Wat het Jesus van Homself gedink?

Jesus thinking

Vroeër vanjaar het ek met ‘n vrou gepraat wat vrae gehad het oor die lewe, die Here en die Bybel. Sy was verward, omdat haar pa aanhoudend deur die jare sy interpretasie van die Bybel verander het.

 

‘Hoe kan ek weet wat reg is?’ het sy gevra. Dit is glad nie ‘n slegte vraag nie.  Wie besluit dat Sandra se interpretasie van die Bybel reg is, terwyl Jaco s’n verkeerd is?  Wie besluit dat mý oortuiging oor Jesus reg is, terwyl mnr. Jehova Getuie s’n verkeerd is?

 

Die Bybel verduidelik homself en kan homself nie weerspreek nie. Ons moet dit normaal lees en verstaan, en nie ons vooropgestelde idees in die Bybel inlees nie.  Ons moet ook kyk hoe Christene dit deur die eeue verstaan het.  As nog niemand in die geskiedenis dit so verstaan het nie, of as my interpretasie skaars twee honderd jaar oud is, dan is ek waarskynlik verkeerd.

 

Kom ons kyk dan of my interpretasie van Jesus se Persoon in Jh.10:22-42 die toets slaag.

 

Die Jode se vraag (v.22-30)

Jesus was by die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem (v.22). In 164 v.C. het Judas Makkabeus die Siriërs verdryf, die tempel gereinig en die altaar herbou en ingewy, nadat Antiochus Epifanes dit in 167 v.C. ontheilig het.[1]  Die Jode het hierdie Fees ingestel om dít te herdenk.  Die Fees het op die 25ste dag van die maand Kislev (Desember) begin, en vir agt dae aangehou.

 

Omdat dit winter was en ook die reënseisoen, was Jesus nie op die oop tempelplein nie, maar het Hy in die pilaargang van Salomo geloop (v.22-23). Dit is so genoem, omdat dit van die tyd van Salomo af gestaan het.  Toe die tempel in 586 v.C. deur Nebukadnessar verwoes is, het hierdie pilaargang staande gebly.[2]  Die pilaargang  was amper soos ‘n skool se stoep:  die pilare aan die kant van die stoep het die dak opgehou, terwyl nóg ‘n ry pilare in die middel ekstra ondersteuning gebied het.

 

In hierdie pilaargang het die Jode rondom Jesus vergader (v.24, Hd.3:11, 5:12).  ‘Hoe lank gaan U ons aan ‘n lyntjie hou – is U die Messias of nie?’ het hulle gevra (v.24, vgl. Mt.26:63).  Maar as Hy vir hulle gesê het dat Hy die Messias is, sou hulle Hom nie geglo het nie, maar gesê het Hy laster en het ‘n duiwel in Hom (v.33, 20, 8:48, Lk.22:67).  Die rede hoekom Hy dit nooit direk vir hulle gesê het nie, is omdat hulle verdraaide opvattings oor die Messias gehad het; hulle het ‘n militêre en politieke Messias verwag (6:14-15).

 

Dit beteken egter nie dat Jesus onduidelik was oor die feit dat Hy die Messias is nie. Sy genesing van die blinde man en die lam man, die vermeerdering van die brood, en baie ander tekens het gewys dat Hy die Messias is (v.25, 3:2, 20:30-31, 21:25, 2:23, hfst.5-6, 9, Jes.35:5-6, 29:18, 42:7, Eks.16).  Ook sy lering en aksies het gewys dat Hy die Herder van Ps.23 is (hfst.10), die Here wat sy tempel reinig (hfst.2, Mal.3:1-3), die God van Abraham wat met Moses gepraat het (8:58, Eks.3:14), ens.  Hy het vir hulle gesê dat Hy die Vader gesien het, en dat dié Hom na die aarde toe gestuur het (6:44, 46, 7:28, 8:14, 23, 38, 42).  Maar ten spyte van al die bewyse, het hulle nogsteeds nie geglo nie (v.25, 12:37).

 

Hoekom het hulle Hom dan nie geglo as die bewyse so duidelik was nie? Dit is omdat hulle nie deel van sy kudde was nie (v.26, 8:47).  As hulle was, sou hulle die Herder se stem as die stem van hulle Messias herken het (v.26, Jes.40:11, Mt.2:6).  Hulle sou in geloof na Hom toe gekom het en agter Hom aangeloop het (v.27, 3, 6:37, Hd.13:48).  Die Herder weet wie sy skape is, en het hulle as sy eie geken nog voordat Hy die wêreld gemaak het (v.27, 3, 14, Rm.8:29, Ef.1:4-5, 2 Tm.1:9, 2:19, 1 Pt.1:2).

 

Jesus gee aan sy uitverkore skape die ewige lewe, en daarom sal hulle nooit verlore gaan nie (v.28, 3:16). Indien hulle verlore gaan, het Jesus vir hulle gejok, omdat Hy die ewige lewe belowe het maar dit nie gegee het nie (v.28, Tit.1:2, 1 Jh.2:25).  Jesus het gesê dat die diewe, rowers, wolwe, huurlinge, vreemdelinge of enigiemand anders nooit die skape uit sy sterk hand en stewige greep kon ruk nie (v.28, 6:39).

 

Ons is die Vader se geskenk aan die Seun (v.29, 17:2, 6, 9, 24). Die Vader wat ons aan die Seun gegee het, is groter en sterker as enige koning, prins, aardsengel, hemelwese, duiwel, dier op die aarde, ster, planeet, of enigiets in die skepping (v.29).  En om dié rede kan niemand ons uit die Vader se hand ruk nie (v.29, Jes.49:2, 51:16).

 

Die Vader en die Seun is een in hulle taak om ons veilig te hou (v.30). Hulle is ook een Wese, sodat iemand wat die Vader gesien het ook die Seun gesien het (v.30, 14:9, 1:18).  Deur dít te sê het Jesus vir die Jode gewys dat Hy die Messias en die Seun van God is (v.24-25, 30).  Let op dat Jesus nie gesê het Hy is die Vader nie, maar eerder dat Hy en die Vader een is (v.30).  Hy en die Vader is verskillende Persone, maar een Wese (v.30).

 

Tot ‘n sekere mate kan ons sê dat die Vader en die Seun soos ‘n tweeling is wat presies dieselfde DNA het, en tog ook unieke persone is. Ons kan ook sê dat God soos water of vuur is.  As die Vader die vlamme is, is die Seun die vuur se hitte en lig.  As die Vader die water is, is die Seun dit wat die water nat laat voel (hierdie dinge kan ons ook van die Heilige Gees sê).

 

Ek besef dat my illustrasie kortskiet, omdat die Vader en die Seun een Wese is, en dus in hierdie opsig glad soos ‘n tweeling is nie.  Die Seun is ook nie maar net ‘n kwaliteit van die Vader soos wat hitte en lig kwaliteite van vuur is, of nat ‘n kwaliteit van water nie.  Die Seun is ‘n Persoon op sy eie.  Tog hoop ek dat hierdie illustrasies ons help om iets te verstaan van wat Jesus in v.30 gesê het.

 

Omdat Jesus en die Vader een is (v.30), is die Seun nie minder God as die Vader nie.  Hy is die presiese spieëlbeeld van die Vader se Wese, en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb.1:3).  Die volheid van wie en wat die Vader is, word in die Seun gesien (Kol.1:15, 19, 2:9).

 

Só verduidelik Jonathan Edwards dit: ‘Gestel jy kon die gedagtes wat jy in die laaste uur gedink het net so oordink:  in dieselfde volgorde, en met dieselfde emosie en intensiteit (‘n volmaakte en kristalhelder déjà vu).  Gestel dan dat jy hierdie gedagtes kan herdink, terwyl jy besig is om die oorspronklike gedagtes te dink.  As jy dít kon regkry, sou jy waarlik dubbel gewees het; twee van jou op dieselfde tyd.’[3]  Edwards reken dat die Seun van God die ewige, volmaakte en persoonlike idee is wat God van Homself het.

 

Die Jode se reaksie (v.31-42)

Twee weke gelede het ek die evangelie met ‘n Jehova’s Getuie gedeel. Dit het nie lank gevat om hom in ‘n hoek in te dryf nie.  Toe hy nie meer argumente oorgehad het nie, het hy gesê:  ‘Logically I cannot accept that Jesus is God.’  ‘Ah!’ het ek vir hom gesê.  ‘Jy verwerp dit dus op logiese gronde, en nie omdat die Bybel jou daarvan oortuig het nie.’  Net so het die Jode in v.31 e.v. nie gronde gehad om Jesus se Godheid te verwerp nie.

 

Die Jode het vir Jesus gevra of Hy die Messias is (v.24). Maar noudat Hy vir hulle gesê het dat Hy van God af kom en dat Hy en die Vader een is, wou hulle Hom gestenig het (v.31, 5:17-18, 8:58-59).  ‘Vir watse goeie werk gaan julle My stenig?’ het Hy gevra (v.32).  Kon Hy hierdie werke gedoen het as Hy nie van God af gekom het nie (3:2)?

 

Die Jode het gesê dat hulle Hom nie vir sy goeie werke wou stenig nie, maar omdat Hy gelaster het (v.33, Lv.24:16). ‘Jy is maar net ‘n mens, en nou maak jy jouself God,’ het hulle gesê (v.33).  Hulle het presies verstaan wat Hy in v.30 bedoel het, en Hy het ook dit nie ontken nie.  Hulle was egter verkeerd om te sê Hy Homself God gemaak het (v.33), omdat Hy van ewigheid af God was (1:1). Húlle het dus gelaster, omdat hulle Hom nie as die Seun van God geëer, aanbid en geprys het nie (8:49, 5:23).

 

Jesus het die Ou Testament aangehaal om hulle te antwoord (v.34). Israel se regters het God verteenwoordig, en daarom het Hy hulle in Ps.82:6 gode genoem.  Hierdie korrupte regters was egter nie gode nie, maar sou soos gewone mense gesterf het (Ps.82:1-8).  Deur Ps.82 aan te haal, het Jesus in effek gesê:

 

‘Wanneer God die korrupte leiers van Ps.82 gode noem (en julle kan nie maak asof Hy dit nié gesê het nie, omdat die Skrif nie verander kan word nie), het julle nie ‘n probleem daarmee nie. Maar wanneer die Heilige Een wat regtig van die Vader af kom sê dat Hy die Messias en die Seun van God is, het julle ‘n probleem daarmee.  Ek verstaan nie hoe julle dink nie.’ (v.35-36, Ps.16:10).

 

As Jesus se werke nie van God af was nie, kon hulle Hom verwerp het (v.37). Maar as sy werke bonatuurlik en bo-menslik was, dan was hulle verkeerd om te sê dat Hy nie die Messias en die Seun van God is nie (v.38).  As hulle sy getuienis aangaande Homself verwerp het, kon hulle nie gestry het teen dit wat voor die hand liggend was nie (v.38).  Kon hulle nie in sy werke gesien het dat die Vader in Hom was en Hy in die Vader nie (v.38, 30, 14:10-11, 20)?

 

Nadat Jesus dit gesê het wou die Jode Hom arresteer (v.39, 7:30, 44). Hulle wou dus nie regtig geweet het of Hy die Messias is nie (v.24), maar het ‘n rede soek om Hom dood te maak (v.39, 31).  Jesus het egter uit hulle hande ontsnap, omdat die bepaalde tyd van sy dood nog nie gekom het nie (v.39, 7:30, 8:20).  Hy het die Jordaanrivier gekruis en na die plek toe gegaan waar Johannes in die begin mense gedoop het.  Uit 1:28 leer ons dat die plek se naam Betanië was.  Dit is nie dieselfde Betanië as in 11:1 wat 3 km oos van Jerusalem was nie.  Die Betanië in 1:28 is eintlik Batanea, en was ‘n streek suid-wes van Galilea aan die weste kant van die Jordaanrivier.[4]

 

Omdat daar minder mense in die woestyn was as in Jerusalem, het Jesus daar gebly (v.40). ‘n Hele klomp mense het Hom gevolg en in Hom geglo (v.41-42).  Johannes het nie tekens gedoen nie, en tog het hierdie mense geweet dat sy prediking oor die Messias waar was (v.41, 5:33-35, 1:26-34, Mt.3:11-12).  Jesus se tekens het gewys dat Hy in ‘n ander klas was as Johannes (v.38, 20:30-31).

 

Daar is soveel idees oor Jesus soos wat daar hondsoorte op die aarde is. Verkeerde idees oor Jesus se Persoon en verlossingswerk is gevaarlik.  Kom ons vergeet wat die Qur’an en die media oor Jesus te sê het, en kom ons kyk wat Hy van Homself gedink het.

 

Jesus het geglo dat Hy die Messias is (v.24, 4:25-26). Hy het ook geglo dat Hy die goeie Herder is wat gekom het om sy skape te red (v.26-28, 11).  Hy het nie geglo dat die bokke skape word wanneer hulle in Hom glo nie, maar het geglo dat sekere mense skape is, en dat hulle nog in die kraal moet inkom (v.26-27, 16, Hd.18:9-10, 2 Tm.2:10).  Mense glo dus omdat hulle skape is, en is nie skape omdat hulle glo nie (v.26, Hd.13:48, 1 Ts.1:4-5).

 

Net soos wat ‘n bok nie skaap word nie, kan ‘n skaap nie in ‘n bok verander nie. Die Here se skape kan wel vir ‘n tydjie van Hom af wegdwaal, maar nie een van hulle kan hulle redding verloor nie.  Niemand kan hulle uit Jesus en die Vader se hand uit ruk nie (v.28-29).  Paulus gebruik ander woorde om dieselfde punt te maak.  In Rm.8:38-39 sê hy dat niks ons van God se liefde kan skei nie:

 

  • Jy kan nie jou redding verloor as jy doodgaan nie.
  • Jy kan dit nie in hierdie lewe verloor nie.
  • Gevalle engele (demone) kan dit nie van jou af wegvat nie.
  • Die Kommuniste, Moslems, of enige ander bose regering kan dit nie wegvat nie.
  • Niks wat in die hede gebeur kan maak dat jy jou redding verloor nie.
  • Niks wat in die toekoms gaan gebeur kan dit onklaar maak nie.
  • Niks of niemand wat bo jou in die hemel is kan dit doen nie.
  • Niemand wat in die dieptes van die see of in die hel is kan nie.
  • Niks in die hele skepping kan jou van God se ewige liefde skei nie.

 

Ek het al gehoor hoe mense sê: ‘Niemand kan jou uit Jesus en die Vader se hand uit ruk nie (v.28-29), maar jy kan jouself losruk.’  Maar volgens Jesus kan niemand jou uit sy hand uit ruk nie, omdat die Vader groter is as almal (v.29).  Sal jy dit waag om te sê:  ‘Ek kan myself losruk, omdat ek groter as die Vader is’?

 

As jy een van die Vader se skape is wat die Hy aan die Seun gegee het (v.29), sal jy na Jesus toe kom en op die laaste dag ‘n nuwe liggaam kry (6:37, 39).  As die Vader jou gekies het om soos Jesus te word, dan sal Hy jou ook roep, regverdig verklaar, en verheerlik (Rm.8:29-30).  Hy sal jou nie soos olie deur sy vingers laat glip nie (6:39, 18:9).

 

Om dit te verseker het Hy jou met die Heilige Gees verseël. Die Heilige Gees is die onfeilbare waarborg dat jy nie jou erfdeel sal verloor nie (Ef.1:13-14, 1 Pt.1:4-5).  Hy wat die goeie werk in jou begin het sal jou tot die einde toe bewaar (Fil.1:6).

 

Wie is hierdie Jesus wat sy skape bewaar? Volgens v.30 is Hy een met die Vader.  As Jesus en die Vader een is, dan is die Branhamites, T.D. Jakes, Oneness Pentecostalism, en ander ‘Jesus Only’ kerke verkeerd om te sê dat Jesus die Vader is.  Volgens hierdie mense neem God soms die vorm van die Vader aan, terwyl Hy op ander kere die Seun of die Heilige Gees is.  In hulle gedagtes kan Hy nooit al drie Persone gelyk wees nie, maar is Hy soos Jack Spratt wat ‘n pa, ‘n seun en ‘n huweliksmaat is – een persoon wat drie rolle vervul.

 

Maar volgens Jesus en die res van die Bybel, is die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) verskillende Persone (v.30, 1:1-2, Gn.1:26-27, Ps.45:8, 110:1, Mt.3:16-17, 28:19).  Die Vader is nie die Seun nie, en andersom.  Dit was nie die Vader wat aarde toe gekom het om aan die kruis te sterf nie, maar die Seun (1:1, 14).

 

Tog moet ons nie die fout maak om te dink dat daar drie Gode is nie. Die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) is een Wese (v.30, Dt.6:4, Jk.2:19).  In Mt.28:19 leer ons dat die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) een Naam het.  In die jaar 325 n.C. het ‘n groep kerkleiers in Nicea die Bybelse lering oor Jesus soos volg opgesom:  ‘[He is] from the essence of the Father, God from God, light from light, true God from true God, begotten, not created, of the same essence as the Father’.[5]

 

Jesus het nie gesê dat Hy en die Vader een was nie, maar dat hulle een is (v.30).  Alhoewel Hy vir tyd en wyl sy Goddelike bestaan in die hemel vir die aarde verruil (Fil.2:6), het Hy nie opgehou om God te wees nie (8:58).  Toe Hy mens geword het, het Hy die onafhanklike gebruik van sy Goddelike kwaliteite prysgegee om Hom aan sy Vader te onderwerp (5:19, 30).  In hierdie opsig het Hy Homself leeg gemaak (Fil.2:7).

 

Ons kan dan nie saam met die Jehova’s Getuies sê dat Jesus ‘n god is, dat Hy geskep is, dat Hy die aardsengel Michael is, dat Hy die Seun van God is maar nie God nie, of dat Hy minder as die Vader is nie.  Toe Jesus gesê het dat Hy die Seun van God is, het Hy duidelik bedoel dat Hy een is met die Vader, en dat Hy self God is.  Dit is hoe die Jode dit verstaan het, en dit is hoe Hy dit bedoel het (v.30, 33, 36).

 

Hierdie is die Jesus in wie jy moet glo. Hy gaan Homself nie by jou of my voorkeure aanpas nie.  Aanvaar Hom soos Hy is:  die Messias en die Seun van God wat een is met die Vader en ook gelyk met Hom.  Hy is die ware God wat sy skape sal red en hulle veilig in sy hand sal vashou.

 

My suster het skerp verskil met ‘n Jehova’s Getuie wat saam met haar werk. Die vrou het vir haar gesê:  ‘Gaan lees ‘n bietjie Johannes, en jy sal sien dat Jesus nie God is nie.’  Maar Johannes se punt is juis om te wys dat Jesus ware God is, en dat Hy een is met die Vader.  Die heel eerste vers in die boek sê dit.

 

[1] 1 Makk.4:36-59, 2 Makk.1:9, 18, 10:1-8, D.A. Carson, The Gospel of John, p.391

[2] Flavius Josephus, B. J. 5:5, section 1; Ant.20:9, section 7

[3] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, An Essay on the Trinity, p.102 n.8 aangehaal in John Piper, The Pleasures of God, p.42 n.22

[4] Carson, Ibid, pp.146-147

[5] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.204

Advertisements

Die vier perde van Openbaring

Revelation 6

Ek onthou hoe ek op ‘n tyd in my kinderjare bang was as ek aan die karakters en figure van Openbaring gedink het. Ek het eenkeer in ‘n Jehova’s Getuie traktaatjie prente van die gediertes in Openbaring gesien – dit was nogal ‘eerie’.

 

As jy sommige boeke en preke oor Openbaring lees en luister, dan klink dit of die duiwel in beheer is. Ek hoop van harte dat die volgende hoofstukke in hierdie reeks (en veral vandag se preek uit Op.6:1-8) vir jou sal wys dat die Here in beheer is, en dat daar nie eintlik iets is om voor bang te wees nie.

 

Die wit perd (v.1-2)

‘n Jagter het eenkeer vir my Amerikaanse vriend vertel hoe gevaarlik ‘n buffel is. My vriend was verbaas.  ‘Ek het dít nie geweet nie,’ het hy gesê.  ‘Ja, daardie buffel teen die muur het amper my vriend doodgemaak,’ het die oom gesê.

 

Soos wat my vriend nie geweet het dat ‘n buffel so gevaarlik is nie, weet ons nie eintlik hoe skrikwekkend perde is nie. Ons ken hulle maar as plaasdiere, maar in die Bybelse tyd is hulle in oorloë gebruik.  Job 39:22-28 (OAV) sê dat hulle magtig, verskriklik, vreesloos, en skrikwekkend is.  Hab.1:8 praat van perde wat vinnger as luiperds en wolwe is.  Dít is eintlik die prentjie wat ons in Op.6:1-8 moet sien wanneer ons van die vier perde lees.

 

In Sg.1, 6 het God verskillende kleure perde uitgestuur om die nasies te oordeel, sodat Jerusalem rus kon hê. En nou in Op.6 het Jesus verskillende kleure perde uitgestuur om Jerusalem en die Jode te oordeel, sodat die burgers van die nuwe Jerusalem (die kerk, vgl. Gal.4:26) rus kon hê.

 

Johannes het gesien hoe die Lam die eerste een van die sewe seëls oopgemaak het (v.1). Net soos wat daar sewe seëls was, was daar later in Openbaring ook sewe trompette, sewe donderslae, en sewe skale van God se oordeel.  Dit herinner ons aan Lv.26:18, 21, 24, 28 waar die Here gesê het dat Hy sy volk sewevoudig vir hulle sondes sou oordeel.  Die boek Openbaring gee vir ons ‘n beskrywing van hoe Hy dit gedoen het.

 

Johannes het gehoor hoe een van die vier lewende wesens van 4:6-8 uitgeroep het (v.1). Sy stem was soos donderweer en het gewys dat die storm van God se oordeel oppad was (4:5a).  ‘Kom!’ het hy vir die ruiter op die wit perd gesê (v.1).  Wie was die ruiter?

 

Dit was Christus, want soos ‘n koning het Hy op ‘n wit perd gery en ‘n kroon ontvang (v.2, 19:11-12).[1]  Hy het ‘n ook boog gehad om sy vyande mee dood te skiet (v.2, Ps.45:4-6, Dt.32:23, 42, Hab.3:8-15).  Soos in 3:21, 5:5 was Hy die oorwinnaar oor sy vyande (v.2).  In Sg.9:13-14 was Juda en Israel sy boog om hulle vyande dood te skiet, en nou was die Romeine sy boog om Israel dood te skiet, omdat hulle sy profete vermoor het (Lk.21:22, 11:50-51).

 

Die rooi perd (v.3-4)

Toe die Lam die tweede seël oopgemaak het, het die tweede lewende wese ‘n vuurrooi perd geroep (v.3-4). Sy kleur was simbolies van die bloed wat vergiet is (2 Kon.3:22-23).  Die Lam het Hom toegelaat om vrede van die land [Gk. ] of die aarde af weg te neem (v.4).  Omdat die Jode God se vrede in Christus verwerp het (Lk.19:42), sou Hy oorlog gebring het (v.4, Lk.19:43-44).  Mense sou mekaar doodgemaak het (v.4).  Dit was dan nie net die Romeine wat die Jode doodgemaak het nie (v.2), maar die Jode het ook mekaar geslag (v.4, Mt.24:6-7, Gk. sphazō).

 

Josefus beskryf hoe die Jode in die stede van Israel onder mekaar baklei het. Hy sê dat hulle mekaar in die dag geslag het, en die aande in vrees deurgebring het.  Die stad was vol van lyke:  ou mense, vroue en babas deurmekaar.[2]

 

Die Lam het vir die ruiter op die rooi perd ‘n groot swaard gegee, sodat hy God se oordele kon uitvoer (v.4, vgl. Dt.32:41-42, Esg.30:24-25, Sg.9:13). Omdat die Jode God se kinders geslag het (v.9, sphazō), het Hy hulle gestraf deur toe te laat dat hulle mekaar slag (v.4, sphazō).  Die straf het by die oortreding gepas:  hulle het bloed vergiet, en daarom sou Hy hulle bloed vergiet het (16:5-6, Mt.26:52).

 

Die swart perd (v.5-6)

Toe ek klein was het my ouma ‘n ou skaal gehad. Ons het iets aan elke kant van die skaal gesit om te sien of ons dit kon balanseer.  In Johannes se tyd het hulle ook sulke skale gehad.  As jy bv. 1 kg koring wou koop, het hulle ‘n 1 kg gewig aan die ander kant gesit, totdat die skaal gebalanseer het.  Hierdie agtergrond sal ons help om v.5-6 beter te verstaan.

 

Toe die Lam het die derde seël gebreek het, het Johannes gehoor hoe die derde lewende wese die ruiter op die swart perd geroep het (v.5). Volgens die KJV van Klg.5:10, word swart geassosieer met hongersnood.  Die ruiter op die swart perd het ‘n skaal in sy hand gehad (v.5).  Die stem van God het tussen die vier lewende wesens uitgeroep om aan te kondig hoe erg die hongersnood sou wees (v.6, 4:6b).

 

‘n Liter [Gk. choinix] koring was 12 tot 15 keer duurder as gewoonlik, en sou jou ‘n volle dag se salaris gekos het (v.6, Mt.20:2).[3]  Dan was jy nog nie eers versadig nie, en het jy ook nog nie vir jou gesin voorsien nie.  As jy vir jou gesin wou kos koop, kon jy vir ‘n dag se salaris 3 liter ‘hongersnood koring’ of gars gekoop het (v.6).  Volgens Lv.26:26, Esg.4:9-10, 16, 5:16, 2 Kon.6:25, Mt.24:7 was dít die Here se straf oor sy ongehoorsame volk.

 

Weer beskryf Josefus vir ons wat gebeur het. Die mense het in mekaar se huise ingestorm en moord gepleeg om kos te kry.  Baie van hulle het hulle besittings in die geheim vir ‘n liter [Gk. choinix] koring geruil.  Dié wat arm was moes maar tevrede gewees het met gars.  Hulle het op donker plekke in hulle huise weggekruip, en selfs onder die grond geskuil om hulle koring of gars te eet.  Ander het dit van die vuur af geëet terwyl dit nog rou was.[4]  Josefus vertel van ‘n ma wat haar eie kind geëet het, omdat daar nie kos was nie.[5]  So het die Here dit in Dt.28:53, Lk.21:20-23 voorspel (vgl. 2 Kon.6:26-29).

 

Die Lam het vir die ruiter op die swart perd gesê om nie die olie en die wyn te beskadig nie (v.6). Die hongersnood was dus nie deur ‘n droogte veroorsaak nie, maar deur die oorlog.  Daar was nog olyfbome en wingerde.  Die Romeine het die voorspoed van olyfbome en wingerde geniet (Lv.26:10, Sp.21:17, 20, 3:9-10, Joël 2:24, 3:13, 18, Am.9:13), terwyl die Jode wat binne die stad was omgekom het van die honger.  Toe die Romeine Jerusalem verwoes het, het generaal Titus vir sy weermag gesê om die olyfbome en wingerde uit te los.[6]  Só het Op.6:6 dan tot vervulling gekom.

 

Die vaal perd (v.7-8)

In die begin van die jaar het ek en my vrou ‘n dokumentêr oor die Anglo-Boere Oorlog gekyk. In die konsentrasiekampe het die boere se vroue en kinders nie voedsame kos, seep of mediese hulp gekry nie.  In een kamp het hulle gedurig vrot vleis gekry.  Ook as daar ‘n bees in die water gevrek het, het die Engelse dit so gelos.  Die mense het siek geraak en mekaar aangesteek.  Mediese hulp was skaars, sodat kinders by die duisende gesterf het.  Hierdie is die dinge wat gebeur wanneer daar oorlog is.  In v.7-8 het ons ‘n beskrywing van soortgelyke omstandighede in Johannes se tyd.

 

Toe die Lam die vierde seël gebreek het, het Johannes gehoor hoe die vierde lewende wese ‘n vaal perd geroep het (v.7-8). Die Grieks vir ‘vaal’ (chlōros) praat letterlik van ‘n vaal geel-groen kleur – die kleur van ‘n lyk wat al begin het om te ontbind.  Die ruiter se naam was ‘die dood’ (v.8).  Die doderyk het agter die dood aangekom (v.8).  Die dood was die leeu wat hulle doodgebyt het, en die doderyk was die aasvoël wat hulle bene skoon gepik het.  Die dood was die sekel wat hulle afgemaai het, en die doderyk het agterna gekom om hulle in die graf en die hel [Gk. hadēs, Lk.16:23] te gooi.

 

Omdat die Lam die sleutels van die dood en die doderyk gehad het, het Hý vir hulle die reg gegee om ‘n kwart van die aarde of land [Gk. ] se populasie uit te wis.  In Esg.14:12-23 het die Here sy volk deur die Babiloniërs omgebring met die swaard, hongersnood, pessiektes, en wilde diere.  Nou sou Hy hulle deur die Romeine op hierdie selfde vier maniere doodgemaak het (v.8, Lk.21:10-11, 32).  Hy het hulle so gestraf, omdat hulle ongehoorsaam en rebels was (Dt.32:24-25).

 

Hy het die breë swaard van die Romeine teen hulle gestuur [v.8, Gk. rhomphaia, LXX in 1 Sm.17:51, Esg.14:21].  Hongersnood was ‘n natuurlike gevolg van die oorlog (v.8, 5-6).  Dooies is nie begrawe nie, maar is oor die stad se mure gegooi.  Die lyke het ontbind.[7]  Die gevolg van sulke onhigiënies toestande was dat daar allerhande pessiektes uitgebreek het (v.8).  Soos met die Swart Dood in Europa, het mense by die tienduisende gesterf.  So het die Here dit in Lv.26:25 voorspel.

 

Die wilde diere van die aarde of land [Gk. ] het die lyke geëet, en sommige van die oorlewendes doodgemaak (v.8).  In die Midde-Ooste was daar leeus, bere, luiperds, wolwe, hiënas, jakkalse, aasvoëls, giftige slange, skerpioene en ander gevaarlike diere (1 Sm.17:34, Jer.5:6, Jes.13:22, Nm.21:6, Dt.8:15, Jer.30:17).  Weereens het die Here hierdie dinge teen sy ongehoorsame en rebelse volk voorspel (Dt.28:26, Lv.26:21-22, 2 Kon.17:25).

 

Wanneer daar hongersnood, ‘n ekonomiese krisis, droogte, siektes, moord, oorlog, politieke onstuimighede is, moet ons onthou dat Jesus in beheer is (Ps.46:9). Hý is die Een wat die seëls gebreek het en die perde gestuur het (v.1).  Hý het die mag om vir die ruiters te sê wat hulle kan en nie kan doen nie (v.4, 6, 8).  Hý het alle mag in die hemel en op die aarde (Mt.28:18), en daarom kan Hy sê hoe swaar die hongersnood moet druk (v.5-6), hoeveel mense sal doodgaan (v.8), en hóé dit moet gebeur (v.8, Jer.15:2-3).  Ons moet onthou dat die sleutels van die dood en die hel in sý hande is (1:18).

 

Ook jou persoonlike lyding is onder sy beheer: mense wat jou te na kom, die aanvalle van die duiwel, siekte, finansiële probleme, probleme met jou kinders, ‘n verhouding wat skeefloop, probleme met jou kar, werkloosheid, die dood van ‘n geliefde, onvrugbaarheid, ens. (Ef.1:11, Dt.32:39, 1 Sm.1:6, 2:6-7, Gn.45:5, 8, Job 1:12, 21-22, 2 Kor.12:7).

 

As jy ongered is moet jy hierdie dinge as die stem van die Here sien. Hy wil nie hê jy moet hel toe gaan nie, maar waarsku jou.  Bekeer jou en besef dat die lyding wat jy nou moet deurmaak nie naastenby opweeg teen dít wat jy in die hel sal ervaar nie.  Buig jou knie voor die Seun van God en soen sy voete in lojale onderdanigheid, sodat sy toorn nie ontvlam en jy van aarde af vergaan nie (Ps.2:12).  Jy wil nie die Jesus wat in beheer is van die vier perde en die hel, teen jou hê nie.  Ek wil eerder tienduisend duiwels teen my hê as wat ek ‘n vyand van die almagtige Jesus is.

 

Sorg dan dat jy aan sy kant is. Moenie dink dat jy iets kan doen om sy guns te wen nie.  Kom in geloof en bekering na Hom toe, en vra dat Hy jou sonde sal vergewe.  Besef dat Hy jou enigste hoop is om in die hemel in te kom en om van sy ewige oordeel te ontnap.  Glo dat sy kruisdood vir sondaars voldoende was om jou sondige rekord voor God skoon te vee.  Wees dan met jou hele hart lief vir Hom en doen wat Hy in die Bybel vir jou sê.

 

As jy gered is kan jy moed skep, omdat die Here (en nie die duiwel nie) in beheer is van elke beproewing wat oor jou pad kom. In Rm.8:28 het Hy belowe om al hierdie slegte dinge vir jou voordeel uit te werk.  Prys Hom daarvoor en leer om jou by sy soewereine, goeie en wyse besluite te berus.  Leer om Hom vir sy liefde te dank, en om te sien dat die glas eintlik half vol is.  Om angstig te wees help nie, en maak net dinge erger.  Bring jou saak in gebed na die Here toe.  Stort jou hart voor Hom uit en sê vir Hom dat jy nie self die beproewing kan dra nie.  Gee dit tien keer ‘n dag vir die Here as jy moet, en weet dat Hy jou nie in die steek sal laat nie.

 

Natuurlik is daar nogsteeds oorloë, pessiektes, hongersnood en wilde diere. Tog hoef jy nie te vrees dat die vier perde êrens in die toekoms op die toneel gaan verskyn, en ‘n kwart van die wêreld se bevolking gaan uitwis nie.  Ek glo met oortuiging dat hierdie dinge in Johannes se tyd plaasgevind het.  Selfs as jy ‘n ander siening as ek handhaaf, hoef jy nie die visioen te vrees nie.  Soos ek hierbo gewys het, sal die Here sy kinders nie alleen los wanneer hulle deur die riviere van beproewing moet gaan nie (Jes.43:2).

 

Leer ook asseblief in hierdie verse hoe ernstig die Here dit opneem wanneer dié wat sy Naam bely in ongehoorsaamheid volhard. In Lv.26 en Dt.28 het Hy sy ongehoorsame volk gewaarsku dat die dinge van Op.6:1-8 oor hulle sou kom.  Hy het nie gespeel nie, maar het presies gedoen wat Hy gesê het.  Laat ons daarom uit Israel se voorbeeld leer.  As Hy húlle soos takke afgebreek het, kan Hy dit verseker ook met jou en my doen as ons dat ons sy kinders is, maar ons ore vir sy Woord toestop (Rm.11:20-22).

 

Ek ken ‘n predikant wat baie positief is oor die eindtyd. Hy verwag nie perde, gediertes en drake nie, maar vir Jesus wat sy vyande oorwin.  Ons moet oppas dat ons nie fokus verloor nie.  Dit kan baie maklik gebeur dat ons nie uitkyk vir Jesus nie, maar vir die vier perde of vir ander dinge in Openbaring.  Fokus op Jesus en sien dat Hý in beheer is van die dinge waarvoor jy bang is.

 

[1] Sien William Hendriksen, More than Conquerors, pp.113-117 vir nog bewyse dat die ruiter op die wit perd Christus is.

[2] Flavius Josephus, The Jewish War, 2: 18:2 aangehaal in David Chilton, Days of Vengeance, p.85

[3] George Eldon Ladd, A Commentary of the Revelation of John, p.100

[4] Flavius Josephus, The Jewish War, 5: 10:2 in Chilton, Ibid

[5] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, p.156

[6] Doug van Meter, http://brackenhurstbaptist.co.za/the-four-horsemen/

[7] Josephus, Wars 5: 12:3-4 aangehaal in Steve Gregg, Ibid, p.160

Waaroor gaan Openbaring regtig?

Lion and Lamb

John MacArthur vertel hoe hy tydens sy studente jare ‘n eksamen-preek voor die ander studente en die dosente moes preek. Toe hy klaar gepreek het, het hy gedink dat hy hom goed van sy taak gekwyt het.  Die dosent na wie hy egter die meeste opgekyk het was nie beïndruk nie.  Sy woorde aan MacArthur was:  ‘You missed the whole point of the passage.’  Ons wil dit nie met Openbaring doen nie.  Op.5:1-14 sal ons help die punt van die hele boek raak te vat.

 

Die beskrywing (v.1)

Ons almal weet hoe ‘n aflosresies werk. Êrens in die wedloop is daar ‘n punt waar die een atleet nog hardloop, terwyl die volgende een al begin hardloop het.  Eers na ‘n paar meter stop die een atleet heeltemal, en is die ander een op spoed.  Volgens Douglas Wilson is die oorgang tussen die Ou- en die Nuwe Testament so.

 

Die ou verbond het van die Tien Gebooie af tot by Johannes die Doper gehardloop. Johannes het die stokkie vir Jesus oorgegee.  Toe hy dit klaar oorgegee het, het die ou verbond nog vir ‘n rukkie langs die nuwe verbond gehardloop, voordat dit finaal tot stilstand gekom het.  Die nuwe verbond was besig om op spoed te kom.  Eers toe Jesus die tempel, die Levitiese priesterskap en offersisteem in 70 n.C. verwoes het, het die ou verbond agter die horison verdwyn, sodat die middagson van die nuwe verbond in volle sterkte geskyn het (Heb.7:12, 8:13).  As ek Op.5 reg verstaan, is dit presies wat hiér aan die gang is.

 

Johannes het ‘n boekrol gesien (v.1). Dit was in die regterhand van Hom wat op die troon gesit het, omdat Hý dit geskryf het (v.1).  Dit was nie ‘n gewone papirusrol wat net aan die een kant vol geskryf was nie.  Soos die boekrol van oordeel in Esg.2:10 en die Tien Gebooie in Eks.32:15, was dit aan altwee kante vol geskryf.  Niks kon bygevoeg word nie, en daarom was dit volmaak soos wat die sewe seëls ook gewys het (v.1).  Net die een vir wie dit bedoel was kon dit oopgebreek het om te doen wat daarin geskryf staan (Jes.29:11).

 

Wat het in die boekrol gestaan? Dit was God se testament om te wys dat sy Seun die Koninkryk in besit gaan neem (11:15, Dn.7:13-14, Jer.32:10).  Almal in die hemel en op aarde het Hom hiervoor geprys (v.8-14).  Om sy testament in werking te laat tree, moes Hy eers die ou een tot niet gemaak het (Heb.8:13).  Na my mening is dit die punt van Openbaring.  Die boekrol het dus sy oordele oor Israel en Jerusalem bevat, net soos wat dit sy beloftes aan die kerk bevat het.  In hfst.6 sal ons sien hoe Hy die seëls gebreek het om die Jode te oordeel en die ou verbond tot ‘n finale einde te bring.

 

Die probleem (v.2-4)

In T.H. White se boek, The Sword in the Stone, was daar ‘n swaard wat in ‘n aambeeld vas was.  Die inskripsie op die aambeeld het gesê dat net die ware opvolger tot die troon die swaard kon uittrek.  Baie groot en sterk mans het sonder sukses probeer om dit te doen.

 

Op ‘n dag het ‘n jong seun dit reggekry. Dit was dus nie ‘n kwessie van brute krag nie.  Dit het gegaan oor waardigheid, en oor wie die ware opvolger tot die troon was.  Volgens die storie het die jong seun wat dit reggekry het king Arthur geword.  Hierdie storie illustreer vir ons wat in Op.5 gebeur het.

 

‘n Sterk engel het met ‘n harde stem uitgeroep en gevra wie waardig is om die boekrol oop te maak en sy seëls te breek (v.2)? Hy wou gehad het dat almal dit moes hoor, sodat hulle kon sien dat net Jesus waardig is.  Dit is nie dat dit moeilik was om die seëls te breek nie.  Dit was eerder dat net ‘n gekwalifiseerde persoon dit kon doen.  Net die Erfgenaam kon die Koninkryk in besit geneem het, en om dit te doen moes Hy die testament oopgemaak het.  Was daar ‘n engel in die hemel, ‘n apostel of profeet op die aarde, of ‘n duiwel in die hel wat waardig was om dit te doen (v.3)?

 

Johannes het hardop en onbedaarlik gehuil, omdat niemand waardig was om die boekrol se inhoud te laat gebeur nie (v.4). Vir hom het dit gelyk of die kerk se vyande gaan seëvier, en of hulle die kerk heeltemal gaan uitwis.  Sou Jesus dan nooit die Koninkryk in besit geneem het nie?  En sou die kerk nooit haar vyande oorwin het nie?

 

Die oplossing (v.5-7)

Omtrent twee maande gelede was ons by die Lory Park dieretuin in Midrand. Die leeus het my seker die meeste beïndruk.  ‘n Groot maanhaar het kort-kort na die heining toe gestorm en gebrul.  Sy voorpote was so groot soos borde en sy bene so dik soos ‘n rugbyspeler s’n.  Ek wil nie graag tussen sy kloue beland, sodat hy my in die skedel byt nie.

 

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek eenkeer ‘n lammetjie by ‘n boer geleen om dit vir ‘n saal-opening by ‘n laerskool te gebruik. Al die kinders wou die lammetjie vashou, en hy wou ook graag by hulle gewees het.  Hy het aan almal se vingers gesuig.

 

In Johannes se visioen was Jesus ‘n Leeu en ‘n Lam.  Wat ‘n kombinasie.  Hy is ‘n Leeu omdat Hy die sterk en Almagtige God is wat sy vyande verslind.  En Hy is ‘n Lam omdat Hy Homself verneder het deur aan mense gelyk te word en aan die kruis te sterf.

 

Een van die ouderlinge (4:4) het vir Johannes gesê om nie te huil nie, omdat die Leeu uit die stam van Juda waardig was om die boekrol te vat en die seëls oop te breek (v.5, Gn.49:8-10, Heb.7:14). Hy was die nageslag van Juda, maar ook die wortel van Dawid; Hy was die seun en Here van Dawid (v.5, 22:16, Jes.11:10, Rm.15:12, 1:3, Mt.22:42-45).  Omdat Hy die Leeu en die Lam was, kan ons sê dat Hy sy vyande aan die kruis oorweldig het (v.5-6, Kol.2:14-15, Heb.2:14-15, 1 Jh.3:8).  Nou sou Hy die seëls gebreek het, en volgens die boekrol se inhoud die kerk se vyande verskeur het (v.5).

 

Die Leeu uit die stam van Juda het gelyk soos ‘n Lam wat geslag is (v.5-6, Eks.12, Jes.53:7, Jh.1:29). Die wonde van die kruis was nogsteeds sigbaar in sy hande, sy voete en sy sy (1:7, Jh.20:27, Lk.24:39).  Hy het tussen die ouderlinge, die lewende wesens en die troon gestaan (v.6).  Hoe het Hy gelyk?

 

Hy was nie weerloos soos ‘n renoster sonder ‘n horing nie, maar het sewe horings gehad om te wys dat sy krag volmaak is (v.6).  Hiermee kon Hy sy vyande in die grond in gedryf het en hulle verpletter het (1 Kon.22:11).  Met sy sewe oë het Hy alles gesien en volmaakte kennis gehad (v.6, Sg.4:10, 2 Kron.16:9).  Hy het sy sewevoudige of volmaakte Gees (Jes.11:2) uitgestuur (Jh.16:7) en gesien (Ps.139:7) hoe die Jode deur die eeue die profete doodgemaak het:  hiervoor sou Hy hulle gestraf het (v.6, Lk.11:50-51, 1 Ts.2:14-16, Dt.32:43).

 

Die Lam het tot by die troon geloop om die boekrol uit die Vader se regterhand te neem (v.7, Dn.7:13). Die Vader het aan sy Seun die gesag gegee om sy oordele te voltrek (Jh.5:22, 27).

 

Die lofprysing (v.8-14)

Gedurende my jare in Nelspruit het ek in ‘n koor gesing. ‘n Paar dae voor die opvoering het iemand van Classic FM gekom en ons gehelp om die liedjies af te rond.  Een van my gunsteling liede het in die begin geklink asof ‘n singende weermag uit die verte aankom.  Soos wat die lied gevorder het, het daar al hoe meer stemme bygekom.  Aan die einde het ons met magtige volume afgesluit.

 

Dit is die idee wat Johannes in Op.5 vir ons wil oordra. Die lofprysing begin met 4 lewende wesens en 24 ouderlinge (v.8-10).  Daarna voeg miljoene engele hulle stemme by (v.11-12).  En uiteindelik aanbid elke skepsel die Een wat op die troon sit en die Lam (v.13-14).

 

Toe die Lam die boekrol gevat het, het die lewende wesens en die ouderlinge voor Hom neergeval om Hom te aanbid (v.8, 4:8-11). Hulle het erken dat Hy alleen waardig is (v.2-5).  Die ouderlinge en die lewende wesens het elkeen ‘n goue harp vasgehou, sodat hulle die Lam se lof kon besing (v.8, Ps.33:2, 150:3).  Soos wat die hoëpriester in die Ou Testament wierook op die goue altaar geoffer het (Eks.30:1-10), het die ouderlinge en die lewende wesens goue bakke vol van wierook gehad (v.8, 8:3-4).  Soos die lieflike geur van wierook het die gebede van God se vervolgde kinders voor Hom opgestyg (v.8, Ps.141:2).  Hulle het Hom gesmeek om die seëls te breek en wraak te neem oor dié wat hulle bloed vergiet het (6:10, 16:5-7, 18:20, 24, 19:2).

 

In 4:11 het die ouderlinge en die lewende wesens die Here met ‘n ou lied vir sy skepping geprys. In 5:9 het hulle die Lam met ‘n nuwe lied vir sy verlossing geprys (14:3, Ps.96:1, 98:1, 144:9, 149:1, Jes.42:10).  Wat het hulle gesing?  Hulle het gesê dat die Lam, soos die Vader in 4:11, waardig is (v.9).  Deur Jesus se bloed of dood het Hy die reg gewen om die testament oop te maak (v.9, Heb.9:16-17).  Met sy bloed het Hy ‘n nuwe volk losgekoop vir God uit elke stam en taal en volk en nasie (v.9, 7:9, 14:6, Tit.2:14, 1 Pt.2:9, kontr. Eks.19:5).  Let op dat Hy nie die nasies gered het nie, maar mense uit al die nasies:  sy skape (Jh.10:16).  Dit is húlle en nie die Jode nie, wat nou ‘n koninkryk van priesters geword het om saam met die Here op die aarde te regeer (v.10, Dn.7:18, 22, 27, kontr. Eks.19:6).

 

Dit was nie net die lewende wesens en die ouderlinge wat die Lam geprys het nie. Daar was ook ontelbare engele (v.11, Gk. Heb.12:22, Dn.7:10) wat gesê het dat die Lam waardig is (v.12, 2-5, 9, 4:11, Heb.1:6).  Hulle het Hom vir sy sewevoudige of volmaakte karakter geprys, en gesê dat die krag, rykdom, wysheid, mag, eer, heerlikheid en lof Hom toekom (v.12, Jh.17:5, 1 Kor.1:24, Kol.2:3, Heb.1:2, 1 Kron.29:10-13).

 

In v.13 het die hele skepping die Lam en die Vader geprys (Ps.148). Soos die Vader in 4:11, het die Seun ook alles gemaak en verdien Hy om aanbid te word (v.13, Jh.1:3, Kol.1:16).  Die ewige lof, eer, heerlikheid en mag wat die Vader toekom, behoort ook aan die Seun (v.13, Jh.5:23).  Die lewende wesens het dit beaam (‘Amen!’), en die ouderlinge het dit deur hulle aanbidding erken (v.14).

 

Ek het vriende en kollegas wat nie dieselfde as ek glo oor Openbaring nie. Een van hulle glo dat byna die hele boek oor die jare net voor Jesus se wederkoms gaan.  ‘n Ander een glo dat die boek nie na spesifieke gebeure verwys nie, maar dat dit aanhoudend deur die geskiedenis herhaal word.  Ek glo dat die boek na spesifieke gebeure verwys, en dat die meeste daarvan (nie alles nie) in Johannes se tyd vervul is.

 

Alhoewel ek nie met my vriende saamstem nie, respekteer ek hulle sienings. Daar is egter een siening waarvoor ek nie ooghare het nie.  Hierdie siening mis die hele punt van die boek, omdat dit op sensasie gefokus is.  Die mense wat dít glo dink dat die boek hoofsaaklik oor die 666, diere met baie koppe en horings, drake, die vier perde, verskriklike oordele of die duisendjarige vrederyk gaan.  Dit is gewoonlik húlle wat die presiese dag van Jesus se wederkoms en ander eindtyd gebeure probeer vasstel.

 

Die doel van Op.5 is om te wys dat die hele boek eintlik oor die Jesus gaan. Die heel eerste visioen in die boek fokus op Hom (1:9-20).  In die briewe aan die sewe gemeentes is Hý die fokuspunt (hfst.2-3).  Johannes se visioene van die hemel gaan oor Hom.  Die oordele in hfst.6-19 is sý oordele.  Tydens die duisendjarige vrederyk en op die oordeelsdag is dit Hý wat op die troon sit (hfst.20).  Op die nuwe aarde is Hý die fokus punt (hfst.21).  En in die laaste hoofstuk lees ons ten minste agt keer van Hom.

 

Al verstaan jy dan nie die detail van die boek nie, sal jy geestelik ryker wees as jy dit deurlees, elke verwysing na Jesus omkring, en neerskryf wat jy oor Hom geleer het. Hy is immers die sentrale tema van die boek.  Moet dan nie by Op.5 verbyjaag, omdat jy by die ‘interessanter’ dele van die boek wil uitkom nie.  Jy kan tog nie hfst.6-19 verstaan as jy die les in hfst.5 gemis het nie.  As jy nie in hfst.4-5 gesien het dat God in beheer is, en dat Jesus die Een is wat sy Vader se oordele uitvoer nie, sal die dinge in hfst.6-19 jou moedeloos maak.  Jy sal bang word en dink dat die duiwel en bose mense op die einde in beheer gaan wees.

 

Dit is onnodig om vir die duiwel en die Antichris bang te wees as Jesus die Leeu is wat sy vyande uitmekaar skeur (v.5). Indien jy hartseer voel of gefrustreerd is omdat dit vir jou lyk of ongeregtigheid seëvier, kan jy moed skep.  Ek juig nie omdat dit lyk of die DA ‘n groter invloed gaan hê nie, maar omdat Jesus Christus sy Vader se raadsplanne sal uitvoer en sy oordele in die wêreld sal voltrek (v.4-5).  Hý is die almagtige en alwetende Lam wat uiteindelik sal sorg dat geregtigheid in die wêreld geskied (v.6).  Hý sal sy kerk bou, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie (Mt.16:18).

 

Laat ons dan nie ophou om hiervoor te bid nie, maar laat ons die Here aan sy beloftes herinner (Jes.62:6-7). Laat ons vir Hom vra om ‘n nuwe aarde tot stand te bring, sodat ons in vrede en gehoorsaamheid kan lewe (2 Pt.3:13).  Moenie dink dat die Here jou gebede ignoreer of dat Hy daarvan vergeet het nie.  Jou gebede is soos ‘n geurige wierook wolk voor Hom (v.8).  Die Here dit gehoor en sal binnekort daarop reageer (v.8, 6:10-11, Lk.18:7-8).

 

Mense wat nie vir ‘n beter politieke situasie te bid nie, oortree 1 Tm.2:1-2. Maar dié wat net hiervoor bid is kortsigtig, omdat hulle nie aan die nuwe aarde dink nie.  Hulle wens vir ‘n land sonder misdaad waar hulle veilig kan voel.  Diep in hulle harte hoop hulle dat Suid-Afrika sal word soos wat dit in die verlede was.  Maar omdat dit onwaarskynlik is, kyk hulle oor die waters en hoop hulle om dit in ‘n ander land te vind.  Hulle vergeet egter om op te kyk, omdat daar nêrens iemand is wat dit vir hulle kan gee nie – net Jesus kan (v.2-5).  En dit sal Hy eers finaal doen wanneer Hy na die aarde toe terugkeer (hfst.21-22).

 

Wat moet ons dan doen terwyl ons hiervoor wag? Dink daaraan dat Hy te midde van die chaos in beheer is.  Onthou dat dit Hý is wat die oordele van hfst.6-19 (natuurrampe, siekte en dood) soos sterk en bitter wyn uit die beker van sy toorn uitgiet.  Terwyl jy vir sy verlossing wag moet jy Hom ook vir sy verlossing prys.

 

Moenie die ware betekenis van sy bloed miskyk, en dink dat Hy dit gestort het om jou huis, jou kar en jou kinders veilig te hou nie (‘Ek pleit die bloed’). Jesus het sy bloed gestort om jou van jou sonde en God se oordeel te red (v.9).  Daarom is dit nie waar om te sê dat een druppel van sy bloed die hele wêreld se sonde kan wegwas nie.  Ek betwyfel nie vir ‘n oomblik sy almag nie, maar as dit waar was, dan was dit nie nodig vir Jesus om te sterf nie.  Hy kon net vir die dokter gevra het om ‘n eenheid bloed te trek, en op een of ander manier ons sonde daardeur vergewe het.

 

Wanneer die Bybel van sy bloed praat, verwys dit daarna dat Hy sy lewe gegee het, dat Hy vir ons gesterf het. Jesus moes dood gebloei het.  Dít is waarvoor ons Hom moet prys (v.9).  As ons Openbaring lees moet dit nie vrees wees wat ons gedagtes oorheers nie, maar dankbare lof.

 

Die deursnee Afrikaner weet dat Jesus aan die kruis gesterf het vir sondaars. Hoeveel weet egter wat dit beteken?  En hoeveel prys Hom uit die diepte van hulle wese daarvoor?  Wanneer laas het jý Hom hiervoor geprys?  Dagdroom jy wanneer jy daarvan sing en preke oor die onderwerp hoor?  Is jy eerlik en opreg dankbaar wanneer jy dit in die nagmaal herdenk?  Haat jy die sonde waarvoor Jesus gesterf het?  Bely jy dit en bekeer jy jou daarvan?  Is jy met jou hele hart lief vir die God wat dít vir jou gedoen het?

 

Let tog op dat die hemelse wesens en die hele skepping Hom hiervoor prys, selfs al is hulle nie die begunstigdes van sy verlossing is nie. Jesus het tog nie vir engele of eikebome gesterf nie, maar vir mense (Heb.2:16).  As ons dan nie die knie voor Hom buig en Hom aanbid nie, is ons die ondankbaarste wesens in die heelal.

 

Charles Spurgeon het van John Bunyan gesê dat as jy hom met ‘n speld prik, die Bybelverse by sy are sal uitvloei. En so kan ons van Openbaring sê dat die boek eintlik oor Jesus gaan.  As jy dit nie raaksien nie, is jy soos die visse wat in die see geswem het en vir mekaar gesê het:  ‘Waar is die diep blou see tog – ons het al so baie daarvan gehoor?’

 

Vir die mense wat vra waaroor Openbaring regtig gaan, sê ek: ‘Dit gaan oor Jesus.’  As hulle dan vra waar Jesus in Openbaring is, reageer ek:  ‘Waar is Hy nie?’

Die goeie Herder

Good Shepherd 2

My kinders het ‘n Bybelteks vir hulle kunswedstryd gememoriseer. Dit was verbasend hoeveel kinders Ps.23 opgesê het.  Ek het hierdie week by ‘n begrafnis gepreek.  By die begraafplaas het ek ‘n grafsteen gesien wat Ps.23 op het.  Ek self het al Ps.23 by ‘n begrafnis gepreek.  Daar is ongelowiges wat die Psalm uit hulle koppe uit ken.  Ek ken mense wat vir my gesê het dat dit hulle gunsteling Psalm is.  Ek het dit al vir mense op hulle sterfbed gelees.  In ons gemeente sing ons meer as een weergawe hiervan.  Ek self het al ‘n beryming vir die Psalm geskryf.

 

Hoekom is hierdie so ‘n populêre Psalm? Is dit nie omdat dit vir ons so ‘n mooi en sagte beeld van die Here skets nie?  Jh.10:1-21 gee vir ons ‘n beskrywing van die goeie Herder van Ps.23.

 

Die gelykenis (v.1-6)

Ter voorbereiding vir hierdie preek het ek ‘n 2 minute video op YouTube gekyk. Daar het ‘n klomp skape in die veld gestaan en wei.  Een na die ander het drie mense dieselfde woorde gebruik om die skape te roep.  Die skape het nie eers opgekyk nie.  Die herder het toe dieselfde woorde gebruik om die skape te roep.  Hulle het opgekyk en soos een man na die herder toe gehardloop.  In sy gelykenis leer Jesus vir ons dieselfde les.

 

Die gelykenis en die les oorvleuel, sodat ons in v.1-6 reeds lesse leer. En in v.7-18 is Jesus nóg besig om die gelykenis in te kleur.  In v.1 sê Hy dat dié wat nie by die skaapkraal se hek inkom nie maar oor muur spring, diewe en rowers is.  Hulle wil die skape slag en eet.  Die herder klim nie oor die heining nie, maar loop deur die hek:  hy is daar om die skape te versorg (v.2).  Omdat die hekwagter dit weet, sal hy die skaapkraal se hek vir die herder oopmaak (v.3).  Die skape herken die herder se stem (v.3).  Hulle is gerus en nie verward of bang nie.  Hy roep elkeen by die naam (v.3).  Onmiddellik volg hulle hom na die weivelde toe (v.3).

 

Hy dryf hulle nie, maar loop voor om hulle te beskerm (v.3). Hulle volg hom, omdat hulle van kleins af aan sy stem gewoond is (v.4).  Hulle assosieer sy stem met kos, water, versorging, beskerming en omgee.  Hulle weet dat hý die leier is, en daarom volg hulle hom (v.4).  Hulle sal nie agter ‘n vreemdeling aanloop nie, maar raak paniekerig en vlug as hulle sy stem hoor (v.5).  Hulle weet dat hy nie die herder is nie, en dat hy hulle wil seermaak.

 

Omdat die Jode blind was, het Jesus se gelykenis nie vir hulle sin gemaak nie (v.6, 9:40-41, 1 Kor.2:14). Duidelik was hulle nie van sy skape nie, want anders sou hulle sy stem herken het (v.3-4).

 

Die Here ken sy skape persoonlik. Hy ken hulle by die naam (v.3, Eks.33:17, Jes.43:1).  Hulle is soos ‘n ryk man se kind wat ‘n private onderwyser het en individuele aandag geniet (v.3-4).  Hulle is nie soos ‘n klas van 40 kinders waarin party agteraak, omdat die onderwyser nie die hele klas vir een kind se onthalwe kan terughou nie.  Die Here sal elkeen van sy skape uitbring, voed en versorg (v.4).  Hy sal nie die kleintjies, oues, moeës, siekes en swakkes agterlos nie.

 

Ken die Here jou naam? Is jy een van sy skape?  Het jy al sy stem gehoor?  Hoe onderskei jy tussen sý stem en die rower s’n (v.3-5)?  As die stem jou verwar, ontmoedig, bang maak, ongemaklik laat voel of omroer, is dit nie sy stem nie, maar die rower s’n (v.5).  Die Herder se stem help, vertroos en bemoedig die skape.  Sý stem kan jy in die Woord hoor.  Enige stem wat nie teen die Bybel opmeet nie, is nie die Herder se stem nie, maar die rower s’n.

 

Na wie se stem luister jy? Met wie se stem voel jy gemaklik?  En wie se stem laat jou ongemaklik voel?  Wie se stem onstel jou, sodat jy jou ore toedruk en nie verder wil luister nie?

 

Die les (v.7-18)

Verledejaar het ek ‘n praatjie op RSG gehoor oor die Anatoliese herdershond. Die hond is groot, sterk en baie vinnig.  Die honde is in Turkye geteel om roofdiere soos wolwe, bere en jakkalse van die skape af weg te hou.  Die honde werk dikwels in groepe.  Hulle sal op verskillende punte op ‘n hoë plek in die koelte gaan lê, sodat hulle die skape kan sien.  In die nag sal hulle ekstra paraat wees.  Indien hulle iets gewaar sal hulle blaf om die skape in ‘n bondel te versamel.  Die honde sal tussen die skape en die indringer gaan staan.  As al die skape veilig agter hulle is, sal hulle die rower of roofdier aanval.

 

Volgens v.7-18 het Jesus alles gedoen om sy skape te red en te beskerm. Hy was bereid om te sterf, sodat die skape kon lewe.

 

Omdat die Jode die gelykenis nie verstaan het nie (v.6), het Jesus dit vir hulle verduidelik (v.7-18). Hy het gesê dat Hy die hek of deur vir die skape is (v.7, 9, 1-2).  Om die skape te beskerm het sommige herders voor die kraal se ingang geslaap.  Om hierdie rede het Jesus gesê dat Hy die Herder en die Deur vir die skape is (v.7, 11).  Dié wat na die Vader toe wou kom moes deur Hóm gekom het:  daar was nie ‘n ander ingang of manier om gered te word nie (v.7, 9, 14:6, Hd.4:12, Ef.2:18).  Dié wat nie deur die hek gekom het nie, moes buite gebly het en onveilig gewees het.

 

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs wat voor Jesus gekom het was diewe en rowers (v.8, hfst.9, Mk.12:40, Lk.16:14). Hulle het hulleself gevoed en nie die skape nie, die weiding kaal gevreet en die res vertrap, die skoon water gedrink en die res met hulle moddervoete bemors (Esg.34:2, 17-19, Jud.12).  Hulle het nie die swakkes versterk, die siekes gesond gemaak, die beseerdes verbind, die afgedwaaldes gesoek, en die verlorenes teruggebring nie (Esg.34:4, 6).  Hulle het God se skape met ‘n swaar hand en ‘n yster vuis gelei (Esg.34:4).  Hulle het nie omgegee om die skape uitmekaar te jaag, sodat hulle ‘n prooi vir die wilde diere geword het nie (Esg.34:5-6).  Hulle het oor die muur geklim om die skape te steel, te slag, te eet en klere van skaapvel te maak (v.10, Jer.23:1, Esg.34:3).

 

Dié wat waarlik God se skape was het geweet dat hulle rowers is, en het nie vir hulle geluister nie (v.8). Hulle het vir die Herder geluister.  Hy het hulle beskerm as hulle uitgegaan het veld toe, en as hulle in die aand weer ingekom het (v.9, Nm.27:17, Dt.28:6, 2 Sm.5:2, Ps.121:8).  Hy het hulle in en uit gelei om vir hulle weiding en skoon water te gee – lewe in oorvloed (v.9-10, Ps.23:2-3).  Hy het gekom om die ewige lewe vir hulle te gee, en om sy eie Gees en lewe in hulle siele uit te stort (v.10, 14:16-17, 23, 17:3, 2 Pt.1:4, Gal.2:20).

 

Om hierdie oorvloedige lewe vir die skape te gee (v.10), het die Herder sy eie lewe opgeoffer (v.11).  Hy is die goeie Herder van Ps.23:1, 80:2, Jes.40:11, Esg.34:15, 23, en nie ‘n slegte herder soos die godsdienstige leiers in hfst.9 nie.  Soos wat Dawid die skape met sy lewe beskerm het (1 Sm.17:34-37), het Jesus sy lewe gegee om ons van die sonde en God se oordeel te verlos en te beskerm (v.11).  Op dié manier het Hy sy verlore skape na die Vader toe teruggebring (1 Pt.2:24-25, Jes.53:6, Sg.13:7).  Hy het immers gekom om sy lewe vir die skape gee (v.11, 15:13).

 

‘n Huurling-Fariseër sou dit nie gedoen het nie. Omdat die skape nie syne was nie, het hy gevlug as hy die wolf gesien het (v.12).  Dit het hom glad nie gepla dat die skape verskeur en verjaag word nie (v.12).  Hy het nie ‘n belang in die welvaart van die skape gehad nie (v.13).  Die dag se betaling is al wat vir hom belangrik was.  Die goeie Herder was nie so nie, maar het ‘n verhouding met die skape gehad (v.14).  Hy en sy skape het mekaar persoonlik geken, soos wat Hy en die Vader mekaar geken het (v.14-15, Am.3:7, Nah.1:7, 2 Tm.2:19).  Op grond van hierdie groot liefde het Hy sy lewe vir die skape gegee (v.15).

 

Jesus het nie net vir die verlore skape van Israel gesterf nie (v.11, Mt.10:6, 15:24), maar ook om die verdwaalde skape uit alle nasies na Homself toe te bring (v.15-16, 11:51-52, Op.5:9, Jes.56:6-8, Esg.37:21). Só sou daar een Herder en een kudde gewees het (v.16, Ef.2:11-22, 3:6).  Dié wat deel van hierdie kudde was sou na sy stem geluister het en in geloof op die evangelie gereageer het (v.16, 26, Hd.18:9-10, 13:48, 28:28).  Hulle sou ook na sy stem in die Bybel geluister het en dit gehoorsaam het (v.16, Lk.6:46-48).

 

Omdat Jesus die Vader liefgehad het, het Hy sy lewe vir die skape gegee (14:31). In reaksie op sy liefde vir die Vader, het die Vader Hóm ook liefgehad (v.17).  Die Vader het sy liefde aan die Seun bewys deur Hom uit die dood uit op te wek (v.17).  Die Seun se doel was nie net om vir die skape te sterf nie, maar ook om op te staan sodat Hy hulle na die Vader toe kon bring (v.17).  Niemand het Hom gedwing om vir hulle te sterf nie.  Uit pure genade en liefde het Hy gekies om dit te doen (v.18).  Hy het ook die mag gehad om op die derde dag uit die dood uit op te staan (v.18).  Mense en duiwels kon Hom nie keer nie.  Sy Vader het aan Hom die mag gegee om dit te doen (v.18).

 

Indien die skape veilig in die kraal wil wees, moet hulle deur die hek gaan. Jesus is die hek en daarom ook die enigste manier om in die kraal in te kom (v.7, 9).  Net deur Hóm kan ons veilig in die kraal wees:  veilig teen bose mense, vals leraars, die duiwel, ons eie sonde en die oordeel van God.  Om in die kraal in te kom moet jy in Hom glo, op Hom vertrou, besef dat Hy jou enigste hoop is, in sy kruisdood skuil, op sy Persoon staatmaak en aan sy beloftes vashou.  Moenie dink dat jy met die stokke van jou eie pogings teen die bere en wolwe van God se oordeel kan veg nie.  Vergeet van jouself en kom na Jesus toe.  Net Hy kan jou teen die diewe en rowers beskerm, en vir jou ‘n oorvloedige lewe gee (v.8-10).  Wat beteken dit?

 

Hierdie verse het niks met materiële voorspoed of teëspoed te doen nie. Mense sê te maklik dat die duiwel gesteel, geslag en verwoes het, omdat hulle ‘n miskraam gehad het, met kanker gediagnoseer is, huweliksprobleme ervaar, ‘n rebelse kind het, iemand by hulle huis ingebreek het, hulle baie geld verloor het, die baas hulle afgedank het, hulle in ‘n karongeluk was, hulle ‘n liefdesteleurstelling gehad het, ens.

 

Wanneer dinge met hulle goed gaan sê hulle dat Jesus vir hulle lewe in oorvloed gegee het. Dalk dink hulle nie so daaraan nie, maar volgens hulle interpretasie van Jesus se woorde is Hy ‘n genie wat gekom het om vir hulle ‘n goeie werk, ‘n gelukkige gesin, ‘n suksesvolle huwelik, ‘n florerende besigheid, genoeg geld, goeie gesondheid, ens. te gee.

 

Die probleem hiermee is nie dat God nie die Gewer van hierdie dinge is nie. Die probleem is eerder dat hierdie mense se teologie nie rekening hou met die realiteit van die Christelike lewe nie.  Hulle vergeet dat elke Christen teëspoed ervaar, en dat die duiwel nie altyd ‘n vinger in die pasty het nie.  Soms is dit die Here wat ons beproef, omdat Hy een of ander doel met ons wil bereik.  As ons volgens hierdie mense se definisie moet gaan, het almal wie se omstandighede rustig is lewe in oorvloed.  M.a.w. hulle is gered.  Tog weet ons uit Ps.73 dat dit nie noodwendig so is nie.  Volgens die Fil.4:4 kan jy in die tronk sit en die oorvloedige lewe geniet.

 

Die feite is dat Jesus se woorde in v.10 niks met materiële dinge te doen het nie. Dit gaan oor geestelike lewe en dood.  Die predikers wat sê dat v.10 oor materiële dinge gaan, is juis die wolwe wat die waarheid van mense af weghou.  Dit is húlle wat gekom het om te steel, slag en verwoes (v.10).  Hulle gee nie om vir die mense nie, maar sien die bediening as iets waardeur hulle ryk kan word (v.12-13, 1 Tm.6:5).

 

Skuil eerder by die goeie Herder. Die goeie Herder gee om vir die skape.  Deur sy Woord gee Hy vir hulle goeie weiding en vars water (Ps.23:2, Esg.34:14).  Hy versterk hulle geestelik (Ps.23:3).  Hy lei hulle op die pad van heiligheid en geregtigheid (Ps.23:3).  Hy beskerm hulle teen die gevaar van die dood (Ps.23:4).  Hy troos hulle wanneer hulle hartseer is (Ps.23:4).  Hy soek hulle wanneer hulle afdwaal en bring hulle weer terug (Esg.34:11-12, 16, Lk.15:3-7).  Hy verbind die wonde wat deur hulle eie sonde, die duiwel, bose mense en beproewing veroorsaak is (Esg.34:16).  Hy versterk hulle wanneer hulle swak is (Esg.34:16).  Al hierdie dinge doen Hy deur die Heilige Gees en die Bybel, die kerk en haar leiers (Jer.3:15, Jh.21:15-17, Hd.20:28, 1 Pt.5:2-3).

 

Miskien hoor jy hierdie dinge, maar jy wonder of die Here jou liefhet en of Hy nie miskien van jou vergeet het nie. As jy na jou omstandighede kyk voel dit vir jou of die Herder jou verlaat het.  Die waarheid is dat jy Hóm gelos het en van sy goedheid af weggedwaal het.  In sy liefde het Hy jóú nie gelos nie, maar agter jou aangekom en jou kom haal.  As jy ooit sy liefde betwyfel moet jy onthou dat Hy sy lewe vir jou gegee het, en dat jy ook baie ander voorregte en gawes uit sy hand geniet.  Onthou asseblief dat Hy nie ‘n huurling is wat jou vir die wolwe sal gooi nie (v.12).  Hy sal jou nie los nie (v.12-13).

 

Is die Here jou Herder? Ken jy Hom (v.14)?  Ken Hy jóú as een van sy eie (v.14, Gal.4:9)?  Is jy dalk ‘n skaap wat nog buite die kraal is (v.16)?  Hoor dan die Herder se stem as Hy jou vandag roep (v.16).  Vir te lank het jy jou eie ding gedoen.  Jy het genoeg vir jouself en jou sonde gelewe (1 Pt.4:3).  Dit is hoogtyd dat jy die Herder se stem herken en besef dat Hy saggies en teer met jou gewerk het, dat Hy geduldig was, dat Hy jou nie volgens jou sonde geoordeel het nie, dat dit Hý was (en nie jý nie) wat jou suksesvol en voorspoedig gemaak het, en dat Hý die slegte dinge oor jou pad gebring het om jou ore oop te maak.  Draai dan jou rug op die dwaalweg waarop jy loop, en keer terug na die goeie Herder toe (1 Pt.2:25).

 

Die reaksie (v.19-21)

Ek het eenkeer ‘n brief vir iemand geskryf. Aan die einde het ek gesê:  ‘Mag die genade van die Here Jesus met jou wees.’  Die persoon was woedend.  ‘Hoe durf hy dít sê?’ het hulle vir iemand anders gesê.  ‘Dink hy dat ek so ‘n groot sondaar is dat ek die Here se genade nodig het?’  ‘n Ander persoon was kwaad toe ‘n gelowige vir hom ‘n bemoedigende boodskap gestuur het.  ‘Moet asseblief nie vir my sulke boodskappe stuur nie,’ het hy gevra.

 

Jh.10 praat van Jesus as die goeie Herder. Waar is daar ‘n mooier en sagter beeld van Hom in die Bybel?  En tog was die Jode woedend toe hulle sy lering gehoor het.  Ander het Hom geprys en daardeur gewys dat hulle sy skape is (v.3-4, 14, 16).

 

Weereens was die Jode verdeeld oor Jesus se woorde (v.19, 7:12, 40-44, 47-52, 9:16). Sy woorde was soos ‘n swaard wat hulle verdeel het (Heb.4:12, Matt.10:34-36).  Die meeste van hulle het gesê dat Hy ‘n demoon het en dat Hy mal is (v.20, 7:20, 8:48, 52, Mk.3:21).  Deur só teen Hom te laster het hulle die onvergeeflike sonde gepleeg (Mk.3:28-30).  ‘n Paar van die Jode het gesê dat ‘n duiwel besete man nie so praat nie (v.21).  Waar was daar ooit ‘n besetene wat ‘n blinde man genees het (hfst.9)?  Is dit nie God wat die blindes laat sien nie (Eks.4:11, Ps.146:8)?

 

Jesus vereis dat jy op sy lering moet reageer. Jy kan nie soos ‘n Buddhis sê dat sy lering wys is, maar Hom nie met jou hele hart volg nie.  As jy nie sy lering aanvaar en jou daaraan onderwerp nie, kan jy net sowel sê dat Hy ‘n demoon in Hom het en dat Hy mal is (v.19-21).

 

Wat sal jy met sy lering doen? En hoe lank gaan jy wag voordat jy dit doen?  Die Here sal nie vir altyd geduldig wees nie.  Indien jy jou ore vir Hom toedruk, sal die dag kom wat Hy Homself vir jou wegsteek (12:36b).  Gebruik dan die geleentheid terwyl jy dit het.  Vra vir jouself of Jesus regtig die Seun van God is.  As Hy gelieg het om te sê dat Hy die Seun van God is, hoekom sê jy dat Hy ‘n goeie profeet is?  En as Hy die Seun van God is, hoekom dien jy Hom nie met alles wat jy het nie?

 

Twee weke gelede het iemand vir my vertel dat hulle deur ‘n moeilike beproewing by die werk gaan. ‘Ek kan dit nie meer hanteer nie,’ het die persoon gesê.  Toe ek vir die persoon vertel dat ek ‘n soortgelyke beproewing deurmaak, was die reaksie:  ‘Nou voel ek beter.  Ek het gedink ek is die enigste persoon wat so beproef word.’

 

Omdat die Herder ook die Lam is wat in jou skoene kom staan het, weet Hy hoe jy voel. Gevolglik weet Hy ook hoe om die skape te lei.  Ook wanneer jy in die hemel is sal hierdie Lam die goeie Herder wees wat ons na strome van lewende water toe lei (Op.7:17).

Die blindheid van mense wat nie in Jesus glo nie

Blind man

Een van ons lidmate wat nou in die hemel is het my eenkeer van sy seun vertel. Sy seun het met die Bybel groot geword, maar later ‘n ateïs geword.  Hy het vir sy pa gesê:  ‘Toe ek die Bybel geglo het was ek blind, maar noudat ek ateïs is het die oogklappe afgekom.’  Sy pa se woorde aan my was:  ‘Dit is eintlik andersom.  Nou is hy eers blind.’  Die oom was reg:  sy seun was blind en het dit nie besef nie.  Dit is die groot les wat Jesus in Jh.9 vir ons wil leer.

 

Die wonderwerk (v.1-7)

Ek het ‘n storie gehoor van ‘n vrou wat nie oë het nie. Sy wou baie graag sien.  Iemand het vir haar vertel dat daar ‘n spesiale diens by hulle kerk gaan wees.  Terwyl die prediker gepreek het, het sy skielik uitgeroep:  ‘Ek kan sien, ek kan sien!’  Die man het na haar gekyk en gesien dat sy nie oë het nie.  Sy het verduidelik dat sy die lig van die evangelie gesien het, en dat sy tot bekering gekom het.  Die wonderwerk in hierdie verse is veronderstel om dieselfde les te leer.

 

Jesus was in Jerusalem (v.7). Omdat Hy deernis met mense gehad het, het Hy nie maar net verby die bedelaar geloop nie (v.8), maar opgemerk dat hy van geboorte af blind was (v.1).  Soos Job se vriende het die dissipels aangeneem dat die man se blindheid die gevolg van sy of sy ouers se sonde was (v.2).  ‘Miskien is hy meer vervalle as die res van ons?’ het die hulle gedink (kontr. Lk.13:2, 4).  ‘Of miskien het sy ma te veel gedrink toe sy met hom swanger was?  Dalk straf die Here hulle vir iets wat hulle verkeerd gedoen het?’  Die dissipels wou geweet het wat hulle Rabbi dink (v.2).

 

Volgens Jesus was die man se blindheid nie die gevolg van iemand se sonde nie. Hy was blind sodat God hom kon genees om so sy groot krag te wys (v.3).  Hierdie werk wou Jesus gedoen het terwyl dit dag was, voordat die nag van sy kruisdood gekom het en Hy nie meer kón werk nie (v.4).  Solank as wat Jesus op die aarde was, was Hy die lig wat die duisternis van mense se sonde verdryf het (v.5, 8:12, 1:9).  Die genesing van die blinde man was ‘n illustrasie hiervan.

 

Jesus het op die grond gespoeg en modder gemaak om aan die man se oë te smeer (v.6). So het Hy gewys dat Hy die God is wat vir Adam uit die grond geskep het (Gn.2:7).  Jesus het vir die man gesê om die modder in die bad van Siloam aan die suid-weste kant van Jerusalem af te was (v.7, vgl. 2 Kon.5:10).  Hy wat deur die Vader gestuur is (v.4), het die blinde man na Siloam toe gestuur (v.7).  Die man het in gehoorsaamheid gereageer (v.7).  Vir die eerste keer in sy lewe het hy lig, kleur, gesigte en vorms gesien (v.7).

 

Die verwarring (v.8-12)

Het jy al iets gesien wat so fantasties is, dat wanneer jy dit vir ander vertel hulle dink jy lieg (bv. ‘n wortel wat 2.5 meter lank is)? Maar wat gebeur as jy vir hulle sê dat daar dertig ander mense is wat dit ook gesien het, en dat hulle dit kan bevestig?  Skielik glo hulle jou.  En net so het die aantal getuies in v.8-12 bevestig dat die man regtig blind gebore is.

 

Die blinde man se bure het hom as ‘n bedelaar geken (v.8). Hulle kon hulle oë nie glo dat hy genees was nie (v.8).  Party het egter getwyfel dat dit hy is, en het gesê dat hy soos die bedelaar lyk, maar dat dit nie hý is nie (v.9).  Die man het aangehou om te sê dat dit regtig hy is (v.9).  ‘Maar hoe kan dit wees?’ het hulle gewonder (v.10).  ’n Blinde man kan mos nie net eweskielik sien nie.’

 

Die man het verduidelik dat Jesus modder gemaak het, dit aan sy oë gesmeer het, en vir hom gesê het om in Siloam te gaan was (v.11). ‘Nou kan ek sien,’ het hy gesê (v.11).  Die mense wou het geweet waar Jesus is, maar die man het Hom nog nooit gesien nie, en kon hulle nie help nie (v.12).

 

Die verdeeldheid (v.13-17)

Mense het ‘n natuurlike vooroordeel. As jy vir sommige mense sê dat Calvyn iets gesê het, skryf hulle dit summier af.  Hulle gee nie om of dit waar is of nie.  Omdat hulle nie van hom hou nie, oorweeg hulle nie eers wat hy gesê het nie.  En so was die meeste van die Fariseërs met Jesus.

 

Die mense het die man wat voorheen blind was na die Fariseërs toe gebring (v.13). Dalk wou hulle vir Jesus in die moeilikheid kry, omdat Hy die man op die Sabbat genees het (v.14, 5:9, 16).  Die Fariseërs het vir die man gevra hoe hy sy sig ontvang het (v.15).  Hy het sy storie herhaal (v.15).  Maar volgens die Fariseërs het Jesus die Sabbat oortree en kon Hy nie van God af gekom het nie (v.16).  Volgens die Mishna in Shab.7:2 mag ‘n mens nie op die Sabbat deeg geknie het nie.  Gevolglik was dit ook verkeerd om op die Sabbat modder te maak.

 

Volgens party Fariseërs kon Jesus nie ‘n blinde man gesond gemaak het as Hy ‘n sondaar was nie (v.16). Het hierdie teken nie juis gewys dat Hy van God af kom nie (v.16, 3:2)?  Die Fariseërs was verdeeld in hulle opinie oor Jesus (v.16, 7:43, 50-51, 10:19, 12:42).  Hulle het toe gevra wat die blinde man oor Jesus te sê gehad het (v.17).  Hy het gesê dat Jesus ‘n profeet is (v.17).  Hy het nog nie besef dat Jesus die Messias en die Seun van God is nie.

 

Die vrees (v.18-23)

Lisa is ‘n tweedejaar student op universiteit. Sy gaan uit met ‘n vriend wat nie in God glo nie.  Haar kamermaat het onlangs met haar oor die Here begin praat.  Lisa het begin om die Bybel te lees en kerk toe te gaan.  Haar ateïs-vriend het daarvan gehoor en haar uitgelag.  ‘Jy kan mos nie jou intellek so verkrag en in feëverhale glo wat onwetenskaplik is nie,’ het hy gesê.  Sy wou hom nie teleurstel nie, en het toe die Bybel eenkant toe geskuif.  In v.18-23 het die blinde man se ouers dieselfde gedoen.

 

Die Jode het geweier om te aanvaar dat Jesus ‘n profeet is (v.17), en het gesê dat die man nie regtig blind was nie. Hulle het toe sy ouers geroep (v.18-19).  Sy ouers het erken dat dit hulle seun is en dat hy blind gebore is (v.20).  ‘Ons weet egter nie hoe hy gesond geword het nie,’ het hulle gesê.  ‘Maar hoekom vra julle vir ons?  Hy is mos nie minderjarig nie en kan self vir julle vertel wat gebeur het’ (v.21).  Hulle het gelieg, omdat hulle bang was hulle word uit die sinagoge geskop (v.22-23).  Die Jode het besluit om dié wat Jesus as die Messias bely te verban (v.22).  Iemand wat so verban was is deur die samelewing verwerp.

 

Die veragting (v.24-34)

Verledejaar het ek iets oor homoseksualiteit geskryf en dit op die blog gesit. Ek het twee boeke aangehaal om te wys dat homoseksualiteit nie ‘n genetiese probleem is nie, maar sonde.  ‘n Man met ‘n doktorsgraad in genetika het dit gelees en veragtend gesê dat my kennis van genetika te vlak is om die probleem sommer só te wil oplos.  Tog het hy nie gewys waar ek verkeerd was nie.  Hy het sy graad en groot woorde gebruik om my te intimideer.  Op ‘n soortgelyke wyse het die Fariseërs probeer om die blinde man af te skrik.

 

‘Gee eer aan God en praat die waarheid (Jos.7:19),’ het hulle gesê. ‘Ons weet dat Jesus ‘n sondaar is’ (v.24).  Die man het nie veel van Jesus geweet nie, maar kon uit ondervinding sê dat hy blind was en dat Jesus hom genees het (v.25).  Hulle het weer gevra hoe Jesus hom laat sien het, maar hy het geweier om vir hulle te sê, omdat hulle bevoordeeld was en rede gesoek het om nie in Hom te glo nie (v.26-27).  Hy het tong in die kies gevra of hulle sy dissipels wil wees (v.27).

 

Toe hulle die sarkastiese toon in sy stem hoor, het hulle hom uitgeskel (v.28). Om hom sleg te sê het hulle hom ‘n dissipel van Jesus genoem (v.28).  Hulle het daarin geroem dat hulle dissipels van Moses is (v.28).  ‘God het met hom gepraat, maar van hierdie Jesus weet ons niks nie,’ het hulle gesê (v.29, 8:14, Eks.19-31).  Die waarheid was dat Moses van Jesus geskryf het, en dat hulle dit verwerp het (5:46-47, Dt.18:15, 18).

 

Die man was verbaas dat die geestelike leiers blind was (v.30, 3:10). Hoe kon hulle nie gesien het dat Hy van God af kom nie?  Het Jes.29:18, 35:5, 42:7 dan nie gesê dat die Messias blinde mense sal genees nie?  Was dit nie duidelik dat Jesus die wil van God gedoen het en Hom geëer het nie (v.31, 4:34, 5:30, 6:38)?  Sou God ‘n blinde man deur Hom genees het as Hy self vol van sonde was (v.31, Ps.66:18, Sp.28:9)?  Nie een van die profete of apostels het ooit ‘n blinde man gesond gemaak nie (v.32).  As Jesus dan ‘n man wat blind gebore is genees het, was Hy van God af en self ook God (v.33, Eks.4:11, Ps.146:8).

 

Die Fariseërs het vir die man gesê dat hy ‘n sondaar is (v.34, 24), en dat dít die rede was hoekom hy blind gebore is (v.34, 9:2-3). Hulle het misgekyk dat hulle self ook in sonde gebore is (Ps.51:7), en het dit gehaat dat ‘n blinde man vir hulle teologie wou leer (v.34).  Omdat hy geglo het dat Jesus van God af was (v.33), het hulle hom uit die sinagoge verban (v.34, 22, 16:2).

 

Die belydenis (v.35-38)

‘n Jood in Nederland het na ‘n preek van John Piper geluister. Êrens in die preek het sy oë oopgegaan en het hy met trane bely dat Jesus die Here en God van die Ou Testament is.  ‘Jesus is Elohim!’ het hy gesê.

 

Die blinde man in Jh.9 het aanvanklik gedink dat Jesus ‘n gewone mens is (v.11). Daarna het hy besef dat Jesus ‘n profeet is (v.17).  In v.30-33 het hy bely dat Jesus sondeloos is en dat Hy van God af kom.  Uiteindelik het Hy geglo dat Jesus die Messias en die Seun van God is (v.35-38).

 

Jesus het gehoor dat die blinde man uit die sinagoge verban is (v.35). ‘Glo jy in die Seun van die Mens?’ het hy gevra (v.35, Dn.7:13-14).  Die man was bereid om dit te glo, maar het nie geweet dat dit Hy is nie (v.36).  Hy het Hom immers nie gesien nadat hy genees is nie (v.12).  ‘Jy SIEN Hom; dit is Hy wat met jou praat,’ het Jesus gesê (v.37).  Jesus wou nie net gehad het dat die man net fisies moes sien nie, maar ook geestelik.  Die man het Hom Here genoem, in Hom geglo en Hom as God aanbid (v.38).

 

Die blindheid (v.39-41)

Ek weet van ‘n geval waar die toordokter vir ‘n vrou gesê het dat ‘n modderwater mengsel haar gesond sal maak, en dat sy nie ‘n ‘wit’ dokter moet sien nie. Sy het die toordokter se raad gevolg, nie hospistaal toe gegaan nie en gesterf.

 

Omdat die Fariseërs gedink het hulle kan sien, het hulle nie na Jesus toe gekom om van hulle blindheid genees te word nie. Juis daarom sou hulle in hulle sonde gesterf het.

 

Jesus het gekom om die wêreld te red, sodat dié wat geestelik blind is kan sien (v.39, 3:17, Mt.11:25b, Lk.4:18, 2 Kor.2:16). Die Fariseërs het hulleself egter onder sy oordeel geplaas, omdat hulle hulle oë vir die waarheid gesluit het (v.39, 3:18, 12:40, 38, Mt.11:25a, 2 Kor.2:16).  ‘Is ons ook blind?’ het hulle gevra (v.40, Rom.2:19).  Die feit dat hulle dit gevra het, het gewys dat hulle gedink het hulle is nie blind nie.  As hulle hulle blindheid erken het (Mt.15:14, 23:16-17, 19, 24, 26), sou hulle nie skuldig gewees het nie (v.41).  Maar omdat hulle gedink het hulle kan sien, het hulle nie hulle skuld erken nie en kon hulle nie vergewe word nie (v.41, 1 Jh.1:8-9).

 

Die genesing van die blinde man kon nie betwis word nie. En tog het die Fariseërs geweier om in Jesus te glo.  En so is dit wanneer iemand tot bekering kom.  Almal kan sien dat die persoon se lewe radikaal verander het.  En tog weier hulle om te erken dat Jesus die ware God is.  Hulle het allerhande verduidelikings vir hoekom die persoon verander het:  ‘Hy het godsdienstig geword… Hy het opgehou om sy pille te drink… Hy het besluit om sy sokkies op te trek… Hy het mal geword… Hy is gedetermineerd en het selfdissipline… Dit sal nie lank hou nie… ens.’

 

Tog weet hulle hoe sleg hy was voordat hy tot bekering gekom het. Hulle weet dat hy dikwels in ‘rehabs’ was, en dat hy nie verander het nie.  Hulle onthou hoe hy gedurig belowe het om te verander, maar dit nie gedoen het nie.  Hulle onthou hoe hy homself voorgeneem het om ‘n beter mens te wees, en elke keer misluk het.  Maar noudat sy lewe handomkeer verander het en so bly, skop hulle vas.  As hy gesê het dat dit die AA, sy nuwe meisie, oosterse meditasie, sy vasbeslotenheid of psigiatriese pille was wat sy lewe verander het, sou hulle dit geglo het.  Maar omdat dit Jesus is, weier hulle om dit te erken (v.26-27).

 

Selfs as daar vyftig ander persone is wat getuig dat die persoon verander het, sal hierdie mense nogsteeds nie in Jesus glo nie. Hulle sal die verskoning gebruik dat hulle eers nóg bewyse soek dat Jesus en sy Woord waar is (v.26-27).  Die waarheid is egter dat hulle klaar besluit het om nie in Hom te glo nie (v.22).  Hulle gee voor dat hulle die waarheid wil ken.  ‘n Buddhis in Nelspruit het vir my gesê:  ‘I’m looking for the truth.  If you can give me something better than I have, I’ll take it.’  Ek het gou agterkom dat hy nie na die waarheid soek nie.  Hy wou eintlik gehad het dat ek saam met hom moet sê dat Jesus en die Bybel stupid is (v.24).

 

Hierdie mense praat asof hulle vir ‘n feit weet dat Jesus nie die Messias en die Seun van God is nie. Hulle maak aantygings teen Hom wat hulle nie kan bewys nie (v.24, 8:46).  Hulle verwerp Hom uit die hand, maar in dieselfde asem roem hulle daarin dat hulle Hom nie ken nie (v.29).  Maar hoe kan jy ontken dat iemand die Seun van God is as jy nog nooit sy lewe in diepte en met ‘n oop gemoed bestudeer het nie?

 

Sodra jy hierdie mense in ‘n hoek dryf en hulle geen bewyse meer teen Jesus het nie, gebruik hulle emosionele argumente. Hulle sal jou uitlag en slegsê, omdat jy net ‘n ‘leek’ is (v.27-28, 34, Sp.9:7-8).  ‘Wie is jy in elk geval om teen geleerde wetenskaplikes soos Richard Dawkins en Stephen Hawking te stry?’ (v.34).  Hulle is soos die ouer ds. wat gesondig het en deur die jonger ds. aangespreek is.  Die ouer ds. het nie sy sonde erken nie, maar met veragting vir die jonger ds. gesê:  ‘Hoe oud is jy mannetjie?’

 

Moenie toelaat dat sulke mense se emosionele argumente jou afskrik nie. Nadat hulle soos ‘n drukpot stoom afgeblaas het, sal jy besef dat hulle nogsteeds nie die Bybel se bewyse oor Jesus weerlê het nie.  Hulle blaf is erger as hulle byt.

 

Moenie soos hulle wees nie. Glo in Jesus en aanbid Hom as jou Here en jou God (v.35-38).  Moenie dit wat voor die hand liggend is verwerp, omdat jy bang is vir mense se fronse nie (v.18-23).  Moet Hom ook nie verwerp omdat jy soos ‘n zombie agter voorvaderlike tradisie (v.16), jou eie vermoeë om te redeneer, die opinie van die meerderheid, die kultuur, ‘n boek wat deur mense geskryf is, ‘n teorie, dit wat deur een of ander filosoof of professor gesê is, ander godsdienste, of watookal anders aanloop nie.

 

Kan enige van hierdie dinge vir jou sê hoekom die dood so erg is en waar dit begin het? Kan dit vir jou sê hoekom ‘n mens se dood erger is as ‘n rot s’n?  Kan dit vir jou sê hoekom mense baie ver bo diere is; hoekom ons dit nie as moord beskou wanneer iemand ‘n skaap slag nie?  Kan dit vir jou sê hoekom mense nog altyd gevoel het dat moord, egbreuk, diefstal, jaloesie en leuens verkeerd is?  Kan dit vir jou sê hoekom daar soveel lyding in die wêreld is?  Kan dit vir jou sê wat die doel van die lewe is?  Kan dit vir jou sê hoekom die skepping ordelik is?  Die Bybel is instaat om al hierdie vrae realisties en sinvol te beantwoord.  Glo dan dat Jesus en sy Woord waar is.

 

Waar moet jy begin? Erken heel eerste dat jy geestelik blind is, want anders sal jy nie sien hoekom jy in Jesus moet glo nie (v.40).  Moenie jou oordeelsvermoeë vertrou nie.  Eintlik ken jy jouself baie slegter as wat jy dink.  Die mens se hart is bedriegliker as enigiets anders (Jer.17:9).  As jy geestelik blind is, sien ander mense dit gewoonlik voordat jy dit sien (v.40).  Vra dan vir die Here om jou oë oop te maak, sodat jy jou eie blindheid kan raaksien en kan besef dat jy Hom nodig het.  Vra dat Hy jou oë vir die waarheid van die evangelie sal oopmaak (Lk.24:45, Hd.16:14, 2 Kor.4:4, 6).  Erken en bely dat jy dit nie self kan doen nie, net soos wat die blinde man homself nie kon genees het nie.

 

Wanneer die Here jou oë oopmaak sal jy verstaan dat Hy jou sonde haat, maar dat Hy die straf vir jou sonde in sy dood ontvang het. Jy sal verstaan dat jy nog altyd net op Hom moes vertrou, en dat dit nie nodig was om jouself moeg te maak deur te probeer om jou redding te verdien nie.  Jy sal sien dat dit onnodig was om vir soveel jare jou skuld rond te dra, omdat jy al lankal na Hom toe kon kom om dit af te skryf.

 

Jy sal verstaan dat kerk nie ‘n plig is nie, maar ‘n vreugde omdat jy Hom kan prys, sy Woord kan hoor en ander kan dien. Vir die eerste keer sal jy regtig die Bybel verstaan.  Dit sal vir jou soos ‘n boek wees wat jy nog nooit gesien of gelees het nie.  Jy sal verstaan dat Jesus nie ‘n kwaai God is wat met ‘n sweep in sy hand staan as jy nie die reëls nakom nie, maar ‘n beste Vriend op wie jy kan staatmaak.  Jy sal verstaan dat gebed nie iets is wat jy doen wanneer jy goed wil hê nie, maar ‘n verhouding waarin jy met jou Vader praat.

 

Baie mense dink dat vlêrmuise blind is. Tog kan hulle redelik goed sien en gebruik hulle sonar of eggo’s om in die nag te vlieg.  Molle sien baie sleg, maar gebruik hulle neuse om hulle pad te vind.  Beide van hierdie diere is dus beter af as die blinde sondaar.  As die Here nie in die ongelowige se lewe ingryp nie, sal hy vir ewig soos die blinde bedelaar wees.  Maar as die Here hom red sal hy die lig van die lewe sien.  Dit sal vir hom voel of hy vir ‘n tweede keer lewe.

‘n Visioen van die hemel

Open door in heaven

Waaraan dink jy as jy aan die hemel dink? Wat is die eerste ding wat in jou gedagtes opkom?  ‘n Wasige en mistige beeld van engele met wit klere en vlerke?  ‘n Helder wit lig, sodat jy nie eintlik baie kan sien nie?  Mense wat vlerke het, op sagte wolke sit en op goue harpe speel?  ‘n Reuse familie-saamtrek wanneer jy jou afgestorwe familie en vriende sien?  Jesus met wit klere wat op ‘n goue troon sit?  ‘n Stad wat van suiwer goud gemaak is?  In Op.4:1-11 het ons ‘n akkurate beeld van wat eintlik in die hemel aangaan.

 

Wat het Johannes gesien? (v.1-8a)

Hoeveel Bybelkarakters het die hemel gesien voordat hulle dood is? Drie.  Wie was hulle?  Stefanus (Hd.7:55-56), Paulus (2 Kor.12:1-4), Johannes (Openbaring).  Tog is daar vandag baie charismate wat sê dat hulle hemel toe was en weer teruggekom het.  Paulus het sy hemelse ervaring stilgehou vir 14 jaar.  Wanneer jy egter na die charismate kyk, verkoop hulle boeke en DVD’s om geld te maak uit hulle ervarings.

 

Wat is die eerste ding wat Johannes in sy visioen gesien het? Die troon.  Die troon was sentraal.  Daar was allerhande wesens en aktiwiteite rondom die troon.  Twaalf keer in hierdie hoofstuk verwys Johannes na die troon.  Uit die 54 keer wat die woord ‘troon’ in die Nuwe Testament voorkom, is 42 in die boek Openbaring.

 

In moderne visioene van die hemel is die heilige God en sy troon nie sentraal nie – die mense en hulle ervarings is. Wanneer hulle wel van die Here praat, gebruik hulle nie vergelykings soos wat Johannes in v.3 gedoen het nie, maar hulle sê dat God blou is, dat Jesus ‘n bietjie oor die ses voet is, dat hulle saam met Jesus in die rivier van die lewe geswem het, ens.

 

In een getuienis sê die man dat hy helder ligte gesien het wat hom baie rustig en gelukkig laat voel het. Maande later het hy die Here begin dien.  Daar was nie sprake van bekering, geloof, Jesus se kruisdood of wedergeboorte nie.

 

Die mense wat daarin roem dat hulle hemel toe was se stories bots, wat weereens wys dat ons dit met ‘n knippie sout moet neem. Ook die feit dat hulle visioene nie teen Op.4-5 opmeet nie, wys vir ons dat daar ‘n slang in die gras is.  Kom ons bekyk Johannes se visioen van nader.  Wat het hy daar gesien?

 

[1] ‘n Oop deur (v.1). Deur sy kruisdood het Jesus die hemel se deur oopgemaak vir dié wat in Hom glo (v.1, 3:7-8, Mt.27:51, Jh.10:7, Heb.10:19-22).  Sy stem het soos ‘n trompet na Johannes toe geroep en hom genooi om in die hemel in te kom (v.1, 1:10, Eks.19:19-20).  Hy wou vir hom dinge gewys het wat volgens God se raadsplan in die nabye en verre toekoms moes plaasvind (v.1, 1:19, 1, 3, 22:6).

 

[2] God op die troon (v.2-3). Die Heilige Gees het hierdie visioen vir Johannes gewys (v.2, 1:10, Esg.8:3).  Voor enigiets anders het Johannes vir God op die troon gesien (v.2).  Die sentrale plek van die troon in hfst.4-5 wys vir ons dat God in beheer is, selfs wanneer dit in hfst.6 e.v. lyk of die kerk se vyande die laaste sê het (Dn.4:34-37, Ps.103:19, Jh.19:11).  Die hemelse hof het gereed gesit om hierdie vyande te oordeel (Dn.7:9-10).

 

Die Een wat op die troon gesit het, kon nie in menslike taal beskryf word nie, en daarom het Johannes vergelykings gebruik (v.3, 2 Kor.12:4). Hy het die rooi en rooi-oranje glans van jaspis en sardius edelstene gesien (v.3, 21:11, 18-20, Eks.28:17-21).  God se rykdom, skoonheid en majesteit was duidelik sigbaar.  Die reënboog rondom die troon het die glans van ‘n groen smaragsteen gehad (v.3, Esg.1:26-28) om te wys dat God, te midde van sy oordele, nogsteeds genadig is (Gn.9:12-17, Hab.3:2).

 

[3] Vier-en-twintig ouderlinge (v.4). Rondom die troon was daar 24 ander trone.  Party dink dat hulle die somtotaal van Israel se 12 stamme en die 12 apostels is, sodat hulle al God se kinders uit die Ou- en Nuwe Testamente voorstel (21:12-14).  Net soos wat Dawid die priesters in 24 groepe ingedeel het (1 Kron.24), is hier 24 ouderlinge.  Soos konings sit hulle op trone met goue krone op hulle koppe, en soos priesters het hulle wit klere aan om te wys dat hulle rein is (v.4, 3:4-5, 18, 21, 5:10, 6:11, 19:8, 20:4, 6, 1 Pt.2:9).

 

Maar in 7:9, 13-14 het die gelowiges wit klere aan, en word hulle van die ouderlinge onderskei. Om hierdie rede dink sommige dat die ouderlinge op hulle trone eintlik ‘n rangorde van engele is (Ef.1:21, 3:10, Kol.1:16, 1 Pt.3:22).

 

[4] ‘n Storm (v.5a). Weerlig en die gedreun van donderweer het gewys dat die storm van God se oordeel binnekort oor die kerk se vyande sou losbreek (v.5a, 8:5, 16:18).  In Eks.19:16 was daar weerlig en donderweer voordat God die ou verbond ingestel het.  In v.5a was daar weerlig en donderweer voordat God die tempel en die ou verbond finaal vernietig het om die nuwe verbond te vestig (Heb.8:13, 12:18-29).

 

[5] Die sewe Geeste (v.5b, 1:4, 3:1). Johannes het nie geglo dat daar sewe Heilige Geeste is nie (Jh.14:16-17), maar het probeer om te wys dat Hy die sewevoudige of volmaakte Gees van God is (Jes.11:2).  Die sewe gemeentes word met sewe kandelare vergelyk (1:19).  Die Heilige Gees is die vlam wat hierdie kandelare met sy Woord aansteek (1:19, 2:7, 11, 17, 29, 3:6, 13, 22).  Juis daarom word Hy met sewe vakkels vergelyk (v.5b, Hd.2:3).

 

[6] ‘n See van glas (v.6a, Eks.24:10, Esg.1:22). Die see was so helder soos kristal (v.6a, 21:18, 21), en het gelyk of dit met vuur gemeng is (15:2).  Deursigtige glas in Johannes se tyd was onbekostigbaar duur.  Volgens een legende het koning Salomo vloerwerk van deursigtige glas voor sy troon gehad.  Toe die koningin van Skeba dit sien het sy haar rok opgetel, omdat sy gedink het dit is water.[1]  Die verwysing na ‘n see van glas sê iets van God se rykdom.

 

Dit mag ook wees dat die see dieselfde is as die tempel se ‘see’ waarin die priesters hulleself gereinig het (1 Kon.7:23-26, 2 Kron.4:6). Indien dit die bedoeling is, dan wys v.6a dat ons rein moet wees voordat ons na God toe kan kom.

 

[7] Vier lewende wesens (v.6b-8a). Met enkele verskille word hierdie wesens ook in Esg.1 en 10 beskryf.  Dáár word hulle gerubs genoem.  Net soos wat hulle die boom van die lewe en die ark beskerm het (Gn.3:24, Eks.25:18), het hulle in v.6b die troon omring en beskerm.  Hulle is nie heeltemal dieselfde as engele nie (7:11).  Hulle baie oë (v.6, 8, Esg.1:18, 10:12) wys dat hulle baie dinge sien en weet.  Hulle is nie alwetend soos God nie, maar weet baie meer as mense.

 

Die eerste wese het soos ‘n leeu gelyk, om te wys dat gerubs sterk is (v.7). Die tweede een soos ‘n kalf of os het gewys dat hulle diensbaar is.  Die derde een soos ‘n mens het gewys dat hulle rasioneel en intelligent is.  Die vierde een soos ‘n arend het gewys dat hulle flink is om God se bevele uit te voer.

 

Soos die vlammende serafs in Jes.6:2, het die lewende wesens ses vlerke gehad (v.8). Voordat God Jerusalem en die tempel in 586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes het, het Esegiël hierdie wesens rondom die troon gesien.  En voordat God Jerusalem en die tempel in 70 n.C. deur die Romeine verwoes het, het Johannes ‘n soortgelyke visioen gesien.

 

Wat het Johannes gehoor? (v.8b-11)

Koos is ‘n doodgewone Suid-Afrikaanse boerseun uit die Vrystaat. Tydens sy oorsese vakansie in Europa het hy vir Angelina ontmoet.  Sy kom van Italië af en is die mooiste vrou wat hy in sy lewe gesien het.  Toe hy van sy vakansie af teruggekeer het, het hy gereeld vir haar geskryf.  Hy kon nie ophou om vir haar te sê hoe mooi sy is nie.  Van die môre tot die aand het hy vir ander mense van haar vertel, na ‘n foto van haar gekyk, en vir haar gesê dat sy die mooiste vrou in die wêreld is.

 

As Koos stomgeslaan is oor Angelina se skoonheid, en sy maar net ‘n skepsel is wat gaan oud word en doodgaan, wat sal jy nie sê wanneer jy die Here sien nie? Jy sal nie anders kan as om Hom te bewonder nie (2 Ts.1:10).  Sy heerlikheid en skoonheid is iets wat jy jou nie kan indink nie.  Wanneer jy dit sien sal jy verstaan hoekom die hemelse wesens in v.8b-11 nie anders kon as om Hom aanhoudend te prys nie.

 

[1] Die lewende wesens se lof (v.8b-9). Buiten dat hulle die troon beskerm het (v.6b), was dit hulle taak om die Here te prys (v.8, 5:8, 11-12, 14, 19:4) en sy oordele oor die aarde te roep (6:1-8, 15:7).  Soos die serafs in Jes.6:3, het hulle dag en nag uitgeroep dat God heilig, heilig, heilig is (v.8b).  Die lewende wesens kon beskryf word (v.7), maar die Here is uniek en afgesonder.  Sy heerlike glans kon beskryf word (v.3), maar in sy wese kon Johannes Hom nie beskryf nie.

 

Die ware mag het nie by die duiwel of die keiser van Rome gelê nie, maar by die soewereine, almagtige en heilige God (v.8b). Hy was, is en kom (v.8b, 1:4, 8).  Hy is onveranderlik, en sal weer kom om die wêreld te oordeel (v.8b).  Sy glansryke heerlikheid het die lewende wesens verblind, sodat hulle Hom vir sy heiligheid, ewigheid en soewereine heerskappy geëer en gedank het (v.9, Jes.6:2-3).

 

[2] Die ouderlinge se lof (v.10-11). Toe die lewende wesens God geprys het (v.8-9), het die ouderlinge ook in aanbidding voor Hom neergeval (v.10, 5:8-14, 11:16, 19:4).  Deur hulle goue krone (v.4) voor sy troon neer te werp, het hulle erken dat hulle heerskappy en gesag van Hom af kom (v.10).  Hulle het Hom geprys omdat net Hý waardig is (v.11, 5:2-4, 9).  Die heerlikheid, eer en krag is syne, omdat Hy die hemel, die aarde, die see en alles daarin gemaak het (v.11, Gn.1, Jh.1:2-3, Kol.1:16).  Dit het Hy nie gedoen omdat Hy eensaam of verveeld was nie.  Hy het dit vir sy eie eer, plesier, en volgens die raad van sy soewereine wil gedoen (v.11, Ef.1:11, Kol.1:17).

 

Indien jy iets oor die hemel wil weet hoef jy dit nie in mense se ervarings te soek nie. Jy kan dit uit Op.4-5, 21-22 kry.  Op.4-5 praat oor die hemel soos wat dit tans is, terwyl Op.21-22 die hemel of nuwe aarde ná Jesus se wederkoms beskryf.  Moet asseblief nie mense se ervarings bo die Bybel glo, sodat dít jou teologie van die hemel bepaal nie.  Jy moet aanvaar dat die Bybel alles sê wat jy nóú oor die hemel moet weet.

 

Vir nou wil ek net op Op.4 fokus. In hierdie hoofstuk leer ons dat God se troon oor alles en almal regeer.  Sy troon is sentraal.  ‘n Paar weke gelede was ek moedeloos oor die toestand van ons land en wêreld.  En as ek so voel, wonder ek hoe die Christene in Sirië en Saudi-Arabië moet voel.  Op.4 is daar om ons te bemoedig.  As jy Op.6-19 uit ‘n aardse perspektief lees, lyk dit of die duiwel, bose mense, en ‘moeder’ natuur soewerein is.  Maar as ons hierdie hoofstukke uit ‘n hemelse perspektief in die lig van hfst.4-5 lees, sien ons dat God op die troon is, en dat Hý in beheer is van alles.

 

God is in beheer wanneer dit lyk of die regering ons land in die afgrond inry. God is in beheer wanneer ons onseker is oor die toekoms.  God is in beheer wanneer Christene in die weste uitgelag word, en wanneer Christene in die ooste doodgemaak word.  God is in beheer wanneer evolusie, aborsie, gay huwelike, immoraliteit, terrorisme, misdaad, korrupsie, vals godsdienste, en onverdraagsaamheid teenoor Christene en die Bybel hoogty vier.

 

God is in beheer wanneer daar aardbewings, tsunamis, tornados, vloede en droogtes is. God is in beheer wanneer daar bose leiers is wat die wêreld wil oorneem.  God is in beheer wanneer die ekonomie op sy neus duik.  God is in beheer wanneer daar siektes uitbreek.  God is in beheer wanneer nasies teen mekaar oorlog voer.  God is in beheer wanneer mense doodgaan.  God is in beheer wanneer die regering vir Christene wil voorskryf wat hulle mag en nie mag doen nie, sodat die kerk onderdruk word.

 

Op.4 leer ook vir ons dat die hemel oor God se heerlikheid, heiligheid, skoonheid en majesteit gaan. Dit gaan nie hoofsaaklik oor ‘n lekker plek waar ons weer ons geliefdes gaan sien nie.  Dit is deel van die vreugde, maar primêr gaan dit oor die Here.  Die Puriteine het gesê:  ‘Without Christ, heaven would be hell to me.’

 

As jy nie ‘n aptyt vir God se heerlikheid het nie, dan verstaan jy dit nie. Jy moet onthou dat jou gunsteling dinge in die skepping (lekker kos, asemrowende natuur tonele, pragtige musiek, ryk vriendskappe, lieflike geure en aromas, kleure, ‘n warm bad), maar net ‘n skaduwee van God se heerlikheid is.  Moet dan nie net hemel toe wil gaan omdat jy nie hel toe wil gaan nie, maar omdat jy die volheid van God se heerlikheid wil ervaar en geniet (Jh.17:24).

 

Leer ook asseblief dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen mense en hemelse wesens is. Juanita du Plessis sing mooi, maar moet asseblief nie jou teologie oor die hemel by haar leer nie.  Haar liedjie In die hemel sê:  ‘Ek is nou in die hemel… Nou is ek die engel wat sy vlerke om jou hou’.  Jy word nie ‘n engel wanneer jy doodgaan nie.  Jy bly ‘n mens.  Engele is nie mense nie, en mense is nie engele nie.

 

Onthou ook dat Op.4 nie die finale hemel beskryf nie. Wanneer jy doodgaan bly jou liggaam agter en is jou siel volmaak (2 Kor.5:8, Heb.12:22-23).  Eers wanneer Jesus weer kom kry jy jou verheerlikte liggaam (1 Kor.15:35-55).  Dan sal die nuwe Jerusalem uit die hemel uit neerdaal, en sal Jesus die aarde nuut maak (Op.21).  As jy dus hemel toe gaan is dit nie die einde nie; daar is nog iets wat voorlê, iets om na uit te sien.  Op.4-5 is nie die einde nie.  Ons wag nog vir Op.21-22.  In die woorde van Douglas Wilson:  ‘Heaven is not my home, I’m just a passing through.’

 

Daar is ook ‘n les oor aanbidding in hierdie en die volgende hoofstuk. As sondelose hemelse wesens God aanbid en op hulle gesigte val wanneer hulle sy heerlikheid sien, kan ons nie laf wees wanneer ons die Here aanbid nie.  Wanneer ek Op.4-5 lees, verstaan ek nie hoe mense op en af spring, skreeu en soos Hindoes omval wanneer hulle die Here aanbid nie.  Ek verstaan nie hoe hulle liedjies sing wat dit laat klink asof die Here hulle kêrel of speelmaat is nie.  God is heilig.  Laat ons Hom dan met vrees, liefde, blydskap en eerbied aanbid (v.8b-11, Ps.2:11, Heb.12:28-29).

 

Vir nou is die belangrikste om seker te wees jy is oppad hemel toe. Moenie tevrede wees dat jy hemel toe gaan, omdat jy opreg is, in God glo, reg probeer lewe, gereeld bid, jou bes probeer en hoop vir die beste, of omdat jy goeie werke doen nie.  God het ‘n afsku daarin dat jy dink jy is goed genoeg om in sy heilige teenwoordigheid in te kom.  Selfs as jy net een sonde op jou rekord het, sal God jou nie in die hemel toelaat nie.  Jou leuens, hoogmoed, oneerlikheid, diefstal, selfsug, bitterheid, wellus, losbandigheid, verslawing, rebelsheid, skynheiligheid, bakleiery, jaloesie, kort humeur, eet totdat jy siek is, afgodery, begeerte om altyd eerste te wees, haat, begeerlikheid, roekeloosheid, en ander sondes is vir Hom afskuwelik.

 

Sê vir die Here dankie dat Hy bereid was om die straf vir jou sondige natuur, karakter en dade op Homself te neem aan die kruis. Vertrou dat net Hý jou sondige rekord kan skoonvee, en dat Hy die perfekte rekord van sy gehoorsaamheid vir jou sal gee as jy in Hom glo.  Bekeer jou van jou sonde en moenie op jouself, jou werke of enigiets anders staatmaak nie.  Jesus is jou enigste hoop om in die hemel te kom.  Vertrou op Hom – jy sal nie spyt wees nie.

 

Louis Brittz is nie my gunsteling sanger nie. Ek dink egter dat sy beskrywing van die hemel Bybels en akkuraat is:

In die hemel is die Heer

En Sy glans is soos kristal

Hy’s die Heilige van God

en Hy heers oor die heelal

Daar is mag in Sy woord

Soos die waters druis Sy stem

Soos die son op die see se blou

So die rykdom van Sy trou

En aan U is die mag

en die heerlikheid en krag

En aan U is die eer

en die lof want U regeer

Miljoene in gereedheid

Span die eng’le om Sy troon

Verbysterend Sy sieraad

en weelde van Sy kroon

Driemaal heilig is die Heer,

Hy wat was en is en kom.

Hy’s die Alfa en Omega,

Almagtig en verhewe

Aan Hom wat op die troon sit,

en aan die Lam,

die heerlikheid en lof

van nou af en vir ewig

U regeer in ons harte

U regeer oor die heelal

U regeer in ons lewens

U regeer bowenal

 

[1] Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.89

Is jy ‘n ware dissipel?

Are you a true disciple

Ons bediende het eenkeer vir my vrou gevra of ons wedergebore Christene is. My vrou het ja gesê.  Ons bediende het gesê dat hulle gewone Christene is, en dat hulle nie weergebore is nie.  Ander mense sê weer dat hulle Christene is, maar nie dissipels nie.

 

Maar volgens die Bybel is Christen, dissipel en weergebore persoon sinonieme terme. Jy kan nie een wees sonder dat jy ook die ander is nie.  Wanneer ek vra of jy ‘n ware dissipel is, vra ek eenvoudig of jy weergebore is, of jy ‘n Christen is.  Om die vraag te beantwoord moet jy jouself aan Jh.8:31-59 meet.

 

Waarin volhard jy (v.31-38)?

Oor ‘n tydperk van 14 jaar in die bediening het ek al met ware en valse dissipels te doen gekry.  Ware dissipels volhard in die Woord.  Hulle wil dit beter ken en probeer om dit toe te pas.  Hulle onderwerp hulle daaraan.  Hulle sit onder die gereelde prediking van die Woord.  Soos wat die maande in jare en dekades verander, groei hulle.  Hulle val partykeer, maar sak nie uit nie.  Hulle staan op en volhard.

 

Vals dissipels sit vir ‘n paar maande onder die Woord, maar sak dan uit. Jy moet hulle lek om by die kerk te wees, omdat hulle nie ‘n aptyt vir die Woord het nie.  Vir ander is die Woord in hulle koppe, maar nie in hulle harte nie:  hulle doen nie wat dit sê nie.  As jy na hulle lewens kyk is daar ‘n patroon van volhardende sonde.  Soos die Jode in v.31 het hulle ‘n vals geloof.

 

Dit is dié wat in die Woord volhard het, wat ware dissipels was (v.31, 30). Deur die Woord het hulle die waarheid leer ken (v.31-32, 17:17).  Hierdie waarheid het hulle vrygemaak, sodat hulle die duiwel se leuens kon uitken en dit nie vir soetkoek opeet nie (v.32).

 

Volgens die Jode was hulle Abraham se kinders; God se uitverkore volk (v.33). As hulle dan niemand se slawe was nie, was dit nie nodig om bevry te word nie (v.33).  Jesus het gewys dat hulle, soos die res van die mensdom, slawe van hulle sonde was (v.34).  Anders as ware dissipels wat in die Woord volhard het (v.31), het hulle in hulle sonde volhard (v.34).

 

Omdat die vals dissipel ‘n slaaf van sy sonde is (v.34), kan hy nie ‘n seun van God wees of die Koninkryk as erfdeel verkry nie (v.35). Soos Hagar en Ismael moet hy die huis verlaat (v.35, Gn.21:10, Gal.4:30).  Jesus is die Seun en daarom ook die erfgenaam van alles (v.36, Heb.1:2).  Hy het die mag om ons vry te maak en sy erfporsie met ons te deel (v.36).

 

Die Jode se moordlustige gedagtes teen Jesus het gewys dat hulle slawe van sonde is (v.37, 5:18, 7:1, 25, 30, 32, 44, 8:6, 59). Hulle natuurlike verwantskap met Abraham kon hulle nie red nie (v.37) – net Jesus kon (v.36).  Tog het hulle sy Woord nie in hulle harte ontvang nie (v.37), en so gewys dat hulle nie ware dissipels is nie (v.31-32).  Deur sy Woord te verwerp, het hulle die Vader verwerp by wie Hy dit gesien het (v.38).  Die Jode se bose vader het hulle aangehits om vir Jesus dood te maak en sy woorde te verwerp (v.38).

 

Moenie tevrede wees om te dat jy in Jesus glo nie, want miskien is jou geloof vals (v.31). Bewys dat jy in Hom glo deur in sy Woord te bly (v.31).  Om in sy Woord te bly beteken nie maar net dat jy dit hoor nie, maar dat jy ‘n dader van die Woord is (Mt.7:21, 26-27, Lk.6:46, Jk.1:22).  Sorg dan dat jy dit gedurig lees, hoor en doen wat daarin geskryf staan.  As jy dít doen, dan sal dit jou van die duiwel se leuens en versoeking bewaar (v.32).

 

Moet asseblief nie dink jy is ‘n dissipel, omdat jy ‘n godsdienstige erfenis het of omdat jou ouers gelowiges is nie (v.33). As jy dink dat jy op grond hiervan gered is, sal jy nie jou behoefte aan ‘n Verlosser sien nie (v.33).  As jy gered wil word, moet jy besef dat jy vas is in die boeie van jou sonde, want eers dán sal jy vir Jesus vra om jou vry te maak.

 

Dalk dink jy dat mense wat te veel drink, dwelms gebruik, rondslaap en pornografie kyk verslaaf is, en dat jy nie ‘n slaaf van jou sonde is nie. Maar volgens Jesus is elkeen wat in sonde lewe ‘n slaaf daarvan (v.34, Tit.3:3).  As jy deur iets oorwin word, is jy ‘n slaaf daarvan (v.34, 2 Pt.2:19).  Vir party mense is dit geld, vir ander is dit kos, vir ander is dit selfone en sosiale media, vir ander is dit…

 

Wie is jóú baas? Vir wie of wat lewe jy:  vir Jesus of vir jouself?  As jy ‘n slaaf van sonde is, moet jy nie dink dat jy jouself van hierdie harde meester se kettings kan vrymaak nie (v.34, Rm.6:15-23).  Net Jesus kan jou vrymaak (v.36).

 

As jy ‘n gelowige is, dan is jy vry en is Jesus jou baas (v.36). Sonde is nie meer jou baas nie, en daarom kán jy nee sê (Rm.6:14).  Om in hierdie vryheid te volhard moet jy in die Woord volhard (v.32).

 

Vir wie luister jy? (v.39-47)

Gestel jy lewe in die eerste eeu. Jy het iemand nodig om jou op die plaas te help.  Een Saterdag gaan jy na die slawemark in Rome toe.  Daar sien jy ‘n goed-geboude jong man.  Dit lyk of hy hard kan werk.

 

‘Wie se slaaf is jy?’ vra jy vir hom. ‘Ek is klaar gekoop,’ sê hy.  ‘Ek behoort aan daardie man met die rooi hemp en die bruin sandale,’ sê hy.  Jy wonder of hy die waarheid praat.  Jy staan terug en hou hom dop.  Vir wie luister hy?  Hy luister vir die man wat die slawe verkoop; die man met die groen hemp en swart sandale.  Hy het vir jou gelieg.

 

Die Jode het gesê dat God hulle Vader is, maar hulle het gelieg. Hulle het vir die duiwel geluister en hulle ore vir God se Woord toegestop.

 

Die Jode het gesê dat Abraham hulle vader is, maar hulle was verkeerd (v.39, Gal.3:7, 16). As hulle regtig sy kinders was, sou hulle (soos hy) hulle geloof in gehoorsame dade gewys het, en nie beplan het om vir Jesus dood te maak nie (v.40).  Hulle het geen rede gehad om Hom te wil doodmaak nie:  Hy het dan net vir hulle gesê wat Hy by God gehoor het (v.40).

 

Abraham het dít nie gedoen nie, en daarom was hulle nie sy kinders nie (v.40). Hulle het ‘n ander vader gehad (v.41).  Die Jode het gesê dat hulle nie uit geestelike of fisiese egbreuk gebore is nie (Hos.2:3, Mt.1:18-19), maar dat God hulle Vader is (v.41, Ps.89:28, Jes.9:5, 63:16, 64:8, Jer.3:19, Mal.2:10).

 

Maar as God regtig hulle Vader was, sou hulle vir Jesus liefgehad het en Hom nie wou doodmaak nie – Hy het immers van die Vader af gekom (v.42). As God regtig hulle Vader was, sou hulle nie sy Woord gehaat het nie (v.43, Jer.6:10).  Hulle sou die Woord aanvaar het wanneer dit hulle vertroos, maar ook wanneer dit hulle sonde uitwys (v.43).

 

Maar omdat hulle dit nie aanvaar het nie, maar vir Jesus wou doodmaak, het hulle gewys dat die duiwel hulle vader is (v.44). Hulle het die waarheid gehaat en was moordenaars soos hy.  Hy was van die begin af ‘n moordenaar, omdat hy in Adam en Eva die mensdom wou doodmaak.  Hy het ook vir Kain aangehits om vir Abel dood te maak (1 Jh.3:12).  Hy is die leuenaar wat vir Eva bedrieg het (Gn.3:4).  Daar is geen waarheid in hom nie (v.44, 32).  Om te lieg is vir hom so natuurlik soos asemhaal – dit pas by sy bose karakter (v.44).  Hy is die vader en oorsprong van alle leuens (v.44).

 

Anders as die Jode en die duiwel, het Jesus geen valsheid of sonde in Hom gehad nie (v.46, Jes.50:9). Hy het die waarheid gepraat (v.46), maar omdat daar leuens in hulle harte was, het hulle die waarheid gehaat en wou hulle dit nie glo nie (v.45-46).  So het hulle weer gewys dat hulle nie van God af is nie (v.47).  Net dié wat waarlik van God af was, kon Jesus se woorde aanvaar het (v.47, 18:37, 1 Jh.4:6).

 

Moenie sê dat God jou Vader is, as jy nie vir Jesus liefhet en doen wat Hy in die Bybel sê nie (v.41-42, Jh.14:15). Moenie sê dat God jou Vader is as die Bybel vir jou te hard is, sodat jy dit by jou voorkeure en omstandighede wil aanpas nie (v.43).  Moenie sê dat Hy jou Vader is as jy nie sy Woord liefhet, meer daarvan wil hoor, en doen wat dit sê nie (v.47).  Moenie sê Hy is jou Vader as jy sekere dele van die Bybel verwerp en sê dat dit maar net mense se opinies is nie (v.47).

 

Moenie sê dat Hy jou Vader is as jy leuens vertel, oordryf, en jou beloftes breek nie (v.44). Moenie sê dat Hy jou Vader is as Benny Hinn of ander vals leraars jou gunsteling predikers is nie (v.44).  Moenie sê dat Hy jou Vader is as jy vir kliënte lieg of oneerlik is nie (v.44).  Moenie sê dat Hy jou Vader is as jy mense haat, ‘n verbitterde mens is, ‘n onvergewensgesinde hart het, alewig baklei, en mense uit jou lewe probeer kry nie (v.44).

 

Jy is ‘n kind van die duiwel; hy is jou vader (v.44). Miskien klink dit vir jou te kras, maar volgens Jesus is daar nie ‘n grys gebied nie:  as jy nie ‘n kind van God en ‘n ware dissipel van Jesus is nie, is die duiwel jou vader (v.44).  Dit is nie net Sataniste wat kinders van die duiwel is nie.  Moslems, Hindoes, Jehova’s Getuies, ateïste, en mense van ander godsdienste is ook kinders van die duiwel, omdat hulle die ware Jesus van die Bybel verwerp.  Ook kerkmense wat nie vir Jesus opreg liefhet sodat hulle doen wat Hy sê nie, is kinders van die duiwel (v.44, 42, 27).

 

Is jy ‘n ware dissipel? Vir wie luister jy?  Luister jy vir die Bybel, totdat dit by die opvoeding van jou kinders, politiek, besigheid, die rol van die man en vrou in die huwelik, menseregte en jou seksualiteit kom?  Of gehoorsaam jy die Bybel in elke area van jou lewe?

 

Wie vereer jy? (v.48-59)

Ateïste sê dat hulle nie in God glo nie, maar die manier waarop hulle vir Darwin en sy evolusie-teorie vereer is niks anders as aanbidding nie. In Noord-Korea aanbid en vereer die volk hulle leier as ‘n tipe god.  In Jh.8 het die Jode vir Abraham bo Jesus verhef.  So het hulle gewys dat hulle nie ware dissipels van Jesus was nie, en dat hulle geloof vals was (v.31).

 

Die Jode het nie aanvaar dat hulle kinders van die duiwel is nie, maar het gesê dat Jesus ‘n demoon het (v.48, 7:20).  Hulle het die Samaritane gehaat (4:9), en het gesê dat Jesus een is (v.48).  Maar hoe kon iemand wat ‘n demoon in Hom gehad het, die Vader geëer het (v.49)?  Die Vader het Hóm ook geëer (v.50), al het die Jode dit nie gedoen nie (v.49, 5:23).  Die Vader is die Regter, en as Hý gesê het dat Jesus die Seun van God is, dan het die Jode se opinie nie veel saakgemaak nie (v.50).  Hulle het gesê dat Jesus ‘n demoon het (v.48), maar die Vader het gesê dat Jesus sy geliefde Seun is (Mt.3:17).

 

Omdat die Jode vir Jesus gelaster het, het hulle die Regter se oordeel verdien (v.50). Maar dié wat hulle bekeer het om Jesus se Woord te bewaar, sou nie die ewige dood gesmaak het nie (v.51).  Die Jode het weer gesê dat Jesus ‘n demoon het (v.52).  As selfs Abraham en die profete gesterf het (Sg.1:5), was Jesus mal om te sê dat dié wat sy Woord bewaar nie sal doodgaan nie (v.52-53).  ‘Wie dink Jesus ís Hy?’ het hulle gesê (v.53).

 

Hulle het nie verstaan dat Jesus van die ewige dood praat, dat Hy groter as Abraham en die profete was, en dat sy Vader Hom verheerlik het om die ewige lewe te gee aan dié wat in Hom glo nie (v.54, 17:1-2). Jesus het nie gelieg om te sê dat Hy van hierdie Vader af kom, dat Hy Hom ken, en dat Hy sy Woord bewaar nie (v.55).  Die Jode het Hom nie geken nie (v.55).

 

Hulle fisiese voorvader Abraham het uitgesien dat hy die Messias se dag sou sien (v.56). Hy het dit in Isak se geboorte, in geloof, en vanuit die hemel gesien, en hom daarin verbly (v.56, Heb.11:13).  Die Jode was nie soos Abraham nie, maar wou die Messias doodmaak (v.59).  Hulle het op grond van sy voorkoms besluit dat Hy nie die Messias kan wees nie, en het nie besef dat Hy die God van Abraham is nie (v.57-58, 15, 7:24, Eks.3:14, 6).  Alhoewel die Jode vir Jesus wou stenig was hulle onsuksesvol, omdat sy bepaalde tyd om te sterf nog nie aangebreek het nie (v.59, 20).

 

Eer jy vir Jesus? As jy nie aktief besig is om Hom met jou lewe te vereer nie, dan is jy niks beter as die Jode wat sy Naam gelaster het nie (v.48-49).  As die Vader Hom vereer het (v.49-50), hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie?  Verheerlik Hom deur jou lofprysing en gehoorsaamheid aan sy Woord (v.51).  Vereer Hom deur niemand bo Hom of op dieselfde vlak as Hy te plaas nie (v.52-53).

 

Ons mag nie praat asof engele ons hulp en verlossing is nie. Ons mag nie tot of deur hulle bid, en vra dat hulle ons help nie (Kol.2:18, Op.19:10).  Ons mag nie enige Ou- of Nuwe Testamentiese gelowige as ‘n sondelose karakter beskou, asof hulle lewe ‘n foutlose voorbeeld is om na te volg nie.  Ons mag nie enige gelowige in die geskiedenis op dieselfde vlak as die Bybel aanhaal, asof hulle nooit iets verkeerd gesê het nie (bv. Calvyn, Luther, Spurgeon, MacArhur).

 

Ons mag nie kerke se konstitusies of belydenisse bo of op dieselfde vlak as die Bybel plaas, of dit met dieselfde gesag as die Bybel aanhaal nie. Ons mag nie ons lewe volgens enige boek, filosofie of sisteem inrig nie, want daardeur vereer ons hierdie dinge bo Jesus se Woord.  Ons mag nie ‘n predikant vereer, asof alles wat hy sê so goed soos die Bybel self is nie.

 

Ons moet besef dat alle mense feilbaar is, en dat net Jesus volmaak is. Ons moet Hom alleen dien en aanbid as die God van Abraham, Luther en ander gelowiges (v.58).  Hy moenie ‘n plek in ons harte deel met enigiemand anders nie.  Moenie sê dat Hy ‘n goeie profeet of mens is, maar Hom nie aanbid nie.  Aanbid Hom as God, of sê saam met die Jode dat Hy ‘n demoon het en dat Hy gestenig moet word.

 

Soos jy goed weet sê baie mense op Facebook dat hulle Christene is. Op hulle Whatsapp en Facebook profiele deel hulle allerhande Christelike boodskappe.  Maar as jy na hulle lewens kyk, dan wonder jy of hulle die Here ken.  Hulle is godsdienstig en ken die Christelike ‘lingo’, maar weet nie regtig wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie.  Hoe lyk dit met jou?  Wat sê jou lewe en gehoorsaamheid aan die Bybel oor die ware stand van jou hart?  Is jy ‘n dissipel van Jesus, sodat jy die onderstaande woorde jou eie kan maak?

‘I am a part of the fellowship of the unashamed.

The die has been cast

I’ve stepped over the line

the decision has been made

I am a disciple of Jesus Christ.

I will not look back, let up, slow down, back away or be still.

My past is redeemed; my present makes sense; my future is secure.

I no longer need pre-eminence, prosperity, position, promotions, plaudits or popularity.

I don’t have to be right, first, tops, recognized, praised, regarded or rewarded.

I now live by faith, love by patience, live by prayer, and labour by power.

My pace is set, my gait is fast, my goal is heaven, my road is narrow, my way is rough, my companions few, my Guide reliable, my mission clear.

I cannot be bought, compromised, deterred, lured away, turned back, deluded or delayed.

I will not flinch in the face of sacrifice.

I will not hesitate in the presence of adversity.

I will not negotiate at the table of the enemy.

I will not ponder at the pool of popularity nor meander in the maze of mediocrity.

I will not give up, back up, let up, or shut up until I have prayed up, preached up, stored up, and stayed up the cause of Christ.

I am a disciple of Jesus Christ.

I must go until He returns, give until I drop, preach until all know, and work until He comes.

And when He comes to get his own, He will have no trouble recognizing me.

My colours are flying high and they are clear for all to see.

I am a disciple of Jesus Christ.’