Die goeie Herder

Good Shepherd 2

My kinders het ‘n Bybelteks vir hulle kunswedstryd gememoriseer. Dit was verbasend hoeveel kinders Ps.23 opgesê het.  Ek het hierdie week by ‘n begrafnis gepreek.  By die begraafplaas het ek ‘n grafsteen gesien wat Ps.23 op het.  Ek self het al Ps.23 by ‘n begrafnis gepreek.  Daar is ongelowiges wat die Psalm uit hulle koppe uit ken.  Ek ken mense wat vir my gesê het dat dit hulle gunsteling Psalm is.  Ek het dit al vir mense op hulle sterfbed gelees.  In ons gemeente sing ons meer as een weergawe hiervan.  Ek self het al ‘n beryming vir die Psalm geskryf.

 

Hoekom is hierdie so ‘n populêre Psalm? Is dit nie omdat dit vir ons so ‘n mooi en sagte beeld van die Here skets nie?  Jh.10:1-21 gee vir ons ‘n beskrywing van die goeie Herder van Ps.23.

 

Die gelykenis (v.1-6)

Ter voorbereiding vir hierdie preek het ek ‘n 2 minute video op YouTube gekyk. Daar het ‘n klomp skape in die veld gestaan en wei.  Een na die ander het drie mense dieselfde woorde gebruik om die skape te roep.  Die skape het nie eers opgekyk nie.  Die herder het toe dieselfde woorde gebruik om die skape te roep.  Hulle het opgekyk en soos een man na die herder toe gehardloop.  In sy gelykenis leer Jesus vir ons dieselfde les.

 

Die gelykenis en die les oorvleuel, sodat ons in v.1-6 reeds lesse leer. En in v.7-18 is Jesus nóg besig om die gelykenis in te kleur.  In v.1 sê Hy dat dié wat nie by die skaapkraal se hek inkom nie maar oor muur spring, diewe en rowers is.  Hulle wil die skape slag en eet.  Die herder klim nie oor die heining nie, maar loop deur die hek:  hy is daar om die skape te versorg (v.2).  Omdat die hekwagter dit weet, sal hy die skaapkraal se hek vir die herder oopmaak (v.3).  Die skape herken die herder se stem (v.3).  Hulle is gerus en nie verward of bang nie.  Hy roep elkeen by die naam (v.3).  Onmiddellik volg hulle hom na die weivelde toe (v.3).

 

Hy dryf hulle nie, maar loop voor om hulle te beskerm (v.3). Hulle volg hom, omdat hulle van kleins af aan sy stem gewoond is (v.4).  Hulle assosieer sy stem met kos, water, versorging, beskerming en omgee.  Hulle weet dat hý die leier is, en daarom volg hulle hom (v.4).  Hulle sal nie agter ‘n vreemdeling aanloop nie, maar raak paniekerig en vlug as hulle sy stem hoor (v.5).  Hulle weet dat hy nie die herder is nie, en dat hy hulle wil seermaak.

 

Omdat die Jode blind was, het Jesus se gelykenis nie vir hulle sin gemaak nie (v.6, 9:40-41, 1 Kor.2:14). Duidelik was hulle nie van sy skape nie, want anders sou hulle sy stem herken het (v.3-4).

 

Die Here ken sy skape persoonlik. Hy ken hulle by die naam (v.3, Eks.33:17, Jes.43:1).  Hulle is soos ‘n ryk man se kind wat ‘n private onderwyser het en individuele aandag geniet (v.3-4).  Hulle is nie soos ‘n klas van 40 kinders waarin party agteraak, omdat die onderwyser nie die hele klas vir een kind se onthalwe kan terughou nie.  Die Here sal elkeen van sy skape uitbring, voed en versorg (v.4).  Hy sal nie die kleintjies, oues, moeës, siekes en swakkes agterlos nie.

 

Ken die Here jou naam? Is jy een van sy skape?  Het jy al sy stem gehoor?  Hoe onderskei jy tussen sý stem en die rower s’n (v.3-5)?  As die stem jou verwar, ontmoedig, bang maak, ongemaklik laat voel of omroer, is dit nie sy stem nie, maar die rower s’n (v.5).  Die Herder se stem help, vertroos en bemoedig die skape.  Sý stem kan jy in die Woord hoor.  Enige stem wat nie teen die Bybel opmeet nie, is nie die Herder se stem nie, maar die rower s’n.

 

Na wie se stem luister jy? Met wie se stem voel jy gemaklik?  En wie se stem laat jou ongemaklik voel?  Wie se stem onstel jou, sodat jy jou ore toedruk en nie verder wil luister nie?

 

Die les (v.7-18)

Verledejaar het ek ‘n praatjie op RSG gehoor oor die Anatoliese herdershond. Die hond is groot, sterk en baie vinnig.  Die honde is in Turkye geteel om roofdiere soos wolwe, bere en jakkalse van die skape af weg te hou.  Die honde werk dikwels in groepe.  Hulle sal op verskillende punte op ‘n hoë plek in die koelte gaan lê, sodat hulle die skape kan sien.  In die nag sal hulle ekstra paraat wees.  Indien hulle iets gewaar sal hulle blaf om die skape in ‘n bondel te versamel.  Die honde sal tussen die skape en die indringer gaan staan.  As al die skape veilig agter hulle is, sal hulle die rower of roofdier aanval.

 

Volgens v.7-18 het Jesus alles gedoen om sy skape te red en te beskerm. Hy was bereid om te sterf, sodat die skape kon lewe.

 

Omdat die Jode die gelykenis nie verstaan het nie (v.6), het Jesus dit vir hulle verduidelik (v.7-18). Hy het gesê dat Hy die hek of deur vir die skape is (v.7, 9, 1-2).  Om die skape te beskerm het sommige herders voor die kraal se ingang geslaap.  Om hierdie rede het Jesus gesê dat Hy die Herder en die Deur vir die skape is (v.7, 11).  Dié wat na die Vader toe wou kom moes deur Hóm gekom het:  daar was nie ‘n ander ingang of manier om gered te word nie (v.7, 9, 14:6, Hd.4:12, Ef.2:18).  Dié wat nie deur die hek gekom het nie, moes buite gebly het en onveilig gewees het.

 

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs wat voor Jesus gekom het was diewe en rowers (v.8, hfst.9, Mk.12:40, Lk.16:14). Hulle het hulleself gevoed en nie die skape nie, die weiding kaal gevreet en die res vertrap, die skoon water gedrink en die res met hulle moddervoete bemors (Esg.34:2, 17-19, Jud.12).  Hulle het nie die swakkes versterk, die siekes gesond gemaak, die beseerdes verbind, die afgedwaaldes gesoek, en die verlorenes teruggebring nie (Esg.34:4, 6).  Hulle het God se skape met ‘n swaar hand en ‘n yster vuis gelei (Esg.34:4).  Hulle het nie omgegee om die skape uitmekaar te jaag, sodat hulle ‘n prooi vir die wilde diere geword het nie (Esg.34:5-6).  Hulle het oor die muur geklim om die skape te steel, te slag, te eet en klere van skaapvel te maak (v.10, Jer.23:1, Esg.34:3).

 

Dié wat waarlik God se skape was het geweet dat hulle rowers is, en het nie vir hulle geluister nie (v.8). Hulle het vir die Herder geluister.  Hy het hulle beskerm as hulle uitgegaan het veld toe, en as hulle in die aand weer ingekom het (v.9, Nm.27:17, Dt.28:6, 2 Sm.5:2, Ps.121:8).  Hy het hulle in en uit gelei om vir hulle weiding en skoon water te gee – lewe in oorvloed (v.9-10, Ps.23:2-3).  Hy het gekom om die ewige lewe vir hulle te gee, en om sy eie Gees en lewe in hulle siele uit te stort (v.10, 14:16-17, 23, 17:3, 2 Pt.1:4, Gal.2:20).

 

Om hierdie oorvloedige lewe vir die skape te gee (v.10), het die Herder sy eie lewe opgeoffer (v.11).  Hy is die goeie Herder van Ps.23:1, 80:2, Jes.40:11, Esg.34:15, 23, en nie ‘n slegte herder soos die godsdienstige leiers in hfst.9 nie.  Soos wat Dawid die skape met sy lewe beskerm het (1 Sm.17:34-37), het Jesus sy lewe gegee om ons van die sonde en God se oordeel te verlos en te beskerm (v.11).  Op dié manier het Hy sy verlore skape na die Vader toe teruggebring (1 Pt.2:24-25, Jes.53:6, Sg.13:7).  Hy het immers gekom om sy lewe vir die skape gee (v.11, 15:13).

 

‘n Huurling-Fariseër sou dit nie gedoen het nie. Omdat die skape nie syne was nie, het hy gevlug as hy die wolf gesien het (v.12).  Dit het hom glad nie gepla dat die skape verskeur en verjaag word nie (v.12).  Hy het nie ‘n belang in die welvaart van die skape gehad nie (v.13).  Die dag se betaling is al wat vir hom belangrik was.  Die goeie Herder was nie so nie, maar het ‘n verhouding met die skape gehad (v.14).  Hy en sy skape het mekaar persoonlik geken, soos wat Hy en die Vader mekaar geken het (v.14-15, Am.3:7, Nah.1:7, 2 Tm.2:19).  Op grond van hierdie groot liefde het Hy sy lewe vir die skape gegee (v.15).

 

Jesus het nie net vir die verlore skape van Israel gesterf nie (v.11, Mt.10:6, 15:24), maar ook om die verdwaalde skape uit alle nasies na Homself toe te bring (v.15-16, 11:51-52, Op.5:9, Jes.56:6-8, Esg.37:21). Só sou daar een Herder en een kudde gewees het (v.16, Ef.2:11-22, 3:6).  Dié wat deel van hierdie kudde was sou na sy stem geluister het en in geloof op die evangelie gereageer het (v.16, 26, Hd.18:9-10, 13:48, 28:28).  Hulle sou ook na sy stem in die Bybel geluister het en dit gehoorsaam het (v.16, Lk.6:46-48).

 

Omdat Jesus die Vader liefgehad het, het Hy sy lewe vir die skape gegee (14:31). In reaksie op sy liefde vir die Vader, het die Vader Hóm ook liefgehad (v.17).  Die Vader het sy liefde aan die Seun bewys deur Hom uit die dood uit op te wek (v.17).  Die Seun se doel was nie net om vir die skape te sterf nie, maar ook om op te staan sodat Hy hulle na die Vader toe kon bring (v.17).  Niemand het Hom gedwing om vir hulle te sterf nie.  Uit pure genade en liefde het Hy gekies om dit te doen (v.18).  Hy het ook die mag gehad om op die derde dag uit die dood uit op te staan (v.18).  Mense en duiwels kon Hom nie keer nie.  Sy Vader het aan Hom die mag gegee om dit te doen (v.18).

 

Indien die skape veilig in die kraal wil wees, moet hulle deur die hek gaan. Jesus is die hek en daarom ook die enigste manier om in die kraal in te kom (v.7, 9).  Net deur Hóm kan ons veilig in die kraal wees:  veilig teen bose mense, vals leraars, die duiwel, ons eie sonde en die oordeel van God.  Om in die kraal in te kom moet jy in Hom glo, op Hom vertrou, besef dat Hy jou enigste hoop is, in sy kruisdood skuil, op sy Persoon staatmaak en aan sy beloftes vashou.  Moenie dink dat jy met die stokke van jou eie pogings teen die bere en wolwe van God se oordeel kan veg nie.  Vergeet van jouself en kom na Jesus toe.  Net Hy kan jou teen die diewe en rowers beskerm, en vir jou ‘n oorvloedige lewe gee (v.8-10).  Wat beteken dit?

 

Hierdie verse het niks met materiële voorspoed of teëspoed te doen nie. Mense sê te maklik dat die duiwel gesteel, geslag en verwoes het, omdat hulle ‘n miskraam gehad het, met kanker gediagnoseer is, huweliksprobleme ervaar, ‘n rebelse kind het, iemand by hulle huis ingebreek het, hulle baie geld verloor het, die baas hulle afgedank het, hulle in ‘n karongeluk was, hulle ‘n liefdesteleurstelling gehad het, ens.

 

Wanneer dinge met hulle goed gaan sê hulle dat Jesus vir hulle lewe in oorvloed gegee het. Dalk dink hulle nie so daaraan nie, maar volgens hulle interpretasie van Jesus se woorde is Hy ‘n genie wat gekom het om vir hulle ‘n goeie werk, ‘n gelukkige gesin, ‘n suksesvolle huwelik, ‘n florerende besigheid, genoeg geld, goeie gesondheid, ens. te gee.

 

Die probleem hiermee is nie dat God nie die Gewer van hierdie dinge is nie. Die probleem is eerder dat hierdie mense se teologie nie rekening hou met die realiteit van die Christelike lewe nie.  Hulle vergeet dat elke Christen teëspoed ervaar, en dat die duiwel nie altyd ‘n vinger in die pasty het nie.  Soms is dit die Here wat ons beproef, omdat Hy een of ander doel met ons wil bereik.  As ons volgens hierdie mense se definisie moet gaan, het almal wie se omstandighede rustig is lewe in oorvloed.  M.a.w. hulle is gered.  Tog weet ons uit Ps.73 dat dit nie noodwendig so is nie.  Volgens die Fil.4:4 kan jy in die tronk sit en die oorvloedige lewe geniet.

 

Die feite is dat Jesus se woorde in v.10 niks met materiële dinge te doen het nie. Dit gaan oor geestelike lewe en dood.  Die predikers wat sê dat v.10 oor materiële dinge gaan, is juis die wolwe wat die waarheid van mense af weghou.  Dit is húlle wat gekom het om te steel, slag en verwoes (v.10).  Hulle gee nie om vir die mense nie, maar sien die bediening as iets waardeur hulle ryk kan word (v.12-13, 1 Tm.6:5).

 

Skuil eerder by die goeie Herder. Die goeie Herder gee om vir die skape.  Deur sy Woord gee Hy vir hulle goeie weiding en vars water (Ps.23:2, Esg.34:14).  Hy versterk hulle geestelik (Ps.23:3).  Hy lei hulle op die pad van heiligheid en geregtigheid (Ps.23:3).  Hy beskerm hulle teen die gevaar van die dood (Ps.23:4).  Hy troos hulle wanneer hulle hartseer is (Ps.23:4).  Hy soek hulle wanneer hulle afdwaal en bring hulle weer terug (Esg.34:11-12, 16, Lk.15:3-7).  Hy verbind die wonde wat deur hulle eie sonde, die duiwel, bose mense en beproewing veroorsaak is (Esg.34:16).  Hy versterk hulle wanneer hulle swak is (Esg.34:16).  Al hierdie dinge doen Hy deur die Heilige Gees en die Bybel, die kerk en haar leiers (Jer.3:15, Jh.21:15-17, Hd.20:28, 1 Pt.5:2-3).

 

Miskien hoor jy hierdie dinge, maar jy wonder of die Here jou liefhet en of Hy nie miskien van jou vergeet het nie. As jy na jou omstandighede kyk voel dit vir jou of die Herder jou verlaat het.  Die waarheid is dat jy Hóm gelos het en van sy goedheid af weggedwaal het.  In sy liefde het Hy jóú nie gelos nie, maar agter jou aangekom en jou kom haal.  As jy ooit sy liefde betwyfel moet jy onthou dat Hy sy lewe vir jou gegee het, en dat jy ook baie ander voorregte en gawes uit sy hand geniet.  Onthou asseblief dat Hy nie ‘n huurling is wat jou vir die wolwe sal gooi nie (v.12).  Hy sal jou nie los nie (v.12-13).

 

Is die Here jou Herder? Ken jy Hom (v.14)?  Ken Hy jóú as een van sy eie (v.14, Gal.4:9)?  Is jy dalk ‘n skaap wat nog buite die kraal is (v.16)?  Hoor dan die Herder se stem as Hy jou vandag roep (v.16).  Vir te lank het jy jou eie ding gedoen.  Jy het genoeg vir jouself en jou sonde gelewe (1 Pt.4:3).  Dit is hoogtyd dat jy die Herder se stem herken en besef dat Hy saggies en teer met jou gewerk het, dat Hy geduldig was, dat Hy jou nie volgens jou sonde geoordeel het nie, dat dit Hý was (en nie jý nie) wat jou suksesvol en voorspoedig gemaak het, en dat Hý die slegte dinge oor jou pad gebring het om jou ore oop te maak.  Draai dan jou rug op die dwaalweg waarop jy loop, en keer terug na die goeie Herder toe (1 Pt.2:25).

 

Die reaksie (v.19-21)

Ek het eenkeer ‘n brief vir iemand geskryf. Aan die einde het ek gesê:  ‘Mag die genade van die Here Jesus met jou wees.’  Die persoon was woedend.  ‘Hoe durf hy dít sê?’ het hulle vir iemand anders gesê.  ‘Dink hy dat ek so ‘n groot sondaar is dat ek die Here se genade nodig het?’  ‘n Ander persoon was kwaad toe ‘n gelowige vir hom ‘n bemoedigende boodskap gestuur het.  ‘Moet asseblief nie vir my sulke boodskappe stuur nie,’ het hy gevra.

 

Jh.10 praat van Jesus as die goeie Herder. Waar is daar ‘n mooier en sagter beeld van Hom in die Bybel?  En tog was die Jode woedend toe hulle sy lering gehoor het.  Ander het Hom geprys en daardeur gewys dat hulle sy skape is (v.3-4, 14, 16).

 

Weereens was die Jode verdeeld oor Jesus se woorde (v.19, 7:12, 40-44, 47-52, 9:16). Sy woorde was soos ‘n swaard wat hulle verdeel het (Heb.4:12, Matt.10:34-36).  Die meeste van hulle het gesê dat Hy ‘n demoon het en dat Hy mal is (v.20, 7:20, 8:48, 52, Mk.3:21).  Deur só teen Hom te laster het hulle die onvergeeflike sonde gepleeg (Mk.3:28-30).  ‘n Paar van die Jode het gesê dat ‘n duiwel besete man nie so praat nie (v.21).  Waar was daar ooit ‘n besetene wat ‘n blinde man genees het (hfst.9)?  Is dit nie God wat die blindes laat sien nie (Eks.4:11, Ps.146:8)?

 

Jesus vereis dat jy op sy lering moet reageer. Jy kan nie soos ‘n Buddhis sê dat sy lering wys is, maar Hom nie met jou hele hart volg nie.  As jy nie sy lering aanvaar en jou daaraan onderwerp nie, kan jy net sowel sê dat Hy ‘n demoon in Hom het en dat Hy mal is (v.19-21).

 

Wat sal jy met sy lering doen? En hoe lank gaan jy wag voordat jy dit doen?  Die Here sal nie vir altyd geduldig wees nie.  Indien jy jou ore vir Hom toedruk, sal die dag kom wat Hy Homself vir jou wegsteek (12:36b).  Gebruik dan die geleentheid terwyl jy dit het.  Vra vir jouself of Jesus regtig die Seun van God is.  As Hy gelieg het om te sê dat Hy die Seun van God is, hoekom sê jy dat Hy ‘n goeie profeet is?  En as Hy die Seun van God is, hoekom dien jy Hom nie met alles wat jy het nie?

 

Twee weke gelede het iemand vir my vertel dat hulle deur ‘n moeilike beproewing by die werk gaan. ‘Ek kan dit nie meer hanteer nie,’ het die persoon gesê.  Toe ek vir die persoon vertel dat ek ‘n soortgelyke beproewing deurmaak, was die reaksie:  ‘Nou voel ek beter.  Ek het gedink ek is die enigste persoon wat so beproef word.’

 

Omdat die Herder ook die Lam is wat in jou skoene kom staan het, weet Hy hoe jy voel. Gevolglik weet Hy ook hoe om die skape te lei.  Ook wanneer jy in die hemel is sal hierdie Lam die goeie Herder wees wat ons na strome van lewende water toe lei (Op.7:17).