Hoe moet jy reageer op jou redding?

Upstream

As iemand op iets versot is, dan sê ons dat hy dit eet, drink en slaap: sport, karre, tuinmaak, meisies, diere, rekenaars, fietsry, of watookal anders.  Volgens Paulus in Rm.12:1 moet elke Christen die aanbidding van God eet, drink en slaap.  Dit moet vir hom alles wees.  Dit moet die bril wees waardeur hy na die lewe kyk.

 

Verstaan dit

Ek is seker dat baie van my hoorders en lesers die film Fireproof gesien het.  Dit gaan basies oor ‘n huwelik wat uitmekaar uit val.  Die man en vrou baklei aanhoudend.  Die vrou se hart raak koud, sodat sy niks meer vir haar man voel nie.

 

‘n Sekere dokter wat saam met haar by die hospitaal werk wen haar hart deur vriendelik met haar te wees. Hy hoor dat haar ma ‘n beroerte gehad het, en dra dan $300 by vir die spesiale bed en rolstoel wat sy nodig het (die bed en rolstoel kos $24 300).

 

Die ontvangsdame sê vir die vrou dat ‘n sekere man daar aangekom het om hiervoor te betaal. Die vrou neem aan dat dit die dokter is, en sê dan vir hom watse goeie man hy is (vgl. Hos.2:5, 8).  Hy sê vir haar dat dit glad nie moeite was om iemand so spesiaal soos sý te help nie.

 

Êrens in die film kom die man tot bekering. Hy begin om anders teenoor sy vrou op te tree.  Sy merk dit op en weet nie hoekom hy verander het nie.  Hy sê vir haar dat die Here hom gered het, bely dat hy teen haar gesondig het, en vra mooi dat sy hom moet vergewe.  Sy sê dat sy tyd nodig het om daaroor te dink.  En dan kom die keerpunt.

 

Die vrou gaan hospitaal toe om linne vir haar ma se nuwe bed te koop. Die gesprek het so iets geklink:

 

Vrou: Dis net die linne waarvoor die dokter nie betaal het toe hy my ma se nuwe bed en rolstoel gekoop het nie.

 

Ontvangsdame: Die dokter?  Hý het dit nie betaal nie.

 

Vrou: Nee, hy het; ek het met hom daaroor gepraat.

 

Ontvangsdame: Nee, die dokter het net $300 van die totale bedrag betaal.

 

Vrou: Wie het dan die res van die geld gegee?

 

Ontvangsdame: Jou man.  Hy het twee weke gelede gebel en $24 000 betaal (die geld wat hy opgespaar het om vir hom ‘n nuwe boot te koop).

 

Hierdie nuus het die vrou se hart gesmelt. Sy het teruggegaan na haar man toe, en gesê dat sy dinge met hom en met die Here wil regmaak.

 

Toe sy gedink het dat die dokter die geld betaal het, het sy nie in liefde teenoor haar man gereageer nie. Maar toe sy tot die besef kom dat haar man die geld betaal het, het sy in liefde gereageer.

 

Jy moet God se groot ontferming in verlossing verstaan, voordat jy in liefdevolle en dankbare toewyding sal reageer.  Is dit nie wat die ‘dan’ of ‘daarom’ in v.1 beteken nie?  Dit is asof die apostel sê:  ‘Omdat jy dan die verlossing van hfst.1-11 ervaar het, moet jy jouself aan die Here toewy en volgens hfst.12 e.v. lewe.’  Anders gestel:  “Ek vermaan julle… by die ontferminge van God [hfst.1-11], dat julle jul liggame stel [hfst.12-16]…” (v.1).

 

Die persoon wat nie volgens v.1 en die res van hfst.12-16 lewe nie, het nog nie eintlik hfst.1-11 verstaan en ervaar nie. Laat my toe om dit vir jou te verduidelik, sodat jy op ‘n gepaste wyse kan reageer.

 

Alle mense weet dat God die wêreld geskep het (1:20). Olifante en donderstorms bewys sy krag (1:20).  Die uniekheid van die mens is ‘n refleksie van sy beeld (1:20).  Sonskyn en reën wys vir ons dat Hy goed is.  ‘n Swaeltjie se migrasie-sisteem sê vir ons dat Hy wys is.  Die simmetrie van ‘n blaar en die orde van ‘n bye nes wys iets van die Skepper se netheid en orde.

 

Tog lewe mense in afgodery, seksuele wellus, homoseksualiteit, jaloesie, moord, twis, leuens, kwaadpratery, hoogmoed, disrespek vir gesag, roekeloosheid, ontrouheid en baie ander sondes, asof daar nie ‘n God is nie (1:18-32). God se wet en ons gewetens sê vir ons dat dit verkeerd is om so te lewe (2:14-15).

 

Dié wie Bybels het is nie veel beter af nie, want alhoewel hulle God se wil ken, doen hulle dit nie (2:1).  Hulle is skynheilig, omdat hulle vir ander sê om nie te steel en egbreuk te pleeg nie, terwyl hulle dit self doen (2:21-22).  Hulle roem daarin dat hulle moreel en godsdienstig is (2:17-20), maar diep in hulle harte is hulle boos (3:10-18).

 

Omdat ons só teen God gesondig het, verdien ons om geoordeel te word (3:19). Maar uit sy liefde vir sondaars het Hy aarde toe gekom om namens ons die wet volmaak te onderhou, en daarna die straf te kry asof dit Hý is wat hierdie lelike dinge gedoen het (3:25).  A.g.v. ons sonde het die Vader die swaard van sy toorn getrek om die Seun te deurboor (Jes.53:4-6, 10).

 

Sy ontferming oor hulpelose en verlore sondaars het gemaak dat Hy bereid was om bloed te sweet en benoud te wees, om verlaat, gevloek, geslaan, gespot, verneder, gekruisig en gestraf te word. In sy dood was Hy bereid om die beker van God se toorn te drink (die beker wat vir ons bedoel was), sodat Hy aan die kruis uitgeroep het:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mt.27:46).

 

In sy groot ontferming het God ons deur geloof in sy Seun regverdig en onskuldig verklaar (3:21-4:25). Op grond van Jesus se kruisdood het Hy ons sonde vergewe, sodat ons nie meer ‘n skuldige rekord voor die Vader het nie.  Hy het ons vrygemaak, sodat die sonde nie meer ons baas is nie (6:1-7:6).  Hy het sy Gees in ons harte gegee, sodat ons nou instaat is om ‘nee’ te sê vir sonde (8:7-9, 13).

 

Die Gees tree ook vir ons in, werk alles uit tot ons voordeel, maak ons soos Jesus, en help ons om die volle skopus van God se verlossing te ervaar: uitverkiesing, voorbeskikking om soos Jesus te wees, roeping, weergeboorte, geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming tot kinders, vergifnis, heiligmaking, verheerliking, die ewige lewe (hfst.3-11).  Ons aanbid die God van ontferminge (2 Kor.1:3).  Sy ontferminge, medelye, barmhartighede, goedertierenhede, en deernis is inderdaad oorvloedig, veelvoudig en sonder einde (v.1, Klg.3:22).

 

Leef dit

Toe ek 18 was het ek saam met ‘n Ou Apostel gewerk. Sy het eendag vir my gesê dat die mens se liggaam niks is nie, en dat die siel alleen belangrik is.  Juis daarom het dit vir haar nie saakgemaak of sy rook, vloek, dronk word, en rondslaap nie.

 

Hierdie idee kom van die Grieke af. In hulle gedagtes was die liggaam net ‘n hok waarin die siel vasgevang was.  Wat ‘n mens met die hok doen maak nie saak nie; solank die voëltjie wat binne die hok is mooi sing.  Volgens Paulus is dit nie hoe Christene dink nie.

 

Jesus het gesterf om jou siel en jou liggaam te verlos (v.1-2, 6:12-13, 19, Lk.10:27).  Jou liggaam is nie joune om daarmee te maak wat jy wil nie, maar dit behoort aan die Here (v.1, 1 Kor.6:19-20).  As jy dit vir jouself gebruik, dan steel jy wat geregtiglik aan God behoort.

 

Voorheen het ons ons liggame gebruik om teen die Here te sondig (3:13-18, Sp.6:16-19). Ons tonge het gelieg, gelaster, gevloek, en geskinder.  Ons oë en ore het na lelike dinge gekyk en geluister.  Ons hande het gesteel, geslaan, moord gepleeg, en lelike tekens vir mense gewys.  Ons voete het na plekke toe gehardloop waar ons nie veronderstel was om te wees nie.  Ons het ons liggame gebruik om losbandig en verslaaf te wees.

 

Noudat die Here ons gered het, moet ons ons liggame as ‘n heilige offer voor Hom stel (net soos wat Jesus dit gedoen het, vgl. Heb.10:5). In ons lewe en dood moet ons die Here met ons liggame verheerlik (Fil.1:20).  Ons lippe en tonge moet Hom prys (Heb.13:15), ander bemoedig, die evangelie verkondig, bid, en ander mense opbou.  Ons ore moet na sy Woord luister.

 

Ons oë moet die skepping geniet, sy Woord te lees, en uitkyk vir ander mense se behoeftes. Ons hande moet uitdeel (Heb.13:16) en dié wat swaarkry met deernis aanraak.  Ons voete moet na ons huise, gemeentes, en plekke toe loop waar ons ander kan dien.  Ons liggame moet rein wees en die kos geniet wat die Here vir ons gee.

 

Paulus sê eksplisiet dat ons ons liggame as ‘n lewende offer vir die Here moet gee.  In die Ou Testament moes hulle die dooie offers van skape, bokke en beeste bring.  Jesus het Homself in sy dood aan die Vader geoffer.  Maar Hy het weer opgestaan.  Omdat ons saam met Hom gesterf het en opgewek is (6:3-4, 6, 8), moet ons ons liggame as ‘n lewende offer vir die Here gee (v.1).  Ons moet ons lewens aan Hom wy.  Moet dan nie net ‘n offer vir die Here gee nie, maar wees een.[1]

 

Ek het reeds gesê dat ons liggame ‘n heilige offer moet wees (v.1).  Om heilig te wees beteken dat jy jouself van die wêreld afsonder om vir die Here te lewe (v.2, 1 Jh.2:15-16).  Ons moet anders as die wêreld dink en doen (v.1-2).  Ons moet anders wees in hoe ons mekaar dien (v.3-8), in wat ons haat en liefhet (v.9), in dit waarvoor ons ywerig is (v.11), in die manier waarop ons swaarkry hanteer (v.12), in die wyse waarop ons ons geld en besittings gebruik (v.13), in ons optrede teenoor ons vyande (v.14-21), in ons houding teenoor die regering en die wette wat hulle daarstel (13:1-7), in die manier waarop ons saamwerk met dié wat nie op elke punt met ons saamstem nie (hfst.14-15), ens.

 

Net dié wat só lewe kan vir die Here aanneemlik wees (v.1). Dié wat onheilig is, is vir die Here soos ‘n blinde of ‘n gebreklike lam – Hy soek dit nie.  Hy wil hê dat ons deur Jesus se volmaakte offer gereinig moet wees, en dat ons deur die krag van die Heilige Gees soos Jesus moet lewe (1 Jh.1:7, 2:6).  Soos alles in die skepping, moet ook ons nuwe lewe uit Hom, deur Hom en tot Hom wees (11:36).

 

Om jou liggaam en jou hele self só aan die Here te wy is mos net redelik, rasioneel en logies [v.1, Gk. logikos].  Om in ongehoorsaamheid te lewe nadat die Here jou gered het, is onredelik en ondankbaar.  Volgens die Griekse teks sê Paulus ook dat jy jou liggaam as ‘n ‘geestelike’ offer vir die Here moet gee (in kontras met fisiese offers van die Ou Testament).  Die implikasie is dat jy nie ‘n geestelike lewe en ‘n gewone lewe het nie, en dat Christenskap nie ‘n deel van jou lewe is nie.  Jou hele lewe is geestelik; Christenskap is jou lewe.

 

Dít is ware godsdiens of aanbidding (v.1, Gk. latreia).  Die ware gelowige dien nie maar net die Here vir ‘n uur of twee op ‘n Sondag, of met ‘n tiende van sy inkomste nie.  Vir hom is aanbidding nooit minder as ‘n erediens, die samekoms van die gelowiges, lofgesange, die sakramente of ordinansies, die Woord van God en gebed nie.  Maar dit is baie meer as dit.

 

Sy lewe en alles wat hy het behoort 24 uur per dag, 7 dae ‘n week aan die Here. Alles wat hy doen is godsdiens of aanbidding (v.1).  Sulke alledaagse dinge soos eet en drink doen hy om die Here te verheerlik (1 Kor.10:31).  Hy besef dat ook ‘n eerlike transaksie, goeie maniere op die pad, gehoorsaamheid aan jou ouers, harde werk, vredevolle verhoudings, skottelgoed was en met jou kinders speel aanbidding is.

 

Wel, dit is hoe dit behoort te wees. Dit kan nie anders as ons die ontferminge van God se groot en ryk verlossing verstaan en ervaar het nie (v.1).  ‘Love so amazing, so divine, demands my soul, my life, my all.’ (Isaac Watts).  Saam met Paulus wil ek jou nader roep [Gk. parakaleo], jou smeek, by jou pleit en jou vermaan om jouself en jou liggaam só vir die Here te gee (v.1).

 

Ek het onlangs ‘n bespreking oor die eindtyd op YouTube gekyk. Een van die sprekers het gesê dat hy gedurende sy kinderjare bang was om hemel toe te gaan.  Hy kon hom indink hoe dit sou wees om vir ewig rond te sweef en te sing nie.  Toe ek in matriek was het ek dieselfde vrees gehad.

 

Ek hoop dat Rm.12:1 jou ten minste van drie dinge oortuig het:

 

[1] Dat Jesus ook jou liggaam verlos het, sodat jy nie vir ewig gaan rondsweef nie (vgl. 8:23).

 

[2] Dat jou hele lewe aanbidding is, sodat jy nie net vir ewig gaan sing nie, maar baie ander dinge tot eer van die Here gaan doen.

 

[3] Dat lofsprysing vir jou so natuurlik en spontaan soos asemhaling gaan wees, omdat jy nie anders kán as jy regtig verstaan wat Jesus vir jou gedoen het nie.

 

[1] Stuart Olyott, The Gospel As It Really Is, p.113

Advertisements