Die storm van God se oordeel

tornado

Mense in die Suid-Oostelike V.S.A. is gewoond aan tornado’s en siklone. Hulle het allerhande gevorderde instrumente om hulle teen hierdie verwoedelike storms te waarsku.  Op.6:9-17 is een van God se spesiale instrumente om ons teen die finale storm van sy oordeel te waarsku.

Die rede vir God se oordeel (v.9-11)

Oor die afgelope paar jaar was daar verskeie dokumentêre en programme op TV wat gewys het hoe speurders moordsake oplos. Om bloed op te spoor, gebruik hulle ‘n sekere produk wat BlueStar Forensic genoem word.  Dit werk so iets:

 

Sally vermoor vir Patrick. Ná die moord vee sy die bloed van die vloer af op; die muur was sy met chemikalieë.  Wanneer die speurder by die moordtoneel opdaag, spuit hy BlueStar Forensic teen die muur en op die vloer.  Daarna skakel hy die ligte af.  Die BlueStar Forensic skyn helder blou op die plekke waar die bloed was.

 

Ek is nie ‘n kenner op die gebied nie, maar ek hoor dat sekere suurstofryke bleikmiddels die bloed heeltemal kan afwas. Ek weet nie of dit waar is nie, maar dit help om my punt te illustreer.

 

Die moordenaar mag dalk van die bewyse ontslae raak, maar by die Here kan hy nie wegkom nie. Dalk het die moordenaars van God se kinders gedink dat Hy van hulle bose dade vergeet het, maar Hy het nie.  Sy kinders se bloed het teen die moordenaars uitgeroep en sou binnekort vergeld word.  Dit is wat in v.9-11 aan die gang is.

 

Toe die Lam die vyfde seël oopgemaak het (v.1, 5:1, 9), het Johannes die siele van die martelare onder die altaar gesien (v.9). Die altaar verwys na die wierook altaar van 8:3-5.  In die Ou Testament het die hoëpriester wierook op dié altaar geoffer (Eks.30:7).  Soos geurige wierook was sy gebede aanneemlik vir die Here (Ps.141:2).  Een maal per jaar het hy bloed op die horings van die altaar gesmeer (Lv.4:7).

 

Johannes het dít in gedagte gehad toe hy v.9-10 geskryf het. Sy punt was om te wys dat die martelare se hulpgeroep vir geregtigheid soos die aangename geur van wierook voor die Here opgestyg het (5:8, 8:3-5).  Die bloed van die martelare onder die altaar leer vir ons dat die priesters van Jerusalem die gelowiges se bloed gestort het (Lk.11:51b).  Hulle siele onder die altaar wys vir ons dat hulle bloed afgeloop het tot aan die voet daarvan.  Volgens Lv.17:11 is die siel of lewe in die bloed, en daarom sê Johannes dat hulle siele onder die altaar was (v.9).

 

Volgens v.9 is die martelare vir die getuienis van God en sy Woord vervolg en doodgemaak (1:2, 9, 2:9-10, 13, 20:4, Mt.22:6-7, Lk.11:47-50, 20:10-16, Mk.6:27-28, Hd.7:52, 58-60, 12:2). Soos Abel se bloed van die grond af na die Here toe uitgeroep het, het hulle desperaat uitgeroep vir geregtigheid (v.10, Gn.4:10, Lk.11:51a, 18:7-8).  Die Here is soewerein.  Hy is heilig en haat sonde.  Hy is waaragtig om sy beloftes uit te voer.  Daarom het die martelare vir Hóm gevra om hulle te help (v.10).  Wat was hulle versoek?

 

‘Hoe lank nóg voor U wraak neem op dié wat u kinders se bloed vergiet het?’ (v.10, Ps.79:10, 94:3, 119:84, Sg.1:12). Die oordele van v.12-17 sou binnekort (in Johannes se tyd nog) oor die moordenaars se koppe losgebreek het (v.11, 1:1, 3).  Tot dan moes hulle rustig en geduldig op die Here gewag het (v.11).  Volgens sy soewereine raadsplan moes nóg martelare (mede-diensknegte of broers) doodgemaak word (v.11).  Sodra die moordenaars die maat van hulle sondes volgemaak het, sou die Here hulle geoordeel het (Gn.15:16, 1 Ts.2:14-16).  Maar tot dan moes die martelare bly gewees het dat die bloed van Jesus die klere van hulle lewens wit gewas het, en dat Hy hulle sonde vergewe het (7:9, 14).  As dit nie so was nie, sou selfs húlle die oordele van v.12-17 gesmaak het.

 

Het mense jou al sleg behandel omdat jy ‘n Christen is, omdat jy nie saam met die stroom gaan nie, of omdat jy opgestaan het vir wat reg is? Het hulle jou uitgeskuif, sleggesê, agter jou rug gepraat, sekere voorregte by jou weggevat, jou aangeval, jou emosioneel, sielkundig, verbaal, of fisies geboelie, leuens oor jou versprei, lelike sms’e, e-posse, of boodskappe op Facebook vir jou gestuur, jou geïgnoreer asof jy nie bestaan nie?  Wat moet jy in sulke situasies doen?

 

Moenie self wraak neem nie, maar los dit vir die Here (Rm.12:19). Jou plig is om vir hulle te bid en te vra dat die Here hulle sal seën (Lk.6:28).  Doen goed aan jou vyande en tree op soos dit by ‘n Christen pas (Lk.6:29-36, Rm.12:20).  Poog van jou kant af om in vrede te lewe (Rm.12:18).  Doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Lk.6:31).

 

Om jou oor die saak te kwel help nie, maar sal net daartoe lei dat jy sonde doen (Ps.37:8). Verbly jou eerder in die Here en gee die saak vir Hom – Hý sal wys dat jy onskuldig is (Ps.37:4-6).  Vertrou sy soewereiniteit (v.10):  jou vyande kon jou nie so behandel het sonder die Here se wyse raadsplan en toestemming nie (v.11).

 

Die Here is heilig en waaragtig: Hy sál sorg dat jou vyande gestraf word (v.10).  Dit is verkeerd om die gereg in jou eie hande te wil neem, maar dit is nie sonde om te bid dat die Here geregtigheid sal bring nie (v.10).  Om jou vyande lief te hê beteken nie dat jy hulle sonde goedkeur en maak asof dit nie gebeur het nie.  Dit beteken nie dat jy jou skouers optrek wanneer hullle met hulle bose dade aanhou nie.  Volgens Jesus moet ons vir geregtigheid bid (Lk.18:7-8), en in 2 Tm.4:14 het Paulus vir Timoteus teen sulke mense waarsku en gevra dat die Here hulle sal vergeld.

 

Moenie dink dat die Here nie van hierdie dinge weet nie, of dat dit onopgemerk by Hom verbygegaan nie. Hy weet wat aangaan en sal hierdie mense volgens hulle bose dade vergeld.  Soos wat Hy die Jode en die Romeine hiervoor geoordeel het, sál Hy die Kommuniste, Nazis, Katolieke, ISIS en die Moslems, en elke ander vyand van sy kinders oordeel.  As hulle hulle bekeer, dan sal Hy hulle vergewe (soos Hy vir Paulus vergewe het).  Maar as hulle daarmee aanhou, sal Hy wraak neem.

 

Die beskrywing van God se oordeel (v.12-17)

Tim LaHaye se Left Behind reeks gee vir ons ‘n vreeslike beskrywing van God se oordele.  Dat die Here se oordele erg is, is nie te betwyfel nie.  Ek dink egter dat LaHaye en ander sensasionele eindtyd-outeurs nagelaat het om Op.6 met die res van die Bybel te vergelyk.  As hulle dít gedoen het, sou hulle Johannes se woorde in ‘n ander lig beskou het.

 

Toe die Lam die sesde seël oopgemaak het, het Johannes skrikwekkende verskynsels in die natuur gesien. Deur die teks noukeurig uit te lê en dit met die res van die Bybel te vergelyk, kan ons sien dat Johannes hoofsaaklik simboliese taal gebruik om God se angswekkende oordele te beskryf.  Wat het hy gesien?

 

Daar was ‘n groot aardbewing (v.12). In die res van die boek gaan aardbewings gepaard met God se oordele (11:13, 16:18).  Toe die Here vir Nineve en Babilon geoordeel het, het die aarde voor Hom gebewe (Nah.1:5, Jes.13:13).  Jer.10:10 beskryf hoe die aarde skud voor God se toorn.  Voordat God die ou verbond gegee het was daar ‘n aardbewing (Eks.19:18), en toe Hy dit in 70 n.C. met die verwoesting van die tempel finaal tot ‘n einde gebring het was daar ‘n aardbewing (v.12, Lk.21:6-7, 11, 32, Heb.12:26-27, 8:13, 10:9).

 

Die son het swart geword soos ‘n roukleed wat van swart bokhare gemaak is (v.12). Dit is asof die son in begrafnisklere gerou het, omdat God vir Israel so swaar geoordeel het (Jes.50:3).  Die maan het soos bloed geword (v.12).  Die sterre nie meer geskyn nie, maar op die aarde geval (v.13).  Die res van die Bybel wys vir ons dat Johannes simboliese taal gebruik (een ster wat op die aarde val sal dit immers onmiddellik uitwis).

 

Toe God in die Ou Testament vir Babilon, Egipte, Israel, Juda en die nasies geoordeel het, het Hy gesê dat die son, maan en sterre nie meer sal skyn nie (Jes.13:10, Esg.32:7-8, Joël 2:2, 10, 31, 3:15, Am.8:9, Sef.1:15). In Jesus se lering oor die verwoesting van Jerusalem (Lk.21:6-7, 20) het Hy gesê dat die son swart sou word, dat die maan nie meer sou skyn nie, en dat die sterre sou val (Lk.21:25, Mt.24:29).  Volgens Jesus sou al hierdie dinge nog in hulle leeftyd gebeur het (Lk.21:32).  Ek glo dat Op.6:12-13 hierdie gebeure beskryf.  Dit het niks te doen met John Hagee se Four Blood Moons nie.

 

In v.13 sien Johannes hoe die sterre soos navye op die aarde geval het. Wat beteken dit?  Net voordat die seisoen vir vye aanbreek, is daar ‘n klein vy wat saam met die blare groei.  Dit word omtrent so groot soos ‘n kersie, maar die wind laat die meeste daarvan afval.  Die groot en soet vye kan dan ‘n kans kry om te groei.[1]  Wat is Johannes se punt?

 

Die res van die Bybel leer vir ons dat Israel soos hierdie vyeboom was, en dat hulle nie die smaaklike vrug van bekering gedra het nie (Jes.28:4, Hos.9:10, Mg.7:1). Hiervoor het die Here hulle vervloek en sou Hy die ‘vyeboom’ afgekap het (Mk.11:12-21, Lk.13:6-9).  Omdat die vyeboom die vrug van bekering afgegooi het (v.13), sou God sy volk wat so baie soos die sterre was (Gn.15:5) neergewerp het (v.13).  Nou sou mense uit alle nasies wat in Jesus geglo het, soos sterre in die hemel geskyn het (1:20, Fil.2:15).

 

Johannes het gesien hoe die hemel opgerol word soos ‘n boekrol (v.14). Dié beeld kom uit Jes.34:4 waar die Here vir Edom geoordeel het:  “En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos ‘n boek en al sy leërskare val af soos ‘n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.”  Die Here sou nou vir Israel opgerol het soos ‘n boekrol, en eenkant neergesit het.

 

Die berge en eilande is uit hulle plekke uit verwyder (v.14, 16:19-20). In Nah.1:5, Hab.3:6, 10, Jer.4:23-24 het die berge voor die Here weggesmelt en gebewe toe Hy vir Assirië, Juda en Israel deur die Babiloniërs geoordeel het.  In Jes.2:11-12, 14 en Jer.51:25 het God dié wat hulleself soos die berge verhef het, afgebring aarde toe.  In v.14 sou Hy so gedoen het met Israel.  Weereens moet ons verstaan dat v.14 simboliese taal gebruik, want as elke berg voor die Here verdwyn het, kon die mense in v.15 nie in die berge weggekruip het, of in v.16 vir die berge geroep het om op hulle te val nie.

 

So verskriklik was die oordele dat geen mens of weermag voor die Here kon staan nie (v.17, Ps.76:8, Joël 2:11, Nah.1:6, Mal.3:2). Konings, adelikes, generaals, rykes, invloedrykes, slawe, vry mense – almal het in die rotsskeure en die grotte van die berge weggekruip (v.15, Jes.2:10, 19, 21).  Toe hulle God se kinders mishandel het, moes húlle in grotte weggekruip het, maar nou het die wiel gedraai (v.15, Heb.11:38).  Hulle kon nie vir die Here weggekruip het nie (Gn.3:8), en het gewens dat die berge se rotse op hulle koppe inmekaar moes sak (v.16, Hos.10:8).  Eerder dít as om in die rooi oë van God se oordeel in te kyk.  Volgens Jesus sou dié dinge in Johannes se leeftyd in Jerusalem gebeur het (Lk.23:27-31).

 

Alhoewel ek met my hele hart in die wederkoms glo, dink ek nie dat die sesde seël in v.12-17 daarna verwys nie. Die sewende seël was immers nog nie eers oopgemaak nie, en daar is ‘n volle 13 hoofstukke voordat ons by die finale oordeel in hfst.20 kom.  As Op.6 die wederkoms beskryf het, sou Johannes nie hfst.7-19 geskryf het nie, maar dadelik na hfst.20 toe gespring het.

 

Johannes se terme is dieselfde as die Ou Testament profete s’n toe hulle God se oordele oor Israel en die ander nasies voorspel het. Ons hoef dan nie aan te neem dat Op.6 van Jesus se wederkoms praat nie.  Jesus self het hierdie terme gebruik toe Hy van God se oordele oor Jerusalem gepraat het (Mt.24, Lk.21, 23).  Toe die Jode vir Jesus se bloed geroep het, het hulle in Mt.27:25 gesê dat God sy Seun se bloed van hulle en hulle kinders se hande kan eis.  God het hulle op hulle woord geneem en in 70 n.C. sy oordele soos ‘n vrag bakstene op hulle laat neerkom.  God het nie die Jode se gruwelike misdaad van die kruis ligtelik opgeneem nie.

 

Dalk is jy nie oortuig van my siening oor Op.6 nie. Ek gaan nie ‘n kwessie daarvan maak nie.  Ten minste kan ons saamstem dat die oordele van God erger is as enige monster in Hollywood se ‘bangmaak films’.  Jy kan nie vir Hom wegkruip nie (v.15-17).  Hy sien alles en is oral.

 

As jy probeer om in die doderyk weg te kruip, sal Hy jou kom uithaal. As jy in die sterrehemel wegkruip sal Hy jou dáár gryp en neerbring.  As jy op ‘n hoë berg klim sal Hy jou uitsoek.  As jy in die diepste see wegkruip, sal Hy vir ‘n dodelike seeslang sê om jou te byt.  Hy sal toelaat dat jou vyande jou doodmaak (Am.9:2-4).  Dié wat probeer om vir God weg te kruip, is soos iemand wat vir ‘n leeu vlug en in ‘n beer in vashardloop (Am.5:19).  Moet dan nie maak of Satan en die Antichris die gevaarlikste karakters in Openbaring is nie; God en die Lam is (v.17).

 

As jy gered is, hoef jy nie bang te wees nie. In Jes.54:10 sê die Here:  “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.”

 

As jy egter in ongehoorsaamheid en sonde lewe, moet jy baie bang wees.  Laat dié dinge vir jou ‘n voorsmakie van die wederkoms, die finale oordeel en die hel wees.  Ek wens dit nie vir my grootste vyand nie.  Dit sal beter wees om ‘n duisend keer dood te gaan as om onder God se oordeel in die hel te beland.  “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb.10:31).

 

Hoe gaan jy eendag voor die Here staan as jou sonde nie vergewe is nie, en Hy jou geheime sondes aan die lig bring? Moet asseblief nie dink dat die Here jou gaan oorsien omdat jy arm is, of dat Hy jou gaan voortrek omdat jy ryk is nie (v.15).  Moet ook nie die fout maak om te dink jy is oppad hemel toe, omdat jy bang is vir die hel nie (v.16).  Dit gaan iets meer verg as dít om jou van God se oordeel te red.  Daar is net een manier om van sy oordeel te ontsnap:  Jesus se kruisdood.

 

Toe Jesus aan die kruis gehang het, het die son opgehou skyn (Lk.23:44-45). Daar was ‘n groot aardbewing (Mt.27:51).  Die volle toorn van God het oor sy Seun gekom.  Vir ons sonde het sy Vader Hom gestraf (Jes.53:10, Mt.27:46).  Om ons van die oordeel te red was Hy bereid om in ons plek sonde te word en deur God vervloek te word (2 Kor.5:21, Gal.3:13).  Die fisiese lyding van die kruis kan nie naastenby hiermee vergelyk word nie.  Die kruis was ‘n miljoen keer erger as die hel, omdat Jesus nie net die straf van een sondaar op Homself geneem het nie, maar miljoene mense s’n.

 

O, laat ons lief wees vir hierdie Verlosser. Laat ons deur geloof in die sterk toring en agter die Rots van Jesus Christus skuil, sodat die toorn van God ons nie kan seermaak nie.  As jy na Jesus toe vlug sal jy veilig wees:  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rm.8:1).  Maar as jy Hom verwerp en met jou sonde aanhou, sal die storm van God se oordeel die plankhuisie van jou selfregverdige lewe tot die uiterste toe verwoes – vir ewig!

 

Aardrykskunde was seker my gunsteling vak toe ek op skool was. In een klas het die onderwyser ons van die oog van die sikloon vertel:  rondom jou kan die storm woed, maar as jy in die oog is, is daar nie reën of wind nie – jy is veilig.  So is dit ook in die geestelike realm.  Die storm van God se oordeel kan verwoesting saai rondom jou.  Maar as jy in Jesus, die oog van die storm glo, is jy veilig.

 

[1] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywing onder fig; fig-tree