Kan die Here my vergewe?

Will God forgive me

Ek het al meer as eenkeer in my lewe gehoor hoe mense sê: ‘Die Here kan my nie vergewe nie.’  In Jh.7:53-8:11 wys die Here vir ons dat dit verkeerd is om so te dink.  Dit ís so dat hierdie gedeelte nie in die beste en oudste manuskripte van Johannes voorkom nie.[1]

 

Dit lyk of die skryfstyl beter by Lukas pas as by Johannes. Tog aanvaar ons dat dit deel van God se geïnspireerde Woord is.  As ons dit met die res van die Skrif vergelyk, dan sien ons dat dit soos ‘n legkaart pas, en dat die Jesus wat hiér beskryf word, die ware Jesus van die Bybel is.

 

Die hof (7:53-8:2)

Ek het in ‘n video op YouTube gesien hoe ‘n jong Skotse man tydens ‘n erediens na John MacArthur toe stap, en sy lering oor die gawes begin verdoem. Deur sy geskreeu het hy die erediens ontwrig.  Jesus het ‘n soortgelyke ondervinding gehad toe Hy in die tempel besig was om die volk te onderrig.  Die Joodse leiers het ingewals, en die tyd van Bybelse onderrig in ‘n hofsaak verander.

 

Jesus was waarskynlik vir een of ander Fees in Jerusalem. Aan die einde van elke dag het die mense wat daar gebly het, na hulle huise toe gegaan (7:53).  Omdat Jesus nie ‘n huis in Jerusalem gehad het nie, het Hy oos van die stad na die Olyfberg toe gegaan (8:1, Sg.14:4).  Hy het moontlik by Lasarus, Maria, en Marta aan die oostelike helling van die Olyfberg in Betanië gebly (11:1, 18, 12:1, Lk.19:29).  Of dalk het Hy op die berg oornag en in die oggend weer na die tempel toe teruggekeer (8:1-2, 18:1-2, Lk.21:37-38, 22:39).

 

Jesus was vroeg in die oggend by die tempel (8:2, Lk.21:38), omdat Hy vir so lank as moontlik God se Woord vir die mense wou leer. Hulle het na Hom toe gekom, omdat Hy met gesag gepraat het (7:14-15, Mt.7:28-29, Mk.12:37, Lk.4:22).  Volgens die gebruik van die tyd het Jesus gaan sit om die mense te leer (8:2, Lk.4:20, Mt.5:1).  Omdat Hy vir ‘n volle dag die mense onderrig het, sou dit Hom moeg gemaak het om die hele tyd te staan.

 

Die beskuldiging (8:3-6a)

My vrou het dié week vir my iets gewys wat sy op Facebook gesien het. Die vraag was:  ‘Are you childish?’  Onderaan is daar ‘n blokkie waar jy ‘yes’ of ‘no’ kan merk.  Die ‘yes’ blokkie lyk normaal, terwyl iemand met inkleur potlode ‘n huisie en boompie oor die ‘no’ blokkie geteken het.

 

Dit laat my dink aan mense wat vra of jy nog jou vrou slaan. As jy ‘nee’ sê dan beteken dit jy het haar geslaan, en as jy ‘ja’ sê dan beteken dit dat jy haar slaan.  Dit is wat die Jode in 8:3-6a met Jesus gedoen het.

 

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het ‘n vrou na Jesus toe gebring (8:3). Volgens hulle het hulle haar betrap dat sy egbreuk pleeg (8:3-4).  Daar het sy voor Jesus, die leiers, en die volk gestaan (8:2-3):  skuldig, kwesbaar, skaam en bang.  Die wet van Moses het gesê dat sulke vroue met die dood gestraf moes word (8:5, Lv.20:10, Dt.22:22).  Die Joodse leiers was gereed om haar te stenig, en het nie eers probeer om vir haar ‘n regverdige verhoor te gee nie.

 

Omdat Jesus ‘n rabbi of leermeester was (8:2), wou hulle gehoor het wat Hý oor haar sê (8:4). Indien Hy gesê het dat sy gestenig moet word, sou hulle gesê het dat Hy sonder genade is.  Die Romeine sou Hom vasgetrek het, omdat hulle wet nie vir die Jode toestemming gegee het om iemand ter dood te veroordeel nie.  Indien Jesus gesê het dat sy nié gestenig moes word nie, sou die Joodse leiers gesê het dat Hy die wet van Moses breek.  Hy was waarlik tussen die duiwel en die diep blou see.

 

Duidelik het dit nie vir hulle oor geregtigheid gegaan nie, maar oor ‘n begeerte om vir Jesus uit te vang (8:6). As hulle geregtigheid gesoek het, sou hulle volgens Dt.22:22 nie net die vrou nie, maar ook die man na Jesus toe gebring het.  Dit verg immers twee mense om egbreuk te pleeg.  Die Jode het slegte motiewe gehad.  Hulle het geweet dat Jesus simpatie gehad het met prostitute en sondaars (Lk.7:36-50), en het gehoop om Hom in hulle net te vang (8:6, Mt.16:1, 19:3, 22:15, 35, Lk.11:53-54).  Hulle was nie eintlik van plan om die vrou dood te maak nie, maar vir Jesus (8:6, 7:1, 25).

 

Die uitspraak (8:6b-8)

Daar is ‘n Afrikaanse spreekwoord wat sê: ‘Die skrif is aan die muur.’  Dit beteken eenvoudig dat dinge só teen jou gedraai het, dat daar nie meer vir jou uitkom kans is nie.  Die spreekwoord is gebasseer op Dn.5 waar die bose koning Belsasar gesien het hoe ‘n mens se hand teen die muur skryf.  Hy was vreesbevange en het vir Daniël gevra om die skrif te vertaal en uit te lê.  Daniël het vir die koning gesê dat sy dae getel is, en dat God sy lewe tot ‘n einde gaan bring.  In 8:6b-8 sien ons hoe dieselfde vingers op die grond geskryf het.

 

Omdat Jesus nie ‘n aardse regter was nie, het Hy hulle beskuldiging geïgnoreer (Lk.12:14). Hy het afgebuk en op die grond geskryf (8:6b).  Ons weet nie wat Hy geskryf het nie, en kan maar net raai.  In Jer.17:13 sê die Here dat Hy die name van dié mense wat Hom verlaat het, in die grond sal skryf.  Soos name wat op die strand geskryf is gou verdwyn, sou ook hierdie mense nie onthou word nie.

 

Sommige ou geskrifte sê dat Jesus hulle sondes in die grond geskryf het.[2]  Job 13:26 sê:  “For you write bitter things against me and make me inherit the iniquities of my youth.” (ESV).  In die Romeinse howe het die regter die oortreder se straf neergeskryf en daarna afgelees.[3]  Dalk is dít wat Jesus in 8:6b-7 gedoen het?

 

Die Jode was nie tevrede met Jesus se stilte nie, en het Hom gedruk vir ‘n antwoord (8:7). Hy het opgestaan, hulle in die oë gekyk, en vir hulle ‘n smakie van hulle eie medisyne gegee.  ‘Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi,’ het hy gesê (8:7, Dt.17:7).  Sodoende het Hy die wet van Moses eerbiedig en gewys dat húlle die oortreders is.  Indien hulle klippe opgetel het om haar te stenig, het hulle daardeur gesê dat hulle sondeloos is.  En indien hulle haar nié gestenig het nie, het hulle erken dat hulle self skuldig is (Rm.2:1, 21-22).

 

Die feit dat hulle haar uitgevang het waar sy met haar sonde besig was, het gewys dat hulle in hulle harte en gedagtes egbrekers was (Mt.5:27-28). Ook hulle onbybelse oortuiging en praktyke m.b.t. egskeiding het gemaak dat hulle egbrekers was (Mt.19:3, 9).  Hulle sonde was erger as die vrou s’n, omdat hulle probeer het om die Messias uit te vang en dood te maak.  Jesus het weer afgebuk en op die grond geskryf, asof hulle beskuldiging teen Hom geen basis gehad het nie (8:8, 46).

 

Die verdaging (8:9-11)

In die vroeë kerk het Augustinus gesê dat party mense hierdie storie uit die vroeë manuskripte verwyder het, omdat hulle gevrees het dat dit immoraliteit onder vroue sou aanhits en verskoon.[4]  Ons weet nie of hy reg was nie, maar vandag nog gebruik mense Jh.8 om hulle sonde te verskoon.

 

Wanneer iemand hierdie mense se sonde uitwys, dan sê hulle: ‘Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi.  Jesus het vir die immorele vrou gesê dat Hy haar nie veroordeel nie.  Wie is jý om my te oordeel?  Het Jesus nie gesê jy mag nie oordeel nie?’

 

Die waarheid is dat Jesus die teenoorgestelde gesê het.  Jesus het nie haar sonde goedgekeur nie, maar juis gesê dat sy daarmee moet ophou (v.11).

 

Die Joodse leiers het geweet dat hulle skuldig is, en het een vir een weggeloop (8:9). Omdat die ouer manne wyser was, het hulle eerste geloop (8:9).  Alhoewel hulle skuldig was, het hulle nie hulle sonde bely en vir die Here gevra om hulle te vergewe nie, maar die rug op Hom gedraai.  Die vrou het alleen voor Jesus gestaan soos ‘n beskuldigde voor die Regter (8:9).

 

Jesus het opgestaan, haar in die oë gekyk en vir haar gevra: ‘Vrou, waar is hulle?  Het hulle jou nie verdoem nie?’ (8:10).  Nie een van hulle was gekwalifiseerd om haar te veroordeel nie.  Net Jesus was, maar Hy het nie.  ‘Niemand het my verdoem nie, Here,’ het sy gesê (8:11).  Sy het besef dat Hy die Here is.  In sy groot genade het Hy haar nie verdoem nie, aangesien Hy nie gekom het “om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (3:17).

 

Moenie dink dat Jesus haar sonde goedgekeur het, of dat Hy dit onder die mat ingevee het nie. Hy was bereid om haar te vergewe, omdat Hy later die straf vir haar sonde op Homself sou neem aan die kruis.  Maar om vergewe te word kon sy nie in haar sonde voortgaan nie; sy moes haar daarvan bekeer het (8:11, 5:14).  Sy moes nie net hierdie sonde nie, maar haar leefstyl van sonde gelos het [Gk.].  Sy moes haarself aan die Here en sy Woord onderwerp het.  Sy moes ‘n nuwe blaadjie omgeslaan het.  Sy moes heilig, regverdig, rein, en gehoorsaam gewees het.  Sy moes nie bloot so gelewe het omdat sy bang was sy word gestenig nie, maar omdat sy Jesus se genade en vergifnis ontvang het.  Indien sy haar nié bekeer het nie, sou Jesus haar op die laaste Dag tot die ewige hel verdoem het.

 

Om die Here se vergifnis te ontvang moet jy jou bekeer (v.11, Lk.24:47, Hd.3:19). As jy jou nié bekeer nie, sal God sy swaard teen jou skerp maak, sy boog span, en jou die teiken van sy pyle maak (Ps.7:13).  Omdat Jesus sonder sonde is, kan en sal Hy die eerste klip optel as jy jou nie bekeer nie (v.7).

 

Om jou te bekeer beteken nie bloot dat jy jou sonde erken, of selfs dat jy vergifnis vra nie. Farao, Bileam, Saul en Judas is voorbeelde van mense wat hulle sonde erken het en vergifnis gevra het, maar nie vergewe is nie (Eks.9:27-28, 10:16-17, Nm.22:34, 1 Sm.15:24-25, 30, Mt.27:4-5).  Om vergewe te word moet jy ware berou hê.  Moenie soos Farao wees en net wil hê dat die Here jou slegte omstandighede moet verander nie.  Moenie soos Bileam jammer wees omdat jy weet die Here is kwaad vir jou, en omdat jy nie in moeilikheid wil kom nie.  Moenie soos Saul wees en gou jammer sê, omdat jy nie verleë wil wees voor ander, of omdat jy nie jou status wil verloor nie.  Moenie soos Judas jou sonde bely, omdat jy jou skuldige gewete wil stilmaak nie.

 

Volgens die Bybel is dit moontlik om vir ‘n tydjie met jou sonde op te hou, sonder dat jy jou waarlik bekeer het. Die Here ken ons harte en weet of ons ware berou het (Ps.78:34-37).  In 1 Kon.21:27 het koning Agab hom voor die Here verneder, maar gou weer na sy sondige weë toe teruggekeer.  In Jer.34:8-16 het Sedekia vir die volk gesê om hulle Hebreeuse slawe vry te laat, maar later het hulle die slawe teruggevat en teen die Here gesondig.

 

Wat is ware bekering dan? Ware bekering is ‘n gawe wat van die Here af kom (Hd.5:31, 11:18, 2 Tm.2:25).  Alhoewel jý jou moet bekeer, moet jy erken dat jy dit nie sonder die Here kan doen nie.  Sê dan vir Hom dat jy bereid is te doen wat reg is, en vra dat Hy in jou hart sal werk.  Om jou waarlik te bekeer, moet jy aanspreeklikheid vir jou dade aanvaar.  Moenie ander mense of jou omstandighede blammeer nie, maar pak die skuld op jouself (2 Sm.24:17).  Wees kwaad vir jouself en jou sonde, eerder as vir God en ander mense.  Moenie jou sonde verskoon nie:  ‘Ja, ek het gesondig, maar…’  Moet dit nie afmaak asof dit nie so erg is nie.  Moenie sê dat jou sonde ‘n siekte is, of dat ‘n demoon van woede of wellus gemaak het dat jy dit doen nie (Gn.3:13).

 

As jy jou waarlik bekeer het, sal jy bereid wees om die gevolge van jou sonde te dra, hoe swaar dit ookal mag wees. Jy sal nie sê dat die Here onregverdig en verkeerd om jou te straf, en dat jý reg is nie.  Jy sal saam met Dawid sê dat die Here reg is, en jy verkeerd (Ps.51:6).  Jy sal bereid wees om enige ongerief en pyn te verduur om jou sonde te los (Mt.5:29-30).  Jy sal bereid wees om enige verhouding te beeïndig wat jou tot sonde versoek.

 

Ware bekering vrees om weer teen die Here te sondig, wil hê dat sy of haar verhouding met die Here herstel moet word, rus nie totdat dit reg is nie, soek ‘n rein hart (2 Kor.7:11), draai nie net sy rug op een sonde nie, maar poog om die Here met sy hele lewe te gehoorsaam (v.11), los nie net die verkeerde nie, maar jaag na wat reg is (Ef.4:22-24), en doen dade wat by die bekering pas (Mt.3:8, Hd.26:20).

 

As jy bloot jammer kon sê en jou nie hoef te bekeer nie, dan is God se vergifnis goedkoop (v.11, Sp.28:13). Jesus het sy bloed gestort om ons te vergewe, en daarom kan ons nie volhard in die sonde waarvoor Hy gesterf het nie.  Bekeer jou van jou sondige gedagtes, woorde, motiewe, begeertes, dade, leefstyl, karakter en persoonlikheid.  En sien dan dat Jesus en sy kruisdood jou enigste hoop is om vergewe te word.

 

‘Hoe weet ek die Here sal my vergewe? Wat as ek te erg of te veel gesondig het, of as ek my kanse verbeur het?’  In 1 Jh.1:9 staan daar:  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”  God is getrou en kan nie lieg nie.  As jy jou sonde erken en in ware berou na Hom toe kom, sal Hy jou vergewe.  Hy is ook regverdig.  As jy dan op Jesus vertrou en in Hom skuil, sal God jou nie straf nie, omdat Hy alreeds vir Jesus in jou plek gestraf het aan die kruis.  As jy jou sonde bely en nie vergewe word nie, dan sê God in effek dat Jesus se offer vir sondaars nie voldoende is nie.

 

Geen sonde is te groot as jy met ‘n berouvolle hart na die Here toe kom nie. In Jh.8 het Hy ‘n losbandige vrou vergewe.  In Jh.4 het Jesus ‘n vrou vergewe wat vyf keer getroud was en daarna saam met ‘n man gebly het.  In Lk.7 het Hy ‘n prostituut vergewe.  Hy het Dawid se egbreuk en moord vergewe.  Hy het ook Paulus se vervolging van Christene, Petrus se verloëning van Jesus, die rower aan die kruis se moord, Saggeus se diefstal, die Nineviete se wreedaardige dade (Jona 3) vergewe.  Jesus se broers het gesê dat Hy mal is (7:5, Mk.3:21), en tog het Hy hulle vergewe (Hd.1:14).  Hy het die Korintiërs se egbreuk, lastering, gierigheid, afgodery, dronkenskap, homoseksualiteit, en die res van hulle sonde vergewe (1 Kor.6:9-11).  En kan die Here jóú nie vergewe nie?  Wat maak jou so spesiaal dat jy buite die bereik van sy genade is?

 

‘Maar wat as ek myself nie kan vergewe nie? En wat as die duiwel of mense my alewig aan my sonde herinner (8:4)?’  Wat saakmaak is of die Here jou vergewe het, en nie of jy jouself vergewe het nie.  As die Here jou regverdig en onskuldig verklaar het, maak dit nie saak of mense en die duiwel jou verdoem nie (v.10-11, Rm.8:33).  Op die oordeelsdag sal jy gou agterkom dat Jesus se opinie al een is wat tel.  Maak dan seker dat die Here jou vergewe het.

 

Ek het ‘n goeie vriend wie se stryd baie dieselfde was as John Bunyan s’n. Voor sy bekering het hy gedink dat hy teen die Heilige Gees gesondig het.  Hy het gedink dat die Here hom nie kán vergewe nie.  Maar tot sy verligting het hy besef dat die Here se genade en vergifnis groter is as sy sonde.  Ek bid dat die Here vir jóú sal doen wat Hy vir my vriend en die vrou in Jh.8 gedoen het.

 

[1] ESV voetnota; William Hendriksen, New Testament Commentary: John, vol.2, pp.34-35; Bruce Metzger, A Textual Commentary on the Greek New Testament, pp.220-221; D.A. Carson, The Gospel According to John, pp.333-334; Leon Morris, The Gospel According to John, pp.883-884

[2] Bruce Metzger, Ibid, p.222

[3] Leon Morris, Ibid, p.888 n.22

[4] William Hendriksen, Ibid, p.35

Advertisements