Die vernedering van Kersfees

baby-crying

Geen Kerskaartjie met ‘n prentjie van die krippie, die oulike baba, Josef en Maria, die vriendelike donkies en skape, die wyse manne, die herders en die ster, sal vir jou die idee gee dat Jesus se geboorte eintlik ‘n vernedering was nie. ‘n Mens besef dit eers as jy verstaan dat die baba wat daardie aand in die krippie gelê het, God was.  En vir die ewige God om as ‘n mens gebore te word was ‘n vernedering.  So leer Fil.2:6-7 vir ons.

 

Jesus in die hemel (v.6)

Almal van ons sukkel met hoogmoed – of ons dit nou wil erken of nie. Ons dagdroom oor onsself, wil hê dat dinge op ons manier gedoen moet word, hou daarvan om onsself op fotos te sien, geniet dit as ander mense vir ons vertel hoe wonderlik ons is, word kwaad vir mense as hulle ons swakpunte uitwys, en bestuur asof die pad net vir ons gebou is.

 

Iemand het eenkeer vir my gesê dat hy nie meer met hoogmoed sukkel nie. Ek het vir hom C.J. Mahaney se boek oor nederigheid geleen.  Toe hy dit klaar gelees het was hy vir twee dae depressief.

 

Omdat almal van ons met hoogmoed sukkel, moet ons Paulus se lering oor die onderwerp ter harte neem. In v.6 leer hy vir ons dat Jesus die hemel verlaat het (v.6).  Paulus sê dat Hy in die gestalte van God was (v.6, Jh.1:1, Kol.1:15).  Die verledetyd beteken nie dat Hy opgehou het om God te wees nie.  Die Griekse werkwoord wys eerder vir ons dat Hy in die gestalte van God was en so gebly het (v.6).

 

Die woord gestalte (morphē) het niks te doen met die uiterlike vorm nie – God is immers ‘n onsigbare gees (Jh.4:24).  Dit praat eerder van sy innerlike wese, eienskappe en karakter wat so volkome God is soos die Vader en die Heilige Gees.[1]  Jesus was in elke opsig gelyk met die Vader en die Heilige Gees, soos wat ‘n fotostaat identies soos die oorspronklike dokument lyk (Heb.1:3).

 

Maar t.s.v. hierdie gelykheid het Hy nie gevoel Hy word beroof of ingedoen toe Hy sy hemelse heerlikheid verlaat het om aarde toe te kom nie (v.6). Niemand het Hom gedwing om dit te doen nie; dit was vrywillig.  Hy was nie soos ‘n kind wat styf aan die kar se sitplek vasklou, omdat hy weier om tandarts toe te gaan nie.

 

Jesus op die aarde (v.7)

Almal ken die storie van die prins wat in ‘n ondier of gedrog verander het. Hy het weer ‘n mens geword toe die meisie hom liefgekry en gesoen het.  Tensy jy in evolusie glo, sal jy weet dat daar ‘n baie groot verskil tussen mense en diere is.  Dit is ‘n vernedering vir enige prins om in ‘n dier te verander.

 

Ons weet natuurlik dat dit net ‘n storie is. Maar die menswording van Jesus Christus is nie net ‘n storie nie – dit het regtig gebeur.  Omdat die afstand tussen God en die mens oneindig is, was Jesus se menswording ‘n groter sprong as vir die prins om ‘n ondier te word… of as vir ‘n engel om ‘n wurm te word.

 

Toe Jesus aarde gekom het, het Hy Homself leeg gemaak of ontledig (v.7). Dit beteken nie dat Hy sy Goddelikheid verloor het, of dat Hy sy gelykheid met die Vader prysgegee het nie.  Toe Jesus op die aarde was, was Hy nogsteeds alwetend sodat Hy mense se harte geken het (Jh.2:24-25); Hy was nogsteeds almagtig sodat Hy die wind en die see beheer het (Mt.8:26-27); Hy was nogsteeds volmaak heilig sodat Hy nie sonde gedoen het nie (1 Pt.2:22).  Die volheid van alles wat God is, het in Hom gewoon (Kol.1:19, 2:9).

 

Dat Hy Homself ontledig het beteken eerder dat Hy sy hemelse rykdom en heerlikheid verlaat het (Jh.17:5, 2 Kor.8:9). Hy het sy hemelse troon verruil vir ‘n krip en ‘n kruis.  Verder het Hy ook die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe prysgegee.  Hy het bv. nie sy almag gebruik sonder die Vader se toestemming nie (Mt.4:3-4, Jh.5:19).

 

Die Griekse woord vir ‘ontledig’ [kenoō] kom net op vier ander plekke in die Nuwe Testament voor (Rm.4:14, 1 Kor.1:17, 9:15, 2 Kor.9:3).  Dáár beteken dit om iets waardeloos te maak, sodat dit sy betekenis verloor.  Paulus bedoel dan eintlik dat Jesus Homself niks gemaak het of dat Hy Homself verneder het (v.5, 7, Jes.40:17).

 

Hy het nie as ‘n belangrike koning na die aarde toe gekom nie; Hy het die gestalte (Gk. morphē) van ‘n slaaf aangeneem (v.7).  Mense het Hom verag (Jes.53:3).  Alhoewel Hy die Here en Meester was, het Hy Hom soos ‘n slaaf neergebuig en die dissipels se voete gewas (Jh.13).

 

Sosiaal en ekonomies was Hy ook op die laagste trappie. Hy het nie ‘n huis gehad nie (Mt.8:20).  Wat Hy gehad het was geleen:  die krippie waarin Hy gebore is, die boot waarin Hy gepreek het, die muntstuk wat Hy gebruik het om iets te illustreer, die donkie waarop Hy gery het, die bovertrek waarin Hy die Paasfees gevier het en die graf waarin Hy begrawe is.  Toe Hy dood is het Hy niks gehad nie – selfs sy klere is verdeel.  Hy het inderdaad die gestalte van ‘n slaaf aangeneem (v.7).

 

Hy het nie maar net ‘n menslike liggaam soos ‘n oorpak aangetrek nie, maar het volkome mens geword soos ek en jy. Hy was volkome God en volkome mens in een Persoon.  As mens het Hy soos ons gelyk, sodat Judas Hom met ‘n soen moes uitwys.  Hy was in elke opsig soos ons, behalwe dat Hy nie gesondig het nie (Heb.2:17, 4:15).

 

Hy het gegroei en geleer (Lk.2:52, Heb.5:8). Hy het vaak geword en geslaap (Mk.4:38).  Hy het honger en dors geword (Mt.4:2, Jh.19:28).  Hy het hartseer geword en gehuil (Lk.19:41).  Hy het angstig geword (Mt.26:38).  Hy het gesterf (v.8).  Wat ‘n vernedering moes dit nie vir die sondelose Seun van God gewees het om soos ‘n misdadiger onder sy Vader se vervloeking aan ‘n kruis te sterf nie (v.8, Gal.3:13)?  En tog het Hy dit gedoen uit liefde vir sondaars.

 

As Jesus Homself dan só verneder het, is dit mos nie te veel gevra om iemand anders en sy belange bo jou eie te stel nie? Is dit regtig so erg as dinge nie op jou manier gedoen word nie, of as iemand jou nie erken het nie?  Hoekom pla dit jou so baie as iemand jou nie gegroet het nie, of as hulle nie vir jou dankie gesê het nie?

 

As Christene moet ons mos nie soos die wêreld wees nie, maar soos Jesus. In die wêreld is dit elkeen vir homself en die duiwel vir die res.  In die wêreld gee die baas nie om of die mense wat onder hom werk hulle kinders se skoolfondse kan betaal of nie – solank hy sy BMW X5 kan ry en oorsese vakansies kan hou.

 

In die wêreld hou mense van jou as jy hulle kan bevoordeel. Sodra jy egter in die pad van hulle doelstellings staan, sal hulle van jou ontslae raak.  Die tipiese Hollywood huwelik werk so.  ‘As ek jou kan hê, sal dit my beter laat lyk.’  Dit is hoe hulle dink.  En dan hou die huwelik ook net totdat daar iemand mooier, ouliker, jonger of ryker oor hulle pad kom.

 

Ons moenie so wees nie, maar moet ander mense se belange bo ons eie stel (v.3-5). Ek het vriende wat hulle vakansie prysgegee het om ‘n arm sendeling te help.  Dít is die tipe dinge waarvan Paulus hier praat.  Dit is tog wat Jesus gedoen het (v.6-8, Rm.15:3).  En wie aan Hom behoort moet soos Hy lewe (v.5, 20, 30, 1 Jh.2:6).

 

Hoe kan jy in hierdie opsig soos Jesus wees? Wees bereid om jou regte en voorregte prys te gee om ander te dien (v.6).  Gee jou tyd, geld, aandag en vaardighede as jy moeg is, nie lus het om nou na ander se probleme te luister nie, uitgesien het om op die bank te lê en TV kyk, van plan was om ‘n Sondagmiddag slapie te vat, ‘n lang dag by die werk gehad het, alleen saam met jou familie wou kuier, jouself wou bederf en vir jou iets lekker wou koop.  As Jesus sy lewe vir ons gegee het, kan ons sekerlik in die middel van die nag opstaan om ‘n huilende kind of ‘n gelowige in nood te help.

 

En tog sal dit nie gebeur as die Here nie eers jou hart verander het nie. Om ander mense met ‘n nederige hart te dien, moet jy jouself eers voor die Here verneder.  Jy moet jouself verloën (Lk.9:23).  Om dit reg te kry moet jy jouself in die lig van God se heiligheid sien, want solank as wat jy jouself aan ander mense meet sal jy dink jy is beter as hulle.  As jy jouself aan God se standaarde meet, sal jy besef dat jou hart vol van hoogmoed, jaloesie, bitterheid, wellus en ander sondes is.  Jy sal besef dat jou beste dade met selfsugtige motiewe besoedel is.  Dus sal jy nie net berou hê oor jou sonde nie, maar ook oor jou goeie dade.

 

As jy dan sien hoe volmaak en vol van goedheid Jesus is, en hoe Hy uit liefde vir sondaars bereid was om hulle straf op Homself te neem aan die kruis, sal jy jammer wees dat jy so teen Hom gesondig het. Jy sal wonder hoekom jy ooit vir jouself gelewe het as Hy so goed was vir jou.  Jy sal van die sonde in jou hart ontslae wil raak en jou rug op jou eie goeie werke en pogings wil draai (Fil.3:4-9).  Uiteindelik sal jy in desperate frustrasie besef dat jy nie van jou sonde ontslae kan raak nie.  Jy sal besef dat Jesus jou enigste hoop is om vergewe te word, en dan sal jy na Hom toe uitroep.  En jy sal nie teleurgesteld wees nie.

 

Nóú kan jy begin om ander bo jouself te stel, omdat jy gesien het dat jy nie so wonderlik is soos wat jy nog altyd gedink het nie. Jy het besef dat Jesus die wonderlikste Persoon in die wêreld is, en daarom wil jy soos Hy wees.  As jy Hom net kan liefhê en verheerlik dan sal dit jou hart bly maak.

 

As jy vir die gemiddelde Afrikaner vra waaroor Kersfees gaan, kan hy vir jou sê dat dit oor die geboorte van Jesus gaan. En tog vier ons dit nie so nie.  Ons is bereid om iets vir iemand te doen, maar nie as dit vir ons ongerieflik is of inmeng met ons planne nie.  Maar gaan Kersfees nie juis oor Jesus wat sy eie gemak prysgegee het om ander te dien nie (v.6-7)?  En moet ons nie soos Hy wees nie?

 

[1] Sien notas op Fil.2:6 in A.T Robertson, Word Pictures in the New Tesament en Marvin Vincent, Vincent’s Word Studies