Vyf hulpmiddels teen Satan se versoeking

Sword of the Spirit

Ek was in my tweede jaar op Sem toe ek saam met ‘n ‘professionele’ man en ‘n ander student na mense se huis toe is, omdat hulle probleme met demone gehad het.  Die twee mans het olie op die deurkosyne gesmeer en ons het by elke kamer gebid.

 

Sowat 18 maande later het ‘n nóg ‘n man in die gemeente gesê dat daar demone in sy huis is.  Hy het ‘n ‘professionele’ persoon gevra om dieselfde ritueel te volg om van die demone ontslae te raak.

 

‘n Bietjie meer as tien jaar gelede het ‘n man my gebel en gesê dat dit sleg gaan met sy besigheid.  Hy het gevra dat ek olie aan die deurkosyne moet smeer en vir sy besigheid moet bid.  Iemand het vir hom gesê dat dit demone is wat sy besigheid laat sukkel.

 

Toe diewe ‘n paar jaar gelede by ons kerkgebou ingebreek het, het ‘n man van die sekuriteitsmaatskappy vir my gesê dat ons die gebou met olie moet salf.  In ons plaaslike koerant was daar ‘n artikel wat gesê het dat daar spoke in die ou staatshospitaal is.  ‘n Klomp charismate het deur die hospitaal gaan loop om die demone weg te jaag.

 

Ek glo dat demone vandag nog aktief is.  Maar waar sê die Bybel dat ons mense se deurkosyne met olie moet salf om hulle weg te kry?  Ek glo dat die charismate se bygelowigheid kerke negatief beïnvloed.  A.g.v. hierdie invloed het mense ‘n wanbegrip van wat geestelike oorlogvoering behels.

 

Om te keer dat demone haar kinders deur nagmerries pla, skeur mamma Matilda die feetjie- en Spiderman prente van haar kinders se kamermure af.  Dit pla haar egter nie dat demone háár versoek om haar kinders af te breek wanneer sy elke dag grootmens tantrums gooi as sy nie haar sin kry nie.

 

Ek wil reguit vir jou sê om nié jou inligting oor geestelike oorlogvoering in charismatiese boeke en preke te kry nie, omdat hulle nie die eerste beginsels hiervan verstaan nie.  Baie van wat hulle sê kom uit hulle eie bygelowige verbeeldings en die okkulte uit, en nie uit die Woord van God nie.  Matt. 4:1-11 en soortgelyke tekste is meer as voldoende om ons teen die duiwel, sy demone en hulle versoekings te help.[1]

 

Glo dat God soewerein is (v.1)

Meer as tien jaar gelede het ek saam met twee mans by ‘n restaurant gaan eet.  Een van die mans het gesê dat Adam en Eva hulle mag aan die duiwel oorgegee het, en dat God óns toestemming benodig om in die wêreld in te kom en sy werk te doen.  Ek het hom daarop uitgedaag en gevra wat hy van Matt. 28:18 dink:  “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê:  Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”  Hy kon my nie antwoord nie.

 

Wanneer jy deur die duiwel versoek word moet jy onthou dat God soewerein is.  God het nie vir Jesus versoek nie (Jak. 1:13), maar Hý het vir Jesus in die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (v.1).  Gód is die Een wat vir Satan sê of hy ons mag versoek of nie, wat hy mag doen, en hoe lank hy met die versoeking kan aanhou (Job 1:12, 2:6).

 

Omdat Hy dan soewerein is oor die versoeking, moet jy jou nie te veel aan die duiwel steur nie, maar met jou Vader praat en vir Hóm vra om jou te help:  “en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” (6:13).  As die Here besluit dat jy deur die versoeking moet gaan, sal dit net wees omdat Hy ‘n groter plan met jou het, en omdat Hy jou meer soos Jesus wil maak.  Martin Luther se opsomming van Ps. 119 was in die kol toe hy gesê het dat ons drie dinge nodig het om die Woord beter te ken:  ‘Gebed, bepeinsing en versoeking.’

 

Paulus het ook geglo dat God soms vir die duiwel toestemming gee om ons aan te val, sodat ons geestelik kan groei (2Kor. 12:7-10).  Moet dan asb. nie dink dat intense versoeking ‘n aanduiding is dat die Here jou verlaat het nie.  Dit mag dalk net die teenoorgestelde beteken:  dat Hý jou in ‘n moeilike situasie in gelei het, sodat die duiwel jou kan versoek en jy geestelik sterker kan word (v.1, Luk. 22:31-32).

 

God se soewereiniteit oor Satan beteken ook dat Hý hom kan beveel en jy nie.  Omdat Jesus God is, het Hy vir Satan bevele gegee (v.10, Mark. 1:25-27).  Jy hoef nie die duiwel te vrees nie, maar jy moet ook nie arrogant wees en dink dat Jesus se mag oor demone aan jou gegee is, soos wat Hy dit aan die twaalf apostels en sy sewentig helpers gegee het nie.  Onthou dat Satan en sy demone nêrens in die Bybel so aktief was soos toe Jesus op die aarde was nie.  Hulle wou sy missie en die koms van sy Koninkryk gekeer het.  Hulle was egter onsuksesvol omdat Hy hulle uitgedryf het en vir sy helpers gesê het om dit in sy Naam te doen (Matt. 12:28, Luk. 9:1, 10:1, 17).

 

Ons missie is nie hoofsaaklik om duiwels uit te dryf nie, maar om te glo dat God hulle reeds deur Jesus se kruisdood oorwin het (Kol. 2:14-15, 1Joh. 3:8).  Indien jy glo dat demone nog net so aktief is soos in die eerste eeu, moet jy vir jouself vra of Jesus se kruisdood en opstanding enigsins ‘n effek op hulle gehad het?

 

Soos die Here in jou persoonlike versoeking soewerein is oor die duiwel, is Hy dit ook in jou evangelie-verkondiging om mense “van die mag van die Satan tot God” te red (Hand. 26:18).  Dit is onbybels en onnodig om sg. gebiedsgeeste te bind, sodat jy die evangelie op ‘n sekere plek kan preek.  Volgens Paulus in Rom. 1:16, 1Kor. 1:18 is die evangelie die krag van God en heeltemal voldoende om mense van hulle sonde en die duiwel te red.  Moet daarom nie op jou eie vermoëns staatmaak nie, maar op God wat soewerein is oor Satan.

 

Vas en bid (v.2)

Jare gelede het ‘n vrou het vir ds. Neels Oosthuizen oor haar seun gekontak.  Dit was duidelik dat hy nie maar net siek was nie, maar dat sy geval iets met duiwel besetenheid te doen gehad het.  Ds. Neels het haar op Jesus se woorde in Mark. 9:28-29 gewys:  “En toe Hy in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik:  Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie?  En Hy sê vir hulle:  Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.”  Toe hulle klaar gevas het, was die ma in ekstase omdat haar seun weer normaal was.

 

Wat vir duiwel besetenheid geld, geld ook vir versoeking.  Jesus het vir 40 dae gevas toe Hy deur die duiwel versoek is (v.2).  Wat leer ons hieruit?

 

[1] Jy hoef nie noodwendig vir 40 dae te vas nie, maar moet asb. nie dink dat jou daaglikse tafelgebed, die gebedjie onderaan jou dagstukkie, en die een minuut gebed voordat jy in die bed klim, genoeg is om teen die duiwel te baklei nie.  Jy moet ‘n lewe van gebed kweek, en van tyd tot tyd vas om jou gebede te versterk.  Onthou asb. dat gebed die kragtige wapen is waardeur jy die wapenrusting van God gebruik (Ef. 6:18).

 

[2] Moenie dink dat die duiwel dadelik sal vlug wanneer jy op jou knieë gaan nie.  Om jou te verhinder sal hy jou met sonde of met ‘n besige program versoek.  Terwyl jy bid sal hy jou in jou gedagtes pla (v.1-11).  As jy klaar gebid het sal hy jou tot irritasie met jou lewensmaat of iemand anders versoek.  Hy wil die seën wat jy sopas in gebed verkry het ruïneer.

 

Gebruik die Bybel (v.4, 7, 10)

Tydens my studiejare het my vriend van ‘n Satanis vertel wat saam met hom op skool was.  Toe die Satanis eendag naby hom gekom het, het die hy die Bybel uitgehaal en dit in die kind se rigting geswaai.  Volgens hom het die Satanis agtertoe gespring.

 

Soos jy seker weet is dit glad nie wat ek bedoel wanneer ek sê jy moet die Bybel gebruik nie.  Ek bedoel eerder dat jy soos Jesus in v.1-11 die Skrif moet aanhaal, omdat God se waarheid die swaard is waarmee jy teen Satan se leuens moet veg (Ef. 6:17).  Ek glo nie die onsin van mense wat maak of die Bybel nie voldoende is om teen die duiwel te veg nie.  Het God ons dan in die donker gelaat?  Is sy Woord nie genoeg nie (2Tim. 3:16-17, 2Pet. 1:3)?

 

Jy hoef dan nie soos Rebecca Brown rond te krap omdat jy die ‘diep dinge’ van Satan wil verstaan nie (Openb. 2:24).  Buitendien is dit wat sy oor Satan en die onderwêreld te sê het, op die okkulte gebaseer en nie op die Bybel nie.  Ek het nie veel vertroue in mense wat hulle inligting oor Satan by die okkulte kry nie, aangesien die duiwel ‘n leuenaar is.

 

Wanneer dit by die okkulte kom is dit goed dat jy niks daarvan weet nie, en dat jy niks daarmee te doen het nie.  Wat boosheid betref moet ons so onvolwasse soos kinders wees (1Kor. 14:20).  Maar as dit by die Bybel kom is dit ‘n ander storie.  Jy moet dit goed ken, sodat jy kan weet wanneer die duiwel dit verdraai of buite konteks aanhaal (v.6).

 

Lees die Bybel biddend.  Bestudeer dit.  Oordink dit.  Gehoorsaam dit.  Vra ‘n volwasse gelowige om jou te help as daar iets is wat jy nie verstaan nie.  Die Woord van God is algenoegsaam, sodat “ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie.” (2Kor. 2:10-11).  Dit is jou swaard.  Soos Jesus moet jy vir die duiwel sê:  ‘Daar staan geskrywe.’  Hy sal nie dadelik vlug nie, en daarom moet jy aanhou om die Bybel aan te haal (v.4, 7, 10).

 

Wat Dawid in 1Sam. 21:9 van Goliat se swaard gesê het, kan ons van die Bybel sê:  “Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my.”  Hierdie swaard werk vir elkeen van die duiwel se versoekings.  Memoriseer en gehoorsaam die verse wat jou spesifieke versoeking aanspreek.

 

Jou swaard is nié om soos die seuns van Skeva in Hand. 19:13-16 demone rond te jaag of hulle met towerformules (‘in Jesus Naam… deur die bloed van Jesus!’) te bestraf nie.  Jou swaard is nié om soos die vals leraars in 2Pet. 2:10b-12 met Satan en sy demone te praat, of te dink dat jy in jouself die gesag oor hulle het nie:

 

“Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie… hulle belaster wat hulle nie ken nie”.

 

Die Bybel is jou swaard.  Gebruik dit.

 

Kry ‘n hoë siening van God (v.4, 7, 10)

Een van my goeie vriende het eenkeer vir my gevra hoe hy dit moet hanteer wanneer hy bid en ‘n perdeby wat in die venster sit sy aandag aftrek.  Thomas Brooks het goeie raad vir dié wie se gedagtes en aandag tydens hulle stiltetyd afgetrek word:  kry ‘n hoë siening van God.

 

Brooks sê:  ‘A man would be afraid of playing with a feather, when is speaking with a king… The reason why the blessed saints and glorious angels in heaven have not so much as one vain thought is, because they are greatly affected with the greatness, holiness, majesty, purity, and glory of God.’[2]

 

Ons weet dat Jesus self God is, maar ons weet ook dat hy ‘n hoë siening van God gehad het.  Hy het geweet dat die Vader soewerein is, dat ons lewe van Hom af kom (v.4), dat Hy in ons behoeftes voorsien (v.4), dat Hy heilig is en nie getoets moet word nie (v.5-7) en dat die lof, eer en aanbidding aan Hom behoort (v.10).

 

As ek na sommige mense kyk, lyk dit of hulle ‘n hoë siening van die duiwel het en ‘n lae siening van God.  In hulle teologie is Satan in beheer van enigiets wat sleg is, en staan God met sy hande in sy hare omdat hy niks kan doen tensy ons Hom toelaat nie.

 

Vir sulke mense wil ek sê dat hulle ‘n Bybelstudie van God se wese, Persoon en karakter moet maak.  Dit sal help as hulle Thomas Watson se Body of Divinity in die hande kry en dit aandagtig deurlees.  Dit sal vir hulle ‘n hoë siening van God gee en ook help dat hulle nie so maklik vir die duiwel luister nie.

 

Glo dat God die engele sal stuur om jou te help (v.11)

Vir die eerste 17 of 18 jaar van my Christelike lewe het ek nooit iets oor engele geleer nie.  Toe loop ek ‘n kursus waarin die dosent ‘n deeglike teologie oor engele aangebied het.  Dit was uitstekend.  Ek het o.a. geleer dat God dikwels sy engele stuur om ons te help.  In v.11 sien ons hoe die engele vir Jesus gehelp het.

 

Satan het Hom versoek deur te sê dat Hy van die tempel se dak af moet spring, en dat God dan gedwing sal wees om die engele te stuur (v.5-6).  Maar weereens was dit ‘n leuen, omdat die onsigbare engele nog die hele tyd daar was om Hom teen die wilde diere te beskerm (Mark. 1:13, Ps. 91:11-13).  Volgens 1Tim. 3:16 was die engele dwarsdeur Jesus se bediening by Hom.

 

  • By sy geboorte was hulle daar (Luk. 2:9-14).
  • Tydens die versoeking in die woestyn was hulle daar (v.11).
  • Toe Hy in Getsemane gebid het, het ‘n engel uit die hemel gekom om Hom te versterk (Luk. 22:43).
  • Daar was engele by die leë graf (28:2-7).
  • Toe Hy opgevaar het hemel toe was hulle daar (Hand. 1:9-11).
  • In die hemel aanbid hulle Hom (Heb. 1:6, Openb. 5:11-12).

 

God stuur nog steeds sy engele om ons te help wanneer die duiwel ons versoek.  Moet asb. nie dink dat die engele afwesig is, net omdat jy hulle nie kan sien nie (2Kon.6:17).  Hulle mag miskien nie alomteenwoordig wees nie, maar sodra God die bevel gee is hulle daar.

 

Die Bybel sê:  “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” (18:10).  “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Heb. 1:14).

 

Jy mag nie tot die engele bid en vir hulle vra om jou te help nie (Kol. 2:18, Openb. 22:8-9).  Maar soos Jesus in 26:53 mag jy vir God vra om die engele te stuur om jou te help.  Soos Hy sy engel gestuur het om Daniël teen die leeus te beskerm (Dan. 6:23), sal Hy sy engele stuur om jou teen die brullende leeu, dit is die duiwel, te beskerm.

 

And though this world, with devils filled,

Should threaten to undo us,

We will not fear, for God has willed

His truth to triumph through us.

The prince of darkness grim,

We tremble not for him;

His rage we can endure,

For lo! his doom is sure;

One little Word shall fell him.[3]

 

[1] Deel 1 van Matt. 4:1-11 is beskikbaar onder die tema, Hoe versoek die duiwel jou?

[2] Thomas Brooks, Precious Remedies Against Satan’s Devices, p.136

[3] Martin Luther, A Mighty Fortress is our God, 1529

Advertisements

Hoe versoek die duiwel jou?

Serpent and apple

Van Eden af het die duiwel se taktiek nie verander nie.  Hy is soos ‘n vrou wat net vyf disse kan maak, maar haar gaste beïndruk omdat sy elke keer ‘n ander sous oor gooi.  Ons is nie onbekend met Satan se planne nie (2Kor. 2:11).  Matt. 4:1-11[1] wys vir ons hoe die duiwel[2] vir Jesus versoek[3] het, en hoe hy ons versoek.

 

Hy beskuldig jou (v.1)

Kallie en Sandra is in graad 8.  ‘Kry my pouse agter mnr. Geldenhuys se klas, dan rook ons,’ sê hy vir haar.  Mnr. Geldenhuys het haar gevang waar sy met die pakkie sigarette vir Kallie gewag het.  Kallie het gemaak of hy van niks weet nie, en het vir Sandra beskuldig.

 

Dit is presies wat die duiwel doen.  As hy klaar vir jou gesê het om iets te doen, beskuldig hy jou.  Dit is immers sy natuur.  Duiwel (v.1) beteken tog ‘aanklaer’.  As jy ‘n gelowige is, kan hy jou nie by die Here aankla nie (Rom. 8:33).  Maar hy sal die verlede voor jou gesig gooi (dalk deur ander mense) en probeer om jou met skuld te oorlaai, selfs nadat jy jou sonde bely en laat staan het.  Hy sal selfs probeer om jou skuldig te laat voel dat jy versoek is.  Die voorbeeld van Jesus se lewe wys egter vir ons dat versoeking nie sonde is nie.

 

In sulke gevalle is dit goed om verse soos Heb. 10:17 en 1Joh. 1:9 te onthou:  “en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie… …As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

 

Hy kom as jy sterk is (v.1-2)

Jare gelede het ‘n oom my daarop gewys dat Jesus ná sy doop versoek is, en dat die duiwel ons dikwels ná geestelike hoogtepunte versoek.  Moenie dink dat hy jou sal uitlos omdat jy geestelik sterk is, of omdat jy met geestelike dinge besig is nie.  Jesus was vol van die Gees toe Hy versoek is; die duiwel het gekom toe Hy soos Moses en Elia vir 40 dae gevas het (v.1-2, 3:16, Luk. 4:1, Eks. 34:28, 1Kon. 19:28).

 

Wees op jou hoede wanneer dit geestelik goed gaan, asook terwyl jy bid, die Bybel lees, sing en na die preek luister.  Satan sal alles in sy vermoë doen om jou oor sonde, jou besige program en ander probleme te laat dagdroom.  “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” (1Pet. 5:8).

 

Hy kom as jy swak is (v.2)

‘n Trop leeus vang die wildebees wat siek of swak is.  Net so sal die duiwel jou teiken as jy swak is.  Jesus was in die woestyn, en het vir 40 dae niks geëet nie (v.2).  Sy liggaam was swak.  Maar Hy het die toets deurstaan, en nie soos Israel geval toe hulle vir 40 jaar in die woestyn geswerf het nie, of soos Adam en Eva toe hulle van die boom se vrugte geëet het nie.

 

Pasop vir die versoeking as jy moeg, siek en oorwerk is, of as jy deur ‘n moeilike tyd gaan.  In sulke tye kan die duiwel jou maklik laat val.  As jy bv. lang ure werk, sal hy vir jou sê dat jy nie krag het om te bid en die Skrif te oordink nie.  Hy sal vir jou sê om nie kerk toe te gaan nie.  Soos Petrus in die tuin van Getsemane, sal jy slaap eerder as om geestelik wakker te wees (26:40-41).  In jou toestand van swakheid sal ‘n aantreklike man of vrou na jou probleme luister, en sal die duiwel jou versoek om in die strik te trap.

 

Hy is slinks (v.3)

Piet se Yorkshire terriër is kleiner as sy nr. 13 skoen.  Die hond is naam is Killer, en pas glad nie by sy grootte of geaardheid nie.  In v.3 word Satan die versoeker genoem (vgl. 1Tess. 3:5).  Hierdie naam pas by hom, omdat hy slinks is.  Die naam impliseer dat jy nie agterkom jy word gevang nie.

 

Hy versoek jou deur te sê dat die sonde lekker is, dat niemand sal uitvind nie, dat dit tot jou voordeel sal wees, dat dit ‘n klein sonde is, dat God jou altyd weer sal vergewe en dat heilige mense dit al gedoen het.  Om sy versoeking meer aanloklik te maak, versoek hy jou deur dié mense wat die naaste aan jou is.  Hy het vir Adam deur Eva versoek (Gen. 3:6), en vir Jesus deur Petrus (16:23).

 

Hy ken ook jou swakpunte.  As vroue en geld vir jou ‘n probleem is, sal hy jou nie versoek om dronk te word of te skinder nie.  Hy sal saam met jou vlees werk om jou te versoek (Jak. 1:14-15).  Natuurlik het Jesus nie ‘n sondige natuur gehad soos ons nie (Heb. 7:26), en het die versoeking vir hom net van buite af gekom.

 

Hy misbruik goeie begeertes (v.3)

Harry is baie lief vir sy vrou.  Om haar te verras leen hy R250 000 om haar op ‘n oorsese vakansie te vat.  Is dit verkeerd dat hy sy vrou liefhet, of dat hy haar wil bederf?  Was dit slim om skuld te maak wat hy nie kan bekostig nie?

 

Satan het nie dadelik vir Jesus met blatante sonde versoek nie (v.3).  Hy het God se goedheid in twyfel getrek, en vir Jesus gesê om nie langer vir sy Vader te wag nie.  ‘Dit is mos nie verkeerd om honger te wees nie; dit lyk ook nie of die Vader U gaan help nie.  Hoekom moet U buitendien vir die Vader wag as Hy gesê het dat U die Seun van God is, en as U self die klippe in brood kan verander (v.3-4, 3:16, Deut. 8:3)?’

 

Satan versoek ons om goeie dinge op verkeerde maniere te wil kry.  Dit is nie verkeerd as jy enkel is en wil trou nie.  Maar dit is verkeerd om te sê:  ‘Ek het al te lank vir die Here gewag; ek gaan maar met ‘n ongelowige trou.’  Dit is nie verkeerd as jy gelukkig getroud wil wees nie.  Maar dit is verkeerd om te skei en te dink dat dit die enigste manier is om gelukkig te wees.

 

Hy beïnvloed jou gedagtes (v.3, 5-6, 8-9)

Toe ek ‘n kind was het ons graag Tom & Jerry gekyk.  As Tom met Jerry baklei het, het daar ‘n rooi duiwel op die een skouer gesit, en ‘n wit engel op die ander een.  Ons weet natuurlik dat dit nie regtig so werk nie, en tog dink ons dat die duiwel in ‘n sigbare vorm aan Jesus verskyn het.

 

Hoe is dit versoeking as Satan in die vorm van ‘n gedrog na jou toe kom?  Satan is ‘n gees (Ef. 6:12); dit is wat die versoeking so subtiel maak.  Soos hy met ons doen, het hy vir Jesus in sy gedagtes versoek.  Jesus is in elke opsig soos ons versoek (Heb. 4:15); Hy weet hoe dit voel as slegte gedagtes soos vuil riool water deur jou kop spoel.  Hy het nie toegegee aan die versoeking nie.

 

Het Satan deur teleportasie (verskyn en verdwyn) vir Jesus na die hoogste punt van die tempel en na die berg toe gevat (v.5, 8)?  Persoonlik dink ek dat net God dit kan doen en Satan nie (Eseg. 8:3, Hand. 8:40).  Uit Mark. 1:13 lyk dit of Jesus vir die volle 40 dae in die woestyn was, en volgens Luk. 4:5 het Hy in ‘n oomblik die koninkryke van die aarde gesien.

 

Dit lyk dus of Satan Hom in sy verbeelding versoek het, soos wat hy jou laat dagdroom dat jy met Jannie baklei en hom doodmaak, dat jy met Retha getroud is en met haar slaap, of dat jy mnr. Populêr is.

 

Hy wil jou beskadig (v.5-6)

Aokigahara is ‘n Japanese woud wat ook as die selfmoord woud bekendstaan, omdat 100 mense per jaar hulleself daar doodmaak.  Hoekom doen hulle dit?  Hoekom vlieg Moslems in geboue vas en maak hulle bomme aan hulleself vas?  Hoekom skryf mense musiek en rekenaarspeletjies wat tieners aanmoedig om selfmoord te pleeg?

 

Die duiwel het vir Jesus in sy verbeelding aangemoedig om waaghalsig te wees en van die tempel af te spring (v.5-6).  Ek twyfel dus nie vir ‘n oomblik dat hy vir mense sê om hulle lewens te neem nie.  Hy is ‘n moordenaar wat mense aanhits om hulleself te beskadig (Joh. 8:44, Mark. 5:5).  Alhoewel ek nie glo dat depressie altyd sý werk is nie, moet jy rooi ligte sien as gedagtes van selfmoord in jou kop swem.  Die brullende leeu wil jou verslind; kry Bybelse hulp.

 

Hy volhard (v.5, 8)

Kan waterdruppels ‘n rots uithol?  Hoe?  Dit drup jaar na jaar daarop.  Miskien staan jy sterk teen die duiwel se versoeking.  Maar dalk sal hy met volharding regkry wat hy nie andersins kan nie.  Hy is soos ‘n klein hondjie wat aanhou om jou aan die hakskeen te byt, al het jy hom twee keer geskop.

 

Satan het nie gevlug toe Jesus hom die eerste keer weerstaan het nie (v.5, 8).  Volgens Mark. 1:13, Luk. 4:2 het Satan Hom vir die volle 40 dae versoek.  Die versoekings in Matt. 4:1-11 is maar net die rekord van hoe dinge geëindig het.  Volgens Luk. 4:13 het Satan Hom na 40 dae verlaat, maar weer teruggekom.

 

Moet dan nie geestelik slaap nie.  Die duiwel hou nie vakansie nie.  As jy wil hê hy moet vlug, moet jy volhard (Jak. 4:7).  Maar jy hoef nie te vrees nie.  God is sterker as Satan en sal jou teen die versoeking help (Rom. 8:31, 1Kor. 10:13, 1Joh. 4:4).

 

Hy verdraai die Bybel (v.6)

Colin glo dat voorspoed en rykdom altyd God se wil vir sy kinders is.  Ef. 1:3 sê immers dat Hy ons geseën het met alle seëninge in die hemel en op aarde.  Is dit wat Ef. 1:3 sê?  Nee.  Colin het die woorde ‘en op aarde’ bygevoeg.

 

Dit is hoe Satan ons versoek.  Hy plant verse in jou kop; hy haal dit buite konteks aan.  Soos in Gen. 3:1 voeg hy woorde by of laat hy dit weg.  In v.6 het hy Ps. 91:11-12 aangehaal:  “As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe:  Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.”

 

Maar die belofte van die Psalm is vir dié wat by die Here skuil, op Hom vertrou, Hom liefhet, Hom ken en Hom aanroep (Ps.91:1-2, 9, 14-15).  As jy so lewe en in ‘n moeilike situasie is, sal God sy engele stuur om jou te help.  Maar as jy jouself wil doodmaak, geld die belofte nie vir jou nie.

 

Pasop vir die duiwel.  As jy ‘n vers wil gebruik om jou sonde te regverdig, is dit nie die Heilige Gees nie maar die duiwel.  Wees ook versigtig vir vals lering wat van die duiwel af kom; hy werk deur mense (2Kor. 11:13-14, 1Tim. 4:1-3).  Hulle is gaaf en elegant.  Hulle gebruik die Bybel en hulle praat van Jesus.  Hulle skryf populêre boeke; hulle preek op Christelike TV kanale en radiostasies.  Hulle kan Christenskap vlot praat.  Maar eintlik is hulle wolwe in skaapsklere (7:15).

 

Hulle ontrafel nie ‘n Bybelteks om vir jou te wys waar hulle hulle idees vandaan kry nie.  Hulle gryp hier en daar na halwe verse, en haal dit buite konteks aan.  Hulle sê nie altyd dinge wat blatant verkeerd is nie, maar daar is sekere dinge waaroor hulle nie praat nie:  nederige selfverloëning, sonde en bekering, God se heiligheid, die oordeelsdag en die hel.  Hulle lering oor God se Wese en die Persoon en werk van Christus klink nie soos die Bybel s’n nie, en bots ook met hoe Christene dit deur die eeue verstaan het.  Soek daarom self die verse op en bel ‘n volwasse gelowige as jy moet.

 

Hy belowe goeie dinge (v.8-9)

Het jy al ooit gewonder hoe slim mense soos dokters, prokureurs en ingenieurs vir die Word of Faith beweging val?  Is dit nie omdat hulle teologie rykdom en plesier belowe nie?  Dit is ook die rede hoekom hierdie vals evangelie populêr is in armoedige Afrika en Asië.

 

Jesus was ‘n arm skrynwerker, en daarom het die duiwel probeer om Hom met aardse rykdom, roem en geld te vang (v.8-9).  ‘U hoef nie die pad van lyding te stap nie; daar is ‘n makliker manier om die koninkryke te kry,’ is basies wat hy gesê het (vgl. 26:39).

 

Hy sê dit nog steeds vir mense:  ‘Hou op om so ernstig te wees.  Jy hoef nie seks vir die huwelik te hou nie.  Dit sal finansieel beter wees as jy saam met jou meisie intrek.  Hoekom wil julle twee huise se huur betaal?’

 

Of hy sê:  ‘Dit is onmoontlik vir jou besigheid om te oorleef as jy volgens die reëls speel.  Ek sê nie jy moet steel nie, maar om alles aan SARS te rapporteer is onnodig.  Buitendien is hulle net so skelm.  Jy vat maar net die geld terug wat hulle in die eerste plek by jóú gesteel het.’

 

Op hierdie en ander maniere versoek hy jou om hom te aanbid (v.9-10, Eks. 20:3, Deut. 6:13).  Die punt is nie dat jy ‘n Satanis moet word wat swart katte slag en bloed drink nie.  Die versoeking is eenvoudig dat jy soos die wêreld moet lewe, al gaan jy nog van tyd tot tyd kerk toe (Ef. 2:2-3).

 

Druk jou ore toe as die duiwel sê hy kan goeie dinge vir jou gee (v.9, Luk. 4:6).  Hy lieg, omdat niks aan hom behoort nie.  Hy beheer nou wel die bose wêreld sisteem (2Kor. 4:4, 1Joh. 5:19).  Maar die aarde, die nasies, hulle konings en alle goeie dinge behoort aan die Here (28:18, Ps. 2:8, 22:29, 24:1, Dan. 2:21, 7:13-14, Jak. 1:17, Openb. 5:9, 11:15).  Satan is soos die mense wat jou bel en sê dat jy ‘n gratis vakansie gewen het, maar nooit hulle beloftes nakom nie.

 

Hy verhinder jou (v.10)

In C.S. Lewis se Screwtape Letters leer ‘n senior duiwel vir ‘n junior duiwel hoe om mense te versoek.  In sy vierde brief sê hy:  ‘It is funny how [humans] always picture us as putting things into their minds:  in reality our best work is done by keeping things out.’[4]

 

Satan (v.10) beteken ‘teenstander’.  Hy wil jou verhinder om God se wil te doen.  Hy sal jou so besig hou, dat jy nie tyd kry om die Bybel te lees, te bid, met ander gelowiges te ontmoet, mense te bedien en kerk toe te gaan nie.  Hy is inderdaad die teenstander.  Hy is die teenstander van God en van alles wat goed is.

 

Buiten vir die name in Matt. 4:1-11, het hy ook die volgende name:

 

  • Beëlsebul beteken ‘heerser van die mishoop of vlieë’ (Matt. 12:24).
  • Die Bose (Matt. 13:19).
  • Die vader van leuens (Joh. 8:44).
  • Die owerste of god van hierdie wêreld (Joh. 12:31, 2Kor. 4:4).
  • Belial beteken ‘nutteloos’ (2Kor. 6:14).
  • Die prins van die magte van die lug (Ef. 2:2).
  • Apollion of Abaddon beteken verwoester (Openb. 9:11).
  • ‘Die groot draak’ spreek van sy mag, en ‘die ou slang’ van sy sluheid (Gen. 3:1, Openb. 12:9).

 

Hy is so uitgeslape soos ‘n jakkals.  Een oomblik skiet hy jou met kanonne, en die volgende oomblik sit hy sy arm om jou skouer.  Toe John Knox op sy sterfbed was, het hy in sy slaap gekreun.  Toe ‘n sekere dr. Preston hom daaroor gevra het, het hy gesê dat Satan altyd sy sonde voor hom gegooi het.  Maar op sy sterfbed het die duiwel vir hom gesê dat hy baie vir die Here gedoen het, en dat hy die hemel verdien.[5]

 

Wees versigtig dat jy nie vir sy streke val nie.  Wees ook dankbaar dat Jesus nie daarvoor geval het nie, want daarsonder sou Hy nie die perfekte offer kon wees om ons te red nie.

 

[1] Deel 2 van hierdie preek sal binnekort beskikbaar wees onder die tema, Vyf hulpmiddels teen Satan se versoeking.

[2] Moenie dink dat dit net die duiwel is wat jou versoek nie.  Daar is baie demone wat saam met hom werk om mense te versoek.

[3] Jesus is in sy menslike natuur versoek, en nie in sy Goddelike natuur nie (Jak. 1:13).

[4] C.S. Lewis, The Screwtape Letters, Collins Fount Paperbacks, 1942, 1985, p. 25

[5] John Howie, The Scots Worthies, p.62

Drome van rykdom en die nagmerrie van God se oordeel

Dreaming while sleeping

Marli is dol verlief op ‘n man in haar filosofie klas.  Hy weet nie eers van haar nie.  Een middag toe staan sy onder ‘n groot koelteboom op kampus.  Die man van wie sy so baie hou het reguit na haar toe gestap.  Hy het met haar gesels en vir haar gesê hoe oulik sy is.  Net voor hy weggeloop het, het hy haar gesoen.  Op daardie oomblik het Marli wakker geword en gevoel hoe haar boerboel haar in die gesig lek.  Dit was net ‘n droom.

 

Net so het Tirus, Sidon en die ander nasies in Jes.23-24 se drome van rykdom en plesier in ‘n nagmerrie verander.

 

Tirus en Sidon (hfst.23)

‘n Paar jaar gelede het ons ‘n muisplaag in ons huis gehad.  Net sodra jy dink jy het almal uitgeroei, is daar nóg een.  En as jy die laaste een gevang het, is daar nog drie.  Dit is moeiliker as wat jy dink om mev. muis en haar familie van kant te maak.

 

Tirus was so.  Die stad was 36 km van Sidon af.  Die twee stede was noord van Israel in Lebanon aan die kus van die Middellandse See.  Tirus is op ‘n groot rots in die see gebou, 800 m van die kus af.  Baie konings het probeer om die stad te verower, maar was onsuksesvol.

 

Salmaneser van Assirië het probeer.  In 701 v.C. het Sanherib van Assirië die vasteland verower.  Hy kon egter nie die stad inneem nie.  In 586 v.C. het Nebukadnesar van Babilon dit vir 13 jaar beleër, maar ook hý was onsuksesvol.  In 333 v.C. het Artasasta III van Persië dit beleër, maar nie deurgebreek nie.[1]  En toe kom die jaar 332 v.C.

 

Aleksander die Grote van Griekeland het met bouvalle, stompe en klippe ‘n pad deur die see gebou.  Na ‘n lang gesukkel het hy uiteindelik die stad ingeneem.[2]  Jes.23 voorspel die aanvalle en val van Tirus.

 

Tirus was baie ryk.  Skepe het van Tarsis in Spanje af na haar toe gekom om handel te dryf (23:1).  Toe die Spaanse handelaars die eiland Kittim of Siprus bereik het, het hulle gehoor dat Tirus verwoes is, en dat daar nie vir hulle huise was om in te bly, of ‘n hawe om hulle skepe in te los nie (23:1).  Omdat hulle kanse op rykdom daarmee heen was, het hulle getreur (23:1, 14).

 

Sidon se handelaars het gereeld na Tirus toe gekom, maar omdat die stad in puin gelê het, was hulle stil en het hulle skaam gekry (23:2-3).  Sigor se koring langs die Nylrivier in Egipte, sou nie meer na Tirus toe gekom het, sodat hulle dit per skip na ander lande toe kon vat nie (23:3).  Dit het Egipte angstig gemaak (23:5).  Soos ‘n ma wat haar kinders verloor, was die see angstig a.g.v. Tirus se jongmense wat vermoor is, en omdat haar skepe nie meer sou vaar nie (23:4).

 

Die verskrikte en bedroefde inwoners van Tirus het nou na Tarsis in Spanje toe gevlug, en nie andersom nie (23:6).  Soos wat die Nyl vrylik deur Egipte gevloei het, sou Tirus se rykdom nie meer ‘n houvas op die mense van Tarsis gehad het nie, maar sou hulle rustig in hulle eie land geboer het (23:10).

 

‘Kan jy glo dat die vrolike en antieke stad na ‘n ver land toe getrek het?’ het Jesaja vir homself gesê (23:7).  ‘As sy ‘n land in besit geneem het, het sy haar eie koning aangestel; haar handelaars was wêreldberoemde prinse (23:8).  Maar a.g.v. die Here se bepaalde raadsplan, is die hoogmoedige stad op haar knieë gedwing; God het haar en haar geëerde prinse van hulle heerlikheid ontneem en onrein gemaak’ (23:8-9).

 

God het sy hand oor die see uitgestrek en die vestingstede van Kanaän – Tirus en Sidon – geskud (23:11).  ‘Jy sal nie meer juig en in jouself roem nie; jy sal wees soos ‘n maagd wat verkrag word (23:12).  Jy sal 250 km oor die see vaar en na Kittim of Siprus toe verban word.  Ook dáár sal jy nie rus hê nie’ (23:12).

 

Assirië het die magtige Babiloniërs of Chaldeërs tot niet gemaak en kaalgestroop, sodat dit ‘n plek vir wilde diere geword het (23:13).  Hoe sou Tirus en Sidon dan ontsnap het?  As Assirië klaar teen Tirus geveg het, sou sy vir 70 jaar – ‘n koning se leeftyd – vergete gewees het (23:15).  In 701 v.C. het koning Sanherib van Assirië die kusgedeeltes oorkant Tirus platgevee.  Die stad het eers 70 jaar later in 630 v.C. weer op haar voete gekom.[3]

 

Deur God se algemene genade het sy weer ryk geword (23:17).  Sy was soos ‘n prostituut wat op haar harp speel en sing om aandag te trek; soos ‘n prostituut het sy met die nasies van die aarde onderhandel om geld te maak (23:15-17).

 

Maar in die toekoms sou sy nie haar rykdom vir haarself gebêre het nie (23:18).  God sou in haar hart gewerk het, sodat sy deel van die kerk of Nuwe Jerusalem geword het (Ps.87:4, Mt.15:21-28, Hd.21:3-6).  Hy sou haar rykdom gebruik het om sy kinders te bevoordeel (23:18).  Op die nuwe aarde sal sy haar rykdom aan die Here se voete neerlê en erken dat dit van Hom af kom (Op.21:24, 26).

 

Wat leer Jes.23 vir ons?  God haat dit as mense in hulle rykdom roem, en maak asof dit van hulleself af kom en nie van Hóm af nie (23:9).  Onthou dat Gód aan jou die vermoeë gegee het om ryk te word (Dt.8:18).  Rykdom en eer kom van Hóm af; Hý is die een wat mense ryk en arm maak (1 Sm.2:7, 1 Kron.29:12, Sp.22:2).  Alles wat jy het kom van Hom af (1 Kor.4:7).  Die braaivleis wat jy eet het Hý vir jou gegee om te geniet, en ook sodat jy dit kan deel met dié wat nie het nie (1 Tm.6:17-18).

 

God gee nie vir jou méér geld, sodat jy soos die ryk man in Lk.16:19 luukser kan lewe nie, maar sodat jy soos Saggeus en die Korintiërs meer kan gee (Lk.19:8, 2 Kor.9:8-11, Ef.4:28).  Hy wil hê dat jy deur jou mededeelsaamheid, goeie werke en die ondersteuning van sendelinge, skatte in die hemel moet bêre (Lk.12:33, Fil.4:15-19, 1 Tm.6:18-19).

 

Moet dan nie in die strik trap wat Satan deur die wêreld en predikers soos Joseph Prince en Joyce Meyer vir jou stel nie.  Dit is nie ‘n sonde om ryk te wees nie, maar dit ís ‘n sonde as jy van God ‘n genie maak om vir jou meer te gee; dit ís ‘n sonde as jy alewig meer soek, en as dit jou lewensdoel is om ryk te wees.

 

“Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.  Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tm.6:9-10).

 

Moet dan nie toelaat dat geld jou gedagtes, beplanning en gesprekke beheer nie, maar soek na die ewige skat van Jesus Christus.  As jy dít doen, sal Hy ook in jou aardse behoeftes – nie begeertes nie – voorsien (Mt.6:33).

 

Jerusalem en die wêreld (hfst.24)

Toe ek in my eerste jaar was, moes ek vir een klas ‘n hoofstuk opgesom het.  Toe ek die werk vir die dosent gegee het, het hy my op ‘n mooi manier aangespreek en vir my gesê dat ek die hoofstuk moes opsom en nie oorvertaal nie.  Daar is nie genoeg tyd om die hele geskiedenis in detail weer te gee nie.  Daarom bestaan daar hoofstukke soos Jes.24 wat ‘n groot gedeelte van die geskiedenis vir ons opsom.

 

Jes.24 gaan nie oor die finale oordeel nie, maar oor God se oordeel oor Ou Testamentiese volke en stede soos hfst.13-23 vir ons wys.  Dit handel ook oor die inleiding van God se nuwe skepping in die kerk, asook oor die vervulling daarvan wanneer Jesus weer kom (2 Kor.5:17, Op.21).

 

Jesaja se woordkeuse herinner ons aan die eerste skepping, die vloed, en die toring van Babel.  Voordat God die nuwe skepping van die kerk en die hemelse Jerusalem kan inlei, moet Hy die eerste skepping en die aardse Jerusalem oordeel.

 

God het gesê dat Hy die aarde woes en leeg sal maak soos ‘n woestyn (24:1, 3, Gn.1:2, Jer.4:23-24).  Soos met die vloed sou Hy die aarde verander het, en soos by die toring van Babel sou Hy die bewoners van die aarde verstrooi het (24:1).  Niemand sou op grond van geslag, of ekonomiese, godsdienstige en sosiale status voorgetrek word nie, maar almal sou dieselfde oordeel ontvang het (24:2).

 

Die aarde en sy belangrikste mense sou soos ‘n blom verlep het (24:4, 23:9).  Dwarsdeur die Ou Testament het Israel en die nasies geen respek vir God se Woord en wet gehad nie; hulle het die aarde met hulle sonde besmet (24:5).  Hulle het God se ewige verbond met Noag, Abraham, Moses en Dawid gebreek (24:5, Gn.9:16, Lv.24:8, 2 Sm.23:5, Ps.105:9-10).

 

A.g.v. Adam, Israel en die nasies se sonde, het God die aarde vervloek (24:6, Gn.3:17-19, Dt.11:26-28, Rm.3:23, 5:12, 8:20).  Hy het besluit om hulle met die vuur van sy oordeel te skroei, sodat daar teen die einde van die Ou Testament min mense oor was (24:6).  Mense sou nie meer met wyn en sterk drank, musiek instrumente en sang partytjies gehou het nie; bier sou vir hulle sleg gewees het (24:7-9, vgl. Jer.7:34).

 

Jerusalem sou woes en leeg gewees het, die stad se hekke platgeslaan, en die huise se deure toe sodat niemand kon inkom nie (24:10, 12).  Omdat die wyn klaar was, het depressie die mense se blydskap vervang (24:11).  Die nasies sou gewees het soos ‘n olyfboom wat goed geskud is, of soos ‘n wingerd wat afgeoes en kaalgestroop is (24:13, 17:6).

 

Maar dit sou nie so gebly het nie.  In die ooste en in die weste sou mense God vir sy heerlike majesteit geprys het (24:14-15, 45:6, Mal.1:11).  Die eilande en die eindes van die aarde sou die Regverdige God van Israel aanbid het (24:15-16, 60:9).

 

Omdat die aarde egter nog boos was en 24:14-16a eers in die toekoms vervul sou word, het Jesaja uitgeroep:  “Ek teer weg, ek teer weg, wee my!  Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.” (24:16b).

 

Die mense se sonde was vir hom baie erg.  Hiervoor sou die Here hulle gestraf het; niemand sou weggekom het nie.  Dié wat sy oordeel gevrees het en gevlug het sou in ‘n put geval het, en dié wat uit die put ontsnap het sou in ‘n strik gevang word (24:17-18, Jer.48:44, Am.5:19).

 

Soos met Noag se vloed, sou God die vensters van die hemel oopgemaak het (24:18, Gn.7:11).  Hy sou ‘n geweldige aardbewing gestuur het om die fondasie van die aarde te skud, te breek en te skeur; dit sou soos ‘n dronk man gewaggel het, en soos ‘n lendelam riethuise in die wind geslinger het (24:18-20).

 

Die mens se sonde het swaar op die aarde gerus, sodat God nie anders kon as om dit te oordeel nie (24:20).  As God die ou skepping so laat val het, sou dit nie weer opgestaan het nie, maar sou Hy ‘n nuwe skepping in die plek daarvan gemaak het (24:20).

 

Dit het begin toe Jesus deur sy kruisdood, opstanding en hemelvaart die koninkryke van hierdie wêreld en die bose magte oorwin het, en hulle as gevangenes in die bodemlose put toegesluit het (24:21-22, 14:9-15, Dn.2:44, 7:13-14, Ef.4:8, Kol.2:15).  Hulle sal vir ‘n lang tyd daar bly en by Jesus se wederkoms die finale oordeel van die hel ondergaan (24:22, 2 Pt.2:4, 9, Jud.6-7, Op.20:1-3, 10-15).

 

By die wederkoms sal God die nuwe skepping vervul en sal sy heerlike lig voor die ouderlinge skyn (24:23).  Sy lig sal so helder wees, dat die son en die maan skaam sal wees omdat hulle lig so flou is (24:23, Op.21:23).  God sal op berg Sion en in die Nuwe Jerusalem regeer (24:23).

 

Die kerk is die Nuwe Jerusalem en die hemelse berg Sion, en die lig van God se heerlikheid het reeds by Jesus se eerste koms deurgebreek (Lk.1:78, Jh.8:12, 2 Kor.4:6, Heb.12:22-23, Op.21:9-10).  By die wederkoms sal ons onder die volheid van God se heerskappy lewe en die perfekte lig van sy heerlikheid aanskou (24:23, Op.21:23-24).

 

Hoe moet ons Jes.24 in ons lewens toepas?  Soos die oordeel in Jes.24:2, sal die finale oordeel onpartydig wees (Rm.2:11).  God sal jou nie voortrek omdat jy in die NG, AGS of Baptistekerk was nie.  Jy sal nie voorrang geniet omdat jy ‘n ds. was, Afrikaans gepraat het, in Amerika gebore is, ‘n biljoenêr was, of omdat jy in Soweto groot geword het nie.

 

Om in God se teenwoordigheid in te kom moet jy ‘n perfekte rekord hê en instaat wees om die ewige en ontelbare prys vir jou sonde te betaal.  Jesus is die enigste Een met ‘n perfekte rekord; net Hý het in sy lewe en dood die prys betaal wat ons sonde verdien.

 

Dié wat op Hom vertrou om hulle van hulle sonde en God se oordeel te red, sal nie in God se hof hoef te staan nie (Jh.5:24, Rm.8:1, 2 Kor.5:21).  Hulle sal in hierdie lewe, in die lewe hierna, en op die nuwe aarde jubel en bly wees (24:14-16).

 

Dié wat egter op hulleself, hulle werke, ‘n ander verlosser of godsdiens vertrou, sal tot die skokkende besef kom dat hulle sub-standaard rekord nie vir ‘n heilige God aanneemlik is nie (Mt.7:21-23).  Soos die mense in 24:17-18 is daar baie wat dink dat ‘n God van liefde hulle nie in die hel sal gooi nie.  Maar hulle sal nie wegkom nie.  Waarheen sal hulle vlug; is daar ‘n plek waar God nié is nie?

 

“Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal.  En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt.  En al gaan hulle as gevangenes voor hulle vyande uit, Ek sal van daar die swaard ontbied om hulle dood te maak” (Am.9:2-4).

 

As jy deur geloof en bekering in Jesus se Persoon, kruisdood en opstanding skuil, het jy geen rede om te vrees nie, maar elke rede om bly te wees.  Jy sal soos tienjarige Elsie wees wat ‘n vakansie in Disney World gewen het.  Sy kan haar opgewondenheid nie inhou nie.

 

Die aand voor haar vlug droom sy van haar vakansie.  ‘n Paar ure later word sy wakker en klim sy op die vliegtuig Disney World toe.  Haar vakansie was baie langer, helderder en beter as haar droom.  Haar idee van hoe dit sou gewees het was heeltemal te klein.  En so sal dit vir God se kinders wees as hierdie wêreld verby is, en ons vir ewig by die Here is:  jou droom sal ‘n werklikheid word en meer wees as wat jy jou ooit kon indink.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.192

[2] http://www.ancient.eu/article/107/

[3] Motyer, Ibid.

Kom Here Jesus!

Storm cloud

Het jy geweet dat Moslems in die wederkoms glo?  Dus is dit nie genoeg om te sê dat jy in die wederkoms glo nie, maar moet jy die regte Jesus verwag.  Soos wat die sewe gemeentes in Op.22:6-21 gebid het dat Jesus moes kom om hulle van hulle vyande te red, moet ons uitroep en verlang dat Hy vir ‘n laaste keer na die aarde toe sal terugkeer (2 Tm.4:8).

 

Wees gehoorsaam (v.6-7)

In 1522 het Martin Luther ‘n voorwoord tot die boek Openbaring geskryf.  Hy het gesê dat die boek onduidelik is, dat dit nie profeties of apostolies is nie, dat dit nie van die Heilige Gees af kom nie, dat die outeur sy eie werk te hoog geag het, dat baie van die kerkvaders dit verwerp het, dat hy nie vat daaraan kon kry nie, dat hy nie ‘n hoë opinie daarvan gehad het nie, en dat Christus nie daarin verkondig word nie.  In 1529 en 1530 het hy egter van mening verander en gesê dat dit deur die Heilige Gees gegee is.[1]

 

Hy het m.a.w. erken dat Openbaring soos die res van die profetiese en geïnspireerde Woord van God, “betroubaar en waaragtig” is (v.6, 18-19, 19:9, 21:5, 2 Tm.3:16, 2 Pt.1:20-21).

 

Jesus het sy engel na Johannes toe gestuur om vir die sewe gemeentes te wys wat binnekort moes plaasvind (v.6, 16, 1:1, 3).  Volgens Jesus se eie getuienis sou Hy binnekort na die sewe gemeentes toe gekom het (v.7, 12, 20, 2:5b, 16, 25, 3:3, 11, 20).  Openbaring handel hoofsaaklik – nie uitsluitlik nie – oor dinge wat in Johannes se tyd gebeur het.[2]

 

Die belangrikste is egter nie wánneer die boek se profesieë vervul is nie, maar dat die seën wat daarin beskryf word jou deel is.  Hoe kan jy dit ontvang en daarin deel?

 

  • Bewaar Openbaring en die res van die Bybel se beloftes en waarskuwings in jou hart (v.7).
  • Hoor en doen wat daarin geskryf staan (1:3, Jk.1:22, 25).
  • Moenie ophou om in Jesus te glo nie, maar volhard totdat jy eendag jou kop neerlê (14:13).
  • Moenie geestelik aan die slaap raak nie, maar wees waaksaam (16:15).
  • Moenie aanneem dat jy na Jesus se troue toe genooi nie – maak seker (19:9).
  • Sorg dat jy deur wedergeboorte in Jesus se opstanding deel (20:6).
  • Wees heilig (22:14).

 

Wees versigtig (v.8-9)

Ek sal nooit vergeet hoe ‘n vrou jare gelede op RSG oor engele gepraat het, en gesê het dat jy ter enige tyd vir hulle kan vra om jou te help nie, ‘selfs as jy parkering nodig het.’  Op.22:8-9 verbied hierdie dinge ten sterkste.

 

Toe Johannes Openbaring se 22 hoofstukke gesien, gehoor en neergeskryf het, was dit so wonderlik dat hy op die grond geval het om die engel wat dit vir hom gewys het te aanbid (v.8).  Die engel het hom gekeer:  “Moenie! want ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar.  Aanbid God.” (v.9).

 

Hy het nie probeer om die Here se eer te steel nie, maar het erken dat hy soos Johannes, die profete en al die gelowiges ‘n slaaf is.  Hy was maar net ‘n skepsel en nie die Skepper nie.  Dus moes Johannes vir God aanbid het, en nie voor die engel gebuig het nie (v.9).

 

Ons mag nie soos die Rooms-Katoliekekerk engele vereer nie, maar moet eerder saam met hulle die Here aanbid (v.9, Lk.2:13-14, Heb.1:6).  Dit is so dat God soms sy engele stuur om ons te help as ons in die moeilikheid is (2 Kon.6:15-17, Ps.91:11-12, Dn.6:22, Hd.5:19, 12:7-11, Heb.1:14).

 

Maar omdat daar net een God is, mag ons hulle nie aanbid nie (v.9, 19:10, Eks.20:3-5, Kol.2:18).  Ons mag nie die nonsens glo van mense wat sê dat hulle met hulle beskerm-engel praat nie.  Ons mag ook nie vir engele vra om ons te help wanneer ons in ‘n krisis beland nie.  “Aanbid God” en vra Hóm om jou te help (v.9).

 

Wees gereed (v.10-13)

In Vryheid was daar ‘n verseëlde steen by een van die NG Kerke.  Op die klip het gestaan dat dit eers ‘n honderd jaar ná die oprigting van die gebou oopgemaak kon word.

 

Net so het ‘n verseëlde boekrol in Bybelse tye beteken dat dinge vir die verre toekoms bedoel was.  Daniël moes bv. sy profesie verseël het, omdat die Messias se Koninkryk eers 450 jaar later begin het (Dn.12:4, 9).  Johannes moes nié sy profesie verseël het nie, omdat die vervulling daarvan naby was (v.10).

 

Dit was nie meer lank voordat die Here in 70 n.C. gekom het om sy vyande te oordeel en sy gehoorsame kinders te beloon nie (v.11-12, vgl. Jes.40:10, 62:11).  Jesus sou elkeen hanteer het volgens wat sy of haar dade verdien (v.12).  Die feit dat Hy die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste, die God van Op.1:8 en Jes.44:6 is, het dit verseker (v.13).

 

Omdat die vervulling van Openbaring naby was (v.10, 12), moes die lesers gou besluit het of hulle aan die Here se kant wil wees.  Daar was amper nie genoeg tyd om kante te ruil nie.  As bose en goddelose mense die boek gelees het, sou hulle hulle harte verhard het en so gebly het (v.11).  Maar as heilige mense dit gelees het, sou hulle nóg heiliger wou wees (v.11).

 

Soos wat die sewe gemeentes God se oordeel oor die kerk se vyande verwag het, moet jy gereed wees vir die dag as ‘n vragmotor jou kar uitwis, of as iemand jou doodskiet.  Dit mag ook wees dat Jesus in ons leeftyd na die aarde toe sal terugkeer.  Ongeag van hoe en wanneer jy Hom ontmoet, maak asb. dat jy gereed is.  Hoe kan jy hiervan seker maak?

 

[1] Moenie uitstel nie.  As jy te lank wag sal jou hart hard word, en bestaan die moontlikheid dat jy jou later nie meer kan of wil bekeer nie.  Tree asb. gou op en bekeer jou (2 Kor.6:2, Heb.3:15).

 

[2] Moenie net dat jy ‘n Christen is nie, maar ondersoek jouself om te sien of jy die vrug van bekering dra.  Getuig jou lewe daarvan dat jy ‘n Christen is (v.11-12)?

 

Wees heilig (v.14-15)

In C.S. Lewis se boek, The Magician’s Nephew, het die heks van die silwer appels geëet wat ‘n mens vir ewig jonk laat bly.  Digory en Polly, die twee kinders, was bekommerd en het vir Aslan daarvan vertel.  Sy reaksie was:  ‘She has won her heart’s desire; she has unwearying strength and endless days like a goddess.  But length of days with an evil heart is only length of misery’.[3]

 

Vir ons is dit nie so nie.  Ons lewens is deur die bloed van die Lam gereinig en ons dra die wit klere van gehoorsaamheid (3:4-5, 7:14, 19:8).  Ons mag deur die stad se poorte ingaan en van die boom van die lewe eet (v.14, 2:7, 21:27, Ps.118:20).  Die goddelose mag nie in die stad inkom nie; hulle is uitgesluit en sal in die hel gewerp word (v.15, 21:8, Mt.8:12).  Hulle het soos honde in die vuilheid van hulle sonde gelewe (v.15, 21:8, Dt.23:18, Ps.59:7, 15, Mt.7:6, Fil.3:2).

 

Eintlik is dit ‘n genade dat Adam en Eva nie van die boom van die lewe geëet het terwyl hulle harte met sonde besoedel was nie, want anders sou hulle vir ewig boos gewees het (Gn.3:22-24).  Adam en sy nageslag is nou wel van die boom van die lewe verban, maar omdat Jesus aan ‘n boom vir ons sonde gesterf het, kan ons in die hemelse stad ingaan en weer van die boom van die lewe eet (v.14, Gal.3:13).  Die boom wat die meeste saakmaak is nie die boom in die begin of aan die einde van die geskiedenis nie, maar die een in die middel.  Sterf vir jouself en jou sondige begeertes, en deel so in die boom van Jesus se kruisdood (Lk.9:23, Gal.2:20).

 

Wees dors (v.16-17)

In lande soos Etiopië waar water skaars of vuil is, betaal mense baie geld om dit te kry.  Maar die geestelike water wat Jesus vir ons gee is heeltemal gratis; jy hoef nie daarvoor te betaal nie.  Al wat Hy vereis is dat jy na Hom toe moet kom om jou dors te les.  Jou begeerte vir Hom moet so groot wees, dat jy sal uitroep dat Hy na jou toe moet kom.  Dit is ten minste een van die lesse wat in v.16-17 uitstaan.

 

Jesus het sy engel gestuur om deur Johannes hierdie dinge vir die sewe gemeentes te sê en daarvan te getuig (v.16).  Dit is dus verkeerd om te sê dat Op.4-22 net vir ons bedoel is, en dat dit niks met die sewe gemeentes te doen het nie.

 

Jesus wat van hierdie dinge getuig het is die wortel en die nageslag van Dawid, die Messias, die Koning, die Here en seun van Dawid, volkome God en volkome mens, die blink môrester van wat aandui dat die dag oppad is (v.16, Num.24:16, Jes.11:1, 10, Mt.22:41-46, Lk.1:32-33).

 

Die Gees het in die bruid of kerk se hart gewerk om te bid dat Jesus sou kom om haar uit die vervolgers se mag te red (v.17, 6:10).  Almal wat hierdie woorde met die oop ore van geloof gehoor het (2:29), sou dieselfde geroep het (v.17).

 

As jy nog nie gered is nie maar ‘n dors of ‘n begeerte na die Here het, kan jy na Hom toe kom om jou geestelike dors te les (v.17, 21:6, Jh.4:14, 7:37-39).  Sy verlossing is gratis; jy hoef nie godsdienstige werke te doen om dit te kry nie (v.17, Jes.55:1, Rm.6:23b, Ef.2:8-9).  Erken eenvoudig dat jy hopeloos verlore is, en ontvang dan sy verlossing met die bak hande van geloof.

 

Die feit dat sy verlossing gratis is, beteken nie dat dit goedkoop is nie.  Ons was nie instaat om daarvoor te betaal nie, en daarom het Jesus met sy lewe betaal sodat ons vir ewig in God se lieflike teenwoordigheid kan wees.

 

Het jy al met die tjek van berouvolle geloof na Jesus toe gekom, en dit vir die ewige lewe gewissel?  Of tas jy nog in die donker van jou sonde rond, en probeer jy om met geld, wellus, drank, mense se guns, ens. jou geestelike dors te les?

 

Wees gewaarsku (v.18-21)

Ek ken ‘n predikant wat sy siening oor Openbaring verander het.  Toe hy nie meer sy vorige siening gehuldig het nie, het iemand in ‘n brief vir hom gesê dat die vervloeking van v.18-19 oor hom sou kom.

 

Johannes het sy lesers gewaarsku:  as iemand by hierdie boek byvoeg, sal God die plae wat in Openbaring beskryf word by sy lewe byvoeg, en as iemand daaruit wegvat, sal God keer dat hy in die hemelse stad inkom om van die boom van die lewe te eet (v.18-19, 14).

 

Volgens die Ou Vertaling sal God sy deel uit die boek van die lewe verwyder, maar volgens 3:5 sal Hy dit nooit doen nie.  Niks kan ons van sy liefde skei nie, niemand kan ons uit sy hand uit ruk nie (Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  Die beste manuskripte sê eerder dié wat aan hierdie boek se inhoud torring, nie in die Nuwe Jerusalem sal inkom om van die boom van die lewe te eet nie (v.19).  Hierdie mense se name was in die eerste plek nie in die boek van die lewe nie (13:8, 17:8, 20:15, 21:27).

 

Om sy koms te beklemtoon, het Jesus dit vir ‘n derde keer aangekondig; die sewe gemeentes se ‘amen’ het dit bevestig (v.20).  Die gelowiges het gebid dat Jesus moes kom om hulle van hulle vervolgers te bevry (v.20).  Voor, tydens, en na die vervolging, sou Christus se genade by hulle gewees het, en daarom kon hulle geduldig op Hom gewag het (v.21).  Sy genade sou hulle ook gehelp het om nie die boek te verdraai nie, maar om dit te gehoorsaam (v.18-19, 21).  Amen, laat dit so wees (v.21).

 

Hoe moet ons hierdie laaste vier verse toepas?  Die waarskuwing van v.18-19 verwys spesifiek na Openbaring, maar dit geld ook vir die res van die Bybel, sodat ons niks mag byvoeg of wegvat nie (Dt.4:2, 12:32, Sp.30:6).

 

Wat God vir ons wou gesê het, het Hy in die 66 boeke van die Bybel gesê; ons het geen nuwe profesieë, drome of visioene nodig nie.  Drome kan deel van God se voorsienigheid wees om ons te waarsku.  As jy bv. bitter is en droom dat jy die persoon doodmaak, moet jy dit as ‘n ernstige waarskuwing beskou en jou bitterheid los.

 

Maar ons glo nie dat drome of sulke dinge ‘n nuwe openbaring is nie.  Ons glo eerder dat die Bybel met sy 66 boeke die finale Woord van God is.  Daarom voeg ons nie ekstra boeke by soos die Rooms-Katolieke of ander kultusse nie.  Ons is nie Sewendedag Adventiste wat Ellen G. White se geskrifte as onfeilbaar beskou nie.  Ons is ook nie Mormone wat Joseph Smith se ‘Book of Mormon’ op dieselfde vlak as die Bybel plaas nie.  Ons sweer nie by Calvyn, ons gunsteling kategisme, of die voorvaders van die Afrikaanse Baptistekerke nie.

 

Ons glo die Bybel en bely dat dit die foutlose, gesaghebbende en algenoegsame Woord van God is.  Ons is nie Scofield Reference Bible tipe premils wat Mt.5-7 uitsny, en sê dat dit nie vir ons bedoel is nie.  Ons is nie soos sommige ‘Israel groepe’ wat Paulus se briewe verwerp nie.  Ons is nie Jehova’s Getuies wat die Bybel verkeerd vertaal om by ons teologie te pas nie.  “ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie” (2 Kor.4:2).

 

Met God se genade sal ons vals lering oorwin, en aan die waarheid vashou (2:7).  Onthou asb. dat dit sonde is om vals lering te akkomodeer.  Moenie alles glo wat jy hoor of lees nie.  Meet eerder die Whatsapp en Facebook boodskappe wat mense vir jou stuur aan die Bybel (Hd.17:11).

 

Die waarskuwing in v.18-19 geld nie vir klein verskille tussen die Ou- en Nuwe Vertaling van die Bybel nie.  Dit geld ook nie vir dié wat nie presies soos jy glo oor Openbaring nie.

 

Ons moet Johannes se waarskuwing ernstig opneem en nie by Openbaring byvoeg of wegvat nie.  Soos Calvyn moet ons Openbaring met nederigheid benader, en erken dat dit moeilik is om te verstaan.  Maar anders as Calvyn, moet ons nie so bang wees dat ons dit vermy nie.  Ons moet Openbaring lees en bestudeer.  Maar ons moet ook nie soveel tyd daaraan spandeer, dat ons van die ander 65 boeke vergeet nie.

 

[1] http://www.godrules.net/library/luther/NEW1luther_f8.htm

[2] Sien die res van die reeks in hierdie verband, en let ook op hoe die woord ‘binnekort’ of ‘gou’ in die res van die Nuwe Testament presies bedoel wat dit sê (bv. 1 Kor.4:19, Fil.2:19, 24, 2 Tm.4:9).

[3] C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Magician’s Nephew, HarperCollinsPublishers, 1955, 1998, 2001, p.100

Moenie in jouself glo nie

Cat seeing Lion in mirror

Dit is erg dat die wêreld vir jou sê om in jouself te glo.  Maar dit is erger dat Christelike boodskappe op Whatsapp en Facebook vir jou sê om dit te doen, en dat Christelike sprekers by vroue kampe hierdie denke aanmoedig.  Jes.21:11-22:25 wys vir ons wat met Israel en die nasies gebeur het toe hulle in hulleself geglo het, en nie in die Here nie.

 

Edom (21:11-12)

Een van my vriende het verlede jaar deur diep waters gegaan.  Teen die einde van die jaar het dinge beter geraak.  Maar die son het net vir ‘n maand of twee geskyn, toe iets harder hom getref het.  In 21:11-12 het dit met Duma en Seïr in Edom gebeur (vgl. Gn.32:3).

 

Edom was suid-oos van die Dooie See.  Iemand het ‘n boodskapper van Seïr af na Jesaja toe gestuur (21:11).  “Wagter, hoe ver is dit in die nag?” het hy twee keer in desperaatheid gevra.  Edom wou eintlik geweet het of die nag van Assirië se verwoesting amper verby was.

 

Die wagter het geantwoord:  ‘Die verdrukking sal verbygaan en die oggend sal weer kom.  Maar dan sal dit weer nag word.  Moet dan nie te gou bly raak nie.  Maar moet ook nie in moedeloosheid verval nie, aangesien dinge wel in die toekoms beter sal word.  Ek is nie presies seker wanneer nie, maar dit sal gebeur.  Stuur dus later weer ‘n boodskapper om uit te vind.’ (21:12).

 

Die groot les wat ons in hierdie verse leer, is dat ons op die Here moet wag.  Edom het dit nie gedoen nie, en daarom het die Here hulle tot ‘n einde gebring (Obadja).

 

Wanneer jy deur ‘n krisis gaan, help dit nie jy raak ongeduldig of kwaad vir die Here nie – dit gaan nie die situasie verander nie.  Vra eerder vir die Here om jou deur die Woord te lei (21:11).

 

Moenie opgee as Hy jou nie dadelik antwoord nie, of as dinge eers slegter raak voor dit beter raak nie; wag op die Here (21:12).  Onthou dat niemand sy planne kan keer nie, al lyk dit ook vir jou of niks gebeur nie.  Wag geduldig op die Here, volhard deur die beproewing, en moenie op jouself vertrou nie.

 

Arabië (21:13-17)

Dedan, Tema en Kedar was Arabiese stamme uit Abraham se nageslag by Ketura en Hagar (Gn.25:3, 13).  Die karavane van die Dedaniete het in die bosse van Arabië weggekruip, omdat hulle die Assiriërs gevrees het (21:13).  Hulle sou vir die Assiriërs se swaarde en boë gevlug het (21:15).  Die Temaniete sou hulle met water uit die oase, en met kos gehelp het (21:14-15, vgl. Job 4:1, 6:19).

 

Die Arabiere se wedersydse ondersteuning het egter nie gehelp nie.  Binne ‘n werksjaar sou die heerlike Kedarstam en haar boogskutters tot ‘n val gekom het (22:16-17).  Die Arabiere wat op mekaar gesteun het, sou uitgedun wees (21:17).  Soos die God van Israel dit voorspel het, het dit gebeur (21:17).

 

Die les in hierdie verse is dat die wêreld nie die middele het om hulle probleme op te los nie, al help hulle ook mekaar (21:13-17).  Hulle mag dalk vir tyd en wyl ‘n oplossing vind (21:13-15), maar op die einde is daar niemand wat hulle kan help nie (21:16-17).

 

Waarop sal hulle staatmaak as die rykdom waarin hulle geroem het gesteel word, as die mense in wie hulle gehoop het sterf, of as die gesondheid waarop hulle vertrou het ingee?  God is die enigste Rots op wie jy kan steun:  “Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.” (Ps.62:3).

 

Vertrou op Hom en op niemand anders nie, ook nie op jouself of op dit wat jy vir die Here doen nie.  Wat gaan jy doen as jy so siek raak dat jy nie meer instaat is om te bedien of jou Bybel te lees nie?  Maak dus seker dat jy op Christus alleen vertrou.

 

John Paton het vir ‘n hele nag in ‘n boom weggekruip, terwyl die kannibale deur die bos gehardloop het om hom dood te maak.  Hy het niemand gehad om hom te help nie, en het sy hart voor die Here uitgestort.  Die nabyheid van Jesus het hom vertroos.  Hy skryf:  ‘If thus thrown back upon your own soul, alone, all, all alone, in the midnight, in the bush, in the very embrace of death itself, have you a Friend that will not fail you then?’[1]

 

Jerusalem (22:1-25)

Jare gelede het my oom se buurman homself doodgeskiet.  Dit was ‘n nare storie toe my oom op die toneel afgekom het.  Die familie het egter nie omgegee nie.  Hulle het die begrafnis as ‘n geleentheid beskou om dronk te word, losbandig op te tree, en laf te wees.  Dit is hoe Jerusalem in Jes.22 was.

 

Die vallei van die visioen verwys na Jerusalem wat deur berge omring is (22:1, 7, Ps.125:2).  Dit is hiér waar Jesaja sy visioene gehad het.  God se volk het egter geen vooruitsig gehad van die oordeel wat oppad was nie.  Hulle het op die huise se plat dakke geklim en fees gevier terwyl die Babiloniërs Jerusalem omsingel het en mense van die honger vergaan het (22:1-2, 13).

 

Toe die leiers uit die stad uit gevlug het, het die Babiloniërs hulle sonder moeite gevang (22:3, 2 Kon.25:3-7).  Jesaja het geweet dat die stad verwoes sou word, en daarom het hy nie saam met die res partytjie gehou nie maar gehuil (22:4).  Hy wou alleen gehuil het, en nie die goedkoop troos gehad het van mense wat sê dat alles ‘okay’ gaan wees, terwyl hy geweet het dit gaan nie ‘okay’ wees nie (22:4).

 

Die Babiloniërs sou Jerusalem se mure in die vallei van die visioen platgeslaan het (22:5).  Die geskreeu van die inwoners sou in die berge ge-eggo het (22:5).  Soos God dit bepaal het, het dit gebeur (22:5).  Elam en Kir het die Babiloniërs teen Jerusalem gehelp; soldate en strydwaens het die valleie gevul; perderuiters het buite die stadspoorte gewag (22:6-7).

 

God het nie meer vir Israel beskut nie, maar dit het haar nie gepla nie (22:8, Ps.105:39).  Sy het nie op die ewige God vertrou nie, maar op haar wapens, mure en voorraad (22:8-11, 1 Kon.10:17, 2 Kron.32:4-5, Jer.33:4).

 

Die volk moes berou gehad het en dit gewys het, maar in stede daarvan was hulle bly en het hulle fees gevier asof niks verkeerd is nie (22:12-13).  “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons,” het hulle gesê (22:13).  Moes hulle hulle nie eerder tot die Here bekeer het, as om vir ‘n laaste keer fees te vier nie (22:13)?

 

Die mense wat só gelewe het, kon nie vergewe word nie, maar hulle sou in hulle sonde gesterf het (22:14).  Hoe kon die Here hulle vergewe het as hulle op hulleself vertrou het en nie op Hom nie (Heb.10:26, 29)?

 

Sebna in beheer van die koning se paleis was so (22:15).  Sy arrogante trots was tipies van die volk s’n.  Hy het nie omgegee oor wat ná die dood met hom gaan gebeur nie (22:13), solank hy in ‘n koninklike graf gelê het en mense hom op sy begrafnis geprys het (22:16).

 

Hieroor het Jesaja hom aangspreek:  ‘Wie dink jy is jy (22:16)?  Jy is gans en al te seker van jouself en van jou belangrike posisie.  Soos iemand ‘n bal uit ‘n slingervel gooi, sal die Here jou gryp en met geweld na ‘n ver land toe gooi (22:17).  Daar sal jy sterf en nié in die koninklike graf lê soos jy gedink het nie (22:18, 16).  Egipte se strydwaens waarop jy vertrou het, sal saam met jou daar lê (22:18, 31:1, 36:9).  Niemand sal jou prys wanneer jy weg nie, maar jou as die skande van die koning se huis onthou (22:18).

 

‘Die Here sal jou uit jou amp uit verwyder; Hy sal jou “demote” en afbring aarde toe (22:19, 15, 36:22).  Hy sal Eljakim die seun van Hilkia as sy kneg roep en hom in jou plek aanstel (22:20, 37:2).  Hy sal jou leierskleed, gordel en gesag vir hom gee (22:21).  Hy sal soos ‘n vader wees vir die volk (22:21, Gn.45:8).  Omdat die sleutel van Dawid op sy skouerband is, sal net hý die gesag hê om te besluit wie in die paleis mag inkom en wie nie (22:22).

 

‘Die Here sal hom soos ‘n stewige pen vasslaan (22:23).  Hy en sy familie sal egter sy ereplek en rykdom misbruik om hulleself te bevoordeel (22:23-24).  Soos potte en koppies wat aan ‘n kombuishak hang, sal Eljakim se familie op hom steun om hulle te dra (22:24).  Die populariteit sal vir hom te veel raak, sodat hy en sy familie onder die gewig knak (22:25).  So het die Here gespreek, en so sal dit gebeur (22:25).’

 

Wat leer Jes.22 vir ons?

 

[1] Ons land is op ‘n slegte plek.  Terwyl Knysna en die Bloemfonteinse stadsaal afbrand, terwyl misdaad toeneem en die regering korrup is, lê ons nie op ons gesigte voor die Here nie, maar leef ons in vrolikheid en sonde, asof daar geen oordeelsdag, hemel en hel is nie (22:2, 13, 1 Kor.15:32).

 

Moenie dat die wêreld jou onsensitief maak, sodat hierdie dinge jou nie pla nie.  Bid vir ons land; treur en moenie lag nie (22:12-13, Jk.4:9).  Wees soos Jesaja en sien die werklike toestand van sake (22:4).

 

[2] Ons het die Here nodig (22:11b).  In ‘n era van wetenskaplike navorsing en tegnologiese vooruitgang, moet ons nie dink ons is selfgemaakte mense wat nie die Here nodig het nie (22:8-11a).  “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” (Sp.3:5-6).  Vertrou jy op jouself en nie op die Here nie?  Het jy opgehou om te bid en jou Bybel te lees?

 

[3] Moenie soos Sebna te veel van jouself dink nie (22:16).  Daar bestaan iets soos ‘n gesonde menswaardigheid en selfrespek, maar dit is glad nie waar dat jy ‘n fantasiese selfbeeld moet hê, sodat jy elke dag in die spieël vir jouself sê hoe goed, mooi en suksesvol jy is nie.  Dit is niks anders as hoogmoed nie.  En as jy hoogmoedig is, sal jy hard val (22:15-19, Sp.16:18).

 

[4] Dié wat op hulleself en hulle eie vermoeëns vertrou, vertrou nie op die Here nie, en kan nie gered word nie (22:14, Lk.18:9-14).  Hulle hoop is ydel en leeg; dit kan hulle nie red nie.  Net dié wat in Christus glo kan met sekerheid weet dat God hulle nou en op die oordeelsdag sal red (Rm.8:1).  Moet dan nie op jouself vertrou nie, maar op die Here.

 

[5] Wat mense op jou begrafnis van jou sê is nie naastenby so belangrik soos waar jy sal wees wanneer hulle dit sê nie (22:16-18).  Sal jy in die hemel of in die hel wees?  Dit is die groot vraag wat jy vir jouself moet vra.  Dié wat op Jesus vertrou en in Hom glo sal in die hemel wees.  Hy het die sleutel van Dawid om ons in die Koninkryk van God te laat inkom (Op.3:7, Lk.10:21-22).

 

[6] Moenie op ander vertrou en in hulle glo om jou te red nie (22:23-25).  Jy kan nie hemel toe gaan omdat jou pa ‘n dominee was, of omdat jou ouma die Here gedien het nie.  Jy kan nie op grond van jou ouers se geloof gedoop word en dink dat jy nou deel van God se spesiale se verbond met die kerk is nie.

 

Jou geloof moet op niemand anders rus as op Jesus en sy verlossingswerk nie.  Om op jouself of iets anders te vertrou, is om op sand te bou.  As die hooggety van God se oordeel inkom sal die sandkasteel van jou lewe inmekaar tuimel.  Vertrou daarom op die Here en nie op jouself nie.

 

[1] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.200

Hemel op aarde

Heaven on earth

Onthou jy Belinda Carslisle se lied, Heaven is a Place on Earth?  Dit gaan oor ‘n man wat met ‘n vrou dans, en volgens haar is dít hemel op aarde.  Duidelik het die wêreld nie ‘n idee van wat hemel op aarde eintlik beteken nie.  In Op.21:22-22:5 sê Johannes vir ons wat dit beteken.

 

Heerlikheid (21:22-27)

Ek het in die afgelope week gehoor hoe John MacArthur in ‘n preek sê:  ‘The church is your nation.  The church is your country.  The church is your state.  The church is your city.  The church is your tribe.  The church is your ethnicity.  The church is your family… The church is heaven on earth.  It’s going to be a heavenly experience brought down to earth.’[1]

 

Ek stem heelhartig met hom saam.  Alhoewel ons nog nie by die finale feesmaal is nie, is dit wat ons in die kerk ervaar ‘n voorsmakie van wat ons eendag op die nuwe aarde sal geniet (sonder sonde natuurlik).  Dit is die punt wat Johannes in 21:22-27 wil maak.

 

Volgens hom is daar geen tempel, son en maan, geslote hekke, nag, onreinheid en sonde in die Nuwe Jerusalem nie.  Die aardse tempel is in 70 n.C. verwoes.  In die Nuwe Jerusalem is God en die Lam die tempel (21:22, Hg.2:9, Jer.3:16-17).  In die kerk en op die nuwe aarde vul sy heerlikheid alles en is dit oral; dit word nie tot ‘n spesifieke plek beperk nie (21:22, Jes.66:1, Esg.10, Jh.4:20-24).

 

Deur die Heilige Gees wat in ons woon is ons die tempel en die stene waarmee Hy dit bou (1 Kor.3:16, Ef.2:21-22, 1 Pt.2:5).  God woon in ons en ons in Hom.  Hy is die sonlig waarin ons lewe (21:23-24, 22:5, 1:16, Ps.84:12, Jes.2:5, Jh.8:12, 1 Tm.6:16, Heb.1:3, 1 Jh.1:5).  In Christus kan ons die lig van sy guns geniet en in die sonskyn van sy glimag bak (21:23-24, Nm.6:25-26, Ps.80:20).

 

By Jesus se eerste koms, in die kerk en in die Bybel, ervaar ons reeds iets hiervan (21:23, 1:20, Ps.119:105, Jes.60:19-20, Mal.4:2, Mt.5:16, Lk.1:78, Jh.1:9, Ef.5:8-9, Fil.2:15, 2 Pt.1:19, 1 Jh.1:6-7).  Soos in Jon.3, sal die nasies en hulle konings na God se lig toe kom en daarin lewe; hulle sal hulle heerlikheid in die Nuwe Jerusalem inbring.  Hulle sal m.a.w. tot bekering kom, geskenke vir die Here bring, in die hemelse stad inkom, voor Jesus buig en bely dat Hy die Koning van die konings en die Here van die here is (21:24, 26, 19:16, Ps.72:10-11, 86:9, Jes.49:7, 60:3, 5, 10-11, 13).

 

Die stad se poorte sal altyd oop wees; die nag en sy gevare sal nie meer bestaan nie (21:25, Jes.60:11).  Die oop poorte wys dat ons nou en op die nuwe aarde ter enige tyd na die Here toe kan kom (21:25, Heb.10:19-22).  Die poorte van die kerk en van die Nuwe Jerusalem is nie oop vir almal nie, maar vir dié wie se name voor die skepping in die boek van die lewe geskryf is, vir dié wat hulle onreinheid en sonde gelos het (21:27, 22:14-15, 20:15, 17:8, Jes.52:1, Mt.13:41, 1 Kor.5:13, Heb.12:14).

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas?

 

[1] Mense uit alle nasies sal lidmate van die kerk wees, en ook eendag saam met ons op die nuwe aarde woon.  Anders as by die toring van Babel in Gn.11:1-9, sal daar waarskynlik een taal wees.  En tog sal elke volk en stam sy identiteit behou.  Daar sal dus nogsteeds Indiërs, Afrikaners, Chinese, Russe en Zoeloes wees (21:24, 26, 7:9).

 

Ons moet dan nie dink dat ons beter is as ander bevolkingsgroepe, of dat hulle nie eendag op die nuwe aarde sal wees nie.  Ons moet ook nie in die kerk teen hulle diskrimineer of hulle uitsluit, omdat hulle anders as ons lyk en praat nie.  Paulus het van die kerk gesê dat “daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kol.3:11).  Petrus het gesê:  “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” (Hd.10:34-35).

 

[2] Mense wat onrein, vals en gruwelik lewe, sal nie in die hemelse stad inkom nie (21:27).  Ons moet hulle dan ook nie as lidmate in die gemeente verwelkom nie.  Ons ken nie almal se harte nie, en daarom kan ons nie elke Judas keer nie.  Maar as ons dit kan help mag ons nie mense se name op die lederol skryf, as hulle name nie ook in die boek van die lewe is nie (21:27, Lk.10:20b, Fil.4:3b).  Ons moet eerder die goeie nuus van Jesus se kruisdood en opstanding met hulle deel, en bid dat hulle tot bekering sal kom.

 

Lewe (22:1-5)

Die Griekse woord vir Paradys [paradeisos] verwys letterlik na ‘n omheinde tuin van plesier.  Dit herinner my aan die hangende tuine van ou Babilon, wat een van die sewe wonders van die antieke wêreld was.  Die Nuwe Jerusalem sal so wees, net baie beter.  Die stad sal nie ‘n oerwoud van beton en stene wees nie, maar ‘n pragtige stad van riviere en bome.  Dit sal mooier wees as enigiets wat jy al in jou lewe gesien het.

 

Die engel van 21:9 het in 22:1 vir Johannes die kristalhelder rivier van lewende water gewys.  Soos in die tuin van Eden (Gn.2:10), sal daar ‘n rivier in die hemelse Paradys wees.  Esg.47:1-12 praat van ‘n rivier wat uit die tempel vloei en lewe gee.  Alhoewel die rivier in 22:1-2 moontlik van ‘n letterlike rivier praat, is dit ook simbolies van die ewige lewe wat Jesus deur die Gees in die evangelie gee (21:6, Jes.44:3, Jh.4:14, 7:37-39).  Die feit dat dit van die troon af vloei, wys dat alle lewe van God af kom, en dat Hy soewerein is daaroor (22:1).

 

Die rivier het deur die middel van die stad se straat gevloei, en aan beide kante het die boom van die lewe gestaan (22:2).  Johannes bedoel dat daar baie bome was wat in lanings langs die rivier gestaan het (Esg.47:12).  Vir die volle twaalf maande van die jaar het dit vrugte gedra, elke maand ‘n ander soort (22:2).  Die blare het nie verlep nie, maar is wel gepluk en as medisyne gebruik (22:2).  Hoe moet ons 22:2 verstaan?

 

[1] Ná die sondeval het God die mens verbied om van die boom van die lewe te eet (Gn.2:9, 3:22-24).  Op die nuwe aarde sal ons weer van die boom se vrugte eet (22:2, 14, 2:7).  Ja, ons sal eet op die nuwe aarde.  Daar sal oorgenoeg wees; niemand sal honger ly nie (22:2, vgl. 7:16).

 

As dit vir jou ongeestelik klink om op die nuwe aarde te eet, moet jy onthou dat Adam voor die sondeval geëet het.  Jesus het voor en na sy opstanding geëet.  Volgens 1 Tm.4:3-5 is dit nie ongeestelik om te eet nie, en verheerlik dit die Here.

 

[2] Die boom in 22:2 illustreer ook hoe ons lewens moet lyk:  “En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” (Ps.1:3).

 

[3] Die twaalf maande in 22:2 impliseer dat daar tyd op die nuwe aarde sal wees.  God alleen is ewig en alomteenwoordig, buite tyd en spasie, EK IS wat EK IS.

 

[4] Die boom van die lewe se blare was vir die genesing van die nasies (22:2, Esg.47:12).  Dit beteken nie dat daar siekte sal wees nie, maar dat daar altyd gesondheid sal wees (21:4).  Die blare sal ons gesond hou, soos wat voldoende rus, gereelde oefening, ‘n gebalanseerde dieët en vitamines dit doen.  Die blare van genesing is ook simbolies van Jesus se kruisdood wat die nasies van hulle sonde genees het (Jes.53:5).

 

A.g.v. ons sonde, verdien ons om deur die Here vervloek te word (Gn.3:16-19, Gal.3:10).  Deur Jesus se kruisdood het Hy die vervloeking op Homself geneem (Gal.3:13).  God regeer in ons midde, en daarom kan geen vervloeking naby ons kom nie (22:3, Gal.3:14, Ef.1:3).  Ons kan nie deur bloedlyn- en ander vloeke ‘gebind’ word nie (Nm.23:23, Sp.26:2, 1 Pt.1:18).

 

Soos ons die Here nóú dien en aanbid, sal ons dit op die nuwe aarde doen (22:3).  Moet asb. nie aanbidding tot sang beperk nie; dit is meer as dit.  Die werk wat jy doen, jou plesier in God se nuwe skepping, die gemeenskap van gelowiges, jou gesprekke met engele en ander hemelwesens, jou dankbaarheid oor die nuwe kleure, geure en smake wat God geskep het, sal daartoe lei dat jy Hom aanbid en bewonder.  Jou hele lewe en alles wat jy doen sal aanbidding wees (Rm.12:1, 1 Kor.10:31).

 

Jy sal dit nie kan help as jy eers sy gesig gesien het nie (22:4).  Deur ons geloof in die evangelie het ons reeds sy heerlikheid in die aangesig van Jesus Christus gesien (2 Kor.4:6).  Maar ons het dit nog nie volkome gesien nie, en ons kán ook nie (1:16-17, Eks.33:20).  Eers as Hy ons liggame verheerlik het, sal ons instaat wees om sy gesig te sien.  Ons sal so verwonderd wees, dat ons Hom met lus en met ywer sal dien (22:3-4, 2 Ts.1:10).

 

Hierdie voorreg is net vir dié wie se harte rein is deur die bloed van die Lam (Mt.5:8).  As jy geen begeerte hiervoor het nie, is dit omdat jou hart nie rein is nie.  Vra die Here om jou vuil hart van klip uit te haal en vir jou ‘n hart te gee wat sensitief is vir sy Woord en sy Gees (Ps.51:12, Esg.36:25-27, Heb.10:22).  Om ‘n rein hart te hê, moet jy jou ook bekeer, jou sonde bely, en die Here gehoorsaam (2 Kor.7:1, Jk.4:8, 1 Pt.1:22).

 

As jy dít doen sal jy stelselmatig begin om Christus se heerlikheid te weerspieël, totdat jy dit eendag perfek doen (22:4, Eks.28:36, Rm.8:29, 2 Kor.3:18, 1 Jh.3:2).  Ons sal vir ewig in sy lig lewe en saam met Hom oor die nuwe aarde regeer (22:5, 21:24, Ps.36:10).  Ons sal die oorspronklike opdrag van Gn.1:28 ernstig opneem:  “heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (vgl. Ps.8:7-9).

 

Dit beteken nie dat die nuwe aarde maar net ‘n herstelde tuin van Eden is nie.  Dit is meer as dit.  Deur sy kruisdood het Jesus meer teruggekry as wat Adam verloor het:  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rm.5:20).

 

Op die nuwe aarde is daar geen boom van die kennis van goed en kwaad nie (Gn.2:9, 17).  Daar is dus geen moontlikheid om sonde te doen of te sterf nie (20:14, 21:4).  Daar is geen duiwel om ons te versoek nie (20:10, Gn.3:1-5).  Ons het nie meer stoflike liggame soos Adam s’n nie, maar verheerlikte liggame (Gn.2:7, 1 Kor.15:42-49).  Ons is nie net God se kinders deur skepping nie (soos Adam voor die sondeval), maar deur verlossing.  Deur ons eenheid met Christus is ons nie meer laer as die engele nie, maar bo hulle (Heb.2:6-9, Ef.1:20-22, 2:6).

 

Wanneer ek hieroor dink, bid ek dat Jesus weer sal kom om die aarde nuut te maak.  Ek besef dat daar baie mense is wat nie soos ek dink nie.  Omtrent 5 jaar gelede het ek vir iemand by ‘n boekwinkel gevra of sy Randy Alcorn se boek Heaven gelees het, en wat sy daarvan gedink het?  ‘Ek het nie daarvan gehou nie,’ het sy gesê.  ‘Sy idee van die hemel was vir my te aards.’  Na my mening was Alcorn se beskrywing van hemel op aarde heeltemal Bybels, en bevestig hierdie verse dit.

 

[1] https://www.gty.org/library/sermons-library/81-8/your-responsibility-to-the-church-part-1

Hoe sien God die wêreld?

Planet in eyeball

Die bekendste vers in die Bybel leer vir ons dat God die wêreld liefhet, en dat Hy aarde toe gekom het om ons te red (Jh.3:16-17).  Maar die wêreld verwys ook na goddelose mense wat agter die duiwel aanloop (Ef.2:2, 1 Jh.5:19).  Die wêreld haat vir God, en daarom wil Hy nie hê dat ons die bose sisteem moet liefkry en omhels nie (1 Jh.2:15-16).

 

Die wêreld moenie die fondasie wees waarop ons ons lewens bou nie.  Dit moenie die bankrekening wees waarin ons ons skatte belê nie.  Ons behoort aan die Here, en moet daarom nie wees soos ‘n vrou wat haar man los om emosionele vervulling in iemand anders te kry nie (Jk.4:4).  In Jes.20:1-21:10 sien ons hoe die profeet vir Israel hierteen gewaarsku het.

 

Filistia (20:1-6)

Asdod was ‘n stad van die Filistyne.  Dit was minder as 5 km van die Middellandse See af.  Koning Sargon II (722-705 v.C.) van Assirië het die stad verower, sodat hulle onder sy bewind was en belasting moes betaal.  Toe hulle egter teen hom gerebelleer het, het hy sy generaal – die tartan – met ‘n groot weermag na hulle toe gestuur (20:1).  Hy het teen die stad geveg en die rebelle verbrysel (20:1).

 

Toe dít gebeur het, het die Here deur Jesaja die seun van Amos met Israel gepraat (20:2).  Hy moes sy sandale en die growwe klere van ‘n profeet uitgetrek het (20:2, 2 Kon.1:8).  Vir 3 jaar het hy kaalvoet en naak rondgeloop (20:2-3, Mg.1:8).  Ek is nie seker of hy kaal bolyf was, of hy ‘n onderkleed aangehad het, en of hy totaal en al naak was nie.  Hoe dit ookal sy, hy sou verseker selfbewus gevoel het.

 

Is daar ‘n groter vernedering as dit?  Toe ek in graad 8 was, het ‘n ouer seun my met boeie aan die skool se kennisgewing bord vasgemaak en my broek afgetrek.  Almal het vir my gelag en ek het verneder gevoel.  Hoe moes dit nie vir Jesaja gewees het om vir 3 jaar so rond te loop nie?

 

Sy selfvernedering moes egter vir God se volk gewys het dat dít hulle voorland was as hulle op Etiopië en Egipte vertrou het, en nie op die Here nie (20:3-6).  Jesaja was as’t ware ‘n teken dat die koning van Assirië die ou en jong mense van Egipte en Etiopië op ‘n soortgelyke wyse na sy eie land toe sou wegvoer:  sonder skoene en naak soos iemand met ‘n hospitaal frokkie wat nie mooi wil toemaak nie (20:3-4).  Hulle sou so kaal gewees het soos die land nadat dit verwoes is (20:4, hfst.19).

 

Die Filistyne van Asdod naby die kus sou skaam gewees het dat hulle enigsins op Egipte en Etiopië vertrou het (20:5-6).  En as húlle nie eers teen die Assiriërs kon staan nie, hoe sou die Filistyne dit oorleef het (20:6, vgl. Jer.47:4)?

 

Israel moes daarom nie eers probeer het om op Egipte en haar weermag te vertrou nie (30:3, 5, 31:1, Ps.20:8).  Dit geld vir ons ook.  Wanneer dit met ons sleg gaan, moet ons nie ons volle vertroue in mense of in enigiets anders stel om ons te help nie.  Ons moet ook nie met die wêreld hande vat en dink dat dít die oplossing is nie.

 

Terwyl ons land deur ‘n krisis gaan, kan geen politieke party ons help nie.  As hulle kon, sou almal dit geweet het.  Ons kan nie op die ekonomie vertrou nie, omdat die wêreld en sy rykdom in ‘n oomblik op sy neus kan duik, soos dit tydens die groot depressie in die 1930’s gebeur het.

 

Ons kan nie dink dat die opvoedingsisteem ons land se probleme gaan oplos nie.  Dié wat ander moet oplei dink dat immorele dinge soos seks voor die huwelik, homseksualiteit, aborsie en vals godsdienste moreel is.  Maar al het hulle ook goeie waardes gehad, kan moraliteit nie God se toorn afwend nie.  ‘Morality damns just like immorality,’ het John MacArthur in ‘n preek gesê.  Dit is immers nie moraliteit wat ons in die hemel bring nie, maar geloof in Jesus Christus wat vir sondaars gesterf het en opgestaan het uit die dood.

 

Die probleem is geestelik, en daarom moet die oplossing ook geestelik wees.  Ek verwys nie na enige vorm van geestelikheid nie.  Ons kan nie saam met vals leraars en mense van ander godsdienste ‘n gebedsdag hou, en dink dat die Here dit gaan seën nie (2 Kor.6:14-18).  Met ‘n geestelike oplossing bedoel ek dat ons in ware geloof na Jesus Christus toe moet draai.

 

Babilon (21:1-10)[1]

Om C.S. Lewis se Chronicles of Narnia reg te verstaan, sal dit help as jy ‘n basiese kennis van die Bybel het.  En om Jes.21 se eerste tien verse te verstaan, sal dit help as jy iets van Babilon se geskiedenis weet.

 

Sommige kommentators dink dat Jes.21:1-10 die verwoesting van Babilon deur die Meders en die Perse in 539 v.C. voorspel.  Ander dink dat dit Sanherib van Assirië se oorwinning oor die Babiloniërs in 689 v.C. voorspel.  Persoonlik lyk dit vir my of die tweede opsie die regte een is.  Laat my toe om te verduidelik.

 

Die woestyn van die see verwys na die suide van Babilon, naby die Persiese golf.  Soos die warrelwinde wat deur die Negeb woestyn suid van die Dooie See gewaai het, sou die verwoesting skielik oor Babilon gekom het (21:1).

 

God het in ‘n visioen vir Jesaja gesê dat daar harde dinge oppad was (21:2).  Die trouelose Assiriërs het baie nasies verwoes (21:2, 33:1).  Koning Merodag Baladan van Babilon het vir Elam in Suid-Iran en Medië in die noorde gevra om hom teen die Assiriërs te help (21:2).  ‘Ek sal die verdrukking en gesug wat hulle veroorsaak het, tot ‘n einde bring,’ het die koning van Babilon in sy hart gesê (21:2).

 

Toe God dit vir Jesaja gesê het, het hy fisies en emosioneel in ‘n toestand van skok ingegaan, byna soos ‘n swanger vrou wat in kraam ingaan (21:3-4).  Ons kan die rede soos volg opsom.  Merodag Baladan het boodskappers Jerusalem toe gestuur om vir Hiskia na sy onlangse siekte te besoek (Jes.39).  In sy hart het hy gehoop dat Hiskia hom sou help om Assirië se juk af te gooi.

 

Hiskia het die boodskappers met oop arms ontvang en hulle met lekker kos en goeie wyn onthaal (21:5, vgl. 22:13).  Ná die ete het Hiskia met sy rykdom, wapenrusting en skilde by hulle gespog (39:1-2, 2 Kron.32:24-31).  ‘Ons sal maklik die Assiriërs se aanval kan afweer,’ is wat hulle in 21:5 met die gesalfde skilde geïmpliseer het.

 

Omdat Hiskia hoogmoedig was en nie op die Here vertrou het nie, het daar groot toorn oor hom, Jerusalem en Juda gekom (2 Kron.32:25).  Toe hy hom egter verneder het, het die Here hom vergewe en gesê dat Jerusalem ná sy dood eers tot ‘n val sou kom (2 Kron.32:26).

 

Dít is wat vir Jesaja vreesbevange gemaak het:  die eindste Babiloniërs vir wie Jerusalem die regterhand van vriendskap gegee het, sou hulle in 586 v.C. vernietig het (21:3-4, 39:5-7).  Toe Jesaja Jerusalem en Babilon se sonde gesien het, het hy gewens dat die skemer van God se oordeel wil aanbreek (21:4).  Maar toe die Here die detail daarvan geopenbaar het, het dit hom soos magtige golwe oorweldig – dit was erger as wat hy gedink het (21:4).

 

Op God se bevel het Jesaja ‘n wag op die mure geplaas (21:6).  Hy moes die vervulling van God se woorde aangekondig het (21:6).  As die perderuiters in pare en op donkies en kamele aangekom het, moes hy noukeurig geluister het (21:7).  Die wag het uitgeroep soos ‘n leeu wat brul:  ‘Dag en nag sal ek op my pos wees, totdat die Here se woorde in vervulling gaan!’ (21:8, Hab.2:1).

 

Van die uitkyktoring af het die wag gesien hoe die perderuiters in pare aankom (21:9).  Vir dié wat in Jesaja se tyd geleef het, het dit ‘n baie spesifieke betekenis gehad.  Die Arabiere het gewoonlik twee perde in die oorlog ingevat.  Hulle het op een gery, terwyl hulle die ander een saam gelei het.  As hulle gesien het hulle gaan verloor, het hulle van die moeë perd afgeklim en op die ander een gevlug.

 

Hierdie selfde beeld word nou in 21:9 gebruik.  Volgens die profesie in 21:6-7, het die wag gesien hoe die ruiters in pare aankom.  Net soos wat hulle in die oorlog ingegaan het, het hulle teruggekeer.  Assirië het nie vir Babilon gevlug nie, maar hulle oorwin.

 

‘Babilon en haar gode het geval!’ het die wag uitgeroep (21:9).  Volgens die geskiedenisboeke het Sanherib van Assirië die Babiloniërs geslag en die stad met hulle lyke gevul.  Sy soldate het die Babiloniërs se gode gevat en stukkend geslaan (21:9).  Assirië wou gewys het dat húlle gode sterker is as die Babiloniërs s’n.

 

In die lig hiervan, moes Hiskia en die volk dit nie eers oorweeg het om op Babilon te vertrou nie.  Israel was alreeds soos vertrapte en gedorste koring (21:10).  Hoe kon hulle dan op iemand staatgemaak het wat self deur Assirië vertrap sou word?  Hiskia en Jerusalem moes nie Jesaja se God-gegewe waarskuwing geïgnoreer het nie (21:10).

 

Omdat God die wêreld so swaar gaan oordeel, kan ons dit nie bekostig om kop in een mus met hulle te wees nie.  Ons kan nie om die wêreld se vuur sit nie (Ps.1:1).  Ons kan nie soos hulle lewe nie.  In ons vermaak, musiek, modes, geldsake, seksualiteit, ens., moet ons anders as hulle dink (Rm.12:2).  Moenie op jou eie vermoeëns staatmaak om teen die wêreld en sy versoekings te stry nie (21:5b),  maar vertrou op die Here (1 Jh.5:4-5).

 

Ek bedoel nie jy moet wens dat die Here vir Robert Mugabe, Jacob Zuma, Julius Malema, ISIS, jou persoonlike vyande, en die res van die wêreld moet oordeel nie.  As Jesaja hier was, sou hy vir jou gesê het:  ‘Jy weet nie waarvoor jy vra nie’ (21:3-4).

 

God se Woord sê:  “Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?” (Ps.90:11).  “Wee die wat na die dag van die HERE verlang!  Wat sal tog die dag van die HERE vir julle wees?  Dit sal duisternis wees en geen lig nie.” (Am.5:18).  “Wie sal standhou voor sy grimmigheid?  En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?  Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.” (Nah.1:6).

 

“maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees:  vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!” (Lk.12:5).  “[hulle het] vir die berge en die rotse gesê:  Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op.6:16-17).

 

Vir God se kinders sal die wederkoms ‘n dag van verlossing wees, maar vir dié wat Hom verwerp het sal dit ‘n skrikwekkende dag wees:

 

“aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.  Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte, wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind.” (2 Ts.1:6-10).

 

Die oordeelsdag sal erger wees as enigiets waaraan jy in jou wildste drome kon dink (21:4).  Moet dit nie eers vir jou grootste vyande toewens nie.  Bid eerder dat die Here hulle tot hulle sinne sal bring, sodat hulle gered kan word (Rm.9:2-3, 10:1, 2 Pt.3:9).

 

Sien die wêreld soos wat die Here dit sien.  Sy liefde vir die bose mense wat sy Seun gekruisig het, is dieper en groter as my en jou liefde vir ons lewensmaats, kinders en kleinkinders.  God het juis sy liefde bewys deur Jesus wat vir ons gesterf het (Rm.5:8).

 

Ons was net so hopeloos soos die wêreld, en daarom voel ons jammer vir hulle.  Ons moet egter oppas dat hulle ons nie versoek om weer na hulle toe terug te keer nie.  Ons is soos ‘n eks-dwelmverslaafde wat medelye het met dié wat nog daarin vasgevang is.  Hy is egter ook op sy hoede, omdat hulle hom maklik kan verlei om weer saam met hulle ‘n zol te rook.

 

[1] Jes.21:1-10 is moeilik om te verstaan.  Alec Motyer se kommentaar, The Prophecy of Isaiah (pp.172-179), het my gehelp om hierdie verse te verstaan.