Oor uitverkiesing en ongeloof

Red tulip in yellow field

Ek bely onbeskaamd dat ek in God se onvoorwaardelike uitverkiesing glo. Mense het my al hieroor aangevat, geweier om my te groet, gesê ek moet dit nie preek nie, en besluit om nie meer my vriend te wees nie.  Ek sal dit nie opsetlik preek om mense kwaad te maak nie, maar wanneer ek deur ‘n boek preek en dit in die teks is, gaan ek dit nie oorslaan nie.  Die Here het my geroep om die volle raad van God te verkondig, en omdat die uitverkiesing deel van daardie raad is, gaan ek dit preek.  Vandag is dit ‘toevallig’ deel van my teks (nie dat ek glo toeval bestaan nie).  Maak asseblief jou Bybel oop by Jh.6:41-71.

 

Jesus en die Jode (v.41-59)

Oor die afgelope paar maande was daar meer as een geval van onluste in ons land. ‘n Tydjie gelede het skoliere hulle eie skole, en studente hulle eie universiteite afgebrand.  In Pretoria is mense besig om busse aan die brand te steek.  Die burgers van ons land is besig om tantrums te gooi, omdat dinge nie gebeur soos wat húlle dit wil hê nie.

 

Net so gooi mense geestelike tantrums en kom hulle in opstand as die Here en sy lering nie is soos wat húlle dit wil hê nie.  ‘n Man het by my gekla omdat daar soveel lyding in die wêreld is.  ‘Wie dink die Here is Hy?  As Hy wil hê ek moet Hom dien, moet Hy Homself aan my bewys,’ het hy gesê.  Ons murmurering en klagtes teen die Here (v.41) is maar net ‘n ander manier om te sê:  ‘Ons wil nie hê Hý moet oor ons regeer nie.’ (19:15, Lk.19:14, 1 Sm.8:7).  In v.41-59 het ons ‘n voorbeeld hiervan.

 

Vóór en ná God in die Ou Testament manna vir die volk gegee het, het hulle gemurmureer (Eks.16:7-9, Nm.11:6).  En toe Jesus gesê het dat Hý die ware brood uit die hemel is, het hulle gemurmureer (v.41).  ‘Hoe kan Hy sê dat Hy uit die hemel neergedaal het as ons sy ouers ken?  Hy is maar net ‘n mens,’ het hulle gesê (v.42).  Hulle het aangeneem dat Josef sy biologiese pa is, en het nie geweet dat Hy uit ‘n maagd gebore is, en dus ook die Seun van God is nie (v.42, Lk.1:35).  Jesus het geweet dat hulle onderlangs brom en het vir hulle gesê hulle moet ophou (v.43).

 

Hoekom kon hulle dit nie insien dat Jesus uit die hemel uit neergedaal het nie? Tensy God dit nie aan iemand openbaar en hom met koorde van liefde na Jesus toe trek nie, kán hy dit nie insien nie (v.44, Mt.16:16-17, Lk.10:22, Ps.65:5, Hos.11:4).  Maar as God dit aan hom openbaar en sy verstand oopmaak, sal hy dit ontvang en na Jesus toe kom (v.45).  Omdat die Jode nie sy kinders was nie (Jh.8:44), kon hulle sy stem nie hoor nie en het hulle sy lering nie aanvaar nie (v.45, 5:37, 10:27, Jes.54:13).  As die Vader iemand na Jesus toe trek kan hy nie sy redding verloor nie (v.44, 39).  Op die laaste dag sal Jesus hom uit die dood uit opwek (v.44, 5:28-29).

 

Die feit dat gelowiges hulle Vader se stem hoor (v.45) beteken nie dat hulle Hom gesien het nie (v.46, Dt.4:12). Jesus het Hom gesien en Hom aan ons geopenbaar (v.46, 1:18, 14:9).  Om dus die ewige lewe te hê hoef jy nie die Vader te sien nie; jy moet in die Seun glo (v.47).  Hý is die geestelike brood wat lewe gee (v.48).  Hy is nie maar net ‘n tipe manna wat die mens tydelik versadig, sodat hy in elk geval sterf nie (v.49).  Hy is die geestelike en hemelse brood; dié wat hierdie brood eet sal vir ewig lewe (v.50-51).  In v.51 leer ons dat sy eie liggaam aan die kruis die geestelike brood was wat die wêreld (nie net die Jode nie) deur geloof moes eet om te lewe (v.51, 47).

 

Omdat sommige van die Jode Jesus se woorde geglo het en ander nie, het hulle onder mekaar begin stry (v.52, 9:16, 10:19). ‘Hoe kan ons sy liggaam eet?’ het hulle vir mekaar gesê (v.52).  Soos alle ongelowiges het hulle nie geestelike dinge verstaan nie; hulle het gedink dat Jesus ‘n voorstaander van kannibalisme is (v.34, 4:15, 1 Kor.2:14).  Hy het gesê dat dié wat nie sy vlees eet en bloed drink nie (dié wat nie sy kruisdood aanvaar nie), nie die ewige lewe het nie (v.53).

 

In die Eks.12 het hulle die paaslam geëet. Soos wat kos jou liggaam versterk en laat lewe, moet ons Christus (die ware Paaslam) se kruisoffer deur geloof eet om te lewe.  In die nagmaal vier en bely ons dat dit sy liggaam en bloed is wat lewe gee.  Dít moet die stapel dieet wees wat ons siele, en eendag ook ons nuwe liggame, laat lewe (v.54).  Sy liggaam en bloed is ware kos en drank (v.55).  Enigiets anders sal ons net tydelik versadig (v.35).  As jy sy liggaam eet en bloed drink, sal Hy in jou bly en jy in Hom; deur die geloof sal julle een wees (v.56, 15:4-5, 7, 1 Jh.3:24, 4:13, 15-16, 1 Kor.6:17).  Die feit dat Hy egter deur sy Gees in ons woon beteken nie dat ons God word nie, maar eerder dat sy lewe in ons is (2 Pt.1:4).

 

Waar kry Jesus hierdie lewe? Die Vader het dit in Homself (v.57).  Omdat Jesus en sy Vader een is (10:30), het die Vader dit aan Hom gegee om hierdie lewe in Homself te hê (v.57, 5:26).  Soos die Vader, kan Jesus ook hierdie lewe gee (v.57, 5:21).  Dié wat deur geloof na Jesus toe kom en van Hom eet, sal nie soos die Israeliete in die woestyn sterf nie, maar vir ewig lewe (v.57-58, 11:25-26).  Al hierdie dinge het Hy in Kapernaüm se sinagoge gesê (v.59).

 

Moenie, soos die Jode, ongelowig wees en teen die Here murmureer nie. Om te murmureer is sonde (Nm.11:1, Fil.2:14).  As jy oor God se karakter of ‘n moeilike lering murmureer en weier om dit te aanvaar, dan bevraagteken jy sy wysheid.  Jy dink dat jy beter as Hy weet en is.  ‘As ek Hy was, sou ek dit nie so gedoen het nie,’ is wat jy vir jouself sê.  Dalk word jy selfs versoek om te sê dat God nie is of doen soos wat Hy in die Bybel sê nie, en skep jy in jou verbeelding ‘n god waarmee jy gemaklik is.  Moet dit nie doen nie, maar aanvaar Hom soos wat Hy Homself in die Bybel openbaar.

 

Wie is die Jesus van die Bybel wat jy moet aanvaar? Hy is die brood wat uit die hemel neergedaal het.  Om dan gered te word moet jy erken dat Hy van God af kom, en dat Hy self ook God is.  Hy is die brood van die lewe deur wie jy vir ewige kan lewe.

 

Om hierdie lewe te kry kan jy nie net ‘n happie van die brood eet nie; dit moet jou stapel dieet wees. Jy moet in sy kruisdood vir sondaars glo en so sy liggaam eet en sy bloed drink.  As sy liggaam en bloed (sy kruisdood) nie vir jou alles is en jou lewe definieer nie, moet jy wonder of jy ‘n Christen is.  Jesus en sy kruisdood is nie deel van ‘n ware gelowige se lewe nie; dit ís sy lewe.  Hoe lyk dit met jou:  is Christenskap vir jou ‘n Sondag ding, of is dit soos suiker in jou tee wat jou hele lewe deurtrek?  Is dit ‘n deel van jou lewe soos wat tennis, vakansie of werk deel van jou lewe is, of is dit soos ‘n gekleurde bril wat jou uitkyk op die lewe kleur?

 

As jy ongeloof wil verhoed, moet jy gedurig van Jesus se liggaam eet en sy bloed drink. Doen dit deur gereeld gemeenskap met Hom te hê in die Woord, gebed en die samekomste van die gelowiges.  Bely dit deur gereeld die nagmaal te gebruik.  Drink ook sy bloed deur daagliks jou sonde te bely, sodat Hy jou kan vergewe.

 

Is jy ‘n Christen wat van die Here af weggedwaal het; ‘n Christen wat twyfel of Jesus die ware God is, en of sy woorde waar is? Dit help nie dat jy na die brood kyk nie.  Eet daarvan.  Hou aan eet totdat jou twyfel soos die oggendmis verdwyn en jy met sekerheid weet Hy ís die brood van die lewe.  Smaak en sien vir jouself dat die Here goed is (Ps.34:9).

 

Jesus en die dissipels (v.60-71)

Marnus Misdadiger en Karel Krimineel is in die tronk, omdat hulle meer as 15 winkels beroof het. Jy is die regter wat hulle laat toesluit het.  Wie se skuld is dit dat hulle in die tronk is – joune of hulle s’n?  Dit is hulle eie skuld.  Maar dit is ook jý wat hulle laat toesluit het.

 

Gestel jy en ‘n paar ander regters hou eendag ‘n groot partytjie by jou huis. Hoekom kan die twee rowers nie by die partytjie wees nie:  is dit omdat hulle nie wíl nie, of omdat hulle nie kán nie?  Beide.  Hulle wíl nie by ‘n partytjie wees waar jy is nie.  Maar hulle kán ook nie daar wees nie, omdat hulle in die tronk is.  Daar is net een manier hoe hulle by die partytjie kán wees, en dit is as jy hulle uitnooi, hulle gewillig maak, en hulle vrylaat (natuurlik sal jy die straf vir hulle misdade moet betaal om dit op ‘n wettige manier te doen).

 

En so is dit met die Here. Ons is misdadigers wat sy wet oortree het.  Dit is nie sý skuld dat ons in die tronk van ons sonde is nie, en tog is dit ook Hý wat ons aan die slawerny van ons sondige begeertes oorgelaat het.  Die rede hoekom ons nie na God toe kom nie, is omdat ons Hom haat en nie wíl kom nie (5:40).  Tog is dit ook waar dat ons nie op ons eie na Hom toe kán kom nie; ons kan nie self die traliehek van ons sonde oopsluit nie (Rm.8:7-8).  God het die sleutel om ons vry te laat.  Dit is eers as Hý ons uitnooi en ons harte gewillig maak, wat ons na Hom toe wíl en sál kom (v.44, 65).

 

As jy dus verlore gaan is dit jou eie skuld. Dit is nie die regter se skuld dat Marnus Misdadiger en Karel Krimineel in die tronk is nie.  Ons kan ook nie sê dat hy verkeerd of onregverdig was om hulle toe te sluit en in die tronk te los nie.  Die persoon wat in sy sonde vergaan kies om nie by God te wees nie.  Hy haat die Here en wíl nie by sy partytjie wees nie.  As hy tussen die Here en die tronk van sy eie sonde moet kies, sal hy sy sonde kies.  God doen nie verkeerd om hom in sy sonde te los nie.  Dit is sy verdiende loon.  As die Here hom dan red is dit pure genade.  Sonder die Here is daar nie hoop vir hom om gered te word nie (v.65).  Hierdie boodskap kom duidelik deur in v.60-71.

 

Dit was nie net die Jode wat oor hierdie dinge gekla het nie (v.41, 52). Sommige van Jesus se dissipels het gesê dat sy lering te moeilik is om te aanvaar (v.60).  William Hendriksen sê:  ‘Dit was hulle harde harte en nie die harde preek nie, wat gemaak het dat hulle so reageer.’[1]  Onthou dat die Grieks vir dissipel [mathetes] leerling beteken.  Dit verwys dus nie altyd na ‘n ware gelowige nie; ongelowiges het ook by tye na Jesus se lering geluister (v.66, Mt.8:21).

 

Omdat Jesus die mens se gedagtes ken, het Hy geweet dat hulle hieroor murmureer (v.61, 2:24-25). Hulle het aanstoot geneem, want hoe kan ‘n mens die dinge sê wat Hy in v.41-59 gesê het?  Hoe sou hulle dan gereageer het as hulle gesien het hoe ‘n mens na die hemel toe opvaar (v.61)?  Buitendien het hulle sy woorde misverstaan.  Hy het nie bedoel dat hulle letterlik sy liggaam moet eet, of dat hulle Lv.17:10-14 moet oortree en sy bloed moet drink nie.  Hy het dit geestelik bedoel (v.63).  Niemand kan mos vir ewig lewe omdat hy vleis geëet het nie (v.63).  Dit is net die Gees wat hierdie geestelike lewe vir iemand kan gee (v.63, 3:5-6).

 

Baie van die dissipels het nie geglo nie (v.64), en kon daarom nie hierdie lewe kry nie (v.63). Vir Jesus was hulle ongeloof nie ‘n verrassing nie.  Nog voordat Hy die wêreld gemaak het, het Jesus geweet wie die mense is wat deur sy Vader uitgekies is en aan Hom gegee is (v.64, 37, 10:26, 17:2, 6, 9, Hd.13:48, Rm.8:29-30, 9:11-13, Ef.1:4-5, 11, 2 Ts.2:13, 2 Tm.2:19, 1 Pt.1:2).  Hy het ook geweet wie Hom sou verraai (v.64, 70-71).  Hulle ongeloof was hulle eie skuld; hulle wóú nie glo nie (v.36).  Dié wat wel geglo het, het dit gedoen omdat Gód dit aan hulle geskenk het; nie omdat hulle ‘n sterker wilskrag as ander gehad het nie (v.65, 44, 3:27, Ef.2:8-9, Fil.1:29).

 

Omdat hierdie vals dissipels nie van Jesus se uitverkore skape was nie, het hulle omgedraai en weggeloop (v.65-66). Jesus het hulle nie gesmeek om terug te kom, of gesê dat Hy ‘n fout gemaak het nie.  Hy het vir die twaalf gevra of hulle nie óók wil gaan nie (v.67).  As leier van die twaalf het Petrus bely dat Jesus die Here is, dat net sý woorde die ewige lewe kan gee, en dat Hy die Heilige Messias en die God van die Ou Testament is (v.68-69, 14:6, Hd.4:12, Ps.16:10, 78:41, 89:19, Mk.1:24).

 

Dit is duidelik dat Petrus en tien van die ander dissipels deel was van dié wat die Vader aan sy Seun gegee het (v.37, 39, 44, 65). Hulle het in Jesus geglo omdat Hy hulle eerste gekies het (v.70).  In 15:16 het Hy gesê:  “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies”.  Dit is so dat Jesus vir Judas gekies het om een van die twaalf apostels te wees (v.70).  Jesus het geweet dat Judas Hom gaan verraai, dat hy ‘n kind van die duiwel en die seun van die verderf was (v.64, 71, 12:4-6, 13:2, 27, 17:12).  Judas het die pad van die verderf gekies.  En volgens 13:18 het Jesus Hom ook nie uitverkies om gered te word nie.

 

Erken dat daar in die Bybel iets is soos uitverkiesing. Jy kan nie verby dit kom nie.  Dit is belangrik om God se karakter te onthou as jy oor hierdie dinge dink.  God is goed en wys, en daarom moet dit ook goed en wys wees as Hy kies om sommige te red en ander nie (Mt.11:25-27).

 

Die rede hoekom ons sukkel om dit te aanvaar, is nie omdat dit moeilik is om te verstaan nie. God se ewigheid en die Drie-Eenheid is moeilik om te verstaan, maar tog aanvaar ons dit.  Die rede hoekom die uitverkiesing ‘n bitter pil is om te sluk, is omdat ons ‘n aandeel wil hê in ons redding.  Ons wil nie erken dat ons niks tot ons redding kon bydra nie.

 

‘n Ander rede hoekom ons dit nie wil aanvaar nie, is omdat ons geliefdes het wat nie die Here dien nie. Ons wil hê hulle moet gered word, en is oortuig dat God se uitverkiesing in die pad staan.  Die waarheid is egter dat daar nie hoop is as dit van húlle afhang nie, omdat hulle hulle sonde liefhet en nie in die Here belangstel nie.  Maar as dit van die Here afhang is daar hoop.

 

Die feit dat ons vir hulle redding bid wys dat ons diep in ons harte glo dat net Gód hulle kan red, en dat dit nie van hulle eie vrye wil afhang nie (Rm.9:16). Ook wanneer hulle tot bekering kom prys ons hulle nie vir die goeie keuse wat hulle gemaak het nie – ons prys die Here omdat Hý hulle gered het.

 

Ek kan nóg bewyse gee dat jy diep in jou hart glo dat God soewerein is, en dat Hy kan kies wie Hy wil. Glo jy dat Israel in die Ou Testament God se uitverkore volk was, en dat Hy nie die ander nasies gekies het nie (Dt.7:7-8)?  Glo jy dat Jesus die reg gehad het om te kies watter van sy volgelinge apostels moes wees (Mk.3:13, Lk.6:13, Jh.15:16)?  Glo jy Hy kan kies dat jy gebore moes word, en dat jy ‘n Cronjé is en nie ‘n Fouché nie (Ps.139:16)?  Hoekom erken jy dan nie ook dat Hy vir Jakob kon kies, en nie vir Esau nie (Rm.9:11-13)?

 

As die finale keuse by die sondaar lê, gaan dit my verstand te bowe dat alle mense nie die hemel kies nie. Die waarheid is dat die sondaar homself nie kan nie bevry nie; die Here moet dit doen (v.65).  Jy is ‘n Christen en kan nie eers so maklik van jou sonde ontslae raak nie.  Hoekom dink ons dan dat iemand wat geestelik dood is dit deur sy vrye wil kan doen?

 

Omdat niemand sonder God soewereine keuse tot bekering kan kom nie, help dit my (wanneer ek nugter dink) om nie moedeloos te word as sommige mense my prediking verwerp nie (v.44, 65-66). Dit help my ook, omdat ek weet dat dié wat Hy gekies het na Hom toe sál kom (v.37).

 

Om uitverkiesing te ontken, daaroor te kla, of te sê dat dit onregverdig is, gaan nie maak dat dit uit die uit Bybel verdwyn nie. Hoe gouer ons dit aanvaar hoe beter.  Om in die uitverkiesing te glo beteken nie dat jy dit verstaan nie.  Die Bybel sê nie vir ons hoe God mense kan kies en dié wat Hom verwerp vir hulle sonde aanspreeklik hou nie.  As jy probeer om dit uit te vind steel jy dinge wat nie aan jou behoort nie (Dt.29:29).  Ons moet eenvoudig die knie buig en erken dat God God is.  “Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?  Die maaksel kan tog nie vir die maker sê:  Waarom het u my so gemaak nie?  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Rm.9:20-21).

 

Ek het ‘n student ontmoet wat hom sterk teen God se soewereine keuse uitgespreek het. Na meer as ‘n jaar het ek eendag gesien dat hy iets oor die uitverkiesing op sy rekenaar het.  Ek was verbaas.  ‘Ek glo dit nou,’ het hy gesê.  ‘Ek weet nie hoe ek dit voorheen gemis het nie.’  Ek hoop dat die Here hierdie preek sal gebruik om dieselfde vir jou te doen, en dat jy nie soos die Jode van Jesus en sy waarheid af sal wegloop nie.

 

[1] Vry vertaal uit New Testament Commentary: John, p.246