Hoe weet ons dat Jesus die Messias is?

Is Jesus the Messiah

Ek is ‘n voorstaander van Ray Comfort se evangelisasie metodes. In een video het ek gesien hoe hy met ateïste die evangelie deel.  Hy het nie met hulle oor die bestaan van God gedebatteer nie, maar aangeneem dat hulle daarin glo.  Op die einde moes hulle erken het dat daar ‘n God is.

 

Net so moet enigiemand wat die Bybel met oop oë lees, erken dat Jesus die Messias is. Om dit te ontken is soos om te ontken dat sirkels rond is, of dat die see nat is.  In Jh.8:12-30 sien ons hoe die Jode hulle oë toegemaak het vir die lig van Jesus se Messiaskap.

 

God se getuienis (v.12-20)

Elke kind gaan deur ‘n stadium waar sy pa die grootste, slimste en sterkste is. My swaer is ‘n eks-provinsiale rugbyspeler.  Hy is byna 1.9 m lank, weeg omtrent 100 kg, en is goed gebou.  Tydens een aanddiens het my dogter by hulle gesit.  Sy het aan sy bo-arms gevat en gesê:  ‘Sjoe, dis sterk!  Maar my pa s’n is sterker.’  Die waarheid is dat sy arms byna so dik soos my bo-bene is.  Tog was ek in my dogter se oë die sterkste.

 

Wanneer dit by ons hemelse Vader kom is daar nie wanpersepsies nie. Hy is werklik groter, sterker, en wyser as almal.  En as Hý sê dat Jesus die Messias is, kan ons nie daarteen stry nie.  Volgens v.12-20 het God self gesê dat Jesus die Messias is.

 

In 7:2, 37 was Jesus by die Huttefees. Volgens 8:20 was Hy nogsteeds in Jerusalem.  In v.12 het Hy gesê dat Hy die lig van die wêreld is.  Die minora of kandelaar wat in die tempel gestaan het, asook die lampies wat gedurende die Huttefees opsteek is, was ‘n illustrasie van die lig wat God en die Messias na die aarde toe gebring het (Jes.42:6, 49:6).  Die volk het onthou hoe die Here hulle voorvaders in die vuurkolom na die Beloofde Land toe gelei het.[1]

 

Jesus het in soveel woorde gesê dat Hy die Messias en die God van die Ou Testament is: ‘EK IS die lig van die wêreld’ (v.12, Eks.3:14, Ps.27:1, Jes.9:1).

 

Soos wat die son lewe gee, het God se lig na die wêreld toe gekom om vir ons hoop en lewe te gee, om vir ons die regte pad te wys, en om die duisternis van sonde te verdryf (v.12, 1:4-5, 9, Ps.36:10). As ons hierdie lig volg sal dit ons na die ware Beloofde Land toe lei (v.12).  Die Fariseërs was nog in die duisternis van hulle sonde, en daarom het hulle nie Jesus se lering aanvaar nie (v.13).  Omdat Hy hierdie dinge van Homself gesê het, het hulle gesê dat sy getuienis nie waar is nie (v.13).

 

Selfs toe Jesus van Homself getuig het was sy getuienis waar (v.14). Hy is immers die Getroue en Waaragtige Getuie (Op.3:14).  Hy het geweet dat Hy van die Vader af gekom het, en dat Hy weer daarheen oppad was (v.14, 13:3, 16:28).  Hy was meer as net ‘n mens en kon nie lieg nie (Nm.23:19, 1 Sm.15:29, Tit.1:2, Heb.6:18).  Die Fariseërs het nie erken dat Hy van die Vader af gekom het, of dat Hy daarheen oppad was nie (v.14, 9:29), en juis daarom het hulle nie erken dat Hy die Messias is nie.

 

Die Fariseërs se oordeel was verkeerd, omdat hulle op grond van die uiterlike besluit het dat Jesus nie die Messias is nie (v.15, 7:24). Hy self het dan nie eers geoordeel nie (v.15, 11, 12:47).  Wie was hulle dan om Hom te oordeel?  Is dit nie ironies dat die ware Regter niemand geoordeel het nie, en dat hulle probeer het om die Regter te oordeel?

 

Waar Jesus wel geoordeel het sou dit regverdig en waar gewees het, omdat sy oordeel nie maar net menslik was nie, maar Goddelik (v.16). Hy het nie alleen getuig nie, maar die Vader het saam getuig dat Hy die Messias is (v.16).  Die wet het mos gesê dat twee mense se getuienis waar is (v.17, Dt.19:15).  Jesus het van Homself getuig dat Hy die Messias is, en die Vader het dit in sy doop, wonderwerke en opstanding bevestig (v.18, 1:32-34, 5:36, Mt.3:16-17).

 

Die Fariseërs het seker gedink dat Hy na een of ander aardse pa verwys het (v.19, 6:42). Jesus het besef dat hulle nie die Vader ken nie, want as hulle die Vader geken het sou hulle sy ewebeeld en openbaring in die Seun herken het (v.19, 1:18, 14:6-7, 16:3, Kol.1:15).  Maar hulle het nie.  Hulle het ‘n oppervlakkige kennis van die Vader en die Seun gehad (v.14, 7:27, 41-42).  Hulle het Hom nie persoonlik geken nie.

 

Jesus het hierdie woorde by die skatkis in die tempel gespreek (v.20, Jos.6:19, 24, 1 Kron.28:11-12, Mt.27:6, Mk.12:41). Ten spyte daarvan dat die Fariseërs se bloed gekook het, het hulle Hom nie gearresteer nie, omdat God se bepaalde uur vir sy dood nog nie gekom het nie (v.20, 7:30).

 

Aanvaar die getuienis van God aangaande sy Seun. Aanvaar ook Jesus se getuienis oor Homself.  Mense wat sê dat hulle die Seun van God of die Messias is en dit nié is nie, behoort in groen dakkies.  Selfs die wêreld sal sê dat hulle versteurd is.  Vir Jesus om te sê dat Hy die Messias is kan een van twee dinge beteken:  of Hy is mal, of Hy het die waarheid gepraat.  Die rekord van Jesus se lewe dui nie in die minste aan dat Hy mal, verstandelik onstabiel of demoon-besete was nie.  Daarom moet ons aanvaar dat Hy die waarheid gepraat het.

 

Gestel jy vertel vir mense dat jy gedurende jou skooljare hoofseun was, vir die eerste span krieket gespeel het, en akademies in die top 10 was. Wat sal jy daarvan dink as hulle jou ‘n leuenaar noem en sê dat jy net besig is om groot te praat?  Sal jy nie sê dat húlle verkeerd is, omdat jy jouself ken en weet dat jy die waarheid praat nie?

 

As jy dan aanstoot neem wanneer mense jou ‘n leuenaar noem, moet jy weet hoe ernstig dit is om die sondelose Seun van God ‘n leuenaar te noem.  Wie is enige mens om te sê dat Jesus nie die waarheid gepraat het nie?  Jesus het Homself geken.  Toe Hy gesê het dat Hy die lig van die wêreld is en dat Hy van God af kom, het Hy dit nie uit sy duim gesuig nie.

 

Ons kan nie op grond van die uiterlike sê dat Jesus nie die Messias is nie (2 Kor.5:16). Dit is soos om ‘n karate wêreldkampioen te sien, en op grond van sy grootte te sê dat hy jou nie kan seermaak nie.  Dit is soos om die 17-jarige Dawid met sy gladde pienk wange te sien, en te sê dat hy nie ‘n reus kan doodmaak nie (1 Sm.16:7).  Om iemand te beoordeel moet jy hom eers goed ken.  Om dan te weet wie Jesus regtig is, moet jy sy lewe bestudeer soos wat dit in die Bybel opgeteken is.  Daarná kan jy beoordeel of Hy die Messias is of nie.

 

Dit is omdat mense in die duisternis is, dat hulle die aansprake wat Jesus gemaak het betwyfel.  As mense na Jesus toe kom, sal hulle in sy lig sien dat Hy regtig die Messias is.  Hulle sal nie meer deur die duisternis van hulle sonde en wêreldse filosofieë verblind word nie, maar die waarheid sien.  Indien ons weier om na sy lig toe te kom, sal Hy ons vir ewig in die duisternis van die hel werp.

 

Die mense wat vir Jesus verwerp, het nog nooit sy Persoon, lewe en lering noukeurig en met ‘n oop gemoed bestudeer nie. Hulle het nie ‘n goeie rede om Hom te verwerp nie.  Hulle het ook gewoonlik ‘n agenda vir hoekom hulle Hom nie wil erken nie.  Hulle is bang dat dit hulle iets gaan kos, of dat hulle een of ander sonde sal moet prysgee.

 

Hulle vermy die Woord van God. Hulle skram weg, omdat hulle bang is dat hulle sonde blootgelê gaan word.  As hulle na Hom toe kom gaan Hy hulle verander, en dit wil hulle nie hê nie.  Miskien vermy hulle Hom, omdat dit aanstoot gee wanneer Hy sê dat hulle niks kan doen om hulleself te red nie, maar dat Hy hulle enigste hoop is.  Is dit nie tragies dat hulle Hom tot hulle eie ondergang verwerp nie?

 

Die Jode se reaksie (v.21-30)

‘n Week gelede het ek die evangelie met iemand gedeel. Ek het vir die vrou gevra of sy seker is sy gaan hemel toe.  ‘Nee, ek is nie seker nie,’ het sy gesê.  ‘En wat as jy in jou onsekere toestand doodgaan?’ het ek gevra.  ‘Is jy bereid om die kans te vat en maar net te hoop dat jy hemel toe gaan?’  ‘Wel, ek hoop maar dat die Here op daardie dag genadig sal wees,’ het sy gesê.

 

Volgens Jesus sal daar op daardie dag geen genade wees nie, en ek het dit vir haar gesê. As jy in jou sonde sterf, is die kanse vir jou om gered te word verby.  Niemand kan van die hel af na die hemel toe oorgaan nie (Lk.16:26).  In v.21-30 het Jesus die Jode twee keer gewaarsku om nie in hulle sonde te sterf nie.

 

Soos in v.14, het Jesus weer in v.21 gesê dat Hy weggaan. Hy sou binnekort gekruisig word, uit die dood uit opgewek word, en opgevaar het na sy Vader toe.  Die Jode sou Hom gesoek het, maar nie gevind het nie (v.21, 7:34).  Hulle sou sonder sukses vir ‘n ander messias gewag het (Lk.17:22), en daarom moes hulle nóú in Jesus as die Messias en die Seun van God geglo het.

 

Indien hulle dit nie gedoen het nie, sou hulle op hulle sterfbeddens sonder hoop en vergifnis in hulle sonde gesterf en in die hel beland het (v.21). Omdat die Jode Hom verwerp het, het Jesus gesê dat hulle nie na die hemel toe kon gaan waarheen Hy oppad was nie (v.21).  Jesus sou na sy dood hemel toe gegaan het, terwyl hulle na húlle dood in die hel sou wees (v.21).

 

‘Gaan Hy Homself doodmaak?’ het hulle gespot (v.22, 7:35). Volgens die Jode sou iemand wat selfmoord gepleeg het swaarder gestraf word, en nie die Koninkryk ingegaan het nie.[2]  Die Jode het dus eintlik gesê:  ‘Waarheen is Hý oppad – hel toe?  En is dit nie hoekom ons Hom nie kan volg nie, want ons is oppad hemel toe?’

 

Volgens Jesus het hulle Hom verwerp omdat Hy van die hemel af was en hulle van die aarde af (v.23, 17:14, 16). Anders as hulle was Hy nie deel van die bose wêreldsisteem wat agter die duiwel aangeloop het nie (v.23, Ef.2:2, 2 Kor.4:4, 1 Jh.5:19).  Om te sê dat Christus selfmoord gaan pleeg en hel toe gaan is Godslastering en deur die duiwel geïnspireer (v.22).  Die Jode moes hulle van hulle ongeloof bekeer het en geglo het dat Jesus die Messias en die God van Eks.3:14 is (v.24, Gk. egō eimi).  Ongeloof is sonde (16:9), en daar is niks erger as om in hierdie toestand te sterf nie (v.24, 21).

 

Die Jode was omgeroer. ‘Wie dink jy ís jy?’ het hulle in v.25 gevra.  Die feit dat Hy Homself EK IS genoem het (v.24), was vir hulle een te veel.  Jesus het Homself nie aan hulle gesteur nie.  ‘Ek het reeds van die begin van my bediening af vir julle gesê wie Ek is, maar julle wil nie luister nie.  Hoekom moet Ek my asem mors as julle in elk geval nie wil glo dat Ek die Messias en die Seun van God is nie?’  Só moet ons Jesus se woorde in v.25 verstaan.

 

Jesus het baie oor die Jode se ongeloof te sê gehad, en sou hulle op die laaste Dag daarvoor geoordeel het (v.26, 16). T.s.v. húlle ongeloof het die Vader in waarheid getuig dat Jesus van Hom af gekom het (v.26).  En vir Hom was dit al wat saakgemaak het.  Die getuienis wat Hy in v.12 oor Homself gegee het, het Hy by die Vader gehoor (v.26).  Maar omdat die Jode Hom nie geken het nie (v.19), het hulle nie verstaan toe Hy met hulle oor die Vader gepraat het nie (v.27).  Hulle het nie geweet dat die Vader die Een was wat Hom gestuur het nie (v.26-27).

 

Eers as hulle vir Jesus gekruisig het en Hy uit die dood uit opgestaan en na die Vader toe teruggekeer het, sou hulle geweet het dat Hy die Messias en die Seun van God is, dat die Vader Hom gestuur het en Hy God se woorde aan hulle verkondig het (v.28, 3:14, 12:32, Eks.3:14, Dn.7:13-14). Sommige van hulle sou dit met ‘n gewillige hart bely het (Hd.2:36-37, 41, 6:7), terwyl ander dit onder dwang sou doen (Mt.26:64, Fil.2:10-11, Op.1:7).

 

Alhoewel Jesus se eie volk Hom verwerp het, was sy Vader altyd met Hom (v.29, 16:32). Hy was met Hom om siek mense te genees en duiwels uit te dryf (Hd.10:38).  Omdat Hy die Vader behaag het en sy wil gedoen het, was die Vader met Hom (v.29, 4:34, 6:38, Mt.3:17).  Die Jode het wel gedink dat die Vader Hom aan die kruis verlaat het, maar ook dít was net vir ‘n wyle toe Hy ons sonde op Homself geneem het (Mt.27:43, 46).  Toe Jesus al hierdie dinge gesê het, het baie van die Jode in Hom geglo (v.30).  Volgens v.31-59 het baie van hulle ‘n vals geloof gehad.

 

Is jy ‘n ongelowige wat jou nog nie van jou sonde bekeer het nie? Is jy ‘n gelowige wat van die Here af weggedwaal het?  Het jy ongeredde geliefdes met wie jy die evangelie moet deel?  Dan is Jesus se boodskap in v.21-30 vir jou.  Hier is hoe jy dit moet toepas.

 

Gebruik die kans wat die Here vir jou gee om jou te bekeer (v.21). Moenie sy hand wegklap, op sy aanbod spoeg, of jou hart teen Hom verhard nie.  As jy dit doen sal die tyd kom wanneer jy sy hulp nodig het, maar dit nie vind nie (v.21, 1 Sm.28:6). Carpe Diem – gryp die geleentheid aan!  Jesus het nie gekom om die wêreld te oordeel nie (v.15), maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (3:17).  Hy sal egter binnekort terugkeer om die wêreld te oordeel (v.16, 26).  Sorg dan dat jy aan sy kant is, want as Jesus teen jou is, is jy soos ‘n jong vlakvark wat deur ‘n leeu verskeur word – niemand kan jou red nie (Dt.32:39, Jes.43:13, Ps.50:22, Hos.2:9, 5:14, Heb.10:31).

 

Moenie dink dat die Here vir ewig geduldig sal wees nie. “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.  Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jes.55:6-7).  Jy wil nie by die wederkoms erken dat jy anders moes geleef het nie.  Jy wil nie dán besef dat Hy die ware Messias en die Seun van God is, en dat jy nie in Hom geglo het nie.

 

Jy kan ook nie sê dat jy nie geweet het, of dat Jesus jou nie gewaarsku het nie (v.25, Esg.3:18). Jy kan nie sê dat jy getwyfel het en tyd nodig gehad het om daaroor te dink nie.  Hierdie is nie iets wat jy kan uitstel nie.  Jy kan nie maar net hoop dat jy op jou sterfbed dinge met die Here sal regmaak nie.  Wie sê dat jy ‘n sterfbed gaan hê – dalk sterf jy in ‘n motorongeluk?  Of dalk kom Jesus terug terwyl jy nog op die aarde is.  Miskien kry jy breinskade of jy lê vir maande in ‘n koma.  Dalk maak die morfien dat jy nie ‘n helder oomblik het om die evangelie te hoor en daarop te reageer nie.

 

Jy kan nie met hierdie dinge speel nie. Jy kan dit nie bekostig om in jou sonde te sterf, of om onseker te wees of Jesus die ware Messias en Verlosser is nie (v.21, 24).  Dit gaan my verstand te bowe dat mense grappe maak oor hulle ewige bestemming.  Mense wat sê dat hulle nie bang is om hel toe te gaan nie, weet nie wat die hel is nie.  ‘Hel is die swaarkry wat ek op die aarde moet deurmaak,’ is wat hulle sê.  Maar hulle weet nie waarvan hulle praat nie.

 

Ander is bang vir die hel, maar hou nie op met hulle sonde nie. Ook húlle verstaan nie hoe erg die hel is nie.  Ander mense hoop maar dat die Here hulle op grond van hulle goeie lewe in die hemel sal toelaat.  Hulle postmoderne familie en kollegas sê vir hulle dat die Here hulle in die hemel sal toelaat omdat hulle opreg was – selfs al was hulle ook Hindoes of ateïste.  Hulle weet nie dat hulle in ‘n gekkeparadys lewe nie, omdat almal wat nie in die ware Jesus glo nie maar in ongeloof sterf, hel toe gaan (v.24).  Dit laat my dink aan Moslems wat oortuig is dat hulle hemel toe gaan, omdat hulle met ‘n vliegtuig in ‘n gebou vas gevlieg het, of omdat hulle hulleself in ‘n winkelsentrum met ‘n bom opgeblaas het.

 

Jy kan nie op jou eie terme en voorwaardes in die hemel inkom nie. Probeer maar, dit sal nie werk nie (v.21, Lk13:24).  Jy wil ook nie die kans vat om maar te hoop dat jou lewe met die Here reg was nie (Mt.7:21-23).  Jy moet weet, want net dán kan jy in vrede jou laaste asem uitblaas.  Sorg dan dat jou sonde vergewe is en dat jy ‘n skoon gewete het.  Om vergewe te word moet jy jou bekeer en besef dat God jou net sal aanvaar as Jesus in jou plek staan.  As jy op Jesus vertrou kan jy vir Hom dankie sê dat Hy dit reeds deur sy kruisdood in jou plek gedoen het.

 

Om te ontken dat Jesus die Seun van God en die Messias is, is om in te druis teen dit wat voor die hand liggend is. Maar natuurlik is dit nie voor die hand liggend as jy blind is nie.  En om ‘n blinde mens te oortuig dat daar so iets soos lig bestaan, is so te sê onmoontlik.  Net die Here kan dit doen.

 

[1] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Jn.8:12-21

[2] Leon Morris, The Gospel According to John, p.446 n.34

Advertisements

‘n Oop brief aan lou kerke

Lukewarm church

My vriend Jannie Vosloo het in ‘n preek vertel hoe hy en sy broer as kinders ‘n hand vol pille gedrink het. Sy ma het hulle dokter toe gejaag.  Die lou water wat hy vir hulle gegee het, het gemaak dat hulle die pille opbring.  Jesus wil nie hê ons moet geestelik soos lou water wees en Hom naar maak nie.  Uit Op.3:14-22 leer ons dat daar vir Hom min dinge so erg is soos ‘n lou gemeente.

 

Die aanhef (v.14)

Laodisea was 64 km van die weskus van Turkye af, 30 km wes van Kolosse, en 10 km suid van Hierapolis. Omdat hierdie drie stede naby mekaar was, het hulle interaksie gehad.  In Kol.2:1 sê Paulus dat hy hard gestry het vir die gelowiges in Laodisea en Kolosse.  In Kol.4:13 sê hy dat Epafras hard gewerk het vir die gelowiges in Hierapolis en Laodisea.  Volgens Kol.4:16 moes die Kolossense-brief ook aan die gemeente van Laodisea voorgehou word, en andersom.  Die stad is in die middel van die tweede eeu v.C. deur Antiochus II van Sirië gebou.  Hy het dit na sy eerste vrou Laodice vernoem.[1]

 

Jesus het sy brief gerig aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Laodisea (v.14). In Jes.65:16 het die Here Homself as ‘die God van waarheid of amen’ [Heb.] beskryf.  En in v.14 van ons teks het Jesus Homself as ‘die Amen’ beskryf.  Jesus is die ‘ja en amen’ op alles wat God belowe het (2 Kor.1:20).  Amen beteken ‘sekerlik, waarlik, laat dit so wees’.  Voordat Jesus ‘n belangrike lering gegee het, het Hy dikwels gesê:  ‘Amen, amen, Ek sê vir julle…’ [Gk.].

 

Net soos God in Jer.42:5, is Jesus die Getroue en Waaragtige Getuie (v.14, vgl. v.7, 1:5, 19:11). Hy kan nie lieg nie, sodat die dinge waarvan Hy in hierdie boek getuig ‘n getroue weergawe is van alles wat sy Vader volgens 1:1 vir Hom gesê het (22:6).  Die Laodisense was ontrou, maar Jesus was getrou.

 

Jesus is die Begin van die skepping (v.14, 22:13). Dit beteken nie dat Hy geskep is nie, maar dat die hele skepping sy begin en ontstaan in Hom het (Jh.1:3, Kol.1:16).  Volgens Paulus in Kol.1:15 is Jesus die eersgeborene van die skepping.  Weereens beteken dit nie dat Hy geskep is nie, maar dat Hy die erfgenaam van alles is (Heb.1:2).  Omdat Hy alles geskep het, behoort dit aan Hom.  As die eersgeborene is Hy ook voortreflik bo die skepping.

 

Die vermaning (v.15-19)

Jesus het geweet dat die Laodisense en hulle werke nie warm of koud is nie, maar lou (v.15-16). Jesus wil nie hê ons moet geestelik lou wees nie.  Hy wil hê dat ons warm of koud moet wees (v.15).  Wat beteken dit?

 

By Hierapolis was daar warm waterbronne wat medisinale waarde gehad het. By Kolosse was daar verfrissende en skoon koue water.  Anders as Hierapolis en Kolosse se bruikbare water, het Laodisea geen natuurlike waterbronne gehad nie.  Die Lycusrivier wat naby die stad was het opgedroog in die somer.  Laodisea se water is met klip pype van Denizli se warm waterbronne af na die stad toe gelei.  Oor ‘n afstand van 8 km het die water stadig afgekoel in die klip pype, sodat dit lou was teen die tyd wat dit Laodisea bereik het.  ‘n Kombinasie van die water se temperatuur en die kalsium inhoud, het gemaak dat dit sleg geproe het.  Die inwoners van Laodisea was gewoond daaraan, maar vir mense wat die stad besoek het was dit iets om van naar te word.

 

Jesus het gesê dat die gemeente nie soos die stad se water moes wees nie: hulle moes nie geestelik lou gewees het nie (v.16).  Hulle moes soos Hierapolis se medisinale warm water, en Kolosse se lewegewende en verfrissende koue water gewees het (v.15).  Omdat hulle geestelik lou was en nie met ywer gebrand het nie (v.15, 19), het hulle Hom naar gemaak sodat Hy hulle wou uitgespoeg (v.16, Gk.).

 

Laodisea was finansieel voorspoedig. In die jaar 60 n.C. is Laodisea byna heeltemal deur ‘n aardbewing verwoes.  Die ryk stadsburgers het in hulle welvaart geroem, en die regering se hulp geweier.  Baie gou het hulle die stad op eie onkoste herbou.  Die gemeente se situasie was ‘n refleksie van wat in die stad gebeur het.  Hulle was finansieel voorspoedig.  Hulle het daarin geroem en gesê dat hulle niks nodig het nie (v.17, Hos.12:8, Sg.11:5, 1 Kor.4:8, kontr. Mt.5:3).  Tog het hulle nie besef dat hulle geestelik in ‘n ellendige toestand was nie (v.17).  Eintlik moes hulle bejammer word soos ‘n brandsiek hondjie in die lokasie (v.17).

 

Die stad was ook bekend vir sy florerende bankwese, mediese skool, Frigiese oogpoeier waarmee hulle ‘n salf gemaak het om bysiendheid te behandel, en fyn swart skaapwol. Maar ten spyte hiervan was hulle geestelik so arm soos ‘n kerkmuis (kontr. 2:9), so blind soos ‘n mol (Jh.9:39-41, 12:40, 2 Kor.4:4, 2 Pt.1:9), en poedelnaak met nie ‘n draad klere om hulle sonde te bedek nie (v.17).

 

As die Raadsman van Jes.9:5, het Jesus vir hulle gesê om goud by Hom te koop wat in die vuur gesuiwer is (v.18). Hierdie ware rykdom kon hulle sonder geld by Hom gekoop het (Jes.55:1).  Hulle moes alles prysgegee het om dit te kry, en ook hulle geld gebruik het om hemelse skatte vir hulleself op te gaar (Mt.13:44-45, Lk.12:33, 1 Tm.6:17-19).  Die Here sou hulle ook deur sy tugtiging soos goud gesuiwer het (v.19, Job 23:10, Ps.66:10, 1 Pt.1:7).

 

Hy sou vir hulle wit klere gegee het om die skande van hulle naaktheid te bedek (v.18, 16:15). Die stad se hoë kwaliteit swart wol sou nie gehelp het nie. Jesus moes hulle met die wit klere van sy geregtigheid en vergifnis bedek het (7:14, 19:8, Gn.3:7, 21, Sg.3:3-5).  Om hulle van hulle geestelike blindheid te genees, moes Hy die salf van sy verlossing aangesmeer het (v.18, Jh.9:1, 6-11, 39-41, 2 Kor.3:14-16, Ef.1:18).

 

In sy groot liefde het Jesus die Laodisense getugtig, sodat hulle nie verder op die verkeerde pad sou loop nie (v.19, Heb.12:5-6). In hulle bekering moes hulle ywerig gewees het.  Hulle moes nie uitgestel het nie, maar dit gou gedoen het (Ps.119:60).  Hulle moes nie gerus het voordat dinge heeltemal reg was nie (2 Kor.7:11).

 

Die belofte (v.20-22)

Vir ‘n hele aantal jare v.C. is Laodisea en ander Asiese stede swaar belas. ‘n Sekere Sulla het hulle bv. gedwing om op een slag vyf jaar se belasting te betaal.  Die inwoners van hierdie stede moes elke dag vir die Romeinse soldate kos, klere en ‘n bedrag geld gee.

 

Toe Cicero daar aangekom het, het hy gesien hoe sy voorvangers die inwoners van Laodisea afgepers het. Hy het hom voorgeneem om nie soos hulle te wees nie.  Hy wou net ‘n dak en vier beddens vir sy soldate gehad het.  In die meeste gevalle het sy soldate in tente gebly.  Hy het nie omkoopgeskenke aanvaar nie, en het sy huis oopgestel vir gaste.[2]

 

Ná Cicero was Hadrian die goewerneur (later het hy keiser Antoninus geword). Hy en sy amptenare het sonder uitnodiging by Polemo se huis ingestap (Polemo en sy gesin was die mees invloedryke mense in Klein-Asië).  Toe Polemo by die huis aankom en die selfgenooide gaste sien, het hy hulle weggejaag.[3]

 

Teen hierdie agtergrond het Jesus in v.20 vir die Laodisense gesê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”  As Hy wou, kon Jesus self die deur oopgemaak het.  Hy wou egter gehad dat hulle met gewillige harte die deur vir Hom moes oopmaak (vgl. Hgl.5:2).

 

Wat beteken dit? Hierdie vers het niks te doen met evangelisasie, asof die ongelowige sy hart vir die Here moet oopmaak nie.  Die deur van v.20 is nie die deur van die sondaar se hart nie, maar die deur van die gemeente.  Jesus se eie gemeente het Hom uitgesluit!  Deur sy streng brief het Jesus aan die gemeente se deur geklop.  Hy het geroep en geklop om te hoor of iemand bereid was om die deur vir Hom oop te maak (v.20, Lk.12:36, Jk.5:9).  Selfs as daar net een was, sou Hy vir die gemeente nog ‘n kans gegee het (v.20, Gn.18:32).

 

Vir iemand om die deur oop te maak, moes hy hom van sy louheid bekeer het (v.19) en vir die Here gevra het om na hom toe te kom (v.20). Hy sou dan die Here se soete gemeenskap, teenwoordigheid, vriendskap, liefde en vrede ervaar het (v.20, Jh.14:23), soos wanneer jy saam met ‘n beroemde persoon aan tafel sit en nie kan glo dat hy by jóú kom eet het nie.

 

In die jaar 40 v.C. het Labienus Partikus Asië binnegedring. Toe hy by Laodisea aankom, het Zeno en sy seun Polemo hom teëgestaan, sodat hy nie by die stad kon inkom nie.  A.g.v. van Pelomo se oorwinning oor Labienus, het hy die troon bestyg.  Antony het hom in 39 v.C. regeerder gemaak oor ‘n deel van Silicië, en in 36 v.C. het hy die koning van Pontus geword.  Verskeie van sy nasate was ook konings.  Hulle het egter nie hulle koningskap deur oorwinning verkry soos Polemo nie.  Hulle het tand en nael geveg om hulle trone teen die res van Laodisea se inwoners en ook hulle eie familie te beskerm.[4]

 

Soos met Polemo, sou die oorwinnaars op die troon gesit het, net soos wat Jesus sý vyande oorwin het en op sy Vader se troon gaan sit het (v.21, Ps.110:1).  Die Laodisense moes hulle geestelike louheid oorwin het.  Anders as met Polemo se nasate, sou Jesus die gelowiges toegelaat het om op sy troon te sit (v.21).  Hulle sou saam met Hom op die aarde regeer het (4:4, 5:10, 20:4, Mt.19:28).  Dié wie se geestelike ore (en oë) oop was, moes geluister het wat die Gees vir die gemeentes sê (v.22, 17-18).

 

Die toepassing

Wees dankbaar wanneer dinge met jou goed gaan, maar wees ook versigtig, omdat ons in sulke tye geneig is om gemaklik en lou te raak, sodat ons gou van die Here af wegdraai (v.17, vgl. Dt.6:10-12, 8:7-18, Sp.30:7-9). En hoe kan jy jou kinders, huweliksmaat, familie, vriende en ander gelowiges geestelik verkwik as jy self nie soos verfrissende koue water, of medisinale warm water is nie?  Iemand wat geestelik lou is kan nie anders as om sy naaste naar en groen in die gesig te maak nie – hy sit mense af eerder as om hulle na die Here toe te trek.

 

Na my mening ly Christene in die westerse samelewing aan hierdie siekte. Ons is geestelik lou en ons werke vir die Here is van ‘n lae en swak gehalte (v.15).  En dit terwyl die Here in Rm.12:11 sê:  “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here”.

 

Hoeveel Christene ken jy wat die Here voluit dien, vir wie Christus en sy Woord alles is? Hierdie is die tipe Christen wat elke moontlike geleentheid gebruik om die Here beter te ken:  eredienste, Bybelstudies, bidure.  Hy is betrokke in die gemeente en gebruik sy geestelike gawe om ander te dien.  Bo alles begeer hy om die Here lief te hê, om heilig te wees, en om Hom te gehoorsaam.  Hy is ywerig vir goeie werke (Tit.2:14).

 

God se Woord is vir hom soos goud en heuning – hy wil altyd meer hê. Hy borrel en loop oor van die Here se lof.  Hy is lief vir ander gelowiges (1 Pt.1:22, 4:8).  Hy deel die Goeie Nuus met ander.  Selfs in sy gewone gesprekke praat hy oor die Here.  Waar hy verkeerd gedoen het is hy ywerig om dinge reg te stel (v.19, 2 Kor.7:11).  Hy is bloedernstig oor geestelike dinge; hy neem dit nie ligtelik op nie, grap nie daaroor nie, en speel nie daarmee nie.

 

Hy is dankbaar. Hy wy homself aan gebed en is vurig daarin (Jk.5:16-17).  Hy is besorgd oor die uitbreiding van God se Koninkryk en dra graag daarvoor by.  Hy kan nie vals lering en sonde verdra nie, maar wil dit soos onkruid uitroei.  Hy is ywerig vir God se eer, sodat hy vreesloos opstaan teen dié wat sy Naam misbruik (Jh.2:17).

 

Sulke Christene is so min soos die tande in ‘n boemelaar se mond. En tog is dít die tipe Christene wat die Here soek:  mense wat met ywer brand, en so verfrissend is soos koue water in die woestyn; mense soos Apollos (Hd.18:25).  Hoekom is alle Christene nie so nie?  Na my mening het die voorspoed in ons land en die gebrek aan vervolging gemaak dat ons die Here nie ernstig opneem nie.  Om in ons land ‘n Christen te wees kos niks, en daarom is ons weergawe van Christenskap nie veel werd nie.  Mense in Suid-Afrika sê te maklik dat hulle Christene is, maar as jy die saak van nader bekyk dan lyk hulle lewens maar net soos die wêreld s’n.

 

Die toenemende goddeloosheid in ons land en wêreld het gemaak dat ons gemaklik geraak het. Ons ywer het verkoel.  Ons is soos die padda in die pot water wat stadig verhit word:  ons kom nie agter dat ons in die moeilikheid is nie.  Jesus het gesê:  “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Mt.24:12).

 

Ook die rykdom van ons samelewing het gemaak dat ons die Here nie meer met ywer en blydskap dien nie (Dt.28:47). ‘Wie het die Here nodig as jy geld het?’  Alhoewel ons dit nie direk sê nie, lewe ons asof dit so is.  Ons het genoeg kos vir ‘n maand, en weet dus nie wat dit beteken om vir ons daaglikse brood te bid nie.  Ons gebrekkige gebedslewe en swak toewyding aan die Woord van God en die kerk, wys dat ons vir onsself lewe en nie vir die Here nie.  Alhoewel ons dit nie wil erken nie, het die kerk in Suid-Afrika soos die Laodisense geword.

 

Wat moet ons doen om weer die ywer aan te blaas? Maak seker dat jy egte en vals ywer van mekaar kan onderskei.  Om ywerig te wees vir jou denominasie, kerklike tradisie, reg en geregtigheid, of ‘n politieke saak, is nie dieselfde as om ywerig te wees vir die Here nie.  Dit help dan nie dat jy ywerig is as jy nie presies verstaan waaroor dit gaan nie.  Ywer sonder kennis is nie goed nie (Sp.19:2).  Dit help nie dat jy soos die Jehova’s Getuies of die Jode ‘n opregte ywer het vir ‘n verkeerde saak nie (Rm.10:2, Gal.1:14).  Moet jou dan nie met dinge ophou waarvan die Here eendag vir jou gaan sê:  ‘Wie het gesê jy moet dít doen?’ nie.

 

Pasop ook dat jy nie ywerig van die Here praat, terwyl jou hart soos lou skottelgoed water is nie (Sp.26:23). Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart.  Om die ywer aan te blaas moet jy heel eerste erken dat jy nie ‘okay’ is nie.  Die gemeente of gelowige wat dink dat hy niks nodig het nie, is op ‘n gevaarlike plek (v.17).  Erken eerder dat jy sonder die Here hopeloos en ellendig is, en dat al jou rykdom, kennis en goeie werke niks voor Hom beteken nie (v.17-18).  Deur bekering moet jy die vuil klere van jou geestelike louheid uittrek (v.19).  Vertrou die Here om jou met die wit klere van sý geregtigheid te bedek en jou sonde weg te was deur sy bloed (v.18).

 

Om die liefde en ywer verder aan te blaas, moet jy gereeld deur die Woord, gebed, die nagmaal, en gemeentelike byeenkomste by die tafel aansit en die Here se teenwoordigheid geniet (v.20). Sien ook uit na die hemel waar jy vir ewig by die feesmaal saam met Hom sal aansit.  As jy jou in ‘n situasie bevind waar niemand anders die Here dien nie, kan jy nogsteeds die Here se lieflike teenwoordigheid ervaar (v.20).  Hoor sy roepstem en vra dat Hy na jou toe sal kom (v.20).

 

Indien hierdie preek jou aangespreek het moet jy nie moedeloos raak nie (Heb.12:5), maar dit eerder sien as die Here se hand wat Hy in liefde na jou toe uitstrek (v.19, Heb.12:6).

 

Omtrent ‘n week gelede het ek een aand in die bad geklim om warm te word. Omdat my drie kinders voor my gebad het, was die water lou.  Ek het binne ‘n minuut uitgeklim en my nagklere aangetrek.  Dit was aaklig.  En dit is hoe Jesus oor die gemeente in Laodisea gevoel het.  Hoe voel die Here oor jou?

 

[1] Inligting oor Laodisea het ek uit die volgende bronne verkry: [1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Laodicea.  [2] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Laodicea.  [3] Colin J. Hemer, The Letters to the Seven Churches of Asia in their Local Setting, pp.178-209.

[2] Hemer, Ibid, pp.202-203

[3] Ibid, p.204

[4] Ibid, pp.205-206

‘n Oop brief aan getroue kerke

Faithful church

Ek onthou hoe ek ‘n tyd gelede moedeloos was omdat die gemeente nie groei nie. Ek het my gedagtes en frustrasie by die ouderlingvergadering gedeel.  My getroue helper het vir my goeie raad gegee.

 

‘Ons moet begeer om te groei, maar ons moenie fokus verloor nie,’ het hy gesê. ‘Dit help nie ons het honderde mense, maar ons is ontrou nie.  Die Here wil hê ons moet getrou wees, al beteken dit dat ons vir die res van ons lewe klein bly.’  Dit was min of meer wat hy vir my gesê het.  Volgens Op.3:7-13 was sy raad heeltemal Bybels.

 

Die deur (v.7-8)

Filadelfia was omtrent 150 km van die weskus van Turkye af. Weens die vulkaniese grond was dit perfek vir wynplase.  Filadelfia was bekend vir haar kwaliteit wyn, en daarom was Bacchus of Dionisus die stad se belangrikste god.

 

Die stad het in 189 v.C. ontstaan. Die koning van Pergamus, Attalus II het dit gebou.  Hy was baie lojaal aan sy broer, Eumenes II, die koning van Lidia.  Verskeie persone en omstandighede het probeer om die broers teen mekaar te draai, maar het nie daarin geslaag nie.  Om hierdie rede is die stad Filadelfia of ‘broederlike liefde’ genoem.  Vandag is die dorp Alasehir tussen die ruïnes van die antieke stad gebou.[1]

 

Jesus het sy brief aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Filadelfia gerig (v.7). Jesus se selfbeskrywing as die Heilige en Waaragtige, wys vir ons dat Hy God is (v.7, vgl. 1:5, 3:14, 6:10, 15:4, 19:11, Ps.16:10, 89:19, Jes.6:3, 40:25, 43:3, 15, Mk.1:24, Jh.14:6, Hd.2:27, 3:14, 1 Jh.5:20).

 

In v.7 sê Jesus dat Hy die sleutel van Dawid het. Die beeld wat Hy hier gebruik kom uit Jes.22:22.  Sebna het die sleutel van die paleis of tempel gehad, maar die Here het besluit om hom uit die weg te ruim (Jes.22:15-19) en vir Eljakim in sy plek aan te stel.  Hy het die alleenreg gehad om die paleis of tempel oop en toe te sluit.  Hy het dus letterlik oor die mag beskik om mense in te laat of uit te sluit.  Maar selfs hý sou na ‘n tyd uit sy amp verwyder word (Jes.22:20-25).

 

Jesus het die sleutel van Dawid gehad, sodat Hy mense in die hemel kon toelaat of uitsluit (v.7). Hierdie mag het Hy aan die apostels en die kerk gegee, sodat hulle deur die prediking van die evangelie en kerkdissipline vir mense die hemel kon oopsluit of toesluit (Mt.16:19, 18:18).  Maar anders as Sebna en Eljakim kon Jesus nooit uit sy amp verwyder word nie.  Waar Hy toegesluit het kon niemand dit oopmaak nie, en waar Hy oopgesluit het kon niemand dit toemaak nie (v.7, Job 12:14).

 

Jesus het gesê dat Hy hulle werke ken (v.8). Hy het ‘n oop deur voor hulle gestel wat nie eers die duiwel of hulle aardse vyande kon toemaak nie (v.8-9).  Die Jode het gesê dat net húlle in die hemel kon ingaan, en dat die heidene nie welkom is nie (v.9, Mt.23:13-15, 1 Ts.2:14-16).  Jesus het egter gesê dat Hý die sleutels van die hemel het, en dat Hy reeds besluit het dat hierdie getroue Christene in die hemel kon ingaan (v.8).  Alhoewel hulle ‘n klein gemeente was, kon hulle deur hulle getroue evangelie-prediking die hemel se deure ook vir ander mense oopsluit (v.8, Hd.14:27, 1 Kor.16:9, 2 Kor.2:12, Kol.4:3).

 

Wat vir Jesus belangrik was, was nie hoe groot die gemeente was nie, maar of hulle getrou aan sy Woord vasgehou het (v.8). Met hulle hele wese het hulle dit geglo, gedoen en verkondig.  Hulle het dit ook nie verloën toe die Jode hulle vervolg het nie (v.8-9).  As ons getrou is, sal die Here sorg vir die sukses en invloed van ons bediening (v.8).  ‘You take care of the depth of your ministry, and God will take care of the breadth.’ (John MacArthur).

 

Die verdrukking (v.9-11)

Ek het ‘n vrou ontmoet wat verskriklik bang is vir die groot verdrukking. Sy is oortuig dat daar winkels is wat die voedingswaarde uit hulle ontbytpap uithaal, omdat hulle ons wil doodmaak.  Ek het op TV gesien hoe ‘n gesin ‘n huis vol van blikkieskos opgaar vir wanneer dinge so erg raak, dat daar nie meer kos in Amerika is nie.  Jy kry mense wat nie wil kinders hê nie, omdat hulle in vrees lewe vir die groot verdrukking en die 666.  Ek glo dat die verdrukking in v.9-11 niks hiermee te doen het nie, en dat dit ‘n spesifieke toepassing vir die Christene in Filadelfia gehad het.

 

Die Jode het gesê dat hulle die volk van God is, maar omdat hulle die Messias verwerp het, was hulle die kinders en sinagoge van Satan (v.9, 2:9, Jh.8:39-44). Diep in hulle harte was hulle nie ware Jode nie (v.9).  Soos wat die heidene eens voor die Jode gebuig het (Eks.11:18, Est.8:17), sou die Jode voor die heidene gebuig het, omdat húlle die ware Jode en die nageslag van Abraham was (v.9, Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 29, 6:16).  Die Jode sou nie anders kón as om te erken dat die kerk God se geliefde volk is nie (v.9, Jes.43:4, Ef.5:25, 1 Pt.2:9-10).  In 70 n.C. is die Joodse godsdiens met sy tempel, priesters en offers verwoes.  Die kerk van Jesus Christus het egter die eindes van die aarde bereik.  Die profesieë in Jes.49:23, 25, 60:14 is op ‘n ironiese manier vervul.

 

Die gemeente het geduldig onder die Jode se vervolging volhard (v.9-10, vgl. 1:9). As gevolg van hulle getrouheid, sou die Here hulle bewaar het van die groter verdrukking wat oppad was (v.10, 7:14, Mt.24:21-22, vgl. Jh.17:15, 2 Pt.2:9).  In v.10 praat Jesus van die verdrukking as die ‘uur van beproewing’.  Hierdie verse praat nie van vervolging in die algemeen nie, maar van ‘n spesifieke verdrukking.  Die hele wêreld sou verdruk word (sien Lk.2:1 vir ‘hele wêreld), en die hele land [Gk. ] of aarde sou getoets word (v.10).  Dus sou die verdrukking intens gewees het, maar net vir ‘n kort tydjie (uur) geduur het.  Hierdie verdrukking word in hfst.6-19 beskryf.

 

Volgens Jesus was die verdrukking nie meer ver weg nie, maar sou dit gou plaasvind (v.11, 1:1, 3). Jesus sou gou gekom het om sy kerk se vyande – die Jode in hierdie geval – te oordeel (v.11).  Ons weet dat Hy dit in 70 n.C. deur die Romeine gedoen het.  As die gelowiges aan die Here en sy Woord vasgehou het, sou Hy hulle met ‘n oorwinnaarskroon beloon het (v.8, 10-11, 2:10, 25, Jk.1:12).  Hulle moes vasgestaan het en nie die Here se Naam verloën het nie (v.8-9).  Hulle moes nie toegelaat het dat die Jode die kroon van hulle koppe af steel nie (v.11).

 

Die pilaar (v.12-13)

Toe ek in 2007 Taiwan besoek het, was ek in die Taipei 101. Op daardie stadium was dit die hoogste gebou in die wêreld.  Naby aan die bokant van die gebou is daar iets wat soos ‘n reuse bal met elastiese arms lyk, sodat dit siklone en aardbewings kan weerstaan.

 

Wanneer Jesus in v.12 sê dat die gelowiges pilare sal wees, het hulle geweet dat Hy hulle onbeweeglik sou maak. In moderne terme sou hulle soos die bal met elastiese arms gewees het.  Omdat Filadelfia baie aardbewings gehad het, het Jesus se beeld perfek sin gemaak.

 

Die gelowiges moes nie aan die Jode se druk toegegee het nie, maar eerder die oorwinning behaal het (v.12, 8-9). Indien hulle dít gedoen het, sou hulle nie maar net ‘n sinagoge gewees het nie (v.9), maar pilare in die tempel van God (v.12).  Soos Sardis, is Filadelfia byna totaal deur 17 n.C. se aardbewing verwoes.  Daar was ook baie ander aardbewings in die stad.  Wanneer Jesus sê dat Hy sy kinders pilare sal maak, moet ons dit teen hierdie agtergrond verstaan.

 

In 1 Tm.3:15 sê Paulus dat die kerk ‘n pilaar en grondslag van die waarheid is. In 1 Kor.3:16 sê hy dat die kerk die tempel van God is.  Volgens 21:22 is God en Christus die tempel.  Die ware gelowige of oorwinnaar sal hier en in die hemel deel van God se tempel wees.  Ons is een met Christus en kan nooit uit die hemelse tempel uitgaan nie (v.12, Ps.23:6, 27:4, 84:5, 11).  A.g.v. die aardbewings in Filadelfia, moes die mense in sulke tye die stad verlaat het om skuiling in die ooptes te soek.[2]  Volgens Jesus sal dit nooit in die hemel gebeur nie, en sal die oorwinnaars veilig wees (v.12).  Of in gewone Afrikaans:  geen gelowige sal ooit sy redding verloor of uit die hemel geskop word nie.

 

Jesus sou God se Naam, die naam van die nuwe Jerusalem wat uit die hemel uit neerdaal (21:2, 10), en sy eie nuwe Naam op die oorwinnaars of pilare geskryf het (v.12, 14:1, 22:4, vgl. 1 Kon.7:21, Esg.48:35). In die geskiedenis het Filadelfia baie name gehad:  Dekapolis, Flavia, Klein Atene en Neosesarea.  Net soos die stad, sou die gelowiges nuwe name gekry het.

 

Jesus en sy Vader se Naam sou op hulle gewees het, om te wys dat hulle aan Hóm behoort (2:17, Jes.44:5, Hd.20:28, 1 Kor.6:20). Die feit dat Hy die nuwe Jerusalem se naam op hulle geskryf het, het gewys dat hulle burgers van die hemel is, en dat hulle vir ewig daar sou woon (21:2-3, 7, Ps.87:5-6, Gal.4:26, Phil.3:20, Heb.11:10, 13-16, 13:14).  Dié wie se geestelike ore oop was, moes geluister het na wat die Gees vir die gemeentes sê (v.13).

 

Die toepassing

Die Here wil hê dat ons as gemeente en individue getrou moet wees. Natuurlik help dit nie jy probeer om getrou te wees as jy nie gered is nie.  Besef ook asseblief dat jy nie op grond van jou eie getrouheid gered word nie, maar omdat Jesus Waaragtig en Getrou is (v.7).  Jesus was getrou om die Vader se wil te doen in sy lewe, kruisdood en opstanding.  As gevolg van sý getrouheid sluit Hy vir ons die hemel oop (v.7).  Draai dan jou rug op jou sonde en die wêreld, en stap in geloof deur die deur wat net Jesus vir jou kan oopsluit.  Miskien weet jy nie hoe om dit te doen nie.  Kom in gebed na Jesus toe en vra dat Hy jou sal help.  Hy is immers die Deur vir die skape (Jh.10:7, 9).

 

As ons dan gered is, moet ons getrou wees aan die Here en sy Woord. Ons moenie moedeloos word omdat ons klein is nie.  Ek sê nie dat ons nié gemeentelike groei moet begeer, of dat ons nié vir die Here moet vra om gereeld mense by die gemeente te voeg nie (Hd.2:47).  Tog is dit nie die hoeveelheid mense wat bepaal of die Here se guns oor ons is of nie.  Al wat Jesus van ons wil hê is dat ons getrou moet wees (v.8, 10).

 

Hoe kan ons weet of ons getrou is of nie? Is ons getrou aan sy Woord?  Verkondig ons dit getrou?  Gehoorsaam ons dit?  As ons op hierdie maniere getrou is, sal dit die Here behaag om ons te gebruik en vir ons ‘n oop deur te gee, sodat ons die evangelie met effek kan verkondig (v.8).

 

Ons hoef nie ‘n groot gemeente te hê om effektief te wees nie. Niks kan die Here verhinder om te red deur baie of deur min nie (v.8, 1 Sam.14:6).  Jesus kan ‘n klein gemeente gebruik om baie mense te bereik.  Hy het ‘n dosyn dissipels gebruik om die wêreld om te keer.  Hy het vir Paulus gebruik om die Romeinse Ryk te skud.  Hy het vir Martin Luther, Johannes Calvyn en Ulrich Zwingli gebruik om Europa op sy kop te keer.  Hy het vir George Whitefield en John Wesley gebruik om Engeland aan die brand te steek.  Vandag nog kan Hy ‘n klein groepie mense gebruik om ‘n groot invloed uit te oefen.

 

Getrouheid is dit wat die Here van ons vra – ook wanneer ongelowiges teen ons staan (v.8-9). Ons moenie toegee, sodat ons maar net saam met die wêreld inval nie.  Pasop ook dat jy nie deur vreemde kerke en belydende Christene versoek word om die Bybel eenkant toe te skuif nie.  Bly getrou!

 

Vir dié wat getrou is belowe die Here dat Hy ons uit die verdrukking sal bevry, of dalk selfs dat ons dit sal vryspring. Ek dink nie dat v.10 ‘n belofte vir alle gelowiges is nie.  Jesus het dit spesifiek vir die gelowiges in Filadelfia gegee.  Daarom kan ons nie sê dat elke gelowige wat aan die Here getrou is van die beproewing gespaar sal word, of dat dié wat verdruk word ontrou is nie.  Smirna was getrou, en tog het die Here gesê dat hulle vir tien dae beproef sou word (2:10).  Dit blyk dat sommige van hulle vir die geloof moes sterf.  Moet dan nie dink dat jy noodwendig ontrou is omdat jy beproef word, of getrou is omdat jy nié beproef word nie.

 

Persoonlik is ek van mening dat ons nie moet hoop om weggeraap te word, sodat ons die verdrukking kan vryspring nie. Ek is oortuig dat mense te gou na die ‘eindtyd’ toe wil spring wanneer hulle Openbaring lees.  Hulle vergeet dat hierdie boek bedoel was om ‘n troos vir die eerste lesers te wees.  Ek glo dat die verdrukking waarvan Jesus hier praat in húlle tyd sou plaasvind.  Jesus sê dat hulle a.g.v. hulle getrouheid nie deur die verdrukking sou gaan nie.  Die implikasie is dat die ander gemeentes wel deur die verdrukking sou gaan.  Jesus het ook gesê dat die verdrukking binnekort sou plaasvind (v.11).  As die verdrukking in die verre toekoms sou plaasvind, dan was Jesus se belofte sinneloos.  In daardie geval sou hulle die verdrukking vrygespring het, of hulle nou getrou was of nie.

 

Ek glo nie dat ons op grond van hierdie teks ‘n groot verdrukking in die toekoms hoef te vrees nie. Aan die ander kant moet ons nie dink dat alles maklik gaan wees nie.  Hoe swaar die beproewing sal wees hang van die Here af.  Ons plig is eenvoudig om getrou te wees en te glo dat die Here barmhartig is.  Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte beproef of versoek word nie.

 

Alhoewel jou getrouheid jou nie kan red nie, sal die Here jou daarvoor beloon. As jy nié getrou is nie, sal jy jou kroon verloor (v.11, 2 Jh.8, 1 Kor.3:12-15).  Ek weet nie wat die kroon is nie, maar as die Here ons gedurig aanspoor om daarvoor te arbei, moet dit spesiaal wees, en ook ‘n verlies wees as jy dit verloor.  As jy nie getrou dien nie, sal jy verseker skade ly.

 

Weer sê ek dat getrouheid nie ‘n vereiste is vir redding nie. Dit bewys egter of iemand gered is, en of die Heilige Gees hom van binne af nuut gemaak het of nie (Gal.5:22).  As jy tot die einde toe getrou bly sal die Here jou ‘n pilaar in sy hemelse tempel maak.

 

Hoe lyk dit met jou? Is jy getrou?  Iemand wat regtig getrou en lojaal is, is so skaars soos hoendertande (Spr.20:6).  Bewys jóú getrouheid aan die Here dat jy een van syne is?  Behoort jy aan Hom?  Is jy ‘n burger van die hemel?  Sal Hy op die laaste Dag vir jou sê:  ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg?’ (Mt.25:21).  Wees dankbaar dat Jesus getrou is, selfs wanneer ek en jy ontrou is (2 Tm.2:13).

 

D.A. Carson is ‘n Kanadese teoloog – waarskynlik die beste ter wêreld. In ‘n preek vertel hy hoe sy pa dwarsdeur sy bediening nooit ‘n gemeente van groter as 60 mense gehad het nie.  Eers toe hy in sy 60’s was het hy noemenswaardige vrug op sy arbeid gesien.  Tog het dit hom nie afgesit nie.  Soos die Christene in Filadelfia het hy getrou gebly.  En dít is wat die Here van ons wil hê.

 

[1] My inligting oor Filadelfia het ek verkry uit die volgende bronne: [1] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Philadelphia.  [2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Philadelphia. [3] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.423.  [4] Colin J. Hemer, The Letters to the Seven Churches of Asia in their Local Setting, pp.153-160

[2] Colin J. Hemer, Ibid, p.157

Kan die Here my vergewe?

Will God forgive me

Ek het al meer as eenkeer in my lewe gehoor hoe mense sê: ‘Die Here kan my nie vergewe nie.’  In Jh.7:53-8:11 wys die Here vir ons dat dit verkeerd is om so te dink.  Dit ís so dat hierdie gedeelte nie in die beste en oudste manuskripte van Johannes voorkom nie.[1]

 

Dit lyk of die skryfstyl beter by Lukas pas as by Johannes. Tog aanvaar ons dat dit deel van God se geïnspireerde Woord is.  As ons dit met die res van die Skrif vergelyk, dan sien ons dat dit soos ‘n legkaart pas, en dat die Jesus wat hiér beskryf word, die ware Jesus van die Bybel is.

 

Die hof (7:53-8:2)

Ek het in ‘n video op YouTube gesien hoe ‘n jong Skotse man tydens ‘n erediens na John MacArthur toe stap, en sy lering oor die gawes begin verdoem. Deur sy geskreeu het hy die erediens ontwrig.  Jesus het ‘n soortgelyke ondervinding gehad toe Hy in die tempel besig was om die volk te onderrig.  Die Joodse leiers het ingewals, en die tyd van Bybelse onderrig in ‘n hofsaak verander.

 

Jesus was waarskynlik vir een of ander Fees in Jerusalem. Aan die einde van elke dag het die mense wat daar gebly het, na hulle huise toe gegaan (7:53).  Omdat Jesus nie ‘n huis in Jerusalem gehad het nie, het Hy oos van die stad na die Olyfberg toe gegaan (8:1, Sg.14:4).  Hy het moontlik by Lasarus, Maria, en Marta aan die oostelike helling van die Olyfberg in Betanië gebly (11:1, 18, 12:1, Lk.19:29).  Of dalk het Hy op die berg oornag en in die oggend weer na die tempel toe teruggekeer (8:1-2, 18:1-2, Lk.21:37-38, 22:39).

 

Jesus was vroeg in die oggend by die tempel (8:2, Lk.21:38), omdat Hy vir so lank as moontlik God se Woord vir die mense wou leer. Hulle het na Hom toe gekom, omdat Hy met gesag gepraat het (7:14-15, Mt.7:28-29, Mk.12:37, Lk.4:22).  Volgens die gebruik van die tyd het Jesus gaan sit om die mense te leer (8:2, Lk.4:20, Mt.5:1).  Omdat Hy vir ‘n volle dag die mense onderrig het, sou dit Hom moeg gemaak het om die hele tyd te staan.

 

Die beskuldiging (8:3-6a)

My vrou het dié week vir my iets gewys wat sy op Facebook gesien het. Die vraag was:  ‘Are you childish?’  Onderaan is daar ‘n blokkie waar jy ‘yes’ of ‘no’ kan merk.  Die ‘yes’ blokkie lyk normaal, terwyl iemand met inkleur potlode ‘n huisie en boompie oor die ‘no’ blokkie geteken het.

 

Dit laat my dink aan mense wat vra of jy nog jou vrou slaan. As jy ‘nee’ sê dan beteken dit jy het haar geslaan, en as jy ‘ja’ sê dan beteken dit dat jy haar slaan.  Dit is wat die Jode in 8:3-6a met Jesus gedoen het.

 

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het ‘n vrou na Jesus toe gebring (8:3). Volgens hulle het hulle haar betrap dat sy egbreuk pleeg (8:3-4).  Daar het sy voor Jesus, die leiers, en die volk gestaan (8:2-3):  skuldig, kwesbaar, skaam en bang.  Die wet van Moses het gesê dat sulke vroue met die dood gestraf moes word (8:5, Lv.20:10, Dt.22:22).  Die Joodse leiers was gereed om haar te stenig, en het nie eers probeer om vir haar ‘n regverdige verhoor te gee nie.

 

Omdat Jesus ‘n rabbi of leermeester was (8:2), wou hulle gehoor het wat Hý oor haar sê (8:4). Indien Hy gesê het dat sy gestenig moet word, sou hulle gesê het dat Hy sonder genade is.  Die Romeine sou Hom vasgetrek het, omdat hulle wet nie vir die Jode toestemming gegee het om iemand ter dood te veroordeel nie.  Indien Jesus gesê het dat sy nié gestenig moes word nie, sou die Joodse leiers gesê het dat Hy die wet van Moses breek.  Hy was waarlik tussen die duiwel en die diep blou see.

 

Duidelik het dit nie vir hulle oor geregtigheid gegaan nie, maar oor ‘n begeerte om vir Jesus uit te vang (8:6). As hulle geregtigheid gesoek het, sou hulle volgens Dt.22:22 nie net die vrou nie, maar ook die man na Jesus toe gebring het.  Dit verg immers twee mense om egbreuk te pleeg.  Die Jode het slegte motiewe gehad.  Hulle het geweet dat Jesus simpatie gehad het met prostitute en sondaars (Lk.7:36-50), en het gehoop om Hom in hulle net te vang (8:6, Mt.16:1, 19:3, 22:15, 35, Lk.11:53-54).  Hulle was nie eintlik van plan om die vrou dood te maak nie, maar vir Jesus (8:6, 7:1, 25).

 

Die uitspraak (8:6b-8)

Daar is ‘n Afrikaanse spreekwoord wat sê: ‘Die skrif is aan die muur.’  Dit beteken eenvoudig dat dinge só teen jou gedraai het, dat daar nie meer vir jou uitkom kans is nie.  Die spreekwoord is gebasseer op Dn.5 waar die bose koning Belsasar gesien het hoe ‘n mens se hand teen die muur skryf.  Hy was vreesbevange en het vir Daniël gevra om die skrif te vertaal en uit te lê.  Daniël het vir die koning gesê dat sy dae getel is, en dat God sy lewe tot ‘n einde gaan bring.  In 8:6b-8 sien ons hoe dieselfde vingers op die grond geskryf het.

 

Omdat Jesus nie ‘n aardse regter was nie, het Hy hulle beskuldiging geïgnoreer (Lk.12:14). Hy het afgebuk en op die grond geskryf (8:6b).  Ons weet nie wat Hy geskryf het nie, en kan maar net raai.  In Jer.17:13 sê die Here dat Hy die name van dié mense wat Hom verlaat het, in die grond sal skryf.  Soos name wat op die strand geskryf is gou verdwyn, sou ook hierdie mense nie onthou word nie.

 

Sommige ou geskrifte sê dat Jesus hulle sondes in die grond geskryf het.[2]  Job 13:26 sê:  “For you write bitter things against me and make me inherit the iniquities of my youth.” (ESV).  In die Romeinse howe het die regter die oortreder se straf neergeskryf en daarna afgelees.[3]  Dalk is dít wat Jesus in 8:6b-7 gedoen het?

 

Die Jode was nie tevrede met Jesus se stilte nie, en het Hom gedruk vir ‘n antwoord (8:7). Hy het opgestaan, hulle in die oë gekyk, en vir hulle ‘n smakie van hulle eie medisyne gegee.  ‘Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi,’ het hy gesê (8:7, Dt.17:7).  Sodoende het Hy die wet van Moses eerbiedig en gewys dat húlle die oortreders is.  Indien hulle klippe opgetel het om haar te stenig, het hulle daardeur gesê dat hulle sondeloos is.  En indien hulle haar nié gestenig het nie, het hulle erken dat hulle self skuldig is (Rm.2:1, 21-22).

 

Die feit dat hulle haar uitgevang het waar sy met haar sonde besig was, het gewys dat hulle in hulle harte en gedagtes egbrekers was (Mt.5:27-28). Ook hulle onbybelse oortuiging en praktyke m.b.t. egskeiding het gemaak dat hulle egbrekers was (Mt.19:3, 9).  Hulle sonde was erger as die vrou s’n, omdat hulle probeer het om die Messias uit te vang en dood te maak.  Jesus het weer afgebuk en op die grond geskryf, asof hulle beskuldiging teen Hom geen basis gehad het nie (8:8, 46).

 

Die verdaging (8:9-11)

In die vroeë kerk het Augustinus gesê dat party mense hierdie storie uit die vroeë manuskripte verwyder het, omdat hulle gevrees het dat dit immoraliteit onder vroue sou aanhits en verskoon.[4]  Ons weet nie of hy reg was nie, maar vandag nog gebruik mense Jh.8 om hulle sonde te verskoon.

 

Wanneer iemand hierdie mense se sonde uitwys, dan sê hulle: ‘Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi.  Jesus het vir die immorele vrou gesê dat Hy haar nie veroordeel nie.  Wie is jý om my te oordeel?  Het Jesus nie gesê jy mag nie oordeel nie?’

 

Die waarheid is dat Jesus die teenoorgestelde gesê het.  Jesus het nie haar sonde goedgekeur nie, maar juis gesê dat sy daarmee moet ophou (v.11).

 

Die Joodse leiers het geweet dat hulle skuldig is, en het een vir een weggeloop (8:9). Omdat die ouer manne wyser was, het hulle eerste geloop (8:9).  Alhoewel hulle skuldig was, het hulle nie hulle sonde bely en vir die Here gevra om hulle te vergewe nie, maar die rug op Hom gedraai.  Die vrou het alleen voor Jesus gestaan soos ‘n beskuldigde voor die Regter (8:9).

 

Jesus het opgestaan, haar in die oë gekyk en vir haar gevra: ‘Vrou, waar is hulle?  Het hulle jou nie verdoem nie?’ (8:10).  Nie een van hulle was gekwalifiseerd om haar te veroordeel nie.  Net Jesus was, maar Hy het nie.  ‘Niemand het my verdoem nie, Here,’ het sy gesê (8:11).  Sy het besef dat Hy die Here is.  In sy groot genade het Hy haar nie verdoem nie, aangesien Hy nie gekom het “om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (3:17).

 

Moenie dink dat Jesus haar sonde goedgekeur het, of dat Hy dit onder die mat ingevee het nie. Hy was bereid om haar te vergewe, omdat Hy later die straf vir haar sonde op Homself sou neem aan die kruis.  Maar om vergewe te word kon sy nie in haar sonde voortgaan nie; sy moes haar daarvan bekeer het (8:11, 5:14).  Sy moes nie net hierdie sonde nie, maar haar leefstyl van sonde gelos het [Gk.].  Sy moes haarself aan die Here en sy Woord onderwerp het.  Sy moes ‘n nuwe blaadjie omgeslaan het.  Sy moes heilig, regverdig, rein, en gehoorsaam gewees het.  Sy moes nie bloot so gelewe het omdat sy bang was sy word gestenig nie, maar omdat sy Jesus se genade en vergifnis ontvang het.  Indien sy haar nié bekeer het nie, sou Jesus haar op die laaste Dag tot die ewige hel verdoem het.

 

Om die Here se vergifnis te ontvang moet jy jou bekeer (v.11, Lk.24:47, Hd.3:19). As jy jou nié bekeer nie, sal God sy swaard teen jou skerp maak, sy boog span, en jou die teiken van sy pyle maak (Ps.7:13).  Omdat Jesus sonder sonde is, kan en sal Hy die eerste klip optel as jy jou nie bekeer nie (v.7).

 

Om jou te bekeer beteken nie bloot dat jy jou sonde erken, of selfs dat jy vergifnis vra nie. Farao, Bileam, Saul en Judas is voorbeelde van mense wat hulle sonde erken het en vergifnis gevra het, maar nie vergewe is nie (Eks.9:27-28, 10:16-17, Nm.22:34, 1 Sm.15:24-25, 30, Mt.27:4-5).  Om vergewe te word moet jy ware berou hê.  Moenie soos Farao wees en net wil hê dat die Here jou slegte omstandighede moet verander nie.  Moenie soos Bileam jammer wees omdat jy weet die Here is kwaad vir jou, en omdat jy nie in moeilikheid wil kom nie.  Moenie soos Saul wees en gou jammer sê, omdat jy nie verleë wil wees voor ander, of omdat jy nie jou status wil verloor nie.  Moenie soos Judas jou sonde bely, omdat jy jou skuldige gewete wil stilmaak nie.

 

Volgens die Bybel is dit moontlik om vir ‘n tydjie met jou sonde op te hou, sonder dat jy jou waarlik bekeer het. Die Here ken ons harte en weet of ons ware berou het (Ps.78:34-37).  In 1 Kon.21:27 het koning Agab hom voor die Here verneder, maar gou weer na sy sondige weë toe teruggekeer.  In Jer.34:8-16 het Sedekia vir die volk gesê om hulle Hebreeuse slawe vry te laat, maar later het hulle die slawe teruggevat en teen die Here gesondig.

 

Wat is ware bekering dan? Ware bekering is ‘n gawe wat van die Here af kom (Hd.5:31, 11:18, 2 Tm.2:25).  Alhoewel jý jou moet bekeer, moet jy erken dat jy dit nie sonder die Here kan doen nie.  Sê dan vir Hom dat jy bereid is te doen wat reg is, en vra dat Hy in jou hart sal werk.  Om jou waarlik te bekeer, moet jy aanspreeklikheid vir jou dade aanvaar.  Moenie ander mense of jou omstandighede blammeer nie, maar pak die skuld op jouself (2 Sm.24:17).  Wees kwaad vir jouself en jou sonde, eerder as vir God en ander mense.  Moenie jou sonde verskoon nie:  ‘Ja, ek het gesondig, maar…’  Moet dit nie afmaak asof dit nie so erg is nie.  Moenie sê dat jou sonde ‘n siekte is, of dat ‘n demoon van woede of wellus gemaak het dat jy dit doen nie (Gn.3:13).

 

As jy jou waarlik bekeer het, sal jy bereid wees om die gevolge van jou sonde te dra, hoe swaar dit ookal mag wees. Jy sal nie sê dat die Here onregverdig en verkeerd om jou te straf, en dat jý reg is nie.  Jy sal saam met Dawid sê dat die Here reg is, en jy verkeerd (Ps.51:6).  Jy sal bereid wees om enige ongerief en pyn te verduur om jou sonde te los (Mt.5:29-30).  Jy sal bereid wees om enige verhouding te beeïndig wat jou tot sonde versoek.

 

Ware bekering vrees om weer teen die Here te sondig, wil hê dat sy of haar verhouding met die Here herstel moet word, rus nie totdat dit reg is nie, soek ‘n rein hart (2 Kor.7:11), draai nie net sy rug op een sonde nie, maar poog om die Here met sy hele lewe te gehoorsaam (v.11), los nie net die verkeerde nie, maar jaag na wat reg is (Ef.4:22-24), en doen dade wat by die bekering pas (Mt.3:8, Hd.26:20).

 

As jy bloot jammer kon sê en jou nie hoef te bekeer nie, dan is God se vergifnis goedkoop (v.11, Sp.28:13). Jesus het sy bloed gestort om ons te vergewe, en daarom kan ons nie volhard in die sonde waarvoor Hy gesterf het nie.  Bekeer jou van jou sondige gedagtes, woorde, motiewe, begeertes, dade, leefstyl, karakter en persoonlikheid.  En sien dan dat Jesus en sy kruisdood jou enigste hoop is om vergewe te word.

 

‘Hoe weet ek die Here sal my vergewe? Wat as ek te erg of te veel gesondig het, of as ek my kanse verbeur het?’  In 1 Jh.1:9 staan daar:  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”  God is getrou en kan nie lieg nie.  As jy jou sonde erken en in ware berou na Hom toe kom, sal Hy jou vergewe.  Hy is ook regverdig.  As jy dan op Jesus vertrou en in Hom skuil, sal God jou nie straf nie, omdat Hy alreeds vir Jesus in jou plek gestraf het aan die kruis.  As jy jou sonde bely en nie vergewe word nie, dan sê God in effek dat Jesus se offer vir sondaars nie voldoende is nie.

 

Geen sonde is te groot as jy met ‘n berouvolle hart na die Here toe kom nie. In Jh.8 het Hy ‘n losbandige vrou vergewe.  In Jh.4 het Jesus ‘n vrou vergewe wat vyf keer getroud was en daarna saam met ‘n man gebly het.  In Lk.7 het Hy ‘n prostituut vergewe.  Hy het Dawid se egbreuk en moord vergewe.  Hy het ook Paulus se vervolging van Christene, Petrus se verloëning van Jesus, die rower aan die kruis se moord, Saggeus se diefstal, die Nineviete se wreedaardige dade (Jona 3) vergewe.  Jesus se broers het gesê dat Hy mal is (7:5, Mk.3:21), en tog het Hy hulle vergewe (Hd.1:14).  Hy het die Korintiërs se egbreuk, lastering, gierigheid, afgodery, dronkenskap, homoseksualiteit, en die res van hulle sonde vergewe (1 Kor.6:9-11).  En kan die Here jóú nie vergewe nie?  Wat maak jou so spesiaal dat jy buite die bereik van sy genade is?

 

‘Maar wat as ek myself nie kan vergewe nie? En wat as die duiwel of mense my alewig aan my sonde herinner (8:4)?’  Wat saakmaak is of die Here jou vergewe het, en nie of jy jouself vergewe het nie.  As die Here jou regverdig en onskuldig verklaar het, maak dit nie saak of mense en die duiwel jou verdoem nie (v.10-11, Rm.8:33).  Op die oordeelsdag sal jy gou agterkom dat Jesus se opinie al een is wat tel.  Maak dan seker dat die Here jou vergewe het.

 

Ek het ‘n goeie vriend wie se stryd baie dieselfde was as John Bunyan s’n. Voor sy bekering het hy gedink dat hy teen die Heilige Gees gesondig het.  Hy het gedink dat die Here hom nie kán vergewe nie.  Maar tot sy verligting het hy besef dat die Here se genade en vergifnis groter is as sy sonde.  Ek bid dat die Here vir jóú sal doen wat Hy vir my vriend en die vrou in Jh.8 gedoen het.

 

[1] ESV voetnota; William Hendriksen, New Testament Commentary: John, vol.2, pp.34-35; Bruce Metzger, A Textual Commentary on the Greek New Testament, pp.220-221; D.A. Carson, The Gospel According to John, pp.333-334; Leon Morris, The Gospel According to John, pp.883-884

[2] Bruce Metzger, Ibid, p.222

[3] Leon Morris, Ibid, p.888 n.22

[4] William Hendriksen, Ibid, p.35

‘n Gebed vir geregtigheid

Dallas shooting

Suid-Afrikaners is moeg vir die gemors in ons land. Oor die afgelope twee jaar het ek keer op keer gehoor hoe mense sê:  ‘Dit help nie eers jy gaan na die polisie toe nie, want hulle doen niks aan die saak nie.’  Ons weet dat baie polisiemanne korrup is.  Daar is selfs skelms wat in polisie uniforms rondloop en mense beroof of selfs doodmaak.  Wat moet ons doen?  In Lk.18:1-8 gee Jesus vir ons die oplossing.

 

Die gelykenis (v.1-5)

Soos wat jy weet het prokureurs ‘n reputasie. In ‘n preek van John MacArthur vertel hy van ‘n prokureur in hulle gemeente wat ‘n kollega na ‘n erediens toe genooi het.  ‘Wat gaan jy kerk?’ het die kollega gevra.  ‘Grace Community Church,’ het die prokureur gesê.  ‘Wat!  Ek sal nooit na julle kerk toe kom nie.  Die skelmste prokureur in Los Angeles gaan soontoe,’ het sy kollega vir hom gesê.

 

Die prokureur het die storie vir MacArthur vertel. Toe MacArthur daardie Sondag in die kansel staan, het hy die storie vir die gemeente vertel en gesê:  ‘Ek weet nie watse een van julle prokureurs dit is nie, maar ek wens jy wil jou lewe regkry.’  MacArthur het grappenderwys gesê dat 26 prokureurs hulle daardie dag bekeer het.  Net soos die skelm prokureur na wie hý verwys het, was daar in Jesus se storie ‘n onregverdige en korrupte regter.

 

In die vorige gedeelte het Jesus van Homself as die Koninkryk van God gepraat wat in die volk se midde was (17:20-21). Omdat hulle die Messias nie erken het nie, sou hulle later begeer het om Hom te sien (17:22).  Hulle sóú Hom gesien het… in sy oordeel (17:24).  Hy moes eers gely het en deur hulle verwerp word (17:25).  Daarna sou Hy teen hulle gekom het, soos wat Hy in Lot se tyd teen Sodom gekom het, en teen die wêreld in die tyd van Noag (17:26-30).

 

Jesus het nou ‘n gelykenis vertel, omdat Hy vir sy dissipels wou leer dat hulle altyd moes bid en nie moed verloor nie (v.1). Dit was veral in die vorige konteks van verdrukking en oordeel wat hulle in gebed moes volhard (21:36, Rm.12:12).  Tog moet ons ook Jesus se lering in die algemeen toepas, en selfs in tye van voorspoed volhard (11:8-9, Gn.32:26, Hd.1:14, 2:42, 6:4, Ef.6:18, Kol.4:2, 12, 1 Ts.5:17, Heb.5:7).

 

Jesus het dit soos volg geïllustreer. In ‘n sekere stad was daar ‘n regter wat nie die Here gevrees het nie, en ook nie respek gehad het vir sy medemens nie (v.2).  Dit is veilig om te sê dat hy, soos die regters en prokureurs in Suid-Afrika, skelm en korrup was (Eks.18:21, 2 Kron.19:7, Ps.82).  Hy het seker die goddelose voorgetrek, terwyl hy weduwees en weeskinders onderdruk het (Eks.22:22-24, Dt.10:18, 24:17, Ps.68:6).  Dit het hom nie gepla om vir ‘n paar honderd shekels die reg te verdraai nie.  Hy het die regverdiges toegesluit en die goddelose vrygelaat (Sp.17:15).  Sy eie sak was vir hom die belangrikste.

 

Daar was ‘n weduwee in hierdie stad (v.3). Ons moet haar nie vergelyk met ‘n weduwee in 2016 wat by een of ander Medi-Clinic werk en byna R10 000 per maand verdien nie.  Soos meeste weduwees in die Bybel se tyd was sy sonder ‘n inkomste.  Sy was ‘down & out’.  Boonop het iemand haar skade aangedoen.  Sy het aanhoudend na die plaaslike regter toe gegaan en gevra vir geregtigheid (v.3).  Sy het geen ander heenkome gehad nie, niemand wat haar saak kon beveg nie.  In hedendaagse terme kan ons sê dat sy nie ‘n prokureur kon bekostig nie.

 

Vir ‘n ruk lank het die regter geweier om haar te help (v.4). Miskien het hy gehoop dat sy geld geërf het, en dat sy daaruit vir hom ‘n omkoopgeskenkie kon gee.  Maar later kon hy dit nie meer hou nie, en het hy vir homself gesê:

 

‘Ek vrees nie die Here nie en het geen begeerte om sy wette te gehoorsaam nie. Ek het ook nie respek vir mense nie.  Ek gee nie om dat onreg seëvier nie; solank ek net my geld kry.  As die bedrag reg is, kan ek iemand stuur om die getuies ‘uit te haal’ en seker maak dat die bewyse wegraak.  Maar hierdie vrou het my gewen.  Sy is ‘n pyn in die nek, en is soos ‘n bull terrier wat net nie wil los nie.  Sy is elke dag hier.  Ek is siek en sat vir haar gekerm.  As ek haar van my rug wil afkry, moet ek vir haar geregtigheid gee.  Daar is nie ‘n ander manier om van haar ontslae te raak nie.  As ek dit nié doen nie, sal sy nie ophou totdat sy my teen die grond het nie.  Sy sal my mal maak.  Ek beter vir haar geregtigheid gee’ (v.4-5).

 

Die les (v.6-8)

Jy het seker gesien wat verlede week in Dallas in Amerika gebeur het? Omtrent ‘n halfdosyn polisie beamptes is doodgeskiet, en nóg soveel is gewond.  En dit lyk of hierdie tendens besig is om toe te neem.  Die klag is dat die Amerikaanse polisie ongewapende swart mense doodskiet.

 

In Suid-Afrika word die media verbied om die waarheid oor dit wat in ons land aangaan, na die buiteland toe te versprei. Ongeregtigheid kraai koning.  Ons weet nie hoe lank Christene in die weste nog vry sal wees nie.  Om in ons land na die die polisie en howe toe te hardloop help nie.  Sp.29:26 sê:  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die Here.”

 

Net soos wat dit nie gehelp het om by Farao te kla nie (Eks.5:15), help dit nie om na ‘n beter politieke party te kyk vir die oplossing nie. Ons moet tot die Here roep en bid dat Hy sal ingryp.  Ons moet vir die regering bid, sodat ons ‘n stil en rustige lewe kan lei (1 Tm.2:1-2).  Maar ons moet ook bid dat die Here se Koninkryk sal kom (Mt.6:10).  En ons moenie ophou om te bid totdat dit gebeur het nie.  Ek glo dat dít o.a. die les van hierdie gelykenis is (v.6-8).

 

Jesus het vir sy dissipels gesê om op te let hoe ‘n onregverdige regter deur die weduwee se volharding oorwin is.  Hoeveel te meer sou ‘n regverdige Regter nie geregtigheid vir sy kinders gegee het nie (v.6-7)?  Dit was nie nodig om die Here se arm te draai nie.  Hy sou nie moeg en moedeloos geword het nie.  God is nie soos ‘n ma wat vir haar kinders lekkers gee, om hulle onder haar voete uit te kry nie:  Hy antwoord nie ons gebede, omdat Hy van ons ontslae wil raak nie (v.4-5).  Dit is met goeie en suiwer motiewe wat die Here sy kinders help.  Hy doen dit regtig omdat Hy hulle liefhet en vir hulle omgee (v.7).

 

Hy het ons uitverkies en liefgehad voordat Hy die wêreld gemaak het (Jer.31:3, Ef.1:4-5). En as Hy ons só liefhet, sal Hy nie ook hoor as ons tot Hom bid nie (Rm.8:32)?  Sal Hy nie vir sy kinders opstaan wanneer hulle teen onregtigheid bid nie (v.7)?  Die feit dat hulle uitroep, wys dat hulle desperaat is (v.7).  Die feit dat hulle tot die Here roep, wys dat daar geen ander hulp is nie (v.7).  Die feit dat hulle dag en nag uitroep, wys dat hulle dag en nag verdruk word (v.7).  Die feit dat hulle in die nag bid, wys dat die probleem hulle uit die slaap uit hou (v.7).  Hulle bid inderdaad sonder ophou soos wat v.1 sê.

 

Let op dat hulle nie die gereg in eie hande neem nie – hulle vertrou die Here.  Hý sal hulle vyande oordeel (Gn.18:25, Ps.82:8).  Hý sal die Jode oordeel wat sy kinders vervolg en doodmaak (1 Ts.2:14-16).  Hý sal die Romeine se weermag in 70 n.C. stuur om Jerusalem en die tempel te verwoes.  Hy sou dit binne 40 jaar ná sy lering in Lk.18:1-8 gedoen het – ‘spoedig’ soos Hy in v.8 sê.  Die bloed van die martelare sou vergeld word (Op.6:10-11, 2 Ts.1:6-10).  Die smeekgebede van God se kinders sou verander het in lofprysing, omdat Hy geregtigheid sou bring (Op.16:5-7, 18:20, 19:1-3).

 

Wanneer dit voel of die Here lank vat, is dit net om die uitverkorenes wat nog nie gered is nie in te bring (v.7, 2 Pt.3:9). Soos met Paulus, mag dit wees dat die Here party van die vervolgers red.  Wanneer Hy al sy skape ingebring het, sal Hy kom om sy vyande te oordeel.  Hy ken die diepste geheime van elke mens se hart en lewe, en kan daarom regverdig oordeel (Rm.2:16).  Hy sal seker maak dat reg en geregtigheid geskied (v.8).  Hy sou nie net die Jode en die Romeine nie, maar ook die Moslems, Nazi’s, kommuniste, en elke ander vyand van die evangelie oordeel.

 

Maar hoeveel getroue en biddende mense sal daar op die aarde wees wanneer Jesus kom om sy vyande te oordeel (v.8)? Sal dit wees soos in die dae van Noag?  Of soos Sodom toe God vir Lot en sy gesin gered het (17:26-32)?  Sou die gelowiges in gebed volhard het, totdat Jesus gekom het om die Jode te oordeel?  Jesus het gesê dat die toenemende goddeloosheid tot gevolg sal hê dat die liefde van baie verkoel (Mt.24:12).  Sal ons in gebed volhard totdat die Here weer kom?  Dit lyk vir my of die volharding waarvan Jesus in Mt.24:13 praat o.a. gebeur deurdat ons in gebed volhard (v.8b).  Ook uit Jud.20-21 lyk dit of die Here ons deur gebed tot die einde toe sal bewaar.

 

Ons moet aanhou om vir geregtigheid te bid en nie moed verloor nie (v.1, 7). Hoeveel Christene ken jy wat volgens 1 Tm.2:1-2 vir ons land bid?  Alhoewel ek dit doen, moet ek bieg dat ek dit nie genoeg doen nie.  Wanneer laas het jy vir ‘n ware herlewing gebid?  Wanneer laas het ons bidure hiervoor gehad?  Hoeveel van die mense in ons gemeente bid enigsins saam met ander gelowiges?  Lees gerus hoe die gelowiges in Handelinge hulleself aan gesamentlike gebed gewy het (Hd.1:14, 2:42, 4:23-31, 12:5, 13:3, 14:23, 20:36, 21:5).

 

Moet die ongeregtigheid in Suid-Afrika en die wêreld ons nie in gebed na die Here toe dryf nie? Hoekom het selfs Christene begin om politieke, sosiale, ekonomiese, opvoedkundige, tegnologiese en morele oplossings te soek, eerder as om in gebed na die Here toe te draai?

 

In die 1700’s het die Britse Parlement met hulle hande in hulle hare gesit. Armoede en misdaad het teen ‘n astronomiese tempo toegeneem.  Selfs toe die doodstraf vir 126 verskillende misdade opgelê is, kon die regering nie die verval keer nie.  Daar was tot skole om vir kinders en volwassenes maniere te leer, maar dit het nie gehelp nie.  Dronkenskap het oorgeneem en tronke was oorvol.  Soos Frankryk, het Engeland op die punt van ‘n bloedige revolusie gestaan.  En toe het die Here vir George Whitefield en John Wesley opgewek.  Engeland is op sy kop gekeer.  Mense het by die tien duisende tot bekering gekom, sodat die morele waardes van die hele Brittanje drasties verbeter het.[1]

 

In dieselfde tyd het dinge in New England in die V.S.A. versleg. Immoraliteit, vuil taal en dronkenskap was aan die orde van die dag.  Jonathan Edwards het sy gemeente aangespoor om te bid.  Stadig maar seker het dinge begin om te verander.  En toe kom die herlewing.  Godvresende gesprekke en lewens het die goddeloosheid verdryf soos wat suiwer vloeiende water ‘n besoedelde poel skoonwas.[2]

 

Soos Amerika en Engeland in die 1700’s, is ons en die res van die westerse wêreld sterk op die afdraende pad. Soos in Gn.4:17-24 kan ons ons omgewing beheer, maar nie ons harte nie.  M.b.t. die tegnologie neem ons reuse spronge, en tog kan ons nie keer dat laerskool kinders en studente geboue afbrand nie.  Jesus is ons enigste hoop.  As ons Hom op sy Woord neem en met volharding bid (v.1), sal Hy ons volgens sy belofte in v.7-8 verhoor en sorg dat geregtigheid seëvier.

 

Kan die Here nie weer ‘n herlewing stuur soos in die tyd van Andrew Murray nie? Sal jy erns maak om hiervoor te bid – in jou stiltetyd en gesin, in eredienste en bidure?  Sal ons die Here smeek om geregtigheid in ons bose land en wêreld te bring?  Miskien doen Hy dit nie deur ‘n magtige herlewing nie.  Miskien laat Hy toe dat daar ‘n oorlog uitbreek.  Ek dink nie dit is verkeerd om soos die psalmdigters te bid dat die Here die slegte mense sal verwyder nie.  Ons bid immers dat Hý dit doen, en neem nie self wraak nie (v.7, Rm.12:19).

 

Dalk bring die Here geregtigheid deur sy Seun uit die hemel te stuur. Sal dit nie die beste van alles wees nie?  Mag die Here gou kom en ons vind waar ons besig is om te bid (v.8).  Ons moenie ophou om te bid nie (v.1).  Miskien het jy moedeloos geword.  Ons gemeente groei nie, en vir die Christelike kerk in Suid-Afrika lyk dit maar bleek.  Ons eie denominasie sukkel om kop bo water te hou.  Op die oppervlak lyk dit of die kerk in Suid-Afrika niks beteken nie.  Ons is soos ‘n mol wat probeer om ‘n berg te skuif.  Dit lyk of God se kinders nie ‘n duik maak in die samelewing nie.  Dit voel of die omstandighede vir ons te veel geword het, sodat duisende Christene die land verlaat.  Sommige kerke het besluit om die handdoek in te gooi en hulle by die wêreld te skaar.

 

Daar is niks tasbaar om vir ons te wys dat God gaan deurkom nie. Soos Gideon wil ons nie deur die geloof lewe nie; dit sal mos makliker wees as die Here net vir ons ‘n teken wil gee om te sê dat alles op einde sal uitwerk.  Maar daar is niks nie:  net gebed, geloof en die Bybel se beloftes.  Die feit dat ons niks kan sien nie, en dat gebed ook harde werk is, maak dit nie makliker nie.  Dit is ‘n uitdaging om aan te hou bid.  Jesus sê jy moenie opgee nie.  God sal op die regte tyd, plek en wyse ons gebede beantwoord (v.1, 7-8).

 

Is jy dalk ‘n twyfelaar wat sê: ‘Hoe weet ek die Here sê nie nee nie?  Hy het vir Moses, Jesus en Paulus nee gesê (Dt.3:26, Mt.26:44, 2 Kor.12:8-9)?  Wie sê dat Hy nie ook vir my nee sê nie?  Sal ek verniet aanhou bid as die Here nie my gebed wil beantwoord nie?  Dan help dit mos nie ek bid nie, of hoe?’

 

God, wat nie kan lieg nie, het belowe dat Hy ons gebede vir geregtigheid sal beantwoord (v.7-8). Hy het nie gesê hoe Hy dit gaan doen nie.  Ons weet dat Hy verseker weer na die aarde toe sal terugkeer, dat Hy ons in geregtigheid gaan oordeel, en dat Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gaan maak waarin daar geregtigheid woon (2 Pt.3:13).  Moet dan nie ophou om daarvoor te bid nie.

 

As dit wat ek vandag gesê het jou nie pla nie, en as jy nie ‘n begeerte hiervoor het nie, moet jy wonder of jy gered is. Volgens v.7 is dit God se uitverkorenes wat in gebed volhard, en wat vir geregtigheid bid.  As jy nog nie die Here ken nie is dit nie jou plig om te bid dat Suid-Afrika sal regkom nie.  Jou eerste plig is om te bid dat die Here nie geregtigheid vir jou sal gee nie, omdat dit sal beteken dat jy reguit hel toe gaan.  Bid dat die Here vir jou barmhartigheid en genade sal gee, en dat Hy jou sondes sal vergewe.  Erken dat jy verlore is, en roep uit dat die Here jou sal red (Rm.10:13).

 

Dank die Here dat Jesus ons sonde op Homself geneem het aan die kruis, en dat God se geregtigheid Hom daar vir ons gestraf het. As jy in Christus glo en op Hom vertrou, sal God verklaar dat jy regverdig en onskuldig is.  As jy dan op die oordeelsdag voor Hom staan, sal sy geregtigheid vereis dat Hy jou nie hel toe stuur nie, omdat Jesus reeds die straf vir jou sonde op Homself geneem het.  God straf nie twee keer dieselfde sonde nie.  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rm.8:1).

 

Ek onthou vaagweg ‘n gesprek wat ek met ‘n sendeling gehad het. Hy het in Etiopië gewerk.  Hy het vertel hoe die mense vreesbevange was vir die polisie, omdat hulle jou sommer doodskiet as jy ‘n brood steel.  Om ‘n skelm te vang en hom toe te sluit is geregtigheid.  Om hom dood te skiet omdat hy ‘n brood steel is nie.  Daarom kan ons nie op mense staatmaak vir volmaakte geregtigheid nie.  Daarvoor moet ons in gebed na die Here toe draai.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: 2 vols.

[2] The Works of Jonathan Edwards: vol.1, Memoirs of Jonathan Edwards

Verwarring oor Jesus

Man in maze

Kort na die Tweede Wêreldoorlog is daar vir soldate gevra wat hulle van Jesus dink.[1]  Die meeste mans het gesê dat Hy ‘n sissie was.  Een man het gesê:  ‘Hy was te sag.  Gee eerder vir my iemand soos Elia, Jeremia, of Johannes die Doper – manne wat ‘n vuur in hulle bene gehad het.

 

Die persoon wat die vrae gevra het, het gesê: ‘O, dis interessant dat jy dít sê, want op ‘n dag het Jesus vir sy disspels gesê:  “Julle beweeg mos tussen die mense.  Wat sê hulle:  wie is Ek?”  Sy dissipels het geantwoord:  “Sommige sê Johannes die Doper, ander sê Elia, en ander Jeremia.” (Mt.16:13-15).

 

Soos wat daar in Jesus se tyd verwarring oor Hom was, is mense in ons dag en era verward. In Jh.7:25-52 het ons ‘n illustrasie hiervan.

 

Waarvandaan het Hy gekom? (v.25-31)

In sommige ou Kinderbybels en films het Jesus blonde hare en blou oë, asof Hy van Noorwee of Swede af kom. In ‘n swart seuntjie se gedagtes lyk Jesus soos hy.  Dalk lag ons hieroor, maar die Jode in v.25-31 het nie veel beter gevaar toe hulle gewonder het waarvandaan die Messias sou kom nie.

 

Jode uit ander dele van die land en wêreld het die Huttefees bygewoon. Op hierdie stadium was dit nie húlle wat vir Jesus wou doodmaak nie.  Uit v.1 leer ons dat die Jode in Judea Hom wou doodmaak.  Al die Jode in Jersualem het dit geweet.  Hulle het geweet dat die Joodse leiers vir die geleentheid gewag het, net soos wat ‘n luiperd in die lang gras lê en wag om sy prooi te vang.  Toe hulle Hom dus in v.14-24 gehoor preek het, het hulle in v.25 gesê:  ‘Is dit nie die man wat hulle wil doodmaak nie?’

 

Hulle kon dit nie glo dat Hy openlik gepraat het, en dat die leiers niks teen Hom gesê het nie (v.26, 14). Het hulle stilgebly, omdat Jesus die wind uit hulle seile gehaal het, en omdat hulle nie eintlik ‘n voet gehad het om op te staan nie.  Het hulle diep in hulle harte geweet dat Hy die Messias is (v.26)?  Aan die ander kant het hulle getwyfel, want wanneer die Messias verskyn sal niemand weet waar Hy vandaan kom nie, en van Jesus het hulle geweet dat Hy van Nasaret in Galilea af kom (v.27).  Of so het hulle gedink (18:5, 19:19, Mt.21:11).  Sommige Jode het geglo dat die Messias skielik sou verskyn.  Anders as die Jode in v.42, het die Jode wat dít gesê het nie hulle Bybels geken nie.

 

Jesus het in die tempel gestaan en geweet dat hulle hierdie dinge sê. Hy het as’t ware vir hulle gesê:  ‘So, julle sê julle ken My en weet waar Ek vandaan kom?  Hoe seker is julle van julle saak?  Dan moet julle seker ook weet dat Ek nie net self opgedaag het nie, maar dat Ek gestuur is.  Al rede hoekom julle verwerp, is omdat julle nie die Vader ken wat My gestuur het nie (8:19).  Indien julle my Vader geken het, sou julle uit my ware woorde geweet het dat Ek van Hom af kom.  Anders as júlle, ken Ek die Vader (Lk.11:22).  Dit is immers Hý wat My gestuur het’ (v.28-29).

 

Die Jode was kwaad oor Jesus se woorde, en tog het hulle Hom nie gearresteer nie, omdat dit nie die bepaalde tyd, plek, en manier van sy dood was nie (v.30, 6, 8, 8:20, 59, 10:39, 18, 18:32, Dn.9:26, Lk.4:29-30, 13:33, 22:53, Hd.2:23, Rm.5:6, vgl. Job 14:5, Jer.15:2-3). Ten spyte van die Jode se ongeloof, was daar baie wat in Hom geglo het (v.31).  Die dosyne wondertekens wat Hy gedoen het, het bewys dat Hy die Messias is (v.31, 20:30-31, 21:25).  Moses, Elia en Elisa sáám, het nie eers soveel wonderwerke gedoen soos Hy nie (v.31).

 

‘n Klomp van die Jode het nie hulle Bybels geken nie (v.27). Hulle kon nie die verskoning gebruik het om te sê dat hulle nie toegang tot die Skrifte gehad het nie.  Hulle kon dit in die sinagoge gehoor en by hulle ouers geleer het.  Hulle kon direk met Jesus gepraat het as hulle wou.  Die probleem was dat hulle buite-Bybelse geskrifte bo die Bybel geplaas het.  Juis daarom het hulle verkeerde idees oor die Messias gehad.  Hulle onkunde oor die Skrif het daartoe gelei dat hulle die ewige lewe verbeur het.

 

Ons moenie in die selfde gat beland nie. Ons het nie ‘n verskoning om nie ons Bybels te ken nie.  Almal van ons kan lees en het die Bybel in ons eie taal.  As jy nie die Bybel ken nie, sal jy verdraaide idees hê oor Jesus.  En as jy nie die ware Jesus ken nie, sal jy in ‘n Jesus van jou eie verbeelding glo en die ewige lewe verbeur.  Dit is belangrik om te onthou dat ‘n vals Jesus jou nie kan red nie.

 

Moenie soos die Jode wees en aannames oor Jesus maak, net omdat jy dit by iemand anders gehoor het nie (v.28). Ken Jesus persoonlik.  As jy ‘n toets wil deurkom kan jy nie op ander mense se kennis staatmaak nie; jy moet die saak vir jouself ondersoek.  Lees daarom wat Johannes oor die saak geskryf het, sodat jy nie net luister na wat ander mense oor Jesus sê nie, maar kan sien wat Hy oor Homself gesê het.  Lees van sy wonderwerke en sien hoe Hy na sy kruisdood op die derde dag opgestaan het uit die dood.  Indien jy wonder of hierdie dinge so is, moet jy vir jouself vra of daar enige goeie rede is om te glo dat Jesus se woorde en wonderwerke nie waar is nie.

 

Indien jy reeds die Here ken, moet jy onthou dat daar mense in jou familie en by jou werk is wat Hom nié ken nie. Dít wat sommige van hulle oor Jesus sê staan nie in die Bybel nie.  Hulle het nie ‘n basis waarop hulle staan nie; geen gronde om dit te sê nie.  Hulle kennis van Jesus is so verdraaid soos Hollywood se weergawe van Noag en Moses.  Sorg dat jý ten minste die Here ken, sodat jy hulle kan reghelp en aan die ware Jesus kan voorstel.

 

Waarheen was Hy oppad? (v.32-36)

‘n Dekade of wat gelede het Dan Brown se Da Vinci Code die idee versprei dat Jesus nie regtig gesterf het nie, maar dat Hy in Indië gaan woon het waar Hy met Maria Magdalena getrou het en kinders gehad het.  Dit het Dan Brown gesê, omdat hy nie glo dat Jesus regtig van God af kom nie.  En as jy nie glo dat Hy van God af kom nie, sal jy nie in jou wildste drome glo dat Hy opgestaan het, en na die hemel toe teruggekeer het nie.  Is dit nie juis die rede hoekom die Jode in v.33-36 nie geweet het wat Jesus bedoel dat Hy oppad was na die Een wat Hom gestuur het nie?

 

Die Fariseërs het gehoor hoe die volk oor Hom mompel, murmureer en onder mekaar verskil (v.32, 12, 26-27, 30-31, 6:52). Hulle en die owerpriesters het offisiere gestuur om vir Jesus te arresteer (v.32).  Deur Hom te vermoor wou hulle Jesus se mond stilgemaak het (v.1, 25).  Dit was egter nie in hulle hande om te besluit wanneer Hy moes sterf nie (v.30).  Daarom het Hy vir die Jode gesê dat Hy nog ‘n bietjie langer by hulle sou wees (v.33).  Dit sou egter net ‘n rukkie gewees het, omdat dinge warm geraak het, en Hy binne ses maande gekruisig sou word.  Na sy kruisdood en opstanding sou Hy na die Vader toe teruggekeer het (v.33).

 

Die Jode sou na Hom gesoek het, maar Hom nie gekry het nie (v.34, 2 Kon.2:15-18). Toe hulle die geleentheid gehad het, het hulle Hom verwerp.  Daarom sou hulle tevergeefs gesoek het, en omdat hulle die Seun verwerp het, kon hulle nie by die Vader gewees het nie (14:6).  Die Jode het nie sy woorde verstaan nie, en het vir mekaar gevra wat Hy bedoel (v.35-36).  Het Hy beplan om na die Grieke toe te gaan (v.35)?

 

Die ‘Grieke’ verwys moontlik na die Jode wat in 134 v.C. deur Antiochus Epifanes na ander lande toe verstrooi is. Daar het hulle die Griekse taal en kultuur geleer.  Dalk verwys dit na nie-Jode wat meer van die Joodse godsdiens wou weet?  Dalk verwys dit na rou heidene?

 

Daar was ‘n tikkie sarkasme in die Jode se stelling: ‘As Jesus regtig die Messias is sal Hy mos die vestrooide Jode na Israel toe terugbring (Jes.11:12, Sef.3:10).’  Die ironie is dat Hy regtig die evangelie van die Jode af sou wegvat om dit na die Grieke of nie-Jode toe te vat – en dit omdat die Jode Hom verwerp het.  Dit is egter nie wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat hulle Hom sal soek, maar nie sal vind nie.

 

Teologies het die Fariseërs en owerpriesters van mekaar verskil – hulle was nie op dieselfde bladsy nie. Maar in hulle haat vir Jesus was hulle een (v.32).  In die wêreld is dit nóg so dat mense verskillende dinge glo, maar in hulle haat vir Jesus is hulle een (v.32, 7).  Hou op om rond te val en kies aan wie se kant jy wil wees:  die Fariseërs, die Jode en die wêreld s’n, of Jesus s’n?  Wanneer dit by Jesus kom is daar nie ‘n grys gebied nie, en daarom is dit tyd dat jy ‘n besluit moet neem.  Jy kan nie ‘n goeie en gawe kerkmens wees wat in die week vir jouself lewe nie.  Met Jesus is dit alles of niks, liefde of haat.  Glo dan in Hom en sy woorde, of draai jou rug op Hom, haat Hom en beland in die hel.

 

Gebruik die kans terwyl jy dit het. Moenie soos die Jode wees wat die kans soos olie deur jou vingers laat glip nie (v.33-34).  Daar sou ‘n tyd gekom het wat hulle die Messias tevergeefs gesoek het (v.34).  Hulle sou gewens het Hy is daar, maar hulle sou Hom nêrens gevind het nie (Lk.17:22).  Het jy al ‘n ortodokse Jood ontmoet wat vir die Messias wag?  Het jy al fotos gesien van die Jode in Jerusalem wat met hulle voorkoppe teen die klaagmuur staan?  Dis tragies.  Hulle het die ware Messias verwerp en wag hopeloos dat daar ‘n ander messias moet kom.  Tot hulle ewige spyt sal die messias op wie hulle wag nie opdaag nie.  Totdat hulle nie die ware Messias erken en aanbid nie, kan daar vir hulle geen verlossing wees nie.

 

Moet dan nie soos die Jode wees en die kans wat die Here vir jou gee verbeur nie. Het jy ‘n kans om nou in die Here te glo?  Het jy ‘n kans om die evangelie te glo, na ‘n goeie kerk toe te gaan, en die Bybel te lees?  Gebruik dit, want die dag sal kom dat die Here dit van jou af wegvat.  Dalk vat Hy dit weg deur die regering wat kerke se deure toemaak en Bybels konfiskeer.  Miskien ontrek die Here Homself.  Dalk vat Hy jou kans weg deur ouderdom, siekte, of alzheimers, sodat jy nie meer by ‘n kerk kan uitkom nie.  Dalk kom jy in ‘n ongeluk en kry jy breinskade, sodat jy nie die evangelie kán verstaan nie.  Miskien trek jy noodgedwonge na ‘n dorp toe waar daar nie ‘n goeie kerk is nie.  “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jes.55:6).

 

Wie was Hy? (v.37-52)

Êrens na die ballingskap het die volk tydens die Huttefees ‘n ritueel ingestel, waarin hulle vir die sewe dae van die Fees water geskep het. Die hoëpriester het die water in ‘n goue kruik by die bad van Siloam geskep, en in ‘n prosessie na die tempel toe gedra.  Wanneer die prosessie deur die waterpoort aan die suide kant van die tempel gekom het, het die volk Jes.12:3 opgesê:  “En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.”

 

Die priesters het dan om die altaar gestap terwyl die tempelkoor Ps.113-118 gesing het. Die water is aan die voet van die koper altaar uitgegiet.  Volgens Sg.14:16-17 het die water daarop gedui dat die Here reën sou gee.  Verder het die volk onthou hoe die Here deur Moses vir hulle water uit die rots gegee het.[2]  Hierdie agtergrond sal ons help om v.37-39 te verstaan.

 

Op die laaste of agtste dag van die Fees (die groot en gewyde dag) het Jesus opgestaan sodat almal Hom kon sien, en hard uitgeroep sodat almal Hom kon hoor (v.37, Lv.23:34, 36). Hy het gesê dat dié wat ‘n geestelike dors het en dit wil les, na Hom toe moes kom om te drink (v.37, 6:35, 53-56, 4:14, Jer.2:13, 1 Kor.10:4).  Dié wat deur geloof van hierdie geestelike water gedrink het, sou nie weer dors geword het nie.  Ná sy verheerliking sou Jesus sy Gees uitgestort het op dié wat in Hom glo (v.39, Hd.2:33).  Die bron van hierdie lewende water sou in hulle harte gewoon het (v.38, 4:14).  Dit sou in riviere van lewegewende water in hulle lewens oorstroom het, sodat ander mense ook daardeur kon lewe en verkwik kon word (v.38, 1:33, 16:7, Sp.4:23, Jes.55:1, Esg.47, Op.22:17).

 

Toe die Jode dit gehoor het, het party van hulle gesê dat Jesus die Profeet is van wie Moses in Dt.18:15-18 geskryf het (v.40). Ander het gesê dat Hy die Messias is (v.41a), terwyl ander gesê het dat die Messias nie van Galilea af kom nie (v.41b).  ‘Volgens 2 Sm.7:12-14 en Mg.5:1 sal die Messias uit die nageslag van Dawid kom en in Betlehem, die stad van Dawid gebore word,’ het hulle gesê (v.42).  Hulle het aangeneem dat dit vir Jesus uitskakel (Mt.1:1, Lk.2:1-7).  Weer ‘n keer was die Jode verdeeld oor Hom (v.43, 12, 25-32, 6:52, 10:34-39).  Party van hulle wou Hom gearresteer het (v.44).  Omdat sy sterwensuur nog nie gekom het nie, het hulle met leë hande na die priesters en Fariseërs toe teruggekeer (v.44-45, 30).

 

‘Hoekom het julle Hom nie gebring nie?’ het hulle gevra (v.45). ‘Al die geleerde mense in die wêreld kan nie soos Hy praat nie; ons het aan sy lippe gehang,’ het hulle gesê (v.46, 15, Mt.7:28-29).  Die Fariseërs was kwaad en het vir hulle gesê:  ‘Het Hy julle ook mislei?  Julle is net soos die volk.  Het enige van die leiers in Hom geglo?  As die mees geleerde mense Hom dan verwerp het, kan julle mos weet dat dié wat in Hom glo, dit doen omdat hulle onkundig is.  Dit is omdat mense nie hulle Bybels ken nie dat hulle in Hom glo, en deur God vervloek sal word.’ (v.47-49).

 

Nikodemus, wat in hfst.3 by Jesus was, het vir sy mede dokters van die siel gesê om hulleself te genees (v.50-51).  Hy het basies vir hulle gesê dat dit nie regtig die volk is wat nie die wet ken nie, maar húlle.  Volgens Dt.1:16, 17:6, 19:15, 18 kon hulle nie ‘n mens geoordeel het sonder ‘n deeglike ondersoek en regverdige verhoor nie (v.51, 49).

 

Die Joodse Raad het vir Nikodemus gevra of hy ook van Galilea af kom (v.52). Hulle het in soveel woorde gesê dat dit nie nodig was vir ‘n ondersoek nie.  ‘As Nikodemus die Skrifte ondersoek het, sou hy gesien het dat geen profeet van Galilea af kom nie!’ (v.52).

 

Maar weereens was dit húlle wat nie die Bybel geken het nie (v.49), aangesien Jona van Gat-Hefer in Galilea af gekom het (2 Kon.14:25). Dit is ook moontlik dat Elia en Nahum van Galilea af was (1 Kon.17:1, Nah.1:1).  Soos in v.41 is die punt hier dat die Joodse leiers aangeneem het dat Jesus van Galilea af kom.

 

Jesus roep hard en duidelik (v.37), en daarom hoef jy nie soos die Jode en hulle leiers verward te wees oor Hom nie. Erken dat Hy alleen jou geestelike dors kan les (v.38).  Sluk jou trots en erken dat daar ‘n leemte in jou siel is, dat jy die Here nodig het, en dat net Hý jou dors kan les (v.37-38).  Kom drink dan deur geloof van die lewende water wat vrylik van die kruis af na jou siel toe stroom.  Moenie net oor die fontein dagdroom nie, maar drink totdat dit die leemte in jou siel opvul en Christus in jou lewe.

 

As jy hiervan gedrink het, sal dit in jou eie hart opborrel en soos ‘n rivier in jou woorde en dade uitstroom, sodat jou kinders, kleinkinders, en die mense met wie jy in aanraking kom daarvan kan drink en daardeur kan lewe (v.38). Sp.18:4 sê:  “Die woorde van ‘n man se mond is diep waters, ‘n stroom wat bruis, ‘n fontein van wysheid.”  In Jes.44:3-4 sê die Here:  “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.  En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope.”

 

Sal jy en jou nageslag in hierdie Jesus glo (v.40-41a)? Of sal jy en hulle onseker wees en twyfel (v.41b-42)?  Sal jy onkundig bly, omdat jy nog nooit die saak vir jouself ondersoek het nie (v.41b-42)?  Sal jy teen Hom wees (v.44)?  Sal jy vooraf besluit om nie in Hom te glo nie, sodat nie eers die feite jou anders kan oortuig nie (v.47-52)?  Sal jy hoogmoedig wees en dink dat geen regdenke persoon in Jesus kan glo nie, en dat dié mense wat in Hom glo onkundig is (v.48)?

 

Sal jy Hom verwerp en toelaat dat die wêreld namens jou ‘n opinie vorm: die meeste mense glo nie in Hom nie, en die meerderheid kan sekerlik nie verkeerd wees nie (v.48)?  Sal jy ‘n draadsitter wees wat met Jesus simpatiseer, maar Hom nie self met jou hele hart volg nie (v.50-51, 12:42-43, 19:38-39)?

 

Dit is regtig nie nodig om verward te wees oor Jesus nie, want uit Jh.7:25-52 is dit duidelik dat Hy die Messias en die Seun van God is. Jesus se kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood kan nie ontken word nie.  Die eintlike vraag is dan nie meer wie Jesus is nie, maar wat jy met Hom sal doen.

 

Sal jy besef dat jy verlore is soos ‘n hond wat in ‘n besige straat verdwaal en angstig rondkyk, omdat hy nie weet waar sy eienaar is nie? Sal jy besef dat Jesus jou enigste hoop is om vergewe te word?  Sal jy in Hom glo, jou bekeer, en tot Hom uitroep, sodat jy gered kan word?  Of sal jy die Bybel se lering oor Jesus ontken, en in jou sonde sterf, “want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.” (8:24)?

 

Toe ek in Nelspruit gebly het, was ek eenkeer by ‘n Christelike musiekkonsert. Daar het ek iemand raakgeloop wat ek op skool geken het.  ‘Hi, hoe gaan dit?’ het ek gesê.  ‘Goed dankie,’ het die meisie verward gesê.  ‘Hoe gaan dit met jou ma-hulle?’ het ek gevra.  Die meisie het my met vraagtekens in haar oë aangekyk.  ‘Is jy nie so-en-so nie?’ het ek gevra.  ‘Um, nee,’ het sy gesê.  Duidelik was dit die verkeerde persoon.  Ek het soos ‘n aap gevoel.  As jy egter verward is oor Jesus verloor jy nie net jou reputasie nie.  Jy verloor jou siel.  Sorg dan dat jy die Bybel se getuienis oor Hom glo.

 

[1] Hierdie illustrasie het ek in ‘n preek van Stuart Olyott gehoor.

[2] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, nota op Jh.7:37 en Leon Morris, The Gospel According to John, pp.419-421

‘n Oop brief aan dooie kerke

Dead church

Ek onthou ‘n artikel wat ek tydens my bediening in Nelspruit gelees het: ‘Revival and the Unregenerate Church Member’ deur Jim Eliff.  Die artikel het gepraat van soldate wat dooie troepe met hulle moet saamsleep.  ‘So is ongeredde lidmate,’ het die skrywer van die artikel gesê.

 

Hoeveel ongeredde lidmate is daar nie vandag in ons kerke nie: mense wat op ‘n uitnodiging gereageer het, ‘n gebed agter iemand aan opgesê het, gedoop is, as lidmate opgeneem is, en later selfs Sondagskool onderwysers, ouderlinge, en predikante geword het?  En hulle is soos ‘n Turksvy doring in ‘n mens se hand – hulle veroorsaak baie ongerief en pyn, en dit verg moeite om van hulle ontslae raak.  Om te verhoed dat ons in hierdie strik trap het die Here Op.3:1-6 vir ons laat opteken.

 

Die aanhef (v.1a)

Het jy al mense ontmoet wat baie arm is en dan skielik ryk word? Wat gebeur gewoonlik met so iemand se persoonlikheid?  Het jy al ‘n ryk persoon ontmoet wat alles verloor het en teen die grond geslaan word?  Is dit nie so dat dit in baie gevalle ‘n goeie uitwerking op hulle karakter het nie?

 

Van al die gemeentes het net Smirna en Filadelfia vervolging beleef, en tog was dit die twee beste gemeentes. Van die sewe gemeentes was dit net Sardis en Laodisea wat nie probleme met vervolging of vals lering gehad het nie.  En tog was dit die twee slegste gemeentes.  Leer dan dat lyding nie noodwendig skerp tande het nie, terwyl voorspoed bitter gevaarlik kan wees.

 

Jesus het sy brief aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Sardis gerig (v.1a). Die stad was omtrent 80 km van die Turkse weskus af.  In die jaar 17 n.C. is die stad deur ‘n aardbewing verwoes en met die hulp van keiser Tiberius herbou.  Die stad is in 1402 finaal verwoes.  Vandag lê die klein dorpie Sart tussen die bouvalle van die ou stad.[1]

 

Jesus beskryf Homself as die Een wat die sewe Geeste van God het (v.1a). In Openbaring is sewe die volmaakte getal.  Jesus het dus die volmaakte of sewevoudige Gees:  die Gees van die Here, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here (v.1b, 1:4, 4:5, 5:6, Jes.11:2, Sg.4:2, 6).

 

Jesus is ook die Een wat die sewe sterre het (v.1a). Volgens 1:20 is die sewe sterre die sewe leraars.  Hulle word met sterre vergelyk, omdat hulle soos sterre in ‘n donker wêreld moet skyn (Fil.2:15).  Die feit dat Jesus hulle in sy hand hou (1:16) is ‘n vertroosting vir dié wat reg doen en ‘n nagmêrrie vir dié wat verkeerd doen (Jh.10:28, Heb.10:31).

 

Die vermaning (v.1b-3)

Sardis was op ‘n baie steil en hoë heuwel gebou. Die suidelike muur was so steil, dat koning Croesus nie eers wagte op daardie deel van die muur geplaas het nie.  Hy het homself oortuig dat niemand die stad kon binneval nie.  In 549 v.C. het koning Kores van Persië en sy soldate ‘n weg gevind om by die suidelike muur in die stad in te kom en dit te oorval.

 

Tog het die inwoners van Sardis nie hulle les geleer nie. Die soldate het nagelaat om wag te hou, en in 218 v.C. is die stad vir ‘n tweede keer oorval – hierdie keer deur Antiochus die Grote.  Jesus het vir die gemeente gesê om nie soos die stad te wees nie.  Hulle moes geestelik waaksaam gewees het.  Toe Jesus sy brief vir hulle geskryf het, was hulle soos my dowe labrador wat nie eers wakker word as ek met my motorfiets by sy stert verby ry nie.

 

Omdat Jesus alles weet (Jh.16:30), het Hy geweet wat in die gemeente aangaan; Hy het hulle werke geken (v.1b). Gelowiges uit ander dorpe en dalk ook die ongelowiges in hulle eie dorp, het gedink dat die gemeente van Sardis lewendig is, maar eintlik was hulle geestelik op ‘n sterfbed (v.1b, Ef.2:1, Lk.15:24, 1 Tm.5:6, Jk.2:26).  Een kommentator sê oor die gemeente:  ‘The forms were there, the ceremonies, the religious customs, the traditions, the services; but the real essence was lacking.’[2]

 

Jesus het vir die kerk gesê om wakker te word uit die slaap van die dood (v.2, Ef.5:14). Hulle gemeente het byna niks oor gehad wat die moeite werd was nie (v.2).  Dit wat hulle gehad het was op asemhalingsmasjiene (v.2).  Hulle moes alles in hulle vermoeë gedoen het om hierdie kooltjie aan te blaas, sodat die vuur weer kon brand (v.2).  Die gemeente se werke was nie volkome in die Here se oë nie (v.2, 2 Kron.25:1-2, Dn.5:27, kontr. Lk.10:27, Hd.14:26, Kol.4:17).

 

Om die situasie op te los, moes hulle teruggedink het aan die evangelie wat hulle gehoor en ontvang het, en hulle dan van hulle geestelike slaapsiekte en doodsheid bekeer het (v.3, 1 Kor.15:1, 2 Tm.1:13). Indien hulle dit nié gedoen het nie, sou Jesus op enige oomblik onverwags teen hulle gekom het soos ‘n dief in die nag (v.3, 16:15).  Alhoewel sy finale koms ook so sal wees (2 Pt.3:10, Mt.24:42-44, 1 Ts.5:2, 4), het Jesus nie hier van die wederkoms gepraat nie, want indien Sardis hulle bekeer het, sou Hy nié soos ‘n dief teen hulle gekom het nie.

 

Die belofte (v.4-6)

Carina trou in Desember. Die dag voor haar troue, toe mors haar suster se kind ‘n hele fles koffie oor haar trourok uit.  Carina het dit nie geweet nie.  Die kind het probeer om dit reg te maak deur dit met sy modderhande in die visdam af te was.  Soos jy kan raai het hy dit erger gemaak.  Wat sou jy van Carina gedink het as dit haar glad nie gepla het nie, en as sy so by die troue opgedaag het?

 

Jesus wil nie hê dat sy bruid met ‘n besmeerde kleed by die bruilof moet opdaag nie. Om by Hóm te wees moet ons klere lyk asof dit vir ‘n paar ure in JIK gelê het.  Ons lewens moenie met die koffie en modder van sonde bevlek wees nie.  Ons moet eerder soos die handjievol getroue mense in Sardis wees.

 

Ten spyte van die probleme in Sardis was daar enkele mense wat nie soos die res gesondig het nie (v.4). Jesus het geweet wie hulle is (v.4, Jh.10:14, 27, 2 Tm.2:19).  Die kleed van hulle lewens was nie met sonde besoedel nie, maar deur geloof, bekering, en ‘n heilige lewe het hulle dit wit gewas in die bloed van die Lam (v.4, 7:9, 14, 14:4, 19:8, 22:14, Jes.61:10, Rm.13:14, Gal.3:27, Jud.23).  Dié wat hulle sonde en die geestelike slaap van die dood oorwin het, sou met die wit klere van Christus se geregtigheid en ‘n heilige lewe in die hemel gewandel het (v.4-5, Fil.3:9, 1 Jh.3:2).  So sou hulle altyd volmaak en aanneemlik gewees het voor God.  Hulle sou ook vir ewig gelukkig gewees het.  ‘Heaven is happy because it’s holy.’ (Stuart Olyott).

 

Dié wat hierdie beloning ontvang het, se name sou nooit uit die boek van die lewe verwyder word nie (v.5). In Sardis het die owerhede molesmakers uit die stad uitgeskop en hulle name van die rol af verwyder.  Ook as jy gesterf het is jou naam van die rol af verwyder.

 

In die hemelse stad kan dit nie gebeur nie, omdat niemand wat dáár is ooit kan sondig of sterf nie. Ons is burgers van die nuwe Jerusalem, en sy is ons ma (Ps.87:5-6, Gal.4:26).  Nog voordat God die wêreld gemaak het, het Hy ons name in die boek van die lewe geskryf (13:8, 17:8); dit kan nie daaruit verwyder word nie (v.5).  Dié wie se name in die boek is sal nie hel toe gaan nie, maar hemel toe (20:15, 21:27).

 

Die feit dat Jesus nié hulle name uit die boek van die lewe sal verwyder nie, beteken nie dat Hy sommige mense se name sal verwyder nie.  Moenie Jesus se belofte in ‘n dreigement verander nie.  In Eks.32:32 en Ps.69:29 lees ons wel dat God mense se name uit die boek van die lewendes verwyder.  Dit verwys egter nie na mense wat hulle redding verloor nie, maar na dié wie se name van die rekord van die lewendes af verwyder word, omdat God hulle doodgemaak het.  Uit v.5 is dit duidelik dat ‘n ware gelowige nie sy redding kan verloor nie (vgl. Jh.6:39, 10:28-29, Rm.8:29-30, 38-39, Ef.1:13-14, Fil.1:6).

 

Jesus sou die oorwinnaars se name voor sy Vader en die engele bely het (v.5, Mt.10:32). Hy sou nie skaam gewees het om te sê dat hulle aan Hom behoort het nie.  Hy sou egter skaam gewees het vir dié wat onheilig was, omdat hulle Hom met hulle lippe en lewens verloën het (Mt.10:33).  Dié wie se geestelike ore oop was, moes geluister het wat die Gees vir die gemeentes sê (v.6).

 

Die toepassing

Om seker te maak dat ons nie soos Sardis is nie, moet ons onsself en ons gemeente baie mooi ondersoek. Indien ons op sekere gebiede soos hulle is moet ons verander.  Die Here is so ernstig hieroor, dat Hy soos ‘n dief in die nag teen ons sal kom as ons dit nié doen nie (v.3).  Die Here se waarskuwing moet ons aanspoor om wakker te word en om heilig te wees (vgl. 2 Pt.3:10-11).

 

Alvorens ons onsself kan bekeer moet ons weet wat ‘n dooie kerk of individu is. Moenie op die oppervlak oordeel en te vinnig aflei dat ‘n persoon of gemeente lewendig is nie (v.1b).  Die feit dat ‘n kerk baie aktiwiteite, opgewekte musiek, finansiële voorspoed, skares mense, ‘n aktiewe kinderbediening, goeie organisasie, suksesvolle sakemanne op die leierskap, en ‘n elegante prediker het, beteken nie noodwendig dat hulle lewendig is nie.  Aktiwiteite en goeie organisasie kan nie ‘n lyk laat lewe nie.  Die feit dat die kerk ‘n kilometer breed is beteken nie veel as dit ‘n sentimeter diep is nie.

 

Ons moenie maar net aanneem dat geld, geboue en getalle ‘n aanduiding van geestelike lewe is nie. Dit mag wees dat Jesus van sulke kerke sê:  “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” (v.1b, moet asseblief nie hieruit aflei dat groot gemeentes altyd siek is, en dat kleiner gemeentes altyd gesond is nie).

 

Ons moet onsself nie meet aan wat ander van ons dink nie. Mense kan na ons gemeente of na jou lewe kyk, en dink dit is wonderlik (v.1b).  Maar Jesus ken ons werke; Hy weet wat in ons harte, gedagtes, en motiewe aangaan (v.1b).  Dus moet ons onsself aan sý standaarde meet.  As ons gemeente geestelik aan die slaap is, moet ons wakker word (v.2).  Hoe kan jy weet of ‘n gemeente geestelik dood of aan die slaap is?

 

[1] Is die gemeente meer op programme en organisasie gefokus as op gebed, sending en evangelisasie, bekerings, dissipelskap, Bybelse prediking en aanbidding, geestelike groei en gehoorsaamheid?

 

[2] Die meeste van die lidmate is nie ernstig oor heiligheid nie (v.4). Daar is gedurig lidmate en leiers wat onheilig lewe en skande maak.  Die lidmate se leefstyle wys dat hulle ongered is.  In hulle harte is daar nie ‘n begeerte om heilig te wees en hulle klere skoon te hou nie; die vlekke van bitterheid, verslawing, egbreuk, wellus, vuil taal, hoogmoed, rassisme, bedrog, leuens en baie ander sondes besoedel hulle klere (v.4).

 

Hoe lyk dit met ons gemeente? Is ons werke volkome voor die Here (v.2)?  Is daar dinge wat op die punt staan om te sterf; dinge wat ons moet versterk?  Wat van evangelisasie?  En wat van die Sondagskool?  Ons bidure is soos ‘n kers wat flou brand:  uit ‘n gemeente van 70 mense is daar nie eers 10 wat die bidure bywoon nie.  By ons Bybelstudies is daar tussen 10 en 12 mense.  Volgens Jesus moet ons die goeie dinge volhou, dit versterk, en ons bekeer (v.2-3).

 

Hoe staan sake met jou persoonlik? Begeer jy om heilig te lewe?  Haat jy jou sonde (om jou sonde te haat is nie dieselfde as om die gevolge van jou sonde te haat, of om dit te haat dat jy skuldig voel nie).  Begeer jy o.a. om in die hemel te wees, omdat jy sonder sonde wil wees?  As dit glad nie by jou ‘n begeerte is nie, of as die begeerte in jou hart soos baie flou tee is, dan is daar drasties fout.  Die kanse is goed dat jy geestelik dood is.  Laat my toe om vir jou te sê hoe en waar jy geestelike lewe kan kry.

 

Heel eerste moet jy erken dat jy geestelik dood is, en dat jou finansiële bydrae vir die kerk, jou doop en lidmaatskap, gebede, kerkbywoning, sondaarsgebed, ouderlingskap, en enige ander godsdienstige pogings niks beteken nie (Fil.3:4-7). Om God se lewe in jou hart te kry, moet Hy dit deur sy Gees vir jou gee (Jh.3:5, 8).  Sonder Hom het jy nie hoop nie.

 

Smeek Hom dan om na jou toe te kom. Bekeer jou van die sonde wat jy in jou hart koester; die sonde wat jy nie wil of kan los nie, omdat dit jóú nie wil los nie.  Bekeer jou ook van die goeie werke waarop jy staatmaak om hemel toe te gaan, want voor die Here tel dit ‘n ronde nul.  Glo, hoop, vertrou en maak staat op Jesus wat aarde toe gekom het om aan ‘n aaklige kruis te sterf.  Daar het mense Hom wreed gemartel en is Hy deur sy Vader gestraf vir ons sonde.  Volg Hom.  Dien Hom.  Wees lief vir Hom.  Gehoorsaam Hom.

 

Indien jy reeds hierdie lewe ontvang het, moet jy nie geestelik aan die slaap raak nie. Om dit te doen is dodelik gevaarlik.  Jy is soos iemand wat verkluim of ‘n harde stamp teen die kop gekry het:  as jy aan die slaap raak, dan word jy nie weer wakker nie – jy kan doodgaan.  Daarom is dit nodig dat Jesus koue water in jou gesig gooi en jou moet skud – enigiets om jou wakker te kry en wakker te hou.  Word asseblief wakker as jy geestelik slaap (Ef.5:14).  Wees wakker omdat die vyand soos ‘n honger leeu rondloop (1 Pt.5:8).  Erger as dit is dat Jesus self teen jou sal wees (v.3).  Word asseblief wakker; die huis is besig om af te brand!

 

As jy dit nie doen nie, moet jy nie verbaas wees as Jesus op die oordeelsdag sê dat jy nie een van sy kinders is nie (v.5, Mt.7:23). ‘Maar ek was ‘n lidmaat by die Baptistekerk in Kempton Park?  Ek is in 1997 daar gedoop.’  Jesus sal vir jou sê:  ‘Ek ken jou nie.  Jou onheilige lewe het gewys dat jy nie aan My behoort het nie’ (Lk.13:24-27).

 

Sal dit nie soveel lekkerder wees as Hy sê: ‘Ferdi… Sumari… my kinders!  Ek is so bly om julle te sien.  Kom gerus in die Koninkryk van my Vader in.  Ek het vir julle wag – welkom tuis!’?

 

Europa is bekend vir sy katedrale. Baie van hierdie geboue het museums en toeriste aantreklikhede geword.  Die gebou met sy kunswerk en argitektuur is asemrowend.  Tog is dit net ‘n gebou, omdat daar nie mense bymekaarkom wat die Here in gees en in waarheid aanbid nie.  Geestelik is dit ‘n begraafplaas.  Mag die Here ons bewaar, sodat ons nie so word nie.

 

[1] Inligting oor Sardis het ek verkry uit die volgende bronne: [1] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Sardis.  [2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Sardis. [3] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, pp.421-423).  [4] Colin J. Hemer, The Letters to the Seven Churches of Asia in their Local Setting, pp.129-134.  [5] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, nota op Op.3:1.

[2] William Hendriksen, More Than Conquerors, p.91