Hoe om te oorleef terwyl Jesus weg is

i-miss-you

Ek het al meer as eenkeer met Christene gepraat wat sê dat dit vir hulle voel of die Here hulle verlaat dit. Selfs wanneer hulle bid voel dit nie of Hy daar is nie.  Wat moet ‘n mens in sulke tye doen?  Jh.13:31-14:14 is in die Bybel opgeteken om ons hiermee te help.

 

Wees lief vir mekaar (13:31-35)

Thys se ma is onlangs oorlede. Hy sukkel om dit te verwerk.  Ten minste is sy vrou, kinders en familie daar om hom te ondersteun.  Hulle liefde maak dat dit vir hom draaglik is.

 

Net so was dit ook toe Jesus die dissipels verlaat het. Hulle was baie hartseer.  Maar as hulle mekaar met sy liefde liefgehad het, kon hulle die hartseer verdra het.  Dit is die sentrale boodskap van 13:31-35.

 

Judas het die vertrek verlaat om die polisie te gaan haal (13:30). Jesus se kruisdood was op hande.  Hierin sou Hy as die Verlosser van die wêreld verheerlik word (13:31).  Die Vader sou Homself ook in Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart verheerlik het (13:31-32, 17:5).

 

Jesus het geweet dat die dissipels hartseer sou wees, en daarom het Hy hulle vir sy kruisdood en hemelvaart voorberei. Met vertroosting in sy stem het Hy hulle sy kinders genoem (13:33).  Hy sou nog net ‘n klein rukkie by hulle gewees het (13:33).  Hy het dit reeds in 7:34, 8:21 vir die Jode gesê, en het dit nou in sy dissipels se ore herhaal (13:33).  Omdat die Jode Hom verwerp het, kon hulle Hom nie na die hemel toe gevolg het nie (14:6).  En die dissipels het nog werk op die aarde gehad voordat húlle hemel toe kon gaan (13:33).

 

Terwyl hulle nog op die aarde was, moes hulle mekaar liefgehad het (13:34). Dit was Jesus se nuwe gebod aan hulle.  Maar hoe was die gebod nuut as Hy dit reeds in die Ou Testament gegee het (Lv.19:18)?  Dit was nuut omdat hulle dit ná Jesus se kruisdood op ‘n nuwe manier verstaan het.  Hulle moes mekaar dan liefgehad het soos wat Jesus hulle liefgehad het (13:34, 1 Jh.4:10-11).

 

Die wêreld sou die Christene se opofferende liefde gesien het en geweet het hulle is Jesus se dissipels (13:35). Tertullianus het een eeu na Johannes geskryf.  Die heidene van sy tyd was verbaas oor die Christene se onderlinge liefde – veral in tye van vervolging.  ‘Kyk hoe hulle mekaar liefhet!… hoe hulle selfs bereid is om vir mekaar te sterf!’[1]

 

Wanneer dit by onderlinge liefde kom, moet dit nie net in woorde bestaan nie, maar in dade (1 Jh.3:17-18). Christelike liefde is nie maar net ‘n gevoel nie, maar is prakties.  Christelike liefde weet wat dit beteken om geld en besittings met ‘n arm gelowige te deel.  Dit weet hoe om by iemand te sit wat moedeloos of eensaam is.  Dit weet hoe om vir ander te bid en hulle op te volg.  Dit is soos Jesus wat sal opoffer om ander te bevoordeel (1 Jh.3:16).

 

Moenie selfversekerd wees nie (13:36-38)

Ashwell is deel van ‘n bende in die Kaap. Voor sy vriende is hy grootbek en bang vir niemand nie.  Maar as sy vyande hom alleen in die winkel kry, is hy soos ‘n bang hondjie.  Die meeste van ons het so ‘n streek in ons.  As Jesus by ons is, is ons baie dapper.  Maar as ons nie meer sy teenwoordigheid by ons kan voel nie, dan vou ons.  Juis daarom moet ons nie te vol wees van onsself nie, maar eerder by Jesus skuil.  Dit is wat ons Johannes in 13:36-38 vir ons wil leer.

 

Petrus het nie die les oor liefde ter harte geneem nie, maar het gewonder waarheen Jesus oppad was (13:36). Jesus het vir Petrus gesê dat hy nie nou kon saamgaan nie (13:36).  Hy kon nie soos Jesus vir ander gesterf het of vereer word nie.  Hy sou egter later vir die evangelie gesterf het (13:36, 21:18-19, 2 Pt.1:14).

 

‘Hoekom kan ek nie nou volg nie – ek is bereid om my lewe vir U te gee,’ het Petrus gesê (13:37).  Petrus was lojaal, maar hy was ook selfversekerd.  ‘Is jy regtig bereid om jou lewe vir my te gee, Petrus?’ het Jesus gevra.  ‘Die waarheid is dat jy My drie keer sal verloën nog voordat die haan kraai.’ (13:38, 18:27).

 

Sonder Jesus kan ons niks doen nie (15:5). Ons moet dan nie luister wanneer die wêreld vir ons sê ons moet selfversekerd wees nie.  Druk jou ore toe as hulle vir jou sê jy moet in jouself glo en ‘n hoë opinie van jouself hê.  As jy op jouself staatmaak, sal jy vou soos Petrus.  Moet dan nie parmantig raak en dink jy is die kat se snor nie.  Vergeet eerder van jouself en vertrou op Jesus, sodat jy ‘n sterk sekerheid kan hê:  “In die vrees van die Here lê ‘n sterk sekerheid” (Sp.14:26).

 

Dink aan die toekoms (14:1-3)

Danie en sy vrou immigreer Australië toe. Hy begin volgende maand werk, en sy moet vir ses maande agterbly om die huis te verkoop en ‘n ander sake af te handel.  Dit is vir haar erg om van hom af weg te wees, maar wanneer sy daaraan dink dat sy hom binne ‘n paar maande weer gaan sien, dan help dit haar om vas te byt.  En so is dit ook met ons en Jesus:  dit is erg dat ons nie by hom kan wees nie, maar die wete dat Hy ons weer gaan kom haal help ons om te volhard.  Dit is waaroor 14:1-3 gaan.

 

Jesus het geweet dat die dissipels ontsteld was oor sy aankondiging van Judas se verraad en Petrus se verloëning (13:21, 38). Hulle was ook onseker en bang omdat Jesus sou weggaan.  Hy het vir hulle gesê om nie bang en onsteld te wees nie (14:1).  Hulle moes eerder op Hom en sy Vader vertrou het (14:1, 12:44).

 

Jesus het vir hulle vertel dat Hy oppad was na die Vader se huis toe om deur sy kruisdood vir elkeen van hulle ‘n kamer gereed te kry (14:2). Daar was meer as genoeg plek vir hulle almal (14:2).  Hy sou mos nie vir hulle gejok het nie (14:2, 1 Pt.2:22).  Omdat die Vader sy huis in hulle harte gemaak het (14:23), kon hulle ook nou in sy hemelse huis gebly het (14:2).

 

As Jesus klaar die plek voorberei het, sou Hy weer teruggekom het om die dissipels na Hom toe te vat, sodat hulle by Hom kon wees (14:3, 12:26). Wanneer sou dít gewees het?  Ek is nie so seker dat Johannes hier van Jesus se wederkoms praat nie.  Wanneer die Here weer kom gaan ons saam met Hom op die nuwe aarde bly, en nie in die hemel nie (Op.21).  Jesus verwys dan heel moontlik hier na die dag van ‘n gelowige se dood, wanneer hy of sy hemel toe gaan.

 

Hierdie vooruitsig help ons om nie in vrees te lewe vir die dood nie. Dit help ons ook om te volhard wanneer ons bekommerd en bang is (v.1).  Dit gee vir ons ‘n ongekende vrede.  Natuurlik sal jy dit nie hê as jy ‘n verkeerde idee van die hemel het nie.

 

Die hemel is nie ‘n abstrakte of ‘n wasige beeld in Christene se koppe nie. Die hemel is ‘n plek (14:2).  Dit is ‘n stad waarvan God self die argitek en bouer is (Heb.11:10).  Dit is ‘n groot paleis wat baie kamers het.  Dit het nie maar net ‘n duisend kamers soos ‘n vorige president van Romenië se paleis nie.  Daar is genoeg kamers om die ontelbare skare van verlostes te huisves (14:2, Op.7:9).  As dit nié so was nie, sou Jesus dit nie vir ons gesê het nie (14:2).

 

En tog gaan die hemel nie hoofsaaklik oor die pragtige paleis met sy kamers nie. Dit gaan oor Jesus.  Hy kom om ons na Homself toe te neem, en nie primêr na die paleis toe nie (14:3).  Hy wil vir ewig in ‘n verhouding en vrienskap met ons lewe.  Hy wil al die stoorkamers van sy groot genade en liefde vir ons oopsluit (Ef.2:7).  As Jesus nie in die hemel was nie, dan sou dit nie die moeite werd gewees het om soontoe te gaan nie.  Laat die verlange na Hom jou bemoedig.

 

Ken vir Jesus (14:4-11)

Sunel is ‘n Christen. Sy is egter ‘n bietjie lui wanneer dit by persoonlike Bybelstudie en gebed kom.  Sy onderwerp haar nie op ‘n gereelde basis aan die lering en verkondiging van God se Woord nie.  Toe sy deur ‘n moeilike tyd gegaan het, het sy nie geweet watter kant toe nie.  Sy was bang, angstig en kwaad.  Haar flou kennis van die Here het gemaak dat sy Hom nie vertrou het nie, maar probeer het om haarself uit te help.  Jesus wou die dissipels in hulle tyd van moeilikheid gehelp het, en daarom het hulle ‘n groter kennis van Hom nodig gehad.

 

‘Julle ken die pad na die hemel toe,’ het Hy vir sy dissipels gesê (14:4). Pessimistiese Tomas het nie verstaan nie.  ‘Eintlik weet ons nie dan nie eers waarheen U oppad is nie; hoe kan ons die pad ken?’ het hy gevra (14:5).  ‘Moet jou nie kwel nie Tomas: EK IS die ware weg wat na die lewe toe lei,’ is basies wat Jesus in 14:6 vir hom gesê het.  Jesus het nie maar net vooruit geloop en gesê:  ‘Volg die weg wat Ek volg, en julle sal in die hemel uitkom’ nie.  Nee, Hy is die weg.  En omdat Hy die waarheid en die lewe is, was Hy nie ‘n vals weg wat die dissipels sou mislei en na die ewige dood toe lei nie.  As die enigste weg na die hemel toe, kon die dissipels op Hom staatgemaak het (14:6, Hd.4:12).

 

Omdat Jesus dan die enigste weg na die Vader toe was, sou die dissipels die Vader geken het as hulle vir Jesus geken het (14:7). Jesus was die enigste een wat die Vader gesien het (6:46), maar deur Jesus kon húlle nou die Vader geken en gesien het (14:7).  Filippus het nie verstaan nie.  “Wys ons die Vader en dit sal vir ons genoeg wees,’ het hy gesê (14:8).  Vir hom was daar niks groter en beter gewees as om die Vader te sien nie.  Dit sou sommer dadelik sy vrese opgeklaar het.

 

Maar het Filippus na sy drie jaar saam met Jesus nogsteeds nie geweet wie Hy is nie? Het hy nie besef dat Jesus ‘n presiese afskrif van die Vader is nie (14:9, 1:18, 12:45, Kol.1:15, 19, 2:9, Heb.1:3)?  Hoe kon hy dan vir Jesus gevra het om vir hom die Vader te wys?  Het hy dan nie geglo dat Jesus in die Vader is en die Vader in Hom nie; dat Hy en die Vader een is nie (14:10, 10:30)?  Jesus se kragtige woorde en wonderwerke het dit dan bewys (14:10).  Filippus en die res moes die belydenis van Jesus se Godheid geglo het, of ten minste in sy wonderwerke gesien het dat Hy die Seun van God is (14:11, 20:30-31).

 

Hierdie kennis sou hulle in ‘n tyd van hartseer en angs gehelp het. En as ons die Here beter ken sal dit ons ook help.  Wil jy weet hoe om in die hemel te kom?  Jesus is die Weg:  vertrou op Hom, glo in Hom, volg Hom (14:6).  Wil jy weet of Christenskap die ware godsdiens is, en wonder jy miskien hoekom die ander godsdienste nie ook reg kan wees nie?  Jesus is die Waarheid en die enigste Weg na die Vader toe (14:6, Hd.4:12).  Wil jy weet hoe jy seker kan wees dat jy die ewige lewe het?  Jesus is die Lewe en kan daarom die ewige lewe gee aan dié wat in Hom glo (14:6, 1 Jh.5:20).

 

Wonder jy of jy eendag in die hemel die Vader gaan sien, en of jy net vir Jesus gaan sien? Dit is ‘n dom vraag, want wie vir Jesus gesien het, het die Vader gesien (14:9).  As jy die Vader wil ken, moet jy vir Jesus ken (14:9).  Kom ek gee vir jou ‘n paar voorbeelde:

 

  • Soos Jesus, wil die Vader ook hê dat sondaars tot bekering moet kom, en is Hy bedroef as hulle nie na Hom toe wil kom nie (Lk.13:24, 15:10, 19:41).
  • Soos Jesus is die Vader lief vir die grootste sondaars en geniet Hy dit om hulle te red (Mt.9:9-13).
  • Soos Jesus is die Vader lief vir kinders en wil Hy hê dat hulle in sy Seun moet glo (Mk.10:13-16).
  • Soos Jesus voel die Vader jammer vir mense wat swaarkry (Mt.15:32, Lk.7:13).

 

Ek hoop dit help jou.

 

Steun op sy krag (14:12-14)

Jan Pinkster lewe om wonderwerke te sien. Hy is by elke genesingsdiens en tentbyeenkoms.  Toe sy Christen kollega, Konserwatiewe Kobus vir hom gesê het dat die wonderwerke waarin hy glo nie die ware Jakob is nie, het hy Jh.14:12 aangehaal:  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”

 

Maar wat beteken hierdie vers? Dit kan tog nie beteken dat Jesus se volgelinge meer wonderwerke as Hy sou doen nie, want “daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (21:25).

 

Dit kan ook nie beteken dat sy volgelinge meer fantasiese wonderwerke as Hy sou doen nie. Ken jy iemand wat op water kan loop of die wind en die see kan stilmaak?  Het jy al iemand ontmoet wat ‘n graf kan oopgrawe en die dooie persoon daarin kan opwek?

 

Wat beteken die groter werke dan? Die teks sê dat Jesus se volgelinge groter werke as Hy sou doen, omdat Hy oppad was na die Vader toe (14:12).  As Jesus by die Vader was, sou Hy die Gees uitgestort het.  Hy het ook ná sy kruisdood en opstanding eers na die Vader toe gegaan.  Sy volgelinge sou dan die Goeie Nuus van Jesus se kruisdood en opstanding (die boodskap van bekering) met groter effek verkondig het as wat Hy dit gedoen het.  Dit klink of ek besig is om te laster, maar dis waar.

 

Hoeveel volgelinge het Jesus gehad toe Hy op die aarde was? ‘n Paar.  Hoeveel mense het tot bekering gekom toe Petrus in die Gees se krag die evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding verkondig het?  Drieduisend… op een dag.  Bekering is ‘n baie kragtige wonderwerk.  Volgens Ef.1:19-20, 2:4-5 het God dieselfde krag gebruik om ons uit die graf van ons sonde uit op te wek, as wat Hy gebruik het om vir Jesus uit die dood uit op te wek.

 

Waar kon Jesus se volgelinge die krag gekry het om hierdie groter werke te doen?  In gebed (14:13-14, Mt.17:20, 21:21-22).  Hoe moet ons bid?  In Jesus se Naam.  As ons so bid, sal Hy enigiets doen wat ons van Hom vra (14:13-14).  Om in sy Naam te bid beteken nie dat jy dit as ‘n towerformule aan die einde van jou gebed moet sê nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken eerder dat jy op grond van Jesus se Persoon en verlossingswerk aanvaarbaar is voor God. Jy kom deur Jesus na die Vader toe (14:6).  Die Vader antwoord ons gebede omdat Hy tevrede is met Jesus, en nie omdat ons opreg is of goed genoeg gebid het nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken ook dat jy volgens die Woord bid. Dit is asof jy sê:  ‘Vader, Jesus het gesê ek moet vra vir…’ en dan die Bybel aanhaal.  Jy moet God dus aan sy Woord en beloftes herinner (Jes.62:6-7).  Prakties beteken dit dat jy nie kan bid vir ‘n Rolls Royce in Jesus se Naam nie.  God se heerlikheid en nie ons selfsugtige begeertes nie, moet die fokus van ons gebede wees (14:13).

 

Dit behoort ons ook te bemoedig dat Jesus enigiets kan doen (13:14).  Die enigste beperking in gebed is Jesus se almag, en daarom is daar geen beperking nie.  Die ding wat ons die meeste beperk is ons eie ongeloof en biddeloosheid (Jk.4:2).

 

In Walt Disney se Lion King sê die klein leeutjie se pa vir hom dat hy altyd by hom sal wees.  Hy was dood toe hy dit gesê het.  Hoe kan ‘n dooie leeu by sy welpie wees om hom op te pas?  Met Jesus is dit anders, omdat Hy nie dood is nie maar lewe.  Deur sy Gees is Hy regtig altyd by ons om ons te versterk en op te pas (14:16-18).  En dit is waar ons volgende keer gaan stilstaan.

 

[1] Aangehaal in D.A. Carson, The Gospel According to John, p.485 n.1

Advertisements