Vyf redes vir Jesus se kruisdood

why-did-jesus-die

Toe Mel Gibson se Passion of the Christ uitgekom het, het John Piper ‘n boek geskryf met die titel:  ‘The Passion of Jesus Christ’.  Die subtitel was:  ‘Fifty Reasons why He came to die.’  Ek kan onmoontlik in een preek by soveel redes uitkom.  Maar in Jh.12:20-36a is daar ten minste vyf redes vir Jesus se kruisdood.

 

Om die wêreld te red (v.20-24, 32-33)

In die 2de eeu n.C. was daar ‘n teoloog met die naam van Origenes. Hy het in universialisme geglo, nl. dat alle mense uiteindelik gered sal word.  Vir hom was die hel nie ‘n plek van ewige straf nie, maar ‘n plek van reiniging.  As die vuur al jou sonde weggebrand het was jy gereed om hemel toe te gaan.  Dit was glad nie vir hom ‘n probleem om te sê dat Satan self tot bekering sal kom en gered sal word nie.[1]  Maar dit is nie wat Jh.12 of die res van die Bybel bedoel wanneer dit sê dat Jesus die Verlosser van die wêreld is nie.

 

Jesus was in Jerusalem vir sy laaste Paasfees (v.1, 12). Daar was nie net Jode nie, maar ook Grieke wat na die Fees toe gekom het (v.20, 1 Kon.8:41-43, Hd.8:27).  Johannes verwys dalk na Grieke wat besluit het om die Joodse geloof aan te neem en besny is.  Hulle is proseliete genoem (Mt.23:15, Hd.2:10, 13:43).  Of dalk was dit Grieke wat die God van Israel aanbid het, maar nie besny is nie.  Hulle is Godvresendes genoem (Hd.10:2, 22, 13:16).

 

‘Grieke’ word soms in die Nuwe Testament van alle nie-Jode gebruik (1 Kor.1:24). Die evangelie moes eers aan die Jode verkondig word, en daarna aan hulle (Rm.1:16).

 

Die Jode het in 8:35 gespot en gesê Jesus wil seker na die Grieke toe gaan, maar nou het die Grieke na Hóm toe gekom (v.20). Johannes se idee is om te wys dat Israel hulle Messias verwerp het, en dat die Here reeds begin het om van sy volk af weg te draai na die heidene toe (v.36b-37, Hd.13:46-48, 18:6, 28:28).  Hy sou in die toekoms weer na die Jode toe teruggekom het (Rm.11).

 

Die wêreld het inderdaad agter Hom aangeloop soos wat die Fariseërs in v.19 gesê het. Hy het immers gekom om die wêreld te red (3:16-17).  In v.21 sien ons hoe die Grieke vir Filippus van Betsaida in Galilea gevra het om hulle na Jesus toe te vat (v.21).  Hulle het hom seker gevra omdat hy ‘n Griekse naam gehad het.

 

Hy het vir Andreas gaan sê dat die Grieke vir Jesus wil sien (v.22). Andreas was sy vriend en ook een van dié wat nader aan Jesus was (Mk.3:18, 13:3, Hd.1:13).  Soos hy, het Andreas ‘n Griekse naam gehad.  Hy was ook daarvoor bekend dat hy al voorheen mense na Jesus toe gebring het (1:41-43, 6:8-9).  Dit is dan hoekom Filippus na hóm toe gekom het (v.22).

 

Jesus het vir hulle gesê dat die bepaalde uur van sy verheerliking aan die kruis gekom het (v.23, Eks.12:6, Pd.3:1-2, Dn.9:24, 26, Rm.5:6, kontr. Jh.7:30, 8:20). Hy was alreeds besig om die nasies na Hom toe te trek, sodat hulle sy heerlikheid as die Verlosser van die wêreld kon sien (v.23, 20, 32).  So het Jesaja dit voorspel (Jes.66:19, Jawan = Griekeland).

 

Soos ‘n diamant geslyp moet word om te skitter, moes Jesus gesterf het om verheerlik te word (v.23-24). ‘n Koringkorrel moet in die grond val en begrawe word om te vermeerder (v.24), en so moes Jesus aan die kruis gesterf het en begrawe word om miljoene mense te red (v.24, Op.7:9, Mt.8:11, 20:28, Gal.4:27, Jes.53:10-11).

 

Iemand wat aan ‘n stuk hout gehang het is deur God vervloek (Dt.21:22-23). Om te keer dat God ons in die hel vervloek het, het Jesus die vloek op Homself geneem aan die kruis (Gal.3:13).  Juis daarom is Hy nie gestenig nie, maar gekruisig (v.32-33, 18:31-32).  Om die eerste Adam se val om te keer moes die tweede Adam opgelig word aan ‘n kruis (v.32, 3:14, 8:28).  Om hemel en aarde met mekaar te versoen, moes Jesus tussen hemel en aarde aan ‘n kruis hang.

 

Wanneer ons sê dat Jesus die Verlosser van die wêreld is, is dit belangrik dat ons weet wat ons daarmee bedoel.  Ons moenie te min of te veel bedoel nie.  ‘Wêreld’ beteken nie dat almal uiteindelik gered sal word nie.  Dit verwys ook nie noodwendig na elke individu op aarde nie.

 

In die konteks van Jh.12 beteken ‘wêreld’ dat Jesus baie mense sal red (v.19, 24), net soos wat ons sê dat die hele wêreld Saterdag op Loftus was.  ‘Wêreld’ beteken ook dat Jesus nie net gekom het om Jode te red nie, maar mense uit alle nasies (v.32, 20, 10:16, 11:51-52, 1 Jh.2:2, Op.5:9).  Dit beteken ook dat Hy gekom het om die sondige mensdom te red (3:16-17, 19, 2 Kor.5:19).

 

Vir wie is hierdie verlossing? Volgens v.32 is dit vir alle mense.  Wat bedoel Johannes daarmee?  Hy bedoel nie dat elke mens op aarde na Jesus toe sal kom nie.  Jesus se verlossing is vir mense uit alle nasies wat in Hom glo (3:16).  1 Tm.4:10 sê dat Jesus “die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo.” (NAV).

 

Hoe kan iemand wat Hom verwerp en sy sonde liefhet sê: ‘Jesus is my Verlosser’?  Hoe kan iemand aan sy sonde vashou, doodgaan, in die hel beland en van daar af sê:  ‘Jesus is my Verlosser’?  Dan is Jesus mos ‘n Verlosser wat nie verlos nie, nie waar nie?

 

Op ‘n meer positiewe noot kan ons sê dat Jesus niemand op grond van die uiterlike wegwys of uitsluit nie. Alle mense is welkom om na Hom toe te kom (v.32).  Niemand wat in Hom wil glo sal verwerp word nie (6:37, 40).  Ons kan dan nie net die evangelie met sekere mense deel nie.

 

Ons kan ook nie sê dat sekere groepe nie waardig is om gered te word nie (soos mense wat sê dat swart mense nie siele het nie en dat hulle nie gered kan word nie). Volgens v.32 kan engiemand na Jesus toe kom en in Hom glo:  Arabiere en Chinese, Nigeriërs en Spanjaarde.

 

Het jy al na Jesus toe gekom? Is jy soos die Grieke wat Hom graag wil sien (v.20-21)?  Jy sal nie jou nood vir Jesus en sy kruisdood sien, totdat jy nie jou sonde sien nie.  En jy sal nie jou sonde sien, solank as wat jy jouself meet teen dié wat erger is as jy nie.

 

Om jou sonde te sien moet jy jouself teen God se standaard meet. Vir Hom is bitterheid gelyk aan moord en wellus aan egbreuk (Mt.5:21-30).  Volgens sy standaard moet jy volmaak wees (Mt.5:48).  Besef dan dat Jesus, sy geregtigheid en sy dood aan die kruis jou enigste hoop is om gered te word.  Sodra jy dít sien sal die gekruisigde Jesus vir jou aantreklik wees en jou soos ‘n magneet aantrek (v.32).

 

Om ‘n voorbeeld te stel (v.25-26)

As evangeliese Christene glo ons dat Jesus die straf vir ons sonde op Homself geneem het aan die kruis (Jes.53:4-6). Liberale teoloë haat dit.  Een liberale teoloog het gesê dat dit ‘cosmic child abuse’ is dat die Vader sy Seun in ons plek gestraf het.

 

Volgens die liberales het Jesus eintlik maar net gesterf om ‘n goeie voorbeeld van opoffering te stel. Die feit dat ons dit ontken beteken nie dat Jesus glad nie gesterf het om vir ons ‘n voorbeeld te stel nie (v.25-26).

 

Jesus het sy lewe vir ons gegee, en daarom moet ons ook bereid wees om ons lewens vir Hom op te offer. As jy Hom nie bo alles liefhet sodat jy jou lewe vir Hom sal gee nie, sal jy dit verloor (v.25).  Jy sal wel die wêreld se plesiere hê, maar as jy doodgaan sal jy vir ewig hel toe gaan.  As jy egter jou ou sondige lewe haat en na Jesus toe kom, sal jy vir ewig hemel toe gaan as jy sterf (v.26).

 

Om ‘n Christen te wees is nie maanskyn en rose nie. As jy vir Jesus wil volg moet jy haat wat jy in jou hart sien, jou daarvan bekeer en vir Jesus meer liefhê as wat jy jou familie, jou beste vriende en jou eie lewe liefhet (v.25, Lk.9:23, 14:26, 33).

 

Jy sal waarskynlik nie vir die geloof hoef te sterf as jy in Suid-Afrika bly nie. Maar as die Here jou roep moet jy bereid wees om in Noord-Korea die evangelie te preek.  Jy moet bereid wees om gespot en mishandel te word vir Jesus.

 

Jesus stel nie belang dat jy net ‘n mooi gebedjie opsê en ‘jou hart vir Hom gee’ nie. Hy wil hê jy moet Hom bo alles liefhê, die koste bereken en die prys betaal.  Dien Hom met alles wat jy het (v.26).  Moet Hom nie net volg as dit vir jou gerieflik is nie, maar volg ook in sy voetspore as dit na die kruis toe lei (v.26).  Wees waar Hy is; dan sal die Vader jou eer en beloon (v.26).

 

Om die Vader te verheerlik (v.27-30)

Jesus was nie ontsteld omdat Hy bang was om dood te gaan nie, maar omdat die Vader se oordeel oor ons sonde soos rotse op Hóm sou val (v.27). As Hy kon, sou Hy vir die Vader gevra het om Hom hiervan te spaar (v.27, Mt.26:39, 42, 44, Mk.14:35).  Hy het egter geweet dat Hy vir hierdie oomblik aarde toe gekom het (v.27), en daarom het Hy gebid:  “nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Mt.26:39).

 

Wanneer ons siek is of deur moeilike tye gaan, is ons eerste gebed dat die Here dit moet wegvat. Jesus verstaan dit, omdat Hy self ‘n mens was.  En tog was dit nie sý prioriteit nie.  Vir Hom was dit belangriker dat die Vader se Naam deur sy dood verheerlik moes word (v.27-28).  Dan sou almal gesien het dat die Vader heilig is en sonde haat, dat Hy regverdig is en dit nie ligtelik oorsien nie, dat Hy almagtig, goed, liefdevol, barmhartig en genadig is om ons te vergewe.

 

Toe Jesus klaar gebid het, het die Vader uit die hemel gesê: ‘Ek het dit in jou wonderwerke en lewe verheerlik (1:14, 2:11, 9:3, 11:4, 40), en Ek sal dit weer in jou kruisdood, opstanding, hemelvaart en wederkoms verheerlik’ (v.28, 23, 17:1, 24, Ps.24:7-10, 2 Ts.1:10, 12).  Die stem uit die hemel moes eintlik vir die Jode gewys het dat Jesus die Seun van God is (v.30).  Maar selfs na sy wonderwerke, asook ‘n hoorbare stem uit die hemel, het hulle gesê dat dit donderweer of ‘n engel was (v.29, 37).

 

Soms dink ons: ‘As die Here net ‘n wonderwerk wil doen of met ‘n hoorbare stem uit die hemel wil praat, sal mense in Hom glo.’  Maar dit is nie so nie.  As skeptiese mense dit sien en hoor, sal hulle sê dit was oë verblindery of donderweer; godsdienstige en bygelowige mense sal sê dit was ‘n demoon of ‘n engel (v.29).

 

Wonderwerke en stemme uit die hemel kan nie iemand red nie (Ps.78:32). Net die Heilige Gees kan iemand se hart oopmaak om die evangelie te verstaan (Hd.16:14).  Die evangelie van Jesus en nie wonderwerke nie, is die krag van God om mense tot bekering te bring (1 Kor.1:18).

 

Kerke vir wie dit oor genesing en wonderwerke gaan slaan die bal mis. Waar is die evangelie?  Waar is die predikers en Christene wat nie van een huwelikseminaar en genesingsdiens na die volgende toe spring nie, maar wat vreesloos sal opstaan en sê:  “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rm.1:16)?

 

Om die vyand te oorwin (v.31)

Waar in die Bybel vind ons die heel eerste voorspelling van Jesus se kruisdood? In Gn.3:15.  Die heel eerste belofte oor die kruis het nie oor vergifnis gegaan nie, maar oor God se oordeel oor Satan:  “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.  Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”

 

Aan die kruis het dit gelyk of die wêreld en die duiwel vir Jesus oorwin het. Maar die waarheid is dat Jesus die vyand deur sy kruisdood oorwin het (v.31).  Die kruis was die hof waar Jesus die wêreld en haar bose leier ter dood veroordeel het (v.31, 16:33, Kol.2:15).  Wanneer Hy die wêreld tot ‘n einde bring sal Hy sy besluit deurvoer.

 

Die hele wêreld lê soos ‘n baba in die duiwel se skoot en slaap (1 Jh.5:19). Hy verblind hulle en maak seker dat hulle soos zombies agter hom aanloop (1 Kor.4:4, Ef.2:2).  Maar deur die kruis het Jesus sy bose werke verbreek (1 Jh.3:8).  Hy het die sterk man vasgebind en is besig om sy huis te plunder (Mt.12:29).  Satan moet sit en toekyk hoe God mense deur geloof in Jesus regverdig verklaar.  Hy kan hulle nie meer aankla soos wat Hy met Job en Josua die hoëpriester gedoen het nie (Rm.8:33, Op.12:10, Job 1:6-12, 2:1-7, Sg.3:1).

 

Om te wys wie Hy is (v.34-36a)

In die begin jare van my bediening het ek baie na John Piper geluister. In 2007 het wyle dr. Martin Holdt Amerika besoek en saam met John Piper aan ‘n tafel gesit.  ‘Hoe is hy?’ het ek vir dr. Martin gevra.  ‘Ag, gewoon soos ek en jy,’ het hy geantwoord.

 

En dit is presies hoe Jesus was. Hy het nie anders as ons gelyk nie.  En juis daarom het die Jode nie verstaan hoe Hý die Messias kon wees nie – veral nie toe Hy vir hulle gesê het dat Hy aan ‘n kruis moes sterf nie.

 

Die skare het al hierdie dinge gehoor en gesê: ‘Ons het uit die wet gehoor dat die Messias vir ewig sal wees’ (v.34).  Hulle was reg.  Die Ou Testament hét dit gesê (2 Sm.7:13, Ps.45:7, 72:7, 17, 102:28, 110:4, Jes.9:6, 53:10, Dn.2:44, 7:14).

 

Maar God het ook in Jes.52-53 gesê dat sy Seun aan ‘n kruis verhoog moes word. Dít het die skare nie verstaan nie (v.34, Mt.16:21-22).  Hulle was nou nie eers meer seker wie en wat die Seun van die mens werklik was nie (v.34).  Was Hy die Messias?

 

As hulle in die lig van God se openbaring geglo het, sou hulle geweet het dat Jesus die Messias en die Seun van die mens is (v.34-36). Terwyl Jesus nog by hulle was moes hulle in sy lig geglo het en daarin gewandel het (v.35-36, 8:12).  As hulle dít gedoen het, sou hulle self sy lig weerkaats het soos wat die maan die son se lig weerkaats (v.36a, Mt.5:16, Ef.5:8, 1 Ts.5:5).  As hulle dit nie gedoen het nie, sou die duisternis van hulle sonde hulle oorweldig het (v.35, Jer.13:16).

 

Wees tevrede met ‘n gekruisigde Messias en moenie ‘n ander een soek nie. Vandag klink baie mense se getuienis van redding so:  ‘Ek weet Jesus is my Verlosser omdat Hy my gehelp het toe my kind siek was en toe ek nie ‘n werk gehad het nie.  Hy is elke dag by my en help my met my probleme.  Hy het ook vir my ‘n nuwe kar gegee.’

 

Maar waar is die gekruisigde Jesus wat mense van hulle sonde red en wat vir hulle die ewige lewe gee? Ongelowiges kan ook ‘n nuwe kar en ‘n werk kry.  Om regtig te weet wie Jesus is moet jy na die kruis toe kom.  Dit help nie net jy staan op ‘n afstand en kyk nie.  Jy moet nader kom en in bekering en geloof na Hom toe uitroep.  Dán sal jy met sekerheid weet dat Hy die Verlosser is; dat Hy jóú Verlosser is.

 

‘n Paar jaar gelede het ek gehoor ‘n iemand in ‘n preek sê: ‘Die moderne kerk is verkeerd om te sê dat Jesus gesterf het om ons sondes te vergewe.  Die ware rede hoekom Hy gesterf het was sodat God ons as sy kinders kon aanneem.’

 

Dit is ‘n groot oordrywing, want volgens Jh.12 alleen is daar byna ‘n halfdosyn redes vir Jesus se kruisdood. Wat nog te praat van die res van die Bybel?  Die beste nuus van alles is dat dit God verheerlik en ons bevoordeel.  Maak dit jou nie dankbaar nie?

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.123