Die heel eerste sonde

Selfie

Tussen 1910 en 1919 was Louis Botha eerste minister van Suid-Afrika.  Die feit dat hy die eerste minister was, dui aan dat hy die belangrikste man in die land was.  Maar hy was ook eerste eerste minister in ons land se geskiedenis.

 

So is dit ook met hoogmoed.  Dit is die eerste sonde wat gepleeg is, maar is ook bo-aan die lys van sondes.  Dit is die atleet wat eerste die wenstreep kruis, maar is ook die ESKOM wat aan elke ander sonde sy krag gee.  Jes.13:1-14:23 wys vir ons waar dit begin het, hoe dit in die praktyk lyk, en wat die skrikwekkende gevolge daarvan is.

 

Eerste in rang (13:1-22)

Arthur is die koning van Engeland.  Terwyl hy in Kontinentale Europa was, het twee mans in die paleis ingekom en die koningin vermoor.  Die koning het hom voorgeneem om hulle te vang en te hang.  Hulle het belowe om vir hom ‘n skatkis vol goud en diamante te gee as hy hulle lewens spaar, maar hy het geweier en hulle doodgemaak.

 

Dit is hoe die Here oor hoogmoed voel:  Hy sal aktief teen jou wees en dinge vir jou nag maak.  In Jes.13 het ons ‘n illustrasie hiervan.

 

Aan die einde van die sewende eeu v.C., het Babilon by Assirië oorgeneem om die wêreld se nuwe supermag geword.  In 586 v.C. het hulle Jerusalem verwoes en die Israeliete gevange geneem.  Veertig jaar later het God die Meders en die Perse gebruik om die Babiloniërs tot ‘n val te gebring en sy volk te bevry.  Meer as 150 jaar voor dit, het Jesaja die seun van Amos dit voorspel (13:1).

 

Die banier moes op ‘n kaal berg opgehef word, sodat die Meders en die Perse dit duidelik kon sien, en hulle Babilon se stadspoorte – die plek waar die edeles gesit het – kon binneval (13:2).  God het die Meders vir Homself afgesonder en hulle beveel om die Babiloniërs aan te val (13:3).  Hy het hulle trotste en dapper helde gestuur om sý wraak uit te oefen (13:3).  Hulle was as’t ware die wapens van sy toorn om die land of aarde te vernietig (13:5).

 

Die gedruis van hierdie groot weermag kon op die berge gehoor word (13:4).  Die Here van die leërskare het die koninkryke van die nasies teen Babilon versamel (13:4).  Medië en Persië was 700 km noord en oos van Babilon.  Vir iemand wat dit per kameel en in sandale gereis het, was dit ‘n ver land aan die einde van die hemel (13:5).

 

Maar alhoewel die land ver was, was die dag van die Almagtige God en sy verwoesting naby (13:6).  Die Babiloniërs sou gehuil het; hulle hande sou slap geword het, hulle harte sou gesmelt het, hulle moed sou in hulle skoene gesak het (13:6-7).

 

Hulle sou verbouereerd en verskrik gewees het (13:8).  Soos ‘n vrou met kraampyne, sou hulle inmekaar gekrimp het (13:8).  Hulle sou met verskrikking en verbasing na mekaar gekyk het.  A.g.v. die verleentheid, sou hulle wange rooi geword het (13:8).  Die dag van God se toorn en vuurgloed sou die land soos ‘n woestyn laat word het, en die sondaars daarin vernietig het – dit sou ‘n verskriklike dag gewees het (13:9).

 

Die sterre en konstelasies, die son en die maan sou opgehou het om lig te gee; dit sou donker gewees het (13:10).  Jesaja gebruik waarskynlik simboliese taal om die Here se oordele mee uit te druk (Esg.32:7-8, Joël 2:2, 10, 31, 3:15, Am.8:9, Sef.1:15, Mt.24:29, Op.6:12-13).

 

God sou nie net die Babiloniërs geoordeel het nie, maar al die bose mense op aarde (13:11, vgl. hfst.14-24).  Hy het hulle vir hulle arrogante hoogmoed geoordeel, sodat mense so skaars geword het soos die goud van Ofir (13:11-12, vgl. 10:19).  Die hemele het gesidder en die aarde is uit sy plek geskud; in sy vurige woede het die Here ‘n geweldige aardbewing gestuur (13:13).

 

Die Babiloniërs was soos ‘n gemsbok wat gejag word, en soos skape sonder ‘n herder:  elkeen het na sy eie land toe gevlug (13:14).  Baie van hulle het nie veilig by die huis aangekom nie, en is met die swaard deurboor (13:15).

 

Die vyand het hulle kinders voor hulle oë teen die rotse doodgeslaan (13:16, Ps.137:8-9).  Hulle het die Babiloniërs se huise geplunder, hulle vroue verkrag, hulle jongmense met pyle doodgeskiet en hulle kinders geslag (13:16, 18).  Geen omkoopgeskenk sou hulle gekeer het nie (13:17, Sp.11:4).  God het hulle teen die Babiloniërs gestuur (13:17, Dn.5:28-31), maar het nie vir hulle gesê om sulke lelike dinge te doen nie; die boosheid was in hulle eie harte (vgl. 10:5-7).

 

En tog was dit God se toorn wat die Chaldeërs of Babilonieërs se heerlikheid en trots vernietig het; dit is Hý wat hulle soos Sodom en Gomorra gemaak het, sodat daar vandag nie meer ‘n stad, mense of skape is nie, maar wilde diere wat in die bouvalle bly (13:19-22).  Die tyd van Babilon se verwoesting was naby, en sou nie vir lank uitgestel word nie (13:22, 6, Op.1:1, 3).

 

Eerste in tyd (14:1-23)

My pa se broer was ‘n sentimeter kort van 2 meter, en het maklik 110 kg geweeg.  Maar toe hy op sy sterbed was, het hy soos ‘n geraamte gelyk.  Sonde is soos ‘n geestelike kanker wat maak dat dié wat in die doderyk is, papswak is.  Die grootste deel van hfst.14 wys dit vir ons.

 

As die Here klaar die Babiloniërs verwoes het (hfst.13), sou Hy weer vir Israel gekies het (14:1, Sg.1:17).  Deur die koning van Persië het Hy vir Israel na die Land toe teruggebring om oor die verdrukkers te heers (14:1-2, 2 Kron.36:22-23).  In die toekoms sou die heidene deel gewees het van God se volk (14:1, Rut 1:16, Rm.11, Ef.2:11-22, 1 Pt.2:9-10).

 

Kort nadat die Here sy volk van die pyn, onrus en harde dienswerk bevry het, het hulle met die koning van Babilon gespot (14:3-4).  ‘Waar is sy onderdrukking nou?’ het hulle gesê (14:4).  ‘Die Here het die goddelose koning se staf gebreek, sodat hy nie meer die nasies daarmee kan slaan nie (14:5-6, 9:3).  Nou kan almal rus en vrede hê, en van blydskap sing (14:7-8).

 

‘Selfs die doderyk het ontwaak en regop gesit.  Die skimme of geeste van bose konings wat op die aarde geheers het, het gereed gemaak om hom te ontmoet (14:9).  Die dood het hulle van hulle trone afgeruk in die doderyk in (14:9).  “Wel, wel, is dit nie die magtige koning van Babilon nie?” het hulle gesê.  “Nou het jy so swak soos ons geword; ‘n skim soos die res van ons.” (14:10).[1]

 

‘Daar lê die trotse koning van Babilon in die doderyk, sonder enige musiek om hom bly te maak; wurms is die matras en die kombers wat aan hom knaag (14:11, 66:24, Mk.9:48).  Hy was so hoogmoedig soos die duiwel, en het daarom soos die duiwel geval (14:12-15, 1 Tm.3:6).  Eintlik het die duiwel hom in sy hoogmoed aangehits, soos hy dit ook met ander konings gedoen het (Dn.10:13, 20-21, Esg.28:11-19).

 

‘In ‘n sekere sin was die val Babilon se koning ‘n herhaling van die duiwel s’n.  “Ek is so skoon soos die môrester en die son wat in die oggend opkom,” het hy gesê (14:12).[2]  Die duiwel was inderdaad beeldskoon en baie wys (Esg.28:12-15).  Maar omdat hy in sy hoogmoed gesondig het, het die Here hom soos ‘n groot boom afgekap (14:12, Esg.28:15-18).

 

‘En omdat die koning van Babilon die nasies tot ‘n val gebring het, het God hom soos die duiwel laat val (14:12).  Die twee van hulle het gesê:  “Ek sal hoër as die sterre van God wees en my troon bo almal op die berg van samekoms in die noorde verhef.  Ek sal bo die wolke wees en myself soos die Allerhoogste maak” (14:13-14, vgl. Gn.3:5, 11:4, 2 Ts.2:4, Mt.11:23).  Satan en die koning van Babilon het hoog geklim, en daarom ook ver geval (14:13, 15).

 

‘Almal in die doderyk het die koning aangekyk:  “Is dít die man wat koninkryke en stede omgekeer het, mense ontvoer het, en die aarde soos ‘n woestyn laat word het?” (14:16-17).  Hy het sy land en volk verwoes, en het daarom nie ‘n koninklike begrafnis gehad nie.  Hy is soos ‘n vrot tak in ‘n massa-graf gegooi, met ‘n klomp lyke bo-op hom.  Sy graf was ongemerk, sodat mense nie eers geweet het hulle trap op hom nie (14:18-20).

 

‘Omdat die koning se seuns hulle pa se slegte voorbeeld gevolg het, het God die familienaam uitgewis (14:20-22).  Babilon het nie meer aan hulle behoort nie, maar aan die wilde diere van die veld (14:23).  Die groot stad met sy pragtige paleis was waterplasse (14:23).  God het dit met die besem van verwoesting gevee (14:23).

 

Hoe moet ons hierdie twee hoofstukke toepas?  God het alles tot sy beskikking om die lewe vir jou moeilik te maak as jy hoogmoedig is.  In Jes.13 alleen het Hy toegelaat dat hoogmoedige Babilon ‘angsaanvalle’ kry (13:8), hulle kinders, huise en besittings verloor (13:16, 18-19, 21), en fisies beskadig word (13:16).  Hy kan ook toelaat dat:

 

  • Jou huwelik en gesin uitmekaar uit val (Sp.15:25).
  • Jy jou belangrike posisie of jou werk verloor, terwyl iemand wat minder bekwaam is as jy, bevorder word (Dn.4, Lk.1:52).
  • Jy verstrooid raak en nie meer reguit kan dink nie (Lk.1:51).
  • Die samelewing jou verwerp (Dn.4:33, 37).
  • Jy in die tronk beland (2 Kron.33:11-12).
  • Mense jou kritiseer, aanval, beskinder en leuens oor jou vertel (2 Kor.12:7, 10).
  • Die duiwel en sy demone jou teister (2 Kor.12:7).
  • Jy jou uiterlike skoonheid verloor (Jes.3:16-24).
  • Jy in sirkels gaan en gefrustreerd raak (Dt.8:2).
  • Jy siek word (2 Kron.26:16, 19-21).
  • Jou gebede nie beantwoord word nie (Job 35:12).
  • Jy jou lewe verloor (2 Kron.33:23-24, Dn.5:22, 30).
  • Enigiets onder die son met jou gebeur.

 

Indien so iets al met jou gebeur het, beteken dit nie noodwendig dat die Here jou tugtig omdat jy hoogmoedig is nie.  Maar die kanse is goed, omdat elke mens van tyd tot tyd met hoogmoed sukkel (sommige meer as ander).

 

Om bv. te bepaal of ‘n groepfoto goed was, kyk jy hoe jý gelyk het:  was jou hare netjies en jou oë oop?  Ons geniet dit om onsself in die winkelvenster te sien.  As ons dit reggekry het om ‘n paar kilogram af te skud, boer ons voor die spieël.  Ons is mal oor selfies, en het ‘n obsessie met wat mense van ons dink op Facebook.  Ons dagdroom oor hoe mense van ons hou, en oor hoe ons suksesvol en populêr is.  Ons doen die dinge waarvan ons hou, en neem nie die res van die gesin se voorkeure in ag nie.

 

Ons verskoon ons sonde, en erken nie sommer dat ons verkeerd is nie.  Ons sukkel om meer as ‘n paar minute aan danksegging te spandeer, omdat ons dink ons verdien die goeie dinge wat met ons gebeur.  Soms is ons biddeloos, omdat ons op onsself en ons vermoeëns staatmaak, en nie op die Here nie.

 

Omdat hoogmoed diep in die mens se hart gewortel is (Mk.7:22), is dit bitter moeilik om uit te roei.  En tog móét ons dit uitroei, omdat God hoogmoedige mense weerstaan en tot ‘n val sal bring (Sp.16:18, Mt.23:12).  Hoe kan ons hierdie dodelike plaag uit ons harte uitroei?

 

[1] Meet jouself aan God se heilige standaard in die Bybel.  Erken dat jy baie ver kortskiet, dat jy vol van sonde is, dat jy God se oordeel in die hel verdien, en dat jy niks kan bydra om sy guns te wen nie.  Sê vir Hom dat jy in sý hande is, en dat Hy met jou kan doen soos Hy wil.  Smeek dat Hy jou genadig sal wees, en bely dat Jesus se lewe, kruisdood en opstanding jou enigste hoop is.

 

[2] Dink ná oor wie die Here is:  ewig, almagtig, alwetend, alomteenwoordig, onveranderlik, ens.  As jy diep en lank genoeg dink, sal jy besef dat jy klein en onbelangrik is.

 

[3] Dink daaroor dat die Here jou sal weerstaan as jy hoogmoedig is (Jk.4:6).

 

[4] Onthou dat hoogmoedige mense in die doderyk en die hel sal wees (Jes.14).

 

[5] Dink aan jou mislukking en sonde van die verlede:  het jy regtig rede om in jouself te roem?

 

[6] Dank die Here dat die goeie dinge wat jy het van Hom af kom (1 Kor.4:7).  Roem in Hóm en nie in jouself nie (1 Kor.1:31).

 

[7] Aanvaar beproewing as God se manier om jou nederig te maak (2 Kor.12:7, 1 Pt.5:6-7).

 

[8] Bid daagliks vir nederigheid.  Bid saam met Augustinus:  ‘Lord, deliver me from that bad man, myself.’

 

[9] Onthou dat Jesus nederig was en die duiwel hoogmoedig.  Soos wie wil jy wees?

 

[10] Assosieer met nederige mense en vermy trotsaards (Rm.12:16, 2 Tm.3:2, 5).

 

[11] Dink oor God se uitverkiesing en genade; jy sal gou agterkom dat jy niks is nie (1 Kor.1:28-29, Ef.2:8-9).

 

Op hoërskool het ek van parasiete geleer:  hulle teer op ‘n ander organisme, en kry hulle lewe en krag van hierdie organisme af.  Met hoogmoed werk dit ook so:  elke ander sonde kry sy krag by hierdie eerste sonde.  Fokus dan daarop om hoogmoed uit te roei, en dan sal baie ander sondes saam met dit vrek.

 

[1] Let op dat die dooies swak is.  Hulle sweef nie op die aarde rond om dié wat nog lewe bang te maak en te verpes nie.  ‘The dead…can neither help nor hurt the living…’ (Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.144).

[2] Die karakter in v.12-15 verwys soms na die duiwel, soms na die koning van Babilon, en soms na beide.

Advertisements