Die vrugtevolle lewe

grape-clusters

In die wêreld lewe mense vir rykdom, status, sukses, hulle kinders, ‘n goeie opvoeding, ander mense, hulle troeteldiere, vakansie, ontspanning, hulle toekomsplanne, aftrede en watookal anders. As hulle hierdie dinge bereik het, dan dink hulle dat hulle ‘n vol en vrugtevolle lewe gelei het.  Maar volgens Jh.15:1-17 kan net dié wat in Jesus glo ‘n vrugtevolle lewe hê.

 

Jesus se gelykenis (v.1-8)

‘n Gawe oom het laasweek en die vorige een vir ons ‘n boks perskes gebring.  Hy het vir my fotos gewys van sy ‘dooie’ perskeboom wat so baie vrugte dra, dat dit meer is as wat hy en sy liewe vrou kan gebruik.

 

‘As ek ‘n paar bokse vol gepluk het, dan lyk dit of ek nie eers ‘n duik in die boom gemaak het nie,’ het hy gesê. Klaarblyklik was die perskeboom nie dood nie, en het die takke nog meer as genoeg lewensap uit die boom se stam en wortels uit gekry.

 

En as ‘n half-gevrekte perskeboom se lewensap nog so baie vrugte kan voortbring, wonder ek hoe baie vrugte die gesonde Wingerd van Jesus kan voortbring? Natuurlik praat Jh.15 nie van sappige pers druiwe in jou mond nie, maar van die geestelike vrug van bekering.

 

Jesus en die dissipels het die bovertrek verlaat om na Getsemane toe te gaan (14:31). Dalk het hulle oppad by ‘n wingerd verbygeloop toe Jesus hierdie lering gegee het.  Jesus het gesê dat Hý die Ware Wingerd is en sy Vader die Landbouer (v.1).

 

Volgens die Ou Testament was Israel die Here se wingerd wat Hy geplant, gesnoei, bemes, versorg en beskerm het (Ps.80:9-10, Jes.5:2, Esg.19:10).  Hulle moes die soet vrug van bekering gedra het (Ps.80:9-12, Jes.5:1, 7, Jer.2:21, Esg.19:1, 10).  Maar instede daarvan het hulle die suur druiwe van sonde voortgebring (Jes.5:2, 4, 7).  Gevolglik het die Here sy wingerd aan haar vyande oorgegee:  vuur, droogte, die skroeiende oostewind, wilde varke, onkruid en dorings (Ps.80:14, 17, Jes.5:5-6, Esg.15:6-8, 19:12-14).

 

Uit die gebrande wingerd se stam het daar egter ‘n takkie gespruit (Jes.11:1): Jesus was die Ware Wingerd wat goeie en aanneemlike vrug voortgebring het (v.1, Ps.80:16, 18).  Die takke wat nie vrug gedra het nie was dus uiterlik aan Hom geheg, maar innerlik het die wingerd se lewensap nie deur hulle gevloei nie (v.2).  Judas en Israel was so, en daarom het die Landbouer hulle onder sy oordeel verwyder (v.2-3, 6, 13:10-11, 30, Jer.5:10, Mt.15:11, Lk.13:6-9, Rm.11:20).

 

Die ander takke was alreeds skoon deur die Woord van Jesus wat in hulle harte was (v.3, 1 Kor.6:11, Ef.5:26). Om hulle skoon te hou moes die Landbouer van tyd tot tyd die snoeiskêr van dissipline ingelê het, sodat hulle meer vrug kon dra (v.2, Heb.12:10-11).  Om aanhoudend vrug te dra, moes die takke deur geloof in die Wingerd gebly het (v.4, 14:20, Fil.1:11).  Geen tak wat van die Wingerd se lewensap verwyder was kon die vrug van bekering gedra het nie (v.4-5).  Sonder die Wingerd was die takke dood:  sonder Jesus kon die dissipels niks gedoen het nie (v.5).  Hulle lewe het van Hom af gekom (17:2-3).

 

Dié wat nie deur geloof in die Wingerd gebly het nie, is weggegooi en het soos dooie takke verdor (v.6). Die hout van hierdie takke was nie eers geskik vir waspennetjies of meubels nie, en het daarom in die vuur van God se oordeel beland (v.6, Esg.15:3-6, Mt.3:10, 7:19, 13:40-42, Op.20:15, 21:8).  Om vrug te dra moes die takke dan in die Wingerd gebly het en sy woorde in hulle harte bewaar het (v.7a).  As hulle dít gedoen het, kon hulle volgens sy woorde vir hulp gevra het om die vrug van bekering te dra (v.7b).  Die swaar trosse van bekering sou gewys het dat hulle ware dissipels van Jesus is (v.8b).  En tog was die dissipels se vrugtevolle lewens nie sentraal nie; die verheerliking van die Landbouer as die beste Wynboer in die heelal was (v.8).

 

Jesus se gebod (v.9-17)

‘n Sekere Prof. Sam van Aken van Syracuse Universiteit in die V.S.A. het deur ‘n proses van inenting ‘n boom gekweek wat 40 verskillende soorte vrugte dra: perskes, pruime, appelkose, kersies, amandels en nog 35 ander soorte.[1]

 

Dié boom illustreer vir ons iets van Jesus en sy kinders, omdat ons deur ons eenheid met Hom verskillende soorte vrugte dra. In Gal.5:22 gee Paulus vir ons die name van nege soorte, en in Jh.15 het ons ‘n beskrywing van verskeie soorte geestelike druiwe wat aan een Wingerd groei.

 

Om die vrug van bekering te dra moet ons in Jesus se liefde bly (v.9). Ons moet besef dat Hy ons liefgehad met dieselfde liefde waarmee die Vader Hóm liefgehad het (v.9).  In reaksie hierop moet ons Hom ook aanhoudend liefhê (v.9, 1 Jh.4:19).  Ons moet dit bewys deur sy gebooie te bewaar, net soos wat Hy die Vader se gebooie bewaar het (v.10, 14:15, Fil.2:8).  Ons gehoorsaamheid is nie ‘n vreugdelose onderhouding van wette nie, maar bring die diep en volkome blydskap van Jesus na ons harte toe (v.11, 17:13, 1 Jh.1:4).

 

Ons gehoorsaam ook nie uit vrees vir die hel nie (v.6), maar uit liefde vir God en ons naaste (v.12, 13:34-35). Jesus se liefde moet die patroon wees waarvolgens ons mekaar liefhet (v.12).  Hy het sy lewe vir sy vriende gegee (v.13, 10:11), en net so moet ons bereid wees om ons tyd, geld en lewens vir mekaar te gee (v.12, 1 Jh.3:16).

 

Wie is Jesus se vriende vir wie Hy sy lewe afgelê het? Dit is dié wat, soos Abraham, hulle liefde bewys deur te doen wat Hy vir hulle sê (v.14, Jk.2:23).  ‘Hierdie gehoorsaamheid is nie wat van hulle vriende maak nie; dit is eerder die kenmerk van sy vriende.’[2]  In een opsig kan ons sê dat die dissipels Jesus se diensknegte was wat hulle aan die Meester onderwerp het (v.20).  Maar in ‘n ander opsig was hulle meer soos vriende met wie Hy die Vader se geheime gedeel het (v.15, Mk.4:11, Gn.18:17, Jes.41:8, Eks.33:11, Ps.25:14, Am.3:7).

 

In Jesus se tyd het dissipels vir hulleself ‘n rabbi gekies, en nie andersom nie.[3]  Maar in die geval van Jesus en sy dissipels was dit anders. het die vriendskap geïnisieer en nie hulle nie.  Daarom het hulle geen rede gehad om hoogmoedig te wees toe Hy hulle sy vriende genoem het nie.  “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (v.16).

 

Hy het hulle spesifiek uitgekies om vrug te dra (v.16). Let ook op dat Hy hulle aangestel het om vrug te gaan dra (v.16).  Hy het hulle dus geroep en uitgestuur om evangelie-predikers te wees (v.16, 1 Tm.1:12).  Die vrug in hierdie vers verwys dan na ware bekeerlinge wat nie later weer wegval nie (8:31, Rm.1:13, Kol.1:6).  Vroeër in hierdie hoofstuk het die vrug verwys na die dissipels se gehoorsaamheid (v.10), liefde en vreugde (v.11-12, Gal.5:22).

 

Om die verskillende soorte vrug te dra moes die dissipels gebid het (v.16). Hulle moes in Jesus se Naam gebid het:  op grond van sy kruisdood en inlyn met sy Woord (v.16, 7, 14:13-14).  Die Vader sou hulle geantwoord het, sodat hulle die vrug van gehoorsaamheid, Christelike karakter en ware bekeerlinge gedra het (v.16).  Die vrug van onderlinge liefde het egter kop en skouers bo die res uitgestaan (v.17).

 

Hoe lyk die vrug in jou lewe? Is dit suur, omdat daar sonde is wat jy nie wil los nie?  Is dit smaakloos, omdat jy nie doen wat die Here vir jou sê nie?  Het dit ‘n verrimpelde skil, omdat jy nie ernstig is om Christelike kwaliteite na te jaag nie?  Het dit steek- en kneusplekke, omdat jy nie die evangelie met ander deel nie?  Verheerlik die vrug in jou lewe die Vader (v.8)?

 

Wat moet jy doen om volop vrug te dra, en om goeie vrugte te dra?  Jy moet een wees met die Wingerd, omdat jy sonder Hom niks is, het of kan doen nie (v.4-5).  Enige seën wat jy ervaar word in Hom en ter wille van Hom aan jou gegee (Ef.1:3).  Let op hoe die volgende dinge in Hom is:

 

[1] Heiligmaking (v.2-3, 1 Kor.1:30).

[2] Antwoorde op gebed (v.7, 16).

[3] Sekerheid van redding (v.8).

[4] Liefde (v.9-10).

[5] Vreugde (v.11).

[6] Uitverkiesing (v.16, Ef.1:4).

[7] Geregtigheid (1 Kor.1:30).

[8] Wysheid (1 Kor.1:30).

[9] Verlossing (1 Kor.1:30, Ef.1:7).

[10] Vergifnis (Ef.1:7).

[11] Genade (Ef.1:7).

[12] Jou erfdeel in die hemel (Ef.1:11).

[13] Verseëling met die Heilige Gees (Ef.1:13).

[14] Jou dood (1 Kor.15:18).

[15] Lewe in jou siel en in jou opstandingsliggaam (Rm.6:11, 23, 1 Kor.15:22, 2 Kor.5:17).

[16] Lyding en vertroosting (2 Kor.1:5).

[17] Vryheid van sonde (Gal.2:4).

[18] Aanneming in God se huisgesin (Gal.3:26).

[19] Christelike eenheid (Gal.3:28).

[20] Goeie werke (Ef.2:10).

[21] Hoop op ‘n heerlike toekoms in die hemel (Ef.2:6-7).

[22] Goddelike vrede en rykdom (Fil.4:7, 19).

[23] Geestelike volwassenheid (Kol.1:28).

[24] Geloof (1 Tm.1:14).

[25] ‘n Godvresende lewe (2 Tm.3:12).

[26] God se kosbare beloftes (2 Kor.1:20).

 

Omdat al hierdie dinge in Christus is, is dit belangrik dat jy in Hom moet wees.  En om in Hom te wees moet jy in Hom glo.  Jy moet glo dat jy niks kan doen om God se guns te wen nie, maar dat jy alleenlik op grond van Jesus se Persoon, kruisdood en opstanding aanneemlik kan wees voor God (3:16, 2 Kor.5:21, Fil.3:9).  Om in Hom te wees moet Hy in jou wees (v.5):  “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.  En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Gal.2:20).

 

Lewe jy in Jesus en Hy in jou? Is jy ‘n tak wat swaar dra, sodat die vrug in jou lewe amper op die grond hang?  Wil jy nie so wees nie, sodat God in jou verheerlik kan word en jy sy liefde en blydskap in jou hart kan hê nie (v.8-11)?

 

Om dit reg te kry moet jy sy dissipline in jou lewe aanvaar en nie teen Hom rebelleer omdat Hy jou ‘seermaak’ nie (v.2). Jy moet onthou dat ‘die Landbouer nooit nader aan die wingerd is as wanneer Hy dit snoei nie.’  Aanvaar dan die Here se dissipline met dié wete dat Hy vir jou is, en dat Hy jou belange op die hart dra.

 

Om vrug te dra moet Jesus se woorde in jou wees (v.3, 7). Jy moet dit glo, lees, hoor, daaroor nadink en dit gehoorsaam (v.9).  Vandag is daar mense in die kerk wat nie vrug dra nie, omdat hulle nie in die Bybel belangstel nie.  Hulle hou nie van sterk Bybelse prediking nie, maar verkies motiverende boodskappe wat hulle lekker laat voel.  Hulle lees ook nie graag die Bybel nie, maar soek eerder sentimentele dagstukkies op hulle selfone (solank dit nie meer as twee minute van hulle tyd steel nie).  Onder die mense wat van goeie preke hou en dit geniet om in die Bybel in te delf, kry jy sommige wat hoor maar nie doen nie.  En juis daarom dra hulle nie vrug nie.

 

Iemand wat ‘n vrugtevolle lewe soek moet daarvoor bid (v.7, 16). Sonder getroue gebed sal jy nie gehoorsaamheid, groei, Christelike karakter en bekerings sien nie.  As die Here dit sonder gebed vir jou gegee het, sal jy Hom nie daarvoor prys nie maar dink dat dit gedoen het.

 

Ek wil jou aanspoor om gereed vir hierdie dinge te bid. Bid dat die Here Gal.5:22 se vrug van die Gees in jou hart en lewe sal laat groei.  Deursoek die begin van Paulus se briewe en bid sy gebede vir jouself en vir ander.  Oor ‘n jaar of twee sal jy en die mense om jou verbaas wees oor hoe baie jou lewe verander het.  Die Here sal ook ‘n plesier daarin hê (v.8).

 

Maar as jy nié vir jou geestelike groei bid nie, sal jy soos sommige kerkmense wees wat na 20 of 30 jaar nog net so onvolwasse is soos die dag toe hulle by die kerk aangekom het. Hulle Bybelkennis het nie verdiep nie, hulle liefde vir die Here en sy kinders is flou, hulle het nie ‘n begeerte vir gehoorsaamheid nie, en hulle het nog nooit iemand na die Here toe gelei nie.  ‘n Mens wonder of hulle gered is.  Is hulle nie miskien soos Judas nie:  as lidmate van die kerk het hulle uiterlik deel aan die Here, maar innerlik is Christus se lewe nie in hulle nie (v.2, 6)?

 

Dit is dan ook hoekom hulle nie vrug dra nie (v.2). En op die einde is hulle soos Judas wat van die Here en sy liggaam af wegdraai (13:30).  Hulle stel nie belang in Christus en sy kerk nie.  Hulle name is op die lederol van die kerk, maar hulle dien nie die Here in die gemeente nie.  Hulle is die soort mense van wie nuwe en toegewyde gelowiges vra:  ‘Wie is so-en-so:  ek het hulle foto in die boekie gesien, maar ek het hulle nog nooit by die kerk gesien nie?’  Van sulke mense sê 1 Jh.2:19:  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”

 

Ware gelowiges is nie so nie – hulle bly in Jesus en val nie weg nie (v.4, Kol.1:23, Heb.3:6, 14).  Omdat hulle sy vriende is, doen hulle wat Hy vir hulle sê (v.14).  Om dan in Jesus te bly en vrugtevol te lewe is nie ‘n mistiese ervaring waarin jy met jou kop in die wolke loop en nie meer bewustelik sondig nie.  Ons glo nie in die Keswick-beweging se ‘higher life’ teologie, waarin ‘n mens passief in Jesus bly en nie aktief iets doen om vrug te dra nie.  Die Bybel leer dat jý die vrug moet dra, maar dat dit Jesus is wat dit in jou doen.  Dit is ten minste hoe Paulus dit verstaan het:  “werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Fil.2:12-13).  As jy dit nie só doen nie, sal jy nooit ‘n vrugtevolle lewe lei nie.

 

[1] https://www.youtube.com/watch?v=ik3l4U_17bI

[2] Vry vertaal uit D.A. Carson, The Gospel According to John, p.522

[3] G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.493

Advertisements