‘n Oop brief aan dooie kerke

Dead church

Ek onthou ‘n artikel wat ek tydens my bediening in Nelspruit gelees het: ‘Revival and the Unregenerate Church Member’ deur Jim Eliff.  Die artikel het gepraat van soldate wat dooie troepe met hulle moet saamsleep.  ‘So is ongeredde lidmate,’ het die skrywer van die artikel gesê.

 

Hoeveel ongeredde lidmate is daar nie vandag in ons kerke nie: mense wat op ‘n uitnodiging gereageer het, ‘n gebed agter iemand aan opgesê het, gedoop is, as lidmate opgeneem is, en later selfs Sondagskool onderwysers, ouderlinge, en predikante geword het?  En hulle is soos ‘n Turksvy doring in ‘n mens se hand – hulle veroorsaak baie ongerief en pyn, en dit verg moeite om van hulle ontslae raak.  Om te verhoed dat ons in hierdie strik trap het die Here Op.3:1-6 vir ons laat opteken.

 

Die aanhef (v.1a)

Het jy al mense ontmoet wat baie arm is en dan skielik ryk word? Wat gebeur gewoonlik met so iemand se persoonlikheid?  Het jy al ‘n ryk persoon ontmoet wat alles verloor het en teen die grond geslaan word?  Is dit nie so dat dit in baie gevalle ‘n goeie uitwerking op hulle karakter het nie?

 

Van al die gemeentes het net Smirna en Filadelfia vervolging beleef, en tog was dit die twee beste gemeentes. Van die sewe gemeentes was dit net Sardis en Laodisea wat nie probleme met vervolging of vals lering gehad het nie.  En tog was dit die twee slegste gemeentes.  Leer dan dat lyding nie noodwendig skerp tande het nie, terwyl voorspoed bitter gevaarlik kan wees.

 

Jesus het sy brief aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Sardis gerig (v.1a). Die stad was omtrent 80 km van die Turkse weskus af.  In die jaar 17 n.C. is die stad deur ‘n aardbewing verwoes en met die hulp van keiser Tiberius herbou.  Die stad is in 1402 finaal verwoes.  Vandag lê die klein dorpie Sart tussen die bouvalle van die ou stad.[1]

 

Jesus beskryf Homself as die Een wat die sewe Geeste van God het (v.1a). In Openbaring is sewe die volmaakte getal.  Jesus het dus die volmaakte of sewevoudige Gees:  die Gees van die Here, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here (v.1b, 1:4, 4:5, 5:6, Jes.11:2, Sg.4:2, 6).

 

Jesus is ook die Een wat die sewe sterre het (v.1a). Volgens 1:20 is die sewe sterre die sewe leraars.  Hulle word met sterre vergelyk, omdat hulle soos sterre in ‘n donker wêreld moet skyn (Fil.2:15).  Die feit dat Jesus hulle in sy hand hou (1:16) is ‘n vertroosting vir dié wat reg doen en ‘n nagmêrrie vir dié wat verkeerd doen (Jh.10:28, Heb.10:31).

 

Die vermaning (v.1b-3)

Sardis was op ‘n baie steil en hoë heuwel gebou. Die suidelike muur was so steil, dat koning Croesus nie eers wagte op daardie deel van die muur geplaas het nie.  Hy het homself oortuig dat niemand die stad kon binneval nie.  In 549 v.C. het koning Kores van Persië en sy soldate ‘n weg gevind om by die suidelike muur in die stad in te kom en dit te oorval.

 

Tog het die inwoners van Sardis nie hulle les geleer nie. Die soldate het nagelaat om wag te hou, en in 218 v.C. is die stad vir ‘n tweede keer oorval – hierdie keer deur Antiochus die Grote.  Jesus het vir die gemeente gesê om nie soos die stad te wees nie.  Hulle moes geestelik waaksaam gewees het.  Toe Jesus sy brief vir hulle geskryf het, was hulle soos my dowe labrador wat nie eers wakker word as ek met my motorfiets by sy stert verby ry nie.

 

Omdat Jesus alles weet (Jh.16:30), het Hy geweet wat in die gemeente aangaan; Hy het hulle werke geken (v.1b). Gelowiges uit ander dorpe en dalk ook die ongelowiges in hulle eie dorp, het gedink dat die gemeente van Sardis lewendig is, maar eintlik was hulle geestelik op ‘n sterfbed (v.1b, Ef.2:1, Lk.15:24, 1 Tm.5:6, Jk.2:26).  Een kommentator sê oor die gemeente:  ‘The forms were there, the ceremonies, the religious customs, the traditions, the services; but the real essence was lacking.’[2]

 

Jesus het vir die kerk gesê om wakker te word uit die slaap van die dood (v.2, Ef.5:14). Hulle gemeente het byna niks oor gehad wat die moeite werd was nie (v.2).  Dit wat hulle gehad het was op asemhalingsmasjiene (v.2).  Hulle moes alles in hulle vermoeë gedoen het om hierdie kooltjie aan te blaas, sodat die vuur weer kon brand (v.2).  Die gemeente se werke was nie volkome in die Here se oë nie (v.2, 2 Kron.25:1-2, Dn.5:27, kontr. Lk.10:27, Hd.14:26, Kol.4:17).

 

Om die situasie op te los, moes hulle teruggedink het aan die evangelie wat hulle gehoor en ontvang het, en hulle dan van hulle geestelike slaapsiekte en doodsheid bekeer het (v.3, 1 Kor.15:1, 2 Tm.1:13). Indien hulle dit nié gedoen het nie, sou Jesus op enige oomblik onverwags teen hulle gekom het soos ‘n dief in die nag (v.3, 16:15).  Alhoewel sy finale koms ook so sal wees (2 Pt.3:10, Mt.24:42-44, 1 Ts.5:2, 4), het Jesus nie hier van die wederkoms gepraat nie, want indien Sardis hulle bekeer het, sou Hy nié soos ‘n dief teen hulle gekom het nie.

 

Die belofte (v.4-6)

Carina trou in Desember. Die dag voor haar troue, toe mors haar suster se kind ‘n hele fles koffie oor haar trourok uit.  Carina het dit nie geweet nie.  Die kind het probeer om dit reg te maak deur dit met sy modderhande in die visdam af te was.  Soos jy kan raai het hy dit erger gemaak.  Wat sou jy van Carina gedink het as dit haar glad nie gepla het nie, en as sy so by die troue opgedaag het?

 

Jesus wil nie hê dat sy bruid met ‘n besmeerde kleed by die bruilof moet opdaag nie. Om by Hóm te wees moet ons klere lyk asof dit vir ‘n paar ure in JIK gelê het.  Ons lewens moenie met die koffie en modder van sonde bevlek wees nie.  Ons moet eerder soos die handjievol getroue mense in Sardis wees.

 

Ten spyte van die probleme in Sardis was daar enkele mense wat nie soos die res gesondig het nie (v.4). Jesus het geweet wie hulle is (v.4, Jh.10:14, 27, 2 Tm.2:19).  Die kleed van hulle lewens was nie met sonde besoedel nie, maar deur geloof, bekering, en ‘n heilige lewe het hulle dit wit gewas in die bloed van die Lam (v.4, 7:9, 14, 14:4, 19:8, 22:14, Jes.61:10, Rm.13:14, Gal.3:27, Jud.23).  Dié wat hulle sonde en die geestelike slaap van die dood oorwin het, sou met die wit klere van Christus se geregtigheid en ‘n heilige lewe in die hemel gewandel het (v.4-5, Fil.3:9, 1 Jh.3:2).  So sou hulle altyd volmaak en aanneemlik gewees het voor God.  Hulle sou ook vir ewig gelukkig gewees het.  ‘Heaven is happy because it’s holy.’ (Stuart Olyott).

 

Dié wat hierdie beloning ontvang het, se name sou nooit uit die boek van die lewe verwyder word nie (v.5). In Sardis het die owerhede molesmakers uit die stad uitgeskop en hulle name van die rol af verwyder.  Ook as jy gesterf het is jou naam van die rol af verwyder.

 

In die hemelse stad kan dit nie gebeur nie, omdat niemand wat dáár is ooit kan sondig of sterf nie. Ons is burgers van die nuwe Jerusalem, en sy is ons ma (Ps.87:5-6, Gal.4:26).  Nog voordat God die wêreld gemaak het, het Hy ons name in die boek van die lewe geskryf (13:8, 17:8); dit kan nie daaruit verwyder word nie (v.5).  Dié wie se name in die boek is sal nie hel toe gaan nie, maar hemel toe (20:15, 21:27).

 

Die feit dat Jesus nié hulle name uit die boek van die lewe sal verwyder nie, beteken nie dat Hy sommige mense se name sal verwyder nie.  Moenie Jesus se belofte in ‘n dreigement verander nie.  In Eks.32:32 en Ps.69:29 lees ons wel dat God mense se name uit die boek van die lewendes verwyder.  Dit verwys egter nie na mense wat hulle redding verloor nie, maar na dié wie se name van die rekord van die lewendes af verwyder word, omdat God hulle doodgemaak het.  Uit v.5 is dit duidelik dat ‘n ware gelowige nie sy redding kan verloor nie (vgl. Jh.6:39, 10:28-29, Rm.8:29-30, 38-39, Ef.1:13-14, Fil.1:6).

 

Jesus sou die oorwinnaars se name voor sy Vader en die engele bely het (v.5, Mt.10:32). Hy sou nie skaam gewees het om te sê dat hulle aan Hom behoort het nie.  Hy sou egter skaam gewees het vir dié wat onheilig was, omdat hulle Hom met hulle lippe en lewens verloën het (Mt.10:33).  Dié wie se geestelike ore oop was, moes geluister het wat die Gees vir die gemeentes sê (v.6).

 

Die toepassing

Om seker te maak dat ons nie soos Sardis is nie, moet ons onsself en ons gemeente baie mooi ondersoek. Indien ons op sekere gebiede soos hulle is moet ons verander.  Die Here is so ernstig hieroor, dat Hy soos ‘n dief in die nag teen ons sal kom as ons dit nié doen nie (v.3).  Die Here se waarskuwing moet ons aanspoor om wakker te word en om heilig te wees (vgl. 2 Pt.3:10-11).

 

Alvorens ons onsself kan bekeer moet ons weet wat ‘n dooie kerk of individu is. Moenie op die oppervlak oordeel en te vinnig aflei dat ‘n persoon of gemeente lewendig is nie (v.1b).  Die feit dat ‘n kerk baie aktiwiteite, opgewekte musiek, finansiële voorspoed, skares mense, ‘n aktiewe kinderbediening, goeie organisasie, suksesvolle sakemanne op die leierskap, en ‘n elegante prediker het, beteken nie noodwendig dat hulle lewendig is nie.  Aktiwiteite en goeie organisasie kan nie ‘n lyk laat lewe nie.  Die feit dat die kerk ‘n kilometer breed is beteken nie veel as dit ‘n sentimeter diep is nie.

 

Ons moenie maar net aanneem dat geld, geboue en getalle ‘n aanduiding van geestelike lewe is nie. Dit mag wees dat Jesus van sulke kerke sê:  “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.” (v.1b, moet asseblief nie hieruit aflei dat groot gemeentes altyd siek is, en dat kleiner gemeentes altyd gesond is nie).

 

Ons moet onsself nie meet aan wat ander van ons dink nie. Mense kan na ons gemeente of na jou lewe kyk, en dink dit is wonderlik (v.1b).  Maar Jesus ken ons werke; Hy weet wat in ons harte, gedagtes, en motiewe aangaan (v.1b).  Dus moet ons onsself aan sý standaarde meet.  As ons gemeente geestelik aan die slaap is, moet ons wakker word (v.2).  Hoe kan jy weet of ‘n gemeente geestelik dood of aan die slaap is?

 

[1] Is die gemeente meer op programme en organisasie gefokus as op gebed, sending en evangelisasie, bekerings, dissipelskap, Bybelse prediking en aanbidding, geestelike groei en gehoorsaamheid?

 

[2] Die meeste van die lidmate is nie ernstig oor heiligheid nie (v.4). Daar is gedurig lidmate en leiers wat onheilig lewe en skande maak.  Die lidmate se leefstyle wys dat hulle ongered is.  In hulle harte is daar nie ‘n begeerte om heilig te wees en hulle klere skoon te hou nie; die vlekke van bitterheid, verslawing, egbreuk, wellus, vuil taal, hoogmoed, rassisme, bedrog, leuens en baie ander sondes besoedel hulle klere (v.4).

 

Hoe lyk dit met ons gemeente? Is ons werke volkome voor die Here (v.2)?  Is daar dinge wat op die punt staan om te sterf; dinge wat ons moet versterk?  Wat van evangelisasie?  En wat van die Sondagskool?  Ons bidure is soos ‘n kers wat flou brand:  uit ‘n gemeente van 70 mense is daar nie eers 10 wat die bidure bywoon nie.  By ons Bybelstudies is daar tussen 10 en 12 mense.  Volgens Jesus moet ons die goeie dinge volhou, dit versterk, en ons bekeer (v.2-3).

 

Hoe staan sake met jou persoonlik? Begeer jy om heilig te lewe?  Haat jy jou sonde (om jou sonde te haat is nie dieselfde as om die gevolge van jou sonde te haat, of om dit te haat dat jy skuldig voel nie).  Begeer jy o.a. om in die hemel te wees, omdat jy sonder sonde wil wees?  As dit glad nie by jou ‘n begeerte is nie, of as die begeerte in jou hart soos baie flou tee is, dan is daar drasties fout.  Die kanse is goed dat jy geestelik dood is.  Laat my toe om vir jou te sê hoe en waar jy geestelike lewe kan kry.

 

Heel eerste moet jy erken dat jy geestelik dood is, en dat jou finansiële bydrae vir die kerk, jou doop en lidmaatskap, gebede, kerkbywoning, sondaarsgebed, ouderlingskap, en enige ander godsdienstige pogings niks beteken nie (Fil.3:4-7). Om God se lewe in jou hart te kry, moet Hy dit deur sy Gees vir jou gee (Jh.3:5, 8).  Sonder Hom het jy nie hoop nie.

 

Smeek Hom dan om na jou toe te kom. Bekeer jou van die sonde wat jy in jou hart koester; die sonde wat jy nie wil of kan los nie, omdat dit jóú nie wil los nie.  Bekeer jou ook van die goeie werke waarop jy staatmaak om hemel toe te gaan, want voor die Here tel dit ‘n ronde nul.  Glo, hoop, vertrou en maak staat op Jesus wat aarde toe gekom het om aan ‘n aaklige kruis te sterf.  Daar het mense Hom wreed gemartel en is Hy deur sy Vader gestraf vir ons sonde.  Volg Hom.  Dien Hom.  Wees lief vir Hom.  Gehoorsaam Hom.

 

Indien jy reeds hierdie lewe ontvang het, moet jy nie geestelik aan die slaap raak nie. Om dit te doen is dodelik gevaarlik.  Jy is soos iemand wat verkluim of ‘n harde stamp teen die kop gekry het:  as jy aan die slaap raak, dan word jy nie weer wakker nie – jy kan doodgaan.  Daarom is dit nodig dat Jesus koue water in jou gesig gooi en jou moet skud – enigiets om jou wakker te kry en wakker te hou.  Word asseblief wakker as jy geestelik slaap (Ef.5:14).  Wees wakker omdat die vyand soos ‘n honger leeu rondloop (1 Pt.5:8).  Erger as dit is dat Jesus self teen jou sal wees (v.3).  Word asseblief wakker; die huis is besig om af te brand!

 

As jy dit nie doen nie, moet jy nie verbaas wees as Jesus op die oordeelsdag sê dat jy nie een van sy kinders is nie (v.5, Mt.7:23). ‘Maar ek was ‘n lidmaat by die Baptistekerk in Kempton Park?  Ek is in 1997 daar gedoop.’  Jesus sal vir jou sê:  ‘Ek ken jou nie.  Jou onheilige lewe het gewys dat jy nie aan My behoort het nie’ (Lk.13:24-27).

 

Sal dit nie soveel lekkerder wees as Hy sê: ‘Ferdi… Sumari… my kinders!  Ek is so bly om julle te sien.  Kom gerus in die Koninkryk van my Vader in.  Ek het vir julle wag – welkom tuis!’?

 

Europa is bekend vir sy katedrale. Baie van hierdie geboue het museums en toeriste aantreklikhede geword.  Die gebou met sy kunswerk en argitektuur is asemrowend.  Tog is dit net ‘n gebou, omdat daar nie mense bymekaarkom wat die Here in gees en in waarheid aanbid nie.  Geestelik is dit ‘n begraafplaas.  Mag die Here ons bewaar, sodat ons nie so word nie.

 

[1] Inligting oor Sardis het ek verkry uit die volgende bronne: [1] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Sardis.  [2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Sardis. [3] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, pp.421-423).  [4] Colin J. Hemer, The Letters to the Seven Churches of Asia in their Local Setting, pp.129-134.  [5] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, nota op Op.3:1.

[2] William Hendriksen, More Than Conquerors, p.91