Die dieper betekenis van Kersfees

christmas-2

In 1984 het ‘n 59-jarige vrou by ons begin werk. Sy het daar gewerk totdat my ouers in 2008 Johannesburg toe getrek het.  Sy lewe nogsteeds en kan nie lees of skryf nie.  As sy boeke gesien het, het dit vir haar soos ‘n klomp strepies gelyk.  Maar vir iemand wat kán lees het hierdie ‘strepies’ ‘n dieper betekenis.  En so is dit ook met Kersfees.  Die wêreld sien die baba in die krippie, maar weet nie wat dit beteken nie.  Jh.1:14-18 sal ons help om die dieper betekenis van Kersfees te verstaan.

 

Heerlikheid (v.14)

Kort na matriek het ek saam met ‘n vrou gewerk wat geglo het dat die mens se liggaam nie belangrik is nie, en dat die siel al is wat saakmaak. ‘n Paar jaar gelede het iemand vir my gesê dat die liggaam sonde kan doen, maar dat ‘n mens se gees nie kan sondig nie.

 

In Johannes se tyd was daar mense wat hierdie tipe dinge geglo het (sien enige goeie kommentaar op 1 Johannes). Daar was o.a. dié wat geglo het dat materiële dinge soos die menslike liggaam boos is, maar dat die mens se gees rein is.  Om hierdie rede het hulle geglo dat God nie regtig ‘n mens geword het nie, maar dat Hy net soos een gelyk het.  In Jh.1 sien ons hoe Johannes hierdie mense teëgegaan het.  ‘Die Woord het vlees geword,’ het hy gesê.  M.a.w., Hy het volkome mens geword (v.14).  Die implikasie is dat Hy nie altyd ‘n mens was nie, en ook dat Hy bestaan het nog voordat Hy aarde toe gekom het (v.1).  Hy was nog altyd saam met God en is self ook God (v.1).

 

Hoe het dit dan gebeur dat Hy ‘n mens geword het? Hy is nie gebore uit die liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou nie (Mt.1, Lk.1).  Maria was ‘n maagd toe sy deur die Gees se krag met Hom swanger geword het (Lk.1:35).  Só het die ewige Woord van God dan vlees geword (v.1, 14).

 

Sy vleeswording beteken nie dat Hy opgehou het om God te wees nie. Hy is immers Immanuel, God met ons (Mt.1:23).  Hy is een Persoon met twee nature.  Hy is en sal vir ewig volkome God (v.1) en volkome mens bly (v.14, Hd.7:56, 1 Tm.2:5, Heb.1:3, Op.1:12-16).

 

As mens het Hy vir 33 jaar op die aarde gewoon (v.14). Die Griekse woord vir ‘woon’ [skenoō] beteken letterlik ‘om ‘n tabernakel op te slaan’.  In die Ou Testament was God se tabernakel in die midde van sy volk; in die Nuwe Testament het Hy in ‘n menslike liggaam onder ons die tabernakel van sy teenwoordigheid opgeslaan.  In die Ou Testament het God se heerlikheid die tabernakel gevul (Eks.40:34-35); in die Nuwe Testament het sy heerlikheid die tabernakel van die vleesgeworde Woord gevul (v.14).

 

Johannes sê dat hy hierdie heerlikheid met sy eie oë gesien het (v.14, 1 Jh.1:1). Hy het dit in Christus se wonderwerke gesien (2:11, 11:4, 40),  asook op die berg van verheerliking (Lk.9:32, 28-29).  Dit het duidelik geword in Jesus se kruisdood en opstanding (7:39, 12:16, 23, 20:19), en ons sal dit ook by sy finale koms sien (Tit.2:13).

 

Hierdie heerlikheid bewys net weer vir ons dat die Woord God is (v.14, 1, 17:5, 5:23, Jes.48:11). Sy heerlikheid is die glansryke essensie van sy Goddelikheid.  Dit kan duidelik gesien word in sy genade en waarheid; in sy goedheid (v.14, Eks.33:18-19).  Dit is so ryk en vol dat mens dit nie kan mis nie (v.14).  Soos ‘n helder lig skyn dit uit die ewige son van die Eniggebore Seun van God (v.14, 3:16).  Niemand in die heelal is soos Hy nie:  uniek en een van ‘n soort [Gk. monogenēs].  Hy het van die Vader af na ons toe gekom (v.14, 3:17).

 

Die wêreld het Hom gesien, maar sy Goddelike heerlikheid was onder die sluier van sy menslike liggaam bedek. Daarom het hulle nie verstaan dat Hy God is nie (1 Kor.2:7-8).  En so is dit vandag nog met baie Afrikaners wat van Jesus in die krippie weet sonder om te besef wat dit eintlik beteken.  Hulle het nie ‘n Bybelse begrip van die menswording van Jesus Christus nie.

 

Verder beperk hulle ook hulle idee hiervan tot een dag per jaar, wanneer hulle op Kersdag saam met hulle ‘fanatiese’ familie kerk toe gaan. Hulle begrip van die menswording van Jesus strek nie veel verder as die bekende wysies van ou Kersliede wat hulle op RSG en in Checkers hoor nie.

 

En natuurlik gaan die wêreld hulle nie help om hierdie oppervlakkige beeld te verander nie. Hulle sal die verwarring aanhelp deur hulle films oor Kersvader – die ou man met sy rooi pak en wit baard.  Die aandag is lankal nie meer op Jesus nie.

 

Die tradisionele Afrikaner se kinders weet meer van Kersvader as van Jesus. Ons het gemaak of Kersvader regtig is, maar het gelewe asof Jesus nie bestaan nie.  Die waarheid van Jesus se vleeswording het nie ‘n impak op ons lewens gehad nie; dit het ons nie verander nie.  Ons gedagtes oor God en ons sonde, die kerk, die wêreld, ons geld en besittings, ons werk en verhoudings met ander mense verskil nie van ons ongelowige kollegas s’n nie.  Dit bewys net weereens dat die deursnee Afrikaner nie eintlik die menswording van Jesus verstaan nie.

 

Moet dan nie tevrede wees met die naakte feit van Jesus se vleeswording nie.  Die wêreld weet ook van die herders, die engele, Josef en Maria in Betlehem, die krippie en die baba, die wyse manne, die ster, goud, wierook en mirre, en ‘n jong seuntjie wat in die huis op sy ma se skoot sit.  Hulle mis egter die heerlikheid van God hierin, omdat hulle nog nie sy goedheid, genade en waarheid in hulle harte ervaar het nie.

 

Hulle het al by die krippie gestaan en ‘ag cute!’ gesê, maar het nog nie by die bloedbesmeerde kruis gaan staan en in diepe berou die trane van hulle oë afgevee nie; hulle het nog nie besef dat dit die verdiende loon vir hulle sonde is nie. Juis daarom kan hulle nie die heerlikheid van Jesus en die dieper betekenis van Kersfees sien nie.  Hulle sonde het hulle blind gemaak:  “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rm.3:23).

 

Ewigheid (v.15)

Ons leer vir ons kinders die Westminster Kategisme. Toe hulle gehoor het dat God nie ‘n begin gehad het nie, het hulle gesê:  ‘Maar Hy is dan in Betlehem gebore.’  Ek moes vir hulle verduidelik dat Hy as mens in Betlehem gebore is, maar dat Hy as God nog altyd bestaan het.

 

En dit is van hierdie vleesgeworde Woord wat Johannes die Doper getuig het (v.15, 7-8).  Sy hele bediening het hierop gefokus (v.19-36, 3:27-30).  Hy het geweet dat die Seun van God se bediening eers ses maande ná syne begin het, en dat hy ses maande ouer was as Jesus (v.15, 30, Lk.1).  En tog was die vleesgeworde Woord belangriker as Johannes (v.15, 30, vgl. Mt.11:11).  In sy Goddelikheid het Jesus lank voor Johannes bestaan (v.15, 30, 1).  Eintlik was Hy Johannes se God.

 

Daarom moet Jesus meer word en ons minder (3:30). Dit kan net gebeur as dit by ons insink dat ons in die teenwoordigheid van ‘n Wese is wat geen begin of einde het nie.  Hy is nie soos ons vasgevang in tyd nie, en word ook nie deur ruimte beperk nie.

 

Dink ook verder daaraan dat dit is wat as ‘n hulpelose baba gebore is.  Hoe moes dit gewees het om die babatjie vas te hou?  Jy sou moeilik geglo het dat die baba wat in jou arms lê die ewige God is.  Hy het aarde toe gekom om ons te red van ‘n oordeel wat so groot is soos Hy.  Laat sy ewige en oneindige liefde jou op jou knieë dwing, sodat jy Hom saam met die herders, engele en wyse manne aanbid.

 

Volheid (v.16-17)

Kom ons gestel jy het ‘n oneindige hoeveelheid energie en stamina tot jou beskikking, en jy kan nie doodgaan nie. Hoe lank sal dit jou vat om met ‘n emmer al die water uit die see uit te skep?  Miskien sal jy dit binne ‘n miljoen jaar regkry.  Maar met Jesus se die genade is dit anders:  dit is oneindig en kan nie uitgeput word nie.  As jy met die emmer van gebed uit hierdie oseaan skep, is daar nie minder genade oor nie.

 

Soos ‘n rivier wat sy walle oorstroom was Jesus vol van Goddelikheid (v.16, Kol.1:19, 2:9). Uit sy volheid het ons genade op genade ontvang, net soos wat die see se golwe eindeloos op mekaar volg (v.16).  Hierdie genade was nie net vir die Jode bedoel nie, maar vir almal – dit is, vir dié wat dit met die regterhand van geloof vat (v.16, 3:16, Tit.2:11).

 

Die wet wat God deur Moses gegee het was nie so volkome in genade soos die evangelie nie (v.17). Dit het vir die volk gesê hoe om die Here tevrede te stel, maar het hulle nie instaat gestel om dit te doen nie.  Dit was ook sonder genade vir dié wat dit oortree het.  En toe kom die Wetgewer aarde toe.

 

Hy het die wet namens ons onderhou, en ook die straf ontvang wat ons verdien het. Die genade van verlossing en die volle waarheid van die wet se skadus en tipes – die Sabbat, tabernakel en offers – het deur Jesus na ons toe gekom (v.17, Kol.2:16-17).

 

Ons kan v.17 in John Bunyan se woorde opsom:

 

‘Run John, run!’ the law demands,

But gives him neither feet nor hands (v.17a).

Far better news the gospel brings;

It bids him, ‘Fly!’ and gives him wings (v.17b).

 

Jesus is dan beter as Moses. Moses het nie self die wet gegee nie, maar het dit by God gekry (v.17).  Maar genade en waarheid is in Jesus self (v.17, Eks.34:6).

 

Kom dan na Hom toe as jy die volheid soek van alles wat goed en waar is. Die smaaklike kos, geselligheid en geskenke wat jy op hierdie dag geniet, kan dit nie vir jou gee nie – net Hý kan.  As jy in Hom glo sal jy sien dat ek die waarheid praat.  Jy sal agterkom dat Kersfees maar net die begin van sy genade is.  Jy sal ‘n ewigheid in die hemel nodig hê om die onmeetbare skatte van sy genade te ontvang:  “sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.” (Ef.2:7).

 

Maar jy hoef nie te wag tot in die hemel nie; jy kan nou al by die swaar gelaaide tafel van genade aansit. Hiér hoef jy nie skuldig te voel as jy jouself trommeldik eet nie.  Volgens die res van die Nuwe Testament sal God vir jou hierdie onskatbare genade gee om:

 

  • Aan te hou glo (Hd.13:43).
  • Die evangelie met ander te deel (Hd.14:26, 15:40).
  • Geestelik te groei (Hd.20:32).
  • Geestelike werk te doen (1 Kor.15:10, Ef.4:7).
  • Geld by te dra vir arm Christene (2 Kor.8:1, 6-7).
  • Lyding te verduur (2 Kor.12:9).
  • Troos en hoop te hê (2 Ts.2:16).
  • Innerlik versterk te word (2 Tm.2:1, Heb.13:9).
  • Vrymoedig te bid (Heb.4:16).

 

Dit is die geskenke wat God hierdie Kersfees vir jou wil gee. Genade is tog waaroor Kersfees gaan, nie waar nie?

 

Openbaring (v.18)

As jy vir baie lank getroud is, dan leer jy mekaar ken. As jou maat bv. op ‘n sekere manier na jou kyk, dan sê jy:  ‘Ek weet wat jy dink.’  Ek is seker dat jy al baie keer reg geraai het, maar ek is net so seker dat jy by tye al verkeerd was.

 

Niemand ken ‘n ander mens se gedagtes nie. Jy alleen weet wat in jou kop aangaan.  As ander mense jou gedagtes wil ken moet jy woorde gebruik om dit vir hulle te sê.  En net so is Jesus die Woord van God wat gekom het om die Vader se hart en gedagtes bekend te maak.

 

In Eks.33:18-23 het Moses die skynsel van God se heerlikheid gesien, maar in sy essensie het niemand Hom nog ooit gesien nie (v.18, 4:24, 5:37, 1 Tm.6:16). Maar toe Jesus aarde toe gekom het, het Johannes en baie ander mense Hom gesien (v.18).  Hulle het geleer dat Hy die enigste God en die Eniggebore Seun van God is (v.18).  Hy was in die Vader se boesem (v.18).  Wat op aarde beteken dit?  Dit beteken dat Hy baie naby aan die Vader was – so naby dat Hy en die Vader een is (v.1, 10:30).  Wie Hom gesien het, het die Vader gesien (14:9).

 

Baie mense wat ‘n slegte verhouding met hulle pa’s gehad het, het ‘n verkeerde idee van God. Hulle is geneig om die Vader te vermy en te dink dat hulle eerder ‘n verhouding met ‘liewe’ Jesus wil hê.  Maar om so te dink is verkeerd, en wys ook dat hulle ‘n verdraaide beeld van God het.  Jesus en die Vader is presies dieselfde en is meer identies as enige tweeling wat bestaan; hulle is een (v.18, 10:30, Heb.1:3).  Alles wat Jesus is, is die Vader ook (14:9), en daarom kan jy met vrymoedigheid na Hom toe kom.  Is dit nie hoekom Hy aarde toe gekom het nie?

 

‘Light looked down and beheld Darkness.

“Tither will I go,” said Light.

Peace looked down and beheld War.

“Tither will I go,” said Peace.

Love looked down and beheld Hatred.

“Tither will I go,” said Love.

So came Light and shone.

So came Peace and gave rest.

So came Love and brought life.

And the Word was made flesh and dwelt among us.’[1]

 

[1] Laurence Housman aangehaal in Leon Morris, The Gospel According to John, p.102 n.85