Prente van genade en oordeel

angel-blowing-trumpet

Nie baie mense hou van dorings nie; dit kan ‘n mens seermaak. En tog groei daar pragtige en geurige blomme soos rose tussen dorings.  Op dieselfde manier groei daar dikwels rose van genade en liefde tussen die dorings van God se oordeel.  Op.8:1-13 illustreer dit vir ons.

 

Wat het in die hemel gebeur? (v.1-6)

In die 8ste eeu het Charles Martel van Frankryk ‘n militêre posisie geskep om hom teen Spanje se gevreesde Moslem weermag te beskerm. Hy het sy soldate ridders of ‘knights’ genoem.  In die 11de eeu moes hierdie ridders die kerk en die samelewing beskerm het.  Die ridder moes ‘n sekere gedragskode gevolg het en ook sy lojaliteit aan Christus gesweer het.  Gevolglik het die Westelike Katolieke hierdie ridders as geestelike figure begin beskou.[1]

 

Net so het ons in Op.8 ook ‘n vermenging van geestelike werk en oorlog. Soos wat die hoofstuk ontvou sal dit duidelik word.

 

[1] Daar was ‘n halfuur stilte (v.1)

Die Lam het nogsteeds die boekrol-testament in sy hand gehad en nou die sewende en laaste seël oopgemaak (v.1).[2]  Toe Hy dit klaar gedoen het was daar vir omtrent ‘n halfuur stilte in die hemel; jy kon ‘n speld hoor val (v.1).  Die stilte staan in kontras met die lofgesange van 7:10 en die harde geroep van die martelare in 6:10.  Die martelare is stil omdat God hulle gebede in v.3-5 gaan beantwoord.  Vers 1 is dan die stilte voor die storm van God se oordeel; die stilte van ‘n hemel in afwagting (Hab.2:20, Sg.2:13).

 

[2] Die sewe engele het trompette ontvang (v.2)

Hulle het voor God gestaan, gereed om sy bevele uit te voer (v.2, Lk.1:19, Ps.103:20-21, Mt.18:10). Hulle het sewe trompette ontvang om God se oorlog teen sy vyande aan te kondig (Nm.10:9, Jer.4:19, Joël 2:1), asook om te sê dat Hy die ware Koning is (11:15, 1 Kon.1:39, Ps.47:6-7).

 

[3] ‘n Engel het wierook geoffer en kole op die aarde gegooi (v.3-5)

In die tabernakel was daar ‘n goue altaar waarop die hoëpriester wierook geoffer het (Eks.30:1-10). Die wierook was simbolies van die volk se gebede wat ‘n geurige offer vir die Here moes wees (Ps.141:2, Sp.15:8).  In v.3 sien ons hoe die engel wierook ontvang het om saam met die gebede van die heiliges te offer (5:8).  Dit het uit sy hand in ‘n rookwolk voor die Here opgestyg (v.4).

 

Dwarsdeur die Ou- en Nuwe Testamente het die vervolgde heiliges gebid vir geregtigheid teen die Jode wat hulle vervolg het (6:10, Gn.4:10, 2 Kron.24:22, 2 Tm.4:14, baie van die Psalms). God sou nou daardie gebede in die verwoesting van Jerusalem en die tempel beantwoord het (v.5, 16:5-7, 18:20, 24, 19:2, Lk.11:49-51, 1 Ts.2:14-16, Dt.32:43).

 

Die engel het gloeiende kole van die altaar af gevat, die wierook bak daarmee volgemaak en die vuur van God se oordeel op die aarde gegooi (v.5, vgl. Dt.13:12-18). Daar was weerlig, donderweer en ‘n aardbewing (v.5).  Dit het gebeur toe die Romeine Jerusalem in 70 n.C. omsingel het.  Josefus beskryf dit soos volg:

 

“there broke out a prodigious [Afr. geweldige] storm in the night, with the utmost violence, and very strong winds, with the largest showers of rain, with continued lightnings, terrible thunderings, and amazing concussions and bellowings of the earth, that was in an earthquake.”[3]  Is dit nie wat in v.5 beskryf word nie?

 

[4] Die sewe engele het op hulle trompette geblaas (v.6)

Toe Israel teen Jerigo baklei het, was hulle vir sewe dae stil (Jos.6:10). Daarna het sewe priesters op hulle trompette geblaas (Jos.6:4).  En voordat God vir Jerusalem geoordeel het was daar stilte (v.1).  Daarna het sewe engele op hulle trompette geblaas om die sewevoudige of volmaakte oordele van God aan te kondig (v.6, Lv.26:18, 21, 24, 28, Ps.79:12).

 

Wat het op die aarde gebeur? (v.7-13)

Origenes was ‘n teoloog wat in die tweede en derde eeu n.C. gelewe het. Hy het gesê dat ons die Bybel op drie vlakke moet interpreteer:  letterlik, moreel en geestelik.  Vir hom was die geestelike of dieper betekenis die belangrikste.[4]

 

Mense wat die Bybel só interpreteer, sê bv. dat Jerigo se mure sonde voorstel, terwyl Ragab se rooi tou ‘n simbool van Jesus se bloed is. Maar wat as iemand anders sê dat die mure Satan voorstel, en die rooi tou versoeking?

 

Om die Bybel so te interpreteer is gevaarlik. Ons kan dit slegs doen as die literatuursoort, konteks of parallele tekste dit toelaat.  As ons bv. Op.8 met die res van die Skrif vergelyk sien ons dat die dinge wat hier beskryf word letterlike en simboliese elemente het.  Jy sal binnekort sien wat ek bedoel.

 

[1] Vuur en hael (v.7)

Toe die eerste engel op sy trompet geblaas het was daar hael en vuur soos toe die sewende plaag Egipte getref het (v.7, 16:21, Eks.9:23-24). Die hael en vuur is ook simbolies van God se oordeel, soos wat Ps.18:13-14, Jes.30:30-31, Esg.13:11, 13, 38:22 duidelik wys.  Die hael en vuur was gemeng met bloed (v.7).  Die Jode het die martelare se bloed vergiet, en nou sou hulle bloed vergiet word (16:6).

 

‘n Derde van die aarde of land [Gk. ] en sy bome het afgebrand, asook al die groen gras (v.7).  Die Romeine se ‘scorched earth’ metode van oorlogvoering het dit meegebring.  Josefus sê dat die Romeine die bome afgekap het, sodat die pragtige bosse en parke van Judea soos ‘n woestyn gelyk het.[5]  Wat is die simboliese betekenis hiervan?  Soos wat vuur ‘n bloekombos verteer, sou die Here Jerusalem verteer het (vgl. Jes.10:16-18, 2:13, Heb.12:29).

 

[2] ‘n Brandende berg (v.8-9)

Toe die tweede engel sy trompet geblaas het, is iets soos ‘n groot brandende berg in die see gegooi, en het ‘n derde van die see bloed geword (v.8). ‘n Derde van die seediere en skepe het ook tot niet gegaan (v.9).  Weereens beskryf Josefus vir ons wat gebeur het.

 

Die Romeine het baie van die Jode tot by die See van Galilea gejaag om hulle daar dood te maak. Hulle het in see gespring en probeer om weg te swem.  Die Romeine het hulle in bote agterna gesit.  Sommige van die Jode het verdrink; ander is met pyle doodgeskiet.  Party was desperaat en het na die Romeine se bote toe geswem.  Hulle koppe of hande is afgekap.  Dié wat tot by die kant kon swem is dáár doodgemaak.  Josefus sê:

 

‘the lake [was] all bloody, and full of dead bodies, for not one of them escaped… a very sad sight there was on the following days over that country; for as for the shores, they were full of shipwrecks, and of dead bodies all swelled; and as the dead bodies were inflamed by the sun, and putrefied, they corrupted the air…’[6]

 

Hy vertel ook hoe ander Jode na Joppe teen die Middellandse See toe gevlug het. Hulle het naby Sirië, Finisië en Egipte gevaar en in seerowers verander.  Hulle het almal gekeer wat daar wou vaar.  Toe keiser Vespasianus hiervan te hore gekom het, het hy sy soldate na Joppe toe gestuur.  Die Jode was op hulle skepe, te ver van die Romeine se pyle af.

 

Skielik het die geweldige ‘swart noorde wind’ op die see gewaai en die Jode se skepe teen mekaar en teen die rotse stukkend geslaan. Sommige het verdrink en ander het hulleself met hulle eie swaarde doodgemaak.  Josefus sê:

 

‘the sea was bloody a long way, and the maritime parts [Afr. kusgedeeltes] were full of dead bodies; for the Romans came upon those that were carried to the shore, and destroyed them; and the number of the bodies that were thus thrown out of the sea was four thousand and two hundred’.[7]

 

In v.8-9 beskryf Johannes hierdie see vol bloed en bote [Gk. ploion, Lk.5:3] wat vernietig is.  Maar wat van die brandende berg wat in die see gegooi word?  Die teks praat van iets soos ‘n brandende berg (v.8).  Die Bybel verwys soms na Jerusalem as die heilige berg (Jes.66:20).  Omdat dié berg haarself in hoogmoed teen die Here verhef het (Jes.2:11-12, 17), het Hy die Romeine gestuur om haar af te brand.  Soos wat ‘n gebrande berg onder die see verdwyn het Jerusalem se vyande haar ingesluk (v.8, vgl. 18:21, Jer.51:24-25, 42).

 

[3] Bitterals (v.10-11)

Toe die derde engel sy trompet geblaas het, het ‘n groot ster genaamd Bitterals soos ‘n vlammende vakkel uit die hemel geval en ‘n derde van die land [Gk. ] se drinkwater bitter gemaak (v.10).  In die konteks verwys die ster na ‘n engel wat uit die hemel geval het (9:1).  Jes.14:12-14 praat van Satan as die môrester en beskryf hoe hy agter die koning van Babilon gestaan het.  God het hom uit die hemel geskop (12:4, Lk.10:18).  Op.8 maak melding van sy val.  Soos hy, het die hoogmoedige Jerusalem ook tot ‘n val gekom (vgl. 1 Tm.3:6).

 

Hoekom is die ster se naam Bitterals (v.11)? Die Griekse woord [apsinthos] beskryf die bitter sap van verskillende soorte struike.  Dit maak enige water ondrinkbaar en dodelik (v.10-11, Eks.15:23, 2 Kon.2:19-22, Fausset’s Bible Dictionary, inskrywing onder wormwood).  Die Jode se lyke het in hope in die See van Galilea en die ook die Jordaan rivier gelê.  Dit het die water dodelik en ondrinkbaar gemaak.[8]  In Dt.29:18-19, Jer.9:13-15, 23:15 is die bitter water ook simbolies van Israel se hardkoppigheid en God se oordeel.  Satan of Bitterals het die volk aangehits om teen die Here te sondig.

 

[4] Duisternis (v.12)

Toe die vierde engel sy trompet geblaas het, het ‘n derde van die son, die maan en die sterre se lig gekwyn (v.12). Die rook wat uit Jerusalem opgestyg het, het dit veroorsaak (vgl. 9:2).  Johannes se punt is ook dat God se guns nie meer oor Israel geskyn het nie, maar dat sy oordeel oor hulle gekom het (6:12-13, Jes.13:10, Esg.32:7-8, Joël 2:2, 10, 31, 3:15, Am.8:9, Sef.1:15, Lk.21:6-7, 20, 25).

 

[5] ‘n Arend wat roep (v.13)

Die Ou Vertaling sê dat dit ‘n engel was, maar die beste Griekse manuskripte sê dat dit ‘n arend of ‘n aasvoël was [Gk. aetos].  Toe Jesus van die verwoesting van die tempel gepraat het, het hy gesê dat die arende of aasvoëls om die karkas sal saamdrom (Mt.24:28).  Die Romeine was die arende wat gekom het om die verrotte karkas van Jerusalem kaal te vreet (Dt.28:49, 26, Hab.1:8, Hos.1:8).  Dit is nie toevallig dat die Romeine ‘n arend as hulle embleem gehad het nie.  Die arend het uitgeroep dat die oordele wat oppad was verskriklik sou wees (v.13).

 

En tog was daar nogsteeds genade in God se oordeel (Hab.3:2). Hy sou net ‘n derde van die land, bome, seediere, skepe, drinkwater, son, maan en sterre getref het (v.7-12) – daar was nog tyd vir die volk om hulle te bekeer.  As hulle dit nie gou gedoen het nie, sou Hy die land en sy inwoners met ‘n totale oordeel getref het (hfst.16).

 

Die Here is genadig in sy oordele. “Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.  Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.” (Klg.3:31-33).  “For his anger is but for a moment, and his favor is for a lifetime.  Weeping may tarry for the night, but joy comes with the morning.” (Ps.30:5, ESV).

 

“Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.  Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.  Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.  So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.  Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.” (Ps.103:8-13).

 

Sien God se oordeel in die droogte, maar sien ook sy genade in die reën. Sien sy oordeel in ‘n korrupte regering, maar sien ook sy genade in die feit dat misdadigers nog gestraf word.  Sien sy oordeel in rebelse kinders en tieners wat skole en universiteite afbrand, maar sien ook sy genade in die goeie skole wat nog bestaan.

 

Sien sy oordeel in die sondes waaraan Hy Suid-Afrika oorgegee het, maar sien ook sy genade in die vryheid wat ons het om Hom te dien. Sien sy oordeel in alles wat duurder word, maar sien ook sy genade daarin dat jy werk het, geld verdien en kos het om te eet.

 

Laat ons sy genade omhels en ons bekeer. Laat sy oordele ons aan die skouers gryp en wakker skud.  Ons kan nie in ons sonde aanhou nie – die finale oordeel is oppad.  Ons weet nie wanneer die engel vir ‘n laaste keer die trompet gaan blaas (v.6, 1 Ts.4:16), sodat Jesus in stormwolke kom om die wêreld te oordeel nie.  Ons weet nie wanneer Hy gaan terugkeer om sy vyande in die onblusbare vuur van sy oordeel te gooi nie (v.7, Mt.25:41).

 

Jy weet nie wanneer die dag van jou dood aanbreek en jy dalk vir ewig die bitter beker van God se oordeel sal moet drink nie (v.11, 14:10). Jy weet ook nie hoe vinnig jou liggie besig is om te kwyn nie (v.12).  Wanneer sal die son vir ‘n laaste keer opkom?  Moenie jou lewe mors nie.  Jy wil nie hê dat son van God se guns oor jou moet sak, sodat jy vir ewig in die duisternis van die hel is nie (v.12, Mt.25:30).

 

Hoe kan jy van hierdie lot ontsnap? Kom deur geloof na Golgota toe waar God se genade en oordeel mekaar ontmoet.  Aan die kruis het Jesus se gebed vir sondaars soos geurige wierook voor die Vader opgestyg (v.3):  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lk.23:34).

 

Aan die kruis het die kole en die storm van God se oordeel oor sondaars op Hóm geval (v.5, 7, Jes.53:4-6, 10, Mt.27:46, 2 Kor.5:21, Gal.3:13). Aan die kruis was daar ‘n see van bloed, en was dit nie nodig vir ons bloed om te vloei nie (v.8).  Aan die kruis het Hý die bitter beker van God se oordeel gedrink, sodat ons die soet beker van sy verlossing kan drink (v.11, Jh.18:11, Mt.26:27-28).  Aan die kruis het die duisternis van God se toorn oor sondaars op Hom gekom, sodat die lig van sy genade nou oor ons kan skyn (v.12, Mt.27:45-46).

 

Aan die kruis het God nie maar net ‘n derde van die verdiende straf oor ons sonde op sy Seun laat neerkom nie (v.7-12). Om ons van God se verskriklike oordeel te red het Jesus die volle straf gedra (Jh.19:30, Rm.8:1).  Wat sou met ons gebeur het as Hy net bereid was ‘n derde van ons straf te dra?  So seker as wat water nat is, ons sou verdoem gewees het.

 

Nêrens sien ons dan God se genade duideliker as in sy oordeel nie – in die oordeel wat ons verdien het, maar wat Hy op Homself geneem het aan die kruis.  Gooi jou sonde en jou eie pogings om gered te word op die ashoop van bekering, en strek die leë hand van geloof uit om God se verlossing en vergifnis te ontvang.

 

Is dit nodig dat die trompet van God se oordeel jou oordromme moet bars, of dat sy storm, vuur, hael, bloed, bitter water en duisternis jou soos ‘n gewapende rower moet oorval as Hy dit reeds vir ons gedra het?  As jy hel toe gaan is dit jou eie skuld.  Jy moet as’t ware deur Jesus se bloed swem om daar uit te kom.[9]

 

Ons kan nie maak asof God se oordeel maar net ‘n sagte motreëntjie is nie. Dit is nie.  Dis ‘n storm.  En tog moet ons nie die reënboog van sy genade miskyk nie.  As ons van ons sonde af wegdraai en hierdie reënboog tot aan die einde volg, sal ons ‘n pot goud kry.  Nee, ons sal iets beter kry – ons sal vir Jesus kry.

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, pp.149-150, 187-188

[2] As jy meer oor die sewe seëls wil verstaan kan jy gerus my preek oor Op.5 by die volgende ‘link’ lees: https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2016/08/20/waaroor-gaan-openbaring-regtig/

[3] The Wars of the Jews, Book IV, 4:5

[4] Needham, Ibid, Part 1, pp.121-122

[5] Wars, Book VI, 1:1

[6] Ibid, Book III, 10:9

[7] Ibid, Book III, 9:2-3

[8] Ibid, Book IV, 7:6

[9] Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.115