Die boek wat die wêreld verander het

bible-and-key

Die topverkoper-boeke in die geskiedenis sluit onder meer boeke soos die volgende in: A Tale of Two Cities deur Charles Dickens, J.K. Rowling se Harry Potter reeks en The Hobbit deur J.R.R. Tolkien.  Nie een van hulle kom egter naby die Bybel nie wat meer as 5 biljoen kopieë verkoop het nie.  En dan praat ons nie eers van die sagte kopieë op mense se rekenaars, tablette en selfone nie.  Ons tel ook nie die Bybels wat by die tienduisende in die geskiedenis verbrand is nie.

 

Geen ander boek word so gevrees en gehaat nie. Geen boek is lewend en kragtig om deur die werking van die Heilige Gees mense se harte en lewens te verander nie (Heb.4:12).  Geen boek het al ooit so ‘n groot invloed op die geskiedenis van koninkryke, lande en nasies gehad nie.  En dis presies wat die die Here in Op.10 voorspel het.

 

Die engel (v.1-7)

Jan is ‘n biljoenêr. In sy testament staan daar dat sy vrou Riana die geld moet erf wanneer hy doodgaan.  Ongelukkig het sy egbreuk gepleeg en hom vir iemand anders gelos.  Hy het toe met Karen getrou en ‘n ander testament opgestel om te sê dat sý alles moet erf.  Hy het egter vergeet om in die hersiende testament te sê dat hy die vorige een herroep het.  Ná sy dood was daar groot ‘n verwarring.  Riana en Karen het daarop aanspraak gemaak dat die geld hulle s’n is.  Dit was ‘n gemors.

 

Om só ‘n gemors te vermy het die Here eers sy testament met die Jode tot niet gemaak, sodat die testament wat Hy met die kerk gemaak het vas sou wees (Heb.7:12, 8:13, 10:9, 11-12). Die eerste testament met sy tempel, priesterdom en offersisteem moes vernietig word alvorens die Here die nuwe tempel met sy priesterdom en geestelike offers effektief kon bou (1 Pt.2:5, 9).  Dit is eintlik waaroor Op.10 gaan.

 

In hfst.8-9 was daar ses engele wat elkeen op ‘n trompet geblaas het om God se oordele aan te kondig. Voordat die sewende engel in 11:15 op sý trompet geblaas het, het Johannes nog ‘n magtige engel gesien (v.1).  Uit sy beskrywing lyk dit of hierdie engel Eks.3:2 se Engel van die Here is, wat in die brandende bos aan Moses verskyn het.  Ja, die engel of boodskapper [Gk. aggelos] van Op.10:1 was die Here self.  ‘n Vergelyking met die res van die Bybel wys dit vir ons.

 

Hy het in ‘n wolk uit die hemel uit neergedaal, en bene gehad soos kolomme van vuur (v.1, vgl. 1:15, Eks.13:21-22, Dn.10:6). Daar was ‘n reënboog bo sy kop (v.1, vgl. 4:3, Esg.1:26-28).  Sy gesig het soos die son geskyn (v.1, vgl. 1:16, Mt.17:2, Dn.10:6).  Hy het ‘n boekrol in sy hand gehad (v.2, vgl. 5:7).  Die boekrol was oop (v.2, vgl. 5:3-5).  Sy stem het geklink soos ‘n leeu wat brul (v.3, vgl. 5:5, Am.3:8, Hos.11:10).  Dit was soos sewe donderslae (v.3, vgl. Ps.29, Job 37:1-5).  Hy het ‘n boekrol vir Johannes gegee (v.8-10, vgl. Esg.3:1-3).  Soek maar gerus die verwysings op om te sien dat die Engel in Op.10 die Here self is.

 

Wat beteken al hierdie dinge? Die boekrol in sy hand was klein om te wys dat daar nie baie oor was wat vervul moes word nie; die tyd was naby (v.2, 6).  Die boekrol was oop, omdat Hy die seëls gebreek het, sodat die inhoud daarvan vervul kon word (v.2, 6:1-17, 8:1).  Die boekrol was eintlik ‘n testament wat gesê het dat Jesus die erfgenaam van die Koninkryk was; Hy sou die nasies as sy erfdeel verkry het (11:15, Ps.2:8).  Sy voete op die see en die land bevestig dit (v.2, Mt.28:18, Ef.1:22).  Die land en die see is hier ook simbolies van Israel in die Beloofde Land, en die heidene oorkant die see (17:15, Ps.65:8, Jes.17:12-13).  Jesus besit beide.

 

Die sewe donderslae het die storm van God se oordeel oor sy vyande aangekondig (v.3-4). Die Here het vir Johannes gesê om nie die inhoud daarvan neer te skryf nie, maar om dit te verseël (v.4).  Anders as die res van Openbaring, was hierdie dinge nie vir die nabye toekoms bedoel nie (v.6, 1:1, 3, 22:10), maar vir die verre toekoms (v.4, vgl. Dn.8:26, 12:4, 9).  God het besluit dat dit nie vir die kerk nodig was om hierdie dinge te weet nie (Dt.29:29).

 

Die Engel het sy regterhand na die hemel toe uitgestrek en ‘n eed gesweer by Hom wat ewig lewe en alles gemaak het (v.5-6). ‘Kan hierdie Engel dan regtig die Here wees?’ wonder party mense.  Ja.  In Dt.32:40-41 sê die Here:  “Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê:  So waar as Ek ewig leef – as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.” (sien ook hoe die Here in Heb.6:13-18 by Homself sweer).

 

Wat het die Engel gesweer? God sou nie langer sy oordele oor die kerk se Joodse vervolgers uitgestel het nie (v.6, 6:10-11, Hab.2:3).  Die tyd vir die sewende engel om met trompetgeskal die verwoesting van die tempel aan te kondig was ryp (v.7, 11:1-2, 15, 17-18).  Dis wat die Engel in v.7 met die vervulling van God se geheimenis bedoel het.  Die geheimenis was dat die Here nie meer net die God van die Jode was nie, maar van die Jode en die heidene wat in Jesus glo (v.11, 11:15, Rm.11:25, 16:25-26, Ef.3:3-9, 2:11-22, Kol.1:26-27, Mt.10:5-6, 15:24, 28:19).  Om sy nuwe tempel te bou moes Hy eers die ou een verwoes het.  God het die bou van sy nuwe tempel deur die profete voorspel (v.7, Sg.6:12-13, 15).

 

Die boekrol (v.8-11)

Ek het nog net eenkeer in my lewe ‘n heuningkoek geëet. Ek het nie geweet dat ‘n mens die was moet uitspoeg nie.  Ek het dit ingesluk en ‘n verskriklike maagpyn gekry.  Die heuningkoek was soet in my mond, maar bitter in my maag.

 

En dit is hoe die Woord van God vir Esegiël en Johannes was: soet in die mond, maar bitter in die maag (v.8-10, Esg.3:1-3, 14, Ps.19:11, 119:103).  Wat beteken dit?  Dit was vir hulle ‘n vreugde en ‘n voorreg om die Woord van God te verkondig (Jer.15:16).  Hulle droefheid oor die Jode se sonde was egter soos die bitter pyn op iemand se maag as hy te veel groen perskes geëet het (Jer.15:17).

 

Esegiël het die verwoesting van Jerusalem in 586 v.C. deur die Babiloniërs voorspel, terwyl Johannes die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeine voorspel het. As Esegiël sy boodskap aan die heidene verkondig het, sou hulle geluister het (Esg.3:5-6).  Maar die hardkoppige Jode was nie bereid om na hom te luister nie (Esg.3:7).  So was dit ook in die Nuwe Testament:  die Jode wou nie na God se Woord geluister het nie, en dus het Hy sy boodskappers na die heidene toe gestuur (v.11, 5:9, 7:9, 11:15, Mt.21:43, Hd.13:45-48, 18:5-6, 28:28).

 

Ek het reeds geïmpliseer dat die boek wat Johannes geëet het, die evangelie van die Nuwe Testament was. Dít is die boek wat die wêreld verander het, en nogsteeds besig is om dit te doen.  Soos ek nou-net gewys het, was Israel se ongehoorsaamheid grootliks verantwoordelik hiervoor.  Paulus onderstreep dit:  “Ek vra dan:  Het [Israel] miskien gestruikel om te val?  Nee, stellig nie!  Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom” (Rm.11:12).

 

My en jou bekering is die direkte gevolg van die Jode se ongehoorsaamheid: die evangelie het van hulle af weggedraai na ons toe.  Alhoewel dit nie hulle ongehoorsaamheid verskoon nie, het daar deur hulle verwerping en verharding redding vir die wêreld gekom (Rm.11:12, 15, 25).  Dit is ook die boodskap van Op.10.

 

As die Jode se verwerping dan soveel seën vir die wêreld beteken het, sal hulle bekering in die toekoms sekerlik ‘n herlewing ontketen wat soos ‘n onblusbare vuur oor die aarde versprei.  Is dit nie miskien wat Paulus in Rm.11:12, 15 bedoel het nie?

 

“En as [die Jode se] val die rykdom van die wêreld is en hulle [mislukking] die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! … Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?”

 

En het Jesaja nie gesê “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” nie (Jes.11:9)?

 

Ons gebede is gans te klein. Wanneer ons bid dink ons net aan vandag, ons eie probleme, en die era waarin ons lewe.  Ons bid selde vir die verspreiding van die evangelie in die wêreld en vir die redding van die geslagte wat nog gebore moet word.  En tog is dit hoe Jesus wil hê ons moet bid:  “laat u koninkryk kom” (Mt.6:10).

 

Ons dink nie genoeg daaraan dat die volgende geslag partykeer eers die vrugte pluk van dit wat ons in gebed gesaai het nie.  William Tyndale is ‘n goeie voorbeeld hiervan.  Hy was verbied om die Bybel in Engels te vertaal, en het met sy lewe geboet.  Sy laaste woorde op die brandstapel was:  ‘Lord, open the king of England’s eyes!’  Die eindste koning Henry VIII wat toegelaat het dat hy verbrand word, het later toestemming gegee dat die Engelse Bybel verkoop en versprei mag word.[1]  Vandag nog eet mense die soet vrugte van Tyndale se vertalingswerk en gebede.

 

Ek wil jou aanspoor om soos hy te bid. Bid vir die verspreiding van die evangelie in ons land.  Bid dat die kerk ‘n effek in die samelewing sal hê.  Bid vir ons regering, sodat ons rustig mag lewe en nie verhinder sal word om die Here te dien nie (1 Tm.2:1-2).  Bid dat jou kinders, kleinkinders en die geslagte wat kom die Here mag ken.

 

Bid dat God se Koninkryk tot aan die eindes van die aarde sal strek: “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Ps.72:8).  Bid dat die Here evangelie-predikers sal opwek en uitstuur (Mt.9:38).  Bid dat die evangelie nie sal uitsterf soos die renosters nie.  Dit kan tog nie gebeur nie.  Jesus se woorde was:  “Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Mt.16:18).

 

Bid dat die Heilige Gees ‘n werk van herlewing sal doen in ons gemeente, land en wêreld. Bid dat Hy ons harte sal deurdrenk soos na ‘n goeie reënbui in die lente.  “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê:  Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.  Daarom sê Ek vir julle:  Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” (Mk.11:23-24).

 

Ek dink nie Jesus sê letterlik ons moet bid vir die Drakensberge om in die see te spring nie. Dit gaan hier oor die vordering van sy werk.  “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  Wie is jy, groot berg?  Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word!” (Sg.4:6-7).

 

Ek glo dat Bybelse Christenskap uiteindelik die oorheersende godsdiens in die wêreld sal wees. Jesus en die evangelie sal suksesvol wees.  Charles Spurgeon het gesê:  ‘Oh!  Spirit of God, bring back thy Church to a belief in the gospel! … The Gospel must succeed; it shall succeed; it cannot be prevented from succeeding; a multitude that no man can number must be saved.’[2]

 

Toe Jesus op die aarde was het Hy net ‘n handjievol dissipels gehad. Maar dit het nie so gebly nie.  Die piepklein mosterdsaadjie van die Koninkryk is besig om te groei, sodat dit uiteindelik groter sal wees as enige plant in die tuin van die wêreld (Mt.13:31-32).  William Carey het gesê:  ‘[Christ] must reign, till Satan has not an inch of territory.’[3]

 

Die rots van Christus se Koninkryk het alreeds die magtigste wêreldryke verpletter. Waar is die Babiloniërs?  Waar is die Meders en die Perse?  Waar is Aleksander die Grote?  Waar is die Romeine met hulle keisers?  Hulle het verdwyn soos stof wat deur die wind weggewaai word (Dn.2:35).  Maar Christus se Koninkryk sal groei, sodat dit ‘n berg word wat die hele aarde vul (Dn.2:35, 44-45).

 

Moenie pessimisties wees oor die evangelie nie. Die Heilige Gees het dit op verskillende tye in die kerk se geskiedenis gebruik om lande en kontinente om te keer:  Paulus en die twaalf apostels in die eerste eeu, die Kerkvaders in die eeue wat daarop gevolg het, Luther, Calvyn, Latimer, Tyndale, Knox, Zwingli en ander in die 14de eeu, die Puriteine in die 15de eeu, Whitefield, Wesley en Jonathan Edwards in die 1700’s, Spurgeon in die eeu ná hulle.

 

Hoekom het lande soos Engeland, Amerika en selfs Suid-Afrika vir eeue lank voorspoed en sukses geniet? In sy boek How Christianity Changed the World het Alvin Schmidt onteenseglik bewys dat dit die evangelie was wat die wêreld verander het.  Ek glo dat die klein boekrol van Op.10 in die toekoms nog die wêreld sal verander.

 

Maar vir nou moet ek vra of die Heilige Gees al jou hart deur hierdie boek verander het?  Het die evangelie van Jesus se kruisdood vir sondaars enigsins ‘n verskil gemaak in die manier waarop jy vroue behandel, ander mense in ag neem sodat jy hulle besittings, seksuele reinheid en lewens respekteer?  Het dit ‘n verskil gemaak in hoe jy jou vrou liefhet, jou man respekteer, jou kinders grootmaak, jou ouers gehoorsaam, jou baas en onderwyser eer sodat jy jou werk goed doen?

 

Hoe het dit jou gesindheid teenoor ou mense en kinders, die siekes en die armes beïnvloed? Het dit die manier verander hoe jy dink oor geld en vermaaklikheid en ontspanning?  Watse verskil het dit gemaak in jou houding teenoor die regte van die ongeborenes?  Laat hierdie boek so deel word van jou soos die kos wat jy eet.  Lees dit biddend en met ‘n verwagting dat die Here jou hierdeur sal verander.

 

[1] J.H. Merle D’Aubigné, The Reformation in England, pp.347-349

[2] Aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.238

[3] Ibid, p.141

Advertisements