God se vingerafdrukke

heavens-declare-gods-glory

Het jy al ooit gesien hoe ‘n DVD, CD of sonbril lyk as ‘n klein kind dit in die hande gekry het? Dit is vol vingermerke.  En so kan God se vingerafdrukke oral in die skepping gesien word.  Ps.19:1-7 sê immers vir ons dat dit sý handewerk is.  In ‘n ander Psalm (8:4) praat Dawid van ‘die werk van sy vingers’.

 

Omdat Dawid (v.1) ‘n skaapwagter was, was hy gereeld buite in die veld en het hy oor God se skepping geskryf (v.2-7). Hy was ook baie lief vir God se Woord.  Hy het dit gedurig oordink en het in die tweede helfte van die psalm daaroor geskryf (v.8-15).

 

Ps.19 gaan oor die algemene- en besondere openbaring van God. Algemene openbaring verwys daarna dat God Homself deur die skepping bekendmaak (v.1-7), terwyl besondere openbaring na sy bekendmaking in die Skrif verwys (v.8-15).

 

Sy algemene openbaring in die skepping is soos vingerafdrukke: daardeur kan ons weet dat Hy bestaan en kan ons ook iets van sy identiteit weet.  Ons kan egter nie ‘n persoonlike verhouding met Hom hê, omdat ons ‘n sappige mango geëet het of ‘n verskietende ster gesien het nie.

 

God se besondere openbaring in die Bybel is soos ‘n autobiografie: daardeur kan jy Hom leer ken.  Dit is eintlik beter as ‘n autobiografie, omdat jy nie net die feite oor Hom kan ken nie, maar jy kan ‘n persoonlike verhouding met Hom hê.

 

In hierdie preek wil ek op God se vingerafdrukke in die skepping fokus. In die volgende preek sal ek op sy autobiografie in die Bybel fokus.

 

Die hemelruim (v.2-5a)

R.C. Sproul vertel hoe hy eenkeer vir sy geldsake bank toe gegaan het. In die plek waar hy gesit en wag het was daar ‘n dik mat, ‘n swaar hout koffietafel en egte leer meubels.  Daar was ook ander duur en luukse afwerkings.  Sproul het gevra om die bankbestuurder te sien.

 

‘Die manier hoe julle die bank versier het gee vir my die idee dat my geld veilig sal wees by julle’ het Sproul vir die bestuurder gesê. ‘Dit is presies die boodskap wat ons deur die binneshuise versiering wil oordra – jy is een van die min mense wat dit agtergekom het,’ het die bestuurder geantwoord.

 

Sonder om woorde te gebruik het die bank se versiering ‘n boodskap oorgedra. En so dra die skepping vir ons ‘n boodskap oor; dit sê vir ons iets van die God wat dit gemaak het.

 

Die uitgestrekte hemelkoepel (Gn.1:1, 6-8) verkondig God se heerlikheid en sy handewerk (v.2). In v.3-7 brei Dawid hierop uit.  In die blou hemel sowel as in die sterrehemel sien ons die bewyse van God se wonderlike handewerk.  Die bloedrooi oggendson en die heldergeel middagson, die volmaan wat soos ‘n groot ronde witkaas lyk, ‘n sterrehemel in die Karoo, die planete, weerlig, groot donderwolke, reënboë, en die res van die hemel wys vir ons God se heerlikheid (v.2).  Dit roep as’t ware uit:  ‘God bestaan!  God is roemryk en het ons gemaak!’

 

As ons na die hemel en die res van die skepping kyk is dit duidelik dat daar ‘n Intelligente Ontwerper is wat alles uitgedink het en aanmekaar gesit het. Uit die Bybel weet ons dat hierdie Ontwerper die Drie-Enige God is.

 

Volgens v.3a stort die een dag ‘n boodskap vir die ander uit. Dit borrel uit en loop oor van een dag na die volgende toe.  Daar is so baie om te vertel.  Elke nuwe dag sê vir ons dat die Here regtig bestaan en dat Hy groot is.  In die oggend sien en hoor ons die voëls.  Die son kom op en skyn soos ‘n helder flits, sodat ons alles kan sien.  Die son verf die donkerblou aandhemel toe met ligte blou.

 

Die wind dans met die lang gras. Die dou lê soos kopspeld-grootte diamante op mense se grasperke.  In die veld styg die mis van die grond af op, sodat dit lyk of die aarde sy bed opmaak.  Die insekte het aangemeld vir werk.  Die sebras het nog hulle nagklere aan wanneer hulle by die watergat aankom.  Al die diere van die veld verlaat hulle huise om gras en blare, bessies, heuning, insekte, sade en ander kos te soek.

 

Soos die dae het die nagte ook iets vir mekaar te sê (v.3b). Die een nag bied aandklasse oor God se wese en karakter aan vir die volgende.  Alles wat in die donker nag uitkom is ‘n openbaring van die kennis van God (v.3b):  die sekelmaan met sy glimlag, sterre wat meer is as sandkorrels in die Sahara, leeus en hiënas, vuurvliegies, vlêrmuise, motte en meer.  Die naglewe sing saam in ‘n koor dat God hulle gemaak het.

 

Die dag en die nag en alles wat daarin gebeur gee vir ons ‘n sekere kennis van God (v.3). ‘n Skilpad met sy huis op sy rug leer vir ons dat God wys is.  Seevoëls (malgasse) wat soos kamikaze vlieëniers in die water induik om vis te vang, en ‘n vol reënmeter na die lang maande van droogte wys vir ons dat God goed is (Hd.14:17).

 

Die magtige Himalayas wat die hoogste geboue ter wêreld verdwerg sê vir ons dat God almagtig is. Die getal en verskeidenheid van alles wat God gemaak het leer vir ons dat Hy alwetend is.  Die ordelikheid, simmetrie en presiese mates van ‘n byenes wys vir ons dat Gód so is.  Die kleur van korale, plante, seediere en visse in Australië se Great Barrier Reef gee vir ons ‘n idee van hoe pragtig God moet wees.

 

Die manier waarop ‘n ma haar nuwe baba saggies teen haar vasdruk gee vir ons ‘n vae beeld van God se groot liefde. Dag na dag en jaar na jaar kom die son op en gaan dit weer onder, breek die lente en die somer aan en verander die herfs weer in winter.  Dít leer vir ons dat die Here getrou is.

 

Omdat die mens nie onder hierdie God en sy reëls wil lewe nie, kyk hy na die see en die sterre, en sê hy dat die wêreld homself gemaak het. Hy sal nooit sê dat ‘n skildery van die berge homself gemaak het nie, maar hy oortuig homself dat die werklike berge deur toeval ontstaan het.  Hy sal sê dit is onmoontlik om 50 tennis balle in lug te gooi, sodat dit in 10 rye van 5 elk op die grond val.  Maar hy glo dat die perfekte orde van die planete in hulle wentelbane uit die wanorde van die ‘Big Bang’ ontstaan het.

 

Paulus sê dat hierdie mense “in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Rm.1:18-20).

 

Die skepping openbaar God en sy attribute. Tog gebeur dit nie met woorde nie (v.4, kontr. v.8-10).  Die skepping se onhoorbare stem roep uit dat daar ‘n God is en dat Hy roemryk is (v.4).  Die stem is nie so sag dat jy jou ore bak hoef te hou nie.  Dit is nie nodig om vir die skepping te sê:  ‘Ekskuus tog?  Praat harder, ek kan nie hoor nie.’  Die boodskap is duidelik, omdat die skepping se stem oor die hele aarde uitgaan (v.5a).  Die uithoeke van die planeet hoor en eggo die boodskap (v.5a).  Daarom kan niemand sê dat hy nie geweet het God bestaan nie (Rm.1:20-21, 10:18).

 

Volgens is die ESV is dit die skepping se stem wat uitgaan.  Maar volgens die Afrikaanse Ou Vertaling is dit die skepping se meetsnoer wat uitgaan (v.5a).  In Dawid se tyd het bouers ‘n meetsnoer gebruik om ‘n sekere gebied af te meet (Sg.2:1-2).  God het die wêreld gebou en met sy meetsnoer afgemeet.  Oral waar die meetsnoer strek is dit sy handewerk en kan ons sien dat die Meesterbouer regtig bestaan.  ‘n F-5 sterkte tornado en ‘n veldmuis se snorbaarde wys dit.

 

Die son (v.5b-7)

Die Grieke het hulle songod Apollo genoem, en die Egiptenare het hom Ra genoem. Die meeste ander heidense kulture het al op een of ander manier die son aanbid.  In v.5b-7 wys Dawid dat die son nie aanbid moet word nie, maar dat dit van die ware God getuig.

 

God het ‘n tent bo-oor sy bouperseël opgeslaan (v.5b). Die son woon in hierdie tent (v.5b).  Dag na dag staan die son op soos ‘n bruidegom wat op die eerste oggend van sy wittebrood by sy kamer uitkom (v.6).  Die son is soos hierdie bruidegom wat nuut en vars voel.  Dit skyn helder en is gereed vir die dag.

 

Deur die dag is die son soos ‘n sterk man wat om ‘n baan hardloop (v.6). Die man is so sterk en fiks dat hy nie eers moeg word om te hardloop nie.  Hy geniet dit eintlik (v.6).  So is die son:  dit word nie moeg om in die lug te hang en op die aarde te skyn nie.  Die son is soos ‘n sterk en gesonde jong man se gesig wat van blydskap skyn (v.6).

 

Elke oggend loer die son oor die oostelike horison vir die aarde (v.7). As hy klaar weggespring het hardloop hy tot op die westelike horison (v.7).  So gaan dit al vir duisende jare – om en om hardloop die son (v.7, Pd.1:5).

 

Die son se hitte kan ook oral gevoel word (v.7). Dit bak die aarde warm.  Selfs in die koelte kom die radiasie deur.  ‘n Blinde persoon kan nie die skepping sien nie, en ‘n dowe persoon kan dit nie hoor nie.  Maar hulle kan nogsteeds die son se hitte voel.  Nie eers húlle kan sê dat hulle nie geweet het God bestaan nie.

 

Wat is die lesse wat ons uit die eerste sewe verse van hierdie Psalm leer?

 

Hierdie Psalm moes deur die tempelkoor gesing word (v.1). Die les is dan dat ons die Here vir sy skepping moet prys.  Ons doen dit wanneer ons lofliede in die kerk sing, maar bedoel ons dit?

 

In ons besige lewens en malle gejaag na geld vergeet ons om die wind in ons hare te voel en die sand tussen ons tone. Ons kyk vas in beton, glas, staal, karre en geboue.  Ons is angstig oor vergaderings en raak verstrik in ons beplanning vir die toekoms.  In die proses laat ons na om onder ‘n koelte boom te sit en die gekoer van die duiwe te hoor.  Spurgeon het gesê:

 

‘He who forgets the humming of the bees among the heather, the cooing of the wood-pigeons in the forest, the song of birds in the woods, the rippling of rills among the rushes, and the sighing of the wind among the pines, needs not wonder if his heart forgets to sing and his soul grows heavy. A day’s breathing of fresh air upon the hills, or a few hours’ ramble in the beech woods’ umbrageous [Afr. skaduryke] calm, would sweep the cobwebs out of the brain…

 

…A mouthful of sea air, or a stiff walk in the wind’s face, would not give grace to the soul, but it would yield oxygen to the body, which is next best… The ferns and the rabbits, the streams and the trouts, the fir trees and the squirrels, the primroses and the violets, the farm-yard, the new-mown hay, and the fragrant hops – these are the best medicine for hypochondriacs [Afr. swaarmoediges], the surest tonics for the declining, the best refreshments for the weary.’[1]

 

Die skepping is ‘n boek wat elke gelowige behoort te lees. David Brainerd – ‘n Amerikaanse sendeling in die 1700’s – het met depressie gesukkel.  Dit is ‘n groot jammerte dat hy nie van God se anti-depressante gebruik gemaak het nie.[2]  Wolke, die blou hemel, blomme en sonsondergange sou hom gehelp het.  As hy God se heerlikheid in ‘n ladybird gesien het, sou die lofpsalms soos ‘n vulkaan in sy hart ontplof het.  En sou dit nie ‘n steroïde vir sy siel gewees het nie?

 

In dieselfde asem wil ek sê dat ons nie te veel op die skepping moet steun nie. Vir die dieper nood in die menslike hart is die skepping onvoldoende.  Om vergewe te word en geestelik te groei moet die Heilige Gees deur sy Woord in jou werk.  Om op die strand te loop of om bo-op ‘n berg te sit gaan nie help nie.  Die skepping op sy eie kan nie iets geestelik vir jou doen nie; v.2-7 sonder v.8-15 is onvolledig.

 

Die skepping is net die prediker en nie die Een van wie gepreek word nie; dit verkondig God se heerlikheid en is nie sy heerlikheid nie (v.2). Christus is die heerlikheid van God (2 Kor.4:6, Heb.1:3).  As die skepping God se heerlikheid so mooi vertoon, hoe duidelik moet dit dan nie in Jesus Christus gesien word nie?  Jou hart sal onreëlmatig klop en jy sal na jou asem snak as jy eendag sy skoonheid sien (2 Ts.1:10).

 

Omdat die skepping dan net die boodskapper is, mag ons dit nie aanbid nie (Rm.1:23, 25). Ons kan nie ‘n teorie aanhang wat sê dat die wêreld homself gemaak het, dat alles deur toeval ontstaan het, of dat alle vorme van lewe die gevolg van breinlose evolusie is nie.  Om dit te doen is om die skepping tot op die vlak van God te verhef.

 

Sover my kennis strek bid niemand in ons gemeente tot die son nie, en is daar ook niemand van ons wat voor bome buig nie. Die meeste van ons glo ook nie in evolusie nie.  Tog gebeur dit al te dikwels dat ons die skepping aanbid.  Buiten vir die feit dat ons te veel maak van mense se opinies en kos, beskou ons die mens as ‘n indringer, omdat hy bome afkap om ‘n mall te bou of ‘n plantasie te groei.  Dat hy dít doen pla ons meer as dat hy ongebore babas doodmaak.

 

Ek het laasweek op RSG gehoor hoe Sakkie Spangenberg iets in die volgende lyn sê: ‘Terwyl die pole besig is om te smelt stry die kerk oor of gay mense moet trou of nie.’  Hy het by implikasie gesê dat ons meer besorgd moet wees oor aardverwarming [Eng. global warming] as oor lawwe morele kwessies soos gay huwelike.  Iemand wat soos die wêreld dink se prioriteite is nie net onderstebo nie – hy verafgod die skepping.

 

Die Bybel is gebalanseerd. Terwyl jy nie ‘n obsessie moet hê met jou troeteldiere nie, moet jy hulle ook nie mishandel nie (Sp.12:10).  Ons moet verantwoordelik met die skepping omgaan en daaroor heers (Gn.1:28).  Ons moet dit nie verniel nie, maar ons moet dit ook nie verafgod nie.

 

Ons moenie soos ateïste wees en God se heerlikheid in die skepping miskyk nie. Hulle kan nie sy vingerafdrukke in ‘n blaar raaksien nie.  John Piper vertel hoe hy elke oggend verby ‘n sekere boom geloop het.  Deur net na die boom te kyk was dit vir hom duidelik dat daar ‘n God is.  Maar die ateïs sien dit nie raak nie.

 

Daar is ‘n baie spesifieke rede hoekom hy dit nie sien nie. As daar ‘n God is wat alles gemaak (hom ingesluit), dan kan hy nie lewe soos hy wil nie.  Omdat hy homself nie aan die Here wil onderwerp nie, sê hy dom dinge soos dat die heelal homself gemaak het.

 

Ons ontken dit natuurlik nie verbaal nie, maar partykeer lewe ons asof daar nie ‘n God is wat alles gemaak het nie. Die manier hoe ons soms oor ons finansies, werk, inkomste, omstandighede en toekoms stres, wys dat ons nie regtig glo dat die God wat die blomme met soveel detail gemaak het, vir ons óók kan sorg nie.

 

Moet ons nie eerder ‘n gewoonte daarvan maak om daagliks te kyk hoe die son opkom (v.7), en dan vir onsself te sê: ‘sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot.’ (Klg.3:22-23)?  Om die Here se goedheid te betwyfel sodat jy nie vir sy voorsiening bid en Hom daarvoor prys nie, is niks anders as praktiese ateïsme nie.

 

Maar om die Here as die wonderbare Skepper te erken is nie genoeg nie. Hy moet ook jou Verlosser wees.  Hoe lyk dit met jou:  is Hy jóú Verlosser?  Het jy jou volle hoop om gered te word op Jesus, sy kruisdood en sy opstanding geplaas, soos jy wat geheel en al op jou bed staatmaak om jou gewig te dra?  Glo jy in die Jesus van die Bybel; vertrou jy op Hom?

 

Is jy seker jou sonde is vergewe? Is jy vry daarvan of is jy vas in hierdie harde meester se boeie?  Pla jou gewete jou oor iets?  Is jy van binne af nuutgemaak, sodat jy ‘n nuwe skepping is wat deur jou veranderde lewe God se heerlikheid en lof verkondig (2 Kor.5:17)?  Dit is tog hoekom Hy jou gemaak het, nie waar nie?

 

Jes.43:7 praat van “elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.”  In Jes.43:21 sê die Here:  “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.”  1 Kor.10:31 sê vir ons hoe gelowiges moet lewe:  “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

 

Dit is erg as die vlooie wat op jou hond se rug loop God se heerlikheid beter verkondig as wat jý dit doen. Onderaan my ma se skilderye staan daar: Soli Deo Gloria (aan God alleen die eer).  Net so moet die skilderye van ons lewens ook ‘n kleurvolle uitbeelding van God se heerlikheid wees.

 

Soos met die res van die skepping moet God se vingerafdrukke in ons lewens gesien word. Steve Green sing:

 

All across the world People everywhere

Ask “How can I believe in a God I cannot see?

If there really is a God, why is there so much pain?

If I could only see, then I’d believe.”

If you could only see

That His Love is written all across the sky

As brilliantly the stars all testify

For the glory of the God who reigns on high

Is displayed in the world He has made

And as all creation seems to shout and sing

In wonder of the one Almighty King

His signature can easily be seen on everything

Take a minute now and take a look around

Can you believe that everything you see took place by chance?

The intricate design down to the last detail

And what about the mystery that cuts us like a knife:

“What is the source of life?”

 

[1] C.H. Spurgeon, Lectures to my Students, p.158

[2] http://www.desiringgod.org/messages/oh-that-i-may-never-loiter-on-my-heavenly-journey

Advertisements

Die goeie effek van die groot verdrukking

great-tribulation

Ná ‘n veldbrand groei die gras en plante beter. Dit wat verwoesting gebring het, het ook lewe gebring.  En dit is presies wat in Op.7:9-17 met die groot verdrukking gebeur het.

 

Lofprysing (v.9-12)

Wat is die meeste mense wat jy al bymekaar gesien het? Verlede Saterdag was ek saam met my gesin by ‘n vliegskou.  Ons het ‘n uur en ‘n half gevat om 10 kilometer te ry.  Daar was duisende karre.  Ons het omtrent ‘n kilometer geloop van die parkeer area af tot by die hek.  Die mense het soos miere gewemel.  Ek wil nie jok nie, maar ek is seker dat daar tussen 50 000 en 100 000 mense was.  In Op.7 het Johannes ‘n baie groter skare as dit gesien.

 

In v.4-8 het Johannes 144 000 verseëlde Jode op die aarde gesien. Daarna het hy ‘n ontelbare menigte uit elke stam en taal en volk en nasie in die hemel gesien (v.9, 5:9).  God het gesê dat Abraham se nageslag ‘n ontelbare massa soos die sand en die sterre sou wees (Gn.13:16, 15:5, 22:17).  Hy sou die vader van baie nasies gewees het (Gn.17:5).  In Op.7 het Johannes gewys dat mense uit alle nasies en nie net Jode nie, die ontelbare nageslag van Abraham is (Gal.3:7-8, 14, 16, 29, Hos.1:9-10, vgl. 1 Pt.2:9-10).

 

Die menigte het voor die troon en voor die Lam gestaan (v.9). Hulle het wit klere aangehad en palm takke in hulle hande.  Die wit klere het gewys dat hulle rein is (v.14), en die palmtakke herinner ons aan die Huttefees.  Toe die volk vir 40 jaar deur die woestyn getrek het, het hulle nie in huise gebly nie maar in tente.  God het vir hulle gesorg toe hulle pelgrims was oppad na die Beloofde Land toe.  Om dit te herdenk moes hulle jaarliks Jerusalem toe gekom het en tente van palms en ander bome se takke gebou het (Lv.23:40, 43, Neh.8:16).

 

In Op.7:9, 15 sien ons palmtakke en God wat sy tent oor die menigte oopspan. Die hemelse vervulling van die Huttefees was dus nie net vir Jode nie, maar vir God se kinders uit alle nasies.  Voor die Paasfees het die Jode ook palmtakke gewaai en vir Jesus geprys, maar vyf dae later het hulle vir sy bloed geroep (Jh.12:13).  In Op.7 het die geredde heidene palmtakke gevat en Hom met opregte harte geprys.  God het hulle veilig deur die wildernis van hierdie wêreld tot in die hemel gebring.  Hy is dan nie net die God van die Jode nie, maar die God van elke mens wat in Jesus glo; ons God (v.10).

 

Die groot menigte het hard uitgeroep dat die verlossing wat hulle ervaar het van God en van die Lam af kom (v.10, Jon.2:9, Ps.3:9). Hulle het geen krediet vir hulleself gevat, of gevra dat die eer tussen hulle en God gedeel moes word nie.  Hý het hulle gekies, vergewe en verseël (Ef.1:3-14).

 

Verlossing is dan nie ‘n spanpoging waarin die mens vir God help, waarin God dié help wat hulleself help, of waarin Hy vir ons ‘n hupstoot gee om onsself te red nie (sinergisme). Die Bybel wys vir ons dat die mens geen aandeel in sy redding het nie.  Verlossing is uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen (Ef.2:8-9).  Dit is God se werk van begin tot einde (Fil.1:6, monergisme), en daarom gee ons aan Hom alleen die eer (v.10).

 

Anders as die groot menigte, het die engele nie voor die troon gestaan nie, maar rondom (v.11, 9).  Hulle het ook rondom die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens gestaan (v.11, 4:4, 6).[1]  Hulle het in nederige aanbidding voor die Here neergeval en die groot menigte se lof ge-eggo (v.11).  Al het hulle nie soos die groot menigte God se verlossing ervaar nie (Heb.2:16), het hulle dit met ‘n ‘Amen!’ beaam (v.12, Lk.15:7, 10, Ef.3:10, 1 Pt.1:12).  Die engele het sewevoudige of volmaakte lof aan die Here toegeskryf (v.12, 5:12).  Waarvoor het hulle Hom geprys?

 

Hy is die bron en fontein van alle lof en seën. Die glansryke heerlikheid en eer is syne.  Hy is alwys; daar was nog nooit ‘n probleem wat Hy nie kon oplos nie.  Alle dank behoort aan Hom, omdat Hy so goed is.  Sy krag en sy mag het geen perke nie; Hy kan enigiets doen.  Hierdie dinge is so en sal vir ewig so wees – is dit nie juis wat hulle met ‘amen’ bedoel het nie (v.12)?

 

Hoeveel Christene was daar toe Jesus op die aarde was? In Jerusalem was daar omtrent 120 (Hd.1:15).  Altesaam was daar ‘n bietjie meer as 500 (1 Kor.15:6).  Hoeveel Christene was daar in die eerste paar weke, maande, jare en dekades nadat Jesus opgevaar het hemel toe?

 

[1] 3000 bekerings op een dag (Hd.2:41).

[2] Daaglikse bekerings (Hd.2:47).

[3] ‘n Somtotaal van 5000 mans (Hd.4:4).

[4] Bekerings meer as ooit (Hd.5:14).

[5] Die dissipels vermenigvuldig (Hd.6:7).

[6] Herlewing in Samaria (Hd.8:5-8, 12).

[7] Kerkgroei in Judea, Galilea en Samaria (Hd.9:31).

[8] Die bekering van twee hele dorpe (Hd.9:35).

[9] Baie Grieke word gered (Hd.11:21).

[10] Baie bekerings onder Barnabas in Siriese Antiochië (Hd.11:24).

[11] Die invloed van God se Woord neem toe (Hd.12:24).

[12] Massas bekerings onder Paulus in Psidiese Antiochië en die omliggende gebiede (Hd.13:43-44, 48-49).

[13] Groot getalle Jode in Ikonium kom tot bekering (Hd.14:1).

[14] Paulus maak baie dissipels in Listre (Hd.14:21).

[15] Die kerke groei elke dag (Hd.16:5).

[16] Baie Grieke in Tessalonika word gered (Hd.17:4).

[17] ‘n Klomp Jode en Grieke in Berea kom tot bekering (Hd.17:12).

[18] Talle Korintiërs word gered (Hd.18:8, 10).

[19] Die Woord van God neem met groot effek toe in Efese (Hd.19:20).

 

Handelinge praat hoofsaaklik van Petrus en Paulus se bedienings. Hoe groot word die getal as ons dink aan die ander apostels, dissipels en nuwe bekeerlinge wat die evangelie met mense gedeel het?  Wat nog te praat van die bekerings in die eerste drie eeue n.C., die reformasie in Europa, die prediking van die Puriteine in Engeland, die herlewing onder John Wesley en George Whitefield, die herlewings in Wallis en Amerika, die predikers in Skotland, die sending-beweging in die 1800’s, Spurgeon se prediking, duisende bekerings agter die ystergordyn, die hedendaagse verspreiding van die evangelie deur kerke, Christen-organisasies, boeke, tydskrifte, DVD’s, die internet, TV, radio, en ‘n duisend ander maniere.

 

Moses het van 2 of 3 miljoen Israeliete gesê dat hulle soos die sterre van die hemel was (Dt.1:10, 10:22). Wat sou hy van die getal bekeerlinge in Handelinge, of die ontelbare skare in die hemel gesê het (v.9)?  Wat sê jý daarvan?  Is jy een van hulle?  Prys jy die Here vir jou redding?  Robert Murray M’Cheyne het gesê:  ‘Heaven will be all praise.  If you cannot praise God, you will never be there.’[2]

 

Kan die Here jou verlos en sy lof nie jou mond vul nie?  As die engele wat nie sy verlossing ervaar het nie Hom daarvoor prys, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie?  Hulle is rondom die troon (v.11); ons is voor die troon (v.9).  Hulle is sy diensknegte; ons is sy bruid, kinders, broers, vriende, kudde en liggaam.

 

Verlossing (v.13-14)

Populêre skrywers oor die eindtyd sê dat daar ‘n groot verdrukking van intense swaarkry in die toekoms sal wees. Hulle sê verder dat die Christene wat dán lewe nie deur hierdie verdrukking sal gaan nie, maar dat hulle voor die tyd weggeraap sal word.  Hulle basseer dit o.a. op Op.7:14.  Maar het jy opgelet dat die woord wegraping nie eers in Op.7 voorkom nie?  Dit lyk dan vir my na ‘n vooropgestelde idee wat in die teks ingelees word.

 

Een van die 24 ouderlinge (5:5) het vir Johannes gevra of hy weet wie die groot menigte in wit klere is, en of hy weet waar hulle vandaan kom (v.13). Johannes het vir die ouderling gesê:  ‘Jý weet my heer; wil jy nie asseblief vir my ook sê nie?’ (v.14).  Die ouderling het vir hom gesê dat die menigte uit die groot verdrukking uit gekom het.  Hoe moet ons sy woorde verstaan?

 

DIE groot verdrukking [Gk.] wys vir ons dat v.14 nie na swaarkry en vervolging in die algemeen verwys nie, maar na ‘n spesifieke verdrukking. Die res van Openbaring wys vir ons dat hierdie verdrukking nie in die verre toekoms gelê het nie, maar dat dit in die tyd van die eerste lesers plaasgevind het (1:9, 2:9-10, 22, 3:10-11).  Jesus wys dit ook en sê verder dat dit in Jerusalem – nie in Amerika nie! – plaasgevind het (Mt.24:21, 16, 1-3, 34).

 

Iemand maak beswaar: ‘Hoe kan jy sê dat die verdrukking in Mt.24:21 na die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. verwys as Jesus self gesê het dat niks voor of na die verdrukking daarmee vergelyk kan word nie?’  In die konteks praat Jesus van Jerusalem:  daar was nog nooit so ‘n groot verdrukking in Jerusalem nie (nie die Babiloniërs of Antiochus Epifanes nie), en daar sou ook nooit weer so ‘n verdrukking teen haar gewees het nie (vgl. Esg.5:9, Dn.9:12, 12:1).  Dít is die verdrukking waarvan Johannes in v.14 praat.

 

Wat bedoel Johannes as hy sê dat die ontelbare menigte uit die verdrukking uit gekom het (v.14)? Ek dink nie dit hoef te beteken dat hulle in die verdrukking gesterf het nie.  Ek dink ook nie dit beteken dat hulle weggeraap is om die verdrukking vry te spring nie.

 

Na my mening het hulle uit die verdrukking uit gekom (v.14) in dieselfde sin as wat ‘n kind uit die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou gebore word. Die kind is a.g.v. die liefdesverhouding tussen sy ouers gebore.  En so is die groot menige van geredde heidene a.g.v. die groot verdrukking in 70 n.C. ‘gebore’.  God het die Jode geoordeel en van hulle af weggedraai na die heidene toe, sodat hulle en hulle redding uit die groot verdrukking uit gekom het (Mt.21:40-41, 43, 22:1-10, 10:5-6, 15:24, 28:19-20, Hd.13:45-49, 18:5-6, 8, 28:28, Rm.11:11, 25).

 

Die 144 000 Jode in v.4-8 was die eerste vrug van God se verlossing (14:3-4). Soos wat die eerste vrug aan die Here ‘n groot oes gewaarborg het (Sp.3:9-10), het die redding van die 144 000 Jode ‘n groot oes van bekeerlinge onder die heidene gewaarborg (v.9).  Deur geloof en bekering het hulle die klere van hulle lewens wit gemaak in die rooi bloed van die Lam (v.14, 3:4-5, 19:8, Jes.1:18, Sg.3:3-5, 1 Jh.1:7).

 

Die wit klere wys ook dat hulle priesters is, en daarom dien hulle in v.15 in die tempel. Om in Jesus se tyd ‘n priester te word moes iemand eers ‘n toets ondergaan het.  As hy nie deur sy geslagsregister kon bewys dat hy uit die lyn van priesters gekom het nie, is hy met swart geklee en kon hy nie gedien het nie.  As hy egter al die toetse geslaag het, het hy ‘n wit kleed ontvang en kon hy as ‘n priester gedien het.[3]

 

Veiligheid (v.15-17)

Ek glo dat die groot verdrukking vir Johannes in die nabye toekoms gelê het, maar dat dit vir ons in die verlede is. Dalk bekommer dit jou dat ek so dink.  Maar eintlik hoef jy nie bekommerd te wees nie, omdat die groot verdrukking nie die belangrikste kwessie in Op.7 is nie.  Daar is iets belangriker as dit:  is die klere van jou lewe wit gewas in die bloed van die Lam (v.14)?  Is Jesus die Middelaar wat tussen jou en die Vader staan (1 Tm.2:5)?  Is jou sonde vergewe?

 

Net dié wie se lewens in die bloed van die Lam gewas is, sal dit waag om in God se heilige teenwoordigheid in te kom om voor sy troon te staan (v.15, 22:14, Mt.22:11-12). As Hy jou sonde vergewe het hoef nie jy eers te wag totdat jy in die hemel is nie – jy kan elke dag deur gebed in sy troonkamer inkom (Heb.4:16).  Wanneer jy in die hemel is sal Hy vir jou die vreugde en krag gee om Hom dag en nag in sy tempel te dien.  Spurgeon het iets in die volgende lyn gesê:  ‘If God has called you to be his servant, why would you want to stoop so low as to become a king?’

 

As Jesus sy lewe of bloed vir jou gegee het (v.14) sal dit glad nie vir jou moeite wees om vir ewig jou diens aan Hom te gee nie (v.15). Dit sal vir jou ‘n voorreg wees om altyd in sy tempel te wees en om vir ewig in gemeenskap met Hom te lewe – Hy is immers die tempel (21:22).  Dit sal vir jou wees soos om in die teenwoordigheid van ‘n baie beroemde en gawe persoon te wees, om elke dag aan sy tafel te sit waar jy sy eindelose rykdom, wysheid, genade en vriendskap geniet.

 

Soos wat die tabernakel en die wolkkolom die volk in die Ou Testament beskerm het, sal God ons met sy eie teenwoordigheid in die hemel beskerm (v.15, Jes.4:5-6). Die Griekse teks sê letterlik dat Hy sy tent of tabernakel oor ons sal oopspan [v.15, Gk. skēnoō, 21:4, Jh.1:14].  Angus Buchan se tent kon 60 000 mense vat.  Omdat die Here oneindig is kan ‘n ontelbare menigte in sy tent skuil soos wat kuikens onder ‘n hen se vlerke wegkruip (v.15, 9, Jes.54:2, Ps.91:1, 4, Dt.32:11).

 

Sal dit nie wonderlik wees om in ‘n plek te bly waar jy nie onveilig voel nie, ‘n plek waar daar nie in die aand skelms in jou huis inkom nie, ‘n plek waar daar nie moordenaars en verkragters is nie, ‘n plek waar daar nie mense is wat jou kinders wil seermaak, molesteer of onvoer nie, ‘n plek waar daar nie gevaarlike diere is om jou te byt nie, ‘n plek waar die duiwel jou nie kan versoek nie, ‘n plek waar jy nie teen die sonde van jou eie hart moet stry nie?

 

Ek sien uit na ‘n plek waar niemand honger of dors is nie, omdat daar meer as genoeg is om te eet en te drink, ‘n plek waar daar nie droogtes en hittegolwe is nie, ‘n plek waar jy nie so erg brand dat jy velkanker kry nie, ‘n plek waar jy gemaklik onder God se skaduwee sit, ‘n plek waar die perfekte lig van God se heerlikheid vir ewig sal skyn (v.16, 21:23, Jes.49:10, Ps.121:5-6, kontr. 16:8-9).

 

In die hemel, soos op die aarde, sal die Lam jou Herder wees. Die Lam is jou Herder (v.17, Jh.10, Mt.2:6, Ps.23:2, Jes.49:10)!  Hy sal jou na strome van lewende water toe lei (v.17, 21:6, 22:17, Jh.4:14, 7:37-38, Ps.36:9-10).  Jy het dus nie net vir Jesus nodig om jou te red of om jou veilig in die hemel te bring nie;  jy het Hom ook nodig sodat jy vir ewig in die hemel kan voortlewe – jy sal Hom vir die res van jou ewige bestaan nodig hê (v.17).

 

In hierdie wêreld huil ouers oor hulle rebelse kinders. Mense huil oor die ontrouheid van hulle huweliksmaats, oor die dood van ‘n geliefde, oor fisiese en emosionele pyn, oor gebroke verhoudings, oor die sonde wat ander mense teen hulle pleeg, en oor baie ander dinge.  Sal dit nie lekker wees om in ‘n plek te bly waar die trane van die groot verdrukking gelei het tot die vreugde van verlossing, en waar God die trane uit ons oë en van ons wange afvee nie (v.17, 21:4, Jes.25:8)?

 

[1] Ons sien dan dat die 4 lewende wesens nie presies dieselfde is as engele nie, en dat die 24 ouderlinge nie die verloste menigte is nie.

[2] Sermons of M’Cheyne, p.21

[3] Alfred Edersheim, The Temple: Its Ministry and Services as They Were at the Time of Jesus Christ, Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Co., 1980, p.95 aangehaal in David Chilton, Days of Vengeance, p.96

Wat dink jy van Jesus?

triumphal-entry

In die 16de en 17de eeu was daar ‘n groep Britse predikante wat as die Puriteine bekend gestaan het. Wanneer ‘n mens hulle boeke lees dan kom jy agter dat hulle ‘n rare kombinasie gehad het wat vandag skaars is:  hulle het die Bybel baie goed geken en hulle het mense baie goed geken.

 

Vandag dink ons dat enigiemand wat die Here met passie prys ‘n toegewyde Christen is. Hulle het nie so maklik daarvoor geval nie.  En Jesus het nie so maklik daarvoor geval nie.  Hy het natuurlik nie net mense se dade goed opgesom nie, maar hulle harte en motiewe geken (Jh.2:23-25).  Daarom het Hy nie veel gemaak van die skare se lofprysing in Jh.12:12-19 nie.

 

Die skare (v.12-13, 17-18)

Elsa soek met ‘n seer hart ‘n nuwe Bentley en ‘n huis in Clifton. By ‘n formele dinee ontmoet sy ‘n Amerikaanse man wat ‘n multi-miljoen dollar besigheid besit.  Soos wat die weke in maande verander het, het daar ‘n vriendskap tussen hulle ontwikkel.  Na omtrent ‘n jaar het die man agtergekom dat Elsa nie in hóm belangstel nie, maar in sy geld.  Toe sy nie haar Bentley en huis in Clifton gekry het nie, het sy hom soos ‘n stukkende speelding gelos.

 

Dit is wat die Jode met Jesus gedoen het. Hulle het Hom nie gesoek vir wie Hý is nie.  Hulle wou ‘n wonderwerkende Messias gehad het wat staatsubsidies vir die volk sou gee (6:14-15, 26, 34).  Toe Hy dit nie vir hulle gegee het nie, het hulle Hom gekruisig.

 

In v.1 was Jesus ses dae voor die Paasfees in Betanië. Die volgende dag het Hy Jerusalem toe gekom (v.12).  Soos wat die paaslam vyf dae voor die tyd in die huise ingeneem is (Eks.12:3, 6), was Jesus ons Paaslam vyf dae voor die tyd al in Jerusalem (v.12, 1:29, 1 Kor.5:7, 1 Pt.1:19).

 

Die oggend voordat Hy in Jerusalem ingekom het, het die groot skare wat vir die Paasfees in Jerusalem was, gehoor dat Hy oppad is (v.12). ‘n Klomp van die Jode het gesien hoe Jesus vir Lasarus uit die dood uit opgewek het.  Hulle het aangehou om die nuus te versprei en vir die mense te vertel dat Jesus die Messias is (v.17, 11, 11:45, 20:30-31, Lk.19:37).  Dié wat hulle getuienis geglo het, het uitgegaan om Hom te ontmoet waar Hy teen die westelike helling van die Olyfberg afgekom het (v.13, 18, Lk.19:36-37).

 

Wanneer oom Jan en tannie Sarie oor die Kersseisoen van die Kaap af vir jou kom kuier, ry jy nie Vereniging toe om hulle te ontmoet nie. Maar in Jesus se tyd en kultuur het dinge anders gewerk:  jy hét Vereniging toe gery om hulle te ontmoet.

 

Dit is wat Paulus se vriende in Hd.28:15-16 met hóm gedoen het. Toe hy Rome toe is, het party van sy vriende 70 en 48 km uit die stad uit gekom om hom te ontmoet [Gk. apantēsis].  Wanneer Jesus weer kom sal ons ook ‘uitgaan’ om Hom in die lug te ontmoet [Gk. apantēsis], en Hom dan na die nuwe aarde toe vergesel (Mt.25:1, 6, 1 Ts.4:17).  Volgens die gebruik van die tyd dan het die Jode in Jh.12:13 uitgegaan om hulle Koning te ontmoet.

 

Sommige het van Betanië af agter Hom aangeloop, en ander het van Jerusalem af gekom – voor en agter Hom het die skare gejuig (Mt.21:9). Hulle het Hom vergesel en geprys totdat Hy in Jerusalem ingekom het (Mt.21:9-10).

 

Die meeste van hulle het hulle klere op die pad voor Hom gegooi, maar ander het palmbome se takke in die veld afgesny en dit op die pad gegooi (v.13, Mt.21:8, Mk.11:8). Hierdeur het hulle gesimboliseer dat Hy ‘n groot Koning is (Op.7:9).  Hulle het gesê:  ‘Hosanna!  Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel!’  Hierdie woorde kom uit Ps.118:25-26.

 

Die psalmskrywer vertel hoe die Here hom van sy vyande en van die dood gered het. Mense het hom eenkant toe geskuif soos wat bouers verwerplike stene weggooi.  Dit was ‘n dag van blydskap toe God hóm die hoeksteen gemaak het.  In v.25-26 het die volk gebid dat God deur hom seën, voorspoed, verlossing en sukses moes gee (‘Hosanna beteken ‘O red!’ of ‘red nou!’).

 

In Jh.12:13 het die volk erken dat Hy in die Naam van die Here kom, en dat Hy God se Messias, Koning en verteenwoordiger is. Omdat Hy die Seun van Dawid was, sou Dawid se koninkryk deur Hom gekom het (Mt.21:9, Mk.11:9).  God se vrede en heerlikheid sou deur Hom gekom het (Lk.19:38).  Die volk het nie besef dat Hy ook die lig en offer van Ps.118:27 is nie (Jh.1:29, 8:12).

 

Die volk het ‘n politieke Messias gesoek om hulle van die Romeine se onderdrukking te red. Dit is wat hulle in v.13 met Hosanna (‘Red nou!’) bedoel het.  Dit is ook hoekom hulle bygevoeg het dat Hy die Koning van Israel is.  Hulle het nie verstaan dat Hy die Prins van vrede is wat gekom het om ons van ons sonde te red nie.

 

Jesus (v.14-15)

Ek ken ‘n predikant wat baie humoristies, vriendelik en spraaksaam is. ‘n Paar maande gelede het ‘n vrou wat in die apteek werk vir hom gesê:  ‘Ek glo jou nie dat jy ‘n predikant is nie – jy lyk nie soos een nie.’  ‘Maar hoe moet ‘n predikant dan lyk?’ het hy vir haar gevra.  ‘Ja, maar jy praat nie soos ‘n predikant nie,’ het sy gesê.  ‘Hoe moet ‘n predikant praat?’ het hy geantwoord.

 

Mense het vooropgestelde idees oor hoe dinge moet wees. Jesus se hele missie, karakter en styl was ‘n antiklimaks van alles wat die Jode verwag het die Messias moes wees.  Hulle het ‘n militêre Messias op ‘n wit perd verwag.  Jesus het nie vir hulle gegee wat hulle gesoek het nie.  Om hulle verkeerdes idees reg te stel het Hy op ‘n donkie gery.  Hiér is hoe dit gebeur het.

 

Toe Jesus teen die oostelike helling van die Olyfberg opgegaan het, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur om in Betfage vir Hom ‘n donkie en haar vul te kry (Mt.21:1-2). As iemand gevra het hoekom hulle die donkies losmaak, moes hulle gesê het dat die Here dit nodig het – ná gebruik sou Hy dit dadelik vir hulle teruggestuur het (Mt.21:3, Mk.11:3).  Die mense het toegelaat dat die dissipels die donkies vat (Mk.11:6).  Jesus het die vul se ma laat saamkom, sodat die vul nie deur die harde gejuig van die skare verwilder sou word nie (Mt.21:7, Lk.19:37).

 

Die vul was nog nie ingebreek nie, maar omdat Jesus die Meester van die skepping was kon Hy maklik op die dier gery het (Mk.11:2). Vir ‘n sagter en gemakliker rit, het die dissipels hulle klere op die donkie se rug gesit (Mk.11:7).  Deur op die vul se rug te ry het Jesus die Skrif vervul (v.14).

 

Volgens Gn.49:10-11 het die Koning uit die stam van Juda sy donkie aan die wingerd vasbind. In Sg.9 sien ons hoe God Israel se vyande oordeel.  Jerusalem moes gejuig het oor haar Koning wat na haar toe oppad was.  Hy was ‘n regverdige Koning wat verlossing gebring het.  Hy het nie met militêre mag gekom nie.  Hy het gekom om deur die bloed van sy verbond (!) vrede vir Israel en die nasies te bring, en om oor die wêreld te heers.  Daarom het Hy wapens, strydwaens en perde vernietig (Sg.9:9-11).  In nederigheid het Hy op ‘n donkie se vul gery.  Dit was nie nodig vir God se volk om bang te wees nie (v.15, Jes.40:9).

 

Die dissipels (v.16)

Ek het eenkeer in ‘n preek gesê dat Jesus volkome God en volkome mens is, en dat Hy vir ewig so sal bly. Na die preek het iemand vir my vrou gesê:  ‘Die Here het my oë oopgemaak.  Om te dink dat ons al die jare nog verkeerd geglo het.’  Soos hierdie persoon het die dissipels verkeerd geglo oor Jesus.  Die Heilige Gees het hulle oë oopgemaak om dinge reg te verstaan.

 

Die dissipels het geweet dat Jesus die Messias is, maar soos die skare het hulle sy Messiaskap verkeerd verstaan (v.16, 2:22, 13:7, Mk.9:32). Toe Hy verheerlik is het Hy die Heilige Gees oor hulle uitgestort (Hd.2:33).  Die Gees het hulle gehelp om te onthou dat die profete hierdie dinge geskryf het (v.16).  Hý het hulle harte oopgemaak om dit te verstaan (16:12-13).  Hý het hulle aan Jesus se woorde herinner (14:26).

 

Die Fariseërs (v.19)

Het jy al ooit gesien hoe iemand sy vingers deur sy hare hark en dan vasgryp, omdat hy nie weet wat om te doen nie? Wanneer jy jou in so ‘n situasie bevind, sê die Afrikaanse spreekwoord dat jy met jou hande in jou hare sit.  In v.19 sien ons dat die Fariseërs so was.

 

Hulle was raadop. Hulle het vir Jesus gesê om sy dissipels stil te maak (Lk.19:39).  ‘As hulle stilbly sal die klippe uitroep,’ het Hy gesê (Lk.19:40).  ‘Ons planne om vir Jesus dood te maak gaan nie uitwerk nie,’ het hulle vir mekaar gesê (v.19, 11:53).  ‘Ons wou juis nie gehad het die skare moet in Hom glo nie, maar nou het die wêreld agter Hom aangeloop’ (v.19, 11:48).

 

Net soos Kajafas in 11:51, het die Fariseërs nie eintlik besef wat hulle gesê het nie. Die wêreld het inderdaad agter Jesus aangeloop (v.19-20).  Is dit nie juis hoekom Hy gekom het nie (3:16-17)?

 

Wat dink jy van Jesus? Prys jy Hom saam met die skare?  Waarvoor prys jy Hom en hoekom?  Ware gelowiges sal die Here prys, maar nie almal wat Hom prys is ware gelowiges nie.  Jy is nie noodwendig gered omdat jy na Christelike musiek luister, omdat jy lofliede sing, of omdat jy ‘n aanbiddingsleier in die kerk is nie.

 

Die vraag wat jy vir jouself moet afvra is dit: hoekom en waarvoor prys ek die Here?  Wat is my motiewe?  Wat wil ek hê?  Min mense besef dat lofprysing selfgesentreerd kan wees.  Ons kan die Here prys net omdat Hy vir ons goed gee, of omdat ons goed wil hê (v.13, 6:14-15).  As dit die hoofmotief vir ons lofprysing is, is ons nie veel beter as die mense in prosperity kerke nie.  Hulle prys die Here omdat hulle voorspoed, geld en gesondheid by Hom soek.  Ons is ook partykeer so.

 

Jy lees en bid omdat jy ‘n huweliksmaat soek, of omdat jy wil hê die Here moet jou siek kind genees. Jy kom meer gereeld kerk toe as gewoonlik omdat jy ‘n werk wil hê, of omdat jy wil hê die Here moet jou in die eksamen help.  Jy gee geld vir ‘n arm persoon omdat jy wil hê die Here moet jou help om ‘n sekere sonde te oorwin, of omdat jy van jou skuldgevoelens ontslae wil raak.  Jy besoek siek mense omdat jy wil hê die Here moet jou depressie wegvat; jy sing lofliede omdat jy die lekker gevoel soek wat die Here vir jou kan gee.

 

Maar sodra dinge vir jou beter gaan, dan vergeet jy van die Here. Jy prys Hom nie meer soos wat jy dit gedoen het toe dit sleg gegaan het nie.  In sommige gevalle wag jy nie eers totdat dit goed gaan nie.  As die Here jou nie gou genoeg uit ons jou probleme uit help nie, dan is jy kwaad en wil jy niks met Hom te doen hê nie.

 

Die Jode was so. Hulle het gesien dat Jesus hulle nie van die Romeine se onderdrukking gaan red nie, maar dat Hy húlle uit die tempel uitgejaag het.  Daarom het die eindste Jode wat Hom in Jh.12:13 geprys het, vyf dae later vir sy bloed geroep.

 

‘Red nou!’ (Hosanna) het verander in ‘Red Uself!’ (Mt.27:40). In Jh.12 het hulle hulle eie klere op die pad gegooi, maar by die kruis het hulle sý klere verdeel (19:23-24).  In Jh.12 het hulle bome se takke afgesny en dit voor Hom op die pad gegooi, maar by die kruis het hulle Hom aan ‘n boom vasgespyker.  In Jh.12 het hulle Hom geseën, maar by die kruis het hulle Hom vervloek.  In Jh.12 het hulle erken dat Hy die Koning van Israel is, maar by die kruis het hulle gesê dat hulle geen ander koning as die keiser het nie (19:15).

 

Die Jode het ‘n politieke idee van Jesus se verlossing gehad. Dit is presies wat hulle met ‘Hosanna’ of ‘Red nou!’ bedoel het.  Toe Jesus nie hulle definisie van verlossing vervul het en aan hulle verwagting voldoen het nie, het hulle van Hom ontslae geraak.

 

Soos die Jode is daar baie kerkmense wat ‘n verkeerde idee van God se verlossing het. As jy vir hulle vra of hulle gered is, dan antwoord hulle met ‘n selfversekerde ‘ja’.  As jy vir hulle vra hoe hulle dit weet, dan vertel hulle vir jou hoe die Here hulle deur ‘n moeilike operasie gehelp het.

 

Ek ontken nie dat dit die Here was wat dit gedoen het nie. Wat ek wel sê is dat dít nie die Nuwe Testamentiese verstaan van verlossing is nie.  Dit is nie wat Christene deur die eeue met ‘Hosanna’ bedoel het nie.

 

God is nie toornig omdat jy siek is of omdat jy nie geld het nie. Hy is kwaad omdat jy sonde doen.  Dus prys ons Hom nie primêr omdat Hy ons siektes genees, of omdat Hy vir ons ‘n werk gee nie.  Die primêre rede vir ons lof is dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons sonde te vergewe.  Dit help nie net dat jy dit weet nie.  Om Hom reg te prys moet jy hierdie vergifnis in jou siel ontvang.

 

Kan jy eerlik sê dat jou sonde vergewe is en dat jy ‘n skoon gewete het? Het jy die sonde in jou hart en gedagtes, woorde en dade afgelê?  Of is jy nog ‘n slaaf daarvan?  Om vergewe te word moet jy op die gekruisigde en opgestane Jesus vertrou, omdat Hy alleen die mag van sonde in jou lewe kan breek.  Hy het die straf wat jou en my sonde verdien aan die kruis gedra.  Daarom kan net Hý jou skuldige rekord skoonvee.  Draai na Hom toe, draai na Hom toe, draai na Hom toe!

 

Die Jode het hulle Messias wat op die donkie gery het verwerp, en daarom het Hy later op ‘n wit oorlogperd teen hulle gekom (Op.19:11). En as jy Hom verwerp sal God se oordeel soos ‘n trop buffels in ‘n drukgang op jou afkom en jou verbrysel.  Draai dan na die Here toe, selfs al is jy soos die dissipels en verstaan jy nie alles nie (v.16).  Die Here sal mettertyd die dinge vir jou duidelik maak (v.16).

 

In die 1960’s was daar ‘n ontploffing van lofprysing in die Christelike kerk. Vandag is daar meer as ooit Christelike CD’s, DVD’s en konserte.  As jy na sommige foto’s op die internet kyk is dit moeilik om tussen ‘n Christelike erediens en ‘n rock konsert te onderskei.  In sekere kringe roem mense op die volheid en rykdom van hulle lofprysing, en sê hulle dat eredienste soos ons s’n dood is.  As ons egter na Jh.12:12-19 kyk dan is dit duidelik dat Jesus nie veel waarde aan mense se geestelike opgewondenheid heg nie. Dit is wat hulle van Hom dink wat saakmaak.

Gemengde gevoelens oor Jesus

like-and-unlike

Nie almal voel dieselfde oor Jesus nie. Party mense is lief vir Hom en aanbid Hom.  Ander ignoreer Hom en wil niks met Hom te doen hê nie.  Ander knik hulle koppe vir Hom, maar doen in elk geval hulle eie ding.  Ander haat Hom en maak planne teen Hom.  Ander neem aanstoot as hulle sy Naam hoor.

 

Niemand staan neutraal nie. Wanneer dit by Jesus kom voel elke mens iets.  Selfs dié wat nie sy Naam ken nie is rebels teen hulle Skepper.  In Jh.11:55-12:11 is daar gemengde gevoelens oor Jesus.  Die meeste van ons kan onsself met een van hierdie karakters vereenselwig.

 

Die Jode (11:55-56, 12:9)

Elke jaar is daar ‘n Paaskonferensie te Cornelia in die Vrystaat. Sommige mense kom nog voor die konferensie by die kampgronde aan om alles reg te kry.  As die kampgangers opdaag is alles gereed.  So was dit ook in Jerusalem voor die Paasfees.  Volgens die wet moes die volk hulleself vir die Fees voorberei het.

 

Baie mense het van die platteland af opgegaan Jerusalem toe om die Fees by te woon (11:55). Hulle moes omtrent ‘n week voor die tyd al daar gewees het om hulleself te reinig.  As hulle bv. met heidene gemeng het of aan ‘n familielid se lyk gevat het, moes hulle gereinig word (18:28, Nm.9:6, 19:11-12, 2 Kron.30).  Dit is ironies dat baie van die Jode uiterlik rein was, maar innerlik onrein met sonde (Mt.23:25-28).

 

Toe die mense in Jerusalem aangekom het, het hulle vir Jesus gesoek (11:56, 7:11). Wat dink jy?’ het een persoon vir die ander een gesê.  ‘Sal Hy enigsins die Fees bywoon?’ (11:56).  Hulle het seker geweet dat die Joodse Raad van plan was om Hom te arresteer (11:57, vgl. 7:30, 32, 44, 8:59, 10:31, 39).  Sou Jesus dit gewaag het om by die Fees op te daag?  As hulle maar net geweet het dat Hy beplan het om by hierdie Fees aan die kruis te sterf.

 

‘n Klomp Jode het gehoor dat Jesus in Betanië was en het dadelik daarheen gegaan (12:9). Soos die Jode in 11:45, het hulle op grond van die opstanding van Lasarus geglo dat Jesus die Seun van God en die Messias is (12:9, 18, 20:30-31).  Hulle wou vir Jesus gesien het, maar hulle wou ook vir Lasarus gesien het (12:9, 10:38).

 

Ons moenie soos party van die Jode wees en onsself net uiterlik reinig nie (11:55). Ons moet seker maak dat ons innerlik rein is.  Hoe doen jy dit?  Wanneer mense sonde doen en skuldig voel, probeer hulle soms om daarvan ontslae te raak deur arm mense te help, geld vir die kerk te gee of ander goeie dinge te doen.  Maar volgens Heb.10:4 kan geen offer die mens se hart reinig nie.  Ons kan onsself ook nie rein maak deur dinge soos wyn, sigarette of vark tjops te vermy nie (Mk.7:18-19, Kol.2:21).

 

Om rein te wees moet jy in Jesus glo (Hd.15:9). Dit is immers sy bloed wat ons harte rein maak (1 Jh.1:7, Tit.2:14, Heb.9:14).  Om ‘n rein hart te hê moet ons ons sonde bely en daarmee ophou (1 Jh.1:9, Jk.4:8-10).  Die nagmaal moet ons veral hieraan herinner (1 Kor.11:28).  As ons die Woord van God lees en oordink sal dit ons verkeerde denke regstel en vir ons wys hoe om rein te lewe (17:17, Ps.119:9, 11, Ef.5:26, Fil.4:8, 1 Pt.1:22).

 

Die Here sal ons ook beproef en tugtig, sodat ons rein kan wees (1 Pt.1:6-7, Heb.12:10-11). Hy sal selfs toelaat dat ons struikel, sodat ons ons kan bekeer en rein kan wees (Dn.11:35).  Om rein te wees moet ons mense vermy wat ons met sonde wil besmet (2 Kor.6:14-7:1, 1 Tm.5:22).  Laastens moet ons met verlange uitsien dat Jesus weer kom.  As ons dit doen, sal ons nie onrein voor Hom wil wees nie, maar rein (1 Jh.3:3).

 

Die Raad (11:57, 12:10-11)

Ek het in die afgelope week lelike e-posse gekry (‘hate mail’), waarin mense my as ‘n vals profeet bestempel het. Ek het op ‘n baie mooi manier vir die persone gevra of ek iets gesê het wat met die Bybel bots.  Hulle het emosioneel geraak en gesê dat ek blind is en dat God my moet vergewe.  Hulle het nie uit die Skrif uit gewys hoekom ek verkeerd is nie, en het ook glad nie die tekste beantwoord wat ek vir hulle gestuur het nie.

 

Die owerpriesters het dieselfde met Jesus gedoen. Hulle kon nie sy wonderwerke ontken het nie, en het toe besluit om vir Jesus en Lasarus dood te maak.

 

Die owerpriesters en Fariseërs het vir die volk ‘n bevel gegee: as enige van hulle geweet het waar Jesus was, moes hulle die Raad laat weet het, sodat hulle Hom kon arresteer (11:57).  Die Raad het geweet dat daar baie gewillige hande en haatdraende harte was (11:47).

 

Die owerpriesters was jaloers, omdat baie van die Jode nie meer agter hulle aangeloop het nie, maar in Jesus geglo het (12:11, 11:45, vgl. Mk.15:10). Die nuus dat Jesus vir Lasarus uit die dood uit opgewek het, het soos ‘n veldbrand versprei (12:9, 11).  Die owerpriesters wou dus nie net vir Jesus doodgemaak het nie (11:53), maar ook vir Lasarus (12:10).  Duidelik het hulle nie daaraan gedink dat Jesus weer vir Lasarus uit die dood uit kon opwek nie.

 

Onthou dat die meeste van die owerpriesters Sadduseërs was, en dat hulle die opstanding van die dooies ontken het (Mt.22:23, Hd.23:8). Maar omdat hulle nie teen die opstanding van Lasarus kon stry nie, wou hulle stilletjies van die bewyse ontslae geraak het (12:10).

 

As jy die Here vrees en heilig wil lewe sal mense jou haat (2 Tm.3:12). Jy sal nie net een vyand hê nie, maar baie (11:57).  Jy sal selfs mense hê wat dit as hulle plig beskou om die lewe vir jou moeilik te maak.  Een van die persone wat die lelike e-posse vir my gestuur het, het my verseker dat hy vir soveel mense as moontlik gaan laat weet dat ek ‘n vals profeet is.

 

Mense sal dan nie net probeer om jóú in die wiele te ry nie; hulle sal ook probeer om dít wat jy vir die Here gedoen het te vernietig (12:10).  Hulle sal ‘n persoonlike vendetta hê teen almal wat ‘n goeie woord van jou te sê het (12:10-11).  Hulle sal bose planne teen jou maak, omdat die haat en jaloesie soos wurms in hulle harte broei.

 

As dit gebeur moet jy onthou dat hulle jóú nie eintlik verwerp het nie, maar vir Jesus (1 Sm.8:7, Lk.10:16).  Het jy gedink hulle gaan die Meester verwerp en nie ook sy volgelinge nie (Mt.10:24-25)?  Sorg net asseblief dat jy die vervolgde is, en nie ‘n vervolger van God se kinders nie.  As jy daarmee besig is en jouself ‘n Christen noem, is jy waarskynlik kop in een mus met die Joodse Raad.

 

Maria (12:1-3, 7)

Megan weet dat Steve baie van seëls hou. Vir sy verjaarsdag gaan sy na ‘n pantjieswinkel toe.  Daar sien sy ‘n swart en grys seël wat R1000 kos.  Sy het ‘n vermoede dat hy baie daarvan sal hou en is bereid om die geld uit te haal.  Toe sy die seël vir hom gee, het sy oë amper uitgeval.

 

‘Waar het jy dit gekry?’ vra hy. ‘Dit is ‘n Penny Black – een van die duurste seëls ter wêreld!’  Duidelik het man by die pantjieswinkel dit nie geweet nie.  Megan self het nie besef watse groot geskenk sy vir Steve gee nie.  En so was dit met Maria en Jesus.

 

Ses dae voor die Paasfees het Jesus van Efraim af na Betanië toe gekom (12:1, 11:54). Efraim was omtrent 20 km noord van Jerusalem, en Betanië minder as 3 km oos van die hoofstad af.  Dit was nie vir Jesus nodig om Jerusalem toe te gaan om Homself vir die Paasfees te reinig nie, en dus het Hy Betanië toe gegaan.

 

Volgens die ‘daarom’ in 12:1 [Gk.], is daar nóg ‘n rede hoekom Hy Betanië toe gegaan het. Jesus het geweet die Raad wil Hom doodmaak (11:57).  Hy wou nie gehad het dat hulle Hom voor die Fees moes arresteer nie, omdat Hy volgens God se plan tydens die Fees moes gesterf het.

 

Jesus se vriende in Betanië het vir Hom ‘n ete gehou (12:2). Miskien was dit om dankie te sê vir wat Hy in hfst.11 vir Maria en Marta gedoen het.  Volgens Mk.14:3 het hulle dit by Simon die melaatse se huis gehou.  Saam met Jesus en sy dissipels was Maria, Marta, Lasarus en dalk nog ‘n paar ander vriende daar.

 

Soos in Lk.10:40 het Marta gedien (12:2). Die eindste Lasarus wat in hfst.11 begrawe was en weer opgestaan het, was saam met Jesus aan tafel (12:2).  Ons moet onthou dat hulle nie by die tafel gesit het soos ons nie.  Die tafels was laag en daarom het mense op een elmboog by die tafel gelê, terwyl hulle hulle bene en voete na die kant toe uitgestrek het.  Juis daarom kon Maria maklik Jesus se voete gesalf het (12:3, vgl. 11:32, Lk.10:39).

 

Alhoewel Maria se salf net 327 gram geweeg het, was dit onbekostigbaar duur (12:3, 5). Dit was van egte nardus olie gemaak (12:3).  Die nardusplant groei in die Himalayas van noord-Indië.  Die blom lyk soos ‘n klein speldekussing vol van kopspelde.  Die olie word van die plant se blom en wortels gemaak.[1]

 

Maria het die olie in ‘n albaste fles gehou (Mk.14:3). Sy het die fles se seël gebreek en die salf oor Jesus se voete gegooi (12:3, Mk.14:3).  Volgens Matteus en Markus het sy dit oor sy kop ook gegooi (Mt.26:7, Mk.14:3).  Dit blyk dan dat sy Hom van kop tot tone met die olie gesalf het.  Hy is immers die ‘Gesalfde’.

 

Nadat sy Jesus se voete gesalf het, het sy dit met haar hare afgedroog (byna soos die vrou in Lk.7:37-38). Die soet geur van die salf het die huis gevul (12:3).  Dit was ‘n prentjie van Maria se daad van liefde en toewyding wat oral in die wêreld vertel sou word (Mk.14:9).  Sonder dat sy dit geweet het, het Maria Jesus se liggaam vir sy begrafnis gesalf (12:7, vgl. 19:39).

 

Ons kan baie by Maria leer. Sy het nie die salf teruggehou omdat dit duur was nie; sy het haar beste vir Jesus gegee.  Soos Maria moet ons bereid wees om dít te gee wat vir ons baie kosbaar en spesiaal is.  Wanneer ons vir die Here gee moet ons nie ons tweede beste gee, of net gee as ons dit kan bekostig nie.  Ons moet ons beste gee.

 

Ons moenie net ons geld gee nie, maar ook ons tyd en ons lewens (Rm.12:1). Miskien het jy nie geld nie.  Wat hét jy om vir die Here te gee?  Kan jy jou kar, kennis, talente en vaardighede, huis of enigiets anders in die Here se diens gebruik?  Hoe beplan jy om dit te doen?  Is dit miskien ‘n nederige taak wat jy moet doen?  Onthou dat Maria Jesus se voete gesalf het (12:3, hfst.13).

 

Maria was nie skaam om die Here te dien nie. Teen die gebruik van die tyd het sy haar hare losgemaak om Jesus se voete af te droog.[2]  Sy het nie omgegee wat die ander van haar dink nie, maar was bereid om alles te gee – selfs haar reputasie.  Is jy bereid om dieselfde te doen?

 

Of sal jy nie dinge vir Jesus te doen as dit jou reputasie gaan kos nie? Kry jy skaam om vir iemand ‘n traktaatjie te gee?  Is dit vir jou te radikaal as ‘n ander Christen by jou werk lofliede fluit, bid, ‘n Bybel op sy lessenaar het, of vir ander van Jesus vertel?  Pla dit jou as jou kollegas uitvind dat jy ‘n Christen is?  Moet jou nie vir die Here skaam nie, maar wees toegewyd soos Maria.

 

Laat jou liefde en toewyding aan Jesus soos die nardusolie se geur wees wat die huis gevul het. Hy sal dit nie vergeet nie, maar sal sê dat jy ‘n mooi ding vir Hom gedoen het (Mt.26:10).  Selfs in die verre toekoms sal dit wat jy gedoen het vir ander ‘n voorbeeld wees (Mk.14:9).  Tog fokus ons nie op wat ons vir die Here doen nie, maar op wat Hy vir ons gedoen het in sy kruisdood en opstanding (Mt.20:28, Lk.10:38-42, 1 Jh.4:19).

 

Judas (12:4-8)

Daar is ‘n storie van ‘n bankbestuurder wat aan die einde van elke dag al die kliënte se geld in sý rekening inbetaal het, sodat hy die rente kon kry. Elke oggend het hy vroeër ingekom om die geld terug te betaal.  Na ‘n paar dekades het hy baie ryk geword.

 

Toe hy afgetree het, toe koop hy vir homself ‘n paleis van ‘n huis. Mense het snuf in die neus gekry, die saak ondersoek, en uitgevind dat hy die geld gesteel het.

 

Judas was so. Hy het geweet hoe om met geld te werk en kon dit maklik laat verdwyn het sonder dat die res dit agtergekom het.  Maar uiteindelik het dit hom ingehaal.

 

Judas Iskariot was glad nie gelukkig oor wat Maria gedoen het nie (12:4). ‘Ons kon die salf vir 300 pennings [Gk. dēnarion] verkoop het en die geld vir die armes gegee het,’ het hy gesê (12:5).  Een pening was ‘n dag se loon vir ‘n gehuurde werker (Mt.20:2).  As ons die Sabbat en ander heilige dae aftrek, is 300 pennings ‘n volle jaar se salaris vir ‘n dag loner.  In vandag se terme is dit R36 000.

 

As Judas se motiewe suiwer was, kon ons nog probeer het om sy punt in te sien. Maar dit was nie.  Hy het nie omgegee oor die armes nie.  Hy het die dissipels se beursie gehad en het dikwels sy hand in die ‘koekieblik’ ingesteek om geld te steel (12:6, 13:29).  In 12:5-6 sien ons dat hy skynheilig, oneerlik en gevoelloos was.  Hy was ‘n duiwel (6:70-71).

 

Toe Judas se planne nie uitgewerk het nie, het hy dadelik na die Fariseërs toe gegaan om vir Jesus aan te gee. Hy was tevrede met die 30 stukke silwer wat hulle vir hom aangebied het, en het ‘n geleentheid gesoek om vir Jesus aan hulle oor te lewer (12:4, Mt.26:14-16).

 

Jesus het vir Judas gesê om vir Maria uit te los (12:7, 5-6). Dit was nie dat Jesus nie vir die armes omgegee het nie, maar eerder dat daar in die toekoms baie geleenthede sou wees om die armes te help (12:8, Mk.14:7, Dt.15:11).  Jesus was oppad na sy Vader toe, en daarom was hierdie Maria se laaste kans om iets mooi vir Jesus te doen (12:7-8, Mk.14:8).

 

Om ryk te wees is nie sonde nie, maar om dit te begeer is. Hierdie begeerte het al baie mense se kele afgesny.  Dit het al gemaak dat mense hulle rûe op die Here raai (Tm.6:9-10).  Pasop dan dat jy nie liewer raak vir geld as vir die Here nie; dat jy nie meer vir hierdie wêreld leef as vir die volgende nie.

 

Geldgierigheid sal maak dat jy skynheilig en oneerlik is soos Judas. Jy sal máák of jy ander wil help, terwyl jy eintlik net die geld vir jouself soek (12:5-6).  Party ryk mense is soos Hollywood sterre en gee vir liefdadigheid (12:5).  Dit is egter nie dieselfde as om Jesus lief te hê nie (12:3).

 

Dis nie verkeerd om ryk te wees nie, maar sorg dat jy jou rykdom gebruik om die Here se werk te bevorder en om ander te help. Gee geld om Bybels na ander Afrika lande toe te stuur.  Koop R10 000 se teologiese boeke vir ongeskoolde predikante in Malawi.  Ry ‘n ou bakkie, sodat jy ‘n sendeling kan ondersteun of ‘n arm Christen se skoolfondse kan betaal.  As jy dit doen sal jy skatte in die hemel hê (1 Tm.6:17-19).  Die skatte wat jy hier het sal vergaan.  Maar die skatte wat jy in die hemel het kan in alle ewigheid nie verlore gaan nie (Mt.6:19-21).

 

Martie se man het sy nukke. Sy is ontevrede met hom, en dagdroom oor ‘n man wat liefdevol, sagmoedig en romanties is, ‘n man wat haar op die hande dra.  In haar verbeelding skep sy vir haar ‘n ander man as die een met wie sy regtig getroud is.  Sy raak lief vir hierdie man en leef nie meer in die realiteit van haar onvolmaakte huwelik nie.

 

Ons kan dit met Jesus ook doen (nie dat Jesus nukke het soos Martie se man nie). Ons kan vir onsself ‘n Jesus skep wat nooit nee sê nie; ‘n Jesus wat bestaan om ons gelukkig te maak; ‘n Jesus wat nie omgee as ons sonde doen nie.  Ons moet versigtig wees dat ons nie later ‘n ander Jesus liefhet, terwyl ons die ware Een verag nie.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder ‘spikenard’

[2] Leon Morris, The Gospel According to John, pp.567-577

Wie is die 144 000 en wat maak dit saak?

144-000

Charles Spurgeon het eenkeer gepraat van die jong weduwee wat sukkel om haar vyf kinders groot te maak. ‘Sy voel ‘n veer vir ‘n ingewikkelde preek oor een of ander diep teologiese onderwerp,’ het hy gesê.  ‘Sy wil net bemoedig word en weet dat die Here haar nie verlaat het nie.’

 

Ek glo dat Spurgeon ‘n punt beet het. Hoekom moet ons ons dan enigsins steur aan wie presies die 144 000 is?  Wat maak dit saak?  Ek glo tóg dat dit saakmaak, en hoop om jou te oortuig dat Op.7:1-8 belangrik is vir dinge wat jy op een of ander tydstip in jou lewe gaan teëkom.

 

Vier engele (v.1)

In die twaalfde jaar van keiser Nero, het Cestius Gallus, die goewerneur van Sirië, met ‘n groot weermag teen Jerusalem gekom. As hy wou kon hy die stad gevat het, maar nadat hy vir ‘n kort rukkie geveg het, het hy sonder rede vir sy soldate gesê om te onttrek.  Toe dit gebeur het, het baie van die Jode die stad verlaat soos wat matrose ‘n sinkende skip verlaat.[1]

 

Nadat Gallus onttrek het, het keiser Nero vir Vespasianus opdrag gegee om Jerusalem te omsingel. Hy het in 67 n.C. daar aangekom.  Op 9 Junie van 68 n.C. het Nero selfmoord gepleeg.  Van Junie 68 tot Desember 69 het drie keisers die troon bestyg en weer tot ‘n val gekom:  Galba, Otho en Vitellius.

 

Vespasianus is teruggeroep Rome toe om keiser te word. Hy het vir Titus in Jerusalem gelos om die stad te beleër.  Titus se soldate het op sy bevele gewag, en vir ‘n wyle van die stad af onttrek.  Nóg Christene het hulle kans gesien om na Pella oorkant die Jordaan toe te vlug en dáár te skuil.[2]  Hulle het Jesus se waarskuwing in Lk.21:20-21 ernstig opgeneem:

 

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.”

 

Op.7:1-3 wys vir ons dat dit die Here was wat hulle beskerm het. Hfst.6 eindig met ‘n vraag:  “die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (6:17).  Hfst.7:1-8 beantwoord hierdie vraag en wys dat die 144 000 wat verseël is nie deur die Here se toorn sou omkom nie.  Die 144 000 was verseël net voordat die sewende seël in 8:1-5 gebreek is.

 

Johannes het gesien hoe vier engele aan die vier uithoeke van die land [Gk. ] of aarde gestaan het (v.1).  Hulle het die vier winde (noord, oos, suid, wes) teruggehou, sodat dit nie op die land, see of teen die bome sou waai nie (v.1).

 

Volgens Sg.6:5 is die vier winde vier perde wat God se oordele oor die aarde gebring het. In 6:1-8 lees ons van vier perde wat God se oordele gebring het.  Die engele in v.1 het die stormwinde van God se oordeel teruggehou, totdat die kinders van God verseël was (v.3).

 

Toe die Here Jerusalem in 70 n.C. geoordeel het, het die Romeine meer as ‘n miljoen Jode doodgemaak. Van dié wat oorleef het, is baie na die vier windrigtings toe verstrooi (vgl. Jer.49:36, Sg.7:14).  God het 144 000 geredde Jode gespaar (v.1, 3).  Daarna het Hy sy boodskappers [Gk. aggelos] met die evangelie uitgestuur om die uitverkore heidene uit die vier windrigtings te versamel (Mt.24:31, 28:19).

 

Een engel (v.2-3)

In Johannes se tyd het ‘n meester sy slawe met ‘n warm yster gebrandmerk, soos wat boere in die ou dae hulle beeste gebrandmerk het. So het hy gewys dat die slawe aan hóm behoort en dat hulle onder sý beskerming is.[3]

 

In die verse wat volg wys Johannes hoe die Here 144 000 van sy diensknegte of slawe [v.3, Gk. doulos] as sy eiendom verseël, geheilig en afgesonder het (vgl. Hgl.8:6, Eks.28:36).  Die seël op hulle voorkoppe het God se Naam op gehad (14:1, 22:4).  Hy sou sy verseëldes of uitverkorenes deur die verdrukking bewaar het (Mt.24:22).

 

‘n Vergelyking tussen 7:4-8 en 14:1, 3 wys vir ons dat al 144 000 verseëldes behoue gebly het. Eusebius bevestig dit en sê dat daar nie een Christen tydens die verwoesting van Jerusalem gesterf het nie.  Dit was in hierdie konteks wat Jesus in Lk.21:17-19 vir sy dissipels gesê het:

 

“En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam. En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.  Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.”

 

Soos wat Lot uit Sodom gevlug het, moes die gelowige Jode uit Jerusalem (Sodom in 11:8) gevlug het. Die Ou Testament sal ons help om hierdie verse beter te verstaan.

 

In Esg.8 het die Israeliete afgode in die tempel gedien. In Esg.9 het God ses mans (engele) gestuur om hulle dood te maak.  Maar voordat Hy dit gedoen het, het Hy vir nóg ‘n man (engel) gesê om dié mense wat nié afgode gedien het nie, op hulle voorkoppe te seël.

 

Toe hy dit klaar gedoen het, het die ander ses mans deur die tempel en die stad gegaan om dié mense dood te maak wat nie ‘n seël op hulle voorkoppe gehad het nie. In Esg.10 het God se heerlikheid die tempel verlaat.

 

Toe Johannes v.1-8 geskryf het, het hy Esg.8-10 in gedagte gehad. Hy het ‘n vyfde engel gesien wat van die ooste af gekom het waar die son opkom (v.2).  Van waar Johannes op die eiland Patmos was (1:9), was Israel in die ooste.  Die lewende God het sy engel na Israel toe gestuur om die 144 000 Jode te verseël, voordat die res van die volk onder sy oordele sou omkom (v.2-3).

 

Die engel met die seël het vir die ander engele gesê om nie die land, see of bome te beskadig (hfst.8-9, 16), totdat hy die 144 000 op hulle voorkoppe geseël het nie (v.2-3). Hulle sou nie soos die res van die Jode onder God se vreeslike oordele gesterf het nie (9:4, Eks.12:7, 13, 22-23).  Daar moes ‘n oorblyfsel gewees het (Rm.11:2-5, 9:27-28), omdat God beplan het om in die toekoms baie Jode te red (Rm.11).

 

144 000 Jode (v.4-8)

Die Jehova’s Getuies glo dat daar net 144 000 gesalfde Christene in die hemel sal wees, en dat die res op die nuwe aarde sal woon. Maar is dit wat die 144 000 in Openbaring beteken?  Wie was die 144 000?

 

Sommige geleerdes glo dat hierdie ‘n simboliese voorstelling van die ganse kerk op aarde is. Hulle verwys na Jk.1:1 wat van Christene praat as die 12 stamme wat verstrooi is.  Hulle sê ook dat hierdie nie letterlik na Joodse gelowiges kan verwys nie, omdat 10 van die 12 stamme in 722 v.C. deur die Assiriërs weggevoer is, en nooit weer na Israel toe teruggekeer het nie.

 

Volgens hulle kan die 144 000 ook nie na Jode verwys nie, omdat Levi onder die stamme getel word (in die Ou Testament tel hy nie as een van die 12 stamme nie), omdat Dan weggelaat is, en omdat Josef vir Efraim vervang.

 

Ek stem nie met hierdie siening saam nie. My redes is soos volg:

 

[1] Jakobus was die leier van die kerk in Jerusalem (Hd.21:18, Gal.1:18-19, 2:9).  Daarom glo ek dat die 12 verstrooide stamme in Jk.1:1 na geredde Jode verwys wat deur die vervolging in Jerusalem oor die aarde versprei is (Hd.8:4, 11:19).

 

[2] Nadat die Assiriërs die 10 noordelike stamme weggevoer het, lees ons nog van Aser, Manasse, Sebulon en Levi (2 Kron.30:5, 10-11, Mt.4:13, 15, Hd.4:36, Lk.2:36).

 

[3] Daar is ‘n duidelike kontras tussen die ontelbare menigte uit elke stam en taal en volk en nasie in v.9, en die 144 000 Jode in v.4-8.

 

[4] Levi word onder die stamme getel om te wys dat sommige van die priesters gered was (Hd.6:7). Johannes wys ook vir ons dat Levi nie meer God se spesiale stam van priesters is nie (Heb.7:11-14), maar dat elke gelowige ‘n priester is (5:10, 1 Pt.2:9).

 

[5] Alhoewel Efraim Josef se jongste seun was, was hy die vernaamste (Gn.48:19-21). Josef en Efraim is dus partykeer sinonieme terme (Esg.37:16, 19, Ps.78:67).

 

[6] Hoekom word Dan nie genoem nie? Rgt.18 en 1 Kon.12:28-30 wys vir ons hoe Dan hulleself oorgegee het aan afgodery.  Volgens 2 Kon.17:21-23 was dit a.g.v. hierdie afgodery wat die Here vir Israel Assirië toe gestuur het.  Volgens Dt.29:16-28 sou God dié wat hulleself só aan afgodery gegee het, heeltemal uitgewis het soos Sodom en Gomorra.

 

[7] Dit is belangrik om te weet dat Juda bo aan die lys is en dat hy voor die eersgebore Ruben genoem word, omdat die Messias uit sy nageslag gekom het (5:5, Gn.49:8-10).

 

My gevolgtrekking dan is dat die 144 000 na geredde Jode verwys wat die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. oorleef het. Volgens 14:3-4 is hulle die eerstevrug van God se verlossing; ‘n groot oes van heidene sou ná hulle gevolg het (Rm.11:16, Jk.1:1, 18, Sp.3:9-10).

 

Ek dink nie dit maak veel saak of dit ‘n letterlike getal is wat tot die naaste duisend afgerond is, en of dit ‘n simboliese getal van 122 x 103 is nie.  Die punt is dat God se kinders sy oordele oorleef het.

 

Op.7:1-8 waarborg egter nie dat elke gelowige van lyding gespaar sal word nie. Daar is nie ‘n belofte in die Bybel wat sê jy sal nie met kanker gediagnoseer word, skelms sal nie in jou huis inbreek terwyl jy slaap, almal sal van jou hou, of jou kinders sal nie voor jou doodgaan nie.

 

Die bewaring wat vir die 144 000 gegeld het, geld nie noodwendig op presies dieselfde manier vir ons nie. Omdat Op.7:1-8 meer oor geestelike beskerming gaan as oor fisiese beskerming, geld die beginsels in dié teks vir alle Christene.

 

God sal nie toelaat dat enigiets of iemand jou redding van jou af wegvat nie. Mense kan jou liggaam doodmaak, maar hulle kan nie jou siel doodmaak nie (Lk.12:4).  Hulle kan jou nie van God se liefde skei of jou uit sy hand uitruk nie (Rm.8:38-39, Jh.10:28-29).

 

God het jou met sy Gees verseël om te wys dat jy syne is (2 Kor.1:22, Ef.1:13, 4:30, 1 Jh.3:24, 4:13, 2 Tm.2:19). Jy hoef dan nie bang te wees dat die 666 op jou of jou gelowige kinders se voorkoppe sal wees nie – jy behoort aan die Here; sý seël is soos ‘n warm yster in jou hart en in jou gedagtes ingebrand.

 

Hy wat die goeie werk van verlossing in jou hart begin het, sal jou tot die einde toe bewaar (Fil.1:6). Deur sy krag en ons geloof, bewaar Hy ons vir die hemel en die hemel vir ons (1 Pt.1:4-5).  As jy regtig in Jesus glo en op Hom alleen vertrou om gered te word, hoef jy nie bang te wees dat jy van die geloof afvallig sal raak soos ‘n man wat skeef trap en van ‘n hoë krans af val nie.  God sal jou bewaar, sodat jy nie struikel nie (Jud.1, 24).  Hy sal jou van die duiwel se strikke bewaar, en jou veilig tot in die hemel bring (2 Tm.4:18).  Omdat Hy getrou is en nie sy beloftes kan breek nie, sal Hy seker maak dat jy op die laaste dag skoner is as ‘n wit hemp wat sewe keer in JIK gebleik is (1 Kor.1:8-9, 1 Ts.5:23-24).

 

Net soos Hy met die 144 000 gedoen het, sal Hy al sy kinders veilig in die hemel inbring (14:1). As jy in die hemel kom sal daar nie leë trone, harpe vol van stof is, krone met spinnerakke, of leë kamers wees nie.  Jesus het vir elkeen wat in Hom glo, asook vir dié wat nog in Hom sál glo (Jh.17:20) iets spesiaal voorberei.

 

Hier moet ons egter versigtig wees. God se bewaring beteken nie jy kan passief sit en wag vir die Here om alles te doen nie.  Jesus het 40 jaar tevore vir die gelowige Jode gesê om te vlug wanneer die Romeine Jerusalem omsingel (Lk.21:20-21).  Maar Hy was nie van plan om namens hulle te vlug nie.  En net so sal die Here vir jou die krag, genade en gewilligheid gee om tot die einde toe te volhard, maar Hy gaan dit nie vír jou doen nie – moet volhard (Fil.2:12-13).

 

Soos jou liggaam deur suurstof, kos en water bly lewe, sal God jou deur jou volharding tot die einde toe bewaar.  Waarin moet jy volhard?

 

  • Jy moet aanhou om in Jesus te glo (Kol.1:23, 1 Pt.1:5).
  • Jy moet in die Woord en gebed volhard (1 Kor.15:1-2, 2 Pt.1:19, Jud.20-21).
  • Jy moet saam met ander gelowiges volhard, en nie van die gemeentelike byeenkomste af wegbly nie (Ef.4:11-13, Heb.10:24-25, 1 Jh.2:19).
  • Jy moet volhard in bekering en heiligmaking (Heb.3:12-14, 12:14).
  • Jy moet vasbyt in beproewing. Die Here stuur dit juis om jou van die verkeerde pad af weg te draai, sodat jy op die regte pad kan bly (Heb.12:5-11, Jk.1:3).

 

Hoe kon iemand in Johannes se tyd geweet het of hy deel van die 144 000 was? En hoe kan iemand in ons tyd weet of hy met die Heilige Gees verseël is?  Daar is tog nie ‘n sigbare merk op mense se voorkoppe nie.  Hoe kan jy dan met sekerheid weet dat jy gered is en dat jy oppad is hemel toe?

 

As jy met die Heilige Gees verseël is en Hy in jou woon, sal jy die vrug van die Gees dra. Jy sal nie in hierdie lewe al volmaak wees nie, maar jou lewe sal gekenmerk wees deur ‘n liefde vir God, blydskap in Hom, vrede in jou hart, geduld met ander, vriendelikheid, goeie werke, getrouheid en lojaliteit, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23).

 

Iemand wie se lewe deur die volgende dinge gekenmerk word, het nie die Gees van God in hom nie, en is daarom nie gered nie:  seksuele sonde, onreinheid, afgodery, heksery, towery, bakleiery, humeurigheid, onenigheid, verdeeldheid, jaloesie, verslawing, ander sondes (Gal.5:19-21).

 

Dié wat aan die Here behoort sal van sonde af wegdraai en doen wat God in die Bybel sê, hulle sal ander gelowiges op praktiese maniere liefhê, en hulle sal glo wat die Bybel oor Jesus se Persoon en sy verlossingswerk sê (2 Tm.2:19, 1 Jh.1-5).

 

Wat van jou: wys jou lewe dat jy met die Heilige Gees verseël is?  Miskien pla dit jou nie eers dat jy ongered is nie.  Of dalk pla dit jou ‘n bietjie, maar jy is te lief vir jou sonde en wil dit nie los nie.  Moenie die Here se geduld toets of dink dat jy gou op jou sterfbed dinge met Hom kan regmaak nie.  Iemand wat die waarheid ken en opsetlik met sy sonde aanhou, sal baie streng geoordeel word.

 

Om te dink dat die Here jou sal aanneem omdat jy meer goeie werke as sonde gedoen het, is soos om te dink jy kan met ‘n zoeloe skild ‘n lorrie keer wat teen 140 km/h op jou afkom. As jy nie van jou sonde af wegdraai en in Jesus glo nie, sal God se toorn jou verpletter.

 

Dalk wíl jy gered word en met die Gees verseël word, maar jy weet nie hoe nie. Die stormwind van God se oordeel kan jou nie skade aandoen as jy deur bekering uit die riethuise van jou selfregverdige en sondige lewe uit wegvlug, en deur geloof in die staal en beton vesting van Jesus se kruisdood en opstanding wegkruip nie.  Miskien weet jy nogsteeds nie hoe om dit te doen nie.  Roep in desperaatheid die Here aan – Hy sal jou help (Rm.10:13).

 

In John Bunyan se Pilgrim’s Progress is daar ‘n karakter genaamd Little-faith.  Terwyl hy oppad was na die hemelse stad toe, het Faint-heart, Mistrust, en Guilt hom beroof.  Faint-heart en Mistrust het sy beursie en sy silwer gesteel, en Guilt het hom met ‘n swaar knuppel oor die kop geslaan.  Hulle het gevlug toe hulle Great-grace hoor aankom het.

 

Little-faith het later bygekom. Hulle het nie sy kosbare juwele gesteel nie, en hy het ook nog ‘n bietjie geld oorgehad om hom op sy reis voort te help.  Hulle het ook nie sy sertifikaat gekry wat hy nodig gehad het om in die hemelse stad in te kom nie.

 

Bunyan se punt is om vir ons te leer dat jy gered kan wees (jy het ‘n sertifikaat en juwele), selfs as jy nie sekerheid van redding het nie (jou geld en silwer is gesteel). Om seker te wees dat jy met die Gees verseël is en dat jy aan die Here behoort, is nie dieselfde as om gered te wees nie.

 

As redding die wortels is, is sekerheid van redding die blom. Jy kan die wortels sonder die blom hê, maar dit sal beter wees as jy beide het.  Maar selfs as jy nie die blom het nie, sal die Here vir jou genoeg water gee, sodat jy deur die droë maande van jou Christelike lewe behoue kan bly.

 

[1] Josephus, The Wars of the Jews, Book 2, ch.19:7, 9 & 20:1

[2] Doug van Meter, http://brackenhurstbaptist.co.za/the-144000-who-are-they/; Josephus, Ibid, Book 4 ch.9:1-2; Eusebius of Caesarea, Ecclesiastical History, Book III, ch.5

[3] G.K. Beale aangehaal in Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, p.173

Die storm van God se oordeel

tornado

Mense in die Suid-Oostelike V.S.A. is gewoond aan tornado’s en siklone. Hulle het allerhande gevorderde instrumente om hulle teen hierdie verwoedelike storms te waarsku.  Op.6:9-17 is een van God se spesiale instrumente om ons teen die finale storm van sy oordeel te waarsku.

Die rede vir God se oordeel (v.9-11)

Oor die afgelope paar jaar was daar verskeie dokumentêre en programme op TV wat gewys het hoe speurders moordsake oplos. Om bloed op te spoor, gebruik hulle ‘n sekere produk wat BlueStar Forensic genoem word.  Dit werk so iets:

 

Sally vermoor vir Patrick. Ná die moord vee sy die bloed van die vloer af op; die muur was sy met chemikalieë.  Wanneer die speurder by die moordtoneel opdaag, spuit hy BlueStar Forensic teen die muur en op die vloer.  Daarna skakel hy die ligte af.  Die BlueStar Forensic skyn helder blou op die plekke waar die bloed was.

 

Ek is nie ‘n kenner op die gebied nie, maar ek hoor dat sekere suurstofryke bleikmiddels die bloed heeltemal kan afwas. Ek weet nie of dit waar is nie, maar dit help om my punt te illustreer.

 

Die moordenaar mag dalk van die bewyse ontslae raak, maar by die Here kan hy nie wegkom nie. Dalk het die moordenaars van God se kinders gedink dat Hy van hulle bose dade vergeet het, maar Hy het nie.  Sy kinders se bloed het teen die moordenaars uitgeroep en sou binnekort vergeld word.  Dit is wat in v.9-11 aan die gang is.

 

Toe die Lam die vyfde seël oopgemaak het (v.1, 5:1, 9), het Johannes die siele van die martelare onder die altaar gesien (v.9). Die altaar verwys na die wierook altaar van 8:3-5.  In die Ou Testament het die hoëpriester wierook op dié altaar geoffer (Eks.30:7).  Soos geurige wierook was sy gebede aanneemlik vir die Here (Ps.141:2).  Een maal per jaar het hy bloed op die horings van die altaar gesmeer (Lv.4:7).

 

Johannes het dít in gedagte gehad toe hy v.9-10 geskryf het. Sy punt was om te wys dat die martelare se hulpgeroep vir geregtigheid soos die aangename geur van wierook voor die Here opgestyg het (5:8, 8:3-5).  Die bloed van die martelare onder die altaar leer vir ons dat die priesters van Jerusalem die gelowiges se bloed gestort het (Lk.11:51b).  Hulle siele onder die altaar wys vir ons dat hulle bloed afgeloop het tot aan die voet daarvan.  Volgens Lv.17:11 is die siel of lewe in die bloed, en daarom sê Johannes dat hulle siele onder die altaar was (v.9).

 

Volgens v.9 is die martelare vir die getuienis van God en sy Woord vervolg en doodgemaak (1:2, 9, 2:9-10, 13, 20:4, Mt.22:6-7, Lk.11:47-50, 20:10-16, Mk.6:27-28, Hd.7:52, 58-60, 12:2). Soos Abel se bloed van die grond af na die Here toe uitgeroep het, het hulle desperaat uitgeroep vir geregtigheid (v.10, Gn.4:10, Lk.11:51a, 18:7-8).  Die Here is soewerein.  Hy is heilig en haat sonde.  Hy is waaragtig om sy beloftes uit te voer.  Daarom het die martelare vir Hóm gevra om hulle te help (v.10).  Wat was hulle versoek?

 

‘Hoe lank nóg voor U wraak neem op dié wat u kinders se bloed vergiet het?’ (v.10, Ps.79:10, 94:3, 119:84, Sg.1:12). Die oordele van v.12-17 sou binnekort (in Johannes se tyd nog) oor die moordenaars se koppe losgebreek het (v.11, 1:1, 3).  Tot dan moes hulle rustig en geduldig op die Here gewag het (v.11).  Volgens sy soewereine raadsplan moes nóg martelare (mede-diensknegte of broers) doodgemaak word (v.11).  Sodra die moordenaars die maat van hulle sondes volgemaak het, sou die Here hulle geoordeel het (Gn.15:16, 1 Ts.2:14-16).  Maar tot dan moes die martelare bly gewees het dat die bloed van Jesus die klere van hulle lewens wit gewas het, en dat Hy hulle sonde vergewe het (7:9, 14).  As dit nie so was nie, sou selfs húlle die oordele van v.12-17 gesmaak het.

 

Het mense jou al sleg behandel omdat jy ‘n Christen is, omdat jy nie saam met die stroom gaan nie, of omdat jy opgestaan het vir wat reg is? Het hulle jou uitgeskuif, sleggesê, agter jou rug gepraat, sekere voorregte by jou weggevat, jou aangeval, jou emosioneel, sielkundig, verbaal, of fisies geboelie, leuens oor jou versprei, lelike sms’e, e-posse, of boodskappe op Facebook vir jou gestuur, jou geïgnoreer asof jy nie bestaan nie?  Wat moet jy in sulke situasies doen?

 

Moenie self wraak neem nie, maar los dit vir die Here (Rm.12:19). Jou plig is om vir hulle te bid en te vra dat die Here hulle sal seën (Lk.6:28).  Doen goed aan jou vyande en tree op soos dit by ‘n Christen pas (Lk.6:29-36, Rm.12:20).  Poog van jou kant af om in vrede te lewe (Rm.12:18).  Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Lk.6:31).

 

Om jou oor die saak te kwel help nie, maar sal net daartoe lei dat jy sonde doen (Ps.37:8). Verbly jou eerder in die Here en gee die saak vir Hom – Hý sal wys dat jy onskuldig is (Ps.37:4-6).  Vertrou sy soewereiniteit (v.10):  jou vyande kon jou nie so behandel het sonder die Here se wyse raadsplan en toestemming nie (v.11).

 

Die Here is heilig en waaragtig: Hy sál sorg dat jou vyande gestraf word (v.10).  Dit is verkeerd om die gereg in jou eie hande te wil neem, maar dit is nie sonde om te bid dat die Here geregtigheid sal bring nie (v.10).  Om jou vyande lief te hê beteken nie dat jy hulle sonde goedkeur en maak asof dit nie gebeur het nie.  Dit beteken nie dat jy jou skouers optrek wanneer hullle met hulle bose dade aanhou nie.  Volgens Jesus moet ons vir geregtigheid bid (Lk.18:7-8), en in 2 Tm.4:14 het Paulus vir Timoteus teen sulke mense waarsku en gevra dat die Here hulle sal vergeld.

 

Moenie dink dat die Here nie van hierdie dinge weet nie, of dat dit onopgemerk by Hom verbygegaan nie. Hy weet wat aangaan en sal hierdie mense volgens hulle bose dade vergeld.  Soos wat Hy die Jode en die Romeine hiervoor geoordeel het, sál Hy die Kommuniste, Nazis, Katolieke, ISIS en die Moslems, en elke ander vyand van sy kinders oordeel.  As hulle hulle bekeer, dan sal Hy hulle vergewe (soos Hy vir Paulus vergewe het).  Maar as hulle daarmee aanhou, sal Hy wraak neem.

 

Die beskrywing van God se oordeel (v.12-17)

Tim LaHaye se Left Behind reeks gee vir ons ‘n vreeslike beskrywing van God se oordele.  Dat die Here se oordele erg is, is nie te betwyfel nie.  Ek dink egter dat LaHaye en ander sensasionele eindtyd-outeurs nagelaat het om Op.6 met die res van die Bybel te vergelyk.  As hulle dít gedoen het, sou hulle Johannes se woorde in ‘n ander lig beskou het.

 

Toe die Lam die sesde seël oopgemaak het, het Johannes skrikwekkende verskynsels in die natuur gesien. Deur die teks noukeurig uit te lê en dit met die res van die Bybel te vergelyk, kan ons sien dat Johannes hoofsaaklik simboliese taal gebruik om God se angswekkende oordele te beskryf.  Wat het hy gesien?

 

Daar was ‘n groot aardbewing (v.12). In die res van die boek gaan aardbewings gepaard met God se oordele (11:13, 16:18).  Toe die Here vir Nineve en Babilon geoordeel het, het die aarde voor Hom gebewe (Nah.1:5, Jes.13:13).  Jer.10:10 beskryf hoe die aarde skud voor God se toorn.  Voordat God die ou verbond gegee het was daar ‘n aardbewing (Eks.19:18), en toe Hy dit in 70 n.C. met die verwoesting van die tempel finaal tot ‘n einde gebring het was daar ‘n aardbewing (v.12, Lk.21:6-7, 11, 32, Heb.12:26-27, 8:13, 10:9).

 

Die son het swart geword soos ‘n roukleed wat van swart bokhare gemaak is (v.12). Dit is asof die son in begrafnisklere gerou het, omdat God vir Israel so swaar geoordeel het (Jes.50:3).  Die maan het soos bloed geword (v.12).  Die sterre nie meer geskyn nie, maar op die aarde geval (v.13).  Die res van die Bybel wys vir ons dat Johannes simboliese taal gebruik (een ster wat op die aarde val sal dit immers onmiddellik uitwis).

 

Toe God in die Ou Testament vir Babilon, Egipte, Israel, Juda en die nasies geoordeel het, het Hy gesê dat die son, maan en sterre nie meer sal skyn nie (Jes.13:10, Esg.32:7-8, Joël 2:2, 10, 31, 3:15, Am.8:9, Sef.1:15). In Jesus se lering oor die verwoesting van Jerusalem (Lk.21:6-7, 20) het Hy gesê dat die son swart sou word, dat die maan nie meer sou skyn nie, en dat die sterre sou val (Lk.21:25, Mt.24:29).  Volgens Jesus sou al hierdie dinge nog in hulle leeftyd gebeur het (Lk.21:32).  Ek glo dat Op.6:12-13 hierdie gebeure beskryf.  Dit het niks te doen met John Hagee se Four Blood Moons nie.

 

In v.13 sien Johannes hoe die sterre soos navye op die aarde geval het. Wat beteken dit?  Net voordat die seisoen vir vye aanbreek, is daar ‘n klein vy wat saam met die blare groei.  Dit word omtrent so groot soos ‘n kersie, maar die wind laat die meeste daarvan afval.  Die groot en soet vye kan dan ‘n kans kry om te groei.[1]  Wat is Johannes se punt?

 

Die res van die Bybel leer vir ons dat Israel soos hierdie vyeboom was, en dat hulle nie die smaaklike vrug van bekering gedra het nie (Jes.28:4, Hos.9:10, Mg.7:1). Hiervoor het die Here hulle vervloek en sou Hy die ‘vyeboom’ afgekap het (Mk.11:12-21, Lk.13:6-9).  Omdat die vyeboom die vrug van bekering afgegooi het (v.13), sou God sy volk wat so baie soos die sterre was (Gn.15:5) neergewerp het (v.13).  Nou sou mense uit alle nasies wat in Jesus geglo het, soos sterre in die hemel geskyn het (1:20, Fil.2:15).

 

Johannes het gesien hoe die hemel opgerol word soos ‘n boekrol (v.14). Dié beeld kom uit Jes.34:4 waar die Here vir Edom geoordeel het:  “En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos ‘n boek en al sy leërskare val af soos ‘n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.”  Die Here sou nou vir Israel opgerol het soos ‘n boekrol, en eenkant neergesit het.

 

Die berge en eilande is uit hulle plekke uit verwyder (v.14, 16:19-20). In Nah.1:5, Hab.3:6, 10, Jer.4:23-24 het die berge voor die Here weggesmelt en gebewe toe Hy vir Assirië, Juda en Israel deur die Babiloniërs geoordeel het.  In Jes.2:11-12, 14 en Jer.51:25 het God dié wat hulleself soos die berge verhef het, afgebring aarde toe.  In v.14 sou Hy so gedoen het met Israel.  Weereens moet ons verstaan dat v.14 simboliese taal gebruik, want as elke berg voor die Here verdwyn het, kon die mense in v.15 nie in die berge weggekruip het, of in v.16 vir die berge geroep het om op hulle te val nie.

 

So verskriklik was die oordele dat geen mens of weermag voor die Here kon staan nie (v.17, Ps.76:8, Joël 2:11, Nah.1:6, Mal.3:2). Konings, adelikes, generaals, rykes, invloedrykes, slawe, vry mense – almal het in die rotsskeure en die grotte van die berge weggekruip (v.15, Jes.2:10, 19, 21).  Toe hulle God se kinders mishandel het, moes húlle in grotte weggekruip het, maar nou het die wiel gedraai (v.15, Heb.11:38).  Hulle kon nie vir die Here weggekruip het nie (Gn.3:8), en het gewens dat die berge se rotse op hulle koppe inmekaar moes sak (v.16, Hos.10:8).  Eerder dít as om in die rooi oë van God se oordeel in te kyk.  Volgens Jesus sou dié dinge in Johannes se leeftyd in Jerusalem gebeur het (Lk.23:27-31).

 

Alhoewel ek met my hele hart in die wederkoms glo, dink ek nie dat die sesde seël in v.12-17 daarna verwys nie. Die sewende seël was immers nog nie eers oopgemaak nie, en daar is ‘n volle 13 hoofstukke voordat ons by die finale oordeel in hfst.20 kom.  As Op.6 die wederkoms beskryf het, sou Johannes nie hfst.7-19 geskryf het nie, maar dadelik na hfst.20 toe gespring het.

 

Johannes se terme is dieselfde as die Ou Testament profete s’n toe hulle God se oordele oor Israel en die ander nasies voorspel het. Ons hoef dan nie aan te neem dat Op.6 van Jesus se wederkoms praat nie.  Jesus self het hierdie terme gebruik toe Hy van God se oordele oor Jerusalem gepraat het (Mt.24, Lk.21, 23).  Toe die Jode vir Jesus se bloed geroep het, het hulle in Mt.27:25 gesê dat God sy Seun se bloed van hulle en hulle kinders se hande kan eis.  God het hulle op hulle woord geneem en in 70 n.C. sy oordele soos ‘n vrag bakstene op hulle laat neerkom.  God het nie die Jode se gruwelike misdaad van die kruis ligtelik opgeneem nie.

 

Dalk is jy nie oortuig van my siening oor Op.6 nie. Ek gaan nie ‘n kwessie daarvan maak nie.  Ten minste kan ons saamstem dat die oordele van God erger is as enige monster in Hollywood se ‘bangmaak films’.  Jy kan nie vir Hom wegkruip nie (v.15-17).  Hy sien alles en is oral.

 

As jy probeer om in die doderyk weg te kruip, sal Hy jou kom uithaal. As jy in die sterrehemel wegkruip sal Hy jou dáár gryp en neerbring.  As jy op ‘n hoë berg klim sal Hy jou uitsoek.  As jy in die diepste see wegkruip, sal Hy vir ‘n dodelike seeslang sê om jou te byt.  Hy sal toelaat dat jou vyande jou doodmaak (Am.9:2-4).  Dié wat probeer om vir God weg te kruip, is soos iemand wat vir ‘n leeu vlug en in ‘n beer in vashardloop (Am.5:19).  Moet dan nie maak of Satan en die Antichris die gevaarlikste karakters in Openbaring is nie; God en die Lam is (v.17).

 

As jy gered is, hoef jy nie bang te wees nie. In Jes.54:10 sê die Here:  “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.”

 

As jy egter in ongehoorsaamheid en sonde lewe, moet jy baie bang wees.  Laat dié dinge vir jou ‘n voorsmakie van die wederkoms, die finale oordeel en die hel wees.  Ek wens dit nie vir my grootste vyand nie.  Dit sal beter wees om ‘n duisend keer dood te gaan as om onder God se oordeel in die hel te beland.  “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb.10:31).

 

Hoe gaan jy eendag voor die Here staan as jou sonde nie vergewe is nie, en Hy jou geheime sondes aan die lig bring? Moet asseblief nie dink dat die Here jou gaan oorsien omdat jy arm is, of dat Hy jou gaan voortrek omdat jy ryk is nie (v.15).  Moet ook nie die fout maak om te dink jy is oppad hemel toe, omdat jy bang is vir die hel nie (v.16).  Dit gaan iets meer verg as dít om jou van God se oordeel te red.  Daar is net een manier om van sy oordeel te ontsnap:  Jesus se kruisdood.

 

Toe Jesus aan die kruis gehang het, het die son opgehou skyn (Lk.23:44-45). Daar was ‘n groot aardbewing (Mt.27:51).  Die volle toorn van God het oor sy Seun gekom.  Vir ons sonde het sy Vader Hom gestraf (Jes.53:10, Mt.27:46).  Om ons van die oordeel te red was Hy bereid om in ons plek sonde te word en deur God vervloek te word (2 Kor.5:21, Gal.3:13).  Die fisiese lyding van die kruis kan nie naastenby hiermee vergelyk word nie.  Die kruis was ‘n miljoen keer erger as die hel, omdat Jesus nie net die straf van een sondaar op Homself geneem het nie, maar miljoene mense s’n.

 

O, laat ons lief wees vir hierdie Verlosser. Laat ons deur geloof in die sterk toring en agter die Rots van Jesus Christus skuil, sodat die toorn van God ons nie kan seermaak nie.  As jy na Jesus toe vlug sal jy veilig wees:  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rm.8:1).  Maar as jy Hom verwerp en met jou sonde aanhou, sal die storm van God se oordeel die plankhuisie van jou selfregverdige lewe tot die uiterste toe verwoes – vir ewig!

 

Aardrykskunde was seker my gunsteling vak toe ek op skool was. In een klas het die onderwyser ons van die oog van die sikloon vertel:  rondom jou kan die storm woed, maar as jy in die oog is, is daar nie reën of wind nie – jy is veilig.  So is dit ook in die geestelike realm.  Die storm van God se oordeel kan verwoesting saai rondom jou.  Maar as jy in Jesus, die oog van die storm glo, is jy veilig.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder fig; fig-tree

Dink anders oor die dood

Raising of Lazarus

Mense het verskillende menings oor wat met jou gebeur wanneer jy doodgaan. Ek het al mense ontmoet wat in reïnkarnasie glo:  wanneer jy doodgaan keer jy terug as iets anders.  Hierdie selfde mense glo dat jy jou identiteit verloor en in een of ander staat van bewustelose plesier of Nirvana ingaan.

 

Talle mense het al vir my gesê dat daar niks na die dood is nie. Ander glo weer dat jou siel saam met jou liggaam in die graf slaap, totdat die Here weer kom.  Die Katolieke glo in ‘n vagevuur waar die vlamme jou sonde wegbrand, sodat jy uiteindelik hemel toe kan gaan.  Ander glo dat jy in ‘n wagkamer sit, totdat Jesus weer kom en jou eindbestemming bepaal.

 

Party mense glo dat jy ‘n engel word. Om een of ander rede glo party Christene dat jy ‘n nuwe liggaam in die hemel sal hê (al het hulle ook gesien hoe die dooie mens se liggaam in die grond insak).  Die Bybel leer vir ons dat dié wat in Jesus geglo het hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan.  Hulle liggame ontbind in die graf.  Wanneer Jesus weer kom, kom hulle siele saam met Hom.  Hy sal hulle liggame opwek en verheerlik, en hulle siele sal met hulle liggame herenig word.

 

Hoe weet ons wie reg is? Omdat Jesus volgens Jh.11 die opstanding en die lewe is, kan Hý vir ons sê.

 

Jesus en die dissipels (v.1-16)

Wat is die eerste ding wat ons bid wanneer een van ons geliefdes siek word? ‘Here, sal U hulle asseblief gesond maak?’  Hoekom genees die Here hulle nie altyd onmiddellik nie?  Dit is dikwels so dat Hy groter en wyser planne het as ons.  As ons Lasarus se familie en vriende was, sou ons ook gevra het dat die Here hom dadelik moes gesond maak.  En as die Here dit gedoen het, sou ons ‘n baie groter wonderwerk gemis het.

 

Hierdie hoofstuk gaan oor ‘n sekere Lasarus van Betanië wat siek was (v.1). Betanië was 2.8 km oos van Jerusalem (v.18).  Lasarus se naam beteken ‘hy vir wie God help’, en in hierdie hoofstuk sien ons hoe God hom gehelp het.

 

Lasarus het saam met sy twee sussies in Betanië gebly (v.1-2). Hulle name was Maria en Marta.  In 12:3 het Maria Jesus se voete met olie gesalf en dit met haar hare afgedroog (v.2).  In Lk.10:38-42 het sy by Jesus se voete gesit, terwyl Marta in die kombuis besig was.  Ons moenie vir Maria met Maria Magdalena verwar nie.

 

Die sussies het vir Jesus laat weet dat Lasarus siek is (v.3). Alhoewel hulle nie direk gevra het dat Jesus hom moet genees nie, het hulle geweet dat Hy hom liegehad het, en dat Hy iets aan die situasie sou doen (v.3, 21-22).  Toe Jesus die boodskap gekry het, het Hy gesê dat die openbaring van God se heerlikheid en nie die dood nie, die einddoel van Lasarus se siekte was (v.4, 9:3).  Christus se Godheid en sy heerlikheid moes sigbaar geword het in hierdie wonderwerk (v.4, 1:14).

 

Toe die nuus van Lasarus se siekte Jesus se ore bereik het, het Hy vir nóg twee dae oorkant die Jordaan gebly (v.6, 10:40). Partykeer verstaan ons nie hoekom die Here ons nie dadelik antwoord nie. Maar die Here is wyser as ons en weet wat Hy doen.

 

Hoekom het Jesus Hom nie dadelik gesond gemaak nie? Hy kon dit van ‘n afstand af gedoen het as Hy wou (4:50, Mt.8:13).  Dit was nie omdat Hy nie vir Lasarus en sy sussies lief was nie (v.5), maar omdat Hy God se heerlikheid vir hulle wou wys (v.4).  As Hy vir Lasarus gesond gemaak het, sou hulle God se heerlikheid gesien het.  Maar as Hy Hom uit die dood uit opgewek het, sou hulle dit baie duideliker gesien het.

 

Na twee dae het Jesus vir die dissipels gesê om weer saam met Hom na die suidelike provinsie van Judea toe te gaan (v.7, 10:22, 40). Die dissipels het dit nie verstaan nie.  ‘Hoekom wil U teruggaan as die Jode U net nou die dag probeer stenig het?’ het hulle gevra (v.8, 10:31).  ‘Om dit te doen is selfmoord.’

 

Maar die Jode het nie die uur van Jesus se dood bepaal nie – Hy en sy Vader het (7:30, 8:20, 10:18, Lk.13:32-33). Soos ‘n mens 12 ure daglig het om te werk, het Jesus nog ‘n paar ure van ‘daglig’ oorgehad voordat die ‘nag’ van sy kruisdood aangebreek het (v.9, 9:4).  As die dissipels in sy lig gewandel het, kon die Jode se donker en bose planne hulle nie laat struikel het nie (v.9, 12:35-36a).  Dié wie se harte donker was (soos die Jode en Judas s’n) sou gestruikel het (v.10).

 

Jesus het vir die dissipels gesê dat Hy Judea toe wil gaan omdat hulle vriend Lasarus geslaap het, en omdat Hy hom wou wakker maak (v.11). Die dissipels het gedink dat Hy van natuurlike slaap praat en nie van die dood nie (v.13).  ‘As hy slaap sal hy weer wakker word,’ het hulle gesê (v.12).  Hulle het geweet dat slaap goeie medisyne is.  Hulle het nie verstaan hoekom Jesus sy lewe in gevaar gestel het om vir Lasarus wakker te maak nie.

 

Jesus het toe reguit vir hulle gesê dat Lasarus dood is (v.13-14). Alhoewel die boodskapper vir Hom gesê het dat Lasarus siek is (v.3), het Hy deur Goddelike kennis geweet dat hy intussen gesterf het (1:48-49).  Maar vir die dissipels se onthalwe was Jesus bly dat Hy nie by Lasarus se siekbed was nie, want deur sy wonderwerk sou Hy hulle geloof versterk het (v.15).  Tomas of Didimus (‘die tweeling’) was dapper en lojaal, en daarom ook bereid om saam met Jesus te sterf (v.16, 8).

 

Soms dink mense dat die Here met groot dinge besig is (soos om die heelal instand te hou), en dat Hy nie tyd het of omgee vir mense se ‘klein’ probleme nie. Dit is amper asof Hy die god van deïsme is wat die wêreld gemaak het, maar nie verder daarin belangstel nie.

 

Maar Jh.11 wys vir ons anders. Jesus het omgegee vir een man wat in die klein dorpie van Betanië gebly het.  Hy sorg vir die mossies en het ook die hare op jou kop genommer (Mt.10:29-31).  Dan kan jy verseker weet dat dit vir Hom saakmaak wanneer een van sy kinders siek is of enige ander vorm van swaarkry moet deurmaak.

 

Jesus het ‘n spesiale liefde vir sy kinders (v.3, 5). Moet dan nie sy liefde in twyfel trek en wonder hoekom Hy sekere moeilike dinge in jou lewe toegelaat het nie.  Moenie dink dat Hy van jou vergeet het, omdat Hy nie dadelik jou gebede beantwoord nie (v.3, 6).  Partykeer vat Hy lank, omdat Hy iets groter wil doen as dit waarvoor jy gevra het (v.6, Ef.3:20).  Dít doen Hy omdat Hy jou geloof in Hom wil verdiep, versterk en laat groei (v.15).

 

Om by die konteks van die hoofstuk te bly, wil ek die voorbeeld van siekte gebruik. Party mense maak die fout om te dink dat genesing altyd die Here se wil is.  Ander dink weer dat dit altyd sy wil is dat gelowiges onmiddellik genees moet word.  Maar Jh.11 wys anders.

 

Hierdie hoofstuk wys vir ons dat dit nie verkeerd is om vir iemand se genesing te bid nie (v.3). En tog moet dit nie die prioriteit van ons gebede wees nie.  Die grootste doel in ons siekte is nie dat ons en ons geliefdes dadelik genees moet word nie, maar dat die Here se heerlikheid in ons siekte gesien moet word (v.4).  Dít is waarvoor ons moet bid.

 

As die Here dan die siek gelowige gesond maak, prys ons Hom. As Hy die siek gelowige van sy lyding bevry en Hom hemel toe neem, dan prys ons Hom.  Ons hoef nie bang te wees vir die dood nie.  Volgens Jesus is ‘n gelowige se dood so skadeloos soos slaap (v.11, Hd.7:60, 1 Ts.4:13-14). Wanneer ‘n gelowige sterf is dit asof hy of sy aan die slaap raak en onmiddellik by die Here wakker word (Lk.16:22, Fil.1:23, Ps.139:18).  Eintlik verloor jy nie eers jou bewussyn wanneer jy doodgaan nie (v.25, 2 Kor.5:8).  Eendag sal Jesus jou liggaam opwek so maklik soos wat jy iemand uit sy slaap uit wakker maak.

 

Alhoewel Jesus ons in die toekoms gaan opwek (5:28-29), gaan Hy dit waarskynlik nie nóú doen, soos wat Hy dit met Lasarus gedoen het nie. Ek vrees soms dat ons mense vir ewig hier wil hou, asof die realiteit van die dood nie bestaan nie.

 

Mense is kwaad vir die Here as Hy hulle ouers of kinders wegneem, maar wat verwag hulle? Het hulle gedink dat hulle geliefdes vir ewig op die aarde sou lewe?  Ander mense praat weer asof profeet X hulle geliefdes uit die dood uit sal opwek.  Wanneer ek dit hoor wonder ek of hulle liewer is vir hierdie wêreld en hulle familie, as vir Jesus en die hemel.

 

Miskien kan ek maklik praat, omdat ek nog nie ‘n geliefde aan die dood afgestaan het nie. Ek verstaan dit en wil nie onsimpatiek wees nie.  Tog weet ek dat Jesus ons lyding ervaar het, en weet hoe om sy kinders te troos (Heb.4:15).  Ons troos lê nie primêr daarin dat Jesus ons geliefdes kan genees of dat Hy ons probleme kan wegvat nie.  Ons troos lê eerder daarin dat God ons liefhet (v.5), dat Hy sy heerlikheid in ons siekte en lyding sal openbaar (v.4), en dat Hy ons geestelik sal laat groei (v.15).

 

Jesus en Marta (v.17-27)

Die rabbi’s het geglo dat die dooie se siel vir drie dae naby die graf bly, in die hoop dat dit na die liggaam toe kon terugkeer. Op die vierdie dag het die liggaam begin om te ontbind, en het die siel dit finaal verlaat:  ‘For three days the soul hovers over the body, intending to re-enter it, but as soon as it sees its appearance changes, it departs.’[1]

 

Hierdie inligting help ons om v.17 beter te verstaan. Johannes probeer nie sê dat Jesus dieselfde as die Jode geglo het nie, maar eerder dat Hy vier dae gewag het om te wys dat Hy vir Lasarus kon opwek, toe daar nie meer hoop was nie.  Daar was geen twyfel dat hy dood was nie, en daarom kon Jesus se wonderwerk nie bevraagteken word nie.  Dit moes duidelik gewees het dat Hy nie bloot vir Lasarus uit ‘n staat van bewusteloosheid laat wakker word het nie.

 

Omdat Betanië so naby aan Jerusalem was, het baie van die Jode gekom om vir Maria en Marta te troos (v.18-19). Johannes sê dit om te wys dat die spanning hoog geloop het.  Dit was immers die Jode wat vir Jesus wou doodmaak (v.8, 10:31).  Johannes noem dit ook om te wys dat ‘n klomp mense die wonderwerk gesien het, en dat niemand enige gronde gehad het om vir Jesus te verwerp nie.

 

Marta het gehoor dat Jesus oppad was en het uitgegaan om Hom te ontmoet (v.20). ‘As U hier was sou my broer nie gesterf het nie,’ het sy met trane in haar oë gesê (v.21).  ‘Tog glo ek steeds dat God U gebede kan verhoor.’ (v.22).  Wat het sy met hierdie laaste stelling bedoel?

 

Dit kan tog nie beteken dat sy geglo het Jesus kan vir Lasarus opwek nie. In v.24 het sy dan gesê dat sy Jesus hom eendag sou opwek, en in v.39 sien ons dat sy nie die wonderwerk verwag het nie.  Haar woorde in v.22 beteken eenvoudig dat Jesus deur sy spesiale verhouding met die Vader iets goed uit hierdie slegte situasie kon bring.

 

Jesus het vir Marta verseker dat Lasarus uit die dood uit sou opstaan (v.23). Sy het bely dat hy op die laaste dag weer sou opstaan (v.24, Job 19:25-27, Jes.25:8, 26:19, Esg.37, Dn.12:2, Hos.13:14).  Jesus het vir haar gesê dat Hy die opstanding en die lewe is (v.25, 1 Jh.5:20).  Haar broer en elke ander gelowige se opstanding en lewe was gebasseer op syne (1 Kor.15:20, 23).  Die mag om geestelike lewe te gee, en die mag om gelowiges se liggame op te wek behoort aan Jesus (v.25, 1:4, 10:10, 17:2-3, 5:21, 28-29, 1 Kor.15:21).  Dié wat in Hom glo se liggame sal sterf, maar hulle siele sal in die hemel voortleef (v.25).

 

‘n Paar jaar gelede het ek te doen gekry met sieleslaap of psigosomnia. Ek het ‘n DVD gekyk waarin die ou een teks na die ander aangehaal het om te probeer wys dat gelowiges nié hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan nie.  ‘Hulle siele slaap saam met hulle liggame in die graf totdat Jesus kom,’ het hy gesê.

 

‘n Paar maande later het ‘n vrou my kom sien. Sy was bekommerd, omdat sy op ‘n webtuiste afgekom het wat dieselfde sê.  ‘Ek het gedink my broer is in die hemel, maar nou weet ek nie meer nie,’ het sy gesê.  Ek het haar uit die Bybel uit reggehelp en vir haar gewys hoe dié webtuiste (net soos die DVD) die Bybel buite konteks aanhaal.

 

Hulle sê bv. dat Pd.12:7 niks te doen het met lewe na die dood nie. Salomo sê dat “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”  Volgens hulle verwys die ‘gees’ na die dooie se asem wat hy uitblaas, en nie na sy siel wat in die hemel by die Here is nie.

 

Maar wat maak hulle dan met die vorige verse, want dáár sê Salomo dat die dooie na sy ewige huis toe gaan?  Is die graf die gelowige se ewige huis?  Of is die Here se teenwoordigheid in die nuwe Jerusalem sy ewige huis?  Alles in die Bybel dui aan dat die tweede opsie die regte een is.

 

Alhoewel ‘n gelowige se siel in die hemel sal voortleef, hoef ons nie tot dan te wag voordat ons die ewige lewe kan hê nie. Deur geloof in Jesus kan ons dit reeds in hierdie lewe hê (v.26, 3:36, 5:24-25, 6:47, 20:30-31).  Vir ons is die dood soos ‘n by sonder ‘n angel – dit kan ons nie steek nie en is maar net ‘n oorgang van die aarde na die hemel (v.26, 1 Kor.15:55).  Dit lei ons na ‘n voller lewe toe.  Daarom het Jesus gesê dat dié wat in Hom glo nooit sal doodgaan nie (v.26, 6:50, 8:51).  By sy wederkoms sal ons ook nuwe liggame kry wat nooit kan doodgaan nie (1 Kor.15:42-44).

 

Jesus het vir Marta gevra of sy hierdie dinge glo (v.26). Marta het nie die volle implikasie van Jesus se woorde verstaan nie.  Sy het egter bely dat die Vader vir Jesus gestuur het, en dat Hy die Here, die Messias en die Seun van God is (v.27, 20:30-31).

 

Die punt van Jh.11 is dan nié om te vra waar Lasarus se siel was terwyl hy vir vier dae in die graf was nie. Ons weet nie; die teks sê nie vir ons nie.  Die punt is eerder om vir ons te wys dat Jesus die opstanding en die lewe is (v.25-26).  En omdat dit so is, sal net dié wat in Hom glo in die hemel wees wanneer hulle doodgaan, en by sy wederkoms opgewek word tot die ewige lewe.

 

Dié wat nie in Hom glo nie, sal ná die dood in die hel beland (Lk.16:24-26, 2 Pt.2:4-9, Jud.6-7). By Jesus se wederkoms sal die goddelose aaklige liggame ontvang wat by die verskriklike omgewing van die hel pas (5:28-29, Dn.12:2, Jes.66:24).

 

Moet dan nie onder die illusie verkeer dat almal wat jy ken hemel toe gaan nie. Baie mense sal dit nie reguit sê nie, maar het jy al ooit ‘n ongelowige se begrafnis bygewoon en gehoor ‘dat hy nou in die hemel is’?  Het jy al op ‘n goddelose mens se grafsteen gesien dat ‘die Here sy Herder is’?  Volgens Jesus is dit net dié wat in Hom glo wat nou, na die dood, en by die wederkoms vir ewig sal lewe (v.25-26).

 

Hoe kan ‘n mens die afgryslikheid van die hel of die ewige dood ontsnap? Jy moet in Jesus en sy woorde glo (v.25-26).  Jy moet glo dat Jesus aan die kruis gesterf het en dat Hy dáár soos ‘n skild die swaard van sy Vader se oordeel oor ons sonde gekeer het.  Jy moet glo dat Hy die ewige lewe in jou siel en eendag ook in jou gestorwe liggaam kan gee, soos wat ‘n muurprop elektrisiteit na ‘n rekenaar toe deurgee.

 

Jy moet in jou hart glo dat Hy die Here is (v.27). Dit help nie net jy sê dit, maar leef asof jý die here van jou lewe is nie (Lk.6:46).  Soos ‘n dankbare slaaf moet jy jou knie voor hierdie goeie Meester buig, en doen wat Hý vir jou sê.  Jy moet glo dat Hy van God af kom:  dat Hy die Messias en die Seun van God is (v.27).  Glo jy dit (v.26)?

 

As jy dit met jou hele hart glo, dan lê jou troos nie daarin dat Jesus jou geliefdes kan genees of hulle van die dood kan red nie (v.21). Jou troos lê eerder daarin dat Jesus die opstanding en die lewe is (v.25).  Daarom kan jy glo dat dié wat in die Here gesterf het nie dood is nie, maar in die hemel lewe (v.25, Gn.5:24, Heb.11:5, 2 Kon.2:11, Mt.17:3, Lk.16:22, 25, 23:43, 46, 2 Kor.5:8, Fil.1:21, 23, Heb.12:23, Op.6:9).  God is immers nie die God van die dooies nie, maar van die lewendes (Mt.22:32).

 

Verder lê jou troos ook daarin dat die kanker of enige ander siekte nie die stryd gewen het nie, maar dat Jesus jou eendag uit die dood uit sal opwek om vir jou ‘n nuwe liggaam te gee (v.25). Dít is hoe jy oor die dood moet dink.

 

Jesus en Maria (v.28-37)

Die gemiddelde westerse mens spandeer 12 of meer jare om homself voor te berei vir die toekoms. Ons gaan skool toe en daarna universiteit toe.  Met die kennis wat ons opgedoen het werk ons totdat ons 65 is.  As ons onsself dan so deeglik vir 40 + jare se werk voorberei, moet ons onsself nie nóg beter voorberei vir ‘n ewigheid na die dood nie?

 

Omdat ek ‘n predikant is, het ek al by baie begrafnisse gepreek en ook baie trane gesien. Ek het gesien hoe sommige mense huil asof daar geen hoop is nie.  Ek het al gesien hoe ander mense huil omdat trane aansteeklik is, en nie omdat hulle die persoon goed geken het, en hulle hom of haar mis nie.  Ek het al gesien hoe gelowiges huil maar hoop het, omdat hulle die persoon weer gaan sien.

 

Ek self het al ‘n knop in my keel gekry wanneer ek die kis in die grond sien afsak (ja, ook by begrafnisse van persone wat ek nooit ontmoet het nie). Tog dink ek nie ek het al ooit ‘n begrafnis gelei waar iemand gehuil het, omdat hy of sy kwaad was dat daar iets so aaklig soos die dood is nie.  In die verse wat volg sien ons al hierdie reaksies, maar dit is veral die laaste een wat uitstaan.

 

Toe Marta klaar met Jesus gepraat het, het sy teruggegaan huis toe om vir Maria te roep (v.28). ‘Die Meester roep jou,’ het sy eenkant vir haar gesê (v.28).  Maria het gou opgestaan en na Jesus toe gegaan waar Hy buite die dorp vir haar gewag het (v.29-30).  Die Jode wat saam met haar in die huis was om haar te troos, het gesien hoe sy opgestaan het om uit te gaan (v.31).  Hulle het gedink dat sy emosioneel was en dat sy na die graf toe wou gaan om te huil; daarom het hulle haar gevolg (v.31).

 

Toe Maria by Jesus gekom het, het sy voor sy voete neergeval (v.32, Lk.10:39). Deur haar trane het sy vir hom gesê:  ‘Here, as U hier was sou my broer nie gesterf het nie’ (v.32).  Soos Marta in v.21, het sy geglo dat Jesus haar broer kon genees het.  Sy het egter nie daaraan gedink dat Hy hom uit die dood uit kon opwek nie.

 

Jesus het gesien hoe Maria en die Jode wat by haar was gehuil het (v.33). Volgens die Jode se tradisie moes selfs ‘n arm familie ten minste twee fluitspelers gehuur het, asook ‘n professionele vrou om die dooie te betreur (vgl. Mk.5:38, 40).[2]  Omdat hierdie ‘n ryk familie was (12:1-5), was daar heelwat meer fluitspelers en rouklaers om Lasarus se dood te betreur.

 

Toe Jesus almal se trane gesien het, was Hy diep in die hart getref (v.33). Die Grieks sê letterlik dat Hy met woede geblaas het soos ‘n perd [embrimaomai, Mk.14:5].  Hy was onsteld in sy diepste wese, omdat die Jode soos heidene getreur het wat nie in die opstanding glo nie, soos mense wat geen hoop het nie (v.33).  Hy was ook kwaad oor die tragiese gevolge van die mens se sonde:

 

“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Rm.5:12).

 

Jesus het dan nie gehuil (v.35) omdat Hy hartseer was nie. Hy het immers geweet dat Hy vir Lasarus wou opwek, en het vir die Jode gevra waar hulle hom begrawe het (v.34).  Die Jode het sy trane gesien en gedink Hy mis vir Lasarus.  ‘Kyk hoe lief het Hy hom gehad,’ het hulle gesê (v.36).  ‘Hoe kon Hy ‘n blinde man genees het (hfst.9), maar nie gekeer het dat Lasarus sterf nie?’ het ander in ongeloof gesê (v.37).

 

Moenie soos ‘n Moslem huil wat onseker is, of soos ‘n ateïs wat geen hoop het nie. Moenie soos Jakob wees wat geweier het om getroos te word toe hy gedink het Josef is dood nie (Gn.37:35, 42:36).  Huil jouself leeg (v.32), maar as jy ‘n Christen is kan jy jouself nie vir ewig in jou kamer toesluit of vir die res van jou lewe in die huis bly nie.  ‘n Tannie wat ek ken het haar dogter verloor.  ‘n Paar jaar later het ek haar gebel om te vra hoe dit gaan.  ‘Dit sal seker nooit weer goed gaan nie,’ het sy gesê.

 

Ek glo dat dit hartverskeurend moet wees om jou kind te verloor. Ek probeer nie sê dat ons onsimpatiek moet wees met dié wat geliefdes verloor het nie.  Jesus voel ons pyn en huil saam met ons (v.35, Jes.63:9, Heb.4:15).  Ek sê egter dat Christene nie moet treur asof Jesus nie bestaan nie, asof Hy nie die dooies kan opwek nie, en asof daar nie iets beter as hierdie wêreld is nie (v.33, 37, 1 Ts.4:13).

 

Dit is nie lekker om te hoor nie, maar ons moet onthou dat dié wat die Here geken het en nou in die hemel is, nie terug verlang na die aarde toe nie. Hulle is gelukkig waar hulle is.  Gun hulle dit en dink daaraan dat jy self ook eendag by hulle gaan aansluit.

 

Maar terwyl ek dit sê moet ons verstaan dat die dood nie ‘n normale deel van die lewe is nie. Dit was nie deel van die oorspronklike plan nie.  Dit is ‘n vervloekte gevolg van die sondeval (Gn.2:17, 1 Kor.15:22).  Dit is ‘n vyand (1 Kor.15:26).

 

Ons moenie ‘n traak-my-nie-agtige houding inneem, omdat ons dit elke dag in die koerant sien nie. Dit behoort ons te ontstel (v.33).  Ons moet dit verag en uitsien na ‘n wêreld waar dit nie is nie (Op.21:4).  Ons moet seker maak dat ons daar gaan wees, en dat ons nie na die plek toe gaan waar mense vir ewig sterf, maar nooit dood is nie:  die tweede dood of die hel (Op.21:8).

 

Jesus en Lasarus (v.38-44)

Daar is mense wat daarin roem dat hulle die dooies opwek. ‘n Maand of wat gelede het ek gehoor van ‘n man wat gesê het dat hy al 500 mense uit die dood uit opgewek het.  Maar as hierdie mense regtig die dooies kan opwek, moet hulle iemand wat al vir vier dae in die graf is, lewendig laat uitkom.  Dit is tog wat Jesus gedoen het.

 

Toe Jesus by die graf aangekom het, was Hy kwaad oor die Jode se ongeloof (v.38, 37). Hy het vir hulle gesê om die klip weg te rol (v.39).  Antieke grafte het nie heeltemal soos ons s’n gelyk nie.  Dit was ‘n grot met ‘n groot klip wat voor die ingang gerol is (Jes.22:16, Mt.27:60).  Die klip het gekeer dat die reuk nie in die lug hang nie, en ook dat diere soos jakkalse nie aan die lyk gevreet het nie.

 

Omdat die lyk al vir vier dae in die graf was, het Marta geweet dat dit weens die warm klimaat ‘n slegte reuk sou afgee (v.39). ‘Moet asseblief nie dat hulle die klip wegrol nie,’ het sy vir Jesus gesê (v.39).  As sy maar net geweet het dat Hy van plan was om haar broer op te wek.  As sy in Jesus geglo het sou sy deur hierdie teken die Vader se heerlikheid in Hom gesien het (v.40, 4, 1:14, 2 Kor.4:6).

 

Toe hulle die klip klaar weggerol het, het Jesus opgekyk en God as sy eie Vader aangespreek (v.41, 5:18). Almal moes geweet het dat Hy die Seun van God is, en dat God sy gebede verhoor (v.41, 9:31).  Jesus het voor almal gebid om te wys dat die Vader sy stempel op Hom geplaas het, en om te wys dat Hy regtig van God af kom, en dat Hy hierdie wonderwerk met sy Vader se krag en met sý goedkeuring gedoen het (v.42, 12:30, 5:19, 14:10).

 

Jesus het met ‘n harde stem vir Lasarus geroep om uit die graf uit te kom (v.43). Hy het hard uitgeroep, sodat die Jode kon sien dat Hý die wonderwerk gedoen het.  En volgens sommige het Hy spesifiek vir Lasarus geroep, want as Hy dit nié gedoen het nie, sou al die dooies uit hulle grafte uit opgestaan het!  Maar nou het Lasarus opgestaan (v.44).  Hy het grafdoeke van linne om sy liggaam en kop gehad (v.44, 19:40, 20:7).

 

Die Jode het nie hulle dooies styf toegedraai soos ‘n Egiptiese mummy nie. Die dooie is op ‘n linnedoek neergelê (19:40, 20:5-6).  Dit was wyd genoeg om een keer om die liggaam te gaan, en so lank dat dit twee keer om die persoon se kop en voete gedraai kon word.  Die enkels was aanmekaar vasgebind, terwyl die arms met linnestroke aan die liggaam vasgedraai was.  Daar was ook ‘n kopdoek om die dooie se gesig (20:7).  Uiteindelik sou die dooie persoon soos ‘n sywurm se kokon gelyk het.[3]  Lasarus kon gehop of geskuifel het, maar het baie ongemaklik geloop.  Daarom het Jesus vir hulle gesê om die grafklere af te haal (v.44).

 

Jesus het vir Lasarus opgewek om vir die Jode sy heerlikheid te wys (v.40, 4). Hy wou vir hulle gewys het dat Hy die Messias en die Seun van God is (v.42, 20:30-31).  Is Jesus se heerlikheid die hoofdoel van dié wat sê dat hulle dooie mense opwek?  Vir my lyk dit eerder of hulle die lof en die eer vir hulleself soek.  Hulle vra duisende rande om by jou kerk se manne- of vroue ontbyt te praat, en verkoop graag hulle boeke waarin jy kan lees wat ‘die Here’ deur hulle gedoen het.  Hulle hou daarvan om op die voorblad van glanstydskrifte te wees, en deel graag hulle handtekeninge uit.  Dit is vir my baie vreemd dat die dooies wat hulle opgewek het nooit langs hulle by die kerkfunksie of in die glanstydskrif staan nie.

 

Natuurlik gebeur dit ook dat dié wat kamtig dood was en weer lewendig geword het, op hierdie maniere rondgaan om geld te maak. Hulle sal vir jou vertel hoe hulle vir vier ure in die hemel was, of hoe hulle siele bo hulle dooie liggame gesweef het.  Maar in al hierdie dinge is hulle en nie Jesus nie, die middelpunt.  Ek kan my nie indink dat Lasarus by ‘n pa en seun oggend in Jerusalem gaan vertel het hoe wonderlik sy buite-die-liggaam ervaring was nie.

 

Ons fokus is verkeerd. Die opstanding van die dooies in Jh.11 en in die toekoms gaan oor die heerlikheid van Jesus.  Jesus alleen kan iemand wat al vir vier dae in die graf was lewendig maak.  Hy alleen kan mense wat al tot stof vergaan het uit die graf uit opwek.  Hy alleen kan vir mense ‘n liggaam gee wat nie kan doodgaan, siek word, oud word, seerkry, moeg word of sondig nie (1 Kor.15:42-44).  Waar is die moderne profete wat dit kan doen?

 

Jesus en die Jode (v.45-54)

Volgens Griekse mitologie was Hades in beheer van die doderyk. In ou Engeland het die dood ‘n persoonlikheid aangeneem, en is dit die Grim Reaper genoem.  Hollywood het ons oortuig dat niemand soewerein is oor die dood nie, en dat dit ‘n mag is om gevrees te word.

 

Die Bybel leer egter vir ons dat God soewerein is oor die dood (Op.1:18). Hý het besluit dat Jesus in Jerusalem moes sterf (Lk.13:33), dat Hy tydens die Paasfees moes sterf (Mt.26:4-5), en dat Hy gekruisig moes word en nie gestenig nie (18:31-32).  En net so bepaal Hý die dag, plek en wyse van elke mens se dood (Job 14:5, Jer.15:2-3, Jk.4:13-15, Ps.139:16).  Omdat dit so is, hoef geen gelowige bang te wees vir die dood nie.

 

Baie van die Jode wat vir Maria en Marta kom troos het (v.19), het die wonderwerk gesien en in Jesus geglo (v.45, 20:30-31). Ander se harte was ongelowig en hard, sodat hulle Hom by die Fariseërs aangegee het (v.46).  Lg. het die Raad byeengeroep (v.47).  Teologies het die owerpriesters en die Fariseërs nie om dieselfde vuur gesit nie (Hd.23:8), maar in hulle haat vir Jesus was hulle een.

 

‘Wat nou?’ het hulle vir mekaar gevra (v.47). ‘Hierdie man doen baie tekens.  As Hy hiermee aanhou sal almal in Hom glo (12:18-19, Mk.15:10).  En as dít gebeur sal die Romeine dink dat Hy die leier van een of ander rebellie of dalk selfs ‘n koning is (6:15, 18:36-37).  Hulle sal die tempel verwoes en die volk uitwis.  Julle weet natuurlik wat dít beteken:  God se guns en ons posisie, rykdom en populariteit is daarmee heen.  As die tempel, die ark, Jerusalem en die volk bly staan, is ons veilig (Jer.7:4, 1 Sm.4:3, Mg.3:11, Lk.3:8).  Ons moet dan daarvoor sorg dat Jesus dit nie opmors nie.’  Só moet ons v.47-48 verstaan.  Is dit nie ironies dat die Romeine hulle tempel en die volk in 70 n.C. verwoes het, omdat hulle die Messias gekruisig het nie?

 

In daardie aaklige jaar van Jesus se kruisdood, was Kajafas die hoëpriester en dus ook die leier van die Joodse Raad (v.49). Hy is in 18 n.C. deur Valerius Gratus aangestel, en het tot in 36 n.C. sy amp gevul toe Vitellius hom onthef het.

 

Dit was hierdie Kajafas wat vir die Raad gesê het om vir Jesus dood te maak.  ‘Hoekom wonder julle nog wat om met Jesus te doen?’ het hy gesê.  ‘As ons Hom doodmaak het ons nie die Romeine op ons nekke nie.  Vir ons eie en ook die volk se toekoms is dit beter dat ons Hom doodmaak.  Ons moet tussen Jesus en die volk kies, maar albei kan nie bly lewe nie’ (v.50).

 

Omdat Kajafas die hoëpriester was het hy, sonder dat hy dit geweet het, oor Jesus se dood geprofeteer (v.51, Eks.28:30, Es.2:63, 2 Sm.15:27). Hy het nie die dieper betekenis van sy woorde verstaan nie.  God het Kajafas se bose planne gebruik om sy ewige raadsplan te vervul (Hd.4:27-28).

 

Kajafas het voorspel dat Jesus vir Israel en die heidene sou sterf (v.51-52). Jesus het gesterf om al die verstrooide kinders van God met hulle Vader te versoen, om al sy skape in een kraal te versamel, en om hulle na die Herder toe terug te bring (v.52, 10:15-16, Jes.49:6, 53:6, Ef.2:16, 1 Jh.2:2).

 

Toe die Raad klaar na Kajafas geluister het, het hulle ingestem dat dit die beste plan is. Van toe af het hulle planne gemaak om vir Jesus dood te maak (v.53, Mt.26:4).  Hulle het Hom skuldig bevind sonder dat hulle Hom eers verhoor het.

 

Hy het Hom onttrek en saam met sy dissipels 20 km noord na Efraim toe gegaan (v.54). Deur dit te doen het Hy gewys dat geen hof die dag van sy dood sal bepaal nie, maar dat Hy en sy Vader in beheer was.  Hy het Efraim toe gegaan omdat Hy verantwoordelik was, en nie omdat Hy bang was nie.  Hy was nie fatalisties, sodat Hy gesê het:  ‘Ek en my Vader is soewerein, en daarom kan niks met my gebeur as Ek my hand in die leeu se hok insteek nie.

 

Om anders te dink oor jou eie dood, moet jy reg dink oor Jesus s’n.  As jy Hom verwerp, sal jy onder God se oordeel sterf, al probeer jy ook alles in jou vermoeë om dit te vermy (v.47-50).  Jy hét die getuienis van God se Woord en weet dus wie Jesus is.  Sy wonderwerke bewys dat Hy die Seun van God is.  Jy het geen gronde om dit te ontken nie.  Nie die Jode óf die Fariseërs het dit ontken nie (v.46-47, Hd.4:16).

 

Moet dan nie dink dat jy in Hom sal glo as jy ‘n wonderwerk sien nie. Jy sal nie, maar sal ‘n verskoning uitdink vir hoekom dit nie so kan wees nie.  As jy nie die Bybel se getuienis oor Jesus aanvaar nie, sal jy nie eers oortuig word as iemand voor jou oë uit die dood uit opstaan nie (v.46, Lk.16:31, Mt.28:11-15).  Wat moet jy doen?

 

Twee jaar gelede het ek die evangelie met ‘n man en sy vrou gedeel. Toe hulle tot bekering gekom het, het die man vir my gesê:  ‘Ek het al dikwels in die kerk gehoor dat Jesus vir ons sondes gesterf het, maar het dit nie verstaan nie.  Daar is baie Afrikaners wat van Jesus se kruisdood weet, maar hulle weet nie wat dit beteken nie.’  Om dan net te bely dat Jesus in ons plek gesterf het is nie genoeg nie (v.50).

 

Om gered te word moet jy die waarheid van die kruis verstaan en in jou hart aanvaar. Jy moet ten minste weet dat Jesus die straf gekry wat ons verdien (v.50-51, Jes.53:5).  Jy moet weet dat ons soos skape weggedwaal het, en dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons terug te bring na die Herder toe (v.52).

 

Jy kan nie in vrede sterf voordat jy nie die gekruisigde en opgestane Verlosser deur geloof ontvang nie. Hoe sal jy op jou sterfbed lê as daar nie ‘n gekruisigde Messias tussen jou en die hel is nie?  Hoe sal jy in vrede doodgaan as jou sonde nie vergewe is nie, as Hy jou nie in die fontein van sy bloed gewas het nie?  Hoe sal jy op jou sterfbed gemeenskap met Jesus geniet as jy nie die soet en sappige vrugte van hierdie boom eet nie?  Hoe sal jy op jou sterfbed nie in die moeras van twyfel sink, as hierdie rots nie onder jou voete is nie?

 

Hoe kan jy voor ‘n heilige God staan as jou klere nie wit gebleik is in die bloed van die Lam nie? Hoe kan jy op jou sterfbed aan die Here vashou en Hom nie verloën, as Hy nie die arms van sy liefde om jou gevou het nie?  Hoe kan jy in die donker vallei van die dood ingaan as die helder lig van sy kruis nie jou pad belig nie?

 

Hoe kan jy in jou laaste oomblikke die Here loof as jou harp nie ingestem is teen die stemvurk van die kruis nie? Hoe kan jy op jou sterfbed die duiwel se versoeking afweer as jy jou swaard nie teen hierdie slypsteen skerpgemaak het nie?  Hoe kan jy in die finale minute van jou lewe hoop vir ‘n kroon as jy nie eers die pad van die kruis geloop het nie?  As jy met die hand van geloof aan Jesus se kruis vashou, sal jy soos die Metodiste wees van wie John Wesley gesê het:  ‘Our people die well.’

 

Ek het onlangs weer The Pilgrim’s Progress van John Bunyan gelees.  Aan die einde van die boek moes Christian en Hopeful deur die Rivier van die Dood gaan.  Christian het amper verdrink.  Hy het gedink dat die Here hom in sy sterwensure verlaat het.

 

Hopeful het hard gewerk om sy vriend se kop bo water te hou, en het hom aan die Woord van God herinner. Toe Christian reg gedink het, het die rivier se malende waters stil geword, en kon hulle met gemak oorgaan.  As jy met gemak oor hierdie rivier wil gaan, moet jy Bybels dink oor die dood.

 

[1] Rabbi Levi aangehaal in Leon Morris, The Gospel According to John, p.546, n.38

[2] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.415

[3] Carson, Ibid, pp.418-419