Die millennium en daarna

Burning earth

Mense het ‘n natuurlike nuuskierigheid oor die toekoms.  Dit is hoekom daar so iets soos toekomsvoorspellers is.  Hulle kan egter nie regtig die toekoms voorspel nie, omdat net die ware God dit kan doen (Jes.41:22-23).  Hy het in die Bybel deur die apostels en die profete vir ons gesê wat in die nabye en in die verre toekoms gaan gebeur.  Op.20:4-10 is een van vele tekste wat oor hierdie dinge praat.

 

Die millennium (v.4-6)

John Owen was ‘n prediker en teoloog wat in die 1600’s gelewe het.  Hy is daarvoor bekend dat hy moeilik geskryf het.  Dié wat dit geniet om hom te lees sal egter vir jou sê jy kan hom verstaan as jy hom noukeurig en stadig lees.  So is dit ook met Op.20:  dit is moeilik, maar as jy dit frase vir frase neem kan jy dit verstaan.  Selfs as jy nie elke detail verstaan nie, is dit moontlik om die breë trekke te verstaan.

 

Johannes het trone gesien:  dié wat gesag ontvang het om te oordeel het daarop gesit (v.4).  Hy het ook die siele gesien van dié wat vir die getuienis van Jesus en vir die Woord van God onthoof is (v.4).  Hulle het nie die dier of sy beeld aanbid nie; hulle het ook nie sy merk op hulle regterhande of voorkoppe ontvang nie; hulle het die Here gevolg en nie soos die wêreld gelewe nie (v.4).[1]

 

Wat beteken hierdie vers?  Dié wat op die trone gesit het, mag dalk die apostels wees wat die hele kerk verteenwoordig (Lk.22:30).  Alhoewel die martelare se siele aandui dat hulle in die hemel was (v.4, Heb.12:23), was dié wat op die trone gesit het in die hemel en op die aarde.  In die toekoms sal ons op trone sit en saam met Jesus regeer (3:21, 5:10, 22:5).  En tog is daar ‘n sekere sin waarin ons reeds saam met Hom in hemelse plekke sit (Ef.2:6, Kol.3:1, 3).

 

Die martelare se siele het lewend geword en vir ‘n duisend jaar saam met Jesus regeer (v.4).[2]  Dit is die eerste opstanding (v.5).  Die eerste opstanding verwys na Jesus se opstanding (2:8, 1 Kor.15:20, 23, Kol.1:18), en na dié wat deur wedergebore daarin deel (v.6, Kol.2:12, Ef.2:5-6).

 

Die tweede dood of die hel het geen mag oor hulle nie (v.6, 14, 21:8).  Hulle is wedergebore en sal daarom nie hel toe gaan nie (2:11).  Tydens die duisend jaar sal hulle as priesters en konings van God en die Messias regeer (v.6, 1:6, 5:10, 1 Pt.2:9).

 

Die res van die dooies in v.5 het nie deur wedergeboorte in Jesus se opstanding (die eerste opstanding) gedeel nie, maar sou net aan die einde van die duisend jaar in die tweede opstanding van die liggaam gedeel het (v.5).

 

Premils maak beswaar:  ‘Hoe kan jy sê dat die eerste opstanding geestelik is, terwyl die tweede een liggaamlik is – is jy nie besig om in die teks in te lees wat daar nie staan nie?’  Nee.  Die konteks en die res van die Skrif vereis dat ons die teks so moet interpreteer.  Buitendien is die eerste opstanding nie net geestelik nie maar liggaamlik, omdat dit na Jesus s’n verwys.

 

Omdat ons deur wedergeboorte daarin deel, kan ons sê dat die eerste opstanding liggaamlik en geestelik is, terwyl die tweede een net liggaamlik is (Rm.8:11).  Die eerste dood is liggaamlik, terwyl die tweede een liggaamlik en geestelik is in die hel (Mt.10:28).

 

As Johannes dan die twee dode verskillend interpreteer, weet ek nie hoekom premils dink dit is vergesog wanneer post- en amils die twee opstandings verskillend interpreteer nie.  Johannes self het dit so geïnterpreteer:  Jh.5:24-25 praat van ‘n geestelike opstanding, terwyl Jh.5:28-29 van die opstanding van die liggaam praat.

 

In die lg. teks wys Johannes ook dat daar net een opstanding van liggaam is, en nie twee of meer soos wat premils sê nie.  Ek sal in die volgende preek meer hieroor sê.

 

As jy vir mense van Jesus vertel en die Woord van God met hulle deel, sal hulle jou haat (v.4, 6:9).  Een van ons lidmate is hierdie week deur haar baas ingeroep.  ‘Jy mag nie meer die evangelie by die werk deel nie; as jy weer oor Jesus praat gaan ons jou afdank,’ het hy gesê.  Die wêreld sal jou haat net omdat jy aan Jesus behoort (Jh.15:18-25).

 

Maar moenie dat dit jou afsit nie.  Onthou dat jy saam met Jesus regeer, en dat die wêreld jou erfdeel is (v.4, 6, Mt.5:5, 1 Kor.3:21-23).  God het jou geheilig of afgesonder om in hierdie seën te deel (v.6, 14:13, Ef.1:3).  Jou taak is om seker te maak dat jy deur wedergeboorte in Jesus se opstanding deel (v.4-6).

 

Hoe doen jy dit?  Net soos wat ‘n kind homself nie verwek en in die wêreld inbring nie, kan geen mens homself wederbaar nie.  Geestelike geboorte kom van God af; dit is Hý wat ons in die eerste opstanding laat deel (Jh.1:13, Ef.2:4-6, Jk.1:18, 1 Pt.1:3).

 

Vra dan vir Hom om Christus se lewe in jou hart te plant.  Glo dat Hy dit sal doen, omdat Jesus in sy kruisdood die straf gevat het wat ons moes kry.  Glo ook dat Hy dit kan doen, omdat Jesus uit die dood uit opgestaan het en vir ewig lewe.  Los die sonde waarvoor jy so lief is, en vra dat Hy jou sal vergewe.  As jy dit nié doen nie, sal jy in die tweede dood van die hel deel (v.6).  En dit sal die fout van jou lewe wees.

 

Die wederkoms (v.7-10)

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek elke tweede Sondag ‘n man in die tronk gaan besoek.  Hy was baie bly toe hy uitgekom het.  Ek het met hom gepraat toe hy weer by sy ouers gebly het.  Maar van wat ek verstaan het hy na sy ou weë toe teruggekeer, en is hy tronk toe.  Blykbaar het die tronk nie sy hart verander nie.

 

Net so het die duiwel se tronk in v.1-3 nie sy hart verander nie (nie dat dit die bedoeling was nie).  Toe hy vrygelaat is, het hy sy bose streke voortgesit (v.7-8, 3).  As ‘n laaste poging het hy probeer om die nasies te mislei (v.8).  Hy het die ongelowiges onder hulle van oral af gebring om God se kinders te vervolg (v.8).

 

Hulle was soos die sand van die see.  Volgens die Bybelse gebruik van die term beteken dit dat daar ‘n paar honderd duisend of dalk ‘n paar miljoen van hulle was (Dt.1:10, Jos.11:4, Rgt.6:5, 7:12, 1 Sm.13:5, 1 Kon.4:20, Heb.11:12).  Die teks dui dus nie noodwendig aan dat hulle meer was as die gelowiges nie.

 

Volgens v.8 is hulle Gog en Magog genoem.  In Esg.38-39 is Gog en Magog ‘n ander naam vir Antiochus Epifanes wat teen Israel baklei het, maar deur God se ingrype oorwin is.[3]  In Op.20:8 is Gog en Magog ‘n simboliese naam vir die nasies wat onder die duiwel se invloed teen God se kinders baklei het.  Soos met die ander name in Op.2, 11, 18 (Isebel, Sodom, Babilon), verwys Gog en Magog in v.8 nie na die Ou Testamentiese figure nie, maar is dit ‘n simboliese naam.

 

Soos in Esg.38-39 het God die duiwel en sy handlangers teen die kerk versamel, omdat Hy hulle op een slag wou uitwis.  Hulle het oor die breedte van die land of aarde gekom om die kamp en die geliefde stad van die heiliges te omsingel (v.9, Hab.1:6).  Die kamp en die geliefde stad verwys na die hemelse Jerusalem of die kerk (21:2, 2 Kor.11:2, Gal.4:26, Heb.12:22, 13:12-14).

 

Volgens die belofte in Mt.16:18 kon Satan nie teen die kerk gestaan het nie.  Jesus het na die aarde toe teruggekeer om hom en sy goddelose magte met vuur te vernietig (v.9, 2 Ts.1:6-8, 2 Pt.3:10, 12, vgl. Gn.19:24, 2 Kon.1, Esg.38:22, Lk.9:54).  Hy is in die poel van vuur en swawel gegooi waar die dier en die vals profeet alreeds was (v.10, 19:20).  Daar het God hom vir sy boosheid gepynig – vir ewig (v.10, 14:10-11).

 

Die duiwel kan nie met Jesus vergelyk word nie. Sy mag is geleen; hy kan nie doen wat hy wil nie.  As hy en sy demone die Here se kinders wil versoek of ander groot bewegings wil maak, moet hulle toestemming kry (Job 1:6-12, 2:1-6, Lk.8:32, 1 Jh.5:18).  Dit is nie ‘n gelyke speelveld tussen Christus en die duiwel nie (v.9).

 

Wat ‘n charismaat eenkeer vir my gesê het, is loutere onsin:  ‘Omdat daar so iets soos geestelike wette is, moet God by die reëls hou.  Gevolglik kan die duiwel partykeer vir Hom sê om dinge te doen wat Hy andersins nie sou of wou doen nie.’  Die implikasie is dat die duiwel vir God kan ‘black mail’.  Hy kan Hom m.a.w manupileer, in ‘n hoek dryf, en in skaak sit.

 

Bog, snert, vuilgoed en twak.  Die duiwel sidder voor God en praat nie terug wanneer Hy vir hom sê wat om te doen nie (Mt.4:10-11, Mk.1:23-26, Jk.2:19).  Sorg daarom dat die duiwel en nie Jesus nie, jou vyand is.  Dank die Here dat jy aan die wen kant is, en dat die Heilige Gees wat in jou woon sterker is as die duiwel (Rm.8:31, 1 Jh.4:4).

 

Ons moenie die duiwel uittart nie (2 Pt.2:10-11, Jud.8-9), maar ons moet ook nie in vrees lewe asof hy die mag het om te doen wat hy wil nie.  Jesus sal ons beskerm en die duiwel se aanvalle gebruik om ons te bevoordeel (Rm.8:28).  En as Hy hom klaar soos ‘n ou stoflap gebruik het om ons blink te vryf, sal Hy hom vir ewig in die hel gooi (v.10).

 

Moet asb. nie die idee kry dat die hel ‘n plek is waar die duiwel met ‘n drietand vurk rondloop om ongelowiges te pynig nie.  Dit is nie naastenby die geval nie.  In 2004 het Rick Holland by ‘n konferensie gesê:  ‘Satan is not the captain of hell, but the chief captive of hell’ (vgl. Mt.25:41).  God is soewerein oor Satan.

 

As jy ‘n goeie fliek kyk en jou kind vir jou sê hoe dit gaan eindig, is dit ‘n anti-klimaks en kan jy net sowel die storie afsit.  Maar met die millennium en dit wat daarna gaan gebeur is dit nie so nie.  Die feit dat God reeds die einde bepaal het (Jes.46:10, Ef.1:11) en vir ons gesê het hoe dit gaan afspeel, stel ons gerus.

 

[1] Sien my preek, Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666) vir ‘n verduideliking hiervan.

[2] In die vorige preek het ek gewys dat die duisend jaar simbolies is van die tydperk tussen Jesus se eerste koms en sy tweede een.  Die preek se titel is, Die goue era van postmillennialisme as jy dit dalk wil opsoek.

[3] David Chilton, The Days of Vengeance, p.206 en William Hendriksen, More Than Conquerors, pp.232-234

Advertisements