Die God van Jesaja en Calvyn

Jesus wept

Calviniste is nie mense wat in Calvyn glo nie, maar wat soos hy glo dat God absoluut soewerein is in die redding van sondaars.[1]  Dit beteken dat God in sy vrye liefde besluit het om miljoene sondaars te red, dat Hy sy Seun na die aarde toe gestuur het om hulle met sy bloed te koop, dat Hy hulle deur sy wonderlike genade wederbaar, en dat Hy hulle vir ewig in sy hand sal hou.

 

Omdat Calvyn in God se soewereiniteit geglo het, dink baie mense dat hy hard was.  ‘n Man het verlede jaar vir my gesê dat Calvyn se God narcisties is:  Hy het net Homself lief en gee om vir niemand anders nie.

 

Ek dink nie die man is reg nie, en tog wil ek in dieselfde asem sê dat Calviniste nie God se soewereiniteit só moet beklemtoon, dat hulle van sy deernis en ontferming vergeet nie.  Jes.14:24-16:14 gee vir ons die perfekte balans.

 

Assirië (14:24-27)

Hansie is 9 jaar oud.  Elke pouse boelie Fanie hom.  ‘As jy op Vrydae vir my broodjies en ‘n appel skool toe bring, sal ek jou nie boelie nie,’ sê Fanie.  So was dit ook met Assirië en Israel.  As Israel gereeld vir hulle belasting betaal het, sou die Assiriërs in vrede met hulle gelewe het.  Die Here het egter besluit om hierdie verdrukking tot ‘n einde te bring.

 

Om sy vasberadenheid te wys, het Hy gesweer om die Assiriërs se mag te breek (14:24-25, Heb.6:17).  As hulle na sy land toe gekom het om teen dit te veg, sou Hy hulle op Jerusalem se berge vertrap het (14:25, vgl. hfst.36-38).  Hy sou die Assiriërs se juk en las van Israel se nek en skouers afgehaal het (14:25, 9:3, 10:27).

 

God se veroordeling van Assirië was maar net ‘n voorsmakie van die straf wat Hy oor die antieke wêreld sou bring (hfst.13-24), asook van die finale oordeel wat Hy in die toekoms oor die goddelose sal bring (14:26).  Niemand sal Hom keer om sy bepaalde raadsplan uit te voer nie (14:24, 27, 46:10-11, Job 9:12, 23:13, Sp.19:21, Dn.4:35, Ef.1:11).

 

Daar is net Één wat sy toorn kan afwend, en dit is Hy self.  In Jesus Christus het Hy na die aarde toe gekom en aan die kruis gesterf.  Dáár het Hy soos ‘n spons die toorn ingedrink wat vir ons bedoel was.

 

As ons in Hom glo en ons bekeer, sal Hy ons nie veroordeel nie (Rm.8:1), maar die swaar juk van selfregverdigheid en ‘n skuldige gewete met sy ligte en sagte juk vervang (14:25, Mt.11:28-30).  Hy sal ook ons vyande vertrap:  Satan en sy demone wat ons versoek en vals lering aanhits, OGOD, ISIS, die ou sondige natuur, ens. (14:25, Gn.3:15, Ps.110:1, 1 Kor.15:25-26).  Omdat Hy soewerein is kan Hy dit doen (14:27), en omdat Hy waaragtig is sal Hy dit doen (14:24).

 

Filistia (14:28-32)

Barend is ‘n middelafstand atleet.  Tydens die 1500 meter wedloop op die wêreldspele, is hy voor.  Sowat 5 meter voor die wenstreep, gooi hy sy arms in die lug op om sy oorwinning te vier.  Maar tot sy groot verleentheid steek iemand anders hom verby.

 

So was dit met die Filistyne.  Toe hulle teen Juda en haar stede geveg het, het koning Agas van Jerusalem die Assiriërs teen hulle gehuur (2 Kron.28:16, 18).  Toe Agas dus oorlede is, het hulle gejuig dat die stok wat hulle geslaan het gebreek is (14:28-29).  Maar dit was nie.

 

Dit was eerder die begin van hulle probleme. Uit die dooie slang sou daar ‘n giftige adder gekom het, wat op sy beurt in ‘n vlieënde draak sou verander (14:29).  Die Filistyne se probleme met Assirië het vererger; God sou hulle ook met ‘n hongersnood uitgewis het (14:29-30).  Israel was dié wat so veilig en versorg was soos skape in Nieu-Seeland (14:30).

 

Die Filistyne het rede gehad om bang te wees, en om in die stadspoorte te sit en huil (14:31).  Die stede se hekke sou nie die Assiriërs gekeer het nie (14:31).  Met duisende perde in die stof, het dit gelyk soos ‘n rookwolk wat uit die noorde uit aankom (14:31).  Nie een soldaat het uit pas uit gemarsjeer nie (14:31).

 

En as hulle oppad was, was die Filistyne dom om boodskappers Jerusalem toe te stuur om tong uit te steek en vir hulle te sê:  ‘Na-na-na-na-na!  Agas is dood; nou gaan die Assiriërs julle nie meer help nie (14:32, 2 Kon.28:16, 18).’  Die feite is dat Filistia in die pekel was, en dat God besluit het om Jerusalem te beskerm (14:32).

 

Jou plig is om seker te maak dat jy saam met Jerusalem die Here se beskerming geniet, en dat jy nie saam met Filistia geoordeel word nie.  Jy moet m.a.w. seker maak dat God jou vriend is, en nie jou vyand nie.

 

As Hy jou vyand is, maak dit nie saak hoe goed dit nóú met jou gaan nie – uiteindelik sal dit so sleg gaan, dat jy wens jy is nooit gebore nie (14:29, Mt.26:24).  Maar as Hy jou vriend is, is jy veilig en sal Hy jou beskerm, al versoek Satan en die wêreld jou ook om anders te dink (14:32).

 

Hoe kan jy sy vriend wees?  Om na die Koning toe te kom, moet jy en sy Seun vriende wees.  En hoe kan jy dít weet?  As jy regtig sy vriend is, sal sy kruisdood vir jou spesiaal wees, omdat dít die plek is waar julle vriende geword het (Jh.15:13).  Die kruis sal vir jou sentraal wees (1 Kor.2:2, Gal.2:20, 6:14).

 

As jy die Here se vriend is, sal jy ook doen wat Hy in die Bybel vir jou gesê het (Jh.15:14).  Jy sal sy Woord liefhê en in jou hart bêre (Jh.15:7-8).  Jy sal dit gereeld lees; jy sal dit nie benader asof dit ‘n boek vol van mense se opinies is nie.  Jy sal dit ook nie net lees, omdat dit interessant is nie.  Jy sal dit lees soos iets wat jou beste vriend vir jou geskryf het (Jh.15:15).  Is die Here jou vriend?  Ja?  Dan het jy niks om te vrees nie, maar elke rede om bly te wees.

 

Moab (hfst.15-16)

Jes.15-16 voorspel God se oordeel oor Moab (15:1).  Moab was oos van Israel aan die oorkant van die Dooie See.  Dit was ‘n klein land in die westelike deel van moderne Jordanië (kaart 1 en 2).

Kaart 1

Kaart 2.PNG

Deur die Ou Testamentiese geskiedenis, het die Israeliete en Moabiete sekere dorpe en gebiede in Moab beheer.  Die land se grense was dus nie altyd dieselfde nie (kaart 3 en 4).  Die dorpe in Jes.15-16 strek van die noordelike punt van die Dooie See tot by die suidelike punt (kaart 4).

Kaart 3

Kaart 4

In hierdie hoofstukke wys Jesaja vir ons hoe die Assiriërs in een nag die land se stede verwoes het (15:1).  Die Moabiete het na hulle tempel in Dibon toe gegaan en volgens die rou gebruik hulle hare en baarde afgeskeer en getreur (15:2, kaart 5).  Hulle het met rouklere in die strate geloop; hulle het op die huise se plat dakke en in die dorpe se pleine geween (15:3).

Kaart 5

Selfs die soldate het gehuil; dit was so hard dat dit in ander dorpe gehoor kon word (15:4).  Die Here was ook bedroef, sodat sy hart vir Moab geskreeu het (15:5).  Die Moabiete het na Soar en Eglat-Selisia in die suide toe gevlug (15:5, kaart 6).

Kaart 6

‘n Paar eeue voor dit het Lot in ‘n grot buite Soar met sy oudste dogter geslaap, en is Moab gebore (vgl. Gn.19:17-22).  Die Moabiete het dus huilend na hulle geboorte plek toe teruggekeer (15:5, kaart 7).  Die streek wat eens vrugbaar en groen was, was nou ‘n woestyn; die waters van Nimrim was opgedroog (15:6, kaart 8).

Kaart 7

Kaart 8

A.g.v. die droogte in 15:6, het die Moabiete nie meer oorvloed gehad nie; skielik was die ekstra kos al wat hulle oor gehad het (15:7).  ‘n Mens kan verstaan dat die land gerou het, en dat hulle in die noorde en in die suide gehuil het (15:8).  Die riviere naby Dimon of Dibon was vol van bloed (15:9, kaart 9).  Maar daar het erger dinge op hulle gewag, sodat dié wat nie deur die swaard gesterf het nie, deur leeus gevang sou word (15:9, 2 Kon.17:25).

Kaart 9

Die Moabiete het in Sela bymekaar gekom en besluit om ‘n boodskapper deur die woestyn na Jerusalem toe te stuur (16:1, kaart 10).  Hulle het ‘n lam vir die koning van Israel gestuur, en gevra dat hy die Moabitiese vroue moes help wat soos ‘n bang voël oor die driwwe van die Arnon rivier gevlug het (16:1-2, 2 Kon.3:4, kaart 11).

Kaart 10

Kaart 11

Toe die koning van Israel die boodskap gekry het, was hy bereid om raad en geregtigheid vir hulle te gee (16:3).  Hy was dus nie xenofobies nie, maar sou vir die vlugtelinge skuiling gebied het; Israel sou vir Moab soos koelte op ‘n warm dag gewees het (16:3-4, Dt.10:19).  Hy sou hulle nie aan die Assiriërs oorgegee het nie, maar hulle beskerm het, soos wat Moab hulle in Dawid se tyd gehelp het (16:3, 1 Sm.22:3).

 

Omdat die Assiriërs almal vertrap en vernietig het, sou die Here húlle vertrap en vernietig het (16:4, 14:25).  A.g.v. God se verbondsliefde, sou die Messias in die tent van Dawid gaan sit het om spoedig reg en geregtigheid te doen (16:5).  Moab wou skuiling gehad het, maar wou dit op húlle terme gehad het.  Hulle was te trots om Israel se Messias te aanvaar (16:6).  ‘Ons is goed genoeg, en het nie julle Messias nodig nie.’  Só kan ons 16:5-6 opsom.

 

Toe God hulle hiervoor gestraf het was hulle verslae, en het hulle gehuil (16:7).  Die Here het Moab se voorspoed tot ‘n einde gebring, en die land se wingerde vernietig (16:7-10).  Assirië het wingerde wat oor die land se breedte gestrek het, kaalgestroop (16:8-10, kaart 12).

Kaart 12

Al het God die Assiriërs gestuur, het Hy baie trane saam met die Moabiete gehuil (16:9).  Moab se somer oeste en feeste is met trane vervang (16:9-10).  Die wynboere se lied van blydskap het in ‘n treurlied verander (16:10).  Die mense wat eens gejuig het terwyl hulle die druiwe uittrap, was stil (16:10).

 

Die Here het soos ‘n siter getreur (16:11).  Hy het die Moabiete innig jammer gekry, en die pyn tot in sy ingewande of diepste wese gevoel (16:11).  Hy was hartseer dat Moab sy genade verag het om na hulle gode toe te draai (16:12, 5-6, 15:2).  Die afgode van hout, klip en yster kon hulle nie help nie (16:12, Ps.115:4-7).  God het dit al in die verlede vir hulle gesê, maar hulle wou nie luister nie (16:13).

 

Nou het sy geregtigheid Hom gedwing om hulle binne 3 jaar te straf (16:14).  Moab wat in die verlede heerlik was, sou veragtelik gewees het (16:14).  Die populasie sou behoorlik uitgedun word en papswak gewees het (16:14).

 

Die sentrale les wat ons in hfst.15-16 leer, is dat die Here ‘n God van deernis en ontferming is – selfs oor dié wat Hom verwerp.  Hy geniet dit nie om sondaars te straf nie, en is jammer as Hy dit moet doen.  Luister na die volgende verse:

 

  • “dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.” (Gn.6:6).
  • “Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.” (Klg.3:32-33).
  • “Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.” (Esg.18:32).
  • “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.” (Hos.11:8).
  • “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.” (Lk.13:34).
  • “En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien!  Maar nou is dit vir jou oë bedek.” (Lk.19:41-42).

 

God huil wanneer Hy mense vir hulle sonde moet straf (16:5, 9, 11).  Hy huil saam met die mense van Knysna, en het tydens die droogte van 2015-2016 saam met die boere gehuil (16:9).  Hy is soos ‘n pa wat seer het as hy sy seuntjie moet pak gee.

 

Ons moenie dink dat God traak-my-nie-agtig op ‘n afstand staan en kyk hoe die wêreld vergaan nie.  God weet beter as enige van ons hoe dit voel om swaar te kry (Mt.26-27).  Hy weet dus hoe om medelye te hê wanneer jy siek is, pyn het, hartseer is, sleg behandel word, deur die duiwel versoek word, en enige ander vorm van lyding moet deurmaak.

 

Die Skrif sê:  “In al hulle benoudheid was Hy benoud” (Jes.63:9).  “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.” (Heb.2:18).  “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Heb.4:15).

 

God is ook bedroef wanneer Hy mense hel toe stuur.  Hy wil nie hê hulle moet verlore gaan nie, maar dat hulle gered moet word (2 Pt.3:9).  Paulus het in Rm.9:2 oor die ongeredde Jode gesê dat “dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart.”  God is so.  En tog stuur Hy die goddelose hel toe, omdat hulle dit verdien, en omdat sy heilige geregtigheid dit vereis.

 

Hy doen dit egter met ‘n swaar hart, net soos wat my vriend dit moeilik gevind het om sy geliefde familielid af te dank.  Volgens Thomas Watson is God soos ‘n by wat van nature heuning gee, en net steek indien dit absoluut nodig is.[2]  Die God van Thomas Watson is ook die God van Jesaja en Calvyn.  Ek hoop van harte dat Hy ook jou God is.

 

[1] Vir ‘n goeie verduideliking van Calvinisme kan jy Richard P. Belcher se boek, A Journey in Grace lees.  Randy Alcorn het ook ‘n baie goeie boek oor die onderwerp geskryf.  Die titel is Hand in hand.

[2] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.93

Advertisements