Die goeie effek van die groot verdrukking

great-tribulation

Ná ‘n veldbrand groei die gras en plante beter. Dit wat verwoesting gebring het, het ook lewe gebring.  En dit is presies wat in Op.7:9-17 met die groot verdrukking gebeur het.

 

Lofprysing (v.9-12)

Wat is die meeste mense wat jy al bymekaar gesien het? Verlede Saterdag was ek saam met my gesin by ‘n vliegskou.  Ons het ‘n uur en ‘n half gevat om 10 kilometer te ry.  Daar was duisende karre.  Ons het omtrent ‘n kilometer geloop van die parkeer area af tot by die hek.  Die mense het soos miere gewemel.  Ek wil nie jok nie, maar ek is seker dat daar tussen 50 000 en 100 000 mense was.  In Op.7 het Johannes ‘n baie groter skare as dit gesien.

 

In v.4-8 het Johannes 144 000 verseëlde Jode op die aarde gesien. Daarna het hy ‘n ontelbare menigte uit elke stam en taal en volk en nasie in die hemel gesien (v.9, 5:9).  God het gesê dat Abraham se nageslag ‘n ontelbare massa soos die sand en die sterre sou wees (Gn.13:16, 15:5, 22:17).  Hy sou die vader van baie nasies gewees het (Gn.17:5).  In Op.7 het Johannes gewys dat mense uit alle nasies en nie net Jode nie, die ontelbare nageslag van Abraham is (Gal.3:7-8, 14, 16, 29, Hos.1:9-10, vgl. 1 Pt.2:9-10).

 

Die menigte het voor die troon en voor die Lam gestaan (v.9). Hulle het wit klere aangehad en palm takke in hulle hande.  Die wit klere het gewys dat hulle rein is (v.14), en die palmtakke herinner ons aan die Huttefees.  Toe die volk vir 40 jaar deur die woestyn getrek het, het hulle nie in huise gebly nie maar in tente.  God het vir hulle gesorg toe hulle pelgrims was oppad na die Beloofde Land toe.  Om dit te herdenk moes hulle jaarliks Jerusalem toe gekom het en tente van palms en ander bome se takke gebou het (Lv.23:40, 43, Neh.8:16).

 

In Op.7:9, 15 sien ons palmtakke en God wat sy tent oor die menigte oopspan. Die hemelse vervulling van die Huttefees was dus nie net vir Jode nie, maar vir God se kinders uit alle nasies.  Voor die Paasfees het die Jode ook palmtakke gewaai en vir Jesus geprys, maar vyf dae later het hulle vir sy bloed geroep (Jh.12:13).  In Op.7 het die geredde heidene palmtakke gevat en Hom met opregte harte geprys.  God het hulle veilig deur die wildernis van hierdie wêreld tot in die hemel gebring.  Hy is dan nie net die God van die Jode nie, maar die God van elke mens wat in Jesus glo; ons God (v.10).

 

Die groot menigte het hard uitgeroep dat die verlossing wat hulle ervaar het van God en van die Lam af kom (v.10, Jon.2:9, Ps.3:9). Hulle het geen krediet vir hulleself gevat, of gevra dat die eer tussen hulle en God gedeel moes word nie.  Hý het hulle gekies, vergewe en verseël (Ef.1:3-14).

 

Verlossing is dan nie ‘n spanpoging waarin die mens vir God help, waarin God dié help wat hulleself help, of waarin Hy vir ons ‘n hupstoot gee om onsself te red nie (sinergisme). Die Bybel wys vir ons dat die mens geen aandeel in sy redding het nie.  Verlossing is uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen (Ef.2:8-9).  Dit is God se werk van begin tot einde (Fil.1:6, monergisme), en daarom gee ons aan Hom alleen die eer (v.10).

 

Anders as die groot menigte, het die engele nie voor die troon gestaan nie, maar rondom (v.11, 9).  Hulle het ook rondom die 24 ouderlinge en die 4 lewende wesens gestaan (v.11, 4:4, 6).[1]  Hulle het in nederige aanbidding voor die Here neergeval en die groot menigte se lof ge-eggo (v.11).  Al het hulle nie soos die groot menigte God se verlossing ervaar nie (Heb.2:16), het hulle dit met ‘n ‘Amen!’ beaam (v.12, Lk.15:7, 10, Ef.3:10, 1 Pt.1:12).  Die engele het sewevoudige of volmaakte lof aan die Here toegeskryf (v.12, 5:12).  Waarvoor het hulle Hom geprys?

 

Hy is die bron en fontein van alle lof en seën. Die glansryke heerlikheid en eer is syne.  Hy is alwys; daar was nog nooit ‘n probleem wat Hy nie kon oplos nie.  Alle dank behoort aan Hom, omdat Hy so goed is.  Sy krag en sy mag het geen perke nie; Hy kan enigiets doen.  Hierdie dinge is so en sal vir ewig so wees – is dit nie juis wat hulle met ‘amen’ bedoel het nie (v.12)?

 

Hoeveel Christene was daar toe Jesus op die aarde was? In Jerusalem was daar omtrent 120 (Hd.1:15).  Altesaam was daar ‘n bietjie meer as 500 (1 Kor.15:6).  Hoeveel Christene was daar in die eerste paar weke, maande, jare en dekades nadat Jesus opgevaar het hemel toe?

 

[1] 3000 bekerings op een dag (Hd.2:41).

[2] Daaglikse bekerings (Hd.2:47).

[3] ‘n Somtotaal van 5000 mans (Hd.4:4).

[4] Bekerings meer as ooit (Hd.5:14).

[5] Die dissipels vermenigvuldig (Hd.6:7).

[6] Herlewing in Samaria (Hd.8:5-8, 12).

[7] Kerkgroei in Judea, Galilea en Samaria (Hd.9:31).

[8] Die bekering van twee hele dorpe (Hd.9:35).

[9] Baie Grieke word gered (Hd.11:21).

[10] Baie bekerings onder Barnabas in Siriese Antiochië (Hd.11:24).

[11] Die invloed van God se Woord neem toe (Hd.12:24).

[12] Massas bekerings onder Paulus in Psidiese Antiochië en die omliggende gebiede (Hd.13:43-44, 48-49).

[13] Groot getalle Jode in Ikonium kom tot bekering (Hd.14:1).

[14] Paulus maak baie dissipels in Listre (Hd.14:21).

[15] Die kerke groei elke dag (Hd.16:5).

[16] Baie Grieke in Tessalonika word gered (Hd.17:4).

[17] ‘n Klomp Jode en Grieke in Berea kom tot bekering (Hd.17:12).

[18] Talle Korintiërs word gered (Hd.18:8, 10).

[19] Die Woord van God neem met groot effek toe in Efese (Hd.19:20).

 

Handelinge praat hoofsaaklik van Petrus en Paulus se bedienings. Hoe groot word die getal as ons dink aan die ander apostels, dissipels en nuwe bekeerlinge wat die evangelie met mense gedeel het?  Wat nog te praat van die bekerings in die eerste drie eeue n.C., die reformasie in Europa, die prediking van die Puriteine in Engeland, die herlewing onder John Wesley en George Whitefield, die herlewings in Wallis en Amerika, die predikers in Skotland, die sending-beweging in die 1800’s, Spurgeon se prediking, duisende bekerings agter die ystergordyn, die hedendaagse verspreiding van die evangelie deur kerke, Christen-organisasies, boeke, tydskrifte, DVD’s, die internet, TV, radio, en ‘n duisend ander maniere.

 

Moses het van 2 of 3 miljoen Israeliete gesê dat hulle soos die sterre van die hemel was (Dt.1:10, 10:22). Wat sou hy van die getal bekeerlinge in Handelinge, of die ontelbare skare in die hemel gesê het (v.9)?  Wat sê jý daarvan?  Is jy een van hulle?  Prys jy die Here vir jou redding?  Robert Murray M’Cheyne het gesê:  ‘Heaven will be all praise.  If you cannot praise God, you will never be there.’[2]

 

Kan die Here jou verlos en sy lof nie jou mond vul nie?  As die engele wat nie sy verlossing ervaar het nie Hom daarvoor prys, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie?  Hulle is rondom die troon (v.11); ons is voor die troon (v.9).  Hulle is sy diensknegte; ons is sy bruid, kinders, broers, vriende, kudde en liggaam.

 

Verlossing (v.13-14)

Populêre skrywers oor die eindtyd sê dat daar ‘n groot verdrukking van intense swaarkry in die toekoms sal wees. Hulle sê verder dat die Christene wat dán lewe nie deur hierdie verdrukking sal gaan nie, maar dat hulle voor die tyd weggeraap sal word.  Hulle basseer dit o.a. op Op.7:14.  Maar het jy opgelet dat die woord wegraping nie eers in Op.7 voorkom nie?  Dit lyk dan vir my na ‘n vooropgestelde idee wat in die teks ingelees word.

 

Een van die 24 ouderlinge (5:5) het vir Johannes gevra of hy weet wie die groot menigte in wit klere is, en of hy weet waar hulle vandaan kom (v.13). Johannes het vir die ouderling gesê:  ‘Jý weet my heer; wil jy nie asseblief vir my ook sê nie?’ (v.14).  Die ouderling het vir hom gesê dat die menigte uit die groot verdrukking uit gekom het.  Hoe moet ons sy woorde verstaan?

 

DIE groot verdrukking [Gk.] wys vir ons dat v.14 nie na swaarkry en vervolging in die algemeen verwys nie, maar na ‘n spesifieke verdrukking. Die res van Openbaring wys vir ons dat hierdie verdrukking nie in die verre toekoms gelê het nie, maar dat dit in die tyd van die eerste lesers plaasgevind het (1:9, 2:9-10, 22, 3:10-11).  Jesus wys dit ook en sê verder dat dit in Jerusalem – nie in Amerika nie! – plaasgevind het (Mt.24:21, 16, 1-3, 34).

 

Iemand maak beswaar: ‘Hoe kan jy sê dat die verdrukking in Mt.24:21 na die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. verwys as Jesus self gesê het dat niks voor of na die verdrukking daarmee vergelyk kan word nie?’  In die konteks praat Jesus van Jerusalem:  daar was nog nooit so ‘n groot verdrukking in Jerusalem nie (nie die Babiloniërs of Antiochus Epifanes nie), en daar sou ook nooit weer so ‘n verdrukking teen haar gewees het nie (vgl. Esg.5:9, Dn.9:12, 12:1).  Dít is die verdrukking waarvan Johannes in v.14 praat.

 

Wat bedoel Johannes as hy sê dat die ontelbare menigte uit die verdrukking uit gekom het (v.14)? Ek dink nie dit hoef te beteken dat hulle in die verdrukking gesterf het nie.  Ek dink ook nie dit beteken dat hulle weggeraap is om die verdrukking vry te spring nie.

 

Na my mening het hulle uit die verdrukking uit gekom (v.14) in dieselfde sin as wat ‘n kind uit die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou gebore word. Die kind is a.g.v. die liefdesverhouding tussen sy ouers gebore.  En so is die groot menige van geredde heidene a.g.v. die groot verdrukking in 70 n.C. ‘gebore’.  God het die Jode geoordeel en van hulle af weggedraai na die heidene toe, sodat hulle en hulle redding uit die groot verdrukking uit gekom het (Mt.21:40-41, 43, 22:1-10, 10:5-6, 15:24, 28:19-20, Hd.13:45-49, 18:5-6, 8, 28:28, Rm.11:11, 25).

 

Die 144 000 Jode in v.4-8 was die eerste vrug van God se verlossing (14:3-4). Soos wat die eerste vrug aan die Here ‘n groot oes gewaarborg het (Sp.3:9-10), het die redding van die 144 000 Jode ‘n groot oes van bekeerlinge onder die heidene gewaarborg (v.9).  Deur geloof en bekering het hulle die klere van hulle lewens wit gemaak in die rooi bloed van die Lam (v.14, 3:4-5, 19:8, Jes.1:18, Sg.3:3-5, 1 Jh.1:7).

 

Die wit klere wys ook dat hulle priesters is, en daarom dien hulle in v.15 in die tempel. Om in Jesus se tyd ‘n priester te word moes iemand eers ‘n toets ondergaan het.  As hy nie deur sy geslagsregister kon bewys dat hy uit die lyn van priesters gekom het nie, is hy met swart geklee en kon hy nie gedien het nie.  As hy egter al die toetse geslaag het, het hy ‘n wit kleed ontvang en kon hy as ‘n priester gedien het.[3]

 

Veiligheid (v.15-17)

Ek glo dat die groot verdrukking vir Johannes in die nabye toekoms gelê het, maar dat dit vir ons in die verlede is. Dalk bekommer dit jou dat ek so dink.  Maar eintlik hoef jy nie bekommerd te wees nie, omdat die groot verdrukking nie die belangrikste kwessie in Op.7 is nie.  Daar is iets belangriker as dit:  is die klere van jou lewe wit gewas in die bloed van die Lam (v.14)?  Is Jesus die Middelaar wat tussen jou en die Vader staan (1 Tm.2:5)?  Is jou sonde vergewe?

 

Net dié wie se lewens in die bloed van die Lam gewas is, sal dit waag om in God se heilige teenwoordigheid in te kom om voor sy troon te staan (v.15, 22:14, Mt.22:11-12). As Hy jou sonde vergewe het hoef nie jy eers te wag totdat jy in die hemel is nie – jy kan elke dag deur gebed in sy troonkamer inkom (Heb.4:16).  Wanneer jy in die hemel is sal Hy vir jou die vreugde en krag gee om Hom dag en nag in sy tempel te dien.  Spurgeon het iets in die volgende lyn gesê:  ‘If God has called you to be his servant, why would you want to stoop so low as to become a king?’

 

As Jesus sy lewe of bloed vir jou gegee het (v.14) sal dit glad nie vir jou moeite wees om vir ewig jou diens aan Hom te gee nie (v.15). Dit sal vir jou ‘n voorreg wees om altyd in sy tempel te wees en om vir ewig in gemeenskap met Hom te lewe – Hy is immers die tempel (21:22).  Dit sal vir jou wees soos om in die teenwoordigheid van ‘n baie beroemde en gawe persoon te wees, om elke dag aan sy tafel te sit waar jy sy eindelose rykdom, wysheid, genade en vriendskap geniet.

 

Soos wat die tabernakel en die wolkkolom die volk in die Ou Testament beskerm het, sal God ons met sy eie teenwoordigheid in die hemel beskerm (v.15, Jes.4:5-6). Die Griekse teks sê letterlik dat Hy sy tent of tabernakel oor ons sal oopspan [v.15, Gk. skēnoō, 21:4, Jh.1:14].  Angus Buchan se tent kon 60 000 mense vat.  Omdat die Here oneindig is kan ‘n ontelbare menigte in sy tent skuil soos wat kuikens onder ‘n hen se vlerke wegkruip (v.15, 9, Jes.54:2, Ps.91:1, 4, Dt.32:11).

 

Sal dit nie wonderlik wees om in ‘n plek te bly waar jy nie onveilig voel nie, ‘n plek waar daar nie in die aand skelms in jou huis inkom nie, ‘n plek waar daar nie moordenaars en verkragters is nie, ‘n plek waar daar nie mense is wat jou kinders wil seermaak, molesteer of onvoer nie, ‘n plek waar daar nie gevaarlike diere is om jou te byt nie, ‘n plek waar die duiwel jou nie kan versoek nie, ‘n plek waar jy nie teen die sonde van jou eie hart moet stry nie?

 

Ek sien uit na ‘n plek waar niemand honger of dors is nie, omdat daar meer as genoeg is om te eet en te drink, ‘n plek waar daar nie droogtes en hittegolwe is nie, ‘n plek waar jy nie so erg brand dat jy velkanker kry nie, ‘n plek waar jy gemaklik onder God se skaduwee sit, ‘n plek waar die perfekte lig van God se heerlikheid vir ewig sal skyn (v.16, 21:23, Jes.49:10, Ps.121:5-6, kontr. 16:8-9).

 

In die hemel, soos op die aarde, sal die Lam jou Herder wees. Die Lam is jou Herder (v.17, Jh.10, Mt.2:6, Ps.23:2, Jes.49:10)!  Hy sal jou na strome van lewende water toe lei (v.17, 21:6, 22:17, Jh.4:14, 7:37-38, Ps.36:9-10).  Jy het dus nie net vir Jesus nodig om jou te red of om jou veilig in die hemel te bring nie;  jy het Hom ook nodig sodat jy vir ewig in die hemel kan voortlewe – jy sal Hom vir die res van jou ewige bestaan nodig hê (v.17).

 

In hierdie wêreld huil ouers oor hulle rebelse kinders. Mense huil oor die ontrouheid van hulle huweliksmaats, oor die dood van ‘n geliefde, oor fisiese en emosionele pyn, oor gebroke verhoudings, oor die sonde wat ander mense teen hulle pleeg, en oor baie ander dinge.  Sal dit nie lekker wees om in ‘n plek te bly waar die trane van die groot verdrukking gelei het tot die vreugde van verlossing, en waar God die trane uit ons oë en van ons wange afvee nie (v.17, 21:4, Jes.25:8)?

 

[1] Ons sien dan dat die 4 lewende wesens nie presies dieselfde is as engele nie, en dat die 24 ouderlinge nie die verloste menigte is nie.

[2] Sermons of M’Cheyne, p.21

[3] Alfred Edersheim, The Temple: Its Ministry and Services as They Were at the Time of Jesus Christ, Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Co., 1980, p.95 aangehaal in David Chilton, Days of Vengeance, p.96