Die blindheid van mense wat nie in Jesus glo nie

Blind man

Een van ons lidmate wat nou in die hemel is het my eenkeer van sy seun vertel. Sy seun het met die Bybel groot geword, maar later ‘n ateïs geword.  Hy het vir sy pa gesê:  ‘Toe ek die Bybel geglo het was ek blind, maar noudat ek ateïs is het die oogklappe afgekom.’  Sy pa se woorde aan my was:  ‘Dit is eintlik andersom.  Nou is hy eers blind.’  Die oom was reg:  sy seun was blind en het dit nie besef nie.  Dit is die groot les wat Jesus in Jh.9 vir ons wil leer.

 

Die wonderwerk (v.1-7)

Ek het ‘n storie gehoor van ‘n vrou wat nie oë het nie. Sy wou baie graag sien.  Iemand het vir haar vertel dat daar ‘n spesiale diens by hulle kerk gaan wees.  Terwyl die prediker gepreek het, het sy skielik uitgeroep:  ‘Ek kan sien, ek kan sien!’  Die man het na haar gekyk en gesien dat sy nie oë het nie.  Sy het verduidelik dat sy die lig van die evangelie gesien het, en dat sy tot bekering gekom het.  Die wonderwerk in hierdie verse is veronderstel om dieselfde les te leer.

 

Jesus was in Jerusalem (v.7). Omdat Hy deernis met mense gehad het, het Hy nie maar net verby die bedelaar geloop nie (v.8), maar opgemerk dat hy van geboorte af blind was (v.1).  Soos Job se vriende het die dissipels aangeneem dat die man se blindheid die gevolg van sy of sy ouers se sonde was (v.2).  ‘Miskien is hy meer vervalle as die res van ons?’ het die hulle gedink (kontr. Lk.13:2, 4).  ‘Of miskien het sy ma te veel gedrink toe sy met hom swanger was?  Dalk straf die Here hulle vir iets wat hulle verkeerd gedoen het?’  Die dissipels wou geweet het wat hulle Rabbi dink (v.2).

 

Volgens Jesus was die man se blindheid nie die gevolg van iemand se sonde nie. Hy was blind sodat God hom kon genees om so sy groot krag te wys (v.3).  Hierdie werk wou Jesus gedoen het terwyl dit dag was, voordat die nag van sy kruisdood gekom het en Hy nie meer kón werk nie (v.4).  Solank as wat Jesus op die aarde was, was Hy die lig wat die duisternis van mense se sonde verdryf het (v.5, 8:12, 1:9).  Die genesing van die blinde man was ‘n illustrasie hiervan.

 

Jesus het op die grond gespoeg en modder gemaak om aan die man se oë te smeer (v.6). So het Hy gewys dat Hy die God is wat vir Adam uit die grond geskep het (Gn.2:7).  Jesus het vir die man gesê om die modder in die bad van Siloam aan die suid-weste kant van Jerusalem af te was (v.7, vgl. 2 Kon.5:10).  Hy wat deur die Vader gestuur is (v.4), het die blinde man na Siloam toe gestuur (v.7).  Die man het in gehoorsaamheid gereageer (v.7).  Vir die eerste keer in sy lewe het hy lig, kleur, gesigte en vorms gesien (v.7).

 

Die verwarring (v.8-12)

Het jy al iets gesien wat so fantasties is, dat wanneer jy dit vir ander vertel hulle dink jy lieg (bv. ‘n wortel wat 2.5 meter lank is)? Maar wat gebeur as jy vir hulle sê dat daar dertig ander mense is wat dit ook gesien het, en dat hulle dit kan bevestig?  Skielik glo hulle jou.  En net so het die aantal getuies in v.8-12 bevestig dat die man regtig blind gebore is.

 

Die blinde man se bure het hom as ‘n bedelaar geken (v.8). Hulle kon hulle oë nie glo dat hy genees was nie (v.8).  Party het egter getwyfel dat dit hy is, en het gesê dat hy soos die bedelaar lyk, maar dat dit nie hý is nie (v.9).  Die man het aangehou om te sê dat dit regtig hy is (v.9).  ‘Maar hoe kan dit wees?’ het hulle gewonder (v.10).  ’n Blinde man kan mos nie net eweskielik sien nie.’

 

Die man het verduidelik dat Jesus modder gemaak het, dit aan sy oë gesmeer het, en vir hom gesê het om in Siloam te gaan was (v.11). ‘Nou kan ek sien,’ het hy gesê (v.11).  Die mense wou het geweet waar Jesus is, maar die man het Hom nog nooit gesien nie, en kon hulle nie help nie (v.12).

 

Die verdeeldheid (v.13-17)

Mense het ‘n natuurlike vooroordeel. As jy vir sommige mense sê dat Calvyn iets gesê het, skryf hulle dit summier af.  Hulle gee nie om of dit waar is of nie.  Omdat hulle nie van hom hou nie, oorweeg hulle nie eers wat hy gesê het nie.  En so was die meeste van die Fariseërs met Jesus.

 

Die mense het die man wat voorheen blind was na die Fariseërs toe gebring (v.13). Dalk wou hulle vir Jesus in die moeilikheid kry, omdat Hy die man op die Sabbat genees het (v.14, 5:9, 16).  Die Fariseërs het vir die man gevra hoe hy sy sig ontvang het (v.15).  Hy het sy storie herhaal (v.15).  Maar volgens die Fariseërs het Jesus die Sabbat oortree en kon Hy nie van God af gekom het nie (v.16).  Volgens die Mishna in Shab.7:2 mag ‘n mens nie op die Sabbat deeg geknie het nie.  Gevolglik was dit ook verkeerd om op die Sabbat modder te maak.

 

Volgens party Fariseërs kon Jesus nie ‘n blinde man gesond gemaak het as Hy ‘n sondaar was nie (v.16). Het hierdie teken nie juis gewys dat Hy van God af kom nie (v.16, 3:2)?  Die Fariseërs was verdeeld in hulle opinie oor Jesus (v.16, 7:43, 50-51, 10:19, 12:42).  Hulle het toe gevra wat die blinde man oor Jesus te sê gehad het (v.17).  Hy het gesê dat Jesus ‘n profeet is (v.17).  Hy het nog nie besef dat Jesus die Messias en die Seun van God is nie.

 

Die vrees (v.18-23)

Lisa is ‘n tweedejaar student op universiteit. Sy gaan uit met ‘n vriend wat nie in God glo nie.  Haar kamermaat het onlangs met haar oor die Here begin praat.  Lisa het begin om die Bybel te lees en kerk toe te gaan.  Haar ateïs-vriend het daarvan gehoor en haar uitgelag.  ‘Jy kan mos nie jou intellek so verkrag en in feëverhale glo wat onwetenskaplik is nie,’ het hy gesê.  Sy wou hom nie teleurstel nie, en het toe die Bybel eenkant toe geskuif.  In v.18-23 het die blinde man se ouers dieselfde gedoen.

 

Die Jode het geweier om te aanvaar dat Jesus ‘n profeet is (v.17), en het gesê dat die man nie regtig blind was nie. Hulle het toe sy ouers geroep (v.18-19).  Sy ouers het erken dat dit hulle seun is en dat hy blind gebore is (v.20).  ‘Ons weet egter nie hoe hy gesond geword het nie,’ het hulle gesê.  ‘Maar hoekom vra julle vir ons?  Hy is mos nie minderjarig nie en kan self vir julle vertel wat gebeur het’ (v.21).  Hulle het gelieg, omdat hulle bang was hulle word uit die sinagoge geskop (v.22-23).  Die Jode het besluit om dié wat Jesus as die Messias bely te verban (v.22).  Iemand wat so verban was is deur die samelewing verwerp.

 

Die veragting (v.24-34)

Verledejaar het ek iets oor homoseksualiteit geskryf en dit op die blog gesit. Ek het twee boeke aangehaal om te wys dat homoseksualiteit nie ‘n genetiese probleem is nie, maar sonde.  ‘n Man met ‘n doktorsgraad in genetika het dit gelees en veragtend gesê dat my kennis van genetika te vlak is om die probleem sommer só te wil oplos.  Tog het hy nie gewys waar ek verkeerd was nie.  Hy het sy graad en groot woorde gebruik om my te intimideer.  Op ‘n soortgelyke wyse het die Fariseërs probeer om die blinde man af te skrik.

 

‘Gee eer aan God en praat die waarheid (Jos.7:19),’ het hulle gesê. ‘Ons weet dat Jesus ‘n sondaar is’ (v.24).  Die man het nie veel van Jesus geweet nie, maar kon uit ondervinding sê dat hy blind was en dat Jesus hom genees het (v.25).  Hulle het weer gevra hoe Jesus hom laat sien het, maar hy het geweier om vir hulle te sê, omdat hulle bevoordeeld was en rede gesoek het om nie in Hom te glo nie (v.26-27).  Hy het tong in die kies gevra of hulle sy dissipels wil wees (v.27).

 

Toe hulle die sarkastiese toon in sy stem hoor, het hulle hom uitgeskel (v.28). Om hom sleg te sê het hulle hom ‘n dissipel van Jesus genoem (v.28).  Hulle het daarin geroem dat hulle dissipels van Moses is (v.28).  ‘God het met hom gepraat, maar van hierdie Jesus weet ons niks nie,’ het hulle gesê (v.29, 8:14, Eks.19-31).  Die waarheid was dat Moses van Jesus geskryf het, en dat hulle dit verwerp het (5:46-47, Dt.18:15, 18).

 

Die man was verbaas dat die geestelike leiers blind was (v.30, 3:10). Hoe kon hulle nie gesien het dat Hy van God af kom nie?  Het Jes.29:18, 35:5, 42:7 dan nie gesê dat die Messias blinde mense sal genees nie?  Was dit nie duidelik dat Jesus die wil van God gedoen het en Hom geëer het nie (v.31, 4:34, 5:30, 6:38)?  Sou God ‘n blinde man deur Hom genees het as Hy self vol van sonde was (v.31, Ps.66:18, Sp.28:9)?  Nie een van die profete of apostels het ooit ‘n blinde man gesond gemaak nie (v.32).  As Jesus dan ‘n man wat blind gebore is genees het, was Hy van God af en self ook God (v.33, Eks.4:11, Ps.146:8).

 

Die Fariseërs het vir die man gesê dat hy ‘n sondaar is (v.34, 24), en dat dít die rede was hoekom hy blind gebore is (v.34, 9:2-3). Hulle het misgekyk dat hulle self ook in sonde gebore is (Ps.51:7), en het dit gehaat dat ‘n blinde man vir hulle teologie wou leer (v.34).  Omdat hy geglo het dat Jesus van God af was (v.33), het hulle hom uit die sinagoge verban (v.34, 22, 16:2).

 

Die belydenis (v.35-38)

‘n Jood in Nederland het na ‘n preek van John Piper geluister. Êrens in die preek het sy oë oopgegaan en het hy met trane bely dat Jesus die Here en God van die Ou Testament is.  ‘Jesus is Elohim!’ het hy gesê.

 

Die blinde man in Jh.9 het aanvanklik gedink dat Jesus ‘n gewone mens is (v.11). Daarna het hy besef dat Jesus ‘n profeet is (v.17).  In v.30-33 het hy bely dat Jesus sondeloos is en dat Hy van God af kom.  Uiteindelik het Hy geglo dat Jesus die Messias en die Seun van God is (v.35-38).

 

Jesus het gehoor dat die blinde man uit die sinagoge verban is (v.35). ‘Glo jy in die Seun van die Mens?’ het hy gevra (v.35, Dn.7:13-14).  Die man was bereid om dit te glo, maar het nie geweet dat dit Hy is nie (v.36).  Hy het Hom immers nie gesien nadat hy genees is nie (v.12).  ‘Jy SIEN Hom; dit is Hy wat met jou praat,’ het Jesus gesê (v.37).  Jesus wou nie net gehad het dat die man net fisies moes sien nie, maar ook geestelik.  Die man het Hom Here genoem, in Hom geglo en Hom as God aanbid (v.38).

 

Die blindheid (v.39-41)

Ek weet van ‘n geval waar die toordokter vir ‘n vrou gesê het dat ‘n modderwater mengsel haar gesond sal maak, en dat sy nie ‘n ‘wit’ dokter moet sien nie. Sy het die toordokter se raad gevolg, nie hospistaal toe gegaan nie en gesterf.

 

Omdat die Fariseërs gedink het hulle kan sien, het hulle nie na Jesus toe gekom om van hulle blindheid genees te word nie. Juis daarom sou hulle in hulle sonde gesterf het.

 

Jesus het gekom om die wêreld te red, sodat dié wat geestelik blind is kan sien (v.39, 3:17, Mt.11:25b, Lk.4:18, 2 Kor.2:16). Die Fariseërs het hulleself egter onder sy oordeel geplaas, omdat hulle hulle oë vir die waarheid gesluit het (v.39, 3:18, 12:40, 38, Mt.11:25a, 2 Kor.2:16).  ‘Is ons ook blind?’ het hulle gevra (v.40, Rom.2:19).  Die feit dat hulle dit gevra het, het gewys dat hulle gedink het hulle is nie blind nie.  As hulle hulle blindheid erken het (Mt.15:14, 23:16-17, 19, 24, 26), sou hulle nie skuldig gewees het nie (v.41).  Maar omdat hulle gedink het hulle kan sien, het hulle nie hulle skuld erken nie en kon hulle nie vergewe word nie (v.41, 1 Jh.1:8-9).

 

Die genesing van die blinde man kon nie betwis word nie. En tog het die Fariseërs geweier om in Jesus te glo.  En so is dit wanneer iemand tot bekering kom.  Almal kan sien dat die persoon se lewe radikaal verander het.  En tog weier hulle om te erken dat Jesus die ware God is.  Hulle het allerhande verduidelikings vir hoekom die persoon verander het:  ‘Hy het godsdienstig geword… Hy het opgehou om sy pille te drink… Hy het besluit om sy sokkies op te trek… Hy het mal geword… Hy is gedetermineerd en het selfdissipline… Dit sal nie lank hou nie… ens.’

 

Tog weet hulle hoe sleg hy was voordat hy tot bekering gekom het. Hulle weet dat hy dikwels in ‘rehabs’ was, en dat hy nie verander het nie.  Hulle onthou hoe hy gedurig belowe het om te verander, maar dit nie gedoen het nie.  Hulle onthou hoe hy homself voorgeneem het om ‘n beter mens te wees, en elke keer misluk het.  Maar noudat sy lewe handomkeer verander het en so bly, skop hulle vas.  As hy gesê het dat dit die AA, sy nuwe meisie, oosterse meditasie, sy vasbeslotenheid of psigiatriese pille was wat sy lewe verander het, sou hulle dit geglo het.  Maar omdat dit Jesus is, weier hulle om dit te erken (v.26-27).

 

Selfs as daar vyftig ander persone is wat getuig dat die persoon verander het, sal hierdie mense nogsteeds nie in Jesus glo nie. Hulle sal die verskoning gebruik dat hulle eers nóg bewyse soek dat Jesus en sy Woord waar is (v.26-27).  Die waarheid is egter dat hulle klaar besluit het om nie in Hom te glo nie (v.22).  Hulle gee voor dat hulle die waarheid wil ken.  ‘n Buddhis in Nelspruit het vir my gesê:  ‘I’m looking for the truth.  If you can give me something better than I have, I’ll take it.’  Ek het gou agterkom dat hy nie na die waarheid soek nie.  Hy wou eintlik gehad het dat ek saam met hom moet sê dat Jesus en die Bybel stupid is (v.24).

 

Hierdie mense praat asof hulle vir ‘n feit weet dat Jesus nie die Messias en die Seun van God is nie. Hulle maak aantygings teen Hom wat hulle nie kan bewys nie (v.24, 8:46).  Hulle verwerp Hom uit die hand, maar in dieselfde asem roem hulle daarin dat hulle Hom nie ken nie (v.29).  Maar hoe kan jy ontken dat iemand die Seun van God is as jy nog nooit sy lewe in diepte en met ‘n oop gemoed bestudeer het nie?

 

Sodra jy hierdie mense in ‘n hoek dryf en hulle geen bewyse meer teen Jesus het nie, gebruik hulle emosionele argumente. Hulle sal jou uitlag en slegsê, omdat jy net ‘n ‘leek’ is (v.27-28, 34, Sp.9:7-8).  ‘Wie is jy in elk geval om teen geleerde wetenskaplikes soos Richard Dawkins en Stephen Hawking te stry?’ (v.34).  Hulle is soos die ouer ds. wat gesondig het en deur die jonger ds. aangespreek is.  Die ouer ds. het nie sy sonde erken nie, maar met veragting vir die jonger ds. gesê:  ‘Hoe oud is jy mannetjie?’

 

Moenie toelaat dat sulke mense se emosionele argumente jou afskrik nie. Nadat hulle soos ‘n drukpot stoom afgeblaas het, sal jy besef dat hulle nogsteeds nie die Bybel se bewyse oor Jesus weerlê het nie.  Hulle blaf is erger as hulle byt.

 

Moenie soos hulle wees nie. Glo in Jesus en aanbid Hom as jou Here en jou God (v.35-38).  Moenie dit wat voor die hand liggend is verwerp, omdat jy bang is vir mense se fronse nie (v.18-23).  Moet Hom ook nie verwerp omdat jy soos ‘n zombie agter voorvaderlike tradisie (v.16), jou eie vermoeë om te redeneer, die opinie van die meerderheid, die kultuur, ‘n boek wat deur mense geskryf is, ‘n teorie, dit wat deur een of ander filosoof of professor gesê is, ander godsdienste, of watookal anders aanloop nie.

 

Kan enige van hierdie dinge vir jou sê hoekom die dood so erg is en waar dit begin het? Kan dit vir jou sê hoekom ‘n mens se dood erger is as ‘n rot s’n?  Kan dit vir jou sê hoekom mense baie ver bo diere is; hoekom ons dit nie as moord beskou wanneer iemand ‘n skaap slag nie?  Kan dit vir jou sê hoekom mense nog altyd gevoel het dat moord, egbreuk, diefstal, jaloesie en leuens verkeerd is?  Kan dit vir jou sê hoekom daar soveel lyding in die wêreld is?  Kan dit vir jou sê wat die doel van die lewe is?  Kan dit vir jou sê hoekom die skepping ordelik is?  Die Bybel is instaat om al hierdie vrae realisties en sinvol te beantwoord.  Glo dan dat Jesus en sy Woord waar is.

 

Waar moet jy begin? Erken heel eerste dat jy geestelik blind is, want anders sal jy nie sien hoekom jy in Jesus moet glo nie (v.40).  Moenie jou oordeelsvermoeë vertrou nie.  Eintlik ken jy jouself baie slegter as wat jy dink.  Die mens se hart is bedriegliker as enigiets anders (Jer.17:9).  As jy geestelik blind is, sien ander mense dit gewoonlik voordat jy dit sien (v.40).  Vra dan vir die Here om jou oë oop te maak, sodat jy jou eie blindheid kan raaksien en kan besef dat jy Hom nodig het.  Vra dat Hy jou oë vir die waarheid van die evangelie sal oopmaak (Lk.24:45, Hd.16:14, 2 Kor.4:4, 6).  Erken en bely dat jy dit nie self kan doen nie, net soos wat die blinde man homself nie kon genees het nie.

 

Wanneer die Here jou oë oopmaak sal jy verstaan dat Hy jou sonde haat, maar dat Hy die straf vir jou sonde in sy dood ontvang het. Jy sal verstaan dat jy nog altyd net op Hom moes vertrou, en dat dit nie nodig was om jouself moeg te maak deur te probeer om jou redding te verdien nie.  Jy sal sien dat dit onnodig was om vir soveel jare jou skuld rond te dra, omdat jy al lankal na Hom toe kon kom om dit af te skryf.

 

Jy sal verstaan dat kerk nie ‘n plig is nie, maar ‘n vreugde omdat jy Hom kan prys, sy Woord kan hoor en ander kan dien. Vir die eerste keer sal jy regtig die Bybel verstaan.  Dit sal vir jou soos ‘n boek wees wat jy nog nooit gesien of gelees het nie.  Jy sal verstaan dat Jesus nie ‘n kwaai God is wat met ‘n sweep in sy hand staan as jy nie die reëls nakom nie, maar ‘n beste Vriend op wie jy kan staatmaak.  Jy sal verstaan dat gebed nie iets is wat jy doen wanneer jy goed wil hê nie, maar ‘n verhouding waarin jy met jou Vader praat.

 

Baie mense dink dat vlêrmuise blind is. Tog kan hulle redelik goed sien en gebruik hulle sonar of eggo’s om in die nag te vlieg.  Molle sien baie sleg, maar gebruik hulle neuse om hulle pad te vind.  Beide van hierdie diere is dus beter af as die blinde sondaar.  As die Here nie in die ongelowige se lewe ingryp nie, sal hy vir ewig soos die blinde bedelaar wees.  Maar as die Here hom red sal hy die lig van die lewe sien.  Dit sal vir hom voel of hy vir ‘n tweede keer lewe.