‘n Oop brief aan lou kerke

Lukewarm church

My vriend Jannie Vosloo het in ‘n preek vertel hoe hy en sy broer as kinders ‘n hand vol pille gedrink het. Sy ma het hulle dokter toe gejaag.  Die lou water wat hy vir hulle gegee het, het gemaak dat hulle die pille opbring.  Jesus wil nie hê ons moet geestelik soos lou water wees en Hom naar maak nie.  Uit Op.3:14-22 leer ons dat daar vir Hom min dinge so erg is soos ‘n lou gemeente.

 

Die aanhef (v.14)

Laodisea was 64 km van die weskus van Turkye af, 30 km wes van Kolosse, en 10 km suid van Hierapolis. Omdat hierdie drie stede naby mekaar was, het hulle interaksie gehad.  In Kol.2:1 sê Paulus dat hy hard gestry het vir die gelowiges in Laodisea en Kolosse.  In Kol.4:13 sê hy dat Epafras hard gewerk het vir die gelowiges in Hierapolis en Laodisea.  Volgens Kol.4:16 moes die Kolossense-brief ook aan die gemeente van Laodisea voorgehou word, en andersom.  Die stad is in die middel van die tweede eeu v.C. deur Antiochus II van Sirië gebou.  Hy het dit na sy eerste vrou Laodice vernoem.[1]

 

Jesus het sy brief gerig aan die boodskapper of leraar van die gemeente in Laodisea (v.14). In Jes.65:16 het die Here Homself as ‘die God van waarheid of amen’ [Heb.] beskryf.  En in v.14 van ons teks het Jesus Homself as ‘die Amen’ beskryf.  Jesus is die ‘ja en amen’ op alles wat God belowe het (2 Kor.1:20).  Amen beteken ‘sekerlik, waarlik, laat dit so wees’.  Voordat Jesus ‘n belangrike lering gegee het, het Hy dikwels gesê:  ‘Amen, amen, Ek sê vir julle…’ [Gk.].

 

Net soos God in Jer.42:5, is Jesus die Getroue en Waaragtige Getuie (v.14, vgl. v.7, 1:5, 19:11). Hy kan nie lieg nie, sodat die dinge waarvan Hy in hierdie boek getuig ‘n getroue weergawe is van alles wat sy Vader volgens 1:1 vir Hom gesê het (22:6).  Die Laodisense was ontrou, maar Jesus was getrou.

 

Jesus is die Begin van die skepping (v.14, 22:13). Dit beteken nie dat Hy geskep is nie, maar dat die hele skepping sy begin en ontstaan in Hom het (Jh.1:3, Kol.1:16).  Volgens Paulus in Kol.1:15 is Jesus die eersgeborene van die skepping.  Weereens beteken dit nie dat Hy geskep is nie, maar dat Hy die erfgenaam van alles is (Heb.1:2).  Omdat Hy alles geskep het, behoort dit aan Hom.  As die eersgeborene is Hy ook voortreflik bo die skepping.

 

Die vermaning (v.15-19)

Jesus het geweet dat die Laodisense en hulle werke nie warm of koud is nie, maar lou (v.15-16). Jesus wil nie hê ons moet geestelik lou wees nie.  Hy wil hê dat ons warm of koud moet wees (v.15).  Wat beteken dit?

 

By Hierapolis was daar warm waterbronne wat medisinale waarde gehad het. By Kolosse was daar verfrissende en skoon koue water.  Anders as Hierapolis en Kolosse se bruikbare water, het Laodisea geen natuurlike waterbronne gehad nie.  Die Lycusrivier wat naby die stad was het opgedroog in die somer.  Laodisea se water is met klip pype van Denizli se warm waterbronne af na die stad toe gelei.  Oor ‘n afstand van 8 km het die water stadig afgekoel in die klip pype, sodat dit lou was teen die tyd wat dit Laodisea bereik het.  ‘n Kombinasie van die water se temperatuur en die kalsium inhoud, het gemaak dat dit sleg geproe het.  Die inwoners van Laodisea was gewoond daaraan, maar vir mense wat die stad besoek het was dit iets om van naar te word.

 

Jesus het gesê dat die gemeente nie soos die stad se water moes wees nie: hulle moes nie geestelik lou gewees het nie (v.16).  Hulle moes soos Hierapolis se medisinale warm water, en Kolosse se lewegewende en verfrissende koue water gewees het (v.15).  Omdat hulle geestelik lou was en nie met ywer gebrand het nie (v.15, 19), het hulle Hom naar gemaak sodat Hy hulle wou uitgespoeg (v.16, Gk.).

 

Laodisea was finansieel voorspoedig. In die jaar 60 n.C. is Laodisea byna heeltemal deur ‘n aardbewing verwoes.  Die ryk stadsburgers het in hulle welvaart geroem, en die regering se hulp geweier.  Baie gou het hulle die stad op eie onkoste herbou.  Die gemeente se situasie was ‘n refleksie van wat in die stad gebeur het.  Hulle was finansieel voorspoedig.  Hulle het daarin geroem en gesê dat hulle niks nodig het nie (v.17, Hos.12:8, Sg.11:5, 1 Kor.4:8, kontr. Mt.5:3).  Tog het hulle nie besef dat hulle geestelik in ‘n ellendige toestand was nie (v.17).  Eintlik moes hulle bejammer word soos ‘n brandsiek hondjie in die lokasie (v.17).

 

Die stad was ook bekend vir sy florerende bankwese, mediese skool, Frigiese oogpoeier waarmee hulle ‘n salf gemaak het om bysiendheid te behandel, en fyn swart skaapwol. Maar ten spyte hiervan was hulle geestelik so arm soos ‘n kerkmuis (kontr. 2:9), so blind soos ‘n mol (Jh.9:39-41, 12:40, 2 Kor.4:4, 2 Pt.1:9), en poedelnaak met nie ‘n draad klere om hulle sonde te bedek nie (v.17).

 

As die Raadsman van Jes.9:5, het Jesus vir hulle gesê om goud by Hom te koop wat in die vuur gesuiwer is (v.18). Hierdie ware rykdom kon hulle sonder geld by Hom gekoop het (Jes.55:1).  Hulle moes alles prysgegee het om dit te kry, en ook hulle geld gebruik het om hemelse skatte vir hulleself op te gaar (Mt.13:44-45, Lk.12:33, 1 Tm.6:17-19).  Die Here sou hulle ook deur sy tugtiging soos goud gesuiwer het (v.19, Job 23:10, Ps.66:10, 1 Pt.1:7).

 

Hy sou vir hulle wit klere gegee het om die skande van hulle naaktheid te bedek (v.18, 16:15). Die stad se hoë kwaliteit swart wol sou nie gehelp het nie. Jesus moes hulle met die wit klere van sy geregtigheid en vergifnis bedek het (7:14, 19:8, Gn.3:7, 21, Sg.3:3-5).  Om hulle van hulle geestelike blindheid te genees, moes Hy die salf van sy verlossing aangesmeer het (v.18, Jh.9:1, 6-11, 39-41, 2 Kor.3:14-16, Ef.1:18).

 

In sy groot liefde het Jesus die Laodisense getugtig, sodat hulle nie verder op die verkeerde pad sou loop nie (v.19, Heb.12:5-6). In hulle bekering moes hulle ywerig gewees het.  Hulle moes nie uitgestel het nie, maar dit gou gedoen het (Ps.119:60).  Hulle moes nie gerus het voordat dinge heeltemal reg was nie (2 Kor.7:11).

 

Die belofte (v.20-22)

Vir ‘n hele aantal jare v.C. is Laodisea en ander Asiese stede swaar belas. ‘n Sekere Sulla het hulle bv. gedwing om op een slag vyf jaar se belasting te betaal.  Die inwoners van hierdie stede moes elke dag vir die Romeinse soldate kos, klere en ‘n bedrag geld gee.

 

Toe Cicero daar aangekom het, het hy gesien hoe sy voorvangers die inwoners van Laodisea afgepers het. Hy het hom voorgeneem om nie soos hulle te wees nie.  Hy wou net ‘n dak en vier beddens vir sy soldate gehad het.  In die meeste gevalle het sy soldate in tente gebly.  Hy het nie omkoopgeskenke aanvaar nie, en het sy huis oopgestel vir gaste.[2]

 

Ná Cicero was Hadrian die goewerneur (later het hy keiser Antoninus geword). Hy en sy amptenare het sonder uitnodiging by Polemo se huis ingestap (Polemo en sy gesin was die mees invloedryke mense in Klein-Asië).  Toe Polemo by die huis aankom en die selfgenooide gaste sien, het hy hulle weggejaag.[3]

 

Teen hierdie agtergrond het Jesus in v.20 vir die Laodisense gesê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”  As Hy wou, kon Jesus self die deur oopgemaak het.  Hy wou egter gehad dat hulle met gewillige harte die deur vir Hom moes oopmaak (vgl. Hgl.5:2).

 

Wat beteken dit? Hierdie vers het niks te doen met evangelisasie, asof die ongelowige sy hart vir die Here moet oopmaak nie.  Die deur van v.20 is nie die deur van die sondaar se hart nie, maar die deur van die gemeente.  Jesus se eie gemeente het Hom uitgesluit!  Deur sy streng brief het Jesus aan die gemeente se deur geklop.  Hy het geroep en geklop om te hoor of iemand bereid was om die deur vir Hom oop te maak (v.20, Lk.12:36, Jk.5:9).  Selfs as daar net een was, sou Hy vir die gemeente nog ‘n kans gegee het (v.20, Gn.18:32).

 

Vir iemand om die deur oop te maak, moes hy hom van sy louheid bekeer het (v.19) en vir die Here gevra het om na hom toe te kom (v.20). Hy sou dan die Here se soete gemeenskap, teenwoordigheid, vriendskap, liefde en vrede ervaar het (v.20, Jh.14:23), soos wanneer jy saam met ‘n beroemde persoon aan tafel sit en nie kan glo dat hy by jóú kom eet het nie.

 

In die jaar 40 v.C. het Labienus Partikus Asië binnegedring. Toe hy by Laodisea aankom, het Zeno en sy seun Polemo hom teëgestaan, sodat hy nie by die stad kon inkom nie.  A.g.v. van Pelomo se oorwinning oor Labienus, het hy die troon bestyg.  Antony het hom in 39 v.C. regeerder gemaak oor ‘n deel van Silicië, en in 36 v.C. het hy die koning van Pontus geword.  Verskeie van sy nasate was ook konings.  Hulle het egter nie hulle koningskap deur oorwinning verkry soos Polemo nie.  Hulle het tand en nael geveg om hulle trone teen die res van Laodisea se inwoners en ook hulle eie familie te beskerm.[4]

 

Soos met Polemo, sou die oorwinnaars op die troon gesit het, net soos wat Jesus sý vyande oorwin het en op sy Vader se troon gaan sit het (v.21, Ps.110:1).  Die Laodisense moes hulle geestelike louheid oorwin het.  Anders as met Polemo se nasate, sou Jesus die gelowiges toegelaat het om op sy troon te sit (v.21).  Hulle sou saam met Hom op die aarde regeer het (4:4, 5:10, 20:4, Mt.19:28).  Dié wie se geestelike ore (en oë) oop was, moes geluister het wat die Gees vir die gemeentes sê (v.22, 17-18).

 

Die toepassing

Wees dankbaar wanneer dinge met jou goed gaan, maar wees ook versigtig, omdat ons in sulke tye geneig is om gemaklik en lou te raak, sodat ons gou van die Here af wegdraai (v.17, vgl. Dt.6:10-12, 8:7-18, Sp.30:7-9). En hoe kan jy jou kinders, huweliksmaat, familie, vriende en ander gelowiges geestelik verkwik as jy self nie soos verfrissende koue water, of medisinale warm water is nie?  Iemand wat geestelik lou is kan nie anders as om sy naaste naar en groen in die gesig te maak nie – hy sit mense af eerder as om hulle na die Here toe te trek.

 

Na my mening ly Christene in die westerse samelewing aan hierdie siekte. Ons is geestelik lou en ons werke vir die Here is van ‘n lae en swak gehalte (v.15).  En dit terwyl die Here in Rm.12:11 sê:  “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here”.

 

Hoeveel Christene ken jy wat die Here voluit dien, vir wie Christus en sy Woord alles is? Hierdie is die tipe Christen wat elke moontlike geleentheid gebruik om die Here beter te ken:  eredienste, Bybelstudies, bidure.  Hy is betrokke in die gemeente en gebruik sy geestelike gawe om ander te dien.  Bo alles begeer hy om die Here lief te hê, om heilig te wees, en om Hom te gehoorsaam.  Hy is ywerig vir goeie werke (Tit.2:14).

 

God se Woord is vir hom soos goud en heuning – hy wil altyd meer hê. Hy borrel en loop oor van die Here se lof.  Hy is lief vir ander gelowiges (1 Pt.1:22, 4:8).  Hy deel die Goeie Nuus met ander.  Selfs in sy gewone gesprekke praat hy oor die Here.  Waar hy verkeerd gedoen het is hy ywerig om dinge reg te stel (v.19, 2 Kor.7:11).  Hy is bloedernstig oor geestelike dinge; hy neem dit nie ligtelik op nie, grap nie daaroor nie, en speel nie daarmee nie.

 

Hy is dankbaar. Hy wy homself aan gebed en is vurig daarin (Jk.5:16-17).  Hy is besorgd oor die uitbreiding van God se Koninkryk en dra graag daarvoor by.  Hy kan nie vals lering en sonde verdra nie, maar wil dit soos onkruid uitroei.  Hy is ywerig vir God se eer, sodat hy vreesloos opstaan teen dié wat sy Naam misbruik (Jh.2:17).

 

Sulke Christene is so min soos die tande in ‘n boemelaar se mond. En tog is dít die tipe Christene wat die Here soek:  mense wat met ywer brand, en so verfrissend is soos koue water in die woestyn; mense soos Apollos (Hd.18:25).  Hoekom is alle Christene nie so nie?  Na my mening het die voorspoed in ons land en die gebrek aan vervolging gemaak dat ons die Here nie ernstig opneem nie.  Om in ons land ‘n Christen te wees kos niks, en daarom is ons weergawe van Christenskap nie veel werd nie.  Mense in Suid-Afrika sê te maklik dat hulle Christene is, maar as jy die saak van nader bekyk dan lyk hulle lewens maar net soos die wêreld s’n.

 

Die toenemende goddeloosheid in ons land en wêreld het gemaak dat ons gemaklik geraak het. Ons ywer het verkoel.  Ons is soos die padda in die pot water wat stadig verhit word:  ons kom nie agter dat ons in die moeilikheid is nie.  Jesus het gesê:  “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Mt.24:12).

 

Ook die rykdom van ons samelewing het gemaak dat ons die Here nie meer met ywer en blydskap dien nie (Dt.28:47). ‘Wie het die Here nodig as jy geld het?’  Alhoewel ons dit nie direk sê nie, lewe ons asof dit so is.  Ons het genoeg kos vir ‘n maand, en weet dus nie wat dit beteken om vir ons daaglikse brood te bid nie.  Ons gebrekkige gebedslewe en swak toewyding aan die Woord van God en die kerk, wys dat ons vir onsself lewe en nie vir die Here nie.  Alhoewel ons dit nie wil erken nie, het die kerk in Suid-Afrika soos die Laodisense geword.

 

Wat moet ons doen om weer die ywer aan te blaas? Maak seker dat jy egte en vals ywer van mekaar kan onderskei.  Om ywerig te wees vir jou denominasie, kerklike tradisie, reg en geregtigheid, of ‘n politieke saak, is nie dieselfde as om ywerig te wees vir die Here nie.  Dit help dan nie dat jy ywerig is as jy nie presies verstaan waaroor dit gaan nie.  Ywer sonder kennis is nie goed nie (Sp.19:2).  Dit help nie dat jy soos die Jehova’s Getuies of die Jode ‘n opregte ywer het vir ‘n verkeerde saak nie (Rm.10:2, Gal.1:14).  Moet jou dan nie met dinge ophou waarvan die Here eendag vir jou gaan sê:  ‘Wie het gesê jy moet dít doen?’ nie.

 

Pasop ook dat jy nie ywerig van die Here praat, terwyl jou hart soos lou skottelgoed water is nie (Sp.26:23). Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart.  Om die ywer aan te blaas moet jy heel eerste erken dat jy nie ‘okay’ is nie.  Die gemeente of gelowige wat dink dat hy niks nodig het nie, is op ‘n gevaarlike plek (v.17).  Erken eerder dat jy sonder die Here hopeloos en ellendig is, en dat al jou rykdom, kennis en goeie werke niks voor Hom beteken nie (v.17-18).  Deur bekering moet jy die vuil klere van jou geestelike louheid uittrek (v.19).  Vertrou die Here om jou met die wit klere van sý geregtigheid te bedek en jou sonde weg te was deur sy bloed (v.18).

 

Om die liefde en ywer verder aan te blaas, moet jy gereeld deur die Woord, gebed, die nagmaal, en gemeentelike byeenkomste by die tafel aansit en die Here se teenwoordigheid geniet (v.20). Sien ook uit na die hemel waar jy vir ewig by die feesmaal saam met Hom sal aansit.  As jy jou in ‘n situasie bevind waar niemand anders die Here dien nie, kan jy nogsteeds die Here se lieflike teenwoordigheid ervaar (v.20).  Hoor sy roepstem en vra dat Hy na jou toe sal kom (v.20).

 

Indien hierdie preek jou aangespreek het moet jy nie moedeloos raak nie (Heb.12:5), maar dit eerder sien as die Here se hand wat Hy in liefde na jou toe uitstrek (v.19, Heb.12:6).

 

Omtrent ‘n week gelede het ek een aand in die bad geklim om warm te word. Omdat my drie kinders voor my gebad het, was die water lou.  Ek het binne ‘n minuut uitgeklim en my nagklere aangetrek.  Dit was aaklig.  En dit is hoe Jesus oor die gemeente in Laodisea gevoel het.  Hoe voel die Here oor jou?

 

[1] Inligting oor Laodisea het ek uit die volgende bronne verkry: [1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder Laodicea.  [2] A.R. Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder Laodicea.  [3] Colin J. Hemer, The Letters to the Seven Churches of Asia in their Local Setting, pp.178-209.

[2] Hemer, Ibid, pp.202-203

[3] Ibid, p.204

[4] Ibid, pp.205-206