‘n Gebed vir reën

‘n Bybelse reaksie op die droogte in Suid-Afrika

pray-for-rain

In die week was daar een Beeld-opskrif wat gesê het dat ons land se damme dalk eers oor 5 jaar weer sal vol wees. Die SABC Nuus-webblad sê:  ‘Die Suid-Afrikaanse Weerburo sê dat herstel ná die droogte stadig gaan wees, ten spyte van voorspellings dat daar tussen nou en Februarie ‘n bo-gemiddelde reënval oor groot dele van die land sal wees.’[1]

 

Ek ontken nie dat die droogte erg is nie. Ek weier egter om te glo dat die weerprofete se voorspellings onfeilbaar is.  As die Here wil, kan Hy binne ‘n halfuur ons land se damme volmaak.  1 Kon.18:41-46 illustreer vir ons iets van wie hierdie God is wat reën kan gee.

 

Die agtergrond

Om v.41-46 beter te verstaan sal dit help om ‘n bietjie agtergrond te hê. Onder die invloed van die bose koningin Isebel het koning Agab en die volk begin om die Baäls te aanbid (16:31-33, 21:25).  Elia het in 17:1 vir hom gesê dat daar a.g.v. sy en sy familie se bose invloed nie reën sal wees nie (v.18).  Volgens v.1 en Jk.5:17 het dit vir 3½ jaar nie gereën nie.  Maar die Here sou binnekort reën gestuur het (v.1).

 

Gedurende die droogte was Elia in die woestyn en ook in ‘n heidense land waar die Here hom deur die kraaie en ‘n weduwee versorg het (hfst.17). Nou het hy egter teruggekeer om vir Agab te sê dat die droogte verby was (v.1-16).  Toe Agab vir Elia gesien het, het hy gesê:  ‘Ja, jou molesmaker van Israel – dit is jóú skuld dat dit nie reën nie’ (v.17).  Hy het geweet dat Elia ‘n vinger in hierdie pasty gehad het (17:1, Jk.5:17).

 

Maar soos ons reeds gesien het was dit sý skuld en nie Elia s’n nie (v.18). God het die volk gestraf omdat hulle van Hom af weggedraai het om die Baäls te aanbid (v.18).  Elia het toe vir Agab uitgedaag om die volk, asook Isebel se 450 Baäl-profete en die 400 profete van Asjera op berg Karmel (in die noord-weste van Israel) bymekaar te bring (v.18-19).  Hiér is hoekom dit belangrik was:

 

Die Baäls of ‘here’ van elke geografiese gebied was veronderstel om die land vrugbaar te maak, terwyl Asjera die godin van vrugbaarheid was.[2]  Kon hierdie gode regtig reën gestuur het om die droogte te breek?  Elia wou vir Agab en die volk gewys het dat dit net die Here is wat reën kan gee.

 

Die Here wou deur Elia gewys het dat Hy vir Baäl op sy eie speelveld sal wen. ‘In the annale van die Assiriese koning, Salmaneser II (841 v.C.) is Karmel die berg van Baäl… Karmel was heilige grond wat aan Baäl gewy is.  Juis daarom het Elia gesê hulle moet hiér bymekaar kom.’[3]

 

Die eindtelling was 1-0 vir Jahwe. Baäl was ‘n dooie afgod wat aan die slaap was… of met vakansie, of in die badkamer (v.26-29).  Hy kon nie vuur uit die hemel gestuur het om die Baäl-profete se offer aan die brand te steek nie.  Die Here het egter vuur – of weerlig wat wys dat Hy later ook reën sou stuur? – uit ‘n helder blou hemel gestuur om Elia se deurweekte offer, klippe en nat hout aan die brand te steek (v.30-38).  Elia het geweet dat God binnekort reën sou stuur, en daarom het hy nie omgegee om in ‘n tyd van droogte water te mors nie.

 

Elia het toe volgens God se wet (Dt.13) die Baäl-profete doodgemaak, net soos wat Isebel in v.4 God se profete doodgemaak het (v.40).  Dieselfde mes wat die bul geslag het, het die vals profete geslag.  Elia het dit by die Kison spruit gedoen om ‘n punt te bewys:  die Baäl-profete se afgodery het die spruit laat opdroog, en nou sou hulle bloed dit gevul het.

 

Die teks

Elia vir Agab gesê om te eet en drink – om fees te vier – omdat die droogte verby was (v.41). Maar omdat die reën oppad was, moes hy nie te lank gedraai het nie (v.41).  Elia kon as’t ware die gedreun van die reën gehoor het – al was daar nog nie ‘n wolkie in die lug nie (v.41).

 

Agab het vir Elia geglo en gedoen wat hy gesê het (v.42). Wie sou nie – veral as jy nou-net gesien het hoe God vuur uit die hemel gestuur het?  Elia het weer teen die berg opgeklim om te bid (v.42).  Om sy eerbied en desperaatheid te wys het hy hom na die aarde toe gebuig en sy gesig tussen sy knieë gesit (v.42).

 

Maar hoekom het hy gebid as die Here reeds in v.1 belowe het om reën te gee? Kon hy nie maar net vir die vervulling van God se belofte gewag het nie?  Nee.  God het besluit om deur die gebede van sy kinders te werk (vgl. 8:35-36).  “Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.” (Sg.10:1).

 

Elia het vir sy dienskneg gesê om te gaan kyk of daar al ‘n teken van reën in die lug was (v.43). Duidelik het hy geglo dat die Here sy belofte van v.1 sou nakom.  Elia se dienskneg het oor die Middellandse See uitgekyk maar niks gesien nie (v.43).  Elia het nie moedeloos geword nie; hy het aangehou om te bid (v.43).  Sewe keer het hy sy dienskneg teruggestuur om te kyk of hy iets sien (v.43).

 

Die sewende keer het die dienskneg gesê dat daar ‘n klein wolkie bo die see opkom – ‘n wolk so groot soos jou hand as jy dit ‘n armlengte van jou gesig af weghou (v.44). Die Here het Elia se gebed beantwoord (Jk.5:18).  Onmiddellik het hy sy dienskneg gestuur om vir Agab te sê hy moet op sy strydwa klim en jaag voordat die reën hom vang (v.44).  Die Here was genadig om vir die bose Agab ‘n kans te gee om weg te kom.

 

Die klein wolkie het gegroei; die hemel het swart geword en die wind het gewaai; die reën het in emmers neergesak (v.45). Agab se perde het vinniger as die wind gehardloop om die 30 km na Jisreël toe af te lê (v.45, 21:1).  Deur die bonatuurlike krag van die Here het Elia nóg vinniger as Agab se perde gehardloop, sodat hy voor hom in Jisreël aangekom het (v.46).

 

Deur voor die koning uit te hardloop het Elia gewys dat hy nie teen die koning wil werk nie, maar dat hy hom wil dien en vir die Here wil wen.  Dit was immers die koning se diensknegte wat voor hom uitgehardloop het (1:5).  Agab wou egter met sy sonde aanhou, en daarom het hy die hand wat na hom toe uitgestrek was weggeklap (hfst.20-22).

 

Die toepassing

Ek twyfel nie dat die droogte in ons land God se straf vir ons sonde is nie (v.18). Suid-Afrika is immoreel en korrup.  In Dt.28:23-24 het die Here vir Israel gesê wat die gevolg sal wees as hulle Hom nie gehoorsaam nie:  “En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees.  Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.”

 

Ook in Jer.3 lees ons van Israel se sonde. Wat was die gevolg?  “En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie.” (Jer.3:3).  In Sg.14:17 sê die profeet:  “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie.”

 

Wat moet ons dan doen? Ons moet die Here dank dat Hy ons nie straf volgens wat ons verdien nie (Ps.130:3).  Die damme is nou wel leeg en daar is boere wat swaarkry.  Maar aan die ander kant het die Here ook op baie plekke reën gestuur.  In sy groot liefde het Hy dit nie net gestuur op die plase en erwe van dié wat Hom dien nie, maar ook op sy vyande se tuine, landerye en grasperke.  In Mt.5:45 het Hy Homself geopenbaar as die Een wat “laat reën op regverdiges en onregverdiges.”  Hy het sy goedheid bekend gemaak deur “van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.” (Hd.14:17).

 

Partykeer stuur die Here reën om mense te straf (soos met Noag se vloed). Maar in die afgelope paar weke het Hy dit gestuur “om sy liefde te toon” (Job 37:13, Nuwe Vertaling).  Daarom moet ons Hom prys “wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit, wat aan die vee hulle voedsel gee” (Ps.147:8-9).

 

God het die droogte gestuur omdat Hy wil hê ons moet na Hom toe draai. Ons moenie soos Israel wees nie.  In Am.4:7-8 sê die Here:  “Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.”

 

Ons moenie soos Agab wees wat lieflike reën gekry het, maar hom nie bekeer het nie. Ons kan nie maar net na die god van ons keuse, Baäl, Vishnu of Allah toe draai nie.  Ons moet na die God toe draai wat reën kan gee.  “Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak?  Of kan die hemel reënbuie gee?  Is U dit nie, o HERE onse God?  En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.” (Jer.14:22).

 

Ons moet ook nie die Here en ander gode wil dien nie:  God en Baäl, Jesus en die kroeg of die klub (Jk.4:4), Jesus en geld (Mt.6:24), Jesus en Maria, Jesus en die voorvader geeste, Jesus en evolusie (v.21, 2 Kon.17:33, 41).  Jy moet kies wie jy wil dien (v.21, Jos.24:15).  Jy moet God liefhê met jou hele menswees of glad nie (Lk.10:27, 14:26).

 

God is bereid om jou te vergewe as jy na Hom toe draai. Dit maak nie saak hoe groot jou sonde is nie.  As jy jou bekeer en in sy Seun glo, sal Hy jou vergewe.  Hy was bereid om vir Agab te vergewe – Agab wat slegter was as enige koning voor hom (16:30), wat goue kalwe, die Baäls en die Asjera’s aanbid het (v.18, 16:31-33), en wat nie omgegee het toe sy vrou die Here se profete doodgemaak het nie (v.4).

 

Sal Jesus vir sondaars sterf, maar nie bereid wees om hulle te vergewe as hulle in geloof en bekering na Hom toe draai nie? As jy op Jesus, sy kruisdood en sy opstanding vertrou, is God bereid om jou te vergewe:  al het jy ook ‘n moord gepleeg of seksueel losbandig gelewe.  Jesus Christus het in die wêreld ingekom om Paulus-kaliber sondaars te red (1 Tm.1:15).  En kan Hy jou nie vergewe nie?

 

Natuurlik moet ons onself nie bekeer sodat ons reën kan kry nie, maar sodat ons God in en met ons lewens sal verheerlik.  En tog sal Hy vir ons reën gee as ons van ons sonde af wegdraai en gehoorsaam is:  “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.” (Lv.26:3-4).

 

Eers as Jesus jou Verlosser is en jy aan Hom gehoorsaam is, sal dit help om op die Whatsapp boodskappe te reageer en te bid vir reën.  Hoe moet jy bid?  Moenie bid asof die Here ‘n afgod is soos Baäl nie.  Ek ken nie mense wat hulleself met messe sny om die Here se aandag te trek nie (v.28).  Maar ek ken mense wat dink dat hulle die Here se arm kan draai, omdat hulle lank gebid het, of omdat hulle ‘n groot groep mense gekry het om saam met hulle te bid (v.26).

 

Moenie so bid nie. “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.  Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.” (Mt.6:7-8).  Jy kan nie die Here manupileer nie.  Hy wil eenvoudig hê dat jy opreg, met eerbied en deur geloof in Jesus Christus tot Hom moet bid (v.36-37).  En as Hy jou nie onmiddellik antwoord nie, wil Hy hê jy moet met volharding bid (v.43-44).  Dit geld ook wanneer ons vir reën bid.

 

John Piper sê: ‘As 25 mm reën gedurende die nag op 2.59 km2 plaasgrond val, is dit 65 785 698 m3 water, wat gelyk is aan 65 781 099 liter of 65 561 959 kg water.’[4]  Dit móét ‘n wyse God wees wat so baie water lig genoeg kan maak dat dit vir honderde kilometers as wolke deur die wind gedryf kan word, en dan weer swaar genoeg kan word dat dit in druppels tot op die aarde kan val.  Hy is ‘n God wat groot dinge doen, “wonders sonder getal; wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde” (Job 5:9-10).  Hy is ons God.

 

[1] Vry vertaal uit: http://www.sabc.co.za/news/a/a3020b004ed13bc9b6d4fef5a9947ffb/SAsundefineddroughtundefinedrecoveryundefinedwillundefinedbeundefinedslow-20160211

[2] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywings onder Baal en Asherah

[3] Vry vertaal uit Dale Ralph Davis, The Wisdom and the Folly: An Exposition of the Book fo First Kings, pp.236-237

[4] Taste and See, p.25