Wat dink jy van Jesus?

triumphal-entry

In die 16de en 17de eeu was daar ‘n groep Britse predikante wat as die Puriteine bekend gestaan het. Wanneer ‘n mens hulle boeke lees dan kom jy agter dat hulle ‘n rare kombinasie gehad het wat vandag skaars is:  hulle het die Bybel baie goed geken en hulle het mense baie goed geken.

 

Vandag dink ons dat enigiemand wat die Here met passie prys ‘n toegewyde Christen is. Hulle het nie so maklik daarvoor geval nie.  En Jesus het nie so maklik daarvoor geval nie.  Hy het natuurlik nie net mense se dade goed opgesom nie, maar hulle harte en motiewe geken (Jh.2:23-25).  Daarom het Hy nie veel gemaak van die skare se lofprysing in Jh.12:12-19 nie.

 

Die skare (v.12-13, 17-18)

Elsa soek met ‘n seer hart ‘n nuwe Bentley en ‘n huis in Clifton. By ‘n formele dinee ontmoet sy ‘n Amerikaanse man wat ‘n multi-miljoen dollar besigheid besit.  Soos wat die weke in maande verander het, het daar ‘n vriendskap tussen hulle ontwikkel.  Na omtrent ‘n jaar het die man agtergekom dat Elsa nie in hóm belangstel nie, maar in sy geld.  Toe sy nie haar Bentley en huis in Clifton gekry het nie, het sy hom soos ‘n stukkende speelding gelos.

 

Dit is wat die Jode met Jesus gedoen het. Hulle het Hom nie gesoek vir wie Hý is nie.  Hulle wou ‘n wonderwerkende Messias gehad het wat staatsubsidies vir die volk sou gee (6:14-15, 26, 34).  Toe Hy dit nie vir hulle gegee het nie, het hulle Hom gekruisig.

 

In v.1 was Jesus ses dae voor die Paasfees in Betanië. Die volgende dag het Hy Jerusalem toe gekom (v.12).  Soos wat die paaslam vyf dae voor die tyd in die huise ingeneem is (Eks.12:3, 6), was Jesus ons Paaslam vyf dae voor die tyd al in Jerusalem (v.12, 1:29, 1 Kor.5:7, 1 Pt.1:19).

 

Die oggend voordat Hy in Jerusalem ingekom het, het die groot skare wat vir die Paasfees in Jerusalem was, gehoor dat Hy oppad is (v.12). ‘n Klomp van die Jode het gesien hoe Jesus vir Lasarus uit die dood uit opgewek het.  Hulle het aangehou om die nuus te versprei en vir die mense te vertel dat Jesus die Messias is (v.17, 11, 11:45, 20:30-31, Lk.19:37).  Dié wat hulle getuienis geglo het, het uitgegaan om Hom te ontmoet waar Hy teen die westelike helling van die Olyfberg afgekom het (v.13, 18, Lk.19:36-37).

 

Wanneer oom Jan en tannie Sarie oor die Kersseisoen van die Kaap af vir jou kom kuier, ry jy nie Vereniging toe om hulle te ontmoet nie. Maar in Jesus se tyd en kultuur het dinge anders gewerk:  jy hét Vereniging toe gery om hulle te ontmoet.

 

Dit is wat Paulus se vriende in Hd.28:15-16 met hóm gedoen het. Toe hy Rome toe is, het party van sy vriende 70 en 48 km uit die stad uit gekom om hom te ontmoet [Gk. apantēsis].  Wanneer Jesus weer kom sal ons ook ‘uitgaan’ om Hom in die lug te ontmoet [Gk. apantēsis], en Hom dan na die nuwe aarde toe vergesel (Mt.25:1, 6, 1 Ts.4:17).  Volgens die gebruik van die tyd dan het die Jode in Jh.12:13 uitgegaan om hulle Koning te ontmoet.

 

Sommige het van Betanië af agter Hom aangeloop, en ander het van Jerusalem af gekom – voor en agter Hom het die skare gejuig (Mt.21:9). Hulle het Hom vergesel en geprys totdat Hy in Jerusalem ingekom het (Mt.21:9-10).

 

Die meeste van hulle het hulle klere op die pad voor Hom gegooi, maar ander het palmbome se takke in die veld afgesny en dit op die pad gegooi (v.13, Mt.21:8, Mk.11:8). Hierdeur het hulle gesimboliseer dat Hy ‘n groot Koning is (Op.7:9).  Hulle het gesê:  ‘Hosanna!  Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel!’  Hierdie woorde kom uit Ps.118:25-26.

 

Die psalmskrywer vertel hoe die Here hom van sy vyande en van die dood gered het. Mense het hom eenkant toe geskuif soos wat bouers verwerplike stene weggooi.  Dit was ‘n dag van blydskap toe God hóm die hoeksteen gemaak het.  In v.25-26 het die volk gebid dat God deur hom seën, voorspoed, verlossing en sukses moes gee (‘Hosanna beteken ‘O red!’ of ‘red nou!’).

 

In Jh.12:13 het die volk erken dat Hy in die Naam van die Here kom, en dat Hy God se Messias, Koning en verteenwoordiger is. Omdat Hy die Seun van Dawid was, sou Dawid se koninkryk deur Hom gekom het (Mt.21:9, Mk.11:9).  God se vrede en heerlikheid sou deur Hom gekom het (Lk.19:38).  Die volk het nie besef dat Hy ook die lig en offer van Ps.118:27 is nie (Jh.1:29, 8:12).

 

Die volk het ‘n politieke Messias gesoek om hulle van die Romeine se onderdrukking te red. Dit is wat hulle in v.13 met Hosanna (‘Red nou!’) bedoel het.  Dit is ook hoekom hulle bygevoeg het dat Hy die Koning van Israel is.  Hulle het nie verstaan dat Hy die Prins van vrede is wat gekom het om ons van ons sonde te red nie.

 

Jesus (v.14-15)

Ek ken ‘n predikant wat baie humoristies, vriendelik en spraaksaam is. ‘n Paar maande gelede het ‘n vrou wat in die apteek werk vir hom gesê:  ‘Ek glo jou nie dat jy ‘n predikant is nie – jy lyk nie soos een nie.’  ‘Maar hoe moet ‘n predikant dan lyk?’ het hy vir haar gevra.  ‘Ja, maar jy praat nie soos ‘n predikant nie,’ het sy gesê.  ‘Hoe moet ‘n predikant praat?’ het hy geantwoord.

 

Mense het vooropgestelde idees oor hoe dinge moet wees. Jesus se hele missie, karakter en styl was ‘n antiklimaks van alles wat die Jode verwag het die Messias moes wees.  Hulle het ‘n militêre Messias op ‘n wit perd verwag.  Jesus het nie vir hulle gegee wat hulle gesoek het nie.  Om hulle verkeerdes idees reg te stel het Hy op ‘n donkie gery.  Hiér is hoe dit gebeur het.

 

Toe Jesus teen die oostelike helling van die Olyfberg opgegaan het, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur om in Betfage vir Hom ‘n donkie en haar vul te kry (Mt.21:1-2). As iemand gevra het hoekom hulle die donkies losmaak, moes hulle gesê het dat die Here dit nodig het – ná gebruik sou Hy dit dadelik vir hulle teruggestuur het (Mt.21:3, Mk.11:3).  Die mense het toegelaat dat die dissipels die donkies vat (Mk.11:6).  Jesus het die vul se ma laat saamkom, sodat die vul nie deur die harde gejuig van die skare verwilder sou word nie (Mt.21:7, Lk.19:37).

 

Die vul was nog nie ingebreek nie, maar omdat Jesus die Meester van die skepping was kon Hy maklik op die dier gery het (Mk.11:2). Vir ‘n sagter en gemakliker rit, het die dissipels hulle klere op die donkie se rug gesit (Mk.11:7).  Deur op die vul se rug te ry het Jesus die Skrif vervul (v.14).

 

Volgens Gn.49:10-11 het die Koning uit die stam van Juda sy donkie aan die wingerd vasbind. In Sg.9 sien ons hoe God Israel se vyande oordeel.  Jerusalem moes gejuig het oor haar Koning wat na haar toe oppad was.  Hy was ‘n regverdige Koning wat verlossing gebring het.  Hy het nie met militêre mag gekom nie.  Hy het gekom om deur die bloed van sy verbond (!) vrede vir Israel en die nasies te bring, en om oor die wêreld te heers.  Daarom het Hy wapens, strydwaens en perde vernietig (Sg.9:9-11).  In nederigheid het Hy op ‘n donkie se vul gery.  Dit was nie nodig vir God se volk om bang te wees nie (v.15, Jes.40:9).

 

Die dissipels (v.16)

Ek het eenkeer in ‘n preek gesê dat Jesus volkome God en volkome mens is, en dat Hy vir ewig so sal bly. Na die preek het iemand vir my vrou gesê:  ‘Die Here het my oë oopgemaak.  Om te dink dat ons al die jare nog verkeerd geglo het.’  Soos hierdie persoon het die dissipels verkeerd geglo oor Jesus.  Die Heilige Gees het hulle oë oopgemaak om dinge reg te verstaan.

 

Die dissipels het geweet dat Jesus die Messias is, maar soos die skare het hulle sy Messiaskap verkeerd verstaan (v.16, 2:22, 13:7, Mk.9:32). Toe Hy verheerlik is het Hy die Heilige Gees oor hulle uitgestort (Hd.2:33).  Die Gees het hulle gehelp om te onthou dat die profete hierdie dinge geskryf het (v.16).  Hý het hulle harte oopgemaak om dit te verstaan (16:12-13).  Hý het hulle aan Jesus se woorde herinner (14:26).

 

Die Fariseërs (v.19)

Het jy al ooit gesien hoe iemand sy vingers deur sy hare hark en dan vasgryp, omdat hy nie weet wat om te doen nie? Wanneer jy jou in so ‘n situasie bevind, sê die Afrikaanse spreekwoord dat jy met jou hande in jou hare sit.  In v.19 sien ons dat die Fariseërs so was.

 

Hulle was raadop. Hulle het vir Jesus gesê om sy dissipels stil te maak (Lk.19:39).  ‘As hulle stilbly sal die klippe uitroep,’ het Hy gesê (Lk.19:40).  ‘Ons planne om vir Jesus dood te maak gaan nie uitwerk nie,’ het hulle vir mekaar gesê (v.19, 11:53).  ‘Ons wou juis nie gehad het die skare moet in Hom glo nie, maar nou het die wêreld agter Hom aangeloop’ (v.19, 11:48).

 

Net soos Kajafas in 11:51, het die Fariseërs nie eintlik besef wat hulle gesê het nie. Die wêreld het inderdaad agter Jesus aangeloop (v.19-20).  Is dit nie juis hoekom Hy gekom het nie (3:16-17)?

 

Wat dink jy van Jesus? Prys jy Hom saam met die skare?  Waarvoor prys jy Hom en hoekom?  Ware gelowiges sal die Here prys, maar nie almal wat Hom prys is ware gelowiges nie.  Jy is nie noodwendig gered omdat jy na Christelike musiek luister, omdat jy lofliede sing, of omdat jy ‘n aanbiddingsleier in die kerk is nie.

 

Die vraag wat jy vir jouself moet afvra is dit: hoekom en waarvoor prys ek die Here?  Wat is my motiewe?  Wat wil ek hê?  Min mense besef dat lofprysing selfgesentreerd kan wees.  Ons kan die Here prys net omdat Hy vir ons goed gee, of omdat ons goed wil hê (v.13, 6:14-15).  As dit die hoofmotief vir ons lofprysing is, is ons nie veel beter as die mense in prosperity kerke nie.  Hulle prys die Here omdat hulle voorspoed, geld en gesondheid by Hom soek.  Ons is ook partykeer so.

 

Jy lees en bid omdat jy ‘n huweliksmaat soek, of omdat jy wil hê die Here moet jou siek kind genees. Jy kom meer gereeld kerk toe as gewoonlik omdat jy ‘n werk wil hê, of omdat jy wil hê die Here moet jou in die eksamen help.  Jy gee geld vir ‘n arm persoon omdat jy wil hê die Here moet jou help om ‘n sekere sonde te oorwin, of omdat jy van jou skuldgevoelens ontslae wil raak.  Jy besoek siek mense omdat jy wil hê die Here moet jou depressie wegvat; jy sing lofliede omdat jy die lekker gevoel soek wat die Here vir jou kan gee.

 

Maar sodra dinge vir jou beter gaan, dan vergeet jy van die Here. Jy prys Hom nie meer soos wat jy dit gedoen het toe dit sleg gegaan het nie.  In sommige gevalle wag jy nie eers totdat dit goed gaan nie.  As die Here jou nie gou genoeg uit ons jou probleme uit help nie, dan is jy kwaad en wil jy niks met Hom te doen hê nie.

 

Die Jode was so. Hulle het gesien dat Jesus hulle nie van die Romeine se onderdrukking gaan red nie, maar dat Hy húlle uit die tempel uitgejaag het.  Daarom het die eindste Jode wat Hom in Jh.12:13 geprys het, vyf dae later vir sy bloed geroep.

 

‘Red nou!’ (Hosanna) het verander in ‘Red Uself!’ (Mt.27:40). In Jh.12 het hulle hulle eie klere op die pad gegooi, maar by die kruis het hulle sý klere verdeel (19:23-24).  In Jh.12 het hulle bome se takke afgesny en dit voor Hom op die pad gegooi, maar by die kruis het hulle Hom aan ‘n boom vasgespyker.  In Jh.12 het hulle Hom geseën, maar by die kruis het hulle Hom vervloek.  In Jh.12 het hulle erken dat Hy die Koning van Israel is, maar by die kruis het hulle gesê dat hulle geen ander koning as die keiser het nie (19:15).

 

Die Jode het ‘n politieke idee van Jesus se verlossing gehad. Dit is presies wat hulle met ‘Hosanna’ of ‘Red nou!’ bedoel het.  Toe Jesus nie hulle definisie van verlossing vervul het en aan hulle verwagting voldoen het nie, het hulle van Hom ontslae geraak.

 

Soos die Jode is daar baie kerkmense wat ‘n verkeerde idee van God se verlossing het. As jy vir hulle vra of hulle gered is, dan antwoord hulle met ‘n selfversekerde ‘ja’.  As jy vir hulle vra hoe hulle dit weet, dan vertel hulle vir jou hoe die Here hulle deur ‘n moeilike operasie gehelp het.

 

Ek ontken nie dat dit die Here was wat dit gedoen het nie. Wat ek wel sê is dat dít nie die Nuwe Testamentiese verstaan van verlossing is nie.  Dit is nie wat Christene deur die eeue met ‘Hosanna’ bedoel het nie.

 

God is nie toornig omdat jy siek is of omdat jy nie geld het nie. Hy is kwaad omdat jy sonde doen.  Dus prys ons Hom nie primêr omdat Hy ons siektes genees, of omdat Hy vir ons ‘n werk gee nie.  Die primêre rede vir ons lof is dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons sonde te vergewe.  Dit help nie net dat jy dit weet nie.  Om Hom reg te prys moet jy hierdie vergifnis in jou siel ontvang.

 

Kan jy eerlik sê dat jou sonde vergewe is en dat jy ‘n skoon gewete het? Het jy die sonde in jou hart en gedagtes, woorde en dade afgelê?  Of is jy nog ‘n slaaf daarvan?  Om vergewe te word moet jy op die gekruisigde en opgestane Jesus vertrou, omdat Hy alleen die mag van sonde in jou lewe kan breek.  Hy het die straf wat jou en my sonde verdien aan die kruis gedra.  Daarom kan net Hý jou skuldige rekord skoonvee.  Draai na Hom toe, draai na Hom toe, draai na Hom toe!

 

Die Jode het hulle Messias wat op die donkie gery het verwerp, en daarom het Hy later op ‘n wit oorlogperd teen hulle gekom (Op.19:11). En as jy Hom verwerp sal God se oordeel soos ‘n trop buffels in ‘n drukgang op jou afkom en jou verbrysel.  Draai dan na die Here toe, selfs al is jy soos die dissipels en verstaan jy nie alles nie (v.16).  Die Here sal mettertyd die dinge vir jou duidelik maak (v.16).

 

In die 1960’s was daar ‘n ontploffing van lofprysing in die Christelike kerk. Vandag is daar meer as ooit Christelike CD’s, DVD’s en konserte.  As jy na sommige foto’s op die internet kyk is dit moeilik om tussen ‘n Christelike erediens en ‘n rock konsert te onderskei.  In sekere kringe roem mense op die volheid en rykdom van hulle lofprysing, en sê hulle dat eredienste soos ons s’n dood is.  As ons egter na Jh.12:12-19 kyk dan is dit duidelik dat Jesus nie veel waarde aan mense se geestelike opgewondenheid heg nie. Dit is wat hulle van Hom dink wat saakmaak.