dit glo.

 

Vind asseblief die balans tussen die mens se verantwoordelikheid en God se soewereine uitverkiesing. Volgens Jesus gaan mense verlore omdat hulle nie die evangelie wil glo nie (v.36).  Dié wat wel glo, doen dit omdat God hulle rebelse wil oorkom het, sodat hulle instaat is om te kan glo (Ef.2:8-9, Fil.1:29).  Hy haal hulle dooie harte van klip uit en gee vir hulle sagte harte van vlees (Esg.36:26).  Hy is nie verplig om dit vir almal te doen nie (net soos wat Hy nie verplig was om die gevalle engele te red nie), maar gee hierdie geloof aan dié wat Hy in Jesus uitverkies het voordat Hy die wêreld gemaak het, aan dié wat die Vader vir Hom gegee het (v.37, 17:2, Rm.8:29, 9:11-18, Ef.1:4-5, 1 Ts.1:4, 2 Ts.2:13, 1 Pt.1:2).

 

Wat moet jou reaksie hierop wees? Moenie sê dat dit onregverdig is nie.  Is dit onregverdig as jy vir een boemelaar R50 gee en vir ‘n ander een niks?  Of kan jy daarmee doen wat jy wil, omdat dit jóú geld is?  Jy sal nie daarvan hou as die boemelaar wat op die straathoek staan vir jou voorskryf hoe jy jou geld moet gebruik nie.  Moet dan ook nie vir God kwalik neem as Hy met sý eiendom doen wat Hy wil nie.  Het die pottebakker dan nie die reg om met sy klei te doen soos wat Hy goed dink nie (Rm.9:19-23)?  As jy wil hê die Here moet regverdig wees, dan moet Hy ons almal hel toe stuur.

 

Moet ook nie sê: ‘Ek is nie uitverkies nie, en daarom help dit nie ek glo nie.’  God het nie vir jou gesê om te wonder of jy uitverkies is of nie, maar om in Jesus te glo.  As jy in die Here glo sal jy weet dat jy uitverkies is, omdat almal wat die Vader aan Hom gegee het na Hom toe kom (v.37).  Volgens v.39 sal Jesus die uitverkorenes opwek, en volgens v.40 sal Hy dié opwek wat in Hom glo.  Dit is dan duidelik dat dié wat in Hom glo ook uitverkies is.  In Hd.13:48 lees ons dat dié wat vir die ewige lewe bestem was geglo het.  Geloof is dan die bewys dat iemand uitverkies is.  As jy in Jesus glo sal Hy jou nie uitwerp nie, maar jou red (v.37, 40).  Moet asseblief nie die idee kry dat God jou nie wíl red nie.  Volgens v.40 is dit sy wil dat mense in sy Seun moet glo en gered word.

 

Ek het eenkeer op Facebook met ‘n ateïs gepraat. Hy het probeer om te wys dat daar niks na hierdie lewe is nie.  Ek het op ‘n mooi manier vir hom gesê dat hy seker baie ongelukkig is.  In sy reaksie het hy gesê:  ‘Well spotted.  My life is miserable.’  Ek kan verstaan dat dit so is, omdat net Jesus vir ‘n mens vervulling kan gee.  Net Hý kan jou siel versadig.

 

[1] Leon Morris, The Gospel According to John, p.358

[2] G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.446

[3] Geloof is nie ‘n ‘werk’ wat kan bydra tot ons redding nie, maar is ‘n ‘werk’ in dieselfde opsig as wat dit vir die Israeliete werk was om manna van die woestynvloer af op te tel. Die feit dat hulle dit opgetel het beteken nie dat hulle daarvoor gewerk het om dit te verdien nie – dit was nogsteeds ‘n gratis geskenk van God af.

[4] Iain Murray, Spurgeon v. Hyper-Calvinism, p.63