‘n Oop brief aan getroue kerke

Faithful church

Ek onthou hoe ek ‘n tyd gelede moedeloos was omdat die gemeente nie groei nie. Ek het my gedagtes en frustrasie by die ouderlingvergadering gedeel.  My getroue helper het vir my goeie raad gegee.

 

‘Ons moet begeer om te groei, maar ons moenie fokus verloor nie,’ het hy gesê. ‘Dit help nie ons het honderde mense, maar ons is ontrou nie.  Die Here wil hê ons moet getrou wees, al beteken dit dat ons vir die res van ons lewe klein bly.’  Dit was min of meer wat hy vir my gesê het.  Volgens Op.3:7-13 was sy raad heeltemal Bybels.

 

Die deur (v.7-8)

Filadelfia was omtrent 150 km van die weskus van Turkye af. Weens die vulkaniese grond was dit perfek vir wynplase.  Filadelfia was bekend vir haar kwaliteit wyn, en daarom was Bacchus of Dionisus die stad se belangrikste god.

 

Die stad het in 189 v.C. ontstaan. Die koning van Pergamus, Attalus II het dit gebou.  Hy was baie lojaal aan sy broer, Eumenes II, die koning van Lidia.  Verskeie persone en omstandighede het probeer om die broers teen mekaar te draai, maar het nie daarin geslaag nie.  Om hierdie rede is die stad Filadelfia of ‘broederlike liefde’ genoem.  Vandag is die dorp Alasehir tussen die ruïnes van die antieke stad gebou.[1]

 

Jesus het sy brief aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Filadelfia gerig (v.7). Jesus se selfbeskrywing as die Heilige en Waaragtige, wys vir ons dat Hy God is (v.7, vgl. 1:5, 3:14, 6:10, 15:4, 19:11, Ps.16:10, 89:19, Jes.6:3, 40:25, 43:3, 15, Mk.1:24, Jh.14:6, Hd.2:27, 3:14, 1 Jh.5:20).

 

In v.7 sê Jesus dat Hy die sleutel van Dawid het. Die beeld wat Hy hier gebruik kom uit Jes.22:22.  Sebna het die sleutel van die paleis of tempel gehad, maar die Here het besluit om hom uit die weg te ruim (Jes.22:15-19) en vir Eljakim in sy plek aan te stel.  Hy het die alleenreg gehad om die paleis of tempel oop en toe te sluit.  Hy het dus letterlik oor die mag beskik om mense in te laat of uit te sluit.  Maar selfs hý sou na ‘n tyd uit sy amp verwyder word (Jes.22:20-25).

 

Jesus het die sleutel van Dawid gehad, sodat Hy mense in die hemel kon toelaat of uitsluit (v.7). Hierdie mag het Hy aan die apostels en die kerk gegee, sodat hulle deur die prediking van die evangelie en kerkdissipline vir mense die hemel kon oopsluit of toesluit (Mt.16:19, 18:18).  Maar anders as Sebna en Eljakim kon Jesus nooit uit sy amp verwyder word nie.  Waar Hy toegesluit het kon niemand dit oopmaak nie, en waar Hy oopgesluit het kon niemand dit toemaak nie (v.7, Job 12:14).

 

Jesus het gesê dat Hy hulle werke ken (v.8). Hy het ‘n oop deur voor hulle gestel wat nie eers die duiwel of hulle aardse vyande kon toemaak nie (v.8-9).  Die Jode het gesê dat net húlle in die hemel kon ingaan, en dat die heidene nie welkom is nie (v.9, Mt.23:13-15, 1 Ts.2:14-16).  Jesus het egter gesê dat Hý die sleutels van die hemel het, en dat Hy reeds besluit het dat hierdie getroue Christene in die hemel kon ingaan (v.8).  Alhoewel hulle ‘n klein gemeente was, kon hulle deur hulle getroue evangelie-prediking die hemel se deure ook vir ander mense oopsluit (v.8, Hd.14:27, 1 Kor.16:9, 2 Kor.2:12, Kol.4:3).

 

Wat vir Jesus belangrik was, was nie hoe groot die gemeente was nie, maar of hulle getrou aan sy Woord vasgehou het (v.8). Met hulle hele wese het hulle dit geglo, gedoen en verkondig.  Hulle het dit ook nie verloën toe die Jode hulle vervolg het nie (v.8-9).  As ons getrou is, sal die Here sorg vir die sukses en invloed van ons bediening (v.8).  ‘You take care of the depth of your ministry, and God will take care of the breadth.’ (John MacArthur).

 

Die verdrukking (v.9-11)

Ek het ‘n vrou ontmoet wat verskriklik bang is vir die groot verdrukking. Sy is oortuig dat daar winkels is wat die voedingswaarde uit hulle ontbytpap uithaal, omdat hulle ons wil doodmaak.  Ek het op TV gesien hoe ‘n gesin ‘n huis vol van blikkieskos opgaar vir wanneer dinge so erg raak, dat daar nie meer kos in Amerika is nie.  Jy kry mense wat nie wil kinders hê nie, omdat hulle in vrees lewe vir die groot verdrukking en die 666.  Ek glo dat die verdrukking in v.9-11 niks hiermee te doen het nie, en dat dit ‘n spesifieke toepassing vir die Christene in Filadelfia gehad het.

 

Die Jode het gesê dat hulle die volk van God is, maar omdat hulle die Messias verwerp het, was hulle die kinders en sinagoge van Satan (v.9, 2:9, Jh.8:39-44). Diep in hulle harte was hulle nie ware Jode nie (v.9).  Soos wat die heidene eens voor die Jode gebuig het (Eks.11:18, Est.8:17), sou die Jode voor die heidene gebuig het, omdat húlle die ware Jode en die nageslag van Abraham was (v.9, Rm.2:28-29, 9:6-8, Gal.3:7, 29, 6:16).  Die Jode sou nie anders kón as om te erken dat die kerk God se geliefde volk is nie (v.9, Jes.43:4, Ef.5:25, 1 Pt.2:9-10).  In 70 n.C. is die Joodse godsdiens met sy tempel, priesters en offers verwoes.  Die kerk van Jesus Christus het egter die eindes van die aarde bereik.  Die profesieë in Jes.49:23, 25, 60:14 is op ‘n ironiese manier vervul.

 

Die gemeente het geduldig onder die Jode se vervolging volhard (v.9-10, vgl. 1:9). As gevolg van hulle getrouheid, sou die Here hulle bewaar het van die groter verdrukking wat oppad was (v.10, 7:14, Mt.24:21-22, vgl. Jh.17:15, 2 Pt.2:9).  In v.10 praat Jesus van die verdrukking as die ‘uur van beproewing’.  Hierdie verse praat nie van vervolging in die algemeen nie, maar van ‘n spesifieke verdrukking.  Die hele wêreld sou verdruk word (sien Lk.2:1 vir ‘hele wêreld), en die hele land [Gk. ] of aarde sou getoets word (v.10).  Dus sou die verdrukking intens gewees het, maar net vir ‘n kort tydjie (uur) geduur het.  Hierdie verdrukking word in hfst.6-19 beskryf.

 

Volgens Jesus was die verdrukking nie meer ver weg nie, maar sou dit gou plaasvind (v.11, 1:1, 3). Jesus sou gou gekom het om sy kerk se vyande – die Jode in hierdie geval – te oordeel (v.11).  Ons weet dat Hy dit in 70 n.C. deur die Romeine gedoen het.  As die gelowiges aan die Here en sy Woord vasgehou het, sou Hy hulle met ‘n oorwinnaarskroon beloon het (v.8, 10-11, 2:10, 25, Jk.1:12).  Hulle moes vasgestaan het en nie die Here se Naam verloën het nie (v.8-9).  Hulle moes nie toegelaat het dat die Jode die kroon van hulle koppe af steel nie (v.11).

 

Die pilaar (v.12-13)

Toe ek in 2007 Taiwan besoek het, was ek in die Taipei 101. Op daardie stadium was dit die hoogste gebou in die wêreld.  Naby aan die bokant van die gebou is daar iets wat soos ‘n reuse bal met elastiese arms lyk, sodat dit siklone en aardbewings kan weerstaan.

 

Wanneer Jesus in v.12 sê dat die gelowiges pilare sal wees, het hulle geweet dat Hy hulle onbeweeglik sou maak. In moderne terme sou hulle soos die bal met elastiese arms gewees het.  Omdat Filadelfia baie aardbewings gehad het, het Jesus se beeld perfek sin gemaak.

 

Die gelowiges moes nie aan die Jode se druk toegegee het nie, maar eerder die oorwinning behaal het (v.12, 8-9). Indien hulle dít gedoen het, sou hulle nie maar net ‘n sinagoge gewees het nie (v.9), maar pilare in die tempel van God (v.12).  Soos Sardis, is Filadelfia byna totaal deur 17 n.C. se aardbewing verwoes.  Daar was ook baie ander aardbewings in die stad.  Wanneer Jesus sê dat Hy sy kinders pilare sal maak, moet ons dit teen hierdie agtergrond verstaan.

 

In 1 Tm.3:15 sê Paulus dat die kerk ‘n pilaar en grondslag van die waarheid is. In 1 Kor.3:16 sê hy dat die kerk die tempel van God is.  Volgens 21:22 is God en Christus die tempel.  Die ware gelowige of oorwinnaar sal hier en in die hemel deel van God se tempel wees.  Ons is een met Christus en kan nooit uit die hemelse tempel uitgaan nie (v.12, Ps.23:6, 27:4, 84:5, 11).  A.g.v. die aardbewings in Filadelfia, moes die mense in sulke tye die stad verlaat het om skuiling in die ooptes te soek.[2]  Volgens Jesus sal dit nooit in die hemel gebeur nie, en sal die oorwinnaars veilig wees (v.12).  Of in gewone Afrikaans:  geen gelowige sal ooit sy redding verloor of uit die hemel geskop word nie.

 

Jesus sou God se Naam, die naam van die nuwe Jerusalem wat uit die hemel uit neerdaal (21:2, 10), en sy eie nuwe Naam op die oorwinnaars of pilare geskryf het (v.12, 14:1, 22:4, vgl. 1 Kon.7:21, Esg.48:35). In die geskiedenis het Filadelfia baie name gehad:  Dekapolis, Flavia, Klein Atene en Neosesarea.  Net soos die stad, sou die gelowiges nuwe name gekry het.

 

Jesus en sy Vader se Naam sou op hulle gewees het, om te wys dat hulle aan Hóm behoort (2:17, Jes.44:5, Hd.20:28, 1 Kor.6:20). Die feit dat Hy die nuwe Jerusalem se naam op hulle geskryf het, het gewys dat hulle burgers van die hemel is, en dat hulle vir ewig daar sou woon (21:2-3, 7, Ps.87:5-6, Gal.4:26, Phil.3:20, Heb.11:10, 13-16, 13:14).  Dié wie se geestelike ore oop was, moes geluister het na wat die Gees vir die gemeentes sê (v.13).

 

Die toepassing

Die Here wil hê dat ons as gemeente en individue getrou moet wees. Natuurlik help dit nie jy probeer om getrou te wees as jy nie gered is nie.  Besef ook asseblief dat jy nie op grond van jou eie getrouheid gered word nie, maar omdat Jesus Waaragtig en Getrou is (v.7).  Jesus was getrou om die Vader se wil te doen in sy lewe, kruisdood en opstanding.  As gevolg van sý getrouheid sluit Hy vir ons die hemel oop (v.7).  Draai dan jou rug op jou sonde en die wêreld, en stap in geloof deur die deur wat net Jesus vir jou kan oopsluit.  Miskien weet jy nie hoe om dit te doen nie.  Kom in gebed na Jesus toe en vra dat Hy jou sal help.  Hy is immers die Deur vir die skape (Jh.10:7, 9).

 

As ons dan gered is, moet ons getrou wees aan die Here en sy Woord. Ons moenie moedeloos word omdat ons klein is nie.  Ek sê nie dat ons nié gemeentelike groei moet begeer, of dat ons nié vir die Here moet vra om gereeld mense by die gemeente te voeg nie (Hd.2:47).  Tog is dit nie die hoeveelheid mense wat bepaal of die Here se guns oor ons is of nie.  Al wat Jesus van ons wil hê is dat ons getrou moet wees (v.8, 10).

 

Hoe kan ons weet of ons getrou is of nie? Is ons getrou aan sy Woord?  Verkondig ons dit getrou?  Gehoorsaam ons dit?  As ons op hierdie maniere getrou is, sal dit die Here behaag om ons te gebruik en vir ons ‘n oop deur te gee, sodat ons die evangelie met effek kan verkondig (v.8).

 

Ons hoef nie ‘n groot gemeente te hê om effektief te wees nie. Niks kan die Here verhinder om te red deur baie of deur min nie (v.8, 1 Sam.14:6).  Jesus kan ‘n klein gemeente gebruik om baie mense te bereik.  Hy het ‘n dosyn dissipels gebruik om die wêreld om te keer.  Hy het vir Paulus gebruik om die Romeinse Ryk te skud.  Hy het vir Martin Luther, Johannes Calvyn en Ulrich Zwingli gebruik om Europa op sy kop te keer.  Hy het vir George Whitefield en John Wesley gebruik om Engeland aan die brand te steek.  Vandag nog kan Hy ‘n klein groepie mense gebruik om ‘n groot invloed uit te oefen.

 

Getrouheid is dit wat die Here van ons vra – ook wanneer ongelowiges teen ons staan (v.8-9). Ons moenie toegee, sodat ons maar net saam met die wêreld inval nie.  Pasop ook dat jy nie deur vreemde kerke en belydende Christene versoek word om die Bybel eenkant toe te skuif nie.  Bly getrou!

 

Vir dié wat getrou is belowe die Here dat Hy ons uit die verdrukking sal bevry, of dalk selfs dat ons dit sal vryspring. Ek dink nie dat v.10 ‘n belofte vir alle gelowiges is nie.  Jesus het dit spesifiek vir die gelowiges in Filadelfia gegee.  Daarom kan ons nie sê dat elke gelowige wat aan die Here getrou is van die beproewing gespaar sal word, of dat dié wat verdruk word ontrou is nie.  Smirna was getrou, en tog het die Here gesê dat hulle vir tien dae beproef sou word (2:10).  Dit blyk dat sommige van hulle vir die geloof moes sterf.  Moet dan nie dink dat jy noodwendig ontrou is omdat jy beproef word, of getrou is omdat jy nié beproef word nie.

 

Persoonlik is ek van mening dat ons nie moet hoop om weggeraap te word, sodat ons die verdrukking kan vryspring nie. Ek is oortuig dat mense te gou na die ‘eindtyd’ toe wil spring wanneer hulle Openbaring lees.  Hulle vergeet dat hierdie boek bedoel was om ‘n troos vir die eerste lesers te wees.  Ek glo dat die verdrukking waarvan Jesus hier praat in húlle tyd sou plaasvind.  Jesus sê dat hulle a.g.v. hulle getrouheid nie deur die verdrukking sou gaan nie.  Die implikasie is dat die ander gemeentes wel deur die verdrukking sou gaan.  Jesus het ook gesê dat die verdrukking binnekort sou plaasvind (v.11).  As die verdrukking in die verre toekoms sou plaasvind, dan was Jesus se belofte sinneloos.  In daardie geval sou hulle die verdrukking vrygespring het, of hulle nou getrou was of nie.

 

Ek glo nie dat ons op grond van hierdie teks ‘n groot verdrukking in die toekoms hoef te vrees nie. Aan die ander kant moet ons nie dink dat alles maklik gaan wees nie.  Hoe swaar die beproewing sal wees hang van die Here af.  Ons plig is eenvoudig om getrou te wees en te glo dat die Here barmhartig is.  Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte beproef of versoek word nie.

 

Alhoewel jou getrouheid jou nie kan red nie, sal die Here jou daarvoor beloon. As jy nié getrou is nie, sal jy jou kroon verloor (v.11, 2 Jh.8, 1 Kor.3:12-15).  Ek weet nie wat die kroon is nie, maar as die Here ons gedurig aanspoor om daarvoor te arbei, moet dit spesiaal wees, en ook ‘n verlies wees as jy dit verloor.  As jy nie getrou dien nie, sal jy verseker skade ly.

 

Weer sê ek dat getrouheid nie ‘n vereiste is vir redding nie. Dit bewys egter of iemand gered is, en of die Heilige Gees hom van binne af nuut gemaak het of nie (Gal.5:22).  As jy tot die einde toe getrou bly sal die Here jou ‘n pilaar in sy hemelse tempel maak.

 

Hoe lyk dit met jou? Is jy getrou?  Iemand wat regtig getrou en lojaal is, is so skaars soos hoendertande (Spr.20:6).  Bewys jóú getrouheid aan die Here dat jy een van syne is?  Behoort jy aan Hom?  Is jy ‘n burger van die hemel?  Sal Hy op die laaste Dag vir jou sê:  ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg?’ (Mt.25:21).  Wees dankbaar dat Jesus getrou is, selfs wanneer ek en jy ontrou is (2 Tm.2:13).

 

D.A. Carson is ‘n Kanadese teoloog – waarskynlik die beste ter wêreld. In ‘n preek vertel hy hoe sy pa dwarsdeur sy bediening nooit ‘n gemeente van groter as 60 mense gehad het nie.  Eers toe hy in sy 60’s was het hy noemenswaardige vrug op sy arbeid gesien.  Tog het dit hom nie afgesit nie.  Soos die Christene in Filadelfia het hy getrou gebly.  En dít is wat die Here van ons wil hê.

 

[1] My inligting oor Filadelfia het ek verkry uit die volgende bronne: [1] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Philadelphia.  [2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Philadelphia. [3] J.A. Thompson, The Bible and Archaeology, p.423.  [4] Colin J. Hemer, The Letters to the Seven Churches of Asia in their Local Setting, pp.153-160

[2] Colin J. Hemer, Ibid, p.157