Waaroor gaan Openbaring regtig?

Lion and Lamb

John MacArthur vertel hoe hy tydens sy studente jare ‘n eksamen-preek voor die ander studente en die dosente moes preek. Toe hy klaar gepreek het, het hy gedink dat hy hom goed van sy taak gekwyt het.  Die dosent na wie hy egter die meeste opgekyk het was nie beïndruk nie.  Sy woorde aan MacArthur was:  ‘You missed the whole point of the passage.’  Ons wil dit nie met Openbaring doen nie.  Op.5:1-14 sal ons help die punt van die hele boek raak te vat.

 

Die beskrywing (v.1)

Ons almal weet hoe ‘n aflosresies werk. Êrens in die wedloop is daar ‘n punt waar die een atleet nog hardloop, terwyl die volgende een al begin hardloop het.  Eers na ‘n paar meter stop die een atleet heeltemal, en is die ander een op spoed.  Volgens Douglas Wilson is die oorgang tussen die Ou- en die Nuwe Testament so.

 

Die ou verbond het van die Tien Gebooie af tot by Johannes die Doper gehardloop. Johannes het die stokkie vir Jesus oorgegee.  Toe hy dit klaar oorgegee het, het die ou verbond nog vir ‘n rukkie langs die nuwe verbond gehardloop, voordat dit finaal tot stilstand gekom het.  Die nuwe verbond was besig om op spoed te kom.  Eers toe Jesus die tempel, die Levitiese priesterskap en offersisteem in 70 n.C. verwoes het, het die ou verbond agter die horison verdwyn, sodat die middagson van die nuwe verbond in volle sterkte geskyn het (Heb.7:12, 8:13).  As ek Op.5 reg verstaan, is dit presies wat hiér aan die gang is.

 

Johannes het ‘n boekrol gesien (v.1). Dit was in die regterhand van Hom wat op die troon gesit het, omdat Hý dit geskryf het (v.1).  Dit was nie ‘n gewone papirusrol wat net aan die een kant vol geskryf was nie.  Soos die boekrol van oordeel in Esg.2:10 en die Tien Gebooie in Eks.32:15, was dit aan altwee kante vol geskryf.  Niks kon bygevoeg word nie, en daarom was dit volmaak soos wat die sewe seëls ook gewys het (v.1).  Net die een vir wie dit bedoel was kon dit oopgebreek het om te doen wat daarin geskryf staan (Jes.29:11).

 

Wat het in die boekrol gestaan? Dit was God se testament om te wys dat sy Seun die Koninkryk in besit gaan neem (11:15, Dn.7:13-14, Jer.32:10).  Almal in die hemel en op aarde het Hom hiervoor geprys (v.8-14).  Om sy testament in werking te laat tree, moes Hy eers die ou een tot niet gemaak het (Heb.8:13).  Na my mening is dit die punt van Openbaring.  Die boekrol het dus sy oordele oor Israel en Jerusalem bevat, net soos wat dit sy beloftes aan die kerk bevat het.  In hfst.6 sal ons sien hoe Hy die seëls gebreek het om die Jode te oordeel en die ou verbond tot ‘n finale einde te bring.

 

Die probleem (v.2-4)

In T.H. White se boek, The Sword in the Stone, was daar ‘n swaard wat in ‘n aambeeld vas was.  Die inskripsie op die aambeeld het gesê dat net die ware opvolger tot die troon die swaard kon uittrek.  Baie groot en sterk mans het sonder sukses probeer om dit te doen.

 

Op ‘n dag het ‘n jong seun dit reggekry. Dit was dus nie ‘n kwessie van brute krag nie.  Dit het gegaan oor waardigheid, en oor wie die ware opvolger tot die troon was.  Volgens die storie het die jong seun wat dit reggekry het king Arthur geword.  Hierdie storie illustreer vir ons wat in Op.5 gebeur het.

 

‘n Sterk engel het met ‘n harde stem uitgeroep en gevra wie waardig is om die boekrol oop te maak en sy seëls te breek (v.2)? Hy wou gehad het dat almal dit moes hoor, sodat hulle kon sien dat net Jesus waardig is.  Dit is nie dat dit moeilik was om die seëls te breek nie.  Dit was eerder dat net ‘n gekwalifiseerde persoon dit kon doen.  Net die Erfgenaam kon die Koninkryk in besit geneem het, en om dit te doen moes Hy die testament oopgemaak het.  Was daar ‘n engel in die hemel, ‘n apostel of profeet op die aarde, of ‘n duiwel in die hel wat waardig was om dit te doen (v.3)?

 

Johannes het hardop en onbedaarlik gehuil, omdat niemand waardig was om die boekrol se inhoud te laat gebeur nie (v.4). Vir hom het dit gelyk of die kerk se vyande gaan seëvier, en of hulle die kerk heeltemal gaan uitwis.  Sou Jesus dan nooit die Koninkryk in besit geneem het nie?  En sou die kerk nooit haar vyande oorwin het nie?

 

Die oplossing (v.5-7)

Omtrent twee maande gelede was ons by die Lory Park dieretuin in Midrand. Die leeus het my seker die meeste beïndruk.  ‘n Groot maanhaar het kort-kort na die heining toe gestorm en gebrul.  Sy voorpote was so groot soos borde en sy bene so dik soos ‘n rugbyspeler s’n.  Ek wil nie graag tussen sy kloue beland, sodat hy my in die skedel byt nie.

 

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek eenkeer ‘n lammetjie by ‘n boer geleen om dit vir ‘n saal-opening by ‘n laerskool te gebruik. Al die kinders wou die lammetjie vashou, en hy wou ook graag by hulle gewees het.  Hy het aan almal se vingers gesuig.

 

In Johannes se visioen was Jesus ‘n Leeu en ‘n Lam.  Wat ‘n kombinasie.  Hy is ‘n Leeu omdat Hy die sterk en Almagtige God is wat sy vyande verslind.  En Hy is ‘n Lam omdat Hy Homself verneder het deur aan mense gelyk te word en aan die kruis te sterf.

 

Een van die ouderlinge (4:4) het vir Johannes gesê om nie te huil nie, omdat die Leeu uit die stam van Juda waardig was om die boekrol te vat en die seëls oop te breek (v.5, Gn.49:8-10, Heb.7:14). Hy was die nageslag van Juda, maar ook die wortel van Dawid; Hy was die seun en Here van Dawid (v.5, 22:16, Jes.11:10, Rm.15:12, 1:3, Mt.22:42-45).  Omdat Hy die Leeu en die Lam was, kan ons sê dat Hy sy vyande aan die kruis oorweldig het (v.5-6, Kol.2:14-15, Heb.2:14-15, 1 Jh.3:8).  Nou sou Hy die seëls gebreek het, en volgens die boekrol se inhoud die kerk se vyande verskeur het (v.5).

 

Die Leeu uit die stam van Juda het gelyk soos ‘n Lam wat geslag is (v.5-6, Eks.12, Jes.53:7, Jh.1:29). Die wonde van die kruis was nogsteeds sigbaar in sy hande, sy voete en sy sy (1:7, Jh.20:27, Lk.24:39).  Hy het tussen die ouderlinge, die lewende wesens en die troon gestaan (v.6).  Hoe het Hy gelyk?

 

Hy was nie weerloos soos ‘n renoster sonder ‘n horing nie, maar het sewe horings gehad om te wys dat sy krag volmaak is (v.6).  Hiermee kon Hy sy vyande in die grond in gedryf het en hulle verpletter het (1 Kon.22:11).  Met sy sewe oë het Hy alles gesien en volmaakte kennis gehad (v.6, Sg.4:10, 2 Kron.16:9).  Hy het sy sewevoudige of volmaakte Gees (Jes.11:2) uitgestuur (Jh.16:7) en gesien (Ps.139:7) hoe die Jode deur die eeue die profete doodgemaak het:  hiervoor sou Hy hulle gestraf het (v.6, Lk.11:50-51, 1 Ts.2:14-16, Dt.32:43).

 

Die Lam het tot by die troon geloop om die boekrol uit die Vader se regterhand te neem (v.7, Dn.7:13). Die Vader het aan sy Seun die gesag gegee om sy oordele te voltrek (Jh.5:22, 27).

 

Die lofprysing (v.8-14)

Gedurende my jare in Nelspruit het ek in ‘n koor gesing. ‘n Paar dae voor die opvoering het iemand van Classic FM gekom en ons gehelp om die liedjies af te rond.  Een van my gunsteling liede het in die begin geklink asof ‘n singende weermag uit die verte aankom.  Soos wat die lied gevorder het, het daar al hoe meer stemme bygekom.  Aan die einde het ons met magtige volume afgesluit.

 

Dit is die idee wat Johannes in Op.5 vir ons wil oordra. Die lofprysing begin met 4 lewende wesens en 24 ouderlinge (v.8-10).  Daarna voeg miljoene engele hulle stemme by (v.11-12).  En uiteindelik aanbid elke skepsel die Een wat op die troon sit en die Lam (v.13-14).

 

Toe die Lam die boekrol gevat het, het die lewende wesens en die ouderlinge voor Hom neergeval om Hom te aanbid (v.8, 4:8-11). Hulle het erken dat Hy alleen waardig is (v.2-5).  Die ouderlinge en die lewende wesens het elkeen ‘n goue harp vasgehou, sodat hulle die Lam se lof kon besing (v.8, Ps.33:2, 150:3).  Soos wat die hoëpriester in die Ou Testament wierook op die goue altaar geoffer het (Eks.30:1-10), het die ouderlinge en die lewende wesens goue bakke vol van wierook gehad (v.8, 8:3-4).  Soos die lieflike geur van wierook het die gebede van God se vervolgde kinders voor Hom opgestyg (v.8, Ps.141:2).  Hulle het Hom gesmeek om die seëls te breek en wraak te neem oor dié wat hulle bloed vergiet het (6:10, 16:5-7, 18:20, 24, 19:2).

 

In 4:11 het die ouderlinge en die lewende wesens die Here met ‘n ou lied vir sy skepping geprys. In 5:9 het hulle die Lam met ‘n nuwe lied vir sy verlossing geprys (14:3, Ps.96:1, 98:1, 144:9, 149:1, Jes.42:10).  Wat het hulle gesing?  Hulle het gesê dat die Lam, soos die Vader in 4:11, waardig is (v.9).  Deur Jesus se bloed of dood het Hy die reg gewen om die testament oop te maak (v.9, Heb.9:16-17).  Met sy bloed het Hy ‘n nuwe volk losgekoop vir God uit elke stam en taal en volk en nasie (v.9, 7:9, 14:6, Tit.2:14, 1 Pt.2:9, kontr. Eks.19:5).  Let op dat Hy nie die nasies gered het nie, maar mense uit al die nasies:  sy skape (Jh.10:16).  Dit is húlle en nie die Jode nie, wat nou ‘n koninkryk van priesters geword het om saam met die Here op die aarde te regeer (v.10, Dn.7:18, 22, 27, kontr. Eks.19:6).

 

Dit was nie net die lewende wesens en die ouderlinge wat die Lam geprys het nie. Daar was ook ontelbare engele (v.11, Gk. Heb.12:22, Dn.7:10) wat gesê het dat die Lam waardig is (v.12, 2-5, 9, 4:11, Heb.1:6).  Hulle het Hom vir sy sewevoudige of volmaakte karakter geprys, en gesê dat die krag, rykdom, wysheid, mag, eer, heerlikheid en lof Hom toekom (v.12, Jh.17:5, 1 Kor.1:24, Kol.2:3, Heb.1:2, 1 Kron.29:10-13).

 

In v.13 het die hele skepping die Lam en die Vader geprys (Ps.148). Soos die Vader in 4:11, het die Seun ook alles gemaak en verdien Hy om aanbid te word (v.13, Jh.1:3, Kol.1:16).  Die ewige lof, eer, heerlikheid en mag wat die Vader toekom, behoort ook aan die Seun (v.13, Jh.5:23).  Die lewende wesens het dit beaam (‘Amen!’), en die ouderlinge het dit deur hulle aanbidding erken (v.14).

 

Ek het vriende en kollegas wat nie dieselfde as ek glo oor Openbaring nie. Een van hulle glo dat byna die hele boek oor die jare net voor Jesus se wederkoms gaan.  ‘n Ander een glo dat die boek nie na spesifieke gebeure verwys nie, maar dat dit aanhoudend deur die geskiedenis herhaal word.  Ek glo dat die boek na spesifieke gebeure verwys, en dat die meeste daarvan (nie alles nie) in Johannes se tyd vervul is.

 

Alhoewel ek nie met my vriende saamstem nie, respekteer ek hulle sienings. Daar is egter een siening waarvoor ek nie ooghare het nie.  Hierdie siening mis die hele punt van die boek, omdat dit op sensasie gefokus is.  Die mense wat dít glo dink dat die boek hoofsaaklik oor die 666, diere met baie koppe en horings, drake, die vier perde, verskriklike oordele of die duisendjarige vrederyk gaan.  Dit is gewoonlik húlle wat die presiese dag van Jesus se wederkoms en ander eindtyd gebeure probeer vasstel.

 

Die doel van Op.5 is om te wys dat die hele boek eintlik oor die Jesus gaan. Die heel eerste visioen in die boek fokus op Hom (1:9-20).  In die briewe aan die sewe gemeentes is Hý die fokuspunt (hfst.2-3).  Johannes se visioene van die hemel gaan oor Hom.  Die oordele in hfst.6-19 is sý oordele.  Tydens die duisendjarige vrederyk en op die oordeelsdag is dit Hý wat op die troon sit (hfst.20).  Op die nuwe aarde is Hý die fokus punt (hfst.21).  En in die laaste hoofstuk lees ons ten minste agt keer van Hom.

 

Al verstaan jy dan nie die detail van die boek nie, sal jy geestelik ryker wees as jy dit deurlees, elke verwysing na Jesus omkring, en neerskryf wat jy oor Hom geleer het. Hy is immers die sentrale tema van die boek.  Moet dan nie by Op.5 verbyjaag, omdat jy by die ‘interessanter’ dele van die boek wil uitkom nie.  Jy kan tog nie hfst.6-19 verstaan as jy die les in hfst.5 gemis het nie.  As jy nie in hfst.4-5 gesien het dat God in beheer is, en dat Jesus die Een is wat sy Vader se oordele uitvoer nie, sal die dinge in hfst.6-19 jou moedeloos maak.  Jy sal bang word en dink dat die duiwel en bose mense op die einde in beheer gaan wees.

 

Dit is onnodig om vir die duiwel en die Antichris bang te wees as Jesus die Leeu is wat sy vyande uitmekaar skeur (v.5). Indien jy hartseer voel of gefrustreerd is omdat dit vir jou lyk of ongeregtigheid seëvier, kan jy moed skep.  Ek juig nie omdat dit lyk of die DA ‘n groter invloed gaan hê nie, maar omdat Jesus Christus sy Vader se raadsplanne sal uitvoer en sy oordele in die wêreld sal voltrek (v.4-5).  Hý is die almagtige en alwetende Lam wat uiteindelik sal sorg dat geregtigheid in die wêreld geskied (v.6).  Hý sal sy kerk bou, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie (Mt.16:18).

 

Laat ons dan nie ophou om hiervoor te bid nie, maar laat ons die Here aan sy beloftes herinner (Jes.62:6-7). Laat ons vir Hom vra om ‘n nuwe aarde tot stand te bring, sodat ons in vrede en gehoorsaamheid kan lewe (2 Pt.3:13).  Moenie dink dat die Here jou gebede ignoreer of dat Hy daarvan vergeet het nie.  Jou gebede is soos ‘n geurige wierook wolk voor Hom (v.8).  Die Here dit gehoor en sal binnekort daarop reageer (v.8, 6:10-11, Lk.18:7-8).

 

Mense wat nie vir ‘n beter politieke situasie te bid nie, oortree 1 Tm.2:1-2. Maar dié wat net hiervoor bid is kortsigtig, omdat hulle nie aan die nuwe aarde dink nie.  Hulle wens vir ‘n land sonder misdaad waar hulle veilig kan voel.  Diep in hulle harte hoop hulle dat Suid-Afrika sal word soos wat dit in die verlede was.  Maar omdat dit onwaarskynlik is, kyk hulle oor die waters en hoop hulle om dit in ‘n ander land te vind.  Hulle vergeet egter om op te kyk, omdat daar nêrens iemand is wat dit vir hulle kan gee nie – net Jesus kan (v.2-5).  En dit sal Hy eers finaal doen wanneer Hy na die aarde toe terugkeer (hfst.21-22).

 

Wat moet ons dan doen terwyl ons hiervoor wag? Dink daaraan dat Hy te midde van die chaos in beheer is.  Onthou dat dit Hý is wat die oordele van hfst.6-19 (natuurrampe, siekte en dood) soos sterk en bitter wyn uit die beker van sy toorn uitgiet.  Terwyl jy vir sy verlossing wag moet jy Hom ook vir sy verlossing prys.

 

Moenie die ware betekenis van sy bloed miskyk, en dink dat Hy dit gestort het om jou huis, jou kar en jou kinders veilig te hou nie (‘Ek pleit die bloed’). Jesus het sy bloed gestort om jou van jou sonde en God se oordeel te red (v.9).  Daarom is dit nie waar om te sê dat een druppel van sy bloed die hele wêreld se sonde kan wegwas nie.  Ek betwyfel nie vir ‘n oomblik sy almag nie, maar as dit waar was, dan was dit nie nodig vir Jesus om te sterf nie.  Hy kon net vir die dokter gevra het om ‘n eenheid bloed te trek, en op een of ander manier ons sonde daardeur vergewe het.

 

Wanneer die Bybel van sy bloed praat, verwys dit daarna dat Hy sy lewe gegee het, dat Hy vir ons gesterf het. Jesus moes dood gebloei het.  Dít is waarvoor ons Hom moet prys (v.9).  As ons Openbaring lees moet dit nie vrees wees wat ons gedagtes oorheers nie, maar dankbare lof.

 

Die deursnee Afrikaner weet dat Jesus aan die kruis gesterf het vir sondaars. Hoeveel weet egter wat dit beteken?  En hoeveel prys Hom uit die diepte van hulle wese daarvoor?  Wanneer laas het jý Hom hiervoor geprys?  Dagdroom jy wanneer jy daarvan sing en preke oor die onderwerp hoor?  Is jy eerlik en opreg dankbaar wanneer jy dit in die nagmaal herdenk?  Haat jy die sonde waarvoor Jesus gesterf het?  Bely jy dit en bekeer jy jou daarvan?  Is jy met jou hele hart lief vir die God wat dít vir jou gedoen het?

 

Let tog op dat die hemelse wesens en die hele skepping Hom hiervoor prys, selfs al is hulle nie die begunstigdes van sy verlossing is nie. Jesus het tog nie vir engele of eikebome gesterf nie, maar vir mense (Heb.2:16).  As ons dan nie die knie voor Hom buig en Hom aanbid nie, is ons die ondankbaarste wesens in die heelal.

 

Charles Spurgeon het van John Bunyan gesê dat as jy hom met ‘n speld prik, die Bybelverse by sy are sal uitvloei. En so kan ons van Openbaring sê dat die boek eintlik oor Jesus gaan.  As jy dit nie raaksien nie, is jy soos die visse wat in die see geswem het en vir mekaar gesê het:  ‘Waar is die diep blou see tog – ons het al so baie daarvan gehoor?’

 

Vir die mense wat vra waaroor Openbaring regtig gaan, sê ek: ‘Dit gaan oor Jesus.’  As hulle dan vra waar Jesus in Openbaring is, reageer ek:  ‘Waar is Hy nie?’

Advertisements