‘n Oop brief aan kompromerende kerke

Compromised Church

Jy het seker al gehoor van die gemmerbrood mannetjie wat oor die rivier wou kom? Hy het op die jakkals se rug geklim.  Die jakkals het deur die rivier geswem.  Toe die water dieper raak, het hy vir die gemmerbrood mannetjie gesê om op sy skouers te klim.  Die water het dieper geraak, sodat hy op die jakkals se nek moes klim… toe op sy kop… toe op sy neus… en toe…

 

Dit is hoe kompromie werk. Ons dwaal stadig maar seker van die Here en sy Woord af weg.  Uiteindelik is ons so ver heen dat ons nie meer kan terugdraai nie.  En voordat ons dit besef, dan sluk die wêreld en sy sonde ons heel in.  In Op.2:18-29 waarsku die Here sy kerk hierteen.

 

Die aanhef (v.18)

Jesus het sy brief gerig aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Tiatire (v.18). Tiatire was tussen Pergamus en Sardis, omtrent 50 km van die kus af.  Vandag is die dorp Ak-Hissar oor die ruïnes van die ou stad gebou.  Volgens Hd.16:14 het Lidia van Tiatire af gekom.  Sy en haar gesin het onder Paulus se prediking tot bekering gekom (Hd.16:14-15).  Miskien het een van húlle die evangelie met die mense in Tiatire gedeel, sodat daar later ‘n gemeente ontstaan het?  Of dalk het Paulus self in Tiatire gaan preek (Hd.19:10)?

 

Die mense van Tiatire het die songod Apollo as hulle beskerm-god beskou. Volgens hulle was Apollo die seun van die oppergod Zeus.  Hulle het verder geglo dat die keiser Apollo in mensevorm is.  Hulle aanbidding van Apollo was dus baie nou verbind aan hulle aanbidding van die keiser.[1]  Apollo is uitgebeeld met vlammende strale en voete van gepoleerde koper.[2]

 

Maar in v.18 het Jesus gesê dat en nie Apollo nie, die Seun van God is wie se oë soos vlamme van vuur, en wie se voete soos gepoleerde koper is (v.18, 1:14-15, Dn.10:6). Jesus is die Son van Geregtigheid, die afskynsel van God se heerlikheid (Mal.4:2, Heb.1:3). Jesus, en nie die keiser nie, is God in mensevorm (Jh.1:14, 1, 18).  Met sy vlammende oë het Jesus gesien wat in die gemeente aangaan (19:12, Sp.20:8, Rm.2:16, Heb.4:13).  Met sy voete wat soos soliede koper geblink het, sou Hy die goddelose mense in die gemeente vertrap het (14:19, Ps.110:1).

 

Die komplement (v.19)

Wanneer ‘n egpaar ernstige huweliksprobleme het, het hulle dikwels nie ‘n goeie ding van mekaar te sê nie. Gewoonlik oordryf hulle ook:  ‘Sy kan nooit jammer sê nie… Hy is altyd besig om my af te breek.’  Jesus is nie so nie.  Selfs in ‘n kerk met ernstige probleme was daar dinge waaroor Hy hulle geprys het.

 

Met sy vlammende oë (v.18) het Jesus die gemeente se goeie werke gesien (v.19). Hulle liefde onder mekaar en geloof in die Here was prysenswaardig (v.19, Ef.1:15).  Hulle geloof het tot diensbaarheid gelei (v.19, Gal.5:13).  Hulle het geduldig volhard in die vervolging wat hulle moes deurmaak (v.19, 1:9).  Hulle het in elke een hierdie kwaliteite gegroei (v.19, Fil.1:9, 1 Ts.4:1, 9-10, 2 Ts.1:3).  Die Efesiërs het hulle eerste liefde verloor (v.4-5), terwyl die gelowiges in Tiatire gegroei het (v.19).

 

Die vermaning (v.20-23)

Tiatire was bekend vir sy handelsgildes of vakbonde. Hulle het wol, linne, klere, persstof, leer, brode, kleipotte, koper, en meer gemaak.[3]  Omdat Lidia persstof verkoop het (Hd.16:14), het sy waarskynlik voor haar bekering aan een van hierdie vakbonde behoort.  Elke vakbond het ‘n beskerm-god gehad.  Om dus ‘n lid te word, moes jy die god aanbid het en aan immorele feeste deelgeneem het.[4]  Dié wat dit nie gedoen het nie, het hulle werke verloor.[5]  Dit is teen hierdie agtergrond wat ons v.20-23 moet verstaan.

 

Die feit dat die gemeente geestelik gegroei het (v.19), het nie hulle sonde verskoon nie (v.20-23). Jesus het dit teen die gemeente gehad dat hulle sonde verdra het (v.20).  Hulle het seker gedink dat dit liefdevol is om nie die oortreders se sonde uit te wys en kerkdissipline toe te pas nie (v.19-20, 1 Kor.5:2, 6).  Hulle het toegelaat dat Isebel sommige gemeentelede tot geestelike en fisiese egbreuk versoek (v.20, 14-15).  Of dit haar regte naam was weet ons nie.  Dit is egter duidelik dat daar ‘n ooreenkoms tussen haar en die Isebel van die Ou Testament is.

 

Lg. was die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs. Sy het met koning Agab van Israel getrou.  Agab was bekend vir sy boosheid (1 Kon.16:29-33).  Isebel was nog boser as hy.  Dit was sý wat vir hom gesê het om vir Baäl te aanbid (1 Kon.21:25-26, 2 Kon.8:18, 9:22).  Sy het probeer om vir Elia dood te maak (1 Kon.19:1-2).  Om Nabot se wingerd te kry, het sy vals getuies teen hom aangehits en hom laat doodmaak (1 Kon.21).  A.g.v. haar boosheid het die Here gesê dat die honde in Jisreël haar lyk sal opvreet (1 Kon.21:23).  Dit het presies so gebeur, sodat net haar skedel, voete, en handpalms oorgebly het (2 Kon.9:30-37).

 

Soos sy, het die Isebel van Op.2:20 sommige lidmate versoek om in afgodery betrokke te raak. Sy het seker vir hulle gesê dat dit nie verkeerd is om aan die vakbonde te behoort as dit beteken het dat hulle hulle werk kon behou nie.  Haar redenasie het waarskynlik so iets geklink:  ‘Dit maak mos nie saak as jy die afgodsfeeste bywoon nie.  Dit is nie asof ‘n afgod bestaan nie.  Ons weet mos dat daar net één God is.  Jy weet natuurlik wat met jou gaan gebeur as jy nie by die feeste betrokke raak nie?  Jy gaan jou werk verloor en moontlik ook vervolg word.  Is dit regtig die moeite werd?  En is dit reg dat jou gesin ondergaan, net omdat jy nie ‘n stukkie afgodsoffervleis wil eet en ‘n aandjie saam met my wil geniet nie?  Komaan!  Dis mos nie so erg nie?  Hou op om selfsugtig te wees en dink ‘n bietjie aan jou arme kinders.’

 

Om haar saak te versterk het sy gesê dat sy ‘n profetes is. Jesus was ontevrede dat hulle haar en haar sonde verdra het (v.20).  Eintlik moes hulle haar van die gemeente afgesny het, en gesê het dat sy nie meer welkom is nie (1 Kor.5:2, 13).  Jesus het vir haar tyd gegee om haar te bekeer, maar sy wou nie (v.21, Rm.2:4, Mt.18:15-17).  Daarom het Hy gesê dat Hy haar op ‘n siekbed sou werp (v.22).  Omdat die kerk haar nie gedissiplineer het nie, sou die Here dit persoonlik gedoen het.  Dit is nie onmoontlik dat sy ‘n seksuele siekte gekry het nie.  Dis asof die Here vir haar gesê het:  ‘Omdat jy aanhoudend in die bed is, sal Ek seker maak dat jy permanent in die bed is!’

 

Dié wat saam met haar egbreuk gepleeg het, sou Hy in groot verdrukking gewerp het (v.22, 10, 3:10, 7:14, Mt.24:21). Indien hulle egter met hulle sonde opgehou het, sou Jesus hulle gespaar het (v.22, 3:10).  Hy het ook besluit om Isebel se kinders dood te maak (miskien die kinders waarmee sy deur haar immorele leefstyl swanger geraak het?).  In die Here se oë was haar sonde baie ernstig (v.23, 2 Sm.12:14).  Die ander gemeentes sou hiervan gehoor het (v.23, 29).  Hulle sou geweet het dat die Here se vlammende oë ons geheime emosies (niere) en gedagtes (harte) sien en deursoek (v.23, 18, Ps.139:1, 23, Jer.20:12, Lk.16:15, Jh.2:24-25, Hd.1:24, Rm.8:27).  Omdat Hy ons geheime gedagtes ken, kan Hy elke mens regverdig oordeel en vergeld (v.23, 22:12, Ps.62:13, Jer.17:10, Mt.16:27).

 

Die aansporing (v.24-25)

Het jy al te doen gekry met Christene wat vir jou baie van die duiwel, demone, geestelike oorlogvoering, en duiwel-uitdrywing kan vertel, maar wat ‘n middelmatige kennis van die Bybel het? Hulle dink dat hulle dinge van die duiwel weet waarvan Gerda-gewone-Christen niks weet nie.  Hulle begeer om dinge van die duiwel te weet wat nie in die Bybel is nie.  Partykeer gebeur dit dat hulle meer van die duiwel weet as van Jesus.  Isebel was so, en die Here het haar nie hiervoor geprys nie.  Hy het egter die gelowiges geprys wat nie gaan krap het waar dit nie juk nie (v.24-25).

 

Net soos wat daar oortreders in die gemeente was, was daar ‘n klomp mense wat nié in hierdie dinge betrokke geraak het nie (v.24). Isebel het seker gesê:  ‘Om die duiwel te oorwin moet jy verstaan hoe hy werk, en daarom is dit goed om afgodery uit te toets.  Net dáár kan jy die diep dinge van Satan leer.  Die gemiddelde Christen is weet niks van hierdie dinge nie.  Moenie soos hulle wees nie, maar probeer agter die kap van die byl kom deur hierdie dinge vir jouself te ondersoek.  Dit maak in elk geval nie saak wat met jou liggaam doen as jou gees rein is nie’ (v.24).

 

Dié wat nie vir Isebel geluister het nie, sou nie verder belas word nie (v.24, Hd.15:28-29). Jesus se las was lig (Mt.11:30, 1 Jh.5:3).  Die gelowiges moes net aan sy Woord vasgehou het, totdat Hy gekom het om hulle te beloon (v.25, 3:11).  Dit sou Hy by die wederkoms gedoen het (20:11-15), maar Hy sou ook voor die tyd na die verskeie gemeentes toe gekom het om hulle te seën en te bestraf (v.5, 16, 3:3, 10-11, 20).

 

Die belofte (v.26-29)

Nie alle atlete is ewe gedissiplineerd nie. Om toe te sien dat hulle hulleself dryf om die goue medalje te wen, moet die afrigter aan maniere dink om hulle te motiveer.  Vir party van hulle help dit as hy op hulle skreeu; hulle is bang en doen dan wat hy sê.  Maar met ander moet hy die spreekwoordelike wortel voor die donkie se neus hou:  hy moet hulle aan die goue medalje herinner.  Hulle moet as’t ware die beloning sien sodat hulle vinniger kan hardloop.

 

En so werk Jesus ook met sy kerk. In v.26-28 belowe Hy om die oorwinnaars te beloon.  Ek is seker dat dit baie van hulle gedryf het om tot die einde toe vas te byt.

 

Jesus sou ‘n beloning gegee het aan dié wat die oorwinning behaal het (v.26). Om te oorwin moes hulle aangehou het om sy werke te doen (v.26), opgehou het om Isebel s’n te doen (v.22), nie die diep dinge van Satan geleer het nie (v.25), gegroei het (v.19), en tot die einde toe volhard het (v.26).  Aan hulle sou Hy die mag gegee het om met ‘n ysterstaf oor die nasies te heers en hulle soos kleipotte stukkend te slaan (v.26-27).  Jesus sou hierdie mag vir hulle gegee het, soos wat sy Vader dit aan Hom gegee (v.27, 3:21, 5:10, 12:5, 19:15, Ps.2:8-9, Dn.7:13-14, 28, Mt.28:18, 1 Kor.6:2).  Hierdie beloning sou hulle in die duisendjarige vrederyk ontvang het (20:4, 6).  Ek kan nie nou in detail daarop ingaan nie.  Jy sal ongelukkig moet wag totdat ons by Op.20 kom.  Al wat nou saakmaak is dat Jesus belowe het om sy kinders te beloon.

 

Volgens v.28 sal dié wat die oorwinning behaal ook die Môrester, nl. Jesus self ontvang (22:16, Nm.24:17, 2 Pt.1:19). Net soos wat die môrester (Venus) vir ons wys dat dit amper dag is, wys Jesus hiér dat Hy binnekort sou kom om sy kerk te beloon en om sy vyande te oordeel.  Dié wie se geestelike ore oop was, moes geluister het na wat die Gees vir die gemeentes sê (v.29).

 

Die toepassing

Moenie soos Tiatire wees wat die Here en sy standaarde afwater nie. Net soos wat jy nie jou huweliksmaat met ander deel nie, wil Jesus jou nie met ander gode deel nie (Jk.4:5).  Onthou asseblief dat enigiets wat vir jou belangriker is as die Here, ‘n afgod is (Mt.6:24, Kol.3:5).

 

Soos die gelowiges in die Tiatire, word Christene vandag nog versoek om kompromieë aan te gaan. Omdat die samelewing so vol van sonde is, is ons soos Lot in Sodom, en raak ons gewoond daaraan (2 Pt.2:7-8).  In Mt.24:12 het die Here gesê:  “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”  Sonde skok ons nie meer nie.  Deur die films, advertensies en TV programme wat ons kyk, die koerante en tydskrifte wat ons lees, is moord, bedrog, homseksualiteit en ander vorme van seksuele sonde, ateïsme, verslawing, en ander sondes alledaags en normaal.  Dit pla ons nie eintlik nie.  Ons het geleer om dit te verdra.  Dit is soos ‘n kraak op jou kar se windskerm of die gedrup van ‘n kraan wat nie ordentlik toe is nie:  as jy dit lank genoeg ignoreer, kom jy dit nie meer agter nie.

 

En so het ons geleer om klein kompromieë aan te gaan. Omdat jy jou werk wil behou, doen jy dinge wat nie eintlik by ‘n Christen pas nie.  Jy wil nie uitgeskuif word nie, en daarom laat jy die oneerlike transaksie deurgaan.  Soos die res gee jy ‘n omkoopgeldjie of -geskenkie sodat jý die kontrak kry.  Jy wil nie jou baas teleurstel nie, of jy probeer om vir jou kollega te skerm, en daarom vertel jy maar die wit leuntjie.  Daar is dinge op jou rekenaarskerm wat, as dit jou kind was, jy hom daaroor sou vasgevat het.  Dit pla jou nie meer dat jy ure van jou baas se tyd steel deur op Facebook te wees nie.  Jy wil nie dom lyk nie, en daarom drink jy maar ‘n paar drankies te veel by die jaareindfunksie.  Ook jou taalgebruik en die grappe wat jy vertel klink nou soos die wêreld s’n, ten spyte daarvan dat Ef.4:29, 5:3-4 sê daar moenie vuil taal uit jou mond uit kom nie.

 

Ook by die skool en universiteit het jy dit wat jy van kleins af geglo het, prysgegee omdat jy ‘in’ wil wees. Soos die ander kinders het jy begin rook en drink.  As jy atletiek doen is dit nie meer rou talent wat jou help nie, omdat jy begin het om steroïedes te gebruik.  Jy werk nie meer so hard soos voorheen nie, maar skryf gou voor pouse iemand anders se huiswerk af.  Jy sien hoe baie ander studente vir die vakansie saam met hulle ouens of meisies weggaan en in een bed slaap.  Jy het die leuen ingesluk dat dit ‘okay’ is as jy nie al die pad gaan nie, want as jy op ‘n sekere punt ophou was dit nie seks nie.  In jou oë is dit veral nie verkeerd nie, omdat jou ouers nie daarmee ‘n probleem het nie.

 

As jy klein kompromieë maak sal dit nie lank wees voordat jy groter kompromieë maak nie. Maak dus seker dat jy in die eerste plek nie op hierdie pad beland nie.  Die Here gee vir jou ‘n kans om jou te bekeer.  Moet asseblief nie soos Isebel wees en die kans verbrou nie (v.21).  Draai weg van wat verkeerd is, en fokus daarop om die regte dinge te doen en om daarin te groei (v.19).  Hou vas aan die Bybel en doen wat daarin geskryf staan (v.25).  Herinner jouself ook daaraan dat die Here jou motiewe, gedagtes, en geheime dade sien (v.18, 23).

 

As jy nie van die verkeerde pad af wegdraai nie, sal die Here drastiese stappe teen jou neem.  Hy kan maak dat jy in ‘n hospitaalbed of op jou sterfbed beland (v.22).  Hy kan maak dat jy deur diep waters gaan (v.22).  Hy kan jou kinders van jou af wegneem (v.23).  Daar is niks wat Hy nié kan doen om jou tot jou sinne te bring nie.

 

Ek wil by jou pleit om die kans te gebruik wat die Here vandag vir jou gee. Draai om as jy soos ‘n skaap van Hom af weggedwaal het.  Dalk weet jy nie eers hoe om terug te kom by die kraal nie.  Roep in gebed en vra vir die Herder om jou te kom haal.  Sê vir Hom dat die sonde jou uitgeput het, en dat jy nie meer jou eie kop wil volg nie.  Vra Hom om jou te vergewe.  Hy sal; met sy hele hart.  Sy Seun het soos ‘n geskeurde stuk vleis aan ‘n growwe kruishout gehang om sondaars na die Vader toe terug te bring.  Erken net dat jy teen Hom gesondig het, en vertrou dat Hy die opgestane Verlosser is wat jou met ‘n sterk greep uit die put van jou sonde kan uithaal.

 

Hy sal jou nie in jou sonde los nie. Hy sal na jou toe hardloop, jou omhels, en jou soen (Lk.15).  Hy sal jou herstel, sodat jy weer in ‘n intieme en persoonlike verhouding met Hom kan lewe, sodat jou hart vol is van sy liefde, vrede, blydskap en hoop. Hy sal jou sonde vergewe en jou nie daaraan herinner nie (Heb.10:17).  Hy sal dit in die diepste see gooi en van jou af wegvat so ver soos wat die ooste en die weste van mekaar af verwyder is (Mig.7:19, Ps.103:12).  Hy sal jou beloon (v.26-28, Ef.1:3).  Die geskenke wat Hy vir jou sal gee is meer werd as die goud, edelstene en duurste maatskappye op aarde.  Miskien verstaan jy nie as Hy vir jou sê wat dit is nie (v.26-28), maar as jy dit sien en ontvang sal jou oë groot word, jou mond oophang en jou asem weggeslaan wees.

 

Laat dít jou aanspoor om jou sonde te los en te doen wat die Here wil hê. Laat ons gemeente (saam met elke ander kerk wat ernstig is om die Bybel te preek en te gehoorsaam) lewe om die Here tevrede te stel.  Ek waarborg jou dat jy op die oordeelsdag nie vir ‘n oomblik spyt sal wees jy het dit gedoen nie.

 

In die 1800’s het Philip P. Bliss ‘n gesang vir sy Sondagskoolklas geskryf. Die lied gaan oor Daniël.  Toe die hele wêreld teen hom was (soos wat hulle teen sy vriende was), het hy nie geskroom om alleen te staan nie.  In die koor-gedeelte van hierdie lied sê die skrywer:

Dare to be a Daniel,

Dare to stand alone!

Dare to have a purpose firm!

Dare to make it known.

 

Soos Daniël moet ons bereid wees om alleen te staan en nie kompromieë aan te gaan met sonde en die wêreld nie.

 

[1] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.421

[2] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Thyatira

[3] Thompson, Ibid

[4] William Hendriksen, More than Conquerors, p.88

[5] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Thyatira en Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, p.103