‘n Visioen van die hemel

Open door in heaven

Waaraan dink jy as jy aan die hemel dink? Wat is die eerste ding wat in jou gedagtes opkom?  ‘n Wasige en mistige beeld van engele met wit klere en vlerke?  ‘n Helder wit lig, sodat jy nie eintlik baie kan sien nie?  Mense wat vlerke het, op sagte wolke sit en op goue harpe speel?  ‘n Reuse familie-saamtrek wanneer jy jou afgestorwe familie en vriende sien?  Jesus met wit klere wat op ‘n goue troon sit?  ‘n Stad wat van suiwer goud gemaak is?  In Op.4:1-11 het ons ‘n akkurate beeld van wat eintlik in die hemel aangaan.

 

Wat het Johannes gesien? (v.1-8a)

Hoeveel Bybelkarakters het die hemel gesien voordat hulle dood is? Drie.  Wie was hulle?  Stefanus (Hd.7:55-56), Paulus (2 Kor.12:1-4), Johannes (Openbaring).  Tog is daar vandag baie charismate wat sê dat hulle hemel toe was en weer teruggekom het.  Paulus het sy hemelse ervaring stilgehou vir 14 jaar.  Wanneer jy egter na die charismate kyk, verkoop hulle boeke en DVD’s om geld te maak uit hulle ervarings.

 

Wat is die eerste ding wat Johannes in sy visioen gesien het? Die troon.  Die troon was sentraal.  Daar was allerhande wesens en aktiwiteite rondom die troon.  Twaalf keer in hierdie hoofstuk verwys Johannes na die troon.  Uit die 54 keer wat die woord ‘troon’ in die Nuwe Testament voorkom, is 42 in die boek Openbaring.

 

In moderne visioene van die hemel is die heilige God en sy troon nie sentraal nie – die mense en hulle ervarings is. Wanneer hulle wel van die Here praat, gebruik hulle nie vergelykings soos wat Johannes in v.3 gedoen het nie, maar hulle sê dat God blou is, dat Jesus ‘n bietjie oor die ses voet is, dat hulle saam met Jesus in die rivier van die lewe geswem het, ens.

 

In een getuienis sê die man dat hy helder ligte gesien het wat hom baie rustig en gelukkig laat voel het. Maande later het hy die Here begin dien.  Daar was nie sprake van bekering, geloof, Jesus se kruisdood of wedergeboorte nie.

 

Die mense wat daarin roem dat hulle hemel toe was se stories bots, wat weereens wys dat ons dit met ‘n knippie sout moet neem. Ook die feit dat hulle visioene nie teen Op.4-5 opmeet nie, wys vir ons dat daar ‘n slang in die gras is.  Kom ons bekyk Johannes se visioen van nader.  Wat het hy daar gesien?

 

[1] ‘n Oop deur (v.1). Deur sy kruisdood het Jesus die hemel se deur oopgemaak vir dié wat in Hom glo (v.1, 3:7-8, Mt.27:51, Jh.10:7, Heb.10:19-22).  Sy stem het soos ‘n trompet na Johannes toe geroep en hom genooi om in die hemel in te kom (v.1, 1:10, Eks.19:19-20).  Hy wou vir hom dinge gewys het wat volgens God se raadsplan in die nabye en verre toekoms moes plaasvind (v.1, 1:19, 1, 3, 22:6).

 

[2] God op die troon (v.2-3). Die Heilige Gees het hierdie visioen vir Johannes gewys (v.2, 1:10, Esg.8:3).  Voor enigiets anders het Johannes vir God op die troon gesien (v.2).  Die sentrale plek van die troon in hfst.4-5 wys vir ons dat God in beheer is, selfs wanneer dit in hfst.6 e.v. lyk of die kerk se vyande die laaste sê het (Dn.4:34-37, Ps.103:19, Jh.19:11).  Die hemelse hof het gereed gesit om hierdie vyande te oordeel (Dn.7:9-10).

 

Die Een wat op die troon gesit het, kon nie in menslike taal beskryf word nie, en daarom het Johannes vergelykings gebruik (v.3, 2 Kor.12:4). Hy het die rooi en rooi-oranje glans van jaspis en sardius edelstene gesien (v.3, 21:11, 18-20, Eks.28:17-21).  God se rykdom, skoonheid en majesteit was duidelik sigbaar.  Die reënboog rondom die troon het die glans van ‘n groen smaragsteen gehad (v.3, Esg.1:26-28) om te wys dat God, te midde van sy oordele, nogsteeds genadig is (Gn.9:12-17, Hab.3:2).

 

[3] Vier-en-twintig ouderlinge (v.4). Rondom die troon was daar 24 ander trone.  Party dink dat hulle die somtotaal van Israel se 12 stamme en die 12 apostels is, sodat hulle al God se kinders uit die Ou- en Nuwe Testamente voorstel (21:12-14).  Net soos wat Dawid die priesters in 24 groepe ingedeel het (1 Kron.24), is hier 24 ouderlinge.  Soos konings sit hulle op trone met goue krone op hulle koppe, en soos priesters het hulle wit klere aan om te wys dat hulle rein is (v.4, 3:4-5, 18, 21, 5:10, 6:11, 19:8, 20:4, 6, 1 Pt.2:9).

 

Maar in 7:9, 13-14 het die gelowiges wit klere aan, en word hulle van die ouderlinge onderskei. Om hierdie rede dink sommige dat die ouderlinge op hulle trone eintlik ‘n rangorde van engele is (Ef.1:21, 3:10, Kol.1:16, 1 Pt.3:22).

 

[4] ‘n Storm (v.5a). Weerlig en die gedreun van donderweer het gewys dat die storm van God se oordeel binnekort oor die kerk se vyande sou losbreek (v.5a, 8:5, 16:18).  In Eks.19:16 was daar weerlig en donderweer voordat God die ou verbond ingestel het.  In v.5a was daar weerlig en donderweer voordat God die tempel en die ou verbond finaal vernietig het om die nuwe verbond te vestig (Heb.8:13, 12:18-29).

 

[5] Die sewe Geeste (v.5b, 1:4, 3:1). Johannes het nie geglo dat daar sewe Heilige Geeste is nie (Jh.14:16-17), maar het probeer om te wys dat Hy die sewevoudige of volmaakte Gees van God is (Jes.11:2).  Die sewe gemeentes word met sewe kandelare vergelyk (1:19).  Die Heilige Gees is die vlam wat hierdie kandelare met sy Woord aansteek (1:19, 2:7, 11, 17, 29, 3:6, 13, 22).  Juis daarom word Hy met sewe vakkels vergelyk (v.5b, Hd.2:3).

 

[6] ‘n See van glas (v.6a, Eks.24:10, Esg.1:22). Die see was so helder soos kristal (v.6a, 21:18, 21), en het gelyk of dit met vuur gemeng is (15:2).  Deursigtige glas in Johannes se tyd was onbekostigbaar duur.  Volgens een legende het koning Salomo vloerwerk van deursigtige glas voor sy troon gehad.  Toe die koningin van Skeba dit sien het sy haar rok opgetel, omdat sy gedink het dit is water.[1]  Die verwysing na ‘n see van glas sê iets van God se rykdom.

 

Dit mag ook wees dat die see dieselfde is as die tempel se ‘see’ waarin die priesters hulleself gereinig het (1 Kon.7:23-26, 2 Kron.4:6). Indien dit die bedoeling is, dan wys v.6a dat ons rein moet wees voordat ons na God toe kan kom.

 

[7] Vier lewende wesens (v.6b-8a). Met enkele verskille word hierdie wesens ook in Esg.1 en 10 beskryf.  Dáár word hulle gerubs genoem.  Net soos wat hulle die boom van die lewe en die ark beskerm het (Gn.3:24, Eks.25:18), het hulle in v.6b die troon omring en beskerm.  Hulle is nie heeltemal dieselfde as engele nie (7:11).  Hulle baie oë (v.6, 8, Esg.1:18, 10:12) wys dat hulle baie dinge sien en weet.  Hulle is nie alwetend soos God nie, maar weet baie meer as mense.

 

Die eerste wese het soos ‘n leeu gelyk, om te wys dat gerubs sterk is (v.7). Die tweede een soos ‘n kalf of os het gewys dat hulle diensbaar is.  Die derde een soos ‘n mens het gewys dat hulle rasioneel en intelligent is.  Die vierde een soos ‘n arend het gewys dat hulle flink is om God se bevele uit te voer.

 

Soos die vlammende serafs in Jes.6:2, het die lewende wesens ses vlerke gehad (v.8). Voordat God Jerusalem en die tempel in 586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes het, het Esegiël hierdie wesens rondom die troon gesien.  En voordat God Jerusalem en die tempel in 70 n.C. deur die Romeine verwoes het, het Johannes ‘n soortgelyke visioen gesien.

 

Wat het Johannes gehoor? (v.8b-11)

Koos is ‘n doodgewone Suid-Afrikaanse boerseun uit die Vrystaat. Tydens sy oorsese vakansie in Europa het hy vir Angelina ontmoet.  Sy kom van Italië af en is die mooiste vrou wat hy in sy lewe gesien het.  Toe hy van sy vakansie af teruggekeer het, het hy gereeld vir haar geskryf.  Hy kon nie ophou om vir haar te sê hoe mooi sy is nie.  Van die môre tot die aand het hy vir ander mense van haar vertel, na ‘n foto van haar gekyk, en vir haar gesê dat sy die mooiste vrou in die wêreld is.

 

As Koos stomgeslaan is oor Angelina se skoonheid, en sy maar net ‘n skepsel is wat gaan oud word en doodgaan, wat sal jy nie sê wanneer jy die Here sien nie? Jy sal nie anders kan as om Hom te bewonder nie (2 Ts.1:10).  Sy heerlikheid en skoonheid is iets wat jy jou nie kan indink nie.  Wanneer jy dit sien sal jy verstaan hoekom die hemelse wesens in v.8b-11 nie anders kon as om Hom aanhoudend te prys nie.

 

[1] Die lewende wesens se lof (v.8b-9). Buiten dat hulle die troon beskerm het (v.6b), was dit hulle taak om die Here te prys (v.8, 5:8, 11-12, 14, 19:4) en sy oordele oor die aarde te roep (6:1-8, 15:7).  Soos die serafs in Jes.6:3, het hulle dag en nag uitgeroep dat God heilig, heilig, heilig is (v.8b).  Die lewende wesens kon beskryf word (v.7), maar die Here is uniek en afgesonder.  Sy heerlike glans kon beskryf word (v.3), maar in sy wese kon Johannes Hom nie beskryf nie.

 

Die ware mag het nie by die duiwel of die keiser van Rome gelê nie, maar by die soewereine, almagtige en heilige God (v.8b). Hy was, is en kom (v.8b, 1:4, 8).  Hy is onveranderlik, en sal weer kom om die wêreld te oordeel (v.8b).  Sy glansryke heerlikheid het die lewende wesens verblind, sodat hulle Hom vir sy heiligheid, ewigheid en soewereine heerskappy geëer en gedank het (v.9, Jes.6:2-3).

 

[2] Die ouderlinge se lof (v.10-11). Toe die lewende wesens God geprys het (v.8-9), het die ouderlinge ook in aanbidding voor Hom neergeval (v.10, 5:8-14, 11:16, 19:4).  Deur hulle goue krone (v.4) voor sy troon neer te werp, het hulle erken dat hulle heerskappy en gesag van Hom af kom (v.10).  Hulle het Hom geprys omdat net Hý waardig is (v.11, 5:2-4, 9).  Die heerlikheid, eer en krag is syne, omdat Hy die hemel, die aarde, die see en alles daarin gemaak het (v.11, Gn.1, Jh.1:2-3, Kol.1:16).  Dit het Hy nie gedoen omdat Hy eensaam of verveeld was nie.  Hy het dit vir sy eie eer, plesier, en volgens die raad van sy soewereine wil gedoen (v.11, Ef.1:11, Kol.1:17).

 

Indien jy iets oor die hemel wil weet hoef jy dit nie in mense se ervarings te soek nie. Jy kan dit uit Op.4-5, 21-22 kry.  Op.4-5 praat oor die hemel soos wat dit tans is, terwyl Op.21-22 die hemel of nuwe aarde ná Jesus se wederkoms beskryf.  Moet asseblief nie mense se ervarings bo die Bybel glo, sodat dít jou teologie van die hemel bepaal nie.  Jy moet aanvaar dat die Bybel alles sê wat jy nóú oor die hemel moet weet.

 

Vir nou wil ek net op Op.4 fokus. In hierdie hoofstuk leer ons dat God se troon oor alles en almal regeer.  Sy troon is sentraal.  ‘n Paar weke gelede was ek moedeloos oor die toestand van ons land en wêreld.  En as ek so voel, wonder ek hoe die Christene in Sirië en Saudi-Arabië moet voel.  Op.4 is daar om ons te bemoedig.  As jy Op.6-19 uit ‘n aardse perspektief lees, lyk dit of die duiwel, bose mense, en ‘moeder’ natuur soewerein is.  Maar as ons hierdie hoofstukke uit ‘n hemelse perspektief in die lig van hfst.4-5 lees, sien ons dat God op die troon is, en dat Hý in beheer is van alles.

 

God is in beheer wanneer dit lyk of die regering ons land in die afgrond inry. God is in beheer wanneer ons onseker is oor die toekoms.  God is in beheer wanneer Christene in die weste uitgelag word, en wanneer Christene in die ooste doodgemaak word.  God is in beheer wanneer evolusie, aborsie, gay huwelike, immoraliteit, terrorisme, misdaad, korrupsie, vals godsdienste, en onverdraagsaamheid teenoor Christene en die Bybel hoogty vier.

 

God is in beheer wanneer daar aardbewings, tsunamis, tornados, vloede en droogtes is. God is in beheer wanneer daar bose leiers is wat die wêreld wil oorneem.  God is in beheer wanneer die ekonomie op sy neus duik.  God is in beheer wanneer daar siektes uitbreek.  God is in beheer wanneer nasies teen mekaar oorlog voer.  God is in beheer wanneer mense doodgaan.  God is in beheer wanneer die regering vir Christene wil voorskryf wat hulle mag en nie mag doen nie, sodat die kerk onderdruk word.

 

Op.4 leer ook vir ons dat die hemel oor God se heerlikheid, heiligheid, skoonheid en majesteit gaan. Dit gaan nie hoofsaaklik oor ‘n lekker plek waar ons weer ons geliefdes gaan sien nie.  Dit is deel van die vreugde, maar primêr gaan dit oor die Here.  Die Puriteine het gesê:  ‘Without Christ, heaven would be hell to me.’

 

As jy nie ‘n aptyt vir God se heerlikheid het nie, dan verstaan jy dit nie. Jy moet onthou dat jou gunsteling dinge in die skepping (lekker kos, asemrowende natuur tonele, pragtige musiek, ryk vriendskappe, lieflike geure en aromas, kleure, ‘n warm bad), maar net ‘n skaduwee van God se heerlikheid is.  Moet dan nie net hemel toe wil gaan omdat jy nie hel toe wil gaan nie, maar omdat jy die volheid van God se heerlikheid wil ervaar en geniet (Jh.17:24).

 

Leer ook asseblief dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen mense en hemelse wesens is. Juanita du Plessis sing mooi, maar moet asseblief nie jou teologie oor die hemel by haar leer nie.  Haar liedjie In die hemel sê:  ‘Ek is nou in die hemel… Nou is ek die engel wat sy vlerke om jou hou’.  Jy word nie ‘n engel wanneer jy doodgaan nie.  Jy bly ‘n mens.  Engele is nie mense nie, en mense is nie engele nie.

 

Onthou ook dat Op.4 nie die finale hemel beskryf nie. Wanneer jy doodgaan bly jou liggaam agter en is jou siel volmaak (2 Kor.5:8, Heb.12:22-23).  Eers wanneer Jesus weer kom kry jy jou verheerlikte liggaam (1 Kor.15:35-55).  Dan sal die nuwe Jerusalem uit die hemel uit neerdaal, en sal Jesus die aarde nuut maak (Op.21).  As jy dus hemel toe gaan is dit nie die einde nie; daar is nog iets wat voorlê, iets om na uit te sien.  Op.4-5 is nie die einde nie.  Ons wag nog vir Op.21-22.  In die woorde van Douglas Wilson:  ‘Heaven is not my home, I’m just a passing through.’

 

Daar is ook ‘n les oor aanbidding in hierdie en die volgende hoofstuk. As sondelose hemelse wesens God aanbid en op hulle gesigte val wanneer hulle sy heerlikheid sien, kan ons nie laf wees wanneer ons die Here aanbid nie.  Wanneer ek Op.4-5 lees, verstaan ek nie hoe mense op en af spring, skreeu en soos Hindoes omval wanneer hulle die Here aanbid nie.  Ek verstaan nie hoe hulle liedjies sing wat dit laat klink asof die Here hulle kêrel of speelmaat is nie.  God is heilig.  Laat ons Hom dan met vrees, liefde, blydskap en eerbied aanbid (v.8b-11, Ps.2:11, Heb.12:28-29).

 

Vir nou is die belangrikste om seker te wees jy is oppad hemel toe. Moenie tevrede wees dat jy hemel toe gaan, omdat jy opreg is, in God glo, reg probeer lewe, gereeld bid, jou bes probeer en hoop vir die beste, of omdat jy goeie werke doen nie.  God het ‘n afsku daarin dat jy dink jy is goed genoeg om in sy heilige teenwoordigheid in te kom.  Selfs as jy net een sonde op jou rekord het, sal God jou nie in die hemel toelaat nie.  Jou leuens, hoogmoed, oneerlikheid, diefstal, selfsug, bitterheid, wellus, losbandigheid, verslawing, rebelsheid, skynheiligheid, bakleiery, jaloesie, kort humeur, eet totdat jy siek is, afgodery, begeerte om altyd eerste te wees, haat, begeerlikheid, roekeloosheid, en ander sondes is vir Hom afskuwelik.

 

Sê vir die Here dankie dat Hy bereid was om die straf vir jou sondige natuur, karakter en dade op Homself te neem aan die kruis. Vertrou dat net Hý jou sondige rekord kan skoonvee, en dat Hy die perfekte rekord van sy gehoorsaamheid vir jou sal gee as jy in Hom glo.  Bekeer jou van jou sonde en moenie op jouself, jou werke of enigiets anders staatmaak nie.  Jesus is jou enigste hoop om in die hemel te kom.  Vertrou op Hom – jy sal nie spyt wees nie.

 

Louis Brittz is nie my gunsteling sanger nie. Ek dink egter dat sy beskrywing van die hemel Bybels en akkuraat is:

In die hemel is die Heer

En Sy glans is soos kristal

Hy’s die Heilige van God

en Hy heers oor die heelal

Daar is mag in Sy woord

Soos die waters druis Sy stem

Soos die son op die see se blou

So die rykdom van Sy trou

En aan U is die mag

en die heerlikheid en krag

En aan U is die eer

en die lof want U regeer

Miljoene in gereedheid

Span die eng’le om Sy troon

Verbysterend Sy sieraad

en weelde van Sy kroon

Driemaal heilig is die Heer,

Hy wat was en is en kom.

Hy’s die Alfa en Omega,

Almagtig en verhewe

Aan Hom wat op die troon sit,

en aan die Lam,

die heerlikheid en lof

van nou af en vir ewig

U regeer in ons harte

U regeer oor die heelal

U regeer in ons lewens

U regeer bowenal

 

[1] Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.89

Advertisements