Hoe moet ons dissipline toepas?

church-discipline

Ek is al vir 12½ jaar in ons gemeente, en nog nooit het die ouderlinge vir my gevra om oor ‘n spesifieke onderwerp te preek nie. Maar by hierdie week se vergadering het hulle vir my gevra om oor kerkdissipline te preek, omdat daar nog mense in die gemeente is wat dit nie verstaan nie.  Die duidelikste lering hieroor vind ons in Mt.18:15-20.

 

Die stappe van dissipline (v.15-17)

In my gesprekke met mense hoor ek dat daar dissiplinêre prosesse by hulle skole, besighede en maatskappye is. Iemand word nie summier afgedank nie – daar is ‘n proses wat gevolg moet word.

 

En so is dit ook in die kerk. As God se kinders hulleself nie kan dissiplineer om van hulle sonde ontslae te raak nie (v.7-9), is daar ‘n proses in plek om die Here se verlore skape terug te bring (v.15-17, 10-14).

 

Moenie dink dat dit eers dissipline is wanneer die persoon se naam voor die gemeente genoem word nie. Om een tot een met iemand oor sy sonde te praat (bv. in berading) is ook dissipline.  Hoe lyk hierdie proses in die praktyk?

 

Stap 1: Gaan alleen

Jesus praat hier van ‘n broer wat sonde doen (v.15), van iemand wat deel is van die gemeente (v.17).  Kerkdissipline is dan nie vir ongelowiges bedoel nie, maar vir gelowiges (1 Kor.5:12-13, Heb.12:6-8).  Dit is die Here se voorreg aan hulle om hulle te help as hulle van die pad afgedwaal het.

 

Jesus gee nie ‘n spesifieke lys van sondes waarvoor ons dissipline moet toepas nie. In hierdie verse gaan dit oor enige sonde waarin ‘n Christen volhard.  Maar moet my nie verkeerd verstaan nie.  Hier gaan dit nie oor ‘n gelowige wat sy sonde haat en daarteen stry, maar vir jare daarmee sukkel nie.  In v.16 staan daar letterlik dat die broer glad nie wil luister nie [Gk. ], en volgens v.17 weier hy om na die getuies en na die gemeente te luister [Gk. parakouō].

 

Dit gaan dus oor iemand wat opsetlik en moedswillig met sy sonde aanhou (selfs iemand wat dat hy wil ophou, maar nie regtig ‘n ernstige poging aanwend om dit te doen nie).

 

Wie se plig is dit om die dissipline toe te pas? Myne.  Joune.  Elke gelowige s’n.  Dit is nie net die ouderlinge se taak om dit te doen nie.  As jou broer teen jou gesondig het, moet jy na hom toe gaan (v.15).  Ook die twee of drie getuies van v.16 kan enige gelowiges in die gemeente wees.

 

Maar moet jy by die proses betrokke raak as die persoon nie direk teen jóú gesondig het nie? Dalk het die persoon nie direk teen jou gesondig deur van jou te skinder nie.  Maar as 15-jarige Fanie verslaaf is aan dwelms, sondig hy indirek teen sy ouers omdat hy húlle naam deur die modder sleep.  En so is dit ook in die gemeente.  Daarom geld kerkdissipline nie net wanneer iemand direk teen jóú gesondig nie.

 

Wat moet jy doen as jy uitvind dat iemand besig is met sonde? Moenie net vir die persoon bid nie, maar gaan na hom toe (v.15).  Sonde verblind en verlei ons (Jer.17:9, Heb.3:13), sodat ons dit nie raaksien nie.  Soms is dit nodig dat iemand dit vir jou moet uitwys.  Ons is geneig om vir ander te vertel wat die persoon gedoen het, eerder as om direk na haar toe gaan.  Maar dit hoort nie so nie:  gaan na die persoon toe en praat met haar – alleen (v.15, Lv.19:16-17).

 

Voordat jy dit doen moet jy seker maak dat jy die gesindheid van Jesus het: wees nederig en sagmoedig, en let op jouself dat jy nie óók versoek word nie (Gal.6:1-2).  As die persoon vir jou geluister het, het jy hom vir die Here gewen (v.15, Jk.5:19-20).  Dit is tog die doel van dissipline:  om gelowiges wat in die put van sonde beland het uit te help, omdat hulle dit nie op hulle eie regkry nie.  As die persoon hom dan bekeer het, is dit nie nodig vir verdere dissipline nie – al het hy ook seksuele sonde gepleeg of dronk geword.

 

Soms is daar egter gevalle waarin ons dadelik vir die gemeente sê, omdat almal reeds van die persoon se sonde weet.  Die dissipline moet so publiek wees soos die sonde.  Daar is uitsonderlike gevalle waarin ons ‘n persoon onmiddellik van die gemeente moet afsny.  As ‘n lidmaat bv. ‘n skoolmeisie ontvoer, verkrag en doodmaak, neem ons aan dat hy ‘n ongelowige is, en sny ons hom dadelik van die gemeente af (vgl. 1 Kor.5).

 

Stap 2: Vat getuies saam

Iemand wat ná stap 1 nie wil luister om hom te bekeer nie, het verdere hulp nodig. Daarom moet jy een of twee persone saamvat as jy met die persoon gaan praat (v.16).  “in die veelheid van raadgewers is redding.” (Sp.11:14).  “Twee is beter as een” (Pd.4:9).

 

Hierdie mense hoef nie getuies van die persoon se sonde te wees nie, maar moet o.a. insit sodat dit nie uiteindelik jou woord teen hare is indien dit dalk voor die gemeente moet kom nie (Dt.19:15). Anders sal mense rede hê om agterdogtig te wees en te dink dat jy ‘n persoonlike vendetta teen die persoon het.

 

Stap 3: Sê vir die gemeente

Die gemeente is die gelowiges wat hulleself deur lidmaatskap tot ‘n spesifieke liggaam toe verbind het. In ons konteks vra ons hulle na die erediens om vir ‘n paar minute agter te bly.  Ons sê vir hulle wat aan die gang is (v.17a).  Volgens die Bybelse vereiste noem ons die persoon se naam, asook die sonde wat hy gedoen het (1 Kor.5:1, 1 Tm.1:20, 2 Tm.2:17-18, 3 Jh.9-10, Op.2:20).  Die gemeente hoef nie al die lelike detail te weet nie, maar ons sê vir hulle genoeg dat hulle kan weet dit is ernstig.  Op hierdie punt sny ons nie die persoon af nie, maar ons vra dat die gemeente sal probeer om hom terug te wen.

 

Stap 4: Sny die persoon af

As die persoon ná stap 1-3 nogsteeds nie na die gemeente wil luister nie, moet ons hom afsny. Volgens Jesus moet ons hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar beskou (v.17b).  Die Jode het die heidene en tollenaars as onrein beskou (Jh.18:28), en sou ook nie saam met hulle geëet het nie (Mt.9:11, Hd.11:2-3).  Wat beteken dit prakties vir ons?

 

[1] Ons moet die persoon vermy (Rm.16:17, 2 Tm.3:5). Ons moenie geselsies met hom aanknoop of saam met hom kuier nie.

 

[2] Ons moet ons van hom onttrek en geen gemeenskap met hom hou nie (v.17b, Ef.5:11, 2 Ts.3:6, 14, Tit.3:10). Ons moet hom nie by die eredienste, Bybelstudies, bidure en ander gemeentebyeenkomste verwelkom nie.

 

[3] Ons moet hom uit ons midde verwyder, sodat hy nie meer ‘n lidmaat van die gemeente is nie (1 Kor.5:2, 7, 13).

 

[4] Ons moet hom aan die Satan oorlewer (1 Kor.5:5, 1 Tm.1:20). Dit beteken o.a. dat hy nou in die wêreld lewe en nie meer deel het aan die voorregte, vreugdes en beskerming van die Here Jesus se gemeente nie (1 Jh.5:19).

 

As ek 15 jaar jonger was, sou ek gesê het dat hy nou vir homself moet ‘fend’. Al verantwoordelikheid wat ons teenoor die persoon het, is om vir hom te bid en om die evangelie met hom te deel.

 

[5] Ons moenie met hom assosieer of saam met hom eet nie (v.17b, 1 Kor.5:11). Dit beteken dat ons nie saam met hom die nagmaal moet eet nie.  Ons moet ook nie op ‘n vriendskaplike basis saam met hom koffie drink of braai nie.

 

Die doel van hierdie streng optrede is om…

 

  • Te keer dat die persoon se sonde die res van die gemeente beïnvloed (1 Kor.5:6-7).
  • Ons bang te maak dat ons nie dieselfde paadjie loop nie (1 Tm.5:20),
  • Die Here se Naam te beskerm, sodat die wêreld nie met Hom spot nie (Rm.2:24).
  • Die persoon skaam te maak en tot sy sinne te bring, sodat hy hom bekeer (1 Kor.5:5, 2 Ts.3:14).

 

Die gesag van dissipline (v.18-20)

Mense hou nie van dissipline nie; hulle soek dit nie. In ons eie gemeente het mense al gevra dat ons daarmee moet wegdoen.  Ander het al vir hulle ‘n nuwe gemeente gaan soek, omdat hulle nie daarvan hou nie.

 

Ek het eenkeer ‘n e-pos gekry waarin die persone gesê het hulle soek ‘n God van liefde, en nie ‘n God van dissipline nie (sien Heb.12:6, Op.3:19). Mense het al vir my gesê:  ‘Wie gee vir julle die reg om dit te doen?’

 

Volgens v.18-20 gee Jesus vir ons die reg om dit te doen; ons doen dit met sý goedkeuring.  Dit wat ons op die aarde bind, is ook in die hemel gebind (v.18 vgl. 16:19).  Anders gestel:  wanneer ons op die aarde iemand van die gemeente afsny, is die God van die hemel besig om hom te tugtig.  Dus is kerkdissipline nie bloot ‘n formaliteit nie – die Here dissiplineer regtig die persoon.

 

Die vers impliseer ook dat die persoon wat van die gemeente afgesny is onder die Here se dissipline bly totdat sy haar bekeer.  Dit help dan nie dat sy haarself wip en na ‘n ander gemeente toe gaan nie.

 

Verder sê Jesus dat dit wat op die aarde ontbind is, ook in die hemel ontbind is (v.18). M.a.w., as die persoon hom regtig bekeer het en hy deur die gemeente vergewe en herstel word, sal die Here hom nie verder tugtig nie, maar die swaar hand van sy dissipline lig.  Die Griekse konstruksie wys eintlik dat die gemeente optree, omdat die Here reeds in die hemel die proses aan die gang gesit het.[1]

 

Jesus bevestig dat gelowiges wat op die aarde is, die hemel se gesag het om sy dissipline toe te pas (v.19).  Waar die twee getuies van v.16 oor die dissipline saak saamstem, sal die Here hulle hulpgeroep hoor en hulle beantwoord (v.19).  Die gebed in v.19 het niks te doen met ‘n biduur nie; dit gaan oor kerkdissipline.

 

As ons dan enigiets in hierdie spesifieke verband vra, sal ons Vader wat in die hemel is ons gebede beantwoord (v.19). Gebed is dan ‘n belangrike aspek van kerkdissipline.  As ons die Here aanroep, sal Hy vir ons die nodige krag gee om hierdie moeilike proses deur te sien (v.19).

 

Hy sal self ook by ons teenwoordig wees wanneer ons in sy Naam vergader het om dissipline toe te pas (v.20, 1 Kor.5:4). Waar die twee of drie getuies van v.16 met die persoon moet praat of dit voor die gemeente moet bring, sal Jesus self teenwoordig wees om hulle te help.  Dit is asof Hy sê:  ‘Ek weet dit is moeilik, maar julle doen die regte ding.  Ek is met julle en keur goed waarmee julle besig is.’  Daarom moet ons nie nalaat om dissipline toe te pas, omdat ons mense vrees nie – die Here is met ons.

 

Ek weet dat ek nie noodwendig al jou vrae oor kerkdissipline beantwoord het nie. Laat my toe om enkele vrae te beantwoord.  Indien jy nóg vrae het, is daar verskeie boeke en preke wat jou kan help.[2]

 

[1] Wat sal gebeur as ons nié dissipline toepas nie? Dan sal God die gemeente tugtig (Op.2:14-16, 20).

 

[2] Hoeveel tyd moet ons tussen die verskillende stappe toelaat? Dit hang van die situasie af.  As Karen traag is om die eredienste by te woon, gaan stap 1 en 2 jou waarskynlik ‘n paar maande vat.  Dit sal veral die geval wees as sy nou en dan ‘n poging aanwend om kerk toe te kom.  Maar as Gideon Dinsdag sy vrou gelos het om by sy sekretaresse in te trek, gaan jy binne twee of drie weke stap 1, 2 en 3 doen.

 

Daar moet genoeg tyd wees vir die persoon om haar te bekeer. “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” (1 Ts.5:14).  Iemand het gesê:  ‘Die liefde is geduldig, maar dis nie blind nie.’

 

[3] Wat moet jy doen as die persoon nie ‘n afspraak met jou wil hê nie, en hy jou boodskappe en oproepe vermy? Moenie te gou opgee nie.  Vra vir een van die ander getuies om die persoon te kontak.  Daag by sy huis op.  Skryf vir hom ‘n brief, maar maak seker dat jy jou woorde mooi kies.  Vra vir die ander getuies om dit deur te lees en voorstelle te maak voordat jy dit stuur.

 

As geeneen van jou pogings werk nie, het die persoon indirek gesê dat hy nie vir jou of die ander getuies wíl luister nie.  In daardie geval moet jy vir die leiers sê, sodat hulle dit voor die gemeente kan bring (v.17, 3 Jh.10).

 

[4] Wat as die persoon haar bekeer het – hoe moet ons dán te werk gaan? Hier moet ons ‘n balans handhaaf.  Aan die een kant moet ons nie naïef wees en dink dat sy haar bekeer het, net omdat so gesê het nie.  Om jammer te wees oor die gevolge van sonde, is nie dieselfde as om jammer te wees oor die sonde nie.  Ons wil daarom die vrug van bekering sien, en gewoonlik gebeur dit nie binne twee weke nie (2 Kor.7:10-11).

 

Indien daar egter ware bekering is, moet ons die persoon vergewe, haar as ‘n lidmaat van die gemeente herstel, en versigtig wees dat ons haar nie moedeloos maak omdat ons haar op ‘n afstand hou nie (v.21-35, 2 Kor.2:5-11).

 

‘n Ouer predikant het eenkeer vir my gesê: ‘Kerkdissipline werk nie – dit maak mense kwaad en dit dryf hulle weg.’  Hy was reg om te sê dat dit hulle wegdryf.  Toe God in Hd.5 vir Ananias en Saffira doodgemaak het, het die ongelowiges dit nie gewaag om by die gemeente aan te sluit nie (Hd.5:13).  Die predikant was egter verkeerd om te sê dat dit nie werk nie, want in dieselfde teks lees ons dat die Here meer en meer mense by die gemeente gevoeg het (Hd.5:14).

 

In die begin van John MacArthur se bediening het sy vriende vir hom gesê om nié kerkdissipline toe te pas nie, omdat dit die gemeente sal doodmaak. Hy het nie vir hulle geluister nie.  Die gemeente het gegroei van 400 tot meer as 10 000.  Dit laat my dink aan die vers wat sê:  “die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.” (1 Sm.2:30).

 

[1] Wayne Grudem, Systematic Theology, p.891

[2] [i] Handbook of Church Discipline deur Jay Adams.  [ii] Church Discipline deur Jonathan Leeman.

[iii] Hoofstukke oor kerkdissipline in Wayne Grudem se Systematic Theology, John MacArthur se Master’s Plan for the Church, Mark Dever se 9 Marks of a Healthy Church en The Deliberate Church deur dieselfde outeur.  [iv] Willem Nel van Krugersdorp Baptistekerk se audio preek hieroor.  Jy kan dit aflaai by:  http://baptistekerk.org/Hulpbronne/Preke/Volgens-Titel-2/post/gemeentelike-dissipline—n-bybelse-oorsig [v] Ek het twee ander preke oor die onderwerp gepreek.  Jy kan dit lees by:  https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2016/05/01/wat-moet-ons-doen-met-lidmate-wat-van-die-gemeente-afgesny-is/ EN https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/04/23/die-enigste-oplossing-vir-sonde-in-die-kerk/

Advertisements