Jesus ontmasker vir Judas

unmasking

Toe ek op skool was het ons Zorro gekyk. Dié karakter het ‘n swart masker oor sy oë gedra.  Maar sy neus, mond, ken en Meksikaanse snorretjie het uitgesteek.  Ek het altyd gewonder hoekom die mense hom nie sonder sy masker kon uitken nie.  Dieselfde met Superman wat eweskielik anders lyk as hy nie sy bril op het nie.

 

Judas was nie soos hulle nie. Hy het nie net ‘n halwe masker aan gehad nie.  Hy was meer skynheilig en ‘n beter toneelspeler as enige van die Fariseërs.  Nie eers die ander dissipels het hom as die verraaier uitgeken nie.  Maar in Jh.13:18-30 het Jesus hom ontmasker.

 

Die voorspelling (v.18-20)

Iemand het in die week vir my e-pos gestuur wat gesê het dat predestinasie onsin is. ‘Wat is predestinasie?’ wonder iemand.  Mense soos Augustinus, Luther en Calvyn het geglo dat God die loop van die geskiedenis in die ewige verlede bepaal het.  Daar is baie Afrikaners wat dit onbewustelik glo.  As iets sleg met hulle gebeur sê hulle:  ‘Alles gebeur met ‘n doel.’  En tog vra hulle nie vir hulleself wie daardie doel bepaal het nie.

 

Vir die skrywer van die e-pos kan die mens se keuse en God se predestinasie nie albei waar wees nie; een van die twee moet op die altaar van menslike logika geoffer word. Die skrywer het gekies om die mens se vryheid te behou en om predestinasie te verwerp.  In sy gedagtes maak predestinasie dat God die outeur van sonde is (en dat die mens ‘n robot is).

 

Hy het gesê dat die Here dinge in die ewige verlede beplan het, maar nie bepaal het nie; deur sy vrye keuse kan die mens God se ewige raadsplan in die wiele ry.  Vir die skrywer was selfs Jesus se dood nie bepaal nie.  ‘Anders kon dit nie ‘n vrywillige offer van liefde gewees het nie,’ het hy gesê.  Só het die skrywer alle Bybeltekste wat van predestinasie of voorbeskikking praat, verduidelik.

 

Maar is Bybelse profesieë nie ‘n duidelike bewys dat predestinasie waar is nie? Kom ek gee net een voorbeeld:  was dit God of keiser Augustus en Maria wat bepaal het dat Jesus in Betlehem gebore moes word?

 

Jh.13 gee die balans tussen predestinasie en die mens se verantwoordelikheid. Judas het gekies om nie gehoorsaam te wees soos die ander nie, maar om vir Jesus te verraai (v.17-18).  En tog kon dit nie anders gewees het nie, omdat God dit voor die grondlegging wêreld al bepaal het (v.18).  In Lk.22:22 sê Jesus:  “Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!”  Paulus sê dat God “alles werk volgens die raad van sy wil” (Ef.1:11).

 

God het reeds in die Ou Testament Judas se verraad voorspel. Soos wat Agitofel, Dawid se vriend en vertroueling, teen hom opgestaan het, het een van Jesus se dissipels Hom in die rug gesteek (v.18, Ps.41:10, 2 Sm.17).  Judas wat Jesus se brood geëet het (v.18, 26), het Hom verraai.  T.s.v. al Jesus se goedheid aan hom, het hy soos ‘n perd sy hakskeen opgelig om vir Jesus te skop (v.18).  “Vir my liefde behandel hulle my vyandig… En hulle het my kwaad vir goed opgelê en haat vir my liefde.” (Ps.109:4-5).

 

Soos Dawid in Ps.41, het Jesus Judas se verraad voorspel (v.19). Sy voorspelling en die vervulling daarvan sou vir die dissipels gewys het dat Hy die Messias en die God van die Ou Testament is (v.19, 14:29, 16:4, Eks.3:14).  Wie anders is daar wat mense se harte ken en die toekoms kan voorspel (Jes.41:23, 42:9)?  Dié wat hierdie getuienis van die apostels m.b.t. Jesus ontvang het, het vir Jesus self ontvang (v.20).  En omdat Jesus God is, het dié wat Hom ontvang het ook die Vader ontvang (v.20).

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Moenie predestinasie verwerp net omdat jy nie weet hoe om dit met die mens se keuse en verantwoordelikheid te versoen nie.  Bely eerder saam met Dawid:  “O Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.” (Ps.131:1).  Erken dat die Bybel altwee leer, en moenie soos ‘n kind wees wat weier om te aanvaar dat sy ouers beter weet as hy nie.

 

Let gerus op hoe woorde soos bepaal, bestem, verordineer, voorbeskik, ens. in elkeen van die volgende verse voorkom: Ps.139:16, Sp.19:21, Pd.3:1, Jes.14:24, 27, 46:9-10, Jer.15:2, Hd.1:7, 2:23, 4:27-28, 13:48, 17:26, 31, Rm.8:29-30, Ef.1:5, 1 Ts.3:3, 5:9, 1 Pt.2:8.

 

Die gevolgtrekking is dan dat God alle dinge voorbeskik het, maar dat Hy die mens verantwoordelik hou vir sy keuses. Ek kan net hoor hoe iemand sê:  ‘Ek kan dit nie aanvaar nie, omdat dit logies nie sin maak nie.’  Maar maak die Drie-Eenheid logies vir jou sin?

 

Die uitwysing (v.21-26)

William Tyndale was die eerste man wat die Bybel uit die oorspronklike tale uit in Engels vertaal het. Omdat dit onwettig was, het hy van Engeland af na die kontinent toe gevlug om dáár sy werk voort te sit.  Die Britse kroon het mense gestuur om hom te arresteer, maar hulle was onsuksesvol.  Uiteindelik het ‘n sekere Henry Phillips vir Tyndale opgesoek en gemaak of hy aan die kant van die hervorming was.

 

Tyndale het nie die geringste vermoede gehad van wat eintlik aan die gang was nie. Hy het vir Phillips vertrou en sy geheime met hom gedeel.  Phillips het met die Katolieke ooreengekom om vir ‘n som geld die Engelse hervormer aan hulle oor te lewer.  Sy plan het geslaag; William Tyndale het met sy lewe betaal.[1]

 

Soos Tyndale, het die dissipels nie ‘n idee gehad dat Jesus deur een van sy vriende verraai gaan word nie. Jesus daarenteen het presies geweet wat in Judas se hart aan die gang was.

 

Nadat Jesus die verraad aangekondig het, was Hy diep onsteld (v.21). Sy gees was soos ‘n onstuimige rivier (v.21, Gk. tarassō).  ‘Een van julle gaan My verraai,’ het Hy gesê (v.21).  Judas het al vóór die Pasga en die instelling van die nagmaal sy plan aan die owerpriesters voorgelê (Lk.22:1-6, 7-23).  Nou het hy net vir die regte geleentheid gewag om Hom aan hulle oor te lewer.

 

Die dissipels het met verbasing na mekaar gekyk: hulle het nooit gedink dat een van hulle Hom sou verraai het nie (v.22).  Judas was so slinks en skynheilig dat nie een van hulle naastenby vermoed het dat dit hy was nie.  Dus het hulle eerder gevra:  ‘Is dit miskien ek, Here?’ (Mt.26:22).

 

Jesus se geliefde dissipel Johannes was langs Hom aan tafel; teen sy bors (v.23, 21:20, 24, Gk.). Om dit te verstaan moet ons iets van die Jode se kultuur ken.  Joodse tafels in die eerste eeu was laer as ons koffietafels.  Die Jode het op hulle linker elmboë gelê, hulle bene skuins agtertoe uitgestrek en met hulle regterhande geëet.  Johannes se kop sou dus naby Jesus se bors gewees het.  In hulle kultuur sou dit heeltemal normaal en aanvaarbaar gewees het.

 

Petrus het oorkant Johannes gesit en met sy oë of hande vir hom gewys om vir Jesus te vra wie die verraaier was (v.24). Petrus wou seker gemaak het dis nie hy nie.  Johannes het stadig agtertoe geleuen en saggies vir Jesus gevra wie die verraaier was (v.25).  Hy wou ook seker gemaak het dat dit nie hy was nie.  ‘Die een vir wie ek die stukkie ongesuurde brood met bitter kruie gee as ek dit klaar in die dadel-, rosyntjie- en suurwynsous gedoop het, sal my verraai,’ het Jesus geantwoord (v.26, vgl. Rut 2:14).[2]

 

In Jesus se tyd het die gasheer hierdie stukkie brood vir die eregas aan sy linkerkant gegee.[3]  Jesus het dus vir Judas een laaste kans gegee om sy liefde te aanvaar (hoe dít met predestinasie saamwerk kan ek nie verduidelik nie).  Judas was oppad om sy broodjie in die sous in te doop toe Jesus sýne vir hom gegee het (v.26, Mt.26:23, Mk.14:20).  Judas het in ‘n fluistertoon vir Jesus gesê:  ‘Is ek miskien die verraaier, Rabbi?’  ‘Daar het jy dit nou erken,’ het Jesus geantwoord (Mt.26:25).  Maar selfs nadat Jesus hom ontmasker het, het hy nie teruggedraai en om vergifnis gesmeek nie.  Hy het sy sonde liewer gehad as vir Jesus.

 

Die groot les in hierdie verse is dat nie een van ons ‘n ander mens se hart ken nie. Nie een van die dissipels het geweet dat Judas die verraaier was nie (v.22).  Selfs toe die duiwel in hom ingevaar het, het sy gesig so normaal soos voorheen gelyk (v.27).  Moet dan nie dink dat enige van ons nie tot die ergste toe instaat is nie.  Oor die jare het ons gesien dat mense in ons gemeente hulle aan ernstige dinge skuldig gemaak het.  Ek weet ook van twee Baptistekerke in Gauteng wie se lidmate moorde gepleeg het.

 

Die boodskap wat Johannes hier vir ons wil oordra is nie dat ons nie ander mense moet vertrou nie, maar eerder dat ons nie ander mense se harte ken nie. Jy en ek weet nie wat in iemand se gedagtes aangaan nie.  Maar die Here weet, en uiteindelik sal Hy dit aan die lig bring (Lk.12:2-3).  Die ergste is dan nie dat ander mense sal uitvind wie en wat jy regtig is nie, maar dat ons gedagtes en begeertes so hard in God se ore klink soos woorde in ons s’n.

 

Ons dink nie altyd so nie. ‘We think that God is like an idol who takes naps while we secretly pursue our lusts.’[4]  Wees versigtig met wat in jou hart aan die gang is, want dit bepaal jou hele lewe (Sp.4:23).  As jy teen sonde veg kan jy nie net van jou slegte dade ontslae raak nie – jy moet dit op die vlak van die hart doodmaak.  Jy moet van jou sondige gedagtes, motiewe en begeertes ontslae raak.

 

Nie een van ons kan dit op ons eie doen nie. As Jesus se bloed klaar jou sondige rekord deur jou geloof in Hom en sy kruisdood skoon gewas het, moet Hy jou besoedelde hart skoon was.  Bid dan gereeld en vra vir Hom om jou te help in jou stryd met die slegte begeertes en gedagtes wat soos kakkerlakke in jou hart broei.  Oordink die Bybel, bely jou sonde en jaag gehoorsaamheid na.  Kry ‘n vriend of vriendin wat jou aanspreeklik kan hou en getrou vir jou sal bid.  Jesus steek sy hand in liefde uit om jou te help (v.26).  Moet dit nie wegklap nie.

 

Die duisternis (v.27-30)

In die 1500’s was daar ‘n Christen in Engeland met die naam van James Bainham. Hy was baie lief vir die Bybel en ‘n man van gebed.  Om ‘n lang storie kort gemaak:  hy het uiteindelik op die brandstapel beland.  Voor hulle hom aan die brand gesteek het, het hy vir die skare gesê dat hy doodgemaak word vir die evangelie.  ‘Jy lieg!’ het ‘n Katolieke stadsklerk genaamd Pave gesê.  ‘Ons brand jou omdat jy nie glo dat die brood en die wyn letterlik in Jesus se liggaam en bloed verander nie.’

 

Pave het bevel gegee dat hulle die vuur moet aansteek. Bainham het na die hemel toe opgekyk en gesê:  ‘Mag God jou vergewe en meer genade aan jóú bewys as wat jy aan mý bewys het!’  Pave het dit nie vergeet nie; Bainham se laaste woorde het by hom gespook.  Omtrent ‘n jaar later het hy homself gehang.[5]  Ná Bainham se dood het dit nag geword in sy gewete.  En dit is presies wat in hierdie verse met Judas gebeur het.

 

Toe Judas die stukkie brood by Jesus gevat het, het Satan – nie maar net enige demoon nie, maar Satan self! – in hom ingevaar (v.27, 2). Hy het soos ‘n parasiet vasgesuig aan die boosheid en sonde wat alreeds in Judas se hart was (6:70-71, 12:4-6).

 

Jesus het toe vir Judas gesê: ‘Wat jy wil doen moet jy gou doen.’ (v.27).  Jesus en nie Judas of Satan nie, het die uur van sy kruisdood bepaal (v.1, 7:30, 10:18).  Dus het Hy vir hom gesê om gou te maak, aangesien die uur van sy dood op hande was.  Aan die anderkant het Jesus ook geweet dat Judas se voete haastig was om sy bloed te vergiet (Sp.1:16, 6:18).  Jesus het hom as’t ware aan sy sonde oorgegee.  ‘Doen wat jy graag wil doen,’ het Hy in effek vir hom gesê.

 

Die ander dissipels het nie verstaan hoekom Jesus dit vir hom gesê het nie (v.28). Net Johannes het geweet (v.25-26).  Omdat Judas die tesourier was (12:6), het sommige van die dissipels gedink dat Jesus vir hom gesê het om gou iets vir die volgende dag se Fees van Ongesuurde Brode te gaan koop (v.29).  Die winkels sou op daardie Donderdagaand ‘n bietjie later oop gewees het as gewoonlik.  Gedurende die Fees sou daar nie tyd gewees het nie (soos om op Kersdag gou geskenke te wil koop).

 

Gedurende die Paasfees het die Jode (volgens hulle tradisie) die tempel se deure teen middernag oopgemaak, sodat bedelaars kon inkom om geld en geskenke te ontvang.[6]  Dit verduidelik hoekom party van die dissipels gedink het dat Jesus vir Judas gesê het om gou iets vir die armes te gaan gee.

 

Judas het die stukkie brood ontvang en dadelik uitgegaan om vir Jesus te verraai (v.30). Hy het inderdaad gou gemaak soos wat Jesus in v.27 vir hom gesê het – gou, sodat hy sy 30 stukke silwer kon kry!  Judas het nie net uit die vertrek uitgegaan nie; hy het ook eens en vir altyd sy rug op Jesus gedraai.  Hd.1:25 sê dat hy “afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek.”

 

Dit was nag toe hy dit gedoen het (v.30). Dit was letterlik nag, maar Judas het ook sy rug op die Lig van die wêreld gedraai, omdat hy die duisternis van sy sonde verkies het (8:12, 3:19-20).  Saam met die duiwel het hy beplan om die lig uit te doof (Lk.22:53).  Die tragedie was dat hy self in die gat geval het wat hy vir Jesus gegrawe het.  Soos vir Saul in 1 Sm.28:25, het dit geestelik nag geword vir Judas.  Hy was teen ‘n nekbreek spoed oppad na die buitenste duisternis toe (Mt.25:30).

 

Die les is duidelik: moenie vir die duiwel ‘n vatplek gee in jou lewe nie.  As jy met sonde speel, dan gee jy vir hom iets om aan vas te gryp.  In Ef.4:26-27 gee Paulus ‘n voorbeeld hiervan:  “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie.”  Bely en laat staan die sonde wat jy nog in die donker hoeke van jou hart wegsteek.  Maak reg wat verkeerd is – met God en met ander mense.

 

As jy volstrek weier om dit te doen of traak-my- nie-agtig met jou sonde aanhou, is jy op een van die gevaarlikste plekke wat jy kan wees. Jy is op die randjie van die afgrond.  As die Here die duiwel toelaat om in jou in te vaar, dan is die brieke los.  En wie gaan jou dan keer?  As jy Jesus se liefdevolle aanbod ignoreer, mag dit miskien die laaste keer wees wat jy jou rug op Hom draai.  En as jy van die Lig van die wêreld af wegdraai, sal dit ook vir jou nag word soos vir Judas… vir ewig.

 

Moenie dom wees nie. Los jou sonde en kom na Jesus toe.  Geen sonde is te groot as jy in berou en geloof na Hom toe draai en vir Hom vra om jou te vergewe nie.  “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Jh.1:7, 9).  “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef.1:7).  Johannes sê dat Jesus “ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed” (Op.1:5).  God het ons van ons sonde vrygekoop “deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pt.1:19).

 

As Judas dit maar net geweet het; as hy maar net na Jesus toe gedraai het. Dan sou daar selfs vir hóm genade en vergifnis gewees het.

 

Het jy al mense ontmoet wat maak asof God die vark in die verhaal is, en asof mense die reg het om boos te wees, maar God wreed en verkeerd is om hulle te straf?  Moenie so wees en maak asof Judas die onskuldige slagoffer in hierdie verhaal is, en Jesus die vark nie.  Jesus het sy liefde oor en oor aan Judas bewys, maar hy het nie daarin belanggestel nie.  Daar is nie ‘n mens op die aarde wat so goed is soos Jesus nie… of so sleg soos Judas nie.

 

[1] J.H. Merle d’Aubigné, The Reformation in England: vol.2, pp.188-199, 337-350

[2] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.474

[3] Ibid

[4] Edward Welch, Addictions – A Banquet in the Grave, p.176

[5] D’Aubigné, Ibid, pp.97-102

[6] Carson, Ibid, p.475

Advertisements