Bonatuurlike beloftes

holy-spirit

Wanneer ons aan die bonatuurlike dink, dan hak ons vas by wonderwerke wat ons met ons oë kan sien. Ons dink nie daaraan dat die innerlike vrede wat die Christen-martelare op die brandstapel gehad het, ook bonatuurlik is nie.  Dit o.a. met sulke dinge wat ons in Jh.14:15-31 te doen kry.

 

Bonatuurlike hulp (v.15-17)

Ons weet dat Latyn ‘n sterk invloed op verskeie ander tale gehad het. Die Engelse woord ‘comfort’ het bv. nie altyd ‘troos’ beteken nie.  Omtrent 400 jaar gelede het dit ‘n betekenis gehad wat nader aan die oorspronklike Latyn was.  Die Latynse woord confortare beteken ‘om te versterk’.  Dit is dan ook wat die woord ‘comfort’ in ou Engels beteken het.[1]

 

Wanneer die King James Version van 1611 dan van die Heilige Gees as die ‘Comforter’ praat, beteken dit nie dat Hy ons na ‘n tyd van beproewing vertroos nie, maar eerder dat Hy ons voor en gedurende die beproewing versterk sodat ons dit kan verduur.  Hy versterk ons ook vir ons geestelike dienswerk.  Ons moet dit ook in gedagte hou wanneer die Afrikaanse Bybel van die Heilige Gees as die ‘Trooster’ praat.

 

Niemand kan dit op sy eie regkry om vir Jesus lief te wees en sy gebooie te gehoorsaam nie – jy het bonatuurlike hulp nodig (v.15-16). Dit is hoekom Jesus vir die Vader gevra het om die Trooster te stuur (v.16, Hd.2:33).  Die Trooster het van die Vader en die Seun af uitgegaan (v.16, 26, 15:26, 16:7).  Die woord ‘Trooster’ [Gk. paraklētos] beteken letterlik ‘een wat langs jou kom staan’.  Die Heilige Gees staan langs ons om ons te help.

 

Jesus het gesê dat die Heilige Gees ‘n ander Trooster is (v.16).  Dit impliseer dat Jesus ook ‘n Trooster is (1 Jh.2:1, paraklētos).  Toe Hy dan weggegaan het, het Hy vir die dissipels Iemand in sy plek gegee; Iemand wat net soos Hy is.  Hy sou vir ewig by hulle gewees het en hulle nie verlaat het nie (v.16, Heb.13:5b).  Hy is die Gees van die waarheid, die Gees wat die waarheid is (v.17, 1 Jh.5:6).  Hy openbaar die waarheid van Jesus en die Bybel aan ons (v.17, 14:6, 16:13).

 

Maar omdat die wêreld Hom nie kan sien nie, dink hulle Hy bestaan nie. Hulle ken ook nie sy lieflike Persoon nie, en daarom het hulle nie ‘n begeerte dat Hy in hulle harte moet woon nie (v.17).  Hulle kan nie sy waarheid ontvang nie (1 Kor.2:14). Ons ken Hom, omdat Hy altyd by ons is en in ons harte woon (v.17).  Ons ervaar sy kragtige werking in ons en het ‘n persoonlike verhouding met Hom.

 

Die belofte van die Gees is net vir dié wat die Here Jesus liefhet en dit deur hulle gehoorsame dade bewys (v.15, Hd.5:32). Dié wat vir die wêreld wil lewe sal nie die Gees se hulp en ondersteuning hê nie (v.17).  Hulle oortuig hulleself dat die rykdom, mense, drome en toekomsplanne waarop hulle staatmaak net so betroubaar is.  Maar nie een van hierdie dinge is nie onfeilbaar nie; dit kan misluk.  Om hierop te bou is soos om ‘n klavier oor ‘n hangbrug met verrotte planke te dra.  Die mense op wie jy vertrou kan siek word, hulle beloftes breek, vergeet, jou in die rug steek of doodgaan.  Daar is baie dinge wat jou drome en toekomsplanne in die wiele kan ry.  En jou geld kan gesteel word.

 

Ons hulp en ondersteuning is ‘n beter as dit. Die Trooster wat Jesus vir ons gestuur het is nie soos jou ‘One Stop Plumber’ wat maar net ‘n telefoon oproep weg is nie.  Hy is altyd met ons en in ons (v.17).  Daarom is die krag wat Hy vir ons kan gee onmiddellik beskikbaar.  Dit is selfs beter as toe Jesus op die aarde was, en Hy net by een groep mense op ‘n slag kon uitkom.

 

Bonatuurlike lewe (v.18-20)

Waaraan dink jy as jy die woord ‘lewe’ hoor? Dink jy aan ‘n pasgebore baba?  Of miskien aan ‘n kind wat vol energie is?  Dalk dink jy aan ‘n groen vallei ná ‘n lente reënbui:  skoenlappers, veldmuise wat bessies eet, bome, eekhorings, blomme, voëltjies en ‘n glashelder rivier.  Dink jy aan iemand wat vir lank siek was en nou weer fiks en gesond is?  Sien jy iemand wat verlief en vol lewe is?  Dink jy aan iemand wat avontuurlustig is?  Of iemand wat vriendelik is en altyd ‘n sprankel in sy of haar oë het?

 

Die volste definisie van lewe waaraan jy kan dink is nie genoeg om Jesus se lewe te beskryf nie. En dit is hierdie oorvloedige lewe (10:10) wat Hy op grond van sy eie opstanding aan die dissipels belowe het.

 

Die dissipels sou nie soos weeskinders gewees het wie se ouers hulle verlaat het nie – Jesus sou ná die opstanding na hulle toe gekom het (v.18, 20:19, 26). Oor minder as 24 uur sou die wêreld Hom nie weer gesien het nie – Hy sou in die graf gewees het (v.19).  Alhoewel Hy ná sy opstanding nie aan die wêreld verskyn het nie, het die dissipels Hom gesien (v.19, Hd.10:41-42).  Deur die Gees het Jesus sy opstandingslewe – die ewige lewe – in hulle harte uitgestort (v.19).  Daardeur het Hy ook die opstanding van hulle liggame verseker (Rm.8:11).

 

As die dissipels vir Jesus ná die opstanding gesien het, sou hulle sonder twyfel geweet het dat Hy die Seun van God is (Rm.1:4). Hulle sou geweet het dat Hy in die Vader is en die Vader in Hom (v.20).  Ná sy hemelvaart sou hulle ook geweet het dat Hy in hulle is, omdat Hy dán die Heilige Gees op hulle sou uitstort (v.20, 7:39).

 

Woon Jesus deur die Heilige Gees in jou hart; het jy al sy lewe in jou hart ontvang? Nee?  Glo dan in Jesus (3:15-16, 36).  Glo dat Hy die Seun van God is.  Glo dat Hy die sondeskuld wat jy by Hom gemaak het met sy eie bloed betaal het aan die kruis.  Soos wat ‘n sambreel die reën keer en jy droog bly, het Jesus God se oordeel afgeweer sodat dit jou nie kan seermaak nie.  Glo ook dat Jesus uit die dood uit opgestaan het en sy eie lewe in jou siel kan uitstort.  Ken Hom.  Dit is mos wat die ewige lewe is, nie waar nie (17:3)?

 

Bonatuurlike openbaring (v.21-24)

Is dit moontlik om die Stille Oseaan se water in jou opslaan-swembad in te pas? Is dit moontlik om die stof van die aarde in ‘n uurglas in te pas?  Is dit moontlik om die sterre van die heelal in jou garage te bêre?  Dom vrae, nie waar nie?

 

Maar is dit moontlik vir die ewige en oneindige God om in ‘n mens se hart te woon? Ja.  So leer Jes.57:15 vir ons:  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”  Maar hoe is dit moontlik?  Ek weet nie, maar dis waar.  En dit is die punt wat Jesus in v.21-24 wil maak.

 

Weer het Jesus gesê dat gehoorsaamheid die bewys is of iemand Hom liefhet of nie (v.21, 24). Dié wat Hom só liefgehad het sou die Vader en die Seun se liefde in homself ervaar het (v.21).  In sy groot liefde sou Jesus Homself deur die Heilige Gees aan hierdie persoon geopenbaar het (v.21).

 

Judas die seun van Jakobus (Lk.6:16, Hd.1:13) het ‘n hart vir die wêreld gehad, en het daarom nie verstaan hoekom Jesus Homself nie aan die wêreld gaan openbaar nie (v.22). Was Hy nie veronderstel om die wêreld te verstom deur sy groot heerlikheid aan hulle te openbaar nie?

 

Jesus het geantwoord dat die Vader dié mense spesiaal liefhet wat die Seun van God liefhet en sy Woord gehoorsaam (v.23). Die Vader en die Seun sou deur die Heilige Gees in dié persone se harte gewoon het (v.23, 2 Kor.6:16, 1 Jh.2:24, Op.3:20).  So sou die Drie-Enige God in sy kinders gebly het.  Ons weet dat hierdie lering waar is, omdat Jesus se woorde van die Vader af kom (v.24).

 

Wat is Jesus se les in hierdie verse? Elke mens soek liefde.  Die meeste mense soek dit op die verkeerde plekke en nie in die Here nie.  Net sy liefde kan die leemte in mense se harte vul.  En dit is dié liefde wat ons moet begeer.  Ons moet bid om iets van die hoogte, lengte, breedte en diepte van Jesus se liefde te verstaan (Ef.3:18-19).  Om sy liefde te ervaar moet ons met die kaalvoete van bekering en die leë hande van geloof na die kruis toe kom, want daar sien ons die volste openbaring van sy liefde (1 Jh.4:9).

 

As jy dit eers gesmaak het, moet jy nie ophou om dit te soek nie. Jy sal nie wil nie.  Bid dan saam met Paulus om meer hiervan te ervaar.  Bid om met die Gees vervul te word (Ef.3:16, 5:18).  Bid dat Christus die huis van jou hart sal versier soos wat dit vir Hom aanneemlik is (Ef.3:17).  Bid dat God jou hart met Homself sal vervul (v.23, Ef.3:19).

 

Wees egter versigtig om nie net die ervaring te soek nie, maar vir God self (v.23). ‘Young converts…must be taught that Jesus Himself, and not the comforts He gives, is their life.’[2]  Jaag dus na liefde vir God en gehoorsaamheid aan Hom, en nie na die lekker gevoel wat Hy vir jou kan gee nie.

 

Bonatuurlike lering (v.25-26)

Oor die afgelope dekade of so het ek baie geleer oor die subjektiewe en objektiewe leiding van die Heilige Gees. Iemand wat in subjektiewe leiding glo, dink dat enige geestelike gedagte, gevoel, droom, raad van ander gelowiges, prikkeling van die gewete, of gunstige omstandighede die Heilige Gees is.  Dié wat in objektiewe leiding glo dink dat die Heilige Gees ons net deur die Bybel lei.  Watter een van die twee is reg?  Die Bybel leer vir ons dat dit ‘n kombinasie van die twee is (sonder dat ons in nuwe openbaring glo).  Maar in v.26 gaan ons meer op die objektiewe leiding van die Gees fokus.

 

Jesus wou hierdie dinge vir die dissipels gesê het terwyl Hy nog by hulle was (v.25). Daar was nog ander dinge wat Hy vir hulle wou gesê het, maar hulle sou dit eers ná sy opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees verstaan het (v.26, 16:12-13, 2:22. 12:16).  Soos wat Jesus in die Vader se Naam gekom het (5:43), sou die Trooster of die Heilige Gees in Jesus se Naam gekom het (v.26).  Soos wat Jesus die Vader se woorde gespreek het (v.24), sou die Heilige Gees Jesus se woorde vir die dissipels geleer het (v.26, 16:14-15).  Alleen kon hulle nie Jesus se woorde akkuraat weergegee het nie.  Hulle het die Gees nodig gehad om hulle aan Jesus se presiese woorde te herinner (v.26).  Hý sou hierdie woorde geïnspireer het.

 

Deesdae is dit populêr vir mense om te sê dat die Heilige Gees hulle geïnspireer het om ‘n skildery te verf en ‘n instrument te speel, of om ‘n gedig, ‘n liedjie en ‘n boek te skryf. Ek ontken nie vir ‘n oomblik dat dit die Here is wat vir mense hierdie talente en gawes gegee het nie.  Maar dit is onsin om te sê dat die Heilige Gees hulle hiervoor geïnspireer het.

 

Die Heilige Gees het die apostels en die profete geïnspireer om die Bybel te skryf (v.26, 2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).  As Hy dan hierdie mense se pogings op dieselfde manier geïnspireer het, moet ons sê dat hulle werke op dieselfde vlak as die Bybel is.  Ek weet dat die Gees ons vandag nog in die waarheid lei en aan Bybelverse herinner.  Maar dit is baie naby aan lastering om te sê dat jou geestelike ervarings op dieselfde vlak as die Bybel geïnspireer is.

 

Bonatuurlike vrede (v.27-31)

Baie mense dink dat die Jehova’s Getuies hulle Bybels goed ken. Maar oor die afgelope jaar of twee het ek gesien dat hulle net sekere verse ken, en dat hulle nie die betekenis van hiervan verstaan nie.  Soos enige ongelowige, het hulle nie die vermoeë om die geestelike dinge van God se Woord te verstaan nie (1 Kor.2:14).  Hulle weet nie hoe om ‘n vers uit te lê, die woorde te verduidelik, of die vers binne sy konteks te verstaan nie.

 

Jh.14:28 is een so ‘n vers. Volgens húlle bewys hierdie vers dat Jesus nie God is nie.  Maar soos gewoonlik fokus hulle net op ‘n gedeelte van die vers.  Hulle doen nie eers moeite om die hele vers aan te haal en vra wat dit beteken nie.  Ons wil nie soos hulle wees nie, en daarom is dit belangrik dat ons ‘n bietjie dieper moet delf.  Kom ons kyk ook sommer na die verse voor en na v.28.

 

Deur die Gees het Jesus vir die dissipels vrede gebring (v.27, Gal.5:22). Die Gees sou hierdie ongekende vrede in hulle harte en gewetens ingeplant het.  Christus se vrede sou hulle in hulle onsteltenis gehelp het (v.27, 1, 16:33).  Dit sou hulle ook in tye van vervolging gehelp het.  Hierdie was nie die tipiese oppervlakkige vrede van die wêreld nie (v.27, Jer.6:14).  Dit kon nie deur omstandighede weggevat word nie; dit was ‘n innerlike en Goddelike vrede (Fil.4:7, Kol.3:15).

 

Die dissipels sou onthou het hoe Jesus vir hulle gesê het dat Hy weggaan en weer na hulle toe sal kom. Dit het hulle harte ontstel (v.1).  Maar as hulle Hom liefgehad het, sou hulle bly gewees het dat Hy weer na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter is as Hy (v.28).  Wat beteken dit?

 

Jesus het nie bedoel dat die Vader meer Goddelik is as Hy nie (1:1, 5:18, 10:30). Hy het gesê dat Hy na die Vader toe terugkeer, omdat die Vader groter is as Hy.  M.a.w.:  ‘Ek het my hemelse rykdom en heerlikheid verlaat om ‘n mens te word en My aan die Vader se gesag te onderwerp (Fil.2:6-7).  In hierdie opsig is die Vader groter as Ek.  Maar nou keer Ek terug na die Vader toe, sodat Hy nie meer groter as Ek sal wees nie.  Ek sal weer op my Goddelike troon gaan sit en die heerlikheid ontvang wat Ek gehad het voordat Ek die wêreld gemaak het (17:5).’  Dít is wat Jesus in v.28 bedoel het.

 

Die feit dat Jesus hierdie dinge vir die dissipels gesê het voordat dit gebeur het, bevestig dat Hy God is (v.29, Jes.41:23, 42:9). Maar vir tyd en wyl het Hy genoeg met hulle gedeel.  Daar was nie tyd om nóg te sê nie, omdat die regeerder van die bose wêreldsisteem – Satan – die Jode en die Romeine aangehits het om vir Jesus te kruisig (v.30, 12:31, 2 Kor.4:4, Ef.2:2, 1 Jh.5:19).

 

Die duiwel sou egter nie gewen het nie, omdat hy nie ‘n houvas op Jesus gehad het nie (v.30). Jesus het elkeen van die Vader se gebooie gehoorsaam (v.31), en het dus nie sonde gehad waaraan die duiwel soos ‘n parasiet kon vassuig nie (8:46, 1 Pt.2:22).  Op die laaste dag sou die hele wêreld erken het dat Hy die Vader volmaak liefgehad het en gehoorsaam het (v.31, Fil.2:8-11).  Toe Jesus dit klaar gesê het, het Hy en die dissipels die bovertrek verlaat om Getsemane toe te gaan (v.31).

 

Vir die dissipels is dít die rede hoekom hulle vrede nodig gehad het. Maar in jou geval is dit iets anders.  Is jou hart ontsteld omdat mense jou kritiseer, aanval, beskinder of valslik beskuldig?  Het jy probleme in jou verhouding met iemand anders?  Het jy miskien probleme in jou familie, met jou kinders, jou ouers of in jou huwelik?  Is jy onseker oor die toekoms?  Wens jy vir ‘n lewensmaat?

 

Het die planne wat jy gemaak het nie uitgewerk soos wat jy gehoop het nie? Bid jy al vir ‘n lang tyd, maar die Here antwoord nie?  Sukkel jy met siekte, of het jy miskien ‘n geliefde wat siek is?  Rou jy oor iemand wat dood is?  Sukkel jy by die werk?  Trek jy swaar:  emosioneel, finansieel of geestelik?  Voel dit of sonde die oorhand oor jou kry – jy probeer om te wen, maar val elke keer weer?  Het jy wysheid nodig en jy weet nie watter kant toe nie?  Of watse probleme het jy?

 

Jesus het gekom om vrede te bring (v.27). Dit is nie maar net ‘n subjektiewe emosionele vrede nie, maar ‘n objektiewe vrede.  Die fondasie daarvan lê aan die voet van die kruis.  Deur sy kruisdood het Jesus vrede tussen God en mens gebring (20:19, 21, 26, Rm.5:1, Kol.1:20).  As jy nie hierdie objektiewe vrede het, kan jy Hom vertrou om vir jou die subjektiewe vrede in jou hart te gee.  Hoe kry jy dit?

 

Gee jou sorge in gebed aan die Here oor, dank Hom dat Hy so almagtig en gewillig is om jou te help (Fil.4:6). Geniet dan die onbeskryflike vrede wat Hy selfs in die moeilikste omstandighede vir jou kan gee (Fil.4:7, Hd.16:22-25).  Hou ook aan om opsetlik aan die Here en sy goedheid te dink, sodat gedagtes van vrees en angs jou nie in die see van mismoedigheid laat verdrink nie (Fil.4:8).  Wees ook gehoorsaam, omdat sonde die groot dief is wat gelowiges se vrede steel (Fil.4:9).  Vra dan laastens vir die Heilige Gees om hierdie vrede vir jou te gee (Rm.15:13).

 

Natuurlik is dit vir ‘n ongelowige moontlik om in moelike tye innerlike vrede te hê. Dink maar aan sommige Buddhiste, Hindoes, of Katolieke martelare.  En tog is dit maar die uitsondering op die reël.

 

Verder is dit ook ‘n vals vrede. Wanneer hierdie mense hulle oë anderkant die graf oopmaak, gaan hulle ontnugter wees.  Daarom het ek vroeër gesê dat die mens se subjektiewe innerlike vrede op die objektiewe vrede van Jesus se kruisdood gebou moet wees.  Eintlik is die kruis die basis vir al die bonatuurlike beloftes van God.

 

[1] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.499

[2] Duncan Matheson aangehaal in Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.195