God se vingerafdrukke

heavens-declare-gods-glory

Het jy al ooit gesien hoe ‘n DVD, CD of sonbril lyk as ‘n klein kind dit in die hande gekry het? Dit is vol vingermerke.  En so kan God se vingerafdrukke oral in die skepping gesien word.  Ps.19:1-7 sê immers vir ons dat dit sý handewerk is.  In ‘n ander Psalm (8:4) praat Dawid van ‘die werk van sy vingers’.

 

Omdat Dawid (v.1) ‘n skaapwagter was, was hy gereeld buite in die veld en het hy oor God se skepping geskryf (v.2-7). Hy was ook baie lief vir God se Woord.  Hy het dit gedurig oordink en het in die tweede helfte van die psalm daaroor geskryf (v.8-15).

 

Ps.19 gaan oor die algemene- en besondere openbaring van God. Algemene openbaring verwys daarna dat God Homself deur die skepping bekendmaak (v.1-7), terwyl besondere openbaring na sy bekendmaking in die Skrif verwys (v.8-15).

 

Sy algemene openbaring in die skepping is soos vingerafdrukke: daardeur kan ons weet dat Hy bestaan en kan ons ook iets van sy identiteit weet.  Ons kan egter nie ‘n persoonlike verhouding met Hom hê, omdat ons ‘n sappige mango geëet het of ‘n verskietende ster gesien het nie.

 

God se besondere openbaring in die Bybel is soos ‘n autobiografie: daardeur kan jy Hom leer ken.  Dit is eintlik beter as ‘n autobiografie, omdat jy nie net die feite oor Hom kan ken nie, maar jy kan ‘n persoonlike verhouding met Hom hê.

 

In hierdie preek wil ek op God se vingerafdrukke in die skepping fokus. In die volgende preek sal ek op sy autobiografie in die Bybel fokus.

 

Die hemelruim (v.2-5a)

R.C. Sproul vertel hoe hy eenkeer vir sy geldsake bank toe gegaan het. In die plek waar hy gesit en wag het was daar ‘n dik mat, ‘n swaar hout koffietafel en egte leer meubels.  Daar was ook ander duur en luukse afwerkings.  Sproul het gevra om die bankbestuurder te sien.

 

‘Die manier hoe julle die bank versier het gee vir my die idee dat my geld veilig sal wees by julle’ het Sproul vir die bestuurder gesê. ‘Dit is presies die boodskap wat ons deur die binneshuise versiering wil oordra – jy is een van die min mense wat dit agtergekom het,’ het die bestuurder geantwoord.

 

Sonder om woorde te gebruik het die bank se versiering ‘n boodskap oorgedra. En so dra die skepping vir ons ‘n boodskap oor; dit sê vir ons iets van die God wat dit gemaak het.

 

Die uitgestrekte hemelkoepel (Gn.1:1, 6-8) verkondig God se heerlikheid en sy handewerk (v.2). In v.3-7 brei Dawid hierop uit.  In die blou hemel sowel as in die sterrehemel sien ons die bewyse van God se wonderlike handewerk.  Die bloedrooi oggendson en die heldergeel middagson, die volmaan wat soos ‘n groot ronde witkaas lyk, ‘n sterrehemel in die Karoo, die planete, weerlig, groot donderwolke, reënboë, en die res van die hemel wys vir ons God se heerlikheid (v.2).  Dit roep as’t ware uit:  ‘God bestaan!  God is roemryk en het ons gemaak!’

 

As ons na die hemel en die res van die skepping kyk is dit duidelik dat daar ‘n Intelligente Ontwerper is wat alles uitgedink het en aanmekaar gesit het. Uit die Bybel weet ons dat hierdie Ontwerper die Drie-Enige God is.

 

Volgens v.3a stort die een dag ‘n boodskap vir die ander uit. Dit borrel uit en loop oor van een dag na die volgende toe.  Daar is so baie om te vertel.  Elke nuwe dag sê vir ons dat die Here regtig bestaan en dat Hy groot is.  In die oggend sien en hoor ons die voëls.  Die son kom op en skyn soos ‘n helder flits, sodat ons alles kan sien.  Die son verf die donkerblou aandhemel toe met ligte blou.

 

Die wind dans met die lang gras. Die dou lê soos kopspeld-grootte diamante op mense se grasperke.  In die veld styg die mis van die grond af op, sodat dit lyk of die aarde sy bed opmaak.  Die insekte het aangemeld vir werk.  Die sebras het nog hulle nagklere aan wanneer hulle by die watergat aankom.  Al die diere van die veld verlaat hulle huise om gras en blare, bessies, heuning, insekte, sade en ander kos te soek.

 

Soos die dae het die nagte ook iets vir mekaar te sê (v.3b). Die een nag bied aandklasse oor God se wese en karakter aan vir die volgende.  Alles wat in die donker nag uitkom is ‘n openbaring van die kennis van God (v.3b):  die sekelmaan met sy glimlag, sterre wat meer is as sandkorrels in die Sahara, leeus en hiënas, vuurvliegies, vlêrmuise, motte en meer.  Die naglewe sing saam in ‘n koor dat God hulle gemaak het.

 

Die dag en die nag en alles wat daarin gebeur gee vir ons ‘n sekere kennis van God (v.3). ‘n Skilpad met sy huis op sy rug leer vir ons dat God wys is.  Seevoëls (malgasse) wat soos kamikaze vlieëniers in die water induik om vis te vang, en ‘n vol reënmeter na die lang maande van droogte wys vir ons dat God goed is (Hd.14:17).

 

Die magtige Himalayas wat die hoogste geboue ter wêreld verdwerg sê vir ons dat God almagtig is. Die getal en verskeidenheid van alles wat God gemaak het leer vir ons dat Hy alwetend is.  Die ordelikheid, simmetrie en presiese mates van ‘n byenes wys vir ons dat Gód so is.  Die kleur van korale, plante, seediere en visse in Australië se Great Barrier Reef gee vir ons ‘n idee van hoe pragtig God moet wees.

 

Die manier waarop ‘n ma haar nuwe baba saggies teen haar vasdruk gee vir ons ‘n vae beeld van God se groot liefde. Dag na dag en jaar na jaar kom die son op en gaan dit weer onder, breek die lente en die somer aan en verander die herfs weer in winter.  Dít leer vir ons dat die Here getrou is.

 

Omdat die mens nie onder hierdie God en sy reëls wil lewe nie, kyk hy na die see en die sterre, en sê hy dat die wêreld homself gemaak het. Hy sal nooit sê dat ‘n skildery van die berge homself gemaak het nie, maar hy oortuig homself dat die werklike berge deur toeval ontstaan het.  Hy sal sê dit is onmoontlik om 50 tennis balle in lug te gooi, sodat dit in 10 rye van 5 elk op die grond val.  Maar hy glo dat die perfekte orde van die planete in hulle wentelbane uit die wanorde van die ‘Big Bang’ ontstaan het.

 

Paulus sê dat hierdie mense “in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Rm.1:18-20).

 

Die skepping openbaar God en sy attribute. Tog gebeur dit nie met woorde nie (v.4, kontr. v.8-10).  Die skepping se onhoorbare stem roep uit dat daar ‘n God is en dat Hy roemryk is (v.4).  Die stem is nie so sag dat jy jou ore bak hoef te hou nie.  Dit is nie nodig om vir die skepping te sê:  ‘Ekskuus tog?  Praat harder, ek kan nie hoor nie.’  Die boodskap is duidelik, omdat die skepping se stem oor die hele aarde uitgaan (v.5a).  Die uithoeke van die planeet hoor en eggo die boodskap (v.5a).  Daarom kan niemand sê dat hy nie geweet het God bestaan nie (Rm.1:20-21, 10:18).

 

Volgens is die ESV is dit die skepping se stem wat uitgaan.  Maar volgens die Afrikaanse Ou Vertaling is dit die skepping se meetsnoer wat uitgaan (v.5a).  In Dawid se tyd het bouers ‘n meetsnoer gebruik om ‘n sekere gebied af te meet (Sg.2:1-2).  God het die wêreld gebou en met sy meetsnoer afgemeet.  Oral waar die meetsnoer strek is dit sy handewerk en kan ons sien dat die Meesterbouer regtig bestaan.  ‘n F-5 sterkte tornado en ‘n veldmuis se snorbaarde wys dit.

 

Die son (v.5b-7)

Die Grieke het hulle songod Apollo genoem, en die Egiptenare het hom Ra genoem. Die meeste ander heidense kulture het al op een of ander manier die son aanbid.  In v.5b-7 wys Dawid dat die son nie aanbid moet word nie, maar dat dit van die ware God getuig.

 

God het ‘n tent bo-oor sy bouperseël opgeslaan (v.5b). Die son woon in hierdie tent (v.5b).  Dag na dag staan die son op soos ‘n bruidegom wat op die eerste oggend van sy wittebrood by sy kamer uitkom (v.6).  Die son is soos hierdie bruidegom wat nuut en vars voel.  Dit skyn helder en is gereed vir die dag.

 

Deur die dag is die son soos ‘n sterk man wat om ‘n baan hardloop (v.6). Die man is so sterk en fiks dat hy nie eers moeg word om te hardloop nie.  Hy geniet dit eintlik (v.6).  So is die son:  dit word nie moeg om in die lug te hang en op die aarde te skyn nie.  Die son is soos ‘n sterk en gesonde jong man se gesig wat van blydskap skyn (v.6).

 

Elke oggend loer die son oor die oostelike horison vir die aarde (v.7). As hy klaar weggespring het hardloop hy tot op die westelike horison (v.7).  So gaan dit al vir duisende jare – om en om hardloop die son (v.7, Pd.1:5).

 

Die son se hitte kan ook oral gevoel word (v.7). Dit bak die aarde warm.  Selfs in die koelte kom die radiasie deur.  ‘n Blinde persoon kan nie die skepping sien nie, en ‘n dowe persoon kan dit nie hoor nie.  Maar hulle kan nogsteeds die son se hitte voel.  Nie eers húlle kan sê dat hulle nie geweet het God bestaan nie.

 

Wat is die lesse wat ons uit die eerste sewe verse van hierdie Psalm leer?

 

Hierdie Psalm moes deur die tempelkoor gesing word (v.1). Die les is dan dat ons die Here vir sy skepping moet prys.  Ons doen dit wanneer ons lofliede in die kerk sing, maar bedoel ons dit?

 

In ons besige lewens en malle gejaag na geld vergeet ons om die wind in ons hare te voel en die sand tussen ons tone. Ons kyk vas in beton, glas, staal, karre en geboue.  Ons is angstig oor vergaderings en raak verstrik in ons beplanning vir die toekoms.  In die proses laat ons na om onder ‘n koelte boom te sit en die gekoer van die duiwe te hoor.  Spurgeon het gesê:

 

‘He who forgets the humming of the bees among the heather, the cooing of the wood-pigeons in the forest, the song of birds in the woods, the rippling of rills among the rushes, and the sighing of the wind among the pines, needs not wonder if his heart forgets to sing and his soul grows heavy. A day’s breathing of fresh air upon the hills, or a few hours’ ramble in the beech woods’ umbrageous [Afr. skaduryke] calm, would sweep the cobwebs out of the brain…

 

…A mouthful of sea air, or a stiff walk in the wind’s face, would not give grace to the soul, but it would yield oxygen to the body, which is next best… The ferns and the rabbits, the streams and the trouts, the fir trees and the squirrels, the primroses and the violets, the farm-yard, the new-mown hay, and the fragrant hops – these are the best medicine for hypochondriacs [Afr. swaarmoediges], the surest tonics for the declining, the best refreshments for the weary.’[1]

 

Die skepping is ‘n boek wat elke gelowige behoort te lees. David Brainerd – ‘n Amerikaanse sendeling in die 1700’s – het met depressie gesukkel.  Dit is ‘n groot jammerte dat hy nie van God se anti-depressante gebruik gemaak het nie.[2]  Wolke, die blou hemel, blomme en sonsondergange sou hom gehelp het.  As hy God se heerlikheid in ‘n ladybird gesien het, sou die lofpsalms soos ‘n vulkaan in sy hart ontplof het.  En sou dit nie ‘n steroïde vir sy siel gewees het nie?

 

In dieselfde asem wil ek sê dat ons nie te veel op die skepping moet steun nie. Vir die dieper nood in die menslike hart is die skepping onvoldoende.  Om vergewe te word en geestelik te groei moet die Heilige Gees deur sy Woord in jou werk.  Om op die strand te loop of om bo-op ‘n berg te sit gaan nie help nie.  Die skepping op sy eie kan nie iets geestelik vir jou doen nie; v.2-7 sonder v.8-15 is onvolledig.

 

Die skepping is net die prediker en nie die Een van wie gepreek word nie; dit verkondig God se heerlikheid en is nie sy heerlikheid nie (v.2). Christus is die heerlikheid van God (2 Kor.4:6, Heb.1:3).  As die skepping God se heerlikheid so mooi vertoon, hoe duidelik moet dit dan nie in Jesus Christus gesien word nie?  Jou hart sal onreëlmatig klop en jy sal na jou asem snak as jy eendag sy skoonheid sien (2 Ts.1:10).

 

Omdat die skepping dan net die boodskapper is, mag ons dit nie aanbid nie (Rm.1:23, 25). Ons kan nie ‘n teorie aanhang wat sê dat die wêreld homself gemaak het, dat alles deur toeval ontstaan het, of dat alle vorme van lewe die gevolg van breinlose evolusie is nie.  Om dit te doen is om die skepping tot op die vlak van God te verhef.

 

Sover my kennis strek bid niemand in ons gemeente tot die son nie, en is daar ook niemand van ons wat voor bome buig nie. Die meeste van ons glo ook nie in evolusie nie.  Tog gebeur dit al te dikwels dat ons die skepping aanbid.  Buiten vir die feit dat ons te veel maak van mense se opinies en kos, beskou ons die mens as ‘n indringer, omdat hy bome afkap om ‘n mall te bou of ‘n plantasie te groei.  Dat hy dít doen pla ons meer as dat hy ongebore babas doodmaak.

 

Ek het laasweek op RSG gehoor hoe Sakkie Spangenberg iets in die volgende lyn sê: ‘Terwyl die pole besig is om te smelt stry die kerk oor of gay mense moet trou of nie.’  Hy het by implikasie gesê dat ons meer besorgd moet wees oor aardverwarming [Eng. global warming] as oor lawwe morele kwessies soos gay huwelike.  Iemand wat soos die wêreld dink se prioriteite is nie net onderstebo nie – hy verafgod die skepping.

 

Die Bybel is gebalanseerd. Terwyl jy nie ‘n obsessie moet hê met jou troeteldiere nie, moet jy hulle ook nie mishandel nie (Sp.12:10).  Ons moet verantwoordelik met die skepping omgaan en daaroor heers (Gn.1:28).  Ons moet dit nie verniel nie, maar ons moet dit ook nie verafgod nie.

 

Ons moenie soos ateïste wees en God se heerlikheid in die skepping miskyk nie. Hulle kan nie sy vingerafdrukke in ‘n blaar raaksien nie.  John Piper vertel hoe hy elke oggend verby ‘n sekere boom geloop het.  Deur net na die boom te kyk was dit vir hom duidelik dat daar ‘n God is.  Maar die ateïs sien dit nie raak nie.

 

Daar is ‘n baie spesifieke rede hoekom hy dit nie sien nie. As daar ‘n God is wat alles gemaak (hom ingesluit), dan kan hy nie lewe soos hy wil nie.  Omdat hy homself nie aan die Here wil onderwerp nie, sê hy dom dinge soos dat die heelal homself gemaak het.

 

Ons ontken dit natuurlik nie verbaal nie, maar partykeer lewe ons asof daar nie ‘n God is wat alles gemaak het nie. Die manier hoe ons soms oor ons finansies, werk, inkomste, omstandighede en toekoms stres, wys dat ons nie regtig glo dat die God wat die blomme met soveel detail gemaak het, vir ons óók kan sorg nie.

 

Moet ons nie eerder ‘n gewoonte daarvan maak om daagliks te kyk hoe die son opkom (v.7), en dan vir onsself te sê: ‘sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot.’ (Klg.3:22-23)?  Om die Here se goedheid te betwyfel sodat jy nie vir sy voorsiening bid en Hom daarvoor prys nie, is niks anders as praktiese ateïsme nie.

 

Maar om die Here as die wonderbare Skepper te erken is nie genoeg nie. Hy moet ook jou Verlosser wees.  Hoe lyk dit met jou:  is Hy jóú Verlosser?  Het jy jou volle hoop om gered te word op Jesus, sy kruisdood en sy opstanding geplaas, soos jy wat geheel en al op jou bed staatmaak om jou gewig te dra?  Glo jy in die Jesus van die Bybel; vertrou jy op Hom?

 

Is jy seker jou sonde is vergewe? Is jy vry daarvan of is jy vas in hierdie harde meester se boeie?  Pla jou gewete jou oor iets?  Is jy van binne af nuutgemaak, sodat jy ‘n nuwe skepping is wat deur jou veranderde lewe God se heerlikheid en lof verkondig (2 Kor.5:17)?  Dit is tog hoekom Hy jou gemaak het, nie waar nie?

 

Jes.43:7 praat van “elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.”  In Jes.43:21 sê die Here:  “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.”  1 Kor.10:31 sê vir ons hoe gelowiges moet lewe:  “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

 

Dit is erg as die vlooie wat op jou hond se rug loop God se heerlikheid beter verkondig as wat jý dit doen. Onderaan my ma se skilderye staan daar: Soli Deo Gloria (aan God alleen die eer).  Net so moet die skilderye van ons lewens ook ‘n kleurvolle uitbeelding van God se heerlikheid wees.

 

Soos met die res van die skepping moet God se vingerafdrukke in ons lewens gesien word. Steve Green sing:

 

All across the world People everywhere

Ask “How can I believe in a God I cannot see?

If there really is a God, why is there so much pain?

If I could only see, then I’d believe.”

If you could only see

That His Love is written all across the sky

As brilliantly the stars all testify

For the glory of the God who reigns on high

Is displayed in the world He has made

And as all creation seems to shout and sing

In wonder of the one Almighty King

His signature can easily be seen on everything

Take a minute now and take a look around

Can you believe that everything you see took place by chance?

The intricate design down to the last detail

And what about the mystery that cuts us like a knife:

“What is the source of life?”

 

[1] C.H. Spurgeon, Lectures to my Students, p.158

[2] http://www.desiringgod.org/messages/oh-that-i-may-never-loiter-on-my-heavenly-journey

Advertisements