Die gevaarlikste sonde ter wêreld

sin-kills

Ek het op Nat Geo Wild ‘n program oor die gevaarlikste diere ter wêreld gesien.  Leeus, tiere, giftige slange en skerpioene, olifante, buffels, bye en ‘n klomp ander diere was op die lys.  Seekoeie was op die lys, maar blykbaar is dit nie waar dat hulle die meeste mense per jaar doodmaak nie.  ‘n Sekere kobra van Suid-Oos Asië was die tweede gevaarlikste en maak meer as 10 000 mense per jaar dood.  Die gevaarlikste dier maak ‘n half miljoen mense per jaar dood:  die malaria muskiet.

 

Die Bybel leer vir ons dat alle sonde dodelik gevaarlik is (Rm.6:23). Daar is egter een sonde wat bo hulle almal uittroon:  ongeloof.  Ongeloof is die moeder van alle sondes (Jh.16:9).  Karen jok vir haar baas, omdat sy nie glo God is waarheid nie.  Sy is ondankbaar en jaloers, omdat sy nie glo God is goed nie.  As sy haar nie bekeer en in Jesus glo nie, sal hierdie sonde haar dood beteken.  Jh.12:36b-50 illustreer dit vir ons.

 

Ongeloof (v.36b-38)

Marna se man is ‘n dronkaard en het onlangs egbreuk gepleeg. Hy sê dat dit haar skuld is, en dat sy hom daartoe gedryf het.  Hy weier om te erken dat hy verkeerd was.

 

Mense doen dit met die Here ook. Hulle wil nie erken dat húlle vir die ongeloof in hulle harte verantwoordelik is nie, en sê dan dat dit God se skuld is.  ‘Hy kon gemaak het dat ek glo; dit is sý skuld as ek verlore gaan.  Ek het sonde gedoen omdat Hy my nie gekies het nie.’  Dit is hoe hulle redeneer.

 

Maar dit is nie die son se skuld dat die klei hard word nie. As dit ys was, sou die son dit gesmelt het.  Daar is iets in die klei wat maak dat die son dit verhard.  God hoef nie iets te doen vir die mens om in die duisternis van sy sonde te verval nie.  Hy hoef net sy lig te onttrek.

 

Jesus het in v.35-36a vir die Jode gesê om in die lig van sy lering te glo terwyl hulle die kans gehad het. Maar t.s.v. al sy wondertekens het hulle nogsteeds nie in Hom geglo nie (v.37, 20:30-31, Ps.78:32).  Hulle wou nie sy lig gehad het nie, en daarom het Hy Hom onttrek (v.36b, 5:40).

 

Israel se ongeloof het Jes.53:1 vervul (v.38). In die laaste vers van Jes.52 sê die profeet dat die heidene in die Messias sal glo, terwyl die eerste vers van Jes.53 Israel se ongeloof voorspel.  Dit is presies wat in Jh.12 gebeur het.  In v.20 wou die Grieke vir Jesus gesien het, terwyl die Jode Hom in v.37-38 verwerp het.  En hoekom het hulle Hom verwerp?  Dit is nie asof God se wonderwerkende arm nie deur die Messias aan hulle geopenbaar is nie (v.38).  Dit is eerder dat hulle dit nie wou glo nie (v.38, Rm.10:16).

 

In Suid-Afrika het ons nie ‘n tekort aan Bybels en kerke nie. Dit is jammer dat die meeste van ons land se burgers nie van hierdie voorregte gebruik maak nie.  Hulle lees die Huisgenoot eerder as die Bybel, en loop in die mall rond eerder as om ‘n erediens by te woon.

 

Wanneer dit egter met hulle sleg gaan, dán soek hulle die Here. En in baie gevalle openbaar Hy ook in hierdie tye sy sterk arm aan hulle (v.38).  Hy spaar hulle lewens en red hulle uit desperate omstandighede uit.  Hy genees hulle van kanker, gee vir hulle ‘n werk, maak dat hulle na 15 jaar van onvrugbaarheid ‘n baba kry en help hulle kinders wat in ‘n koma is.

 

Tydens die krisis belowe hulle om die Here te dien. Maar as Hy hulle gehelp het, dan vergeet hulle van Hom.  Kan ons Hom dan kwalik neem as Hy sy lig van hulle af wegvat (v.36b)?  Dat God se geduld groot is, is nie te betwyfel nie (1 Tm.1:16).  Maar dat Hy vir ewig geduldig sal wees is ‘n illusie.

 

Verharding (v.39-40)

Ben het kanker. Dit is egter nog in ‘n vroeë stadium.  Vir baie maande karring sy familie aan hom om te gaan vir behandeling, maar hy weier.  As gevolg van sy hardkoppigheid het die siekte so versprei dat dit ongeneeslik geword het.  En so is dit ook met sonde.

 

Die Jode wou nie in die Messias geglo het nie (v.38, Hd.7:51-53).  Daarom het Hy Hom onttrek (v.36b) en hulle harte verhard, sodat hulle later nie meer kon glo nie (v.39-40, Rm.9:18, Eks.4:21, 7:3, 13-14, 22, 8:19, 32, 9:7, 12, 34-35, 10:1, 20, 27, 11:10, 14:4, 8).

 

Dit is wat Jesaja voorspel het (v.39-40, Jes.6:10). God se volk was korrup en hoogmoedig (Jes.1-3).  Soos ‘n wingerd vol suur druiwe het hulle nie die soet vrug van bekering gedra nie (Jes.5).  God het vir Jesaja gestuur om ‘n boodskap van oordeel te preek:  “Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.” (Jes.6:9).

 

Voortaan sou hulle die boodskap gehoor het maar nie verstaan het nie, gesien het maar nie begryp het nie (Jes.6:9). Paulus sê:  “Maar hulle sinne is verhard.  Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word.  Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart” (2 Kor.3:14-15).

 

Omdat die volk hulle oë en ore vir die waarheid toegestop het, het God hulle doof en blind gemaak. Hy het hulle harte so ongevoelig gemaak soos vet en soos die eelt op jou hak (v.40, Jes.6:10).  Omdat hulle dan blind, doof, onverstandig en hard was, kon hulle hulle nie bekeer het nie.  Gevolglik het die Here hulle nie van die terminale siekte in hulle siele genees nie (v.40, Jes.6:10).

 

Is jy, soos Israel, hardkoppig in jou verhouding met God en sy Woord? Roem jy daarin en het jy ‘n reputasie daarvoor dat jy nie die knie buig nie, dat jy nie toegee om eerste jammer te sê en dinge reg te stel nie, dat jy nooit erken as jy verkeerd is nie?

 

Weier jy om na die goeie raad van jou geestelike leiers, ouers en ander gelowiges te luister? Sukkel jy om jou aan gesag te onderwerp?  Skop jy vas as die Here jou tugtig, sodat jy nog meer opstandig raak?  Is daar ‘n sekere sonde wat jy nie wil los nie, waaroor die Here aanhoudend met jou moet praat?  Verset jy jou teen God se weë en karakter soos dit in die Bybel beskryf word?

 

Hardkoppigheid is gevaarlik. Jy kan nie teen die Here wen nie.  As jy nie jou nek onder sy juk wil buig nie, maak jy dinge vir jouself moeilik.  In Ps.32:9 lees ons:  “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.”  Salomo sê:  “die weg van die ontroues is hard.” (Sp.13:15).

 

Die geskiedenis van Israel bewys dit (Am.4:6-13). Die Here het hulle aan hulle eie ongeloof oorgegee en hulle verhard (v.40).  En as Hy dít eers gedoen het kan jy jou nie meer bekeer nie (Sp.29:1, Heb.6:4-6).  Volgens die Bybel help dit nie eers om vir so iemand te bid nie (Jer.7:16, 11:14, 15:1, 1 Jh.5:16).  Gebruik dan die kans terwyl jy dit het:  “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb.3:15).  Leer ook vir jou kinders van die Here, sodat hulle koppe nie hard sal wees soos ‘n diamant nie (Ps.78:8).

 

Dalk steek hierdie beeld van God jou dwars in die krop; jy hou nie daarvan nie. Maar dit is nie asof God die Jode teen hulle sin doof, blind en hard gemaak het nie.  Hy het net vir hulle gegee wat hulle wou gehad het (v.37, 39-40, Rm.1:24, 26, 28).  C.S. Lewis het gesê:  ‘Sin is man’s saying to God throughout life, “Go away and leave me alone.”  Hell is God’s finally saying to man, “You may have your wish.”  It is God’s leaving man to himself, as man has chosen.’[1]

 

Vrees vir mense (v.41-43)

Van kleins af doen mense dwase en verkeerde dinge om die fronse van ander te vermy. Kinders sal stout wees, rook, dronk word, dwelms gebruik, vloek, stokkies draai (klas ‘bunk’), steel, rondslaap en enigiets onder die son doen om ‘in’ te wees.  Groot mense ook.

 

Dit kan so erg raak dat mense van Jesus af wegbly, omdat hulle nie soos ‘n seer duim wil uitstaan nie. In die proses verbeur hulle die ewige lewe.  Dit is wat in v.42-43 aan die gang is.

 

Hoekom het Jesaja sulke harde woorde vir die volk gesê? Hy het die verhewe Christus se heerlikheid gesien (v.41, Jes.6:1).  Anders as die Fariseërs in v.42 het Hy God meer gevrees as mense, en daarom kon hy nie anders as om te sê wat God vir hom gesê het nie.  Sy visioen van Christus se heerlikheid het hom laat besef hoe walglik sy eie en die volk se sonde is (Jes.6:5).  Hy het Christus se heerlikheid gesien (v.41), maar die volk het dit gemis (v.37).

 

Daar was egter ‘n aantal van die leiers wat in Hom geglo het (v.42, 3:2, 7:50-51, 9:16, 19:38-39). Tog het hulle dit nie openlik bely nie, omdat hulle bang was om uit die sinagoge – en gevolglik ook uit die samelewing – verban te word (v.42, 7:13, 9:22).  Hulle het die goedkeuring van mense meer liefgehad as die goedkeuring van God (v.43, 5:44).  Volgens v.42-43 is ‘n geheime geloof in Jesus nie voldoende nie.

 

Om mense te vrees is nie die gevaarlikste sonde ter wêreld nie. Maar dit kan daartoe lei dat jy die gevaarlikste sonde pleeg.  Iemand wat ‘n obsessie met ander mense se goedkeuring het, sal enigiets doen om hulle tevrede te stel.  As dit populêr is om in Jesus te glo en kerk toe te gaan sal hy dit doen.  Maar sodra dit weer onpopulêr raak sal hy dit dadelik los.  Sy hart was dus nie in die saak nie.

 

Is dit nie die geval met die meeste Afrikaners nie? In die ou dae was ons ‘n kerkgaande nasie en ‘n ‘Christelike’ volk.  Maar omdat dit nie meer populêr is nie, is ons ‘Christelikheid’ by die venster uit en het die kerke leeggeloop.  Waar staan jy?  Is jy bang om bekend te maak dat jy ‘n Christen is?  Is jy ‘n ‘FBI Christen’ wat in die geheim glo?  Sal jy die trein na die hemel toe mis, omdat jy bang is mense hou nie van jou as jy in Jesus glo nie?

 

Oordeel (v.44-50)

My broer het ‘n dwelmverslaafde in sy huis ingeneem. Die man het ‘n paar keer opgemors.  My broer het hom gewaarsku om nie met sy verkeerde lewe aan te hou nie.  Uiteindelik het hy die streep getrek en vir hom gesê:  ‘As ek jou weer met dwelms vang, gaan ek jou uit die huis uitsit.’  Die man het hom nie ernstig opgeneem nie.  My broer het hom gevang en vir hom gesê hy moet sy goed pak en loop.  Die man kon nie sê dat hy hom nie ‘n kans gegee het nie.

 

God was nie ongeduldig of haastig om die volk se oë te verblind en hulle harte te verhard nie. Hy was vir duisende jare geduldig met hulle, en het in v.44 vir hulle nóg ‘n kans gegee.  Jesus se harde uitroep van liefde (v.44) staan in kontras met die leiers se geheime geloof (v.42-43).  Dié wat in Hom geglo en Hom gesien het, het ook in die Vader geglo en Hóm gesien (v.44-45, 10:30, 14:9).  As hulle dan vir Jesus verwerp het, het hulle ook die Vader verwerp.

 

Volgens die Ou Testament is God en die Messias die lig (Ps.27:1, 36:10, Jes.60:19, 9:1, 42:6-7, 49:6, 60:1-3). Jesus was hierdie lig wat in die wêreld ingekom het (v.46, 1:4-5, 9, 8:12).  Dié wat in Hom geglo het, sou nie in die duisternis van hulle sonde en valsheid gebly het nie (v.46, 35-36a).

 

Iemand wat Jesus se woorde gehoor het maar nie gedoen het nie, sou nie dadelik geoordeel word nie (v.47). Jesus se eerste koms was ‘n tyd om gered te word en nie om geoordeel te word nie (v.47, 3:17, 4:42).  Dié wat Hom egter verwerp het, het vir hulleself ‘n lat gepluk en hulleself verdoem (3:18).  By Jesus se tweede koms sal sy woorde hulle oordeel (v.48).  Soos simbale in ‘n leë vertrek sal dit in hulle harte en gewetens weergalm:

 

‘Uit my wet het jy geweet dat Ek die ware God is, en dat Ek nie jou selfsugtige lewe van sonde goedkeur nie (5:45). Ek het my Seun met die evangelie van verlossing en vergifnis na jou toe gestuur.  Hoekom het jy nie geluister nie?  Nou gaan Ek jou oordeel.’

 

Jesus se woorde het direk van God af gekom (v.49). Sy wonderwerke het dit bevestig, en daarom het die ongelowige Jode geen verskoning gehad nie.  God se gebod was nie ‘n demper op hulle vreugde nie, maar ‘n bevel dat almal wat in sy Seun glo die ewige lewe moet hê (v.50).  Dit is wat Jesus vir hulle gesê het, maar hulle wou dit nie gehad het nie.

 

Baie mense het ‘n harde beeld van God, asof Hy altyd kwaad is en net wil straf. Maar in hierdie verse sien ons dat Jesus ‘n presiese kopie van die Vader is.  Wat leer ons dan van die Vader en die Seun?  Die Seun is nie ‘n sagte Verlosser wat net liefde is nie.  In v.40 is dit wat mense se harte verhard – v.41 wys dit vir ons.  Die Vader is nie haastig om mense te oordeel nie, maar wil hê dat hulle tot bekering moet kom (v.46-47).  Dit is belangrik om hierdie balans in die Vader en die Seun te sien.

 

Het jy al ooit gedink: ‘Die Here wil my nie red nie… Hy wil nie hê so-en-so moet tot bekering kom nie’?  As ek na Jh.12 kyk, dan lyk dit vir my of dit die sondaar is wat hom nie wil bekeer nie, en dat die Here t.s.v. sy hardkoppigheid ingryp en hom verander (soos in die geval van Paulus).  Die Here is absoluut gewillig om sondaars te red.  Laat dit jou dan aanspoor om na Hom toe te kom.  Laat dit jou dryf om die evangelie met ongelowiges te deel en vir hulle redding te bid.

 

As dié wat in die Seun glo automaties ook in die Vader glo (v.44-45), dan leer ons dat dié wat in God glo maar nie in Jesus nie, hulleself bedrieg omdat ons net deur Hóm na die Vader toe kan kom (14:6). Hy alleen is die lig wat ons kan help om uit die donker uit te kom (v.46).

 

Leer ook uit hierdie verse om nie verkeerd te reageer op God se geduld nie. God hou nie sy oordeel terug, sodat jy in jou sonde kan aanhou nie, maar sodat jy jou kan bekeer en gered kan word (v.47, Rm.2:4, 2 Pt.3:9, 15).  Moenie dink jy kan vir ewig met jou sonde speel nie.  As Jesus kom kan jy nie vir Hom sê:  ‘Ek het nie genoeg tyd gehad nie.’  Gebruik die kans wat Hy vir jou gee.

 

Phillip drink homself dronk by ‘n kroeg. Hy klim in sy kar en ry huistoe.  Naby sy huis staan daar ‘n kind langs die pad.  Hy verloor beheer van die voertuig en ry die kind dood.  Hy weet dat hy volgens die wet aangekla gaan word vir moord.

 

Sal die hof dit aanvaar as hy vir die magistraat sê: ‘As gevolg van die drank in my liggaam was ek nie instaat om die kar op die pad te hou nie, en daarom kan julle my nie verantwoordelik hou nie’?  Nee, want hy moes in die eerste plek nie dronk gewees het nie.

 

Net so verskoon die sondaar se geestelike blindheid en onvermoeë om die evangelie te glo (Ef.2:1) nie sy verantwoordelikheid voor God nie. God het die sleutel van geloof in sy sak gebêre (Dt.29:2-4, Ef.2:8, Fil.1:29).  Bid dat Hy dit sal uithaal om jou en jou geliefdes se harte oop te sluit.

 

[1] C.S. Lewis, The Problem of Pain, p.28 aangehaal in Millard J. Erickson, Christian Theology, p.1240

Advertisements