Hoe moet jy jou kinders tugtig?

Spanking child

Die bure agter ons het eenkeer hulle seuns geslaan tot hulle lê.  Hulle het skaars krag gehad om verder te huil.  Ek het oor die muur gekyk en vir die ma gevra wat aangaan.  Hulle het blykbaar die bure langsaan se fiets gesteel.  Wat hulle gedoen het was verkeerd, maar sy moes hulle nie so erg geslaan het nie.  In Ef. 6:4 leer die Here vir ons hoe ons ons kinders móét dissiplineer.[1]

 

God se tug

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek rondgebel om geborduurde hoede vir die kinders te maak.  Een ongelowige pa was baie ongelukkig dat ek hoede vir sy dogters wou bestel.  Toe ek hom sien het hy my aangevat en aanhoudend vir my gesê:  ‘Dis mý dogters… Hierdie is mý dogters, mý dogters…’  Hy het hulle ook grootgemaak asof hulle sý eiendom is, en nie die Here s’n nie.

 

Ons kinders behoort nie aan ons nie; hulle is vir ons geleen.  As hulle dus sonde doen, moet ons hulle in die Here se tug opvoed (v.4).  Wanneer jy jou kinders tugtig is dit Gód se dissipline wat jy toepas.  As jy nalaat om hulle te dissiplineer, sê jy dat die Here nie omgee as hulle sonde doen nie.  Jy sê dat Hy hulle nie liefhet nie, omdat dit Hom nie pla dat hulle op die verkeerde pad is nie.

 

‘Die tug van die Here’ impliseer verder dat jy jou kind moet tug omdat hy of sy teen die Here gesondig het, en nie omdat jy genoeg gehad het nie.  Die ouer wat dít onthou, sal kalm bly wanneer hy sy kinders moet tugtig.

 

Wat tug nié is nie

Ouers is sondaars, en daarom het elkeen van ons al ons kinders op verkeerde maniere getug.  Ek onthou ‘n man in die Metodistekerk wat vir sy seun gegrom het.  Die seuntjie was so bang dat hy soos ‘n hondjie getjank het.  God wil hê dat jy jou kinders volgens die Bybel moet tugtig.  Moenie jou eie metodes gebruik, of die wêreld s’n volg nie.  Wat is hierdie maniere?

 

[1] Skuldgevoelens

Sommige ouers sit hulle kinders op ‘n ‘guilt trip’ as hulle oortree het.  Moet dit nie doen nie.  Moenie sê:  ‘Ek en jou ma spandeer tienduisende rande om jou in die skool te sit, en dít is die rapport wat jy huis toe bring!’ nie.  Dit laat net die kind skuldig voel, en help hom nie om te verander nie.

 

[2] Vrees

Het jy al ‘n pa gehoor wat sy kind met vrees dreig:  ‘As jy nou wéér jou sussie terg, gaan ek jou doodslaan!’?  Of ‘n ma wat sê:  ‘Wat tot jou pa vanaand by die huis kom mannetjie; hy gaan die velle van jou lyf aftrek!’?  As jy dít doen sal jou kind net luister totdat hy so groot is soos jy, of totdat ‘n pak slae hom nie meer afskrik nie.

 

[3] Manipulasie

Dit gebeur wanneer Maretha se dogtertjie ‘n tantrum in die winkel gooi en sy vir haar sê:  ‘As jy soet is sal mamma vir jou ‘n sweetie koop.’  Ander ouers koop hulle kinders om met geld en geskenke.  Natuurlik sal die kind soet wees om iets te kry, en nie a.g.v. die rede wat Paulus in Ef. 6:1 gee nie:  “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.”  As jy niks het om vir jou kind te gee nie, sal hy nie luister nie.

 

[4] Die tronk

Baie ouers sluit hulle kinders vir ‘n dag in die kamer toe, omdat dit te veel moeite is om die saak ordentlik uit te praat en met ‘n pak slae af te handel.  Maar nêrens sê die Bybel dat jy hulle in ‘n vertrek moet toesluit nie.  Buitendien pas hierdie straf nie by die oortreding nie; jy rek die dissipline onnodiglik uit.  Jy wys ook nie vir die kind wat verkeerd is, en hoe om dit reg te stel nie.

 

Jou en die kind se verhouding is vir ‘n hele dag verbreek.  ‘n Pak slae sou beter gewees het, omdat die verhouding dadelik herstel word (dit is, as jy dit reg doen).  As jy die kind kamer toe stuur, sal hy iets kry om homself besig mee te hou, en is die dissipline oneffektief.

 

[5] Die prokureur

Kom ek illustreer dit met ‘n situasie wat ek eenkeer gesien het.

 

Pa:  Jy is uit; gee asb. die krieket kolf vir so-en-so.

Seun:  Nee, maar ek het per ongeluk die bal mis geslaan.

Pa:  Nee, jy het nie; jy is uit.

Seun:  Nee, die kolf het skeef gedraai en toe slaan ek die bal mis.

Pa:  Nee, jy kan net-nou weer ‘n beurt kry.

Seun:  Nee, elkeen kry twee beurte.

 

So dit aangehou.  Moenie toelaat dat jou kinders met jou redeneer nie.  As hulle met jou redeneer onderwerp hulle hulle nie aan die gesag wat God oor hulle gestel het nie.

 

[6] ‘Ek tel tot tien!’ 

Ted Tripp sê tereg dat vertraagde gehoorsaamheid ongehoorsaamheid is.  As jou kind eers terugpraat, verskonings uitdink of doen wat hý wil voordat hy jou opdragte uitvoer, leer hy om gehoorsaam te wees hoe en wanneer hý wil, en nie omdat jý so sê nie.  Hy wil nie ‘n baas oor hom hê nie, maar wil sy eie baas wees.

 

Jy moet leer om een keer te praat, en die tweede keer pak te gee.  Dit is nie nodig om vyf keer vir jou kind te sê jy gaan hom pak gee nie (en dit dan in elk geval nie doen nie).  As jy een keer praat en die tweede keer pak gee, bly jy in beheer van jouself en verloor jy nie jou humeur nie.  Die kind weet ook waar hy met jou staan, en leer dat hy dadelik gehoorsaam moet wees.

 

[7] Die verkleurmannetjie

Party ouers se reëls is soos ‘n verkleurmannetjie wat elke nou en dan anders lyk.  Sarie het gister pak gekry toe sy met haar ma terugpraat, maar word vandag oorgesien.  ‘Is dit nou verkeerd of nie?’ wonder sy.  Wees asb. konsekwent en konstant.  As jy haar vandag hiervoor pak gee, moet jy dit môre ook doen.

 

[8] Die ‘sonde’ van kindwees

Het jy al ooit ‘n ouer gesien wat sy kind slaan omdat sy per ongeluk ‘n glas melk omgestamp het?  Slaan jou kind vir sonde, en nie omdat sy ‘n kind is nie.

 

[9] Mishandeling

Jy het geen reg om jou kind met die vuis te slaan, of om hom só erg pak te gee dat hy in die hospitaal beland nie.  ‘n Ouer wat dít doen moet in die tronk beland.

 

[10] Geskreeu

Moenie van die kombuis af op jou kinders skreeu, omdat jy te moeg is of nie lus is om hulle te dissiplineer nie.  Bybelse dissipline vat tyd, maar as jy dit nóú reg doen sal jy jouself in toekoms baie tyd, trane en wakker nagte spaar.

 

Die korrekte metode van tug

Ek ken ‘n ma wat nie in pak slae glo nie.  As haar man die kinders wou pak gee, het sy hom gekeer.  Haar jongste seun het al rebels geraak toe hy in die laerskool was.  As sy God se metode gevolg het, is die kanse goed dat haar kind vandag op die regte pad was.

 

God se metode is om jou kind pak te gee as hy of sy teen jou gesag rebelleer.  In die wêreld verwerp baie ouers hierdie metode, maar die Bybel leer duidelik dat ‘n pak slae wat deur liefde gemotiveer word, die kind bevoordeel soos wat ‘n operasiemes die pasiënt bevoordeel (Spr. 22:15, 23:13-14).  Om net te praat help nie; die kind moet fisiese pyn met die oortreding assosieer, sodat hy dit nie weer doen nie (Spr. 29:15, 17, 19).

 

Maar om nét die kind pak te gee help ook nie.  Jy moet met hom praat en vir hom die regte pad leer (Spr. 29:15).  Vat die kind eenkant en praat oor wat gebeur het.  Ek stem saam met Ted Tripp dat dissipline nie ‘n toeskouer sport is om jou kind in die verleentheid te stel nie.  Praat met sagmoedigheid, en beheer jouself wanneer jy dissipline toepas.  Raak eers stil voor die Here of vra vir die ander ouer om dit te hanteer as jy te kwaad is; vra vir vergifnis as jy jou humeur verloor het.

 

Ek het die volgende vrae by Paul Tripp geleer.  Dit sal jou help om by die hart van die probleem uit te kom (Spr. 20:5).

 

  • Wat het gebeur?
  • Wat het jy gedink en gevoel toe jou boetie die speelding by jou gevat het?
  • Wat het jy toe gedoen?
  • Hoekom het jy dit gedoen – wat wou jy gehad het?
  • Wat gaan nou gebeur?

 

So leer die kind dat sy dade die gevolg van sy sondige emosies, begeertes en gedagtes is.  Hy leer dat die probleem dieper is as sy dade, en dat hy nie sy eie hart kan verander nie.  Hy leer ook dat sy sonde negatiewe gevolge het.  As hy dinge op hierdie manier leer, dryf dit hom na Jesus toe.

 

Wanneer jy jou kind tugtig, moet jy ‘n straf gee wat by die oortreding pas.  Sê vir hom hoeveel houe jy gaan gee, sodat jy in beheer van jouself kan bly.  Een hou is genoeg vir kleintjies.  As die kind ouer is kan jy een of twee houe gee, en drie of vier vir ernstige oortredings.

 

Wanneer jy die kind pak gee, moet hy die pyn voel.  Doeke en rompe moenie in die pad kom nie.  As die kind ouer is moet jy nie sy broek aftrek, sodat hy skaam voel nie.  Waarsku ook die kind om nie rond te wikkel of sy hande in die pad te kry nie.  ‘n Kind wat dít doen onderwerp hom nie aan die ouer nie, en moet ‘n ekstra hou kry.

 

Na jy die kind geslaan het, moet jy toelaat dat hy klaar huil.  Verseker hom van jou liefde.  As hy jou nie naby hom soek nie, het die pakslae nie gewerk nie en moet jy vir hom sê dat jy hom weer moet tugtig.  As hy berou het, kan jy saam met hom bid en die evangelie met hom deel.  Sê vir hom dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons sondige rekord en harte skoon te was.  Sê vir hom dat Jesus hom sal red as hy sy sonde haat, hom daarvan bekeer en in Jesus glo.  Moet hom egter nie druk om die sondaarsgebed te bid, en dan vir hom sê dat hy nou gered is nie.  Gee wel vir hom ‘n kans om sy sonde te bely.  Leer hom ook om vergifnis te vra waar hy teen sy boeties, sussies, ouers of ander mense gesondig het.

 

Wie moet die dissipline toepas?  Volgens v.4 is dit hoofsaaklik die pa se rol.  Hy moenie op die bank sit en TV kyk, terwyl sy kinders die huis afbreek en vir hulle ma ‘n moeilike tyd gee nie.  Hy moet hulle in orde hou en nie vir sy vrou sê:  ‘Dissiplineer jý hulle!’ nie.  As hy nie by die huis is nie, moet sy vrou hulle dissiplineer.

 

Wat van oupas, oumas, ooms, tannies, die kerk en ander mense wanneer dit by die dissipline van jou kinders kom?  Pakslae moet in die konteks van liefde geskied.  Die persoon wat vir hulle kosmaak, medisyne gee, met hulle speel, by hulle aktiwiteite is, hulle van Jesus leer, hulle bederf, vir hulle drukkies gee, hulle in die bed sit, hulle met hulle huiswerk help, ens., moet ook vir hulle pak gee.  Enigiemand moenie jou kind pak gee nie.  Besluit wie die persone is wat in sy lewe betrokke is, en gee vir húlle toestemming om jou kind te tugtig as jy nie daar is nie.

 

Oupas, oumas en ander volwassenes moet asb. daarop let om nie die ouers teë te gaan as hulle die kind wil pak gee nie.   Moenie God se Woord en sy metodes opponeer nie.  As die ouers dit nie reg doen nie, kan jy eenkant met hulle praat en hulle op ‘n mooi manier reghelp, net soos wat Priscilla en Aquila Apollos oor iets anders reggehelp het (Hand. 18:26).

 

Sommige ouers sê dat pak slae nie vir húlle kind werk nie.  Ted Tripp gee vier redes hoekom pak slae in sommige gevalle nie ‘werk’ nie.  Op ‘n ander plek in die boek gee hy ‘n vyfde rede.

 

  1. Die ouer verloor sy humeur wanneer hy hulle slaan. Dit maak dat die kind bitter raak en hom uit vrees onderwerp.  Wanneer hy ouer raak en nie meer bang is nie, raak hy rebels.

 

  1. Die ouer is nie konsekwent nie. Gevolglik kyk die kind altyd hoe ver hy kan gaan.

 

  1. Die ouer volhard nie. Hy probeer vir twee weke of ‘n maand om sy kinders reg te tugtig, en gee dan op.  Hy vergeet dat kinders nie binne ‘n maand of eers ‘n jaar verander nie.

 

  1. Die ouers slaan nie hard genoeg nie. Die kind voel nie die pyn nie, en om hierdie rede werk die pak slae nie.  Toe ons oudste dogter klein was het dit met ons gebeur.  Ons was moedeloos, omdat die pak slae net nie vir haar ‘gewerk’ het nie.  Ek het met ‘n ouer predikant gaan praat.  Hy het vir my gesê om haar harder te slaan.  Die probleem is binne twee dae opgelos.

 

  1. Die kind is te oud. As jy vir ‘n driejarige pak gee, kan jy nog ‘n indruk op hom maak.  As jy dit egter nagelaat het en hom op sestien wil pak gee, sal dit hom nie afskrik nie.  As jy wil weet hoe jy jou tieners moet opvoed, sal ek Age of Opportunity van Paul Tripp aanbeveel.

 

Ouers wat nalaat of weier om hulle kinders met ‘n Bybelse pak slae en instruksie te tugtig, haat hulle kinders.  Salomo sê:  “want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ‘n vader die seun in wie hy behae het.” (Spr. 3:12).  “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” (Spr. 13:24).

 

Selfdissipline

Toe ek in 1998 my teologiese studies begin het, was ons vier eerstejaars.  Drie van ons het vars uit matriek uitgekom, en een het eers vir twee jaar weermag toe gegaan en daarna vir vier jaar gewerk.  Daar was ‘n duidelike verskil tussen hom en die res van ons.  Die weermag het vir hom selfdissipline geleer.

 

Moenie net jou kinders deur tugtiging dissiplineer nie, maar leer vir hulle selfdissipline.  Dit beteken dat jy nie alles vir hulle moet doen nie.  Moenie hulle kouse en onderklere van die vloer af optel nie.  Moenie altyd hulle beddens opmaak nie, maar leer hulle om dit self te doen.

 

Jy kan nie jou 5-jarige so hard soos jy laat werk nie, maar gee vir hom werkies, sodat hy dissipline kan leer.  Leer ook jou kinders om dissipline te hê in hulle skoolwerk.  Hulle moet hulle huiswerk deeglik, volledig en netjies doen.  Sport is ook goed, omdat dit vir hulle dissipline leer.  Help hulle egter om nie ‘n afgod daarvan te maak nie.  Spansport is goed, omdat dit vir hulle spanwerk leer.

 

As jou kinders ouer is, kan jy vir hulle sê om ‘n vakansiewerk te kry.  Dit sal help as jy dit nie vír hulle reël nie, maar as hulle self moet soek.  Dit sal vir hulle nederigheid leer.  Werk sal ook vir hulle karakter, geduld, opoffering, lojaliteit, selfdissipline, verantwoordelikheid, menseverhoudings, ens. leer.

 

Dit is dan my storie vir vandag.  Jou kinders sal dit nie in die grootmens wêreld maak as jy hulle nie op God se manier dissiplineer nie.  Hulle mag dalk ryk word en in die wêreld se oë suksesvol wees, maar as die Here hulle nie genadig is nie, sal hulle volwasse brats wees.  Hulle sal verhoudingsprobleme hê, omdat alles volgens húlle wil moet gebeur.

 

Hulle sal wees soos iemand wat ek geken het.  In sý oë was hy fantasties, maar volgens die mense wat hom geken het was hy ‘n pyn en ‘n boelie.  Moet asb. nie jou kinders so opvoed dat dít hulle voorland is nie, “maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Ef. 6:4).

 

[1] Oor die jare het ek baie uit Ted en Paul Tripp se boeke en DVD’s geleer.  Ted Tripp se boek, Shepherding a Child’s Heart is baie goed.  Paul Tripp se DVD reeks, Getting to the Heart of Parenting is net so goed.  Ek het die dinge wat ek hierin geleer het, in my eie ouerskap geïmplementeer.  Dit is al so deel van my, dat ek nie spesifieke bladsy nommers gaan aanhaal nie.

Advertisements