Wat het Jesus van Homself gedink?

Jesus thinking

Vroeër vanjaar het ek met ‘n vrou gepraat wat vrae gehad het oor die lewe, die Here en die Bybel. Sy was verward, omdat haar pa aanhoudend deur die jare sy interpretasie van die Bybel verander het.

 

‘Hoe kan ek weet wat reg is?’ het sy gevra. Dit is glad nie ‘n slegte vraag nie.  Wie besluit dat Sandra se interpretasie van die Bybel reg is, terwyl Jaco s’n verkeerd is?  Wie besluit dat mý oortuiging oor Jesus reg is, terwyl mnr. Jehova Getuie s’n verkeerd is?

 

Die Bybel verduidelik homself en kan homself nie weerspreek nie. Ons moet dit normaal lees en verstaan, en nie ons vooropgestelde idees in die Bybel inlees nie.  Ons moet ook kyk hoe Christene dit deur die eeue verstaan het.  As nog niemand in die geskiedenis dit so verstaan het nie, of as my interpretasie skaars twee honderd jaar oud is, dan is ek waarskynlik verkeerd.

 

Kom ons kyk dan of my interpretasie van Jesus se Persoon in Jh.10:22-42 die toets slaag.

 

Die Jode se vraag (v.22-30)

Jesus was by die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem (v.22). In 164 v.C. het Judas Makkabeus die Siriërs verdryf, die tempel gereinig en die altaar herbou en ingewy, nadat Antiochus Epifanes dit in 167 v.C. ontheilig het.[1]  Die Jode het hierdie Fees ingestel om dít te herdenk.  Die Fees het op die 25ste dag van die maand Kislev (Desember) begin, en vir agt dae aangehou.

 

Omdat dit winter was en ook die reënseisoen, was Jesus nie op die oop tempelplein nie, maar het Hy in die pilaargang van Salomo geloop (v.22-23). Dit is so genoem, omdat dit van die tyd van Salomo af gestaan het.  Toe die tempel in 586 v.C. deur Nebukadnessar verwoes is, het hierdie pilaargang staande gebly.[2]  Die pilaargang  was amper soos ‘n skool se stoep:  die pilare aan die kant van die stoep het die dak opgehou, terwyl nóg ‘n ry pilare in die middel ekstra ondersteuning gebied het.

 

In hierdie pilaargang het die Jode rondom Jesus vergader (v.24, Hd.3:11, 5:12).  ‘Hoe lank gaan U ons aan ‘n lyntjie hou – is U die Messias of nie?’ het hulle gevra (v.24, vgl. Mt.26:63).  Maar as Hy vir hulle gesê het dat Hy die Messias is, sou hulle Hom nie geglo het nie, maar gesê het Hy laster en het ‘n duiwel in Hom (v.33, 20, 8:48, Lk.22:67).  Die rede hoekom Hy dit nooit direk vir hulle gesê het nie, is omdat hulle verdraaide opvattings oor die Messias gehad het; hulle het ‘n militêre en politieke Messias verwag (6:14-15).

 

Dit beteken egter nie dat Jesus onduidelik was oor die feit dat Hy die Messias is nie. Sy genesing van die blinde man en die lam man, die vermeerdering van die brood, en baie ander tekens het gewys dat Hy die Messias is (v.25, 3:2, 20:30-31, 21:25, 2:23, hfst.5-6, 9, Jes.35:5-6, 29:18, 42:7, Eks.16).  Ook sy lering en aksies het gewys dat Hy die Herder van Ps.23 is (hfst.10), die Here wat sy tempel reinig (hfst.2, Mal.3:1-3), die God van Abraham wat met Moses gepraat het (8:58, Eks.3:14), ens.  Hy het vir hulle gesê dat Hy die Vader gesien het, en dat dié Hom na die aarde toe gestuur het (6:44, 46, 7:28, 8:14, 23, 38, 42).  Maar ten spyte van al die bewyse, het hulle nogsteeds nie geglo nie (v.25, 12:37).

 

Hoekom het hulle Hom dan nie geglo as die bewyse so duidelik was nie? Dit is omdat hulle nie deel van sy kudde was nie (v.26, 8:47).  As hulle was, sou hulle die Herder se stem as die stem van hulle Messias herken het (v.26, Jes.40:11, Mt.2:6).  Hulle sou in geloof na Hom toe gekom het en agter Hom aangeloop het (v.27, 3, 6:37, Hd.13:48).  Die Herder weet wie sy skape is, en het hulle as sy eie geken nog voordat Hy die wêreld gemaak het (v.27, 3, 14, Rm.8:29, Ef.1:4-5, 2 Tm.1:9, 2:19, 1 Pt.1:2).

 

Jesus gee aan sy uitverkore skape die ewige lewe, en daarom sal hulle nooit verlore gaan nie (v.28, 3:16). Indien hulle verlore gaan, het Jesus vir hulle gejok, omdat Hy die ewige lewe belowe het maar dit nie gegee het nie (v.28, Tit.1:2, 1 Jh.2:25).  Jesus het gesê dat die diewe, rowers, wolwe, huurlinge, vreemdelinge of enigiemand anders nooit die skape uit sy sterk hand en stewige greep kon ruk nie (v.28, 6:39).

 

Ons is die Vader se geskenk aan die Seun (v.29, 17:2, 6, 9, 24). Die Vader wat ons aan die Seun gegee het, is groter en sterker as enige koning, prins, aardsengel, hemelwese, duiwel, dier op die aarde, ster, planeet, of enigiets in die skepping (v.29).  En om dié rede kan niemand ons uit die Vader se hand ruk nie (v.29, Jes.49:2, 51:16).

 

Die Vader en die Seun is een in hulle taak om ons veilig te hou (v.30). Hulle is ook een Wese, sodat iemand wat die Vader gesien het ook die Seun gesien het (v.30, 14:9, 1:18).  Deur dít te sê het Jesus vir die Jode gewys dat Hy die Messias en die Seun van God is (v.24-25, 30).  Let op dat Jesus nie gesê het Hy is die Vader nie, maar eerder dat Hy en die Vader een is (v.30).  Hy en die Vader is verskillende Persone, maar een Wese (v.30).

 

Tot ‘n sekere mate kan ons sê dat die Vader en die Seun soos ‘n tweeling is wat presies dieselfde DNA het, en tog ook unieke persone is. Ons kan ook sê dat God soos water of vuur is.  As die Vader die vlamme is, is die Seun die vuur se hitte en lig.  As die Vader die water is, is die Seun dit wat die water nat laat voel (hierdie dinge kan ons ook van die Heilige Gees sê).

 

Ek besef dat my illustrasie kortskiet, omdat die Vader en die Seun een Wese is, en dus in hierdie opsig glad soos ‘n tweeling is nie.  Die Seun is ook nie maar net ‘n kwaliteit van die Vader soos wat hitte en lig kwaliteite van vuur is, of nat ‘n kwaliteit van water nie.  Die Seun is ‘n Persoon op sy eie.  Tog hoop ek dat hierdie illustrasies ons help om iets te verstaan van wat Jesus in v.30 gesê het.

 

Omdat Jesus en die Vader een is (v.30), is die Seun nie minder God as die Vader nie.  Hy is die presiese spieëlbeeld van die Vader se Wese, en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb.1:3).  Die volheid van wie en wat die Vader is, word in die Seun gesien (Kol.1:15, 19, 2:9).

 

Só verduidelik Jonathan Edwards dit: ‘Gestel jy kon die gedagtes wat jy in die laaste uur gedink het net so oordink:  in dieselfde volgorde, en met dieselfde emosie en intensiteit (‘n volmaakte en kristalhelder déjà vu).  Gestel dan dat jy hierdie gedagtes kan herdink, terwyl jy besig is om die oorspronklike gedagtes te dink.  As jy dít kon regkry, sou jy waarlik dubbel gewees het; twee van jou op dieselfde tyd.’[3]  Edwards reken dat die Seun van God die ewige, volmaakte en persoonlike idee is wat God van Homself het.

 

Die Jode se reaksie (v.31-42)

Twee weke gelede het ek die evangelie met ‘n Jehova’s Getuie gedeel. Dit het nie lank gevat om hom in ‘n hoek in te dryf nie.  Toe hy nie meer argumente oorgehad het nie, het hy gesê:  ‘Logically I cannot accept that Jesus is God.’  ‘Ah!’ het ek vir hom gesê.  ‘Jy verwerp dit dus op logiese gronde, en nie omdat die Bybel jou daarvan oortuig het nie.’  Net so het die Jode in v.31 e.v. nie gronde gehad om Jesus se Godheid te verwerp nie.

 

Die Jode het vir Jesus gevra of Hy die Messias is (v.24). Maar noudat Hy vir hulle gesê het dat Hy van God af kom en dat Hy en die Vader een is, wou hulle Hom gestenig het (v.31, 5:17-18, 8:58-59).  ‘Vir watse goeie werk gaan julle My stenig?’ het Hy gevra (v.32).  Kon Hy hierdie werke gedoen het as Hy nie van God af gekom het nie (3:2)?

 

Die Jode het gesê dat hulle Hom nie vir sy goeie werke wou stenig nie, maar omdat Hy gelaster het (v.33, Lv.24:16). ‘Jy is maar net ‘n mens, en nou maak jy jouself God,’ het hulle gesê (v.33).  Hulle het presies verstaan wat Hy in v.30 bedoel het, en Hy het ook dit nie ontken nie.  Hulle was egter verkeerd om te sê Hy Homself God gemaak het (v.33), omdat Hy van ewigheid af God was (1:1). Húlle het dus gelaster, omdat hulle Hom nie as die Seun van God geëer, aanbid en geprys het nie (8:49, 5:23).

 

Jesus het die Ou Testament aangehaal om hulle te antwoord (v.34). Israel se regters het God verteenwoordig, en daarom het Hy hulle in Ps.82:6 gode genoem.  Hierdie korrupte regters was egter nie gode nie, maar sou soos gewone mense gesterf het (Ps.82:1-8).  Deur Ps.82 aan te haal, het Jesus in effek gesê:

 

‘Wanneer God die korrupte leiers van Ps.82 gode noem (en julle kan nie maak asof Hy dit nié gesê het nie, omdat die Skrif nie verander kan word nie), het julle nie ‘n probleem daarmee nie. Maar wanneer die Heilige Een wat regtig van die Vader af kom sê dat Hy die Messias en die Seun van God is, het julle ‘n probleem daarmee.  Ek verstaan nie hoe julle dink nie.’ (v.35-36, Ps.16:10).

 

As Jesus se werke nie van God af was nie, kon hulle Hom verwerp het (v.37). Maar as sy werke bonatuurlik en bo-menslik was, dan was hulle verkeerd om te sê dat Hy nie die Messias en die Seun van God is nie (v.38).  As hulle sy getuienis aangaande Homself verwerp het, kon hulle nie gestry het teen dit wat voor die hand liggend was nie (v.38).  Kon hulle nie in sy werke gesien het dat die Vader in Hom was en Hy in die Vader nie (v.38, 30, 14:10-11, 20)?

 

Nadat Jesus dit gesê het wou die Jode Hom arresteer (v.39, 7:30, 44). Hulle wou dus nie regtig geweet het of Hy die Messias is nie (v.24), maar het ‘n rede soek om Hom dood te maak (v.39, 31).  Jesus het egter uit hulle hande ontsnap, omdat die bepaalde tyd van sy dood nog nie gekom het nie (v.39, 7:30, 8:20).  Hy het die Jordaanrivier gekruis en na die plek toe gegaan waar Johannes in die begin mense gedoop het.  Uit 1:28 leer ons dat die plek se naam Betanië was.  Dit is nie dieselfde Betanië as in 11:1 wat 3 km oos van Jerusalem was nie.  Die Betanië in 1:28 is eintlik Batanea, en was ‘n streek suid-wes van Galilea aan die weste kant van die Jordaanrivier.[4]

 

Omdat daar minder mense in die woestyn was as in Jerusalem, het Jesus daar gebly (v.40). ‘n Hele klomp mense het Hom gevolg en in Hom geglo (v.41-42).  Johannes het nie tekens gedoen nie, en tog het hierdie mense geweet dat sy prediking oor die Messias waar was (v.41, 5:33-35, 1:26-34, Mt.3:11-12).  Jesus se tekens het gewys dat Hy in ‘n ander klas was as Johannes (v.38, 20:30-31).

 

Daar is soveel idees oor Jesus soos wat daar hondsoorte op die aarde is. Verkeerde idees oor Jesus se Persoon en verlossingswerk is gevaarlik.  Kom ons vergeet wat die Qur’an en die media oor Jesus te sê het, en kom ons kyk wat Hy van Homself gedink het.

 

Jesus het geglo dat Hy die Messias is (v.24, 4:25-26). Hy het ook geglo dat Hy die goeie Herder is wat gekom het om sy skape te red (v.26-28, 11).  Hy het nie geglo dat die bokke skape word wanneer hulle in Hom glo nie, maar het geglo dat sekere mense skape is, en dat hulle nog in die kraal moet inkom (v.26-27, 16, Hd.18:9-10, 2 Tm.2:10).  Mense glo dus omdat hulle skape is, en is nie skape omdat hulle glo nie (v.26, Hd.13:48, 1 Ts.1:4-5).

 

Net soos wat ‘n bok nie skaap word nie, kan ‘n skaap nie in ‘n bok verander nie. Die Here se skape kan wel vir ‘n tydjie van Hom af wegdwaal, maar nie een van hulle kan hulle redding verloor nie.  Niemand kan hulle uit Jesus en die Vader se hand uit ruk nie (v.28-29).  Paulus gebruik ander woorde om dieselfde punt te maak.  In Rm.8:38-39 sê hy dat niks ons van God se liefde kan skei nie:

 

  • Jy kan nie jou redding verloor as jy doodgaan nie.
  • Jy kan dit nie in hierdie lewe verloor nie.
  • Gevalle engele (demone) kan dit nie van jou af wegvat nie.
  • Die Kommuniste, Moslems, of enige ander bose regering kan dit nie wegvat nie.
  • Niks wat in die hede gebeur kan maak dat jy jou redding verloor nie.
  • Niks wat in die toekoms gaan gebeur kan dit onklaar maak nie.
  • Niks of niemand wat bo jou in die hemel is kan dit doen nie.
  • Niemand wat in die dieptes van die see of in die hel is kan nie.
  • Niks in die hele skepping kan jou van God se ewige liefde skei nie.

 

Ek het al gehoor hoe mense sê: ‘Niemand kan jou uit Jesus en die Vader se hand uit ruk nie (v.28-29), maar jy kan jouself losruk.’  Maar volgens Jesus kan niemand jou uit sy hand uit ruk nie, omdat die Vader groter is as almal (v.29).  Sal jy dit waag om te sê:  ‘Ek kan myself losruk, omdat ek groter as die Vader is’?

 

As jy een van die Vader se skape is wat die Hy aan die Seun gegee het (v.29), sal jy na Jesus toe kom en op die laaste dag ‘n nuwe liggaam kry (6:37, 39).  As die Vader jou gekies het om soos Jesus te word, dan sal Hy jou ook roep, regverdig verklaar, en verheerlik (Rm.8:29-30).  Hy sal jou nie soos olie deur sy vingers laat glip nie (6:39, 18:9).

 

Om dit te verseker het Hy jou met die Heilige Gees verseël. Die Heilige Gees is die onfeilbare waarborg dat jy nie jou erfdeel sal verloor nie (Ef.1:13-14, 1 Pt.1:4-5).  Hy wat die goeie werk in jou begin het sal jou tot die einde toe bewaar (Fil.1:6).

 

Wie is hierdie Jesus wat sy skape bewaar? Volgens v.30 is Hy een met die Vader.  As Jesus en die Vader een is, dan is die Branhamites, T.D. Jakes, Oneness Pentecostalism, en ander ‘Jesus Only’ kerke verkeerd om te sê dat Jesus die Vader is.  Volgens hierdie mense neem God soms die vorm van die Vader aan, terwyl Hy op ander kere die Seun of die Heilige Gees is.  In hulle gedagtes kan Hy nooit al drie Persone gelyk wees nie, maar is Hy soos Jack Spratt wat ‘n pa, ‘n seun en ‘n huweliksmaat is – een persoon wat drie rolle vervul.

 

Maar volgens Jesus en die res van die Bybel, is die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) verskillende Persone (v.30, 1:1-2, Gn.1:26-27, Ps.45:8, 110:1, Mt.3:16-17, 28:19).  Die Vader is nie die Seun nie, en andersom.  Dit was nie die Vader wat aarde toe gekom het om aan die kruis te sterf nie, maar die Seun (1:1, 14).

 

Tog moet ons nie die fout maak om te dink dat daar drie Gode is nie. Die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) is een Wese (v.30, Dt.6:4, Jk.2:19).  In Mt.28:19 leer ons dat die Vader en die Seun (en die Heilige Gees) een Naam het.  In die jaar 325 n.C. het ‘n groep kerkleiers in Nicea die Bybelse lering oor Jesus soos volg opgesom:  ‘[He is] from the essence of the Father, God from God, light from light, true God from true God, begotten, not created, of the same essence as the Father’.[5]

 

Jesus het nie gesê dat Hy en die Vader een was nie, maar dat hulle een is (v.30).  Alhoewel Hy vir tyd en wyl sy Goddelike bestaan in die hemel vir die aarde verruil (Fil.2:6), het Hy nie opgehou om God te wees nie (8:58).  Toe Hy mens geword het, het Hy die onafhanklike gebruik van sy Goddelike kwaliteite prysgegee om Hom aan sy Vader te onderwerp (5:19, 30).  In hierdie opsig het Hy Homself leeg gemaak (Fil.2:7).

 

Ons kan dan nie saam met die Jehova’s Getuies sê dat Jesus ‘n god is, dat Hy geskep is, dat Hy die aardsengel Michael is, dat Hy die Seun van God is maar nie God nie, of dat Hy minder as die Vader is nie.  Toe Jesus gesê het dat Hy die Seun van God is, het Hy duidelik bedoel dat Hy een is met die Vader, en dat Hy self God is.  Dit is hoe die Jode dit verstaan het, en dit is hoe Hy dit bedoel het (v.30, 33, 36).

 

Hierdie is die Jesus in wie jy moet glo. Hy gaan Homself nie by jou of my voorkeure aanpas nie.  Aanvaar Hom soos Hy is:  die Messias en die Seun van God wat een is met die Vader en ook gelyk met Hom.  Hy is die ware God wat sy skape sal red en hulle veilig in sy hand sal vashou.

 

My suster het skerp verskil met ‘n Jehova’s Getuie wat saam met haar werk. Die vrou het vir haar gesê:  ‘Gaan lees ‘n bietjie Johannes, en jy sal sien dat Jesus nie God is nie.’  Maar Johannes se punt is juis om te wys dat Jesus ware God is, en dat Hy een is met die Vader.  Die heel eerste vers in die boek sê dit.

 

[1] 1 Makk.4:36-59, 2 Makk.1:9, 18, 10:1-8, D.A. Carson, The Gospel of John, p.391

[2] Flavius Josephus, B. J. 5:5, section 1; Ant.20:9, section 7

[3] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, An Essay on the Trinity, p.102 n.8 aangehaal in John Piper, The Pleasures of God, p.42 n.22

[4] Carson, Ibid, pp.146-147

[5] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.204