‘n Gebed vir 2017

prayer-focus-for-2017

Oor die afgelope klomp jare het ek my voornemens vir die nuwe jaar in gebedsversoeke verander. Vandat ek dít begin doen het, het die Here my nog elke keer gehelp om dit suksesvol uit te voer.  2 Ts.1:11-12 is ook ‘n vers wat ek gereeld vir myself en vir die gemeente bid.  Let op die woord ‘resolve’ (Afr. voorneem) in v.12:

 

“…we always pray for you, that our God… may fulfill every resolve for good and every work of faith by his power, so that the name of our Lord Jesus may be glorified in you, and you in him, according to the grace of our God and the Lord Jesus Christ.” (ESV).

 

Hierdie jaar bid ek om die Here se liefde beter te verstaan. Daarom het ek besluit om vandag Ef.3:14-21 te preek.  Al is dit nie noodwendig jóú voorneme vir 2017 nie, hoop ek dat dit vir jou soos koue water in die woestyn sal wees.

 

Die God van gebed (v.14-15)

‘n Paar jaar gelede het my vriend ‘n reeks deur die Onse Vader gepreek.  Hy het ‘n geweldige ervaring van die Here se liefde en sorg gehad toe hy sy Vaderskap verstaan het.  Dit het vir hom meer vrymoedigheid in gebed gegee.  Omdat Paulus dit verstaan het, het hy ook met vrymoedigheid na die troon van genade toe gekom.  Dit is die sentrale punt van v.14-15.

 

Die Efesiërs het God se wonderlike verlossing ervaar (hfst.1-3). Paulus se gebed was dat hulle meer hiervan sou verstaan het (v.14-19).  Om sy eerbied en desperaatheid te wys, het hy voor die Here gekniel (v.14, vgl. 2 Kron.6:13, Dn.6:10, Mt.15:25, Lk.5:8, 22:41, Hd.9:40, 20:36, Fil.2:10).  Volgens Jesus se eie voorbeeld en lering het hy tot die Vader gebid (v.14, Mt.6:6, 9, 7:11, 26:39).  Ons gebede is tot die Vader, deur die Seun wat in ons plek staan, in die krag van die Heilige Gees wat ons help om te bid (v.14, 16, 17, 2:18).

 

Die Vader is die Een van wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam ontvang (v.15). Wat beteken dit?  Miskien bedoel Paulus dat die tipiese familie-patroon van ouers en kinders van God af kom:  Hy is ons Vader en ons is sy kinders.  Of dalk bedoel hy dat die gelowiges in die hemel en dié wat nog op die aarde is, God as hulle Vader het.

 

Daarom kan ons met vrymoedigheid tot Hom bid (Heb.4:16). Vrymoedigheid beteken nie dat ons disrespekvol is nie.  Paulus was vrymoedig genoeg om God sy Vader te noem, maar respekvol genoeg om sy knieë voor Hom te buig.  Die punt is nie dat jy nie mag loop of staan wanneer jy bid nie (Lk.18:13-14, Mk.11:25), maar eerder dat jy die Here se grootheid en jou nietigheid moet erken (Ps.95:6).

 

Dink dan vir ‘n paar minute oor sy grootheid en aanbid Hom voordat jy vir enigiets vra. Dit sal help as jy ‘n Psalm of ‘n ander Skrifgedeelte oor God se liefde, grootheid, Vaderskap, Wese, ens. oordink.

 

Dink ook daaraan dat God jou Vader is. Hy is beter as enige aardse pa.  Hy is volmaak en sal nooit iets doen om jou te benadeel nie.  As jy dít onthou, sal dit jou help om vrymoedigheid te hê wanneer jy bid.  Die Here wil, kan en sal jou help.  Al wat Hy van jou vra is dat jy in sy Seun moet glo.

 

Die inhoud van gebed (v.16-19)

Paulus se gebed is soos ‘n leer met vier trappe: elke trap help jou om hoër te klim, sodat jy bo kan uitkom.  Paulus het gebid dat die Efesiërs geestelik versterk sou word (v.16), dat Christus in hulle harte sou woon (v.17), dat hulle krag sou hê om sy liefde te verstaan (v.17-19a), dat hulle met die Here gevul sou word (v.19b).  Om die hoogste trap te bereik, moes hulle die eerste drie geklim het.  Kom ons klim hulle een vir een.

 

[1] Paulus het gebid dat God die Efesiërs geestelik sou versterk het in ooreenstemming met die rykdom van sy heerlikheid (v.16). Hierdie rykdom was onbeperk en kon nie uitgeput word nie (v.16, 8, Rm.11:33, Fil.4:19, Kol.1:11).  Daar was genoeg voorraad, sodat die Here hulle deur sy Gees kon versterk het (v.16).  Paulus het nie bloot vir die uiterlike versterking van siek of ou gelowiges gebid nie, maar vir die Here se innerlike versterking (v.16, 6:10, 2 Kor.4:16, Fil.4:13).

 

[2] Paulus het gebid dat Christus in die Efesiërs se harte moes woon (v.17a, 2:22). Deur die Gees het Hy reeds ingetrek toe hulle tot bekering gekom het (Rm.8:9, Gal.2:20), maar die huis van hulle harte het nog nie gelyk soos wat Hy daarvan gehou het nie.  Die gekraakte mure, stukkende teëls, druppende plafon en spinnerakke van sonde het aandag nodig gehad.  Deur die krag van die Heilige Gees was Hy besig om die huise van hulle harte reg te maak en te versier, sodat dit ‘n aanneemlike tuiste vir Hom kon wees.

 

[3] Paulus het gebid dat die Efesiërs krag sou hê om die onmeetbare dimensies van Christus se liefde te verstaan (v.17b-19a). Hulle was alreeds in die vrugbare leemgrond van sy liefde gewortel, en op die stewige fondasie daarvan vasgesement (v.17).  Nou moes hulle nog meer versadig geword het met die reën van sy liefde; Jesus wou die mure van hierdie tempel met die edelstene van sy liefde versier het (v.18).

 

Brute breinkrag was nie genoeg om hierdie liefde te verstaan nie (v.18-19). Saam met die res van die gemeente het hulle die bonatuurlike krag van die Heilige Gees benodig om iets van die breedte, lengte, hoogte en diepte van Jesus se liefde te verstaan (v.18-19, 16, Rm.5:5).

 

‘n Ondervinding wat Jonathan Edwards se vrou Sarah gehad het, illustreer wat ek bedoel. Só het sy dit beskryf:

 

‘…all night I continued in a constant, clear, and lively sense of the heavenly sweetness of Christ’s excellent and transcendent love… I seemed to myself to perceive a glow of divine love come down from the heart of Christ in heaven into my heart in a constant stream, like a stream or pencil of sweet light… there seemed to be a constant flowing and reflowing of heavenly and divine love, from Christ’s heart to mine and I appeared to myself to float or swim in these bright, sweet beams of the love of Christ, like the motes swimming in the beams of the sun, or the streams of light which come in at the window. My soul remained in a kind of heavenly elysium [paradise].’[1]

 

Die Here het vir haar siel die krag gegee om Christus se liefde te geniet. Wat Sarah Edwards beleef het, help ons om iets van Paulus se woorde te verstaan.

 

[4] Paulus het gebid dat die Efesiërs gevul sou wees met die volheid van God (v.19b, 4:13, 5:18, Jh.14:21, 23): met die Vader (v.14), die Seun (v.17, 19a) en die Heilige Gees (v.16).  Hy het basies gebid dat die Efesiërs geestelik volwasse sou word.  Om dit te bereik moes hulle die Here se liefde geken het (v.18-19).  Wat bedoel ek?

 

‘n Kind wat in ‘n liefdvolle huisgesin grootword, het ‘n beter kans om volwasse te word as een wat in ‘n huis lewe waar die ouers en kinders mekaar haat. En so is dit ook in die geestelike realm:  as jy in die warm atmosfeer van Jesus se liefde grootword, sal jy wees soos ‘n plant in ‘n kweekhuis – jy sal groei en later ook volwasse word.

 

Om volwasse te word in die Here se liefde móét jy bid soos wat Paulus in hierdie verse gedoen het.  Jy kan nie net vir jou kind se eksamen, jou ma se siekte, ‘n veilige reis Kaap toe, genoeg geld om deur die maand te kom en ‘n ander werk bid nie.  Dit is nie verkeerd om hiervoor te bid nie, maar jy kan nie daar ophou nie.  Jy moet ook (en eintlik hoofsaaklik) vir geestelike dinge bid.  Bid die gebede aan die begin van Paulus se briewe.  Bid vir:

 

[a] Blydskap, vrede en hoop (Rm.15:13).

[b] ‘n Dieper kennis van God en die wysheid om daarvolgens te lewe (Ef.1:17).

[c] ‘n Toenemende liefde en die vermoë om te kan onderskei (Fil.1:9).

[d] ‘n Heilige lewe wat die Here verheerlik (Fil.1:10-11).

[e] Krag en geduld om te volhard (Kol.1:11).

[f] Hulp om jou goeie voornemens en werke van geloof uit te voer (2 Ts.1:11).

[g] ‘n Hart wat die Here liefhet (2 Ts.3:5).

 

Die innerlike krag om hierdie dinge te doen kom nie van onsself af soos wat die Buddhiste en die New Age beweging glo nie. Dit kom van die Here af (v.16).  Ons het veral die Heilige Gees se krag nodig om Jesus se liefde te ken (v.18-19).  Hoe maklik betwyfel ons nie die Here se liefde wanneer dit met ons sleg gaan nie?  Bid dan vir die krag om dit te verstaan.

 

Moet asb. nie daarvoor bid as jy van plan is om in 2017 van die gemeentelike samekomste af weg te bly nie (ek praat nie hier van iemand wat by die gelowiges wil wees, maar te siek is om uit te kom nie).  Om die Here se liefde te ervaar moet ons dit saam met ander gelowiges geniet (v.18).  Jy gaan dit nie deur ‘n mistiese ervaring in ‘n grot of ‘n klooster kry nie.

 

Maar dit gaan ook nie soos golwe oor jou spoel net omdat jy in ‘n erediens was nie. Jy moet deur geloof na die kruis toe kom as jy die soet heuning van sy liefde wil proe (Rm.5:8, Gal.2:20, Ef.5:2, 1 Jh.3:16, 4:9-10).  Dáár sal jy sien dat sy liefde hoër is as die hemel, dieper as die hel, langer as die aarde en breër as die see (v.18, Job 11:7-9, Ps.136, 36:6, Jer.31:3, Jh.3:16, 13:1, Rm.8:38-39).  Jy sal weet dat die Here jou so liefhet soos wat Hy Homself het (Jh.15:9, 17:23).  Jy sal met ‘n dankbare hart en soos ‘n voorskoolse kind sing:

 

‘The love of Jesus is so wonderful… O, wonderful love! It’s so high you can’t get over it, it’s so deep you can’t get under it, it’s so wide you can’t get around it.  O, wonderful love!’  Jy sal die Here met jou hele hart wil liefhê, en ook jou naaste liefhê soos wat jy jouself liefhet (Mt.22:37, 39).

 

Die krag van gebed (v.20)

Charles Spurgeon se ma het vir hom gesê: ‘Ah, Charles!  I often prayed the Lord to make you a Christian, but I never asked that you might become a Baptist.’  Hy het geantwoord:  ‘Ah, mother! the Lord has answered your prayer with His usual bounty, and given you exceeding abundantly above what you asked or thought.’[2]

 

Ek weet dat Spurgeon maar net ‘n grap gemaak het, maar Paulus praat hier van dinge wat baie groter is as oor watter denominasie reg is. Hy praat van die bonatuurlike krag wat ons nodig het om Christus se oneindige liefde te ken.  En dan sê hy dat dit vir die Here baie maklik is om hierdie gebede te beantwoord – makliker as wat dit vir ons is om vir ‘n kind ‘n snytjie brood te gee (v.20, 2 Kor.9:8).  Die Here kan doen ver bo wat ons kan bid of dink (v.20).  Ons gebede en gedagtes is klein, maar die Here is groot (v.20).

 

Daar is niks wat ek en jy kan bid wat die Here nie kan doen nie (v.20, Mt.19:26, Lk.1:37). Hy kan enige gebed verhoor volgens die krag van die Heilige Gees wat in ons werk (v.20, 16).  Moet dan nie vir klein en simpel dinge bid soos om die LOTTO te wen nie.  Bid vir groot dinge bid soos om Christus se oneindige liefde te ken, en om gevul te wees met die volheid van God.  Glo dat die Here instaat is om jou te antwoord (v.20).  Die enigste beperking is die Here se almag, en daarom is daar nie ‘n beperking nie.  Dit lyk vir my of ons biddeloosheid en ongeloof die beperking is (Jk.1:6-7, 4:2).

 

Die doel van gebed (v.21)

Ek het ‘n motorfiets wedren gesien waarin die wenner met groot blydskap oor die wenstreep gery het. ‘n Paar minute daarna het een van die baan beamptes gesê dat die wenner op ‘n stadium in die resies sy voet neergesit het, en daarom gediskwalifiseer moet word.  Net so kan ons tot die regte God en vir die regte dinge bid, maar op die einde struikel omdat ons die verkeerde doel gehad het.

 

Die doel van jou gebede en die antwoorde daarop moenie wees om die lekker gevoel van God se liefde te ervaar nie, maar om die Here te verheerlik (v.21). “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.” (Jh.14:13).

 

Net soos die Here se liefde, word sy heerlikheid die duidelikste in die gemeente gesien, waarvan Christus die Hoof is (v.21, 1:22-23). Hierdie heerlikheid behoort in elke geslag en in alle gemeentes aan die Here, tot in ewigheid (v.21).  Dit sal verseker so wees:  Amen (v.21).

 

In party kerke spring mense van een ervaring na die volgende toe. Sommige bid asof die Here ‘n groot Kersvader is wat vir hulle geskenke moet gee.  Moenie so wees nie.  Fokus op die Gewer en nie op die geskenke wat Hy vir jou kan gee nie.  Dis nie verkeerd om die Here se liefde te geniet nie, maar ons moet ook nie ‘n afgod van ‘n emosionele ervaring maak nie.  ‘n Prediker van ouds het gesê:

 

‘The true-bred Christian…loves Christ for Christ… [true love] makes the soul love the gift for the Giver’s sake; it will make the soul to love the Giver without the gifts. And verily, they shall not be long without good gifts from Christ, that love Christ more than his gifts.’[3]

 

In 1762 het William Grimshaw die volgende woorde in ‘n brief gesê: ‘And now, what doth the Lord require of you, between this day and death; this new January, and the new Jerusalem?  Only love… It is heaven on earth, and heaven in heaven.  O that you may always be filled with this love, this heaven, this Christ, this God!’[4]

 

[1] Jonathan Edwards, Works: vol.1, p.lxv

[2] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, p.45

[3] Thomas Brooks, Heaven on Earth, pp.239-240

[4] Iain Murray, Pentecost Today?, p.93

Advertisements

Die dieper betekenis van Kersfees

christmas-2

In 1984 het ‘n 59-jarige vrou by ons begin werk. Sy het daar gewerk totdat my ouers in 2008 Johannesburg toe getrek het.  Sy lewe nogsteeds en kan nie lees of skryf nie.  As sy boeke gesien het, het dit vir haar soos ‘n klomp strepies gelyk.  Maar vir iemand wat kán lees het hierdie ‘strepies’ ‘n dieper betekenis.  En so is dit ook met Kersfees.  Die wêreld sien die baba in die krippie, maar weet nie wat dit beteken nie.  Jh.1:14-18 sal ons help om die dieper betekenis van Kersfees te verstaan.

 

Heerlikheid (v.14)

Kort na matriek het ek saam met ‘n vrou gewerk wat geglo het dat die mens se liggaam nie belangrik is nie, en dat die siel al is wat saakmaak. ‘n Paar jaar gelede het iemand vir my gesê dat die liggaam sonde kan doen, maar dat ‘n mens se gees nie kan sondig nie.

 

In Johannes se tyd was daar mense wat hierdie tipe dinge geglo het (sien enige goeie kommentaar op 1 Johannes). Daar was o.a. dié wat geglo het dat materiële dinge soos die menslike liggaam boos is, maar dat die mens se gees rein is.  Om hierdie rede het hulle geglo dat God nie regtig ‘n mens geword het nie, maar dat Hy net soos een gelyk het.  In Jh.1 sien ons hoe Johannes hierdie mense teëgegaan het.  ‘Die Woord het vlees geword,’ het hy gesê.  M.a.w., Hy het volkome mens geword (v.14).  Die implikasie is dat Hy nie altyd ‘n mens was nie, en ook dat Hy bestaan het nog voordat Hy aarde toe gekom het (v.1).  Hy was nog altyd saam met God en is self ook God (v.1).

 

Hoe het dit dan gebeur dat Hy ‘n mens geword het? Hy is nie gebore uit die liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou nie (Mt.1, Lk.1).  Maria was ‘n maagd toe sy deur die Gees se krag met Hom swanger geword het (Lk.1:35).  Só het die ewige Woord van God dan vlees geword (v.1, 14).

 

Sy vleeswording beteken nie dat Hy opgehou het om God te wees nie. Hy is immers Immanuel, God met ons (Mt.1:23).  Hy is een Persoon met twee nature.  Hy is en sal vir ewig volkome God (v.1) en volkome mens bly (v.14, Hd.7:56, 1 Tm.2:5, Heb.1:3, Op.1:12-16).

 

As mens het Hy vir 33 jaar op die aarde gewoon (v.14). Die Griekse woord vir ‘woon’ [skenoō] beteken letterlik ‘om ‘n tabernakel op te slaan’.  In die Ou Testament was God se tabernakel in die midde van sy volk; in die Nuwe Testament het Hy in ‘n menslike liggaam onder ons die tabernakel van sy teenwoordigheid opgeslaan.  In die Ou Testament het God se heerlikheid die tabernakel gevul (Eks.40:34-35); in die Nuwe Testament het sy heerlikheid die tabernakel van die vleesgeworde Woord gevul (v.14).

 

Johannes sê dat hy hierdie heerlikheid met sy eie oë gesien het (v.14, 1 Jh.1:1). Hy het dit in Christus se wonderwerke gesien (2:11, 11:4, 40),  asook op die berg van verheerliking (Lk.9:32, 28-29).  Dit het duidelik geword in Jesus se kruisdood en opstanding (7:39, 12:16, 23, 20:19), en ons sal dit ook by sy finale koms sien (Tit.2:13).

 

Hierdie heerlikheid bewys net weer vir ons dat die Woord God is (v.14, 1, 17:5, 5:23, Jes.48:11). Sy heerlikheid is die glansryke essensie van sy Goddelikheid.  Dit kan duidelik gesien word in sy genade en waarheid; in sy goedheid (v.14, Eks.33:18-19).  Dit is so ryk en vol dat mens dit nie kan mis nie (v.14).  Soos ‘n helder lig skyn dit uit die ewige son van die Eniggebore Seun van God (v.14, 3:16).  Niemand in die heelal is soos Hy nie:  uniek en een van ‘n soort [Gk. monogenēs].  Hy het van die Vader af na ons toe gekom (v.14, 3:17).

 

Die wêreld het Hom gesien, maar sy Goddelike heerlikheid was onder die sluier van sy menslike liggaam bedek. Daarom het hulle nie verstaan dat Hy God is nie (1 Kor.2:7-8).  En so is dit vandag nog met baie Afrikaners wat van Jesus in die krippie weet sonder om te besef wat dit eintlik beteken.  Hulle het nie ‘n Bybelse begrip van die menswording van Jesus Christus nie.

 

Verder beperk hulle ook hulle idee hiervan tot een dag per jaar, wanneer hulle op Kersdag saam met hulle ‘fanatiese’ familie kerk toe gaan. Hulle begrip van die menswording van Jesus strek nie veel verder as die bekende wysies van ou Kersliede wat hulle op RSG en in Checkers hoor nie.

 

En natuurlik gaan die wêreld hulle nie help om hierdie oppervlakkige beeld te verander nie. Hulle sal die verwarring aanhelp deur hulle films oor Kersvader – die ou man met sy rooi pak en wit baard.  Die aandag is lankal nie meer op Jesus nie.

 

Die tradisionele Afrikaner se kinders weet meer van Kersvader as van Jesus. Ons het gemaak of Kersvader regtig is, maar het gelewe asof Jesus nie bestaan nie.  Die waarheid van Jesus se vleeswording het nie ‘n impak op ons lewens gehad nie; dit het ons nie verander nie.  Ons gedagtes oor God en ons sonde, die kerk, die wêreld, ons geld en besittings, ons werk en verhoudings met ander mense verskil nie van ons ongelowige kollegas s’n nie.  Dit bewys net weereens dat die deursnee Afrikaner nie eintlik die menswording van Jesus verstaan nie.

 

Moet dan nie tevrede wees met die naakte feit van Jesus se vleeswording nie.  Die wêreld weet ook van die herders, die engele, Josef en Maria in Betlehem, die krippie en die baba, die wyse manne, die ster, goud, wierook en mirre, en ‘n jong seuntjie wat in die huis op sy ma se skoot sit.  Hulle mis egter die heerlikheid van God hierin, omdat hulle nog nie sy goedheid, genade en waarheid in hulle harte ervaar het nie.

 

Hulle het al by die krippie gestaan en ‘ag cute!’ gesê, maar het nog nie by die bloedbesmeerde kruis gaan staan en in diepe berou die trane van hulle oë afgevee nie; hulle het nog nie besef dat dit die verdiende loon vir hulle sonde is nie. Juis daarom kan hulle nie die heerlikheid van Jesus en die dieper betekenis van Kersfees sien nie.  Hulle sonde het hulle blind gemaak:  “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rm.3:23).

 

Ewigheid (v.15)

Ons leer vir ons kinders die Westminster Kategisme. Toe hulle gehoor het dat God nie ‘n begin gehad het nie, het hulle gesê:  ‘Maar Hy is dan in Betlehem gebore.’  Ek moes vir hulle verduidelik dat Hy as mens in Betlehem gebore is, maar dat Hy as God nog altyd bestaan het.

 

En dit is van hierdie vleesgeworde Woord wat Johannes die Doper getuig het (v.15, 7-8).  Sy hele bediening het hierop gefokus (v.19-36, 3:27-30).  Hy het geweet dat die Seun van God se bediening eers ses maande ná syne begin het, en dat hy ses maande ouer was as Jesus (v.15, 30, Lk.1).  En tog was die vleesgeworde Woord belangriker as Johannes (v.15, 30, vgl. Mt.11:11).  In sy Goddelikheid het Jesus lank voor Johannes bestaan (v.15, 30, 1).  Eintlik was Hy Johannes se God.

 

Daarom moet Jesus meer word en ons minder (3:30). Dit kan net gebeur as dit by ons insink dat ons in die teenwoordigheid van ‘n Wese is wat geen begin of einde het nie.  Hy is nie soos ons vasgevang in tyd nie, en word ook nie deur ruimte beperk nie.

 

Dink ook verder daaraan dat dit is wat as ‘n hulpelose baba gebore is.  Hoe moes dit gewees het om die babatjie vas te hou?  Jy sou moeilik geglo het dat die baba wat in jou arms lê die ewige God is.  Hy het aarde toe gekom om ons te red van ‘n oordeel wat so groot is soos Hy.  Laat sy ewige en oneindige liefde jou op jou knieë dwing, sodat jy Hom saam met die herders, engele en wyse manne aanbid.

 

Volheid (v.16-17)

Kom ons gestel jy het ‘n oneindige hoeveelheid energie en stamina tot jou beskikking, en jy kan nie doodgaan nie. Hoe lank sal dit jou vat om met ‘n emmer al die water uit die see uit te skep?  Miskien sal jy dit binne ‘n miljoen jaar regkry.  Maar met Jesus se die genade is dit anders:  dit is oneindig en kan nie uitgeput word nie.  As jy met die emmer van gebed uit hierdie oseaan skep, is daar nie minder genade oor nie.

 

Soos ‘n rivier wat sy walle oorstroom was Jesus vol van Goddelikheid (v.16, Kol.1:19, 2:9). Uit sy volheid het ons genade op genade ontvang, net soos wat die see se golwe eindeloos op mekaar volg (v.16).  Hierdie genade was nie net vir die Jode bedoel nie, maar vir almal – dit is, vir dié wat dit met die regterhand van geloof vat (v.16, 3:16, Tit.2:11).

 

Die wet wat God deur Moses gegee het was nie so volkome in genade soos die evangelie nie (v.17). Dit het vir die volk gesê hoe om die Here tevrede te stel, maar het hulle nie instaat gestel om dit te doen nie.  Dit was ook sonder genade vir dié wat dit oortree het.  En toe kom die Wetgewer aarde toe.

 

Hy het die wet namens ons onderhou, en ook die straf ontvang wat ons verdien het. Die genade van verlossing en die volle waarheid van die wet se skadus en tipes – die Sabbat, tabernakel en offers – het deur Jesus na ons toe gekom (v.17, Kol.2:16-17).

 

Ons kan v.17 in John Bunyan se woorde opsom:

 

‘Run John, run!’ the law demands,

But gives him neither feet nor hands (v.17a).

Far better news the gospel brings;

It bids him, ‘Fly!’ and gives him wings (v.17b).

 

Jesus is dan beter as Moses. Moses het nie self die wet gegee nie, maar het dit by God gekry (v.17).  Maar genade en waarheid is in Jesus self (v.17, Eks.34:6).

 

Kom dan na Hom toe as jy die volheid soek van alles wat goed en waar is. Die smaaklike kos, geselligheid en geskenke wat jy op hierdie dag geniet, kan dit nie vir jou gee nie – net Hý kan.  As jy in Hom glo sal jy sien dat ek die waarheid praat.  Jy sal agterkom dat Kersfees maar net die begin van sy genade is.  Jy sal ‘n ewigheid in die hemel nodig hê om die onmeetbare skatte van sy genade te ontvang:  “sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.” (Ef.2:7).

 

Maar jy hoef nie te wag tot in die hemel nie; jy kan nou al by die swaar gelaaide tafel van genade aansit. Hiér hoef jy nie skuldig te voel as jy jouself trommeldik eet nie.  Volgens die res van die Nuwe Testament sal God vir jou hierdie onskatbare genade gee om:

 

  • Aan te hou glo (Hd.13:43).
  • Die evangelie met ander te deel (Hd.14:26, 15:40).
  • Geestelik te groei (Hd.20:32).
  • Geestelike werk te doen (1 Kor.15:10, Ef.4:7).
  • Geld by te dra vir arm Christene (2 Kor.8:1, 6-7).
  • Lyding te verduur (2 Kor.12:9).
  • Troos en hoop te hê (2 Ts.2:16).
  • Innerlik versterk te word (2 Tm.2:1, Heb.13:9).
  • Vrymoedig te bid (Heb.4:16).

 

Dit is die geskenke wat God hierdie Kersfees vir jou wil gee. Genade is tog waaroor Kersfees gaan, nie waar nie?

 

Openbaring (v.18)

As jy vir baie lank getroud is, dan leer jy mekaar ken. As jou maat bv. op ‘n sekere manier na jou kyk, dan sê jy:  ‘Ek weet wat jy dink.’  Ek is seker dat jy al baie keer reg geraai het, maar ek is net so seker dat jy by tye al verkeerd was.

 

Niemand ken ‘n ander mens se gedagtes nie. Jy alleen weet wat in jou kop aangaan.  As ander mense jou gedagtes wil ken moet jy woorde gebruik om dit vir hulle te sê.  En net so is Jesus die Woord van God wat gekom het om die Vader se hart en gedagtes bekend te maak.

 

In Eks.33:18-23 het Moses die skynsel van God se heerlikheid gesien, maar in sy essensie het niemand Hom nog ooit gesien nie (v.18, 4:24, 5:37, 1 Tm.6:16). Maar toe Jesus aarde toe gekom het, het Johannes en baie ander mense Hom gesien (v.18).  Hulle het geleer dat Hy die enigste God en die Eniggebore Seun van God is (v.18).  Hy was in die Vader se boesem (v.18).  Wat op aarde beteken dit?  Dit beteken dat Hy baie naby aan die Vader was – so naby dat Hy en die Vader een is (v.1, 10:30).  Wie Hom gesien het, het die Vader gesien (14:9).

 

Baie mense wat ‘n slegte verhouding met hulle pa’s gehad het, het ‘n verkeerde idee van God. Hulle is geneig om die Vader te vermy en te dink dat hulle eerder ‘n verhouding met ‘liewe’ Jesus wil hê.  Maar om so te dink is verkeerd, en wys ook dat hulle ‘n verdraaide beeld van God het.  Jesus en die Vader is presies dieselfde en is meer identies as enige tweeling wat bestaan; hulle is een (v.18, 10:30, Heb.1:3).  Alles wat Jesus is, is die Vader ook (14:9), en daarom kan jy met vrymoedigheid na Hom toe kom.  Is dit nie hoekom Hy aarde toe gekom het nie?

 

‘Light looked down and beheld Darkness.

“Tither will I go,” said Light.

Peace looked down and beheld War.

“Tither will I go,” said Peace.

Love looked down and beheld Hatred.

“Tither will I go,” said Love.

So came Light and shone.

So came Peace and gave rest.

So came Love and brought life.

And the Word was made flesh and dwelt among us.’[1]

 

[1] Laurence Housman aangehaal in Leon Morris, The Gospel According to John, p.102 n.85

Wat leer ons uit Jesus se stamboom?

angel-oak

Ek weet nie of jy al die Hugenote monument en museum in die Kaap besoek het nie. Sommige mense stel baie daarin belang om hulle Franse familie-geskiedenis na te slaan.  Dit is nogal interessant om te lees oor waar ‘n mens se familie vandaan kom.  En tog sê die name in ‘n mens voorgeslagte nie regtig vir jou iets oor jou as persoon nie.

 

Maar met Jesus se geslagsregister is dit anders. Jy sal verbaas wees oor hoe baie ‘n mens van Hom kan leer deur net sy geslagsregister te bestudeer.  Maak asb. jou Bybel oop by Lk.3:23-38.

 

Voordat ons by die teks kom, is dit nodig vir ‘n bietjie agtergrond. Mt.1 en Lk.1 leer vir ons dat Jesus gebore is deur die kragtige werking van die Heilige Gees in Maria se baarmoeder, en nie uit die seksuele verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou nie.

 

Die mense was dus verkeerd om aan te neem dat Hy die seun van Josef was (v.23, 4:22, Mt.13:55, Jh.1:46, 6:42). Josef sou Hom natuurlik as sy eie aangeneem het, maar biologies was Jesus net die maagd Maria se seun.  Omdat Hy op dié manier gebore is, kan ons sê dat Hy volkome God en volkome mens is:  twee nature in een Persoon (Lk.1:31-32, 35, Gal.4:4, Fil.2:6-8).

 

Die feit dat Hy ‘n geslagsregister het, wys vir ons dat Hy nie maar net soos ‘n mens gelyk het nie, maar dat Hy regtig een was.  Maar hoe moet ons die verskille tussen Mt.1 en Lk.3 se weergawe van Jesus se stamboom met mekaar versoen?

 

Volgens v.23 was Eli Jesus se oupa, en volgens Mt.1:16 was dit Jakob. Net so verskil die name van Dawid af tot by Josef in die twee rekords.  Lukas volg die bloedlyn van Dawid af deur Natan (v.23-31), terwyl Matteus dit van Dawid af deur Salomo volg (Mt.1:6-16, 2 Sm.5:14, 1 Kron.3:5).  Hoe moet ‘n mens hierdie verskille verstaan?

 

In sy boek, The Virgin Birth of Christ (pp.202-209), het J. Gresham Machen ‘n baie goeie oplossing vir hierdie ‘probleem’ gegee.  Ek gaan op twee van die moontlikhede fokus.

 

[1] Moses het gesê: ‘As broers bymekaar woon en een van hulle sterwe sonder dat hy ‘n seun het, dan mag die vrou van die oorledene nie daarbuite ‘n vreemde man s’n word nie; haar swaer moet by haar ingaan en haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar sluit; en die eersgeborene wat sy baar, moet staan op naam van sy oorlede broer, dat sy naam nie uit Israel uitgedelg word nie.’ (Dt.25:5-6).

 

Hierdie reël mag miskien die rede wees hoekom die name in Matteus en Lukas se rekords verskil. In een of meer gevalle het iemand met sy broer se weduwee getrou en kinders in sy naam gehad.  Lukas sou dan bv. die biologiese pa’s se name weergee het, terwyl Matteus die oorlede broers se name opgeteken het.

 

[2] Dit mag ook wees dat Matteus vir ons Josef se stamboom gee, terwyl Lukas op Maria s’n fokus.  Kom ons gestel dat Eli Maria se pa was (v.23).  Kom ons gestel verder dat hy nie seuns gehad het nie, maar net dogters (Jh.19:25).  In daardie geval sou sy dogters dalk met iemand uit ‘n ander stam getrou het, en dan het hy sy familie-erfenis verloor.  Om dit te verhoed het die Here ‘n wet gemaak:  indien ‘n man net dogters gehad het, kon hulle nie buite hulle eie stam getrou het nie (Nm.36, 27:1-11).  Sodoende sou hulle pa nie sy familie-erfenis verloor het nie.

 

Die pa sou ook heel waarskynlik sy skoonseun as sy eie aangeneem het, sodat sy familienaam nie uitsterf nie. As dít die geval was, dan was Josef Eli se skoonseun en ook sy aangenome seun, en nie sy biologiese seun nie.  Jakob en nie Eli nie, was dan Josef se regte pa (Mt.1:16), terwyl Eli Maria se pa was (v.23).  Die implikasie is dat Lk.3 Maria se stamboom is, terwyl Mt.1 Josef s’n is.

 

Daar is nog name in Lk.3 wat met die Ou Testament rekord verskil. Sommige van die name word net anders gespel, terwyl ander nie met die geslagsregisters in 1 Kronieke ooreenstem nie.  Enige goeie kommentaar kan vir jou ‘n oplossing vir hierdie ‘probleme’ gee.

 

Ek twyfel dan nie in die minste dat Mt.1 en Lk.3 100% akkuraat is nie. Lukas sê tog vir ons dat hy hierdie dinge noukeurig ondersoek het (1:3).  En Matteus was een van Jesus se apostels wat by Hom geleer het (Mt.10:3).  Verder is die woorde van beide outeurs deur die Heilige Gees geïnspireer en daarom ook foutloos.

 

Maar ons doel is nie om só op mense se name te fokus dat ons die les mis nie. Buitendien leer die Bybel vir ons om nie oor die detail van geslagsregisters te stry nie (1 Tm.1:4, Tit.3:9).

 

Wat is dan die lesse wat die Here in hierdie hoofstuk vir ons wil leer? Daar is seker ‘n paar lesse wat ons kan leer, maar vandag wil ek op vier fokus.

 

Jesus is God

Ek het eenkeer ‘n storie gelees van ‘n universiteitstudent wat vir baie dae lank ‘n vis moes bestudeer. Hy het sy observasies neergeskryf.  In die begin het hy nie baie gesien nie.  Maar hy het opgelet en uiteindelik bladsye vol geskryf.  En so is dit ook met geslagsregisters:  om iets daaruit te kry moet ons fyn oplet.

 

Wat sien jy in Lk.3:23-38? Almal in hierdie geslagsregister het ‘n pa gehad – almal behalwe Jesus in v.23 en God in v.38.  Die punt is dan dat niemand die Here gemaak het nie, maar dat Hy die mens gemaak het.  Die punt is ook dat Jesus in sy Goddelikheid nie ‘n begin gehad het nie (v.38, Jh.1:1, 8:58, Ps.90:2), maar dat Hy as mens deur die krag van die Heilige Gees uit ‘n maagd gebore is (v.23, 1:35).  Hy is die God wat vir Adam gemaak het (v.38), maar ook die mens wat uit Adam se nageslag gebore is (v.23).

 

Adam was die seun van God deur direkte skepping: God het hom na sy beeld gemaak (v.38, Gn.5:1).  Jesus was egter van ewigheid af die Seun van God (Ps.2:7).  Adam was ‘n seun wat teen die Here gesondig het, maar Jesus ‘n Seun wat God se hart bly gemaak het (v.22).  Selfs die duiwel en sy trawante het geweet dat Jesus die sondelose Seun van God is (4:3, 9, 4:41).  Die Jode het dit egter ontken (Lk.22:70-71), en vandag nog ontken mense dit.

 

Maar as Jesus nie God is nie, kan jy nie tot Hom bid nie, kan Hy jou nie help nie, en is jy besig om sonde te doen as jy Hom aanbid. Hy kan ook nie die Middelaar tussen jou en God wees nie, omdat ‘n mens nie na God toe kan kom nie:  ons het iemand nodig wat God en mens is, sodat Hy die Een by die ander een kan verteenwoordig (Job 9:32-33, 1 Tm.2:5).

 

As Jesus nie God is nie kan Hy jou ook nie red nie, omdat geen mens ‘n ander een se siel uit die hel kan loskoop nie – net God kan dit doen (Ps.49:8-10, 16).  As Hy nie God is nie het Hy gelieg toe Hy Homself in Jh.5 gelyk gestel het met die Vader.  Sien jy dan dat dit belangrik is om te glo dat Jesus volkome God is?  Sonder dit kan jy nie gered word nie.

 

Jesus is mens

Een van my gunsteling Puriteine het gesê: ‘Life begins with a cry, and ends with a groan’.[1]  Dit is seker die fokuspunt van die mens se bestaan.  Kyk gerus na die koerant-opskrifte.  Daar gaan seker nie ‘n week (dag!) verby wat daar nie nuus is oor iemand se dood nie.  Jesus se geslagsregister sê vir ons waar dit alles begin het, en gee ook vir ons die oplossing.

 

Volgens die rekord en getalle wat ons in Gn.5, 11, 1 Kronieke, Lk.3 en die res van die Bybel het, was daar omtrent 77 geslagte en sowat 4000 jaar van Adam af tot by Jesus. Die frase wat deurlopend in hierdie geslagsregisters voorkom is ‘die seun van’.

 

Die les is dat die geslagte kom en gaan: ons word gebore en ons sterf weer.  Die mens se geboorte en dood is onder ‘n vervloeking (Gn.3:16, 19).  Juis daarom het Jesus aarde toe gekom om as ‘n mens gebore te word en weer dood te gaan.  Hy het as mens gekom om ons van hierdie vervloekte bestaan te verlos.

 

Dié wat in Hom glo hoef nie onder sy vloek te lewe en dood te gaan nie. Vir hulle is die dood ‘n wins (Fil.1:21) en het dit nie meer ‘n angel om hulle te steek nie (1 Kor.15:55).  Hulle hoef nie die dood te vrees nie, omdat Jesus dit deur sy kruisdood en opstanding oorwin het (Heb.2:15, Op.1:18).  Wanneer dit húlle beurt is om dood te gaan sal Jesus by hulle wees (Ps.23:4).  Hy is die opstanding en die lewe.  Wie dan in Hom glo sal lewe al het hy ook gesterf (Jh.11:25-26).  Wanneer Jesus weer terugkom sal Hy ook hierdie mense se liggame uit die dood uit opwek (1 Kor.15).

 

Jesus is die Messias

Ons lewe in ‘n land en era wat daar baie bedrog plaasvind. Daarom moet jy alewig jou ID-boekie met jou saamdra, dokumente sertifiseer, vewysings kry, ‘n bewys van adres hê en so aan.  En so was dit ook met die geslagsregisters in die Bybel.  As ons nie Jesus se stamboom gehad het nie, kon mense maklik gesê het dat Hy nie regtig die Messias is nie.

 

Lukas het reeds in 1:32-33 gesê dat Jesus die Koninklike Messias is: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”

 

Ook in die stamboom van hfst.3 het hy gesê dat koning Dawid een van Jesus se voorvaders was (v.31). Vir Matteus was dit die fokus van Jesus se stamboom, dat Hy die Seun van Dawid en dus ook die Koninklike Messias was (Mt.1:1).

 

Dawid het sy koningskap op 30 begin (2 Sm.5:4); sy groter Seun het ook begin bedien toe Hy omtrent 30 jaar oud was (v.23). Is Jesus se Koninklike Messiaskap nie ook die rede hoekom Juda se naam as een van sy voorvaders gelys word nie (v.33)?  Jesus is tog die Leeu uit die stam van Juda (Gn.49:8-10, Op.5:5).

 

Hy is ook die langverwagte nageslag van Adam en Eva wat gekom het om die slang se kop te vermorsel (v.38, Gn.3:15). Hy het reeds in 4:1-13, 33-36 begin om die duiwel te oorwin en het dit aan die kruis voltooi (Jh.12:31, Kol.2:15, 1 Jh.3:8).

 

Omdat Jesus dan die Messias is moet ons nie saam met die Jode vir iemand anders wag, of soos Johannes die Doper twyfel dat Hy die een is nie (Mt.11:2-3). Omdat Hy die Koning is, moet jy die knie voor Hom buig.  Moenie opsetlik met jou sonde aanhou, of dink dat jy die koning van jou eie lewe is nie.

 

As jy nie nou voor Hom wil buig nie, sal jy Hom eendag met jou eie oë sien. Jy sal op jou knieë gedwing word soos iemand wat ‘n aardbewing beleef en nie anders kán as om te buig nie (Fil.2:10).  Jou knieë sal lam word en onder jou meegee.

 

Maar as jy nou voor Hom buig, sal jy agterkom dat Hy eintlik ‘n baie goeie Koning is. Hy sal sy genade en liefde oor jou uitstort soos die somer reën wat ‘n paar maande gelede Suid-Arika se droë grond deurdrenk het.  Hy sal vir jou veg en jou teen jou vyande beskerm.  Hy sal tot jou beswil regeer en jou uiteindelik aanstel om saam en namens Hom te regeer (Op.5:10).

 

Jesus is die Verlosser

Daar is ‘n teologie oor die eindtyd wat sê dat God vir Israel uitverkies het, dat die kerk ‘n onderbreking in sy plan is, en dat God in die toekoms weer van die wêreld af gaan wegdraai na die Jode nie. Jesus se geslagregister en die res van die Bybel gee egter vir ons ‘n ander prentjie:  God het by die wêreld begin en toe die na die Jode toe gedraai.  Hy het toe na die aarde toe gekom om die wêreld te red, Jode sowel as heidene.

 

Lukas was die enigste nie-Jood wat ‘n boek in die Bybel geskryf het. Hy het sy Evangelie vir ‘n heiden geskryf:  Theofilus, ‘n Romeinse hoë-amptenaar (1:3).  Om hierdie rede het Lukas sy rekord van Jesus se geslagsregister teruggevat tot by Adam, die eerste mens en die voorvader van die mensdom (v.38).  Sy punt was om te wys dat Jesus die Verlosser van alle mense is – ook die Verlosser van heidene soos Theofilus (Jh.3:16, 1 Tm.2:4, 6-7).

 

Soos alle priesters, het Jesus sy bediening op 30 begin (v.23, Nm.4:3 e.v., Esg.1:1, 3). Dit het Hy o.a. gedoen om te wys dat Hy ons Hoëpriester is, die Een wat gekom het om die finale offer vir ons sondes te bring (Heb.5, 10).  Hy is die Hoëpriester wat bid dat dié wat in Hom glo in God se teenwoordigheid kan inkom (Heb.7:25).

 

Ons sien ook sy verlossing daarin dat Hy die laaste Adam is. Die eerste Adam het ons in die sonde gedompel (v.38, Rm.5:12), maar die laaste Adam het gekom om ons te red (v.23, Rm.5:19, 1 Kor.15:22, 45).  Hy red ons nie net van die sondige dinge wat ons dink, doen en sê nie, maar ook van die sondige natuur wat ons by Adam geërf het (2 Kor.5:17, Ef.2:1-10).

 

As die hele mensdom dan die kinders van Adam is, beteken dit weereens dat Jesus nie net die Verlosser van die Jode is nie, maar ook van die heidene. Daar is immers ‘n hele klomp nie-Jode in sy voorgeslag (v.32, 34-38, Mt.1:5).  Die punt is juis om wys dat daar nie net Joodse bloed nie, maar ook heidense bloed aan die kruis gevloei het.  Dit het gebeur om te wys dat Jesus die Verlosser van alle mense is – dit is, almal wat in Hom glo (1 Tm.4:10, ESV).

 

Is daar ‘n sonde wat Hy nie kan vergewe nie, ‘n sondaar so groot dat Jesus hom nie kan red nie? Die mense in hierdie geslagsregister het lelike dinge gedoen.

 

  • Abraham en Tera het afgode gedien (v.34, Jos.24:2).
  • Dawid het egbreuk en moord gepleeg (v.31, 2 Sm.11).
  • Juda het met sy skoondogter geslaap (v.33, Gn.38).
  • Jakob het mense bedrieg (v.34, Gn.27).
  • Noag het dronk geword (v.36, Gn.9:20-21).
  • Adam het die hele mensdom in sonde laat val en hulle dood veroorsaak (v.38, Gn.3, Rm.5:12).

 

En wat is jóú sonde dat Jesus dit nie kan vergewe nie?  Kyk met die oë van geloof na die spykermerke in sy hande en voete, en na die wond in sy sy.  Was dit tevergeefs?  Sal jy sê dat Hy lieg toe Hy in die Bybel gesê het dat Hy dit uit liefde vir sondaars gedoen het?  Mense het jou weggegooi, maar Jesus het jou lief.  Hy wil hê jy moet jou sonde los en na Hom toe kom.  As jy dít doen sal jy uitvind dat Hy nie maar net ‘n Verlosser in Naam is nie – Hy verlos regtig.

 

En as jy deur Hom gered word, sal jou naam ook in sy stamboom verskyn. Daar sal egter nie staan:  ‘Karel die seun van Pieter, die seun van Jasper, die seun van P.G., die seun van Harry, die seun van Frederick… die seun van Jesus’ nie.  Daar sal eerder staan dat Andries, Japie, Wilna, Hendrik, Nellie, Chantal, Susan, Ernie, Babs, Dewald, Adele, Roelf… almal die kinders van Jesus is.

 

[1] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.291

Die vrugtevolle lewe

grape-clusters

In die wêreld lewe mense vir rykdom, status, sukses, hulle kinders, ‘n goeie opvoeding, ander mense, hulle troeteldiere, vakansie, ontspanning, hulle toekomsplanne, aftrede en watookal anders. As hulle hierdie dinge bereik het, dan dink hulle dat hulle ‘n vol en vrugtevolle lewe gelei het.  Maar volgens Jh.15:1-17 kan net dié wat in Jesus glo ‘n vrugtevolle lewe hê.

 

Jesus se gelykenis (v.1-8)

‘n Gawe oom het laasweek en die vorige een vir ons ‘n boks perskes gebring.  Hy het vir my fotos gewys van sy ‘dooie’ perskeboom wat so baie vrugte dra, dat dit meer is as wat hy en sy liewe vrou kan gebruik.

 

‘As ek ‘n paar bokse vol gepluk het, dan lyk dit of ek nie eers ‘n duik in die boom gemaak het nie,’ het hy gesê. Klaarblyklik was die perskeboom nie dood nie, en het die takke nog meer as genoeg lewensap uit die boom se stam en wortels uit gekry.

 

En as ‘n half-gevrekte perskeboom se lewensap nog so baie vrugte kan voortbring, wonder ek hoe baie vrugte die gesonde Wingerd van Jesus kan voortbring? Natuurlik praat Jh.15 nie van sappige pers druiwe in jou mond nie, maar van die geestelike vrug van bekering.

 

Jesus en die dissipels het die bovertrek verlaat om na Getsemane toe te gaan (14:31). Dalk het hulle oppad by ‘n wingerd verbygeloop toe Jesus hierdie lering gegee het.  Jesus het gesê dat Hý die Ware Wingerd is en sy Vader die Landbouer (v.1).

 

Volgens die Ou Testament was Israel die Here se wingerd wat Hy geplant, gesnoei, bemes, versorg en beskerm het (Ps.80:9-10, Jes.5:2, Esg.19:10).  Hulle moes die soet vrug van bekering gedra het (Ps.80:9-12, Jes.5:1, 7, Jer.2:21, Esg.19:1, 10).  Maar instede daarvan het hulle die suur druiwe van sonde voortgebring (Jes.5:2, 4, 7).  Gevolglik het die Here sy wingerd aan haar vyande oorgegee:  vuur, droogte, die skroeiende oostewind, wilde varke, onkruid en dorings (Ps.80:14, 17, Jes.5:5-6, Esg.15:6-8, 19:12-14).

 

Uit die gebrande wingerd se stam het daar egter ‘n takkie gespruit (Jes.11:1): Jesus was die Ware Wingerd wat goeie en aanneemlike vrug voortgebring het (v.1, Ps.80:16, 18).  Die takke wat nie vrug gedra het nie was dus uiterlik aan Hom geheg, maar innerlik het die wingerd se lewensap nie deur hulle gevloei nie (v.2).  Judas en Israel was so, en daarom het die Landbouer hulle onder sy oordeel verwyder (v.2-3, 6, 13:10-11, 30, Jer.5:10, Mt.15:11, Lk.13:6-9, Rm.11:20).

 

Die ander takke was alreeds skoon deur die Woord van Jesus wat in hulle harte was (v.3, 1 Kor.6:11, Ef.5:26). Om hulle skoon te hou moes die Landbouer van tyd tot tyd die snoeiskêr van dissipline ingelê het, sodat hulle meer vrug kon dra (v.2, Heb.12:10-11).  Om aanhoudend vrug te dra, moes die takke deur geloof in die Wingerd gebly het (v.4, 14:20, Fil.1:11).  Geen tak wat van die Wingerd se lewensap verwyder was kon die vrug van bekering gedra het nie (v.4-5).  Sonder die Wingerd was die takke dood:  sonder Jesus kon die dissipels niks gedoen het nie (v.5).  Hulle lewe het van Hom af gekom (17:2-3).

 

Dié wat nie deur geloof in die Wingerd gebly het nie, is weggegooi en het soos dooie takke verdor (v.6). Die hout van hierdie takke was nie eers geskik vir waspennetjies of meubels nie, en het daarom in die vuur van God se oordeel beland (v.6, Esg.15:3-6, Mt.3:10, 7:19, 13:40-42, Op.20:15, 21:8).  Om vrug te dra moes die takke dan in die Wingerd gebly het en sy woorde in hulle harte bewaar het (v.7a).  As hulle dít gedoen het, kon hulle volgens sy woorde vir hulp gevra het om die vrug van bekering te dra (v.7b).  Die swaar trosse van bekering sou gewys het dat hulle ware dissipels van Jesus is (v.8b).  En tog was die dissipels se vrugtevolle lewens nie sentraal nie; die verheerliking van die Landbouer as die beste Wynboer in die heelal was (v.8).

 

Jesus se gebod (v.9-17)

‘n Sekere Prof. Sam van Aken van Syracuse Universiteit in die V.S.A. het deur ‘n proses van inenting ‘n boom gekweek wat 40 verskillende soorte vrugte dra: perskes, pruime, appelkose, kersies, amandels en nog 35 ander soorte.[1]

 

Dié boom illustreer vir ons iets van Jesus en sy kinders, omdat ons deur ons eenheid met Hom verskillende soorte vrugte dra. In Gal.5:22 gee Paulus vir ons die name van nege soorte, en in Jh.15 het ons ‘n beskrywing van verskeie soorte geestelike druiwe wat aan een Wingerd groei.

 

Om die vrug van bekering te dra moet ons in Jesus se liefde bly (v.9). Ons moet besef dat Hy ons liefgehad met dieselfde liefde waarmee die Vader Hóm liefgehad het (v.9).  In reaksie hierop moet ons Hom ook aanhoudend liefhê (v.9, 1 Jh.4:19).  Ons moet dit bewys deur sy gebooie te bewaar, net soos wat Hy die Vader se gebooie bewaar het (v.10, 14:15, Fil.2:8).  Ons gehoorsaamheid is nie ‘n vreugdelose onderhouding van wette nie, maar bring die diep en volkome blydskap van Jesus na ons harte toe (v.11, 17:13, 1 Jh.1:4).

 

Ons gehoorsaam ook nie uit vrees vir die hel nie (v.6), maar uit liefde vir God en ons naaste (v.12, 13:34-35). Jesus se liefde moet die patroon wees waarvolgens ons mekaar liefhet (v.12).  Hy het sy lewe vir sy vriende gegee (v.13, 10:11), en net so moet ons bereid wees om ons tyd, geld en lewens vir mekaar te gee (v.12, 1 Jh.3:16).

 

Wie is Jesus se vriende vir wie Hy sy lewe afgelê het? Dit is dié wat, soos Abraham, hulle liefde bewys deur te doen wat Hy vir hulle sê (v.14, Jk.2:23).  ‘Hierdie gehoorsaamheid is nie wat van hulle vriende maak nie; dit is eerder die kenmerk van sy vriende.’[2]  In een opsig kan ons sê dat die dissipels Jesus se diensknegte was wat hulle aan die Meester onderwerp het (v.20).  Maar in ‘n ander opsig was hulle meer soos vriende met wie Hy die Vader se geheime gedeel het (v.15, Mk.4:11, Gn.18:17, Jes.41:8, Eks.33:11, Ps.25:14, Am.3:7).

 

In Jesus se tyd het dissipels vir hulleself ‘n rabbi gekies, en nie andersom nie.[3]  Maar in die geval van Jesus en sy dissipels was dit anders. het die vriendskap geïnisieer en nie hulle nie.  Daarom het hulle geen rede gehad om hoogmoedig te wees toe Hy hulle sy vriende genoem het nie.  “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (v.16).

 

Hy het hulle spesifiek uitgekies om vrug te dra (v.16). Let ook op dat Hy hulle aangestel het om vrug te gaan dra (v.16).  Hy het hulle dus geroep en uitgestuur om evangelie-predikers te wees (v.16, 1 Tm.1:12).  Die vrug in hierdie vers verwys dan na ware bekeerlinge wat nie later weer wegval nie (8:31, Rm.1:13, Kol.1:6).  Vroeër in hierdie hoofstuk het die vrug verwys na die dissipels se gehoorsaamheid (v.10), liefde en vreugde (v.11-12, Gal.5:22).

 

Om die verskillende soorte vrug te dra moes die dissipels gebid het (v.16). Hulle moes in Jesus se Naam gebid het:  op grond van sy kruisdood en inlyn met sy Woord (v.16, 7, 14:13-14).  Die Vader sou hulle geantwoord het, sodat hulle die vrug van gehoorsaamheid, Christelike karakter en ware bekeerlinge gedra het (v.16).  Die vrug van onderlinge liefde het egter kop en skouers bo die res uitgestaan (v.17).

 

Hoe lyk die vrug in jou lewe? Is dit suur, omdat daar sonde is wat jy nie wil los nie?  Is dit smaakloos, omdat jy nie doen wat die Here vir jou sê nie?  Het dit ‘n verrimpelde skil, omdat jy nie ernstig is om Christelike kwaliteite na te jaag nie?  Het dit steek- en kneusplekke, omdat jy nie die evangelie met ander deel nie?  Verheerlik die vrug in jou lewe die Vader (v.8)?

 

Wat moet jy doen om volop vrug te dra, en om goeie vrugte te dra?  Jy moet een wees met die Wingerd, omdat jy sonder Hom niks is, het of kan doen nie (v.4-5).  Enige seën wat jy ervaar word in Hom en ter wille van Hom aan jou gegee (Ef.1:3).  Let op hoe die volgende dinge in Hom is:

 

[1] Heiligmaking (v.2-3, 1 Kor.1:30).

[2] Antwoorde op gebed (v.7, 16).

[3] Sekerheid van redding (v.8).

[4] Liefde (v.9-10).

[5] Vreugde (v.11).

[6] Uitverkiesing (v.16, Ef.1:4).

[7] Geregtigheid (1 Kor.1:30).

[8] Wysheid (1 Kor.1:30).

[9] Verlossing (1 Kor.1:30, Ef.1:7).

[10] Vergifnis (Ef.1:7).

[11] Genade (Ef.1:7).

[12] Jou erfdeel in die hemel (Ef.1:11).

[13] Verseëling met die Heilige Gees (Ef.1:13).

[14] Jou dood (1 Kor.15:18).

[15] Lewe in jou siel en in jou opstandingsliggaam (Rm.6:11, 23, 1 Kor.15:22, 2 Kor.5:17).

[16] Lyding en vertroosting (2 Kor.1:5).

[17] Vryheid van sonde (Gal.2:4).

[18] Aanneming in God se huisgesin (Gal.3:26).

[19] Christelike eenheid (Gal.3:28).

[20] Goeie werke (Ef.2:10).

[21] Hoop op ‘n heerlike toekoms in die hemel (Ef.2:6-7).

[22] Goddelike vrede en rykdom (Fil.4:7, 19).

[23] Geestelike volwassenheid (Kol.1:28).

[24] Geloof (1 Tm.1:14).

[25] ‘n Godvresende lewe (2 Tm.3:12).

[26] God se kosbare beloftes (2 Kor.1:20).

 

Omdat al hierdie dinge in Christus is, is dit belangrik dat jy in Hom moet wees.  En om in Hom te wees moet jy in Hom glo.  Jy moet glo dat jy niks kan doen om God se guns te wen nie, maar dat jy alleenlik op grond van Jesus se Persoon, kruisdood en opstanding aanneemlik kan wees voor God (3:16, 2 Kor.5:21, Fil.3:9).  Om in Hom te wees moet Hy in jou wees (v.5):  “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.  En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Gal.2:20).

 

Lewe jy in Jesus en Hy in jou? Is jy ‘n tak wat swaar dra, sodat die vrug in jou lewe amper op die grond hang?  Wil jy nie so wees nie, sodat God in jou verheerlik kan word en jy sy liefde en blydskap in jou hart kan hê nie (v.8-11)?

 

Om dit reg te kry moet jy sy dissipline in jou lewe aanvaar en nie teen Hom rebelleer omdat Hy jou ‘seermaak’ nie (v.2). Jy moet onthou dat ‘die Landbouer nooit nader aan die wingerd is as wanneer Hy dit snoei nie.’  Aanvaar dan die Here se dissipline met dié wete dat Hy vir jou is, en dat Hy jou belange op die hart dra.

 

Om vrug te dra moet Jesus se woorde in jou wees (v.3, 7). Jy moet dit glo, lees, hoor, daaroor nadink en dit gehoorsaam (v.9).  Vandag is daar mense in die kerk wat nie vrug dra nie, omdat hulle nie in die Bybel belangstel nie.  Hulle hou nie van sterk Bybelse prediking nie, maar verkies motiverende boodskappe wat hulle lekker laat voel.  Hulle lees ook nie graag die Bybel nie, maar soek eerder sentimentele dagstukkies op hulle selfone (solank dit nie meer as twee minute van hulle tyd steel nie).  Onder die mense wat van goeie preke hou en dit geniet om in die Bybel in te delf, kry jy sommige wat hoor maar nie doen nie.  En juis daarom dra hulle nie vrug nie.

 

Iemand wat ‘n vrugtevolle lewe soek moet daarvoor bid (v.7, 16). Sonder getroue gebed sal jy nie gehoorsaamheid, groei, Christelike karakter en bekerings sien nie.  As die Here dit sonder gebed vir jou gegee het, sal jy Hom nie daarvoor prys nie maar dink dat dit gedoen het.

 

Ek wil jou aanspoor om gereed vir hierdie dinge te bid. Bid dat die Here Gal.5:22 se vrug van die Gees in jou hart en lewe sal laat groei.  Deursoek die begin van Paulus se briewe en bid sy gebede vir jouself en vir ander.  Oor ‘n jaar of twee sal jy en die mense om jou verbaas wees oor hoe baie jou lewe verander het.  Die Here sal ook ‘n plesier daarin hê (v.8).

 

Maar as jy nié vir jou geestelike groei bid nie, sal jy soos sommige kerkmense wees wat na 20 of 30 jaar nog net so onvolwasse is soos die dag toe hulle by die kerk aangekom het. Hulle Bybelkennis het nie verdiep nie, hulle liefde vir die Here en sy kinders is flou, hulle het nie ‘n begeerte vir gehoorsaamheid nie, en hulle het nog nooit iemand na die Here toe gelei nie.  ‘n Mens wonder of hulle gered is.  Is hulle nie miskien soos Judas nie:  as lidmate van die kerk het hulle uiterlik deel aan die Here, maar innerlik is Christus se lewe nie in hulle nie (v.2, 6)?

 

Dit is dan ook hoekom hulle nie vrug dra nie (v.2). En op die einde is hulle soos Judas wat van die Here en sy liggaam af wegdraai (13:30).  Hulle stel nie belang in Christus en sy kerk nie.  Hulle name is op die lederol van die kerk, maar hulle dien nie die Here in die gemeente nie.  Hulle is die soort mense van wie nuwe en toegewyde gelowiges vra:  ‘Wie is so-en-so:  ek het hulle foto in die boekie gesien, maar ek het hulle nog nooit by die kerk gesien nie?’  Van sulke mense sê 1 Jh.2:19:  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”

 

Ware gelowiges is nie so nie – hulle bly in Jesus en val nie weg nie (v.4, Kol.1:23, Heb.3:6, 14).  Omdat hulle sy vriende is, doen hulle wat Hy vir hulle sê (v.14).  Om dan in Jesus te bly en vrugtevol te lewe is nie ‘n mistiese ervaring waarin jy met jou kop in die wolke loop en nie meer bewustelik sondig nie.  Ons glo nie in die Keswick-beweging se ‘higher life’ teologie, waarin ‘n mens passief in Jesus bly en nie aktief iets doen om vrug te dra nie.  Die Bybel leer dat jý die vrug moet dra, maar dat dit Jesus is wat dit in jou doen.  Dit is ten minste hoe Paulus dit verstaan het:  “werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Fil.2:12-13).  As jy dit nie só doen nie, sal jy nooit ‘n vrugtevolle lewe lei nie.

 

[1] https://www.youtube.com/watch?v=ik3l4U_17bI

[2] Vry vertaal uit D.A. Carson, The Gospel According to John, p.522

[3] G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.493

Bonatuurlike beloftes

holy-spirit

Wanneer ons aan die bonatuurlike dink, dan hak ons vas by wonderwerke wat ons met ons oë kan sien. Ons dink nie daaraan dat die innerlike vrede wat die Christen-martelare op die brandstapel gehad het, ook bonatuurlik is nie.  Dit o.a. met sulke dinge wat ons in Jh.14:15-31 te doen kry.

 

Bonatuurlike hulp (v.15-17)

Ons weet dat Latyn ‘n sterk invloed op verskeie ander tale gehad het. Die Engelse woord ‘comfort’ het bv. nie altyd ‘troos’ beteken nie.  Omtrent 400 jaar gelede het dit ‘n betekenis gehad wat nader aan die oorspronklike Latyn was.  Die Latynse woord confortare beteken ‘om te versterk’.  Dit is dan ook wat die woord ‘comfort’ in ou Engels beteken het.[1]

 

Wanneer die King James Version van 1611 dan van die Heilige Gees as die ‘Comforter’ praat, beteken dit nie dat Hy ons na ‘n tyd van beproewing vertroos nie, maar eerder dat Hy ons voor en gedurende die beproewing versterk sodat ons dit kan verduur.  Hy versterk ons ook vir ons geestelike dienswerk.  Ons moet dit ook in gedagte hou wanneer die Afrikaanse Bybel van die Heilige Gees as die ‘Trooster’ praat.

 

Niemand kan dit op sy eie regkry om vir Jesus lief te wees en sy gebooie te gehoorsaam nie – jy het bonatuurlike hulp nodig (v.15-16). Dit is hoekom Jesus vir die Vader gevra het om die Trooster te stuur (v.16, Hd.2:33).  Die Trooster het van die Vader en die Seun af uitgegaan (v.16, 26, 15:26, 16:7).  Die woord ‘Trooster’ [Gk. paraklētos] beteken letterlik ‘een wat langs jou kom staan’.  Die Heilige Gees staan langs ons om ons te help.

 

Jesus het gesê dat die Heilige Gees ‘n ander Trooster is (v.16).  Dit impliseer dat Jesus ook ‘n Trooster is (1 Jh.2:1, paraklētos).  Toe Hy dan weggegaan het, het Hy vir die dissipels Iemand in sy plek gegee; Iemand wat net soos Hy is.  Hy sou vir ewig by hulle gewees het en hulle nie verlaat het nie (v.16, Heb.13:5b).  Hy is die Gees van die waarheid, die Gees wat die waarheid is (v.17, 1 Jh.5:6).  Hy openbaar die waarheid van Jesus en die Bybel aan ons (v.17, 14:6, 16:13).

 

Maar omdat die wêreld Hom nie kan sien nie, dink hulle Hy bestaan nie. Hulle ken ook nie sy lieflike Persoon nie, en daarom het hulle nie ‘n begeerte dat Hy in hulle harte moet woon nie (v.17).  Hulle kan nie sy waarheid ontvang nie (1 Kor.2:14). Ons ken Hom, omdat Hy altyd by ons is en in ons harte woon (v.17).  Ons ervaar sy kragtige werking in ons en het ‘n persoonlike verhouding met Hom.

 

Die belofte van die Gees is net vir dié wat die Here Jesus liefhet en dit deur hulle gehoorsame dade bewys (v.15, Hd.5:32). Dié wat vir die wêreld wil lewe sal nie die Gees se hulp en ondersteuning hê nie (v.17).  Hulle oortuig hulleself dat die rykdom, mense, drome en toekomsplanne waarop hulle staatmaak net so betroubaar is.  Maar nie een van hierdie dinge is nie onfeilbaar nie; dit kan misluk.  Om hierop te bou is soos om ‘n klavier oor ‘n hangbrug met verrotte planke te dra.  Die mense op wie jy vertrou kan siek word, hulle beloftes breek, vergeet, jou in die rug steek of doodgaan.  Daar is baie dinge wat jou drome en toekomsplanne in die wiele kan ry.  En jou geld kan gesteel word.

 

Ons hulp en ondersteuning is ‘n beter as dit. Die Trooster wat Jesus vir ons gestuur het is nie soos jou ‘One Stop Plumber’ wat maar net ‘n telefoon oproep weg is nie.  Hy is altyd met ons en in ons (v.17).  Daarom is die krag wat Hy vir ons kan gee onmiddellik beskikbaar.  Dit is selfs beter as toe Jesus op die aarde was, en Hy net by een groep mense op ‘n slag kon uitkom.

 

Bonatuurlike lewe (v.18-20)

Waaraan dink jy as jy die woord ‘lewe’ hoor? Dink jy aan ‘n pasgebore baba?  Of miskien aan ‘n kind wat vol energie is?  Dalk dink jy aan ‘n groen vallei ná ‘n lente reënbui:  skoenlappers, veldmuise wat bessies eet, bome, eekhorings, blomme, voëltjies en ‘n glashelder rivier.  Dink jy aan iemand wat vir lank siek was en nou weer fiks en gesond is?  Sien jy iemand wat verlief en vol lewe is?  Dink jy aan iemand wat avontuurlustig is?  Of iemand wat vriendelik is en altyd ‘n sprankel in sy of haar oë het?

 

Die volste definisie van lewe waaraan jy kan dink is nie genoeg om Jesus se lewe te beskryf nie. En dit is hierdie oorvloedige lewe (10:10) wat Hy op grond van sy eie opstanding aan die dissipels belowe het.

 

Die dissipels sou nie soos weeskinders gewees het wie se ouers hulle verlaat het nie – Jesus sou ná die opstanding na hulle toe gekom het (v.18, 20:19, 26). Oor minder as 24 uur sou die wêreld Hom nie weer gesien het nie – Hy sou in die graf gewees het (v.19).  Alhoewel Hy ná sy opstanding nie aan die wêreld verskyn het nie, het die dissipels Hom gesien (v.19, Hd.10:41-42).  Deur die Gees het Jesus sy opstandingslewe – die ewige lewe – in hulle harte uitgestort (v.19).  Daardeur het Hy ook die opstanding van hulle liggame verseker (Rm.8:11).

 

As die dissipels vir Jesus ná die opstanding gesien het, sou hulle sonder twyfel geweet het dat Hy die Seun van God is (Rm.1:4). Hulle sou geweet het dat Hy in die Vader is en die Vader in Hom (v.20).  Ná sy hemelvaart sou hulle ook geweet het dat Hy in hulle is, omdat Hy dán die Heilige Gees op hulle sou uitstort (v.20, 7:39).

 

Woon Jesus deur die Heilige Gees in jou hart; het jy al sy lewe in jou hart ontvang? Nee?  Glo dan in Jesus (3:15-16, 36).  Glo dat Hy die Seun van God is.  Glo dat Hy die sondeskuld wat jy by Hom gemaak het met sy eie bloed betaal het aan die kruis.  Soos wat ‘n sambreel die reën keer en jy droog bly, het Jesus God se oordeel afgeweer sodat dit jou nie kan seermaak nie.  Glo ook dat Jesus uit die dood uit opgestaan het en sy eie lewe in jou siel kan uitstort.  Ken Hom.  Dit is mos wat die ewige lewe is, nie waar nie (17:3)?

 

Bonatuurlike openbaring (v.21-24)

Is dit moontlik om die Stille Oseaan se water in jou opslaan-swembad in te pas? Is dit moontlik om die stof van die aarde in ‘n uurglas in te pas?  Is dit moontlik om die sterre van die heelal in jou garage te bêre?  Dom vrae, nie waar nie?

 

Maar is dit moontlik vir die ewige en oneindige God om in ‘n mens se hart te woon? Ja.  So leer Jes.57:15 vir ons:  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”  Maar hoe is dit moontlik?  Ek weet nie, maar dis waar.  En dit is die punt wat Jesus in v.21-24 wil maak.

 

Weer het Jesus gesê dat gehoorsaamheid die bewys is of iemand Hom liefhet of nie (v.21, 24). Dié wat Hom só liefgehad het sou die Vader en die Seun se liefde in homself ervaar het (v.21).  In sy groot liefde sou Jesus Homself deur die Heilige Gees aan hierdie persoon geopenbaar het (v.21).

 

Judas die seun van Jakobus (Lk.6:16, Hd.1:13) het ‘n hart vir die wêreld gehad, en het daarom nie verstaan hoekom Jesus Homself nie aan die wêreld gaan openbaar nie (v.22). Was Hy nie veronderstel om die wêreld te verstom deur sy groot heerlikheid aan hulle te openbaar nie?

 

Jesus het geantwoord dat die Vader dié mense spesiaal liefhet wat die Seun van God liefhet en sy Woord gehoorsaam (v.23). Die Vader en die Seun sou deur die Heilige Gees in dié persone se harte gewoon het (v.23, 2 Kor.6:16, 1 Jh.2:24, Op.3:20).  So sou die Drie-Enige God in sy kinders gebly het.  Ons weet dat hierdie lering waar is, omdat Jesus se woorde van die Vader af kom (v.24).

 

Wat is Jesus se les in hierdie verse? Elke mens soek liefde.  Die meeste mense soek dit op die verkeerde plekke en nie in die Here nie.  Net sy liefde kan die leemte in mense se harte vul.  En dit is dié liefde wat ons moet begeer.  Ons moet bid om iets van die hoogte, lengte, breedte en diepte van Jesus se liefde te verstaan (Ef.3:18-19).  Om sy liefde te ervaar moet ons met die kaalvoete van bekering en die leë hande van geloof na die kruis toe kom, want daar sien ons die volste openbaring van sy liefde (1 Jh.4:9).

 

As jy dit eers gesmaak het, moet jy nie ophou om dit te soek nie. Jy sal nie wil nie.  Bid dan saam met Paulus om meer hiervan te ervaar.  Bid om met die Gees vervul te word (Ef.3:16, 5:18).  Bid dat Christus die huis van jou hart sal versier soos wat dit vir Hom aanneemlik is (Ef.3:17).  Bid dat God jou hart met Homself sal vervul (v.23, Ef.3:19).

 

Wees egter versigtig om nie net die ervaring te soek nie, maar vir God self (v.23). ‘Young converts…must be taught that Jesus Himself, and not the comforts He gives, is their life.’[2]  Jaag dus na liefde vir God en gehoorsaamheid aan Hom, en nie na die lekker gevoel wat Hy vir jou kan gee nie.

 

Bonatuurlike lering (v.25-26)

Oor die afgelope dekade of so het ek baie geleer oor die subjektiewe en objektiewe leiding van die Heilige Gees. Iemand wat in subjektiewe leiding glo, dink dat enige geestelike gedagte, gevoel, droom, raad van ander gelowiges, prikkeling van die gewete, of gunstige omstandighede die Heilige Gees is.  Dié wat in objektiewe leiding glo dink dat die Heilige Gees ons net deur die Bybel lei.  Watter een van die twee is reg?  Die Bybel leer vir ons dat dit ‘n kombinasie van die twee is (sonder dat ons in nuwe openbaring glo).  Maar in v.26 gaan ons meer op die objektiewe leiding van die Gees fokus.

 

Jesus wou hierdie dinge vir die dissipels gesê het terwyl Hy nog by hulle was (v.25). Daar was nog ander dinge wat Hy vir hulle wou gesê het, maar hulle sou dit eers ná sy opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees verstaan het (v.26, 16:12-13, 2:22. 12:16).  Soos wat Jesus in die Vader se Naam gekom het (5:43), sou die Trooster of die Heilige Gees in Jesus se Naam gekom het (v.26).  Soos wat Jesus die Vader se woorde gespreek het (v.24), sou die Heilige Gees Jesus se woorde vir die dissipels geleer het (v.26, 16:14-15).  Alleen kon hulle nie Jesus se woorde akkuraat weergegee het nie.  Hulle het die Gees nodig gehad om hulle aan Jesus se presiese woorde te herinner (v.26).  Hý sou hierdie woorde geïnspireer het.

 

Deesdae is dit populêr vir mense om te sê dat die Heilige Gees hulle geïnspireer het om ‘n skildery te verf en ‘n instrument te speel, of om ‘n gedig, ‘n liedjie en ‘n boek te skryf. Ek ontken nie vir ‘n oomblik dat dit die Here is wat vir mense hierdie talente en gawes gegee het nie.  Maar dit is onsin om te sê dat die Heilige Gees hulle hiervoor geïnspireer het.

 

Die Heilige Gees het die apostels en die profete geïnspireer om die Bybel te skryf (v.26, 2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).  As Hy dan hierdie mense se pogings op dieselfde manier geïnspireer het, moet ons sê dat hulle werke op dieselfde vlak as die Bybel is.  Ek weet dat die Gees ons vandag nog in die waarheid lei en aan Bybelverse herinner.  Maar dit is baie naby aan lastering om te sê dat jou geestelike ervarings op dieselfde vlak as die Bybel geïnspireer is.

 

Bonatuurlike vrede (v.27-31)

Baie mense dink dat die Jehova’s Getuies hulle Bybels goed ken. Maar oor die afgelope jaar of twee het ek gesien dat hulle net sekere verse ken, en dat hulle nie die betekenis van hiervan verstaan nie.  Soos enige ongelowige, het hulle nie die vermoeë om die geestelike dinge van God se Woord te verstaan nie (1 Kor.2:14).  Hulle weet nie hoe om ‘n vers uit te lê, die woorde te verduidelik, of die vers binne sy konteks te verstaan nie.

 

Jh.14:28 is een so ‘n vers. Volgens húlle bewys hierdie vers dat Jesus nie God is nie.  Maar soos gewoonlik fokus hulle net op ‘n gedeelte van die vers.  Hulle doen nie eers moeite om die hele vers aan te haal en vra wat dit beteken nie.  Ons wil nie soos hulle wees nie, en daarom is dit belangrik dat ons ‘n bietjie dieper moet delf.  Kom ons kyk ook sommer na die verse voor en na v.28.

 

Deur die Gees het Jesus vir die dissipels vrede gebring (v.27, Gal.5:22). Die Gees sou hierdie ongekende vrede in hulle harte en gewetens ingeplant het.  Christus se vrede sou hulle in hulle onsteltenis gehelp het (v.27, 1, 16:33).  Dit sou hulle ook in tye van vervolging gehelp het.  Hierdie was nie die tipiese oppervlakkige vrede van die wêreld nie (v.27, Jer.6:14).  Dit kon nie deur omstandighede weggevat word nie; dit was ‘n innerlike en Goddelike vrede (Fil.4:7, Kol.3:15).

 

Die dissipels sou onthou het hoe Jesus vir hulle gesê het dat Hy weggaan en weer na hulle toe sal kom. Dit het hulle harte ontstel (v.1).  Maar as hulle Hom liefgehad het, sou hulle bly gewees het dat Hy weer na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter is as Hy (v.28).  Wat beteken dit?

 

Jesus het nie bedoel dat die Vader meer Goddelik is as Hy nie (1:1, 5:18, 10:30). Hy het gesê dat Hy na die Vader toe terugkeer, omdat die Vader groter is as Hy.  M.a.w.:  ‘Ek het my hemelse rykdom en heerlikheid verlaat om ‘n mens te word en My aan die Vader se gesag te onderwerp (Fil.2:6-7).  In hierdie opsig is die Vader groter as Ek.  Maar nou keer Ek terug na die Vader toe, sodat Hy nie meer groter as Ek sal wees nie.  Ek sal weer op my Goddelike troon gaan sit en die heerlikheid ontvang wat Ek gehad het voordat Ek die wêreld gemaak het (17:5).’  Dít is wat Jesus in v.28 bedoel het.

 

Die feit dat Jesus hierdie dinge vir die dissipels gesê het voordat dit gebeur het, bevestig dat Hy God is (v.29, Jes.41:23, 42:9). Maar vir tyd en wyl het Hy genoeg met hulle gedeel.  Daar was nie tyd om nóg te sê nie, omdat die regeerder van die bose wêreldsisteem – Satan – die Jode en die Romeine aangehits het om vir Jesus te kruisig (v.30, 12:31, 2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19).

 

Die duiwel sou egter nie gewen het nie, omdat hy nie ‘n houvas op Jesus gehad het nie (v.30). Jesus het elkeen van die Vader se gebooie gehoorsaam (v.31), en het dus nie sonde gehad waaraan die duiwel soos ‘n parasiet kon vassuig nie (8:46, 1 Pt.2:22).  Op die laaste dag sou die hele wêreld erken het dat Hy die Vader volmaak liefgehad het en gehoorsaam het (v.31, Fil.2:8-11).  Toe Jesus dit klaar gesê het, het Hy en die dissipels die bovertrek verlaat om Getsemane toe te gaan (v.31).

 

Vir die dissipels is dít die rede hoekom hulle vrede nodig gehad het. Maar in jou geval is dit iets anders.  Is jou hart ontsteld omdat mense jou kritiseer, aanval, beskinder of valslik beskuldig?  Het jy probleme in jou verhouding met iemand anders?  Het jy miskien probleme in jou familie, met jou kinders, jou ouers of in jou huwelik?  Is jy onseker oor die toekoms?  Wens jy vir ‘n lewensmaat?

 

Het die planne wat jy gemaak het nie uitgewerk soos wat jy gehoop het nie? Bid jy al vir ‘n lang tyd, maar die Here antwoord nie?  Sukkel jy met siekte, of het jy miskien ‘n geliefde wat siek is?  Rou jy oor iemand wat dood is?  Sukkel jy by die werk?  Trek jy swaar:  emosioneel, finansieel of geestelik?  Voel dit of sonde die oorhand oor jou kry – jy probeer om te wen, maar val elke keer weer?  Het jy wysheid nodig en jy weet nie watter kant toe nie?  Of watse probleme het jy?

 

Jesus het gekom om vrede te bring (v.27). Dit is nie maar net ‘n subjektiewe emosionele vrede nie, maar ‘n objektiewe vrede.  Die fondasie daarvan lê aan die voet van die kruis.  Deur sy kruisdood het Jesus vrede tussen God en mens gebring (20:19, 21, 26, Rm.5:1, Kol.1:20).  As jy nie hierdie objektiewe vrede het, kan jy Hom vertrou om vir jou die subjektiewe vrede in jou hart te gee.  Hoe kry jy dit?

 

Gee jou sorge in gebed aan die Here oor, dank Hom dat Hy so almagtig en gewillig is om jou te help (Fil.4:6). Geniet dan die onbeskryflike vrede wat Hy selfs in die moeilikste omstandighede vir jou kan gee (Fil.4:7, Hd.16:22-25).  Hou ook aan om opsetlik aan die Here en sy goedheid te dink, sodat gedagtes van vrees en angs jou nie in die see van mismoedigheid laat verdrink nie (Fil.4:8).  Wees ook gehoorsaam, omdat sonde die groot dief is wat gelowiges se vrede steel (Fil.4:9).  Vra dan laastens vir die Heilige Gees om hierdie vrede vir jou te gee (Rm.15:13).

 

Natuurlik is dit vir ‘n ongelowige moontlik om in moelike tye innerlike vrede te hê. Dink maar aan sommige Buddhiste, Hindoes, of Katolieke martelare.  En tog is dit maar die uitsondering op die reël.

 

Verder is dit ook ‘n vals vrede. Wanneer hierdie mense hulle oë anderkant die graf oopmaak, gaan hulle ontnugter wees.  Daarom het ek vroeër gesê dat die mens se subjektiewe innerlike vrede op die objektiewe vrede van Jesus se kruisdood gebou moet wees.  Eintlik is die kruis die basis vir al die bonatuurlike beloftes van God.

 

[1] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.499

[2] Duncan Matheson aangehaal in Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.195

Laat U Koninkryk kom

’n Siening oor die eindtyd wat jou lewe kan verander

mighty-river

Soos jy seker weet kom my tema uit die Onse Vader uit. Wat beteken dit om te bid dat God se Koninkryk sal kom?  Natuurlik beteken dit dat ons vir die wederkoms moet bid (is daar iets groter as dit?).  Maar oor die afgelope paar jaar het ek besef dat dit nóg iets beteken.  Ek hoop dat die waarheid hiervan in Op.11:15-19 vir jou so revolusionêr sal wees soos wat dit vir my was.

 

God se Koninkryk (v.15)

Het jy al gehoor van die lewegewende fontein wat uit die berg uitstroom? Dit loop teen die rotse af en word later ‘n rivier wat deur ‘n groen vallei vloei.  Op plekke is die rivier bruin, breed en vlak, en op ander plekke is dit donker blou, smal en diep.  Waar die rivier naby die see uitmond is dit 100 km breed.  Uiteindelik vloei dit in die see in, sodat daar net water is so ver as wat die oog kan sien.

 

Hierdie fontein, rivier en see is die Koninkryk van God. Dit het as ‘n kristalhelder stroom by die kruis begin.  By sy oorsprong het die fontein van die Koninkryk uit 12 apostels en paar ander dissipels bestaan.  Dit het egter baie vinnig ‘n rivier van 3000 en toe meer as 5000 bekeerlinge geword (Hd.2:41, 4:4).  Binne ‘n paar dekades het die rivier het deur die hele Romeinse Ryk gevloei en nuwe lewe gegee vir tienduisende sondaars.

 

In die eerste twee of drie eeue wat gevolg het, het meer as ‘n miljoen mense hierdie rivier se lewegewende water kom drink. Met tye in die kerk se geskiedenis het die rivier as gevolg van vals lering en sonde, bruin en vlak gevloei.  Soms was die rivier diep en blou, omdat dit gesond was.  Maar dit was smal, omdat mense nie regtig in die kerk belanggestel het nie.

 

Vandag vloei die rivier nogsteeds. Dit het gegroei van ‘n bergstroompie wat uit ‘n paar dissipels bestaan het, tot by honderde miljoene gelowiges dwarsoor die wêreld wat soos bome langs die rivier se walle staan.  As die rivier naby aan die einde van die geskiedenis kom, sal dit sy walle oorstroom soos die Okavango Delta in Botswana.  Oral waar dit kom sal dit lewe gee, sodat dit die woestyn van die wêreld in ‘n paradys sal verander (Jes.35, Esg.47:1-12).  Die meerderheid van die wêreld se bevolking sal die Here ken:  “die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  By Jesus se wederkoms sal die rivier van God se Koninkryk in die see inloop.  Die ganse aarde sal vir ewig en altyd onder Jesus se voete wees.

 

Dit is hoe ek God se Koninkryk verstaan. Dit het as ‘n stroompie uit die berg van Golgota ontspring.  Dit word groter soos wat die geskiedenis vorder.  Dit sal sy walle oorstroom in ‘n magtige herlewing wat tot die bekering van die nasies sal lei.  Dit sal in die see invloei wanneer Jesus weer kom.  Kom ek wys vir jou waar in die Bybel ek my idees vandaan kry.

 

In hfst.8 het God vir die sewe engele trompette gegee om sy oordele aan te kondig. Die eerste ses engele het in hfst.8-9 op hulle s’n geblaas, en nou het die sewende engel op syne geblaas om God se Koningskap aan te kondig (v.15-19, vgl. 1 Kon.1:34).  Toe hy dit gedoen het was daar harde stemme wat uitgeroep het dat God se Koninkryk gekom het (v.15, 12:10).  Hoe moet ons dit verstaan?

 

In Ps.2 het God die nasies tot aan die eindes van die aarde as sy Gesalfde Seun se erfdeel gegee. Wanneer sou Hy dit ontvang het?  Om die erfporsie te kry moes die testamentmaker gesterf het.  Toe Jesus dus aan die kruis gesterf het, het Hy die nasies met sy bloed gekoop (5:9).  Hulle het sy eiendom geword (v.15).

 

Voor dit het hulle vir die duiwel geluister en hulleself aan hom onderwerp (Lk.4:5-6). Maar deur die kruis het Jesus vir Satan vasgebind en is Hy besig om die nasies by hom terug te vat (Mt.12:28-29, Jh.12:31, 16:11).  Die Vader het vir Jesus mag oor die nasies gegee, en die titel-akte van die Koninkryk in sy Naam geregistreer (v.15, Mt.28:18, Lk.22:29).  Jesus het in ‘n wolk opgevaar hemel toe om die titel-akte te ontvang (5:1-7, Dn.7:13-14).  Hy wag nie om eers in die toekoms bekroon te word nie, maar het onmiddellik as Koning aan die Vader se regterhand gaan sit (Ef.1:20-22).  Reeds toe Hy op die aarde was het Hy gesê dat die Koninkryk op hande was (Mt.3:2, 4:17, 10:7, 12:28, Lk.10:9, 11, 17:20-21).

 

Op papier behoort die nasies dan aan Jesus, maar in die praktyk loop baie van hulle nog agter die duiwel aan (2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19). En tog sal dit nie vir ewig so bly nie.  Bietjie vir bietjie is Jesus besig om dít wat na regte syne is (Mt.28:18) by die duiwel terug te vat (Mt.28:19).  Sy Koninkryk is soos ‘n rots wat op die standbeeld van groot en magtige wêreldryke geval het.  Hy het die Babiloniese, Persiese, Griekse en Romeinse ryke verpletter.  Nou is die Rots van sy Koninkryk besig om te groei, totdat dit ‘n groot berg sal word wat die hele aarde vul (Dn.2:35, 31-45).  Jes.9:6 praat van die vermeerdering (‘increase’ in die ESV) van sy heerskappy.

 

Toe Jesus die titel-akte ontvang het, het Hy die sandkorrel-grootte mosterdsaadjie van die Koninkryk in die tuin van die wêreld geplant, en het Hy die teelepel gis van die Koninkryk in die deeg van die nasies in geknie (Mt.13:31-33). Die Koninkryk het klein begin, maar is besig om te groei en sal uiteindelik die wêreld oorneem (Ps.72:8).  Uit die vier windrigtings sal die nasies instroom om vir Jesus te aanbid (Ps.2, Lk.13:29).  Van waar die son in die ooste opkom tot waar dit in die weste ondergaan sal die nasies en hulle konings vir Jesus as die groot Koning prys (21:24, Ps.72:11, 113:3, Jes.49:7, Mal.1:11).  Omdat Hy nie kan sterf nie, sal Hy nie soos aardse konings ‘n opvolger hê nie; Hy en die Vader sal vir ewig regeer (v.15, Eks.15:18, Ps.145:13, Dn.2:44, 4:3, 34, 7:13-14, Lk.1:33).

 

God se koms (v.16-18)

Die ou Afrikaanse Baptiste het ‘n siening oor die eindtyd gehandhaaf wat tipies was van die Suidelike Baptiste in Amerika. Die meeste van ons is hiermee bekend, omdat dit nogsteeds ‘n baie populêre siening is.  Twee van my beste vriende handhaaf hierdie siening, en ek is seker dat ‘n klomp van my lesers en hoorders dit glo.

 

Dié siening sê dat Jesus se Koninkryk eers sal aanbreek wanneer Hy weer na die aarde toe terugkeer. Ek het reeds gewys dat Jesus se Koninkryk by sy eerste koms weggespring het, en dat dit by sy tweede koms vervul sal word en oor die wenstreep sal hardloop.  In v.16-18 sien ons hoe Johannes die twee bymekaar bring.

 

God en die Messias se Koningskap was so hoog verhewe, dat selfs die 24 ouderlinge van hulle trone afgeklim het om Hom te aanbid (v.16, 4:4, 10, Kol.1:16). Hulle het Hom as die Almagtige Here en God gedank en aanbid (v.17).  In 1:8 en 4:8 het Johannes Hom beskryf as die Een wat is en wat was en wat kom.  In 11:17 het hy ‘wat kom’ uitgelos, omdat die Koninkryk in die eerste eeu reeds in sy begin stadium gekom het (Mt.10:23, 16:28, vgl. notas hierbo).  Die 24 ouderlinge het dit bely toe hulle gesê het dat God deur sy groot mag begin het om te heers (v.17, ESV, Gk.).[1]  Hy sal regeer tot by die wederkoms en vir ewig daarna.

 

Die nasies wat nie die knie wil buig nie, maar in hulle woede teen Hom wil opstaan, sal sy toorn voel en verpletter word (v.18, Ps.2:1-12, 110:5, Hd.4:25-27). Hulle sal baie gou agterkom dat sy toorn sterker is as hulle s’n (v.18, Ps.2:1, 5).  By Jesus se eerste koms het hulle Hom nie as die Koning erken nie (v.15-17).  Daarom sal Hy hulle by sy tweede koms uit die dood uit opwek en hulle oordeel (v.18, Op.20:12).[2]  Hy sal dié wat verwoesting gebring het, vir ewig in die hel verwoes (v.18, 2 Ts.1:6-7, 9).  Dan sal hulle die knie moet buig en erken dat Hy die Here en Koning is (Fil.2:10-11).

 

Vir God se kinders is die oordeelsdag nie iets om voor bang te wees nie, omdat Hy hulle gaan beloon en nie gaan oordeel nie (v.18, 22:12, Mt.10:41-42, 25:14-30, Lk.6:22-23, 12:33, Jh.5:24, Rm.8:1, 1 Kor.3:12-15, 2 Kor.5:10, 2 Jh.8, Jud.24). Hy gaan nie net profete en predikante beloon nie, maar almal wat sy Naam vrees, liefhet en respekteer – klein en groot (v.18, Ps.115:13).

 

God se tempel (v.19)

Iemand het vir my kinders ‘n boek gegee wat vir ‘n mens leer om goed te teken. Wanneer jy bv. ‘n dolfyn teken wat uit die water uitspring, leer die boek vir jou om verskillende grootte sirkels en ovale te trek.  Later voeg ‘n mens driehoeke by, en uiteindelik teken jy die buitelyne en die oë.  Heel laaste voeg jy skadu en kleur by.

 

Sal dit vir jou vreemd wees as iemand meer van die ovale, driehoeke en sirkels hou as van die finale produk? En tog is baie mense so wanneer dit by die eindtyd kom.  Die tempel met sy priesters, offers en meubels was maar net ‘n skadubeeld van die volheid wat daar in Christus gekom het (sien Hebreërs).  Dit sal baie vreemd wees as die vervulling van hierdie dinge in Christus weer vir die skadubeelde verruil word.  Op.11:19 wys juis vir ons dat die aardse tempel tot ‘n einde gekom het, en dat dit met ‘n geestelike tempel vervang is.  Ons wag dan nie vir ‘n herboude kliptempel in die toekoms nie.

 

Johannes het gesien hoe God se tempel in die hemel oopgegaan het (v.19). Omdat die aardse tempel op ‘n einde was, het die hemelse een oopgegaan.  Johannes het die goue ark van die verbond binne-in die Allerheiligste van die tempel gesien (v.19).  Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God die tempelgordyn wat voor die ark was van bo na onder geskeur (Mt.27:51).  In 70 n.C. het Hy die Romeine Jerusalem toe gestuur om die aardse tempel te verwoes.

 

Die les is dat dit nie net meer die hoëpriester was wat voor die Here kon kom nie. Deur Christus kon almal nou in God se heilige teenwoordigheid ingekom het (Heb.4:15-16, 10:19-22).  Toe God die aardse tempel deur die storm van sy oordeel verwoes het (v.19b), het Hy ‘n nuwe tempel opgerig:  die Jode en heidene wat in die Messias geglo het, was sy nuwe tempel (v.19a, 1, 1 Kor.3:16, Ef.2:11-3:9).

 

Hoe moet ons op hierdie verse reageer? Lewe soos iemand wat glo dat Jesus Koning oor die nasies is, en dat Hy uiteindelik oor elkeen van hulle sal regeer (v.15, Ps.2:8-12).  Moenie aan ‘n pessimistiese eindtyd-siening vashou wat sê dat die Verenigde Nasies, die Europese Unie, Rusland of die Moslems die wêreld sal oorneem nie.  Moenie moedeloos en vreesbevange raak oor die politieke onstuimighede in ons land en wêreld nie.

 

Dink eerder daaraan dat Jesus die Koning van die konings en die Here van die here is (19:16). Hy is die Koning van die nasies wat volke se leiers aanstel en afsit (v.15, Ps.22:29, Dn.2:20, Rm.13:1).  Hý sal besluit wanneer die Nasionale Party sy asem uitblaas, wanneer die ANC aan bewind kom, wanneer Mandela doodgaan, wanneer Mbeki uitgewerk word, wanneer Zuma regeer en of Malema tot ‘n val gaan kom of nie.

 

Dit lê dan nie binne die president se mag om te besluit of die ANC sal regeer totdat Jesus weer kom of nie. Jesus is die Koning wat besig is om sy planne uit te werk.  Hý beheer die geskiedenis van volke en hulle konings (Sp.21:1, Dn.4:35).  Daarom moet ons nie lewe asof die antwoord by ‘n sekere politieke party of leier lê nie.  Ons moenie lewe asof Donald Trump die wêreld se probleme gaan oplos nie.  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die Here.” (Sp.29:26).

 

Onthou asb. dat Jesus se Koninkryk geestelik en nie polities van aard is nie.  Jesus het gesê:  “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie.  Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Jh.18:36).  Die kerk moet dan op die verspreiding van die evangelie fokus, en nie op sosiale en politieke aksies nie.

 

Deur die eeue het die kerk haar fokus verloor, sodat sy die regering se rol ingeneem het en betrokke geraak het in oorloë, die invordering van belasting, die toepassing van die doodstraf op ‘ketters’, politiese samesprekings met ander lande, sosiale aksies wat niks met die redding van mense se siele te doen het nie, die daarstelling van politieke wette, en allerhande ander twak. In die proses het die kerk haar plig versuim om die evangelie aan die nasies te verkondig.

 

Vandag nog is die kerk in ons land skuldig aan dieselfde sonde. Ons het die swart mense gefaal, omdat ons die evangelie het, maar nie ‘n daadwerklike poging aangewend het om dit by hulle uit te bring nie.  Sendelinge moet van oorsee af kom om die werk te doen.  Ons fokus meer daarop om kermisse te hou en komberse uit te deel, as om die evangelie met mense te deel.  Ons spandeer duisende rande aan vermaaklikheid wat jong mense sal trek, maar gee dan vir hulle ‘n oppervlakkige boodskap wanneer hulle by die kerk opdaag.

 

Ons gemeente, denominasie en ek self is nie onskuldig nie. Wat het ons in die afgelope twee jaar gedoen om vir mense van ons groot en goeie Koning te vertel?  Hoeveel geld het ons op denominasionele- en gemeentevlak uitgegee om toe te sien dat mense die Goeie Nuus van Jesus Christus hoor?  Hoe gaan ons in die komende jaar hierop verbeter?

 

As ons die evangelie effektief gaan verkondig moet ons hoopvol, vrymoedig en dapper wees. Ons moet getuig asof Jesus die Koning is wat vereis dat die nasies voor Hom moet buig, asof hulle reeds syne is en Hy nog net hulle harte na Hom toe moet draai.  Die evangelie kan nie kop-onderstebo of stert-tussen-die-bene na Jesus toe terugkeer nie, en daarom moet ons uitgaan met die vertroue dat die evangelie suksesvol sal wees.

 

“Jou God is Koning!” is wat ons vir die mense moet sê (Jes.52:7). As hulle die knie in geloof en bekering voor Hom buig, sal Hy hulle vergewe.  Maar as hulle volstrek weier om die wit vlag te waai, sal Hy hulle vernietig (v.18, Ps.2:9-12).  Dit is tyd dat ons wegdoen met die benadering wat maak asof Jesus hulpeloos moet wag vir sondaars om hulle harte vir Hom te gee.  Jesus eis van jou dat jy weergebore moet word en dat jy jou moet bekeer, want “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Jh.3:3).

 

Wat Paulus vir die Korintiërs gesê het geld ook vir ons: “Moenie dwaal nie!  Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” (1 Kor.6:10).

 

Laat ons dan met ‘n berouvolle hart voor die Here buig en Hom as ons Koning aanbid (v.16). Laat ons vir die verspreiding van die evangelie en vir ‘n ware herlewing bid, sodat die nasies (ook ons eie land) Jesus as die Koning sal erken en aanbid.  Laat ons bid dat Jesus weer na die aarde toe sal terugkeer, sodat ons vir ewig onder sy goeie en regverdige heerskappy kan lewe.  Laat ons nie vergeet om te bid volgens die patroon wat Jesus vir sy dissipels geleer het nie:  “laat u koninkryk kom” (Mt.6:10).

 

My gunsteling aanhaling van Spurgeon (wat ek seker al holrug gery het!) sluit mooi hierby aan: “if our Lord does but stamp His foot, He can win for Himself all the nations of the earth against heathenism, and Mohammedanism, and Agnosticism, and Modern-thought, and every other foul error.  Who is he that can harm us if we follow Jesus?  How can His cause be defeated?  At His will, converts will flock to His truth as numerous as the sands of the sea.”[3]

 

[1] A.T. Robertson, Word Pictures in the New Testament, nota op Op.11:17

[2] Sommige dink dalk dat dit nie geldig is om tussen v.17 en 18 van Jesus se eerste na sy tweede koms toe te spring nie. Maar doen die Ou Testament profete dit nie dikwels nie (sien bv. Jes.11:1-9)?  Buitendien het ek reeds gewys hoe die Koninkryk reeds by Jesus se eerste koms begin het, en hoe dit stadiger maar seker besig is om te groei totdat Hy weer kom.

[3] C.H. Spurgeon, An All-Round Ministry, p.396

Hoe om te oorleef terwyl Jesus weg is

i-miss-you

Ek het al meer as eenkeer met Christene gepraat wat sê dat dit vir hulle voel of die Here hulle verlaat dit. Selfs wanneer hulle bid voel dit nie of Hy daar is nie.  Wat moet ‘n mens in sulke tye doen?  Jh.13:31-14:14 is in die Bybel opgeteken om ons hiermee te help.

 

Wees lief vir mekaar (13:31-35)

Thys se ma is onlangs oorlede. Hy sukkel om dit te verwerk.  Ten minste is sy vrou, kinders en familie daar om hom te ondersteun.  Hulle liefde maak dat dit vir hom draaglik is.

 

Net so was dit ook toe Jesus die dissipels verlaat het. Hulle was baie hartseer.  Maar as hulle mekaar met sy liefde liefgehad het, kon hulle die hartseer verdra het.  Dit is die sentrale boodskap van 13:31-35.

 

Judas het die vertrek verlaat om die polisie te gaan haal (13:30). Jesus se kruisdood was op hande.  Hierin sou Hy as die Verlosser van die wêreld verheerlik word (13:31).  Die Vader sou Homself ook in Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart verheerlik het (13:31-32, 17:5).

 

Jesus het geweet dat die dissipels hartseer sou wees, en daarom het Hy hulle vir sy kruisdood en hemelvaart voorberei. Met vertroosting in sy stem het Hy hulle sy kinders genoem (13:33).  Hy sou nog net ‘n klein rukkie by hulle gewees het (13:33).  Hy het dit reeds in 7:34, 8:21 vir die Jode gesê, en het dit nou in sy dissipels se ore herhaal (13:33).  Omdat die Jode Hom verwerp het, kon hulle Hom nie na die hemel toe gevolg het nie (14:6).  En die dissipels het nog werk op die aarde gehad voordat húlle hemel toe kon gaan (13:33).

 

Terwyl hulle nog op die aarde was, moes hulle mekaar liefgehad het (13:34). Dit was Jesus se nuwe gebod aan hulle.  Maar hoe was die gebod nuut as Hy dit reeds in die Ou Testament gegee het (Lv.19:18)?  Dit was nuut omdat hulle dit ná Jesus se kruisdood op ‘n nuwe manier verstaan het.  Hulle moes mekaar dan liefgehad het soos wat Jesus hulle liefgehad het (13:34, 1 Jh.4:10-11).

 

Die wêreld sou die Christene se opofferende liefde gesien het en geweet het hulle is Jesus se dissipels (13:35). Tertullianus het een eeu na Johannes geskryf.  Die heidene van sy tyd was verbaas oor die Christene se onderlinge liefde – veral in tye van vervolging.  ‘Kyk hoe hulle mekaar liefhet!… hoe hulle selfs bereid is om vir mekaar te sterf!’[1]

 

Wanneer dit by onderlinge liefde kom, moet dit nie net in woorde bestaan nie, maar in dade (1 Jh.3:17-18). Christelike liefde is nie maar net ‘n gevoel nie, maar is prakties.  Christelike liefde weet wat dit beteken om geld en besittings met ‘n arm gelowige te deel.  Dit weet hoe om by iemand te sit wat moedeloos of eensaam is.  Dit weet hoe om vir ander te bid en hulle op te volg.  Dit is soos Jesus wat sal opoffer om ander te bevoordeel (1 Jh.3:16).

 

Moenie selfversekerd wees nie (13:36-38)

Ashwell is deel van ‘n bende in die Kaap. Voor sy vriende is hy grootbek en bang vir niemand nie.  Maar as sy vyande hom alleen in die winkel kry, is hy soos ‘n bang hondjie.  Die meeste van ons het so ‘n streek in ons.  As Jesus by ons is, is ons baie dapper.  Maar as ons nie meer sy teenwoordigheid by ons kan voel nie, dan vou ons.  Juis daarom moet ons nie te vol wees van onsself nie, maar eerder by Jesus skuil.  Dit is wat ons Johannes in 13:36-38 vir ons wil leer.

 

Petrus het nie die les oor liefde ter harte geneem nie, maar het gewonder waarheen Jesus oppad was (13:36). Jesus het vir Petrus gesê dat hy nie nou kon saamgaan nie (13:36).  Hy kon nie soos Jesus vir ander gesterf het of vereer word nie.  Hy sou egter later vir die evangelie gesterf het (13:36, 21:18-19, 2 Pt.1:14).

 

‘Hoekom kan ek nie nou volg nie – ek is bereid om my lewe vir U te gee,’ het Petrus gesê (13:37).  Petrus was lojaal, maar hy was ook selfversekerd.  ‘Is jy regtig bereid om jou lewe vir my te gee, Petrus?’ het Jesus gevra.  ‘Die waarheid is dat jy My drie keer sal verloën nog voordat die haan kraai.’ (13:38, 18:27).

 

Sonder Jesus kan ons niks doen nie (15:5). Ons moet dan nie luister wanneer die wêreld vir ons sê ons moet selfversekerd wees nie.  Druk jou ore toe as hulle vir jou sê jy moet in jouself glo en ‘n hoë opinie van jouself hê.  As jy op jouself staatmaak, sal jy vou soos Petrus.  Moet dan nie parmantig raak en dink jy is die kat se snor nie.  Vergeet eerder van jouself en vertrou op Jesus, sodat jy ‘n sterk sekerheid kan hê:  “In die vrees van die Here lê ‘n sterk sekerheid” (Sp.14:26).

 

Dink aan die toekoms (14:1-3)

Danie en sy vrou immigreer Australië toe. Hy begin volgende maand werk, en sy moet vir ses maande agterbly om die huis te verkoop en ‘n ander sake af te handel.  Dit is vir haar erg om van hom af weg te wees, maar wanneer sy daaraan dink dat sy hom binne ‘n paar maande weer gaan sien, dan help dit haar om vas te byt.  En so is dit ook met ons en Jesus:  dit is erg dat ons nie by hom kan wees nie, maar die wete dat Hy ons weer gaan kom haal help ons om te volhard.  Dit is waaroor 14:1-3 gaan.

 

Jesus het geweet dat die dissipels ontsteld was oor sy aankondiging van Judas se verraad en Petrus se verloëning (13:21, 38). Hulle was ook onseker en bang omdat Jesus sou weggaan.  Hy het vir hulle gesê om nie bang en onsteld te wees nie (14:1).  Hulle moes eerder op Hom en sy Vader vertrou het (14:1, 12:44).

 

Jesus het vir hulle vertel dat Hy oppad was na die Vader se huis toe om deur sy kruisdood vir elkeen van hulle ‘n kamer gereed te kry (14:2). Daar was meer as genoeg plek vir hulle almal (14:2).  Hy sou mos nie vir hulle gejok het nie (14:2, 1 Pt.2:22).  Omdat die Vader sy huis in hulle harte gemaak het (14:23), kon hulle ook nou in sy hemelse huis gebly het (14:2).

 

As Jesus klaar die plek voorberei het, sou Hy weer teruggekom het om die dissipels na Hom toe te vat, sodat hulle by Hom kon wees (14:3, 12:26). Wanneer sou dít gewees het?  Ek is nie so seker dat Johannes hier van Jesus se wederkoms praat nie.  Wanneer die Here weer kom gaan ons saam met Hom op die nuwe aarde bly, en nie in die hemel nie (Op.21).  Jesus verwys dan heel moontlik hier na die dag van ‘n gelowige se dood, wanneer hy of sy hemel toe gaan.

 

Hierdie vooruitsig help ons om nie in vrees te lewe vir die dood nie. Dit help ons ook om te volhard wanneer ons bekommerd en bang is (v.1).  Dit gee vir ons ‘n ongekende vrede.  Natuurlik sal jy dit nie hê as jy ‘n verkeerde idee van die hemel het nie.

 

Die hemel is nie ‘n abstrakte of ‘n wasige beeld in Christene se koppe nie. Die hemel is ‘n plek (14:2).  Dit is ‘n stad waarvan God self die argitek en bouer is (Heb.11:10).  Dit is ‘n groot paleis wat baie kamers het.  Dit het nie maar net ‘n duisend kamers soos ‘n vorige president van Romenië se paleis nie.  Daar is genoeg kamers om die ontelbare skare van verlostes te huisves (14:2, Op.7:9).  As dit nié so was nie, sou Jesus dit nie vir ons gesê het nie (14:2).

 

En tog gaan die hemel nie hoofsaaklik oor die pragtige paleis met sy kamers nie. Dit gaan oor Jesus.  Hy kom om ons na Homself toe te neem, en nie primêr na die paleis toe nie (14:3).  Hy wil vir ewig in ‘n verhouding en vrienskap met ons lewe.  Hy wil al die stoorkamers van sy groot genade en liefde vir ons oopsluit (Ef.2:7).  As Jesus nie in die hemel was nie, dan sou dit nie die moeite werd gewees het om soontoe te gaan nie.  Laat die verlange na Hom jou bemoedig.

 

Ken vir Jesus (14:4-11)

Sunel is ‘n Christen. Sy is egter ‘n bietjie lui wanneer dit by persoonlike Bybelstudie en gebed kom.  Sy onderwerp haar nie op ‘n gereelde basis aan die lering en verkondiging van God se Woord nie.  Toe sy deur ‘n moeilike tyd gegaan het, het sy nie geweet watter kant toe nie.  Sy was bang, angstig en kwaad.  Haar flou kennis van die Here het gemaak dat sy Hom nie vertrou het nie, maar probeer het om haarself uit te help.  Jesus wou die dissipels in hulle tyd van moeilikheid gehelp het, en daarom het hulle ‘n groter kennis van Hom nodig gehad.

 

‘Julle ken die pad na die hemel toe,’ het Hy vir sy dissipels gesê (14:4). Pessimistiese Tomas het nie verstaan nie.  ‘Eintlik weet ons nie dan nie eers waarheen U oppad is nie; hoe kan ons die pad ken?’ het hy gevra (14:5).  ‘Moet jou nie kwel nie Tomas: EK IS die ware weg wat na die lewe toe lei,’ is basies wat Jesus in 14:6 vir hom gesê het.  Jesus het nie maar net vooruit geloop en gesê:  ‘Volg die weg wat Ek volg, en julle sal in die hemel uitkom’ nie.  Nee, Hy is die weg.  En omdat Hy die waarheid en die lewe is, was Hy nie ‘n vals weg wat die dissipels sou mislei en na die ewige dood toe lei nie.  As die enigste weg na die hemel toe, kon die dissipels op Hom staatgemaak het (14:6, Hd.4:12).

 

Omdat Jesus dan die enigste weg na die Vader toe was, sou die dissipels die Vader geken het as hulle vir Jesus geken het (14:7). Jesus was die enigste een wat die Vader gesien het (6:46), maar deur Jesus kon húlle nou die Vader geken en gesien het (14:7).  Filippus het nie verstaan nie.  “Wys ons die Vader en dit sal vir ons genoeg wees,’ het hy gesê (14:8).  Vir hom was daar niks groter en beter gewees as om die Vader te sien nie.  Dit sou sommer dadelik sy vrese opgeklaar het.

 

Maar het Filippus na sy drie jaar saam met Jesus nogsteeds nie geweet wie Hy is nie? Het hy nie besef dat Jesus ‘n presiese afskrif van die Vader is nie (14:9, 1:18, 12:45, Kol.1:15, 19, 2:9, Heb.1:3)?  Hoe kon hy dan vir Jesus gevra het om vir hom die Vader te wys?  Het hy dan nie geglo dat Jesus in die Vader is en die Vader in Hom nie; dat Hy en die Vader een is nie (14:10, 10:30)?  Jesus se kragtige woorde en wonderwerke het dit dan bewys (14:10).  Filippus en die res moes die belydenis van Jesus se Godheid geglo het, of ten minste in sy wonderwerke gesien het dat Hy die Seun van God is (14:11, 20:30-31).

 

Hierdie kennis sou hulle in ‘n tyd van hartseer en angs gehelp het. En as ons die Here beter ken sal dit ons ook help.  Wil jy weet hoe om in die hemel te kom?  Jesus is die Weg:  vertrou op Hom, glo in Hom, volg Hom (14:6).  Wil jy weet of Christenskap die ware godsdiens is, en wonder jy miskien hoekom die ander godsdienste nie ook reg kan wees nie?  Jesus is die Waarheid en die enigste Weg na die Vader toe (14:6, Hd.4:12).  Wil jy weet hoe jy seker kan wees dat jy die ewige lewe het?  Jesus is die Lewe en kan daarom die ewige lewe gee aan dié wat in Hom glo (14:6, 1 Jh.5:20).

 

Wonder jy of jy eendag in die hemel die Vader gaan sien, en of jy net vir Jesus gaan sien? Dit is ‘n dom vraag, want wie vir Jesus gesien het, het die Vader gesien (14:9).  As jy die Vader wil ken, moet jy vir Jesus ken (14:9).  Kom ek gee vir jou ‘n paar voorbeelde:

 

  • Soos Jesus, wil die Vader ook hê dat sondaars tot bekering moet kom, en is Hy bedroef as hulle nie na Hom toe wil kom nie (Lk.13:24, 15:10, 19:41).
  • Soos Jesus is die Vader lief vir die grootste sondaars en geniet Hy dit om hulle te red (Mt.9:9-13).
  • Soos Jesus is die Vader lief vir kinders en wil Hy hê dat hulle in sy Seun moet glo (Mk.10:13-16).
  • Soos Jesus voel die Vader jammer vir mense wat swaarkry (Mt.15:32, Lk.7:13).

 

Ek hoop dit help jou.

 

Steun op sy krag (14:12-14)

Jan Pinkster lewe om wonderwerke te sien. Hy is by elke genesingsdiens en tentbyeenkoms.  Toe sy Christen kollega, Konserwatiewe Kobus vir hom gesê het dat die wonderwerke waarin hy glo nie die ware Jakob is nie, het hy Jh.14:12 aangehaal:  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”

 

Maar wat beteken hierdie vers? Dit kan tog nie beteken dat Jesus se volgelinge meer wonderwerke as Hy sou doen nie, want “daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (21:25).

 

Dit kan ook nie beteken dat sy volgelinge meer fantasiese wonderwerke as Hy sou doen nie. Ken jy iemand wat op water kan loop of die wind en die see kan stilmaak?  Het jy al iemand ontmoet wat ‘n graf kan oopgrawe en die dooie persoon daarin kan opwek?

 

Wat beteken die groter werke dan? Die teks sê dat Jesus se volgelinge groter werke as Hy sou doen, omdat Hy oppad was na die Vader toe (14:12).  As Jesus by die Vader was, sou Hy die Gees uitgestort het.  Hy het ook ná sy kruisdood en opstanding eers na die Vader toe gegaan.  Sy volgelinge sou dan die Goeie Nuus van Jesus se kruisdood en opstanding (die boodskap van bekering) met groter effek verkondig het as wat Hy dit gedoen het.  Dit klink of ek besig is om te laster, maar dis waar.

 

Hoeveel volgelinge het Jesus gehad toe Hy op die aarde was? ‘n Paar.  Hoeveel mense het tot bekering gekom toe Petrus in die Gees se krag die evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding verkondig het?  Drieduisend… op een dag.  Bekering is ‘n baie kragtige wonderwerk.  Volgens Ef.1:19-20, 2:4-5 het God dieselfde krag gebruik om ons uit die graf van ons sonde uit op te wek, as wat Hy gebruik het om vir Jesus uit die dood uit op te wek.

 

Waar kon Jesus se volgelinge die krag gekry het om hierdie groter werke te doen?  In gebed (14:13-14, Mt.17:20, 21:21-22).  Hoe moet ons bid?  In Jesus se Naam.  As ons so bid, sal Hy enigiets doen wat ons van Hom vra (14:13-14).  Om in sy Naam te bid beteken nie dat jy dit as ‘n towerformule aan die einde van jou gebed moet sê nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken eerder dat jy op grond van Jesus se Persoon en verlossingswerk aanvaarbaar is voor God. Jy kom deur Jesus na die Vader toe (14:6).  Die Vader antwoord ons gebede omdat Hy tevrede is met Jesus, en nie omdat ons opreg is of goed genoeg gebid het nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken ook dat jy volgens die Woord bid. Dit is asof jy sê:  ‘Vader, Jesus het gesê ek moet vra vir…’ en dan die Bybel aanhaal.  Jy moet God dus aan sy Woord en beloftes herinner (Jes.62:6-7).  Prakties beteken dit dat jy nie kan bid vir ‘n Rolls Royce in Jesus se Naam nie.  God se heerlikheid en nie ons selfsugtige begeertes nie, moet die fokus van ons gebede wees (14:13).

 

Dit behoort ons ook te bemoedig dat Jesus enigiets kan doen (13:14).  Die enigste beperking in gebed is Jesus se almag, en daarom is daar geen beperking nie.  Die ding wat ons die meeste beperk is ons eie ongeloof en biddeloosheid (Jk.4:2).

 

In Walt Disney se Lion King sê die klein leeutjie se pa vir hom dat hy altyd by hom sal wees.  Hy was dood toe hy dit gesê het.  Hoe kan ‘n dooie leeu by sy welpie wees om hom op te pas?  Met Jesus is dit anders, omdat Hy nie dood is nie maar lewe.  Deur sy Gees is Hy regtig altyd by ons om ons te versterk en op te pas (14:16-18).  En dit is waar ons volgende keer gaan stilstaan.

 

[1] Aangehaal in D.A. Carson, The Gospel According to John, p.485 n.1