Wanneer God die duiwel loslaat

jewish-war

Wat bedoel ons wanneer ons sê dat die duiwel los is? Ons bedoel dat daar groot moeilikheid is, of dat dinge besig is om hand uit te ruk.  Vir stoute kinders wat in die moeilikheid gaan kom sê ons:  ‘Nou is die duiwel los!’  En as ‘n samelewing drasties versleg dan sê ons ook dat die duiwel los is.  Maar ons vergeet dat God eintlik nogsteeds in beheer is wanneer ‘die duiwel los is’.  Om die waarheid te sê is dit Hy wat die duiwel in Op.9:1-12 losgelaat het.

 

Wat het die demone gedoen? (v.1-6)

Meer as een persoon het al vir my gesê dat die universiteite wat so afgebrand word nie maar net die werk van barbaarse studente is nie. Ek stem heelhartig saam dat daar demoniese magte aan die werk is.  Ef.6:12 leer vir ons dat hierdie nie ‘n oorlog teen mense is nie, maar teen die magte van duisternis, teen die bose geeste in die lug.  ‘n Verduideliking van Op.9 sal vir jou wys wat ek bedoel.

 

God het vir die sewe engele trompette gegee om sy oordele aan te kondig (8:2). Die vyfde engel het op sy trompet geblaas (v.1).  Johannes het ‘n ster gesien wat uit die hemel geval het na die aarde toe (v.1, 8:10).  Hy het die sleutel na die put van die bodemlose afgrond ontvang (v.1).  Dié sleutel behoort aan Jesus (1:18), en daarom kan Hý die tydelike gebruik daarvan oorgee aan wie Hy wil, hetsy ‘n gevalle of ‘n heilige engel (v.1, 20:1-3).

 

Uit die konteks van die gedeelte asook die res van die Skrif, sien ons dat die ster in v.1 eintlik ‘n gevalle engel is (v.1, 12:4, Job 38:7, Jes.14:12-13). Volgens v.11 is hierdie engel die koning van die bodemlose afgrond.  Ja, die gevalle ster in v.1 is die duiwel of Satan.  Hy het die bodemlose put oopgesluit (v.2).  Baie van sy demone was daar toegesluit (2 Pt.2:4, Jud.6), alhoewel sommige van hulle nog vry was (Lk.8:31).

 

Satan het toestemming gehad om die gevangenes vir ‘n kort rukkie op parool vry te laat. Toe hy die bodemlose put oopgesluit het, het daar ‘n dik swart rookwolk soos van ‘n vuuroond in die lug opgestyg (v.2).  Dit het die lug donker gemaak en die son uitgeblok (v.2).  Dit was nie net ‘n voorsmakie van die verwoesting van Jerusalem nie, maar ook van die hel (14:11, vgl. Gn.19:28, 2 Pt.2:6, Jud.7).  God het die lig van sy guns onttrek en die duisternis van sy oordeel aangebring (Eks.10:22).

 

Uit die rook van die bodemlose afgrond het die demone soos ‘n plaag sprinkane op die aarde of land [Gk. ] toegesak (v.3).  In Dt.28:38 en Joël 1-2 het God sy ongehoorsame volk met sprinkane gedreig.  In Op.9 het Hy toegelaat dat Satan en die demoniese sprinkane hulle pynig soos met ‘n skerpioen se angel (v.3, 5, 10, vgl. 1 Kon.12:14).

 

In Lk.10:17-19 sê Jesus dat Satan uit die hemel geval het en praat Hy van die demone as giftige skerpioene. Nou, in Op.9 gebruik Johannes dieselfde beeld (v.1, 3).  Esg.2:6 praat van hardkoppige Israel as skerpioene.  Die slotsom in Op.9 is dan dat die demone vir Israel in hulle rebellie en sonde aangehits het.  Ons kan as’t ware sê dat die hel teen hulle losgebreek het, dat God die duiwel en sy demone teen hulle losgelaat het en vir Israel aan die verwoesting van hulle eie sonde oorgegee het.  Volgens 18:2 was die stad “‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste”.

 

Jesus het hulle hierteen gewaarsku. Toe Hy op die aarde was het Hy baie duiwels uitgedryf.  Indien die volk hulle daarna nogsteeds nie bekeer het nie, sou die demone in groot getalle teruggekeer het.  Dit sou in hulle leeftyd nog gebeur het:

 

“En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy:  Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.  En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.  Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.” (Mt.12:43-45).

 

En is dit nie presies wat in Op.9 gebeur het nie? Volgens die geskiedenisboeke het die inwoners van Jerusalem duiwel-besete en mal geraak.  Hulle kon nie meer logies redeneer nie.  Besete bendes het mekaar aangeval.  Mense was so mislei dat hulle agter vals lering aangeloop het wat selfs ‘n kind van ‘n myl af sou kon uitken.  Hulle het soos honger leeus agter kos aangehardloop.  Daar was massa moorde, teregstellings en selfmoorde.  Pa’s het hulle eie gesinne geslag en ma’s het hulle kinders geëet.[1]

 

Die selote (‘n Joodse politieke party wat ver regs was) het die rykes se huise beroof, mense vermoor, vroue verkrag, bloed gedrink, lang hare (v.8), vroue-klere, grimmering en parfuum gedra, homoseksuele dade beoefen. Hulle het enigiemand wat verby hulle gestap het met die swaard deurboor.[2]  Die feit staan uit soos ‘n paal bo water:  die duiwel en die magte van die hel was los.

 

Gewoonlik eet sprinkane plante, maar die demoniese sprinkane in Op.9 het niks aan die plante gedoen nie. Hulle het die mense getref soos wat ‘n plaag sprinkane ‘n land kaal vreet (v.4).  “You will be wiped out like crops eaten up by locusts.” (Nah.3:15, Good News Bible).  Die demoniese sprinkane kon nie die gelowige Jode beskadig het nie, maar net dié wat nie aan die Here behoort het nie (v.4, 7:1-3, net soos wat Egipte deur die plae getref is en Israel nie).  Hulle het toestemming gekry om die mense vir vyf maande lank te pynig, maar nie dood te maak nie (v.5).

 

Johannes se lesers sou hierdie beeld verstaan het, omdat die sprinkane in Israel vir vyf maande, van Mei tot September, geleef het.[3]  Ons weet ook dat die Jode in Jerusalem vir vyf maande, van Mei tot Sept. 70 n.C., teen die Romeine uitgehou het.  Hulle het gewens om dood te gaan (v.6).  Josefus praat van hulle innerlike pyniging en teistering, en sê hoe hulle gewens het die Romeine wil die stad inneem en hulle doodmaak, eerder as wat hulle in die demoniese stad moes bly.[4]  Maar selfs toe hulle probeer het om dood te gaan, het dit van hulle af weggevlug (v.6).

 

Hoe het die demone gelyk? (v.7-12)

Populêre skrywers oor die eindtyd sê dat die sprinkane in Op.9 eintlik Russiese helikopters is. Een van hulle sê dat ‘n helikopter se propeller soos die geraas van perde klink (v.9), en dat die giftige skerpioen-tipe angel in v.10 waarskynlik ‘n soort traangas is wat by die helikopter se stert uitgespuit word.[5]

 

Ek ontken nie dat Op.9 moeilik is om te interpreteer nie. Maar om die teks só te interpreteer is vergesogd.  Ons kan nie Johannes se woorde deur ons 21ste eeu bril wil bestudeer nie.  Hoe sou die eerste lesers dit verstaan het?  Dit is die vraag wat ons vir onsself moet afvra.

 

Hoe het die demoniese sprinkane gelyk? Die vergelykings in v.7-10 wys vir ons dat hierdie nie gewone sprinkane is nie.  Hulle het gelyk soos perde wat opgesaal was vir oorlog (v.7, Job 39:22-28, Jer.51:27, Joël 2:4).  Daar was iets soos goue krone op hulle koppe, so asof hulle koninklike mag gehad het (v.7).  Hulle gesigte soos mense s’n het gewys dat hulle intelligent is (v.7).  Hulle hare soos vroue s’n het gewys dat hulle wild is (v.8, Dt.32:42, Nuwe Vertaling).

 

Hulle tande soos leeus s’n het gewys dat hulle gevaarlik is (v.8, Joël 1:4, 6, 1 Pt.5:8). Hulle bors pantsers soos yster het gewys dat menslike wapens hulle nie kon keer nie (v.9, Joël 2:8, 2 Kor.10:4, Ef.6:10-18).  Hulle vlerke soos die geluid van perde wat in die oorlog in hardloop het gewys dat hulle ‘n sterk en magtige weermag is (v.9, Joël 2:4-5, 10).  Hulle sterte soos skerpioene s’n het gewys dat hulle groot skade kan aanrig (v.10).

 

Gewone sprinkane het nie ‘n koning nie (Sp.30:27), maar die demoniese sprinkane het ‘n gevalle engel as hulle koning gehad. In Hebreeus was sy naam Abaddon en in Grieks Apollion (v.11).  Sy naam beteken verwoesting of die verwoester.  Satan is die leier van dié wat gekom het om te steel, te slag en te verwoes (Jh.10:10).  En tog was die verwoesting van v.1-10 maar net die begin – erger dinge was oppad (v.12).

 

Dit is dan genoeg vir vandag. Vir nou is dit belangrik om te weet dat ons nie ons lering oor Satan en demone by Sataniste, Rebecca Brown, Hollywood of ander buite-Bybelse bronne moet kry nie.  Wat ek en jy oor bose geeste moet weet is in die Bybel opgeteken.  Moenie nuuskierig wees en in dinge gaan krap wat die Here nie aan jou geopenbaar het nie.  As Hy wou gehad het jy moet dit weet, sou Hy dit in die Bybel gesit het.

 

Mense glo verkeerde dinge oor die duiwel en demone, omdat hulle meer aandag aan hóm gee as aan die Bybel. Hy is al te gelukkig om te sien hoe Christene die Bybel eenkant toe skuif om boeke oor die okkulte te lees.  Hierdie mense glo vas dat hulle die diep dinge van Satan verstaan (2:24), maar eintlik weet hulle niks.

 

Hulle teologie van die duiwel is verdraaid: hulle dink dat húlle die mag het om die duiwel te beveel, maar glo ook dat Satan soms vir Jesus in skaak sit.  In hulle wêreldbeskouing is die duiwel soewerein.  As hulle siek word, geld verloor, ‘n slegte oes het of sukkel om werk te kry, dan sit die duiwel daaragter.

 

Hulle ken Rm.8:28, maar verstaan dit nie in die praktyk nie. Wanneer dit met hulle sleg gaan, dan wil hulle die duiwel bind en bestraf.  Hulle is soos die vals leraars in 2 Pt.2:10b-11:  “Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.”

 

In Jud.8-10 lees ons: “Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens.  Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê:  Die Here bestraf jou!  Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde.”

 

Om te keer dat ons in hierdie strik trap, moet ons ‘n Bybelse en gebalanseerde teologie van die duiwel en demone hê. Die Skrif leer vir ons dat God die duiwel gemaak het; hy is nie ‘n onafhanklike wese wat uit homself uit onstaan het nie  (Kol.1:16).  Voordat Satan tot ‘n val gekom het was hy ‘n volmaakte, sondelose, beeldskone en wyse gerub (Esg.28:12b-15a).[6]  Hy het egter hoogmoedig geword.  Hy wou soos God gewees het, en daarom is hy uit die hemel geskop (Jes.14:12-14, Esg.28:15b-17, 1 Tm.3:6).

 

Na sy val het hy nog in die hemel ingekom om God se kinders aan te kla. Hy het o.a. vir Job en die hoëpriester Josua aangekla (Job 1-2, Sg.3).  Maar toe Jesus aarde toe gekom het, het dinge verander.  Jesus het die duiwels uitgedryf en ook vir sy helpers die mag gegee om dit te doen.  Satan het soos weerlig uit die hemel uit geval (Lk.10:18).

 

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy die duiwel se lot geseël. Hy het die prys vir ons sondes betaal, sodat die duiwel ons nie meer voor die Here kan aankla nie (Rm.8:33).  Nóg ‘n keer het die Here hom neergewerp (12:9-10).  Wanneer Jesus weer kom, sal Hy die duiwel vir ewig in die hel gooi (20:10).

 

Duidelik is dit God en nie die duiwel nie, wat soewerein is. My tema is nie toevallig ‘Wanneer God die duiwel loslaat’ nie.  Die duiwel en sy demone is bang vir God; hulle sidder (Jk.2:19).  Hulle kwyn voor sy toorn en almag soos wat die nag se donker voor die oggendson verdwyn (Lk.8:28, 31).  As Hy ‘n opdrag gee dan luister hulle dadelik (Mt.4:10-11, Mk.1:25-26, Lk.4:41).  As Hy vir hulle perke stel en sê:  ‘Jy kan dít doen, maar nie dát nie’ dan stry hulle nie met Hom nie – hulle doen wat Hy sê (Job 1:12, 2:6).

 

Volgens Op.9 is die bodemlose afgrond se sleutel aan die duiwel gegee (v.1).  Die demone het mag ontvang om die bewoners van die land te beskadig (v.3).  Daar is vir hulle gesê om nie die plante of verseëlde gelowiges te beskadig nie, maar net die ongelowiges (v.4).  Hulle is toegelaat om die mense vir vyf maande lank te pynig (v.5).  Hulle het nie toestemming gehad om die mense dood te maak nie (v.5).

 

God se soewereiniteit beteken egter nié dat Hy en die duiwel kop in een mus is nie. Hy het nou wel vir die duiwel toestemming gegee om hierdie dinge te doen, maar dit is Satan en nie God nie, wat die verwoester is (v.11).  Maar leer tog uit Op.9 om bang te wees vir God en nie vir die duiwel nie.  Vrees Hom wat mag het om die duiwel en al die magte van die hel teen jou te stuur (v.2-6).  Vrees Hom wat oneindig keer sterker is as die duiwel, sodat Hy hom deur die ‘swakheid’ van die kruis oorwin het (Kol.2:15).  God hoef nie eers op te staan om teen die duiwel en sy weermag te baklei nie; Hy kan net vuur uit die hemel uit stuur om hulle te verdelg (20:7-10).

 

Dit is erg genoeg dat die duiwel en sy demone jou haat en jou wil vernietig. Maar dink daaraan dat die God wat hulle gaan straf, jou saam met hulle in die hel sal gooi as jy jou nie bekeer nie (Mt.25:41).  Tog is dit ook so dat hierdie God jou Vader en jou Vriend wil wees.  Hy sal jou vergewe as jy in geloof na Hom toe kom om die vuilheid van sonde uit die huis van jou hart uit te vee. Hy wil eenvoudig hê dat jy met ‘n berouvolle hart na Jesus toe moet draai en moet glo dat sý bloed enige vuilheid uit die hoeke, in die kaste en onder die beddens van jou hart kan uitwas.

 

Het die Here demoniese teistering in jou lewe toegelaat, omdat jy met sonde besig is (v.4-6, 1 Kor.5:5)? Moet dan nie hardkoppig wees en met jou sonde aanhou nie; bekeer jou (v.20-21).  Dit is baie gevaarlik om jou teen die Here te verset en om ná al sy goedheid aan jou, jou rug op Hom te draai.  Wat as Hy besluit om jou ook aan die duiwel oor te gee, sodat daar ‘n sewevoudige bende van demone soos leeus op jou toesak (Mt.12:43-45)?

 

As jy ‘n gelowige is moet jy jou nie met die duiwel ophou nie. Maar jy hoef hom ook nie te vrees nie.  Hy sal jou aanval, maar hy kan dit nie sonder God se toestemming doen nie (Job 1-2).  Hy kan jou nie van God se liefde skei of jou uiteindelike skade aandoen nie (v.4, Rm.8:38-39, 1 Jh.5:18).  God sal sy aanvalle vir jou voordeel uitwerk, en daarom hoef jy nie bang te wees nie (Rm.8:28, 31).

 

Vir gelowiges is die duiwel soos ‘n kwaai en intimiderende hond aan ‘n ketting. Omdat God die streng baas is, kan die hond niks aan ons doen nie.  As die Here Hom egter loslaat is dit ‘n ander storie.  Hy sal selfs vir gelowiges storm en vir hulle blaf, maar hy kan nie byt nie, omdat God hom aan die halsband gryp.  Maar wanneer dit by God se vyande kom, gee Hy vir die hond toestemming om hulle te byt.  Ongelowiges het dus goeie rede om te vrees.  As hulle egter na die Here toe draai is hulle veilig, omdat Hy die duiwel se werke verbreek het (1 Jh.3:8), en ook omdat Hy eendag die hond gaan uitsit.

 

[1] David Chilton, Days of Vengeance, p.105

[2] Flavius Josephus, The Jewish War: Book IV, 9:10

[3] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Rev.9:5

[4] Wars: Book V, 1:5

[5] Hal Lindsey aangehaal in Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, p.229

[6] Sommige sal sê dat Jes.14 en Esg.18 nie van die duiwel praat nie, maar van die konings van Babilon en Tirus. Die waarheid is egter dat die duiwel agter hierdie konings gestaan het om hulle in hulle boosheid aan te hits, net soos wat hy in Dn.10 agter die konings van Griekeland en Persië gestaan het.