Die moeilikste hoofstuk in Openbaring

witnesses-of-revelation-2

Ek het eenkeer vir iemand gevra of hy koffie, tee, koeldrank of water wil hê. ‘Net wat jy wil,’ het hy gesê.  Ek het vir hom koffie gemaak.  ‘Hoe drink jy jou koffie – sterk, medium of flou?’ het ek gevra.  ‘Net hoe jy dit wil maak is reg,’ het hy geantwoord.  ‘Drink jy suiker en melk?’ het ek gevra.  ‘Watookal jy wil,’ het hy weer geantwoord.

 

As jy jou koffie so wil drink is dit jou keuse. Maar om die Bybel so te benader is verkeerd en gevaarlik.  Ons kan nie maak asof enigiets aanvaarbaar is nie.  En tog moet ons vredeliewend genoeg wees om ander mense se sienings oor die eindtyd te respekteer, veral as ons te doen kry met moeilike tekste soos Op.11:1-14.

 

Die tempel (v.1-2)

Elke dekade of so hoor ‘n mens dat die Jode besig is om materiaal bymekaar te maak om die tempel te herbou. ‘n Mens sien egter nooit die herboude tempel nie.  Die lering oor die nuwe tempel word o.a. gebasseer op Op.11.  Maar is dit regtig wat Op.11 sê?

 

In Esg.40-43 het die profeet gesien hoe ‘n man met ‘n koper skynsel die tempel afmeet. Net so het Johannes in Op.11 ‘n meetstok soos ‘n staf ontvang om die tempel mee af te meet (v.1).  Esegiël het sy visioen na die verwoesting van die tempel in 586 v.C. gesien (Esg.40:1), terwyl Johannes sý visioen voor die verwoesting van die tempel in 70 n.C. gesien het (v.1).

 

Johannes moes die tempel, die altaar en die aanbidders afgemeet het (v.1). Die Griekse woord vir tempel [Gk. naos] praat nie van die hele tempel terrein nie, maar net van die gebou self – die Heilige en die Allerheiligste.  Die altaar verwys dan nie na die brandoffer altaar wat buite die tempel was nie, maar na die goue wierook altaar binne die gebou.  Die aanbidders is die priesters, omdat net húlle binne-in die tempel toegelaat is.

 

Johannes is aangesê om nie die voorhof van die tempel te meet nie (v.2). Soos die Nuwe Jerusalem in 21:15, het Johannes die tempel afgemeet om te wys dat dit onder God se beskerming is (vgl. Sg.2:1-5).  Die voorhof was egter nie onder sy beskerming nie:  Jerusalem sou vir 42 maande, 1260 dae of 3½ jaar lank deur die heidene vertrap word (v.2).

 

Wat beteken hierdie dinge? Die tempelgebou met die goue wierook altaar en aanbidders is simbolies van die gelowiges, van wie elkeen ‘n priester is (v.1, 1:6, 1 Kor.3:16, 1 Pt.2:9).  Tussen die sesde en sewende seël het God hulle as sy eiendom verseël, sodat hulle nie geoordeel sou word nie (7:1-8).  Tussen die sesde en sewende trompet het Hy hulle as sy eiendom afgemeet, sodat hulle nie onder die oordele van v.5-6 sou val nie.

 

Die ongelowige Jode het egter soos heidene geword, omdat hulle die tempel se voorhof met die moddervoete van hulle sonde vertrap het (Jes.1:12, Mt.21:13).  Gevolglik sou die heidene hulle stad vir 42 maande lank vertrap het (v.2).  Dit het gebeur toe die Romeine Jerusalem van 67-70 n.C. vir 42 maande lank beleër het (Lk.21:24).[1]

 

Johannes moes die ware tempel van gelowiges vir God se beskerming afgemeet het, maar die voorhof van ongehoorsame Jode uitgelos het. Die woord vir uitlos [ekballō] word gebruik van Jesus wat die Jode met ‘n sweep uit die tempel uitgedryf het (Mt.21:12, Jh.2:15), asook van die Jode wat uit die koninkryk uitgesluit is, terwyl die heidene dit in besit geneem het (Mt.8:11-12).  Die Jode was godsdienstig (in die tempel se voorhof), maar het nie die Here geken nie (binne die tempel).  Hulle was van die Here se beskerming en guns afgesny [ekballō].

 

Die twee getuies (v.3-14)

Wie is die twee getuies? Ek het een kommentaar gelees wat 13 opsies gee van wie dit moontlik kan wees.[2]  In ‘n preek wat ek oor die hoofstuk gelees het, het die prediker van twee broers in Amerika vertel.  Kort na hulle tot bekering gekom het, het hulle geglo dat húlle die twee getuies is.  Ek verstaan nie alles omtrent Op.11 nie, maar ek is seker dat die twee getuies in hierdie hoofstuk nie die Amerikaanse broers is nie.

 

Wie is die getuies dan? Volgens sommige is Op.11 die moeilikste hoofstuk in die hele boek (sien egter 20:1-6!), en daarom gaan ek nie dogmaties wees en sê dat so-en-so ‘n ketter is, omdat hy nie my siening handhaaf nie.

 

God het vir die twee getuies (Dt.19:15, Mt.18:16) gesag gegee om te profeteer (v.3). Gedurende die 1260 dae of 42 maande wat Jerusalem vertrap is, het hulle geprofeteer (v.2-3).  Hulle klere van sak het gewys dat hulle bedroef was oor die volk se sonde (vgl. Klg.2:10, Jon.3:5).

 

Johannes beskryf hulle as die twee olyfbome en kandelare wat voor die God van die aarde staan (v.4). Ons lees vir die eerste keer in Sg.4 van hulle.  Die Jode was besig om die tempel te herbou.  Serubbabel was hulle leier en Josua was die hoëpriester.  Hulle vyande het probeer om die werk stop te sit (Esr.4:1-6).  God se Gees sou egter die hindernisse verwyder het en hulle met krag gesalf het om die werk te doen en die lig van sy getuienis te skyn (Sg.4:6-7).  Dit was dan in hierdie opsig wat hulle soos olyfbome se salfolie en die kandelare se lig was (Sg.4:11-14).  Net so het God die getuies in Op.11:4 met die olie van sy Gees gesalf om die nuwe tempel te bou en die lig van sy getuienis te skyn (vgl. 1:20, 3:12, Mt.5:16, Ef.2:19-22).

 

Uit Johannes se beskrywing lyk dit of hy van Moses en Elia praat. God se boodskap van oordeel teen die Jode het soos ‘n vuur uit hulle monde uitgekom (v.5, Jer.5:14, 23:29, Nm.16:29, 35, 2 Kon.1).  Soos Elia het hulle vir 1260 dae of 3½ jaar gekeer dat dit reën (v.6, 3, 1 Kon.17:1, Jk.5:17), en soos Moses het hulle die water in bloed verander en ander plae oor die land gebring (v.6, Eks.7-10).

 

Moses en Elia stel die wet en die profete voor (Mt.17:3), en is dus verteenwoordigend van die hele Ou Testament (Mt.5:17, 22:40). Alhoewel Johannes die Doper se bediening in die Nuwe Testament opgeteken is, is hy eintlik die laaste en die grootste van die Ou Testament profete (Mt.11:11, 13).  Volgens Jesus in Mt.11:14 is hy die Elia wat sou kom (Mal.4:5).  En Jesus is die Profeet soos Moses (Dt.18:15-18, Hd.3:22-23).

 

Die twee getuies is dan eintlik simbolies van die Ou Testamentiese profete tot by Johannes die Doper en Jesus. Op.11 wys vir ons hoe die Jode (soms in samewerking met heidene soos Isebel, Herodes en Pilatus) die profete vervolg het (v.7-10, Lk.11:47-51, Hd.7:51-52, 1 Ts.2:14-15).  Volgens v.7 het die dier hulle doodgemaak.  Hierdie dier kom nie uit die see of die aarde nie (13:1, 11), maar uit die bodemlose afgrond (v.7).  Dit is dus die duiwel self (9:1, 11).  Dit is hý wat die Jode, die heidene en hulle konings aangehits het om die profete en die Messias dood te maak (v.7-9, 12:9, 13:2, 11, Dn.7:17, Jh.13:2, Hd.4:27).

 

Al hierdie moorde het in Jerusalem plaasgevind (v.8, Lk.13:33), wat weereens vir ons wys dat die Jode hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik was.  Soos wat die heidene met húlle gemaak het, het hulle nou met die profete gemaak en hulle lyke in die straat laat lê (v.9, Ps.79:1-3, vgl. 1 Kon.14:11, 13).  Jerusalem het so goddeloos geword soos Sodom, en so heidens soos Egipte (v.8, 9:20-21, Jes.1:8-10, 3:8-9, Esg.23:3, 8, 19, 21, 27).  Daarom het die Here haar met Sodom se vuur en Egipte se plae getref (v.5-6, Amos 4:10-11).

 

Die Jode en heidene was bly dat God se profete dood was. Toe hulle vir Jesus en Johannes die Doper doodgemaak het (die Messias en die laaste Ou Testament profeet), het dit vir ‘n kort tydjie gelyk of die profete se godsdiens op ‘n einde was.  Hulle was so bly dat hulle fees gevier het en geskenke uitgeruil het (v.10).

 

En tog was dit nie lank voordat hulle met ‘n skok besef het hulle is verkeerd nie. Die profete het opgestaan en na die hemel toe opgevaar (v.11-12, 12:5, Hd.1:9, 2:24, Ef.2:5-6).  Dit was nie die einde soos wat hulle vyande gehoop het nie, maar die begin van ‘n onstuitbare weermag en haar boodskap wat uiteindelik die wêreld sou oorneem.  Die Heilige Gees het die profete en hulle prediking laat herleef (v.11).  Die vyand het rede genoeg gehad om bang te wees (v.11).

 

Ná die profete se opstanding en hemelvaart was daar was ‘n groot aardbewing waarin 7000 mense of ‘n tiende van Jerusalem se inwoners gesterf het (v.13). Dit het daartoe gelei dat die res van die bevolking die Here gevrees het en Hom deur hulle bekering verheerlik het (v.13, kontr. 16:9).

 

Wat beteken dit? David Chilton sê:  ‘In the Old Testament, only “7000” faithful existed [vgl. 1 Kon.19:18, Rm.11:4-5]; in the New Testament, only “7000” are wicked… the overwhelming majority…are converted and saved’.[3]  Die gebeure van Op.11 was die tweede wee (v.14, 8:13, 9:12).  Daar was nog een oppad.

 

Dit is dan hoe ek Op.11 verstaan. Ek verwag nie dat daar in die toekoms ‘n herboude tempel in Jerusalem gaan wees nie, aangesien die tempel met al sy rituele en offers in Christus vervul is (sien Hebreërs).  Ek kan my nie indink dat die geskeurde voorhangsel weer toegewerk gaan word nie; dat die weg wat vir sondaars oopgegaan het weer toe sal wees nie.  Die herboude tempel is in Jesus en die kerk vervul (Jh.2:18-22, 1 Kor.3:16).

 

Ek glo dan nie dat Op.11 vir die verre toekoms bedoel is nie, maar dat dit in Johannes se tyd vervul is. Hy self het tog so gesê (1:1, 3, 22:10).  Dalk dink jy dat ek radikaal verkeerd is, en dat Op.11 nog in die toekoms móét gebeur.  Ek gaan nie met jou stry nie.  ‘We can agree to disagree.’  Ek wil egter vir jou sê om nie in vrees te lewe nie – jy hoef nie bang te wees vir die dinge wat hier beskryf word nie.  As jy binne die tempel van Jesus is, is jy veilig en onder sy beskerming (v.1).  Die oordele en plae van v.5-6 kan jou nie seermaak nie.

 

Daarmee probeer ek nie sê dat dinge soos siekte, droogte of ander rampe en verliese nie oor jou pad sal kom nie. Dit sal.  Maar wanneer dit kom kan jy met ‘n geruste hart weet dat dit nie die Here se oordele oor jou is nie.  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rm.8:1).  As dinge dan vir jou verkeerd loop, hoef jy nie agterdog te raak en te dink die Here is teen jou nie.  God is vir jou – ook as die duiwel jou aanval (Rm.8:31).

 

In die Ou Testament het Satan die Israeliete en hulle konings aangehits om die profete dood te maak (v.7-10). Hy het vir Judas en Kajafas, Herodes en Pilatus, die Jode en die Romeine aangehits om vir Jesus dood te maak.  In die geskiedenis het hy die Romeinse keisers en die Katolieke leiers aangehits om die Christene te vermoor.  En in ons dag hits hy die Moslems en Kommuniste aan om Christene te martel en dood te maak.

 

Maar alhoewel hy die Here se boodskappers kan stilmaak, kan hy nie hulle redding wegvat, hulle siele doodmaak, hulle van die Here se liefde skei of keer dat die evangelie versprei nie (v.11-12, Mt.10:28, 16:18, Jh.10:28-29, Rm.8:38-39, 2 Tm.2:9). Inteendeel, hoe meer hy aan hierdie plant se takke sny, hoe meer groei dit.  Die kerk en haar boodskap kan nie uitgeroei word nie (v.11-12).

 

Toe Jesus en Johannes die Doper op die aarde was het dit vir ‘n klein rukkie gelyk of Satan die vuur van die evangelie onder sy sonde-besmette hoewe vertrap het (v.7-10). Maar onder die as het daar ‘n kooltjie gebrand, en met Jesus se opstanding het daar ‘n onblusbare vuur uitgebreek wat die wêreld aan die brand gesteek het.  Die profete en hulle boodskap het herleef (v.11-12).

 

Ja, daar was kere in die geskiedenis toe dit vir die wêreld gelyk het of die kerk en haar boodskap op asemhalingsmasjiene was. Maar omdat Jesus die Hoof van die liggaam is, kan die kerk nie doodgaan nie (al verloor sy ook ‘n arm en ‘n been).

 

Vyande soos Richard Dawkins en die New Atheists beweging glo dat die evangelie kinders negatief beïnvloed.  Hulle werk hard om die kerk se stem in skole stil te maak, sodat hulle hulle evolusionistiese propoganda kan verspei en hulle agenda kan dryf.  In Engeland het hulle selfs plakkers op Londen se publieke busse laat aanbring:  ‘There’s probably no God.  Now stop worrying and enjoy your life.’

 

Maar soos die res van die kerk se vyande sal ook húlle sien dat die evangelie nie kan uitsterf nie. Die kerk se vyande kom en gaan, maar die profete se boodskap bly vir ewig.  Dié wat soos Dawkins probeer om die kerk uit te roei, sal self uitgeroei word (v.13).  Oor dié wat aan die Here behoort sê die profeet:  “wie julle aanraak, raak sy oogappel aan.” (Sg.2:8).

 

Wanneer die Here egter ‘n aardbewing of ‘n ander ramp stuur om sy vyande se oordeel, sal Hy genadig wees en nie al sy vyande uitroei nie (v.13). In sy toorn sal Hy dink aan ontferming (Hab.3:2).  Dit is asof die hel se vlamme vir ‘n oomblik teen die goddelose uitbreek om hulle te waarsku en tot bekering te lei (v.13, Lk.13:1-5).

 

Indien hulle van hulle sondige gedagtes en leefstyle af wegdraai na die Here Jesus Christus toe, sal Hy hulle vergewe. Al het hulle ook die aakligste dinge denkbaar gedoen (soos om die Seun van God te kruisig en Christene dood te maak), sal Hy hulle vergewe en in sy tempel verwelkom.  Met dieselfde intensiteit waarmee Hy teen hulle geveg het, sal Hy hulle beskerm.

 

Dalk is jy ‘n ongelowige wat jouself nie as ‘n vyand van die kerk en haar boodskap beskou nie. Inteendeel, jy gaan redelik gereeld kerk toe en hou nogal van Christene se geselskap.  Jy wil ook graag hê dat jou kinders met Christene se kinders moet speel, omdat hulle ordentlik is.  Of miskien sien jy jouself glad nie as ongelowige nie, maar jy is ook nie heeltemal toewy aan die Here nie.

 

Hoe dit ookal sy, soos die ‘goeie en morele’ ongelowige, is ook jy ‘n vyand van God, want “Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” (Jk.4:4). As jy nie met absolute toewyding vir Jesus volg nie, is jy teen Hom.  Jesus het dit gesê:  “Hy wat nie met My is nie, is teen My” (Mt.12:30).  Jy kan nie met een voet in die Here se nuwe tempel staan, en met een voet buite nie.  Kies aan wie sy kant jy wil wees.

 

Iemand wat nie die detail van sy toegepaste wiskunde handboek verstaan nie, kan nie sy ingeneurskursus slaag nie. Dit is egter nie so met Op.11 nie:  al verstaan jy nie noodwendig die fyn detail van hierdie moeilike hoofstuk nie, kan jy nogsteeds die breë prentjie begryp en dit in jou lewe toepas.  Jy kan nogsteeds sorg dat jy deel van Jesus se tempel is.  Jy kan ook seker maak dat die duiwel jou vyand is en nie die Here nie.

 

[1] Sien ook Flavius Josephus, The Wars of the Jews

[2] Jan du Rand, Die A-Z van Openbaring, pp.381-382

[3] Days of Vengeance, p.121